Dis nie óf gebed óf die wetenskap nie

Dis nie óf gebed óf die wetenskap nie

Verlede week het die Instituut vir Geregtigheid en Versoening die resultate bekend gemaak van ’n studie wat hulle onder Suid-Afrikaners gedoen het om hul mening oor inentings te toets. Een van die vrae wat aan respondente gevra is, was of hulle dink dat gebed meer effektief as die entstof is of andersom. Die basiese voorveronderstelling waarmee die studie gewerk het, was dat jy óf iemand is wat in gebed glo, óf iemand wat jou vertroue in die wetenskap stel. 

Dit het deelnemers natuurlik in ’n onmoontlike situasie geplaas aangesien die vraag só gevra is dat dit godsdiens teenoor wetenskap opgestel het. Deelnemers moes dus kies tussen Sola Fide (geloof alleen) en Sola Scientia (wetenskap alleen). Gevolglik het 47% van die respondente aangedui dat hulle van mening is dat gebed meer effektief teen COVID-19 is as om ’n inenting te ontvang. Die resultate wek die indruk dat Christene oor die algemeen nie bybly met moderne tegnologie en wetenskaplike deurbrake nie. Dit wek die indruk dat Christene eintlik nie tred hou met die werklikheid nie, maar soos kinders wat in sprokies glo, hul geloof in die fabelagtige, bo-natuurlike vestig. 

Sulke denke is natuurlik die gevolg van ’n dualistiese benadering waarvolgens ons denke oor die hemelse en ons denke oor die aardse, wêrelde van mekaar geskei is. Só ’n benadering hanteer geloof en wetenskap asof dit niks met mekaar te doen het en gevolglik ook niks vir mekaar te sê het nie. Hierdie navorsingsverslag – sy basiese voorveronderstellings, maar ook die antwoorde van respondente – toon duidelik hoe deurdrenk ons samelewing van hierdie soort dualisme is. 

Volwasse geloof bring egter juis die hemel en die aarde bymekaar. Die Christelike geloof was nog nooit net tot die geestelike beperk nie. Dit bely nog altyd geloof in die God van die hemel én die aarde. Ons leef nie in ’n soort dualisme waarin die geestelike lewe teenoor die fisiese lewe opgestel word sodat ons noodgedwonge ’n keuse tussen die twee hoef te maak nie. Christene leef vanuit die wete dat die geestelike lewe nie los van die fisiese lewe staan nie, maar dit juis beïnvloed en bepaal. 

Geloof en wetenskap gaan dus saam. Dit verdiep, verryk en verruim mekaar soos wat prof. Alwyn Swanepoel in sy artikel Minderheidsverslag (5): Die onderdrukkende aard van staatisme aandui. Hy stel dat geloof juis die wetenskap kan verryk deur “te wys op moontlike eensydighede of dat dit te haastig is. Die geloof kan ook opmerk dat dinge in die openbare diskoers nie pluis is nie en dat die eintlike geloof vir baie in die wetenskap alleen lê (Sola Scientia).” Aan die ander kant verdiep, verryk en verruim die wetenskap weer die geloof deur dit uit te daag om konkreet te raak en nie in ’n moderne soort gnostisisme te verval waarin die geestelike verabsoluteer word nie. Ons is geneig om alles te vergeestelik terwyl die materiële en die geestelike bymekaar hoort en mekaar veronderstel. 

Om hierdie rede werk Christene met ’n ander voorveronderstelling. Ons voorveronderstelling is dat God alles geskep het – die aarde en die volheid daarvan, behoort aan Hom (vgl. Ps. 24:1). Nadat Hy die mens geskep het, gee Hy in Génesis 1:28 opdrag dat die mens vrugbaar moet wees, moet vermeerder, die aarde moet vul en, belangrik, die aarde moet onderwerp en daaroor heers. Ons noem dit die kultuuropdrag. Dit word in Génesis 2:15 herhaal wanneer God opdrag gee dat die tuin deur die mens “bewerk en bewaak” moet word. 

Met hierdie opdrag het God die mens se geestelike lewe aan sy fisiese bestaan verbind. Hy sou sy Koning eer deur verantwoordelikheid vir die Koning se goed te neem. Die kultuuropdrag impliseer natuurlik dat God die aarde met al sy grondstowwe tot die mens se beskikking gestel het. Sy opdrag impliseer dat die mens dit sal gebruik en ontwikkel. Iets soos die ontwikkeling van entstowwe, sou dus gereken kon word as ’n positiewe uitvloeisel van hierdie kultuuropdrag. 

As gelowiges hoef ons ons dus nie deur verkeerde voorveronderstellings gyselaar te laat hou nie. Vir ons is dit nie óf gebed, óf die wetenskap nie, maar beide. Ons glo immers dat God ook middellik werk. Dit beteken dat Hy van sekere middele gebruik maak om sy raadsplanne tot uitvoer te bring en sy skepping te versorg. So gebruik Hy byvoorbeeld, as deel van sy algemene genade, dokters om mense te genees en wetenskaplikes om deur middel van teenmiddels, die gevolge van die sondeval teen te werk.

Hiermee kan ons dit eens wees met prof. Gerrit Smit wat skryf: “Ons leef in die troos dat God sy algemene genade aan die mensdom gee sodat ons oor die skepping kan heers, en ook mettertyd oor die virus kan heers, en daarom is ek dankbaar dat selfs ongelowiges in God se Raad gebruik kan word om God se kinders en sy kerk te dien – ook met die ontwikkeling van entstowwe.” 

Met hierdie voorveronderstelling bid ons dus vir God se beskerming, maar kan ons ons ook met vrymoedigheid laat inent indien ons risikoprofiel dit vereis. Met hierdie voorveronderstelling eer ons die Koning oor wie se goed ons heers. Dit stel ons in staat om die wetenskap as gawe van ons goeie God te waardeer, maar om ook met verantwoordelikheid daarmee om te gaan sonder om daarvan ’n sola te maak. Om ingeënt te word, trek immers net so min ’n streep deur die effektiwiteit van my gebede as wat die keuse om nie ingeënt te word nie, die indruk van groter geestelikheid wek.

Minderheidsverslag (5): Die onderdrukkende aard van staatisme

Minderheidsverslag (5): Die onderdrukkende aard van staatisme

Meerderhede vind maklik verdoemende woorde om die bedreiging van andersdenkende minderhede te beskrywe. Vra maar vir die Jode. Selfs Sokrates moes die gifbeker drink omdat sy denke en waarheidsoeke te gevaarlik vir die meerderheid van die stad geraak het. Dit is nie moeilik om te sien hoe sogenaamde fundamentaliste in die huidige konteks ook as gevaar beskou kan word vir die openbare belang en veiligheid nie. Dit is mos nou ook al die hoeveelste keer wat die “chip” en die “merk van die dier” op alles van toepassing gemaak word. En werklikwaar, hoeveel keer gaan ons nou nog wolf-wolf hoor?

Die bedoeling hier is allermins om op simplistiese wyse die “merk van die dier” aanhangig te maak en f-tiperings te kry. Die bedoeling is eerder om die simplistiese wyse waarop dit afgekraak word, ook af te wys. Wanneer ons dieper delwe en besef dat die beeld van die merk van die dier in Openbaring 13 voortbou op patrone en konsepte wat in die hele Bybel gevind word, moet ons tog versigtiger wees. Sonder om sy naam aan hierdie verklaring te koppel, gee een van die publikasies oor Openbaring van die bekende teoloog, Richard Bauckham, in die titel ’n goeie wenk: “The Climax of Prophecy: Studies on the Book of Revelation”. Ons behoort die boek Openbaring nie as ’n boek op sigself te lees nie, maar eerder as deel en klimaks van die hele Skrif. Die merk van die dier druk in Openbaring iets uit van hierdie klimaks wat net tot volheid bring wat al dikwels voorgekom het. Die patrone van minderhede wat deur meerderhede deur die geskiedenis onderdruk was, soos by Jeremia (onder sy eie volk) en Daniel (onder ’n eenwêreld-regering), dui heenwysend reeds op dit wat uiteindelik in sy volle bose gestalte manifesteer. Dit gaan dikwels oor die staat wat ’n eie godsdiens met simbole skep aan die hand waarvan die ingewydes uitgeken word.[i] Die denkbeeld van die dier appelleer dus op ’n hele profetiese tradisie waar die meerderheid die minderheid afgelag het, vervolg het, en selfs gedink het dat dit ter wille van openbare belang was.

In die lig van die reeds bespreekte punt van biopolitiek, is dit daarom nie van alle waarheid ontbloot om te wys op die dreigende klanke van die ondier nie. Sonder om apokalipties oor die huidige gebeure te raak, behoort ons wel raak te sien dat hier patrone aan die werk is wat maklik kan oorgaan na nuwe moontlikhede vir die staat as die Messias. Waarom is dit belangrik om hierdie denkwyses en herkenning van grondpatrone lewend te hou? Die antwoord is dat indien ons dit nie doen nie, help ons mens om nie ’n sensitiwiteit vir die Woord of minderhede te behou nie. Ons help ook om ’n klimaat te skep waar mense sekere gedeeltes in die Woord soos die beeld van die merk van die dier, of aflag of verkeerd toepas. Dan word dit later beskou as maar net nog een van die sê-dinge (trope) van Christene wat nog nie aangekom het in die moderne land nie. Bedoeld en onbedoeld haal dit so die krag uit die Woord. Dit behoort egter vir Christene belangrik te wees om hul eerder in die ritmes en kadense en grondpatrone van die Woordopenbaring in te leef sodat daar ’n sensitiwiteit sal wees vir dit wat die kerk wêreldgelykvormigheid noem.

Gegewe die vorige punt oor biopolitiek en ondier-klanke wat baie gelowiges in hulle eenvoud waarneem, moet ons op hierdie ongemaklike patrone wys en soos met die bespreking oor biopolitiek, aantoon dat die waarnemings nie ongegrond is nie. Ons sou egter terselfdertyd ook leiding moet gee en op ’n belangrike gereformeerde beginsel in Skrifverklaring oor die laaste dae (dit is vandat Christus opgevaar het totdat Hy weer kom) moet wys. Dit is dat die horlosie se lang wyser dikwels dieselfde patrone in die geskiedenis aantoon soos wat die wyser om en om gaan, maar dat dit nie beteken dat die kort wyser al op 12 is nie. Te veel alarmiste gee konstant voor dat die kort wyser nou al op 12 is. Maar te veel ander gee voor dat die lang wyser wat tendens en patrone aandui, niks beteken nie en dat Openbaring net (miskien) eendag in die voleinding sy toepassings vind.

Dit bly daarom belangrik dat getroue Christene ook in hierdie tyd daarop sal wys dat daar iets drasties fout is in die openbare diskoers oor die krisis van die pandemie/endemie. Dit is dat die aanroep van die lewende God nie werklik voorop staan nie. Kerke word nie voor almal die geleentheid gegee om op gedissiplineerde en veilige wyse met eredienste voor te gaan en God te eer en aan te roep nie (vgl. 2 Kron. 7:13-14).[ii] Dit hang saam met die siening dat die kerk bloot ’n godsdienstige klub is en dat geloof eintlik privaat is. Hierdie armsalige en geprivatiseerde siening van die Christelike godsdiens speel dan ook lieflik in die hand van die staat. Die hemelvaart van die staat word subtiel en minder subtiel aan die orde gestel en daarom mag die staat nou neerkyk op die verskillende godsdienste en Christene hanteer as net nog ’n manifestasie van spiritualiteit. Volgens hierdie siening uit die hoogte kan ook Christene wel met hul rituele besig wees wanneer daar nie te veel risiko’s is nie. Volgens die openbare diskoers het ons egter nou ’n krisis, en dit moet eers hanteer word. Daarna kan Christene weer aangaan met hulle geestelike oefeningtjies wat op subjektiewe vlak tog so belangrik is net vir sekere mense.

Die openbare diskoers is by verre nie by die punt waar God voor alles aangeroep word nie. Die orderreëlings daaroor skrei ten hemele. Natuurlik wys die meeste Christene daarop dat God ook nie sonder medisyne werk nie, maar dit is duidelik dat die openbare diskoers iets anders suggereer. Dit is dat die God-konsep eintlik bloot bykomstig is, blote simbole-taal is, en gebruik word in diens van ander agendas. Die ou debat tussen geloof en wetenskap tree hiermee natuurlik ook weer op die voorgrond. Christene behoort hierin te getuig dat ons die geloof sowel as die rede voluit handhaaf, omdat beide in God gesetel is. Juis daarom dat hierdie argument ook gevoer kan word. Maar die geloof behoort in ons tyd ook onomwonde van meer te getuig. Die geloof in die lewende God kan die rede juis verryk. Die geloof kan die wetenskap verryk deur te wys op moontlike eensydighede of dat dit te haastig is. Die geloof kan ook opmerk dat dinge in die openbare diskoers nie pluis is nie en dat die eintlike geloof vir baie in die wetenskap alleen lê (sola scientia).

Die geloof kan help om daarop te wys dat kudde-immuniteit te eng gedefinieer word. Die geloof kan help om aan te toon, om by die inleidingsartikel aan te sluit, watter alternatiewe spreekwyses kan help om anderkant versmalde denke oor kudde-immuniteit te dink en te praat. Die geloof kan help om God te sien wat nog altyd deur die swaard, die hongersnood en die pes met die wêreld gepraat het en ook ons tot orde en bekering roep. Die geloof kan help om veral versigtig te wees oor langtermyn gevolge vir ons kinders en ons jongmense. Die geloof kan waarsku dat ons nie moet dink dat ons sonder God die plaag onder beheer sal bring nie. Die geloof het nog altyd ’n ruimer visie van die wetenskap tot gevolg gehad. Dink maar weer aan Josef en Daniel in die howe van die hoogste geleerdes van hul tyd. Bo alles kan geloof ons help om te besef dat ons tye ten diepste in die Here se hand is en dat ons nie vrees ons grootste motivering hoef te maak nie, ook as die dood opsigtelik dreig. ’n Twitter-gesegde van ’n leraar ’n paar jaar gelede help my vandag nog hiermee, en ek is seker ook vir baie ander sterflinge: “Wil jy genees word van daardie algemene siekte wat die vrees vir die dood genoem word? Kyk na Christus en jy sal meer vind as waarna jy soek.”

[i] Vir die werklikheid hiervan in ons dag, vgl. die volgende publikasies: Christopher Ferrara se Liberty: The God that Failed: Policing the Sacred and Constructing the Myths of the Secular State, from Locke to Obama; Benjamin Wiker se Worshipping the State: How Liberalism became our State Religion.

[ii] Vers 14 word dikwels aangehaal, maar dit is belangrik dat ons ook in hierdie tye die verband met vers 13 en die pes sal raaksien.

Minderheidsverslag (4): Die biopolitieke aard van die omgewing wat ons betree

Minderheidsverslag (4): Die biopolitieke aard van die omgewing wat ons betree

Die mense wat daarop wys dat ons kort-voor-lank ’n volgende en ’n volgende vaksine of aanjaagmiddel (“booster”) sal moet vat, se stelling is nie uit die lug gegryp nie. Die hele konsep van inenting-paspoorte word ook al hoe meer genoem. Daar word reeds daarvan gepraat dat bepaalde plekke nie besoek sal kan word sonder hierdie bewys nie. Kyk maar net wat reeds in Frankryk aan die gang is. Moet ook nie die opstande daaroor mis nie. Daar is wel die moontlikheid dat ons anderkant die pandemie/endemie sal lag oor al hierdie dinge, maar dit lyk of ons in is vir ’n langer termyn. Afgesien van Frankryk, is daar ook diegene wat ons reeds lankal hierin voorgegaan het. Leidraad: C kom voor F.

Die teoloog, dr. Peter Leithart, wys onlangs daarop dat die vaksine-druk die biopolitieke draai van die moderne politiek verteenwoordig.[1] Verwysend na die hoofstuk van Roberto Esposito in ’n publikasie met die titel, Biopolitics, stel hy dat politieke outoriteit eens beteken het dat die mag daargestel was om dood te maak. Onder die heerskappy van biopolitiek sorg die heersers egter ook vir die lewe en bestuur dit. Lank, lank gelede het die heerser ’n swaard gehad; nou ’n spuitnaald, sê Leithart aan die hand van Esposito. Hy gaan van hier af voort om daarop te wys dat biopolitiek ’n transformasie van die politieke bewussyn inhou. Vanaf die 16de eeu het mediese kategorieë en metafore politieke teorie al hoe meer geïnfiltreer. Dit is hierdie politieke verbeelding, sê Leithart, wat die publieke diskoers dwarsdeur 2020 gevorm het. Daar het ’n fusie van medisyne en politiek in die dieptes van die biopolitieke bewussyn plaasgevind. Gesondheidsorg word so oorgeplaas op die politiek. Dit word nou die regering se werksbeskrywing om ons gesond te hou.

Dit beteken noodwendig dat regerings sosiale kontrole moet uitoefen, die bevolking onder opsig en tug moet hou en databasisse voortdurend moet byhou. Gereelde opgradering en dokumentering daarvan is nie uitgesluit nie. Leithart wys dan daarop hoe China reeds vir dekades so opereer. In terme van mediese metafore bepaal China al lankal reeds wat “gesond” vir die samelewing is – hoeveel kinders elke familie mag hê en hoe afwykende minderhede behandel moet word wanneer hulle “siek” denke of “sosiale infeksie” veroorsaak.

Leithart se punt is dat vaksinering en immunisering nog altyd belangrike sake vir biopolitieke heersers was. So ontstaan die saam-wen (simbiotiese) verwantskap tussen higiëne en sosiale beheer. In China, sê Leithart, was grootskaalse immunisering een van die vroegste en belangrikste programme wat die grondslag gelê het vir ekstensiewe staatskontrole. Gedwonge vaksinering het die mag van die staat help bou. Volgens Leithart is die manie vir vaksines nie bloot wetenskapsgedrewe nie en gaan dit nie bloot oor gesondheid nie.

As dit oor gesondheid gegaan het, sê Leithart, sou natuurlike immuniteit volle erkenning ontvang het. Dit gaan egter ook oor politieke redes en oor beheer. Hy wys selfs daarop dat hierdie tipe politiek ’n godsdienstige (religieus-liturgiese) lading het. Vaksinering word ’n tipe sakrament, ’n reinigende doop en ’n eucharistiese embleem van aan wie jy behoort. Want in hierdie benadering word die regverdiges geregverdig deur hulle “jab”. En jy kan nie die reines en die onreines meng nie. Jy kan nie ongeregistreerde mense hê wat rondloop tydens die pandemie nie. Hierdie mensdom mag nie onveilig voel deur die “fundamentaliste” nie, is die implikasie.

Leithart is nie anti-vaksine nie. Hy wys egter op die langtermyngevolge vir ’n hele samelewing. Daarom is dit ook in terme van biopolitieke oorwegings belangrik om die gedwonge aard van vaksinering so ver as moontlik teen te staan. Hierin is die geweldige klem op ’n versmalde siening van kudde-immuniteit ’n sleutelkwessie. Want as mense net een gang sien, en dit is die drukgang van dreigende dood en ’n beperkte opvatting van kudde-immuniteit, lyk die oplossing ooglopend, terwyl daar eintlik beter uitgange moontlik was.

Bo en behalwe die biopolitiek, is hier ook sprake van bio-etiek. Behoort die staat so messiaans op te tree en minderhede so te hanteer? Aansluitend hierby: Kan die minderhede kwalik geneem word as hulle bio-etiek ook in hulle keuses van toepassing wil maak? Die rede is dat die mRNA-tegnologie met betrekking tot vaksines wel nuut is, maar dat die ander variant soos Johnson & Johnson ook vrae ontlok. Die rede is dat Johnson & Johnson van meer tradisionele metodiek gebruik maak, maar dat dit gebaseer is op sellyne wat van geaborteerde babas afkomstig is.[2] Let wel, die nuwe vaksine maak nie van geaborteerde babas gebruik nie, maar die sellyne, soos met die vaksine vir Duitse masels (Rubella), is gebaseer op inligting uit aborsies wat lank gelede plaasgevind het. Etici wys egter daarop dat iets wat ontdek is, nie ontken hoef te word net omdat dit aanvanklik uit verdagte omstandighede afkomstig is nie.[3] En tog raai heelwat Christen-etici mense aan om druk te plaas op maatskappye om alternatiewe wyses aan te moedig waarop die entstowwe ontwikkel kan word. Wanneer daar ’n keuse is, behoort Christene die alternatief te kies, maar waar dit nie beskikbaar is nie, kan hulle dit volgens heelwat etici neem en behoort hulle saam te werk met groepe wat hieroor druk uitoefen.

In hierdie opsig is die mRNA-tegnologie daarom te verkies, al moet dit erken word dat ook hierdie vaksine in die toetsfases van die genoemde sellyne gebruik gemaak het. Die tegnologie daarvan is ook nuut en die genoemde risiko oor langtermyn steeds groot. Verder is dit ook so dat ons ook met ’n positiewe gesindheid die ontwikkeling van mRNA-tegnologie fyn moet dophou terwyl ons wel versigtig soos slange en opreg soos duiwe is. Die rede is dat daar diegene is wat beweer dat heelwat siektes soos kanker, hartkwale en neurologiese siektes in die toekoms dalk hierdeur gehelp sou kon word. Natuurlik sal daar ook diegene wees wat deur hierdie tegnologie sal probeer om die spreekwoordelike super-ras te kweek. Bio-etiek sal dus in die toekoms al hoe belangriker word soos wat bio-tegnologie toeneem. Die verband tussen etiek en politiek is daarom ook hier eintlik baie direk van aard en die verband tussen vaksines en biopolitiek illustreer dit tot op makro-vlak. Daarom behoort ons baie versigtig te wees om ’n versmalde idee van kudde-immuniteit wat net op massa-vaksinering fokus, vrye teuels te gee. Dit bewerk net angs en histerie wat biopolitiek aanjaag. Om die waarheid te sê, dit werk in op die onderdrukkende aard van die ideologie van verstaatliking. Daaroor meer in die volgende aflewering.

[1] Peter Leithart, 28 Junie 2021. From Sword to Syringe. Aanlyn:

[2] Vgl. Aanlyn:

[3] Vgl. Doug Wilson se artikel, oor die uitdaging van onetiese vaksines by . Kyk ook na die omvattende behandeling van die Rooms Katoliek Kerk hieroor by

Minderheidsverslag (3): Die induktiewe aard van wetenskaplike ondersoek (b)

Minderheidsverslag (3): Die induktiewe aard van wetenskaplike ondersoek (b)

In die vorige rondte is daar begin om in te gaan op die induktiewe aard van die mediese wetenskap wat ter sake is in die oorweging van massa-vaksinering. In hierdie aflewering besin ons verder oor neutraliteit en analogieë waarvan die induktiewe wetenskap gebruik maak.

Wetenskapsbeoefening gebeur nie so neutraal en puur as wat sommige dit wil voorhou nie. Die feit is dat daar ook in die wetenskapsbeoefening belange op die spel is – van die multi-biljoen firmas, van die wetenskaplike individu, van groepsdenke en denkskole, konsensus onder die elite, kompetisie (mimetiese wedywering), ensovoorts. Daarom behoort dit ons nie te verbaas om ook in die mediese wetenskap van meerderheid en minderheidsverslae te hoor nie. En die een saak waarvan net die tyd ons in sekere debatte sal leer, is, wel, tyd.

Dit is in hierdie verband belangrik om aandag te gee aan ’n joernaal soos Unherd wat groepsdenke oor beide tradisionalisme en modernisme wil teenwerk. Matthew Crawford, skrywer en navorser by die Instituut vir Gevorderde Studies in Kultuur by die Universiteit van Virginia (VSA), maak in Unherd die stelling dat wetenskap as sulks verpolitiseerd geraak het. Die insiggewende van sy stelling is dat hy nie soos die linkse media, bloot die sogenaamde ivermektien-konserwatiewes hiervan verdink nie. Volgens Crawford lê die probleem veel dieper. Hy sien raak dat die wetenskap deur mense beoefen word wat deur allerhande politieke en sielkundige faktore beïnvloed word. Hy toon aan dat daar baie aannames en vooroordele is, ook in die wetenskap. Crawford reken daarom dat die opvoeding van die publiek dikwels eerder berus op ’n tipe naakte geloof in ’n soort wetenskap wat hy “scientism” noem tesame met goeie sprekers en media (demagogie). Heelwat mense op straat begryp dalk nie die gesofistikeerde taal van Crawford nie, maar het tog wel ’n aanvoeling het vir dit waarop hy afstuur. Dit is dat die wetenskap nie so onaantasbaar en neutraal en los van belange is as wat sommige wil voorgee nie.[1]

Dit is net eerlik en wys om te erken dat ook wetenskaplikes in bepaalde denkskole is, voorveronderstellings en kondisionerings het, en dat nie almal uit een mond praat nie. Voeg nog verder hierby dat daar belangrike werk gedoen word deur ’n gerekende instelling soos Cochrane om die toetsing van wetenskaplike data meer geloofwaardig te maak. Die rede is dat dit erken word dat daar al vertouensprobleme weens navorsingsbedrog ontstaan het. Richard Smith, tot en met 2004 redakteur by die internasionaal gerekende, 180-jaar oue Britse mediese handelsjoernaal, The BMJ, kan dit selfs uitlokkend stel: “Dit mag dalk tyd wees om weg te beweeg van die veronderstelling dat navorsing eerlik gedoen en gerapporteer is, na die veronderstelling dat dit onbetroubaar is totdat daar bepaalde bewyse is wat die teendeel aantoon.” [2]

Let wel: Smith sê dit nie met betrekking tot COVID-navorsing nie, maar oor mediese wetenskapsnavorsing in die algemeen. Sy stelling kan wel gebruik word om dit ook in hierdie besinning van toepassing te maak. Mense kan eenvoudig nie verkwalik word as hulle deegliker kruisverhoor en deursigtigheid in die navorsing oor vaksines verlang nie. Hierdie situasie bring eintlik net aan die lig dat daar ook strukturele probleme in mediese wetenskapsnavorsing is wat die wantroue aanhelp en dit sal net oor tyd heen verbeter kan word deur erkende instellings soos Cochrane.

Natuurlik is die uitsprake hieroor makliker wanneer daar geen bedreiging is nie. Binne ’n situasie waar mense sterwend is, is daar druk om vinniger besluite te neem. Die voorlopige resultate oor die vaksines klink ook relatief gunstig, en die basiese teorie wat in al die vaksines gebruik word, maak sin. Dit is dat die proteïn-produserende masjinerie in die liggaam se selle op verskillende wyses gestimuleer word om ’n stekel-proteïn te vervaardig. Hierdie proteïn is identies aan die virus se oppervlakte en so word die liggaam se alarmsisteem hiervoor vroegtydig aangeskakel om teenliggame te ontwikkel. [3] Dit neem egter nie weg nie dat dit steeds wys is om nie te midde van die pandemie te maak asof alle vrae oor die langtermyn gevolge uit die lug gegryp is nie. Dit bly verantwoordelik en wys om hierdie vrae hul hardnekkige werk te laat doen.

Diegene wat sterk hierop staan moet egter ook antwoord waarom ons met betrekking tot ander sake soos mikrogolfoonde en selfone nie ook so versigtig te werk gegaan het nie. Die feit is egter dat mense nie hieroor in dwangbuise geplaas is nie, en dit behoort ook nou so te bly. Sou daar gevolge wees, kan hulle self verantwoordelikheid vir hul keuses dra. Daarom is dit aan te beveel om mense elkeen afsonderlik op hul risiko-profiel te wys, ook die risiko van onsekerheid oor die langtermyn, en dit dan aan elkeen oor te laat om aan die hand daarvan hul besluite te neem. Die teenantwoord van ’n versmalde siening van kudde-immuniteit, oefen egter vetoreg op hierdie siening uit. Almal moet hiervolgens tot vaksinering aangemoedig word, ook kinders Die groot rede is dat ons ook die groep groter as die enkeling in ag moet neem. Ons het ook mos reeds die voorbeeld gehad van inentings teen siektes soos Pokke en Polio.

Dit is natuurlik ook een van die kenmerke van induktiewe wetenskap; dat ’n bepaalde analogie gekies word om sin te maak van die voorlopige data. Aangesien die toetsdata altyd beperk is en nie elke omstandigheid kan verreken nie, moet ’n sekere verantwoordbare analogie noodwendig in induktiewe wetenskap gekies word waarvolgens die algemene gevolgtrekkings dan gemaak word. Dit is waarom hierdie argument ook so kragtig is vir baie mense wat die meerderheidsverslag aanvaar. Dit is vir hulle die spreekwoordelike “no-brainer.” Hulle redeneer: “In die verlede het mense wat inenting teengestaan het, baie sleg daarvan afgekom en dit gaan weer gebeur. Geloof en wetenskap staan nie teenoor mekaar nie en ons moet dankbaar wees vir God se voorsienigheid in hierdie tyd.”

Die probleem hiermee is die veronderstelling, wat nog nie genoegsaam deur die toets van tyd bewys kon word nie, dat die analogie van Pokke en Polio definitief hier geldig is en dat ons bloot appels met appels vergelyk. ’n Eerste oranje lig is egter dat kinders groot risiko gehad het met Pokke en Polio, maar dit is nie op dieselfde vlak met COVID-19 nie. So terloops, die WGO het het reeds in Mei 2020 daarop gewys dat ongeveer 80 miljoen kinders in ryk en arm lande onder risiko geplaas is omdat die normale inentings van Masels en Polio nie toegedien kon word as gevolg van COVID-19 nie.[4] Om egter terug te keer na die analogie: Dit lyk wel voorlopig redelik om die voorbeelde van vorige inentings nie uit die oog te verloor nie, maar gesonde verstand behoort ons ook hier te laat besef dat die tyd kan leer dat ons appels met aartappels vergelyk het. Dit kan wys dat die aanname oor die analogie wat ons ingespan het, verkeerd was. Gestel byvoorbeeld ons moet later erken dat Polio gebreksiektes gekeer het, maar dat die haastige een-en-twintigste eeuse medici gebreksiektes en immuunsiektes aangehelp het. Of kom ons sluit by Rachell Coleman in die vorige aflewering aan en wys op fertiliteitsprobleme wat tipies van kortsigtige mediese wetenskap is. Iemand soos Marc Girardot, ’n kenner van wetenskapsmetodiek en biotegnologie, wys byvoorbeeld op data wat aantoon dat dele van die bioverspreiding van lipiede nanodeeltjies wat die mRNA dra, daarop dui dat die eierstokke en die beenmurg van die grootste konsentrasie hiervan verkry. Die vraag kan dan gevra word wat die langtermyn implikasies daarvan is en enigeen wat besorg is oor hulle en hul dogters se nageslag, behoort dit mos in ag te neem.[5]

Die bedoeling hiermee is nie om ongegronde vreesinboeseming te bewerkstellig nie. Gaan gerus die voetnote na. Dit is eerder om aan te toon hoe kragtig die analogie wat gekies word, in induktiewe wetenskap funksioneer. Dit verklaar ook waarom mense hieroor so drasties kan verskil. Dit spoor ook aan om ’n ordentlike verduideliking oor mRNA-tegnologie te gee wat kan aantoon dat die tegnologie werklik skadeloos is op die langtermyn en wat bereid is vir kruisondervraging deur eweknieë. Dit sal baie help om mense gerus te stel. Indien dit nie oortuigend gebeur nie, het ons ten minste ’n paar jaar nodig vanaf die begin van toediening voordat ons beter grond het om veral die jonger geslag wat minder risiko het, hieraan te onderwerp. ’n Groep besorgde kenners in die genoemde 180 jaar oue Britse mediese handelsjoernaal, The BMJ, het juis daarom ook ’n versoek tot die FDA gerig om die volle instemming tot die COVID-vaksines te verlangsaam. Die boodskap is eenvoudig: Verstadig die proses en kry die wetenskap reg – daar is geen wettige rede om gou te maak om ’n lisensie vir ’n koronavirus-entstof te gee nie. Ons glo dat die bestaande getuienisbasis — sowel voor as ná goedkeuring — op hierdie stadium eenvoudig nie volwasse genoeg is om voldoende te beoordeel of dat kliniese voordele swaarder weeg as die risiko’s in alle populasies nie.[6]

Maar laat ons vreesinboeseming nie net aan die een kant probeer uitken nie. Ons behoort ook groter duidelikheid te hê oor hoe vreesinboeseming aan die ander kant help om biopolitiek in te faseer en minderhede gevaarlik te laat voorkom. In die volgende aflewering sal daar by die moontlikheid en werklikheid van biopolitiek stilgestaan word.

[1] Matthew B Crawford. 3 Mei 2021. How science has been corrupted. Aanlyn:

[2] “It may be time to move from assuming that research has been honestly conducted and reported to assuming it to be untrustworthy until there is some evidence to the contrary. Aanlyn

[3] Vgl. In die verband die artikel van Derek Lowe oor die potensiaal en probleme van mRNA: What mRNA is Good For, And What It Maybe Isn’t:

[4] Aanlyn:

[5] Marc Girardot:

[6] 8 Junie 2021. Why we petitioned the FDA to refrain from fully approving any covid-19 vaccine this year. Aanlyn:

Minderheidsverslag (2): Die induktiewe aard van wetenskaplike ondersoek (a)

Minderheidsverslag (2): Die induktiewe aard van wetenskaplike ondersoek (a)

Dit is nodig om in die debat oor vaksines ’n ongemaklike waarheid oor wetenskap aan die orde te stel. Dit is dat jy nie net die mediese vakwetenskap aan die orde kan stel in ’n geplaagde omgewing nie. Ook die wetenskapsfilosofie speel ’n rol. Ons moet byvoorbeeld ook nadink oor die soort wetenskap en metodes wat ter sprake is wanneer dit oor vaksines gaan. Diegene wat daaroor nagedink het, wys daarop dat ons hier te make het met ’n tipe wetenskap wat induktief van aard is.[1] Hiermee word bedoel dat die navorsing vanaf besondere data na veralgemeende gevolgtrekkings werk. Die besondere toetsresultate, wat onmoontlik al die gevalle in tyd en ruimte kon toets, word met ander woorde gebruik om gevolgtrekkings oor die geheel te maak wat ten minste voorlopig verdedig kan word. Wetenskaplikes erken dit en antwoord tereg hierop dat die gevolgtrekkings darem ondersteun word deur beste praktyke wat oor jare gevorm is. Daar word ook gepoog om die toetse só te doen dat dit aanspraak kan maak om ten minste wesenlik getoets te wees binne heelwat verskillende omstandighede en onder verskillende groepe.

Dit is egter ook die groot punt van dispuut. Die een saak wat per definisie nog nie genoegsaam getoets kon word tot op hede nie, is tyd. Selfs ’n instelling soos die Voedsel en dwelmadministrasie in Amerika (FDA) besef dit. Die FDA het nog net noodgebruik van die vaksines gemagtig. Die FDA benodig egter meer data oor ’n langer tyd vir volle magtiging. Hulle wil juis so poog om publieke vertroue te behou.[2] Sommige geleerdes in die veld antwoord egter hierop dat die mediese praktyk daarop dui dat newe-effekte wat nie binne ses maande wys nie, nie sommer later as dit eers hul opwagting maak nie. Jy kan dan ook nie meer so maklik bewys wat die eintlike oorsaak was nie. Hierdie siening behoort ordentlik gekruisondervra te word. Dit is een van die sake waarin ’n geloofwaardige publieke instelling baie kan help om skeptisisme te besweer.

Iemand soos Rachel Coleman, assistent professor by Assumption Universiteit in die VSA, en wat dikwels skryf oor sake by die kruispaaie van teologie, filosofie en wetenskap, toon egter ook belangrike rooi ligte aan. Sy wys daarop dat ’n artikel in die New York Times in April 2020 nog daarop kon wys dat ons eers kan verwag om in November 2033 ’n getoetste vaksine te kry. Nou is daar natuurlik ook hierop antwoorde oor die wonderlike sameloop van omstandighede en samewerking tussen nasies, maar dit is tog wys om diegene aan te hoor wat aanvoer dat daar onder dié druk net te haastig en te veel kortpaaie geneem is. Coleman is lankal besorg oor veral vroue en kinders as dit gaan oor moderne medisyne:  

“Moderne medisyne is van nature kortsigtig: Dit is gefokus op die onmiddellike behandeling van simptome, eerder as om te wag om te verstaan ​​waarom dit ontstaan ​​en wat dit ons oor die geheel kan vertel. Om dieselfde rede het die moderne geneeskunde nie die geduld om vroue en hul vrugbaarheid te verstaan ​​nie. Dit is hoe ons beland het in die rampe van talidomied en dietylstilbestrol. Die geskiedenis van die moderne medisyne is besaai met vroue se liggame – en die liggame van hul kinders (dit is redelik bekend dat moeders vir wie talidomied voorgeskryf is vir hul oggendnaarheid, kinders gebaar het met ernstige ledemaat-misvormings; dit is minder bekend dat die kinders van moeders vir wie diethylstilbestrol voorgeskryf het, baie meer geneig is om probleme met hul vrugbaarheid te hê — en hul dogters loop ‘n baie groter risiko vir bloedklonte en kanker).”[3]  

Coleman is van mening dat die lukrake wyse waarop vroue en hul fertiliteit benader word, die kanarie in die koolmyn is wat waarsku oor die metodes van moderne medisyne. Sy is selfs van mening dat sy ’n bepaalde soort logika bespeur wat paradoksaal genoeg in dieselfde rigting wys as eugenetika. Sy argumenteer egter nie vir die totale onthouding aan COVID-19 vaksines nie, maar wel dat ons die seine oor die skynbare ignorering van langtermyngevolge teen ’n groot risiko doen. 

Dit is belangrik om te erken dat diegene soos Coleman wat besorg is oor langtermyn gevolge nie onredelik is nie. Natuurlik moet die teenparty se getuienis ook aangehoor word en dit klink baie oortuigend. Lees jy byvoorbeeld ’n opinie van die meerderheidsiening soos verteenwoordig deur Kim Schive, redakteur van die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT), met ’n rykdom van baie handige verwysings oor die langtermyn gevolge op kinders, klink dit regtig of daar byna geen risiko is nie.[4] Gaan steek ’n mens egter ook kers op by die minderheidsverslae van dokters soos die Canada Health Alliance en America’s Frontline Doctors, kry jy ’n ander prentjie.[5] Dit kan ’n mens moedeloos maak, maar die positiewe is dat ’n mens darem op die manier na beide kante kan begin luister en kan besluit of die jurie eintlik nog nie terug is nie. Die teenwoordigheid van genoemde organisasies en ook instellings soos PANDA, maak ’n mens daarvan bewus dat die minderheidsverslag nie sonder meer as gelyk aan fopnuus afgemaak kan word nie.[6] Inteendeel, dit is net wys vir enige koninklike mens of en enige onderneming om die moontlike bydrae van minderhede in ag te neem, veral as dit ook wetenskaplikheid kan bewys. In die geskiedenis was dit al juis die redes vir die groei in wetenskap en kennis.   

Feitlik al die aansprake op omvattende toetsfases maak oorwegend aanspraak op toetse in ruimte, maar kan dit per definisie nie doen oor tyd nie. Wanneer jy fyn luister, sal jy dikwels hoor dat ’n eerlike wetenskaplike stel dat die voorlopige data tans goed lyk en dat die resultate geld totdat die teendeel blyk.[7] Dit is egter juis in hierdie laaste sin wat die induktiewe aard van hierdie wetenskap erken word. Daarom behoort daar eerliker omgegaan te word met die feit en mense behoort gelyk gegee te word as hulle besorg oor langtermyn-gevolge is.[8]

Dit is natuurlik ook so dat daar nie met iets soos die mRNA-biotegnologie, waarvan beide Pfizer en Moderna gebruik maak, eers van gister af geëksperimenteer is nie. Die eerste deurbrake dateer sover terug as die 1990’s. Dit is wel ’n feit dat die tegnologie in die verlede nie spesifiek met entstowwe in verband gebring is nie.[9] Blote gesonde verstand behoort tog te erken dat dit wys is om die gevolge hiervan oor ’n langer termyn te bly dophou, maak nie saak hoe positief die aanvanklike toetse was nie, veral as daar ook ’n minderheidsverslag van kundiges is. Die druk van die situasie kan veroorsaak dat ons maklik bysiende raak, juis omdat al die aandag aan korttermyn-gevolge gegee word. Indien die huidige risiko tans net te hoog is, maak dit wel sin om in hoë-risiko gevalle die vaksine te neem. Dit maak minder sin om almal nou oor dieselfde kam te skeer, veral as ons die langtermyn gevolge op veral kinders en jongmense wil oorweeg. Die bekende uitdrukking daarvoor is die risiko/voordeel analise (risk/benefit analysis). Vergelyk in hierdie verband die verklaring wat uitgereik is by PANDA vir die beskerming van kinders en jongmense in die COVID-respons.[10]

Afgesien hiervan is daar ook die kwessie van neutraliteit en van analogieë waarvan die induktiewe wetenskap gebruik maak. Hierop sal daar in die volgende aflewering ingegaan word.

[1] Vgl.. G.H. Clark, 1996. The Philosophy of Science and Belief in God. Trinity Foundation.

[2] Rachel Fritts, 21 Julie 2021. When will COVID-19 vaccines be fully approved—and does it matter whether they are? Aanlyn: .

[3] Rachel M. Coleman. Why Catholics should oppose vaccine mandates (both private and public). Aanlyn:  

[4] Kim Schive, 8 junie 2021. Will kids have long-term effects from the COVID-19 vaccine? Aanlyn:  

[5] Aanlyn: America’s Frontline: https://americasfrontlinedoctors.org/ Vir Canada Health Alliance: .

[6]  Vir Panda, kyk na en vir Canada Health Alliance kyk na .

[7] Die wetenskapfilosoof, Karl Popper, is bekend vir sy argument in hierdie verband. Dit is dat wetenskap nie eintlik geverifieer kan word nie, omdat al die gevalle nie getoets kan word nie. Dit kan wel gevalsifieer word wanneer data aan die lig kom wat die teendeel aantoon. Hierby moet daar billikheidshalwe ook darem bygevoeg word dat die wetenskaplikes dikwels antwoord dat die wetenskap nie kan funksioneer op ’n negatiewe basis nie. En tog moet hulle daarom ook altyd die voorlopigheid van konklusies oor hul data erken. En die verskynsel van die sogenaamde swart swaan behoort daarom nooit heeltemal te verras nie. Vergelyk in hierdie verband die bekende publikasie van Nassim Taleb, The Black Swan: The Impact of the Highly Improbable.

[8] Vergelyk in hierdie verband die Wêreld Ekonomiese Forum se woorde oor die tegnologie van mRNA: “Second, although clinical trials and early studies of these vaccines in real-world use have shown largely positive results, the long-term effects are still unknown.” Aanlyn: https://t.co/ZWSVrOk8Rk.

[9] Lees in hierdie verband die fassinerende verhaal van die ontdekking van en eksperimentering met mRNA by STAT:

[10] Aanlyn:

Minderheidsverslag (1) oor vaksines

Minderheidsverslag (1) oor vaksines

Kerkvergaderings het my geleer van ’n meerderheidsverslag en ’n minderheidsverslag wat soms nodig is. Dit help om die kommissie se bevindinge so eerlik en deursigtig as moontlik weer te gee. Die geskiedenis, ervaring en films soos Minority Report, het al dikwels geleer om minderheidsverslae nie gering te skat nie, al is dit ook net om die meerderheidsverslag te slyp. Dit is nogal insiggewend dat ’n minderheidsverslag by die inenting-debat, dikwels implisiet, maar byna nooit eksplisiet in die hoofstroommedia aan die orde gestel word nie. Ons kry wel met strooipoppe te doen, maar die staalman-argumente kom nie werklik aan die bod nie. Vergun my daarom die geleentheid om ’n geldige minderheidsverslag te probeer verteenwoordig, terwyl ek ook iets anders wil doen. Dit is om te poog om moontlikhede vir vrede te bedien in ’n debat waar die spanning skynbaar al hoe meer oplaai. Dit lyk soms of die saak gaan ontplof, maak nie saak hoeveel pogings tot bedaring daar is nie. Tog is daar wel ’n uitweg, maar dan moet ons eers die verskille duidelik voor oë kry.

Die basiese standpunt van hierdie minderheidsverslag is die volgende: Ek wil aanvoer dat ’n glyskaal van individuele risiko en oortuiging duideliker op die voorgrond behoort te wees in die neem van ’n vaksine. Op grond van die risiko-profiel behoort mense minder of sterker oorweging daaraan te skenk om die vaksine te neem. Dit beteken dat almal nie aangemoedig moet word om dieselfde weg te volg nie. Dit beteken veral dat kinders en jongmense vanweë hul heelwat kleiner risiko, nie in die inentingsveldtog betrek moet word nie.[i]

[i] Die WGO stel tans die volgende: “There are currently no efficacy or safety data for children below the age of 12 years. Until such data are available, individuals below 12 years of age should not be routinely vaccinated.” Dit is verder insiggewend en ’n pluimpie vir die Verenigde Koninkryk, dat hulle tans ook nog diegene van 12-17 uitlaat, met uitsondering van diegene met hoë risiko.

statistiek

(Met erkenning aan PANDA)

Wanneer dit só geformuleer word, is dit duidelik dat die hele begrip van kudde-immuniteit ter sprake kom en dat dit ’n sentrale punt is om te debatteer. Dit is juis belangrik terwyl ons rustiger is en selfs die Wêreld Gesondheid Organisasie (WGO) dit nog nie vir kinders onder 12 aanbeveel nie. Hulle het dit egter reeds laat sak van die vorige perk van 16 jaar oud en die tekens is daar dat dit verder kan sak. Nou is die bedoeling nie hier om die waarde van kudde-immuniteit te ontken nie, maar wel om aan te spoor om ruimer oor kudde-immuniteit te besin. Dit is belangrik omdat ons kinders die debat oor kudde-immuniteit nog warmer kan maak. ’n Mens kan ook begryp waarom dit so warm kan raak. Diegene wat heelwat geliefdes naby hulle aan die dood afgestaan het, kyk dikwels net anders na die uitdaging as diegene wat klink of hulle net in terme van data praat. Aan die ander kant kan ’n instelling soos PANDA selfs sover gaan as om tien redes aan te dui waarom kinders en jongmense nie gevaksineer behoort te word nie.[1] Daarom is dit belangrik om reeds nou mooi na te dink of kinders noodwendig hierby betrek moet word, veral wanneer die lyn tussen aanmoedig en verpligting al hoe dunner raak.

Kudde-immuniteit word nie net deur inentings bewerkstellig nie. Hierdie sprong word maklik gemaak tot op die vlak dat dit nou deur sommige as die norm aanvaar word. Die WGO het byvoorbeeld iewers rondom September 2020 hul definisie van kudde-immuniteit verander deur te begin stel dat kudde-immuniteit slegs deur massa-vaksinering kan plaasvind. Toe daar nou geen klein opskudding hieroor ontstaan het nie, het hulle in Januarie 2021 die ou definisie van kudde-immuniteit herstel deur dit te verduidelik as ’n kombinasie van natuurlike en gevaksineerde immuniteit. Die konteks van die definisie veroorsaak egter nog steeds dat die ruimer visie nie genoegsaam aan die orde kom nie.[2] Die data oor die immuniteit van hulle wat reeds die siekte gehad het, is byvoorbeeld iets wat definitief verder gedebatteer behoort te word.[3] Ook die patrone van lande wat minder gevaksineer is en wat ondersoek kan word by die webwerf van Our World in Data, moet nie uit die oog verloor word nie.[4]

Afgesien van die voorspraak vir ’n ruimer definisie, moet daar ook nugter besin word oor die gewig wat hierdie saak in die debat dra. Die wetenskapsjoernalis, Christie Aschwanden, het in die internasionale joernaal, Nature, al in Maart 2021 aan die hand van mense soos Stefan Flasche, ’n vaksine epidemioloog by die Londen School of Hygiene & Tropical Medicine, daarop gewys dat kudde-immuniteit moeilik haalbaar lyk. Aschwanden bespreek vyf redes waarom dit nie moontlik lyk nie: (1) Dit is onduidelik dat vaksines oordrag keer; (2) die uitrol van vaksines geskied oneweredig in die wêreld; (3) nuwe variante verander die kudde-immuniteit matriks; (4) immuniteit mag dalk nie lank aanhou nie, en (5) vaksines mag ou gewoontes van sosialisering aanmoedig. Aschwanden reken nie dat die toekoms daarom donker lyk nie, maar vra wel vir realisme. Aan die hand van Flasche wys sy daarop dat die vaksine ’n verstommende ontwikkeling is, maar onwaarskynlik om die verspreiding heeltemal stop te sit.[5]   

Hierdie oorwegings bevestig reeds dat dit belangrik is om grondig na te dink oor alternatiewe denkwyses oor ons uitdagings. Dit is veral belangrik omdat versmalde denke oor kudde-immuniteit, aangejaag deur die pandemie-koors, maklik die rede is vir dwang van die staat, opstande, en onnodige rusies in families.

Aschwanden skryf nie om hierdie redes nie, maar haar bydrae is belangrik, omdat sy wys op woorde en sinne wat kan help om anderkant versmalde opvattings oor kudde-immuniteit te tree. Vrylik vertaal kom dit neer op woordkeuses soos “veiliger” in plaas van “heeltemal veilig” en “tevrede om met uitdagings reeds terug te keer na ’n normale leefstyl”, “endemie” in plaas van “pandemie” (in dieselfde sin as griep-endemie), “vroegtydige en veilige behandeling” in plaas van “voorkoming van oordrag”. Ek wil hierdie alternatiewe wyses van praat om ander redes as Aschwanden ondersteun, maar dit dankbaar gebruik in die voorspraak vir ’n ruimer hantering van die begrip kudde-immuniteit.

Die argumente wat hiervoor gevoer word, ondersteun dit nie deur die mediese vakwetenskap in die eerste plek nie, maar wel aan die hand van sake waaraan ook die mediese vakwetenskap nie kan ontkom nie. Eintlik bied dit ’n gulde geleentheid om  weer die ou bespreking oor die verwantskap tussen die natuurwetenskappe en die geesteswetenskappe onder oë te kry. Die standpunt hier is dat die een nie sonder die ander kan nie en dat ons die saamspan ook gaan nodig kry as ons omvattend wil nadink en optree in die COVID-uitdaging. Die argumente wat hier gevoer word, bestaan basies uit die volgende oorwegings: (1) Die induktiewe aard van die soort wetenskaplike ondersoek wat ter sprake is; (2) die biopolitieke aard van die omgewing wat ons betree; en (3) die onderdrukkende aard van staatisme. In die volgende artikel sal daar pertinent stilgestaan word by die eerste oorweging.

 [1] Aanlyn:

[2] VERIFY: Changes to WHO’s definition of herd immunity haven’t been ‘secret’. Aanlyn: . Tog reken die WGO steeds net daarna dat dit oneties is om iemand aan ʼn virus bloot te stel. Hierdie stelling kan net verdedig word wanneer die risiko deeglik bepaal is. Vgl. die konteks by

[3] Vgl. , P1421-1423, APRIL 17, 2021. Aanlyn:

 Peter Leithart, 28 Junie 2021. From Sword to Syringe. Aanlyn: ; Vgl. Ook Horowitz: Israeli government data shows natural immunity from infection much stronger than vaccine-induced immunity. Aanlyn: .

[4] Aanlyn: https://bit.ly/3rIeLKu

[5] Christie Aschwanden, 18 Maart 2021: Five reasons why COVID immunity is probably impossible. Aanlyn: https://go.nature.com/3BMyMnD.