Dit is nodig om in die debat oor vaksines ’n ongemaklike waarheid oor wetenskap aan die orde te stel. Dit is dat jy nie net die mediese vakwetenskap aan die orde kan stel in ’n geplaagde omgewing nie. Ook die wetenskapsfilosofie speel ’n rol. Ons moet byvoorbeeld ook nadink oor die soort wetenskap en metodes wat ter sprake is wanneer dit oor vaksines gaan. Diegene wat daaroor nagedink het, wys daarop dat ons hier te make het met ’n tipe wetenskap wat induktief van aard is.[1] Hiermee word bedoel dat die navorsing vanaf besondere data na veralgemeende gevolgtrekkings werk. Die besondere toetsresultate, wat onmoontlik al die gevalle in tyd en ruimte kon toets, word met ander woorde gebruik om gevolgtrekkings oor die geheel te maak wat ten minste voorlopig verdedig kan word. Wetenskaplikes erken dit en antwoord tereg hierop dat die gevolgtrekkings darem ondersteun word deur beste praktyke wat oor jare gevorm is. Daar word ook gepoog om die toetse só te doen dat dit aanspraak kan maak om ten minste wesenlik getoets te wees binne heelwat verskillende omstandighede en onder verskillende groepe.

Dit is egter ook die groot punt van dispuut. Die een saak wat per definisie nog nie genoegsaam getoets kon word tot op hede nie, is tyd. Selfs ’n instelling soos die Voedsel en dwelmadministrasie in Amerika (FDA) besef dit. Die FDA het nog net noodgebruik van die vaksines gemagtig. Die FDA benodig egter meer data oor ’n langer tyd vir volle magtiging. Hulle wil juis so poog om publieke vertroue te behou.[2] Sommige geleerdes in die veld antwoord egter hierop dat die mediese praktyk daarop dui dat newe-effekte wat nie binne ses maande wys nie, nie sommer later as dit eers hul opwagting maak nie. Jy kan dan ook nie meer so maklik bewys wat die eintlike oorsaak was nie. Hierdie siening behoort ordentlik gekruisondervra te word. Dit is een van die sake waarin ’n geloofwaardige publieke instelling baie kan help om skeptisisme te besweer.

Iemand soos Rachel Coleman, assistent professor by Assumption Universiteit in die VSA, en wat dikwels skryf oor sake by die kruispaaie van teologie, filosofie en wetenskap, toon egter ook belangrike rooi ligte aan. Sy wys daarop dat ’n artikel in die New York Times in April 2020 nog daarop kon wys dat ons eers kan verwag om in November 2033 ’n getoetste vaksine te kry. Nou is daar natuurlik ook hierop antwoorde oor die wonderlike sameloop van omstandighede en samewerking tussen nasies, maar dit is tog wys om diegene aan te hoor wat aanvoer dat daar onder dié druk net te haastig en te veel kortpaaie geneem is. Coleman is lankal besorg oor veral vroue en kinders as dit gaan oor moderne medisyne:  

“Moderne medisyne is van nature kortsigtig: Dit is gefokus op die onmiddellike behandeling van simptome, eerder as om te wag om te verstaan ​​waarom dit ontstaan ​​en wat dit ons oor die geheel kan vertel. Om dieselfde rede het die moderne geneeskunde nie die geduld om vroue en hul vrugbaarheid te verstaan ​​nie. Dit is hoe ons beland het in die rampe van talidomied en dietylstilbestrol. Die geskiedenis van die moderne medisyne is besaai met vroue se liggame – en die liggame van hul kinders (dit is redelik bekend dat moeders vir wie talidomied voorgeskryf is vir hul oggendnaarheid, kinders gebaar het met ernstige ledemaat-misvormings; dit is minder bekend dat die kinders van moeders vir wie diethylstilbestrol voorgeskryf het, baie meer geneig is om probleme met hul vrugbaarheid te hê — en hul dogters loop ‘n baie groter risiko vir bloedklonte en kanker).”[3]  

Coleman is van mening dat die lukrake wyse waarop vroue en hul fertiliteit benader word, die kanarie in die koolmyn is wat waarsku oor die metodes van moderne medisyne. Sy is selfs van mening dat sy ’n bepaalde soort logika bespeur wat paradoksaal genoeg in dieselfde rigting wys as eugenetika. Sy argumenteer egter nie vir die totale onthouding aan COVID-19 vaksines nie, maar wel dat ons die seine oor die skynbare ignorering van langtermyngevolge teen ’n groot risiko doen. 

Dit is belangrik om te erken dat diegene soos Coleman wat besorg is oor langtermyn gevolge nie onredelik is nie. Natuurlik moet die teenparty se getuienis ook aangehoor word en dit klink baie oortuigend. Lees jy byvoorbeeld ’n opinie van die meerderheidsiening soos verteenwoordig deur Kim Schive, redakteur van die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT), met ’n rykdom van baie handige verwysings oor die langtermyn gevolge op kinders, klink dit regtig of daar byna geen risiko is nie.[4] Gaan steek ’n mens egter ook kers op by die minderheidsverslae van dokters soos die Canada Health Alliance en America’s Frontline Doctors, kry jy ’n ander prentjie.[5] Dit kan ’n mens moedeloos maak, maar die positiewe is dat ’n mens darem op die manier na beide kante kan begin luister en kan besluit of die jurie eintlik nog nie terug is nie. Die teenwoordigheid van genoemde organisasies en ook instellings soos PANDA, maak ’n mens daarvan bewus dat die minderheidsverslag nie sonder meer as gelyk aan fopnuus afgemaak kan word nie.[6] Inteendeel, dit is net wys vir enige koninklike mens of en enige onderneming om die moontlike bydrae van minderhede in ag te neem, veral as dit ook wetenskaplikheid kan bewys. In die geskiedenis was dit al juis die redes vir die groei in wetenskap en kennis.   

Feitlik al die aansprake op omvattende toetsfases maak oorwegend aanspraak op toetse in ruimte, maar kan dit per definisie nie doen oor tyd nie. Wanneer jy fyn luister, sal jy dikwels hoor dat ’n eerlike wetenskaplike stel dat die voorlopige data tans goed lyk en dat die resultate geld totdat die teendeel blyk.[7] Dit is egter juis in hierdie laaste sin wat die induktiewe aard van hierdie wetenskap erken word. Daarom behoort daar eerliker omgegaan te word met die feit en mense behoort gelyk gegee te word as hulle besorg oor langtermyn-gevolge is.[8]

Dit is natuurlik ook so dat daar nie met iets soos die mRNA-biotegnologie, waarvan beide Pfizer en Moderna gebruik maak, eers van gister af geëksperimenteer is nie. Die eerste deurbrake dateer sover terug as die 1990’s. Dit is wel ’n feit dat die tegnologie in die verlede nie spesifiek met entstowwe in verband gebring is nie.[9] Blote gesonde verstand behoort tog te erken dat dit wys is om die gevolge hiervan oor ’n langer termyn te bly dophou, maak nie saak hoe positief die aanvanklike toetse was nie, veral as daar ook ’n minderheidsverslag van kundiges is. Die druk van die situasie kan veroorsaak dat ons maklik bysiende raak, juis omdat al die aandag aan korttermyn-gevolge gegee word. Indien die huidige risiko tans net te hoog is, maak dit wel sin om in hoë-risiko gevalle die vaksine te neem. Dit maak minder sin om almal nou oor dieselfde kam te skeer, veral as ons die langtermyn gevolge op veral kinders en jongmense wil oorweeg. Die bekende uitdrukking daarvoor is die risiko/voordeel analise (risk/benefit analysis). Vergelyk in hierdie verband die verklaring wat uitgereik is by PANDA vir die beskerming van kinders en jongmense in die COVID-respons.[10]

Afgesien hiervan is daar ook die kwessie van neutraliteit en van analogieë waarvan die induktiewe wetenskap gebruik maak. Hierop sal daar in die volgende aflewering ingegaan word.

[1] Vgl.. G.H. Clark, 1996. The Philosophy of Science and Belief in God. Trinity Foundation.

[2] Rachel Fritts, 21 Julie 2021. When will COVID-19 vaccines be fully approved—and does it matter whether they are? Aanlyn: .

[3] Rachel M. Coleman. Why Catholics should oppose vaccine mandates (both private and public). Aanlyn:  

[4] Kim Schive, 8 junie 2021. Will kids have long-term effects from the COVID-19 vaccine? Aanlyn:  

[5] Aanlyn: America’s Frontline: https://americasfrontlinedoctors.org/ Vir Canada Health Alliance: .

[6]  Vir Panda, kyk na en vir Canada Health Alliance kyk na .

[7] Die wetenskapfilosoof, Karl Popper, is bekend vir sy argument in hierdie verband. Dit is dat wetenskap nie eintlik geverifieer kan word nie, omdat al die gevalle nie getoets kan word nie. Dit kan wel gevalsifieer word wanneer data aan die lig kom wat die teendeel aantoon. Hierby moet daar billikheidshalwe ook darem bygevoeg word dat die wetenskaplikes dikwels antwoord dat die wetenskap nie kan funksioneer op ’n negatiewe basis nie. En tog moet hulle daarom ook altyd die voorlopigheid van konklusies oor hul data erken. En die verskynsel van die sogenaamde swart swaan behoort daarom nooit heeltemal te verras nie. Vergelyk in hierdie verband die bekende publikasie van Nassim Taleb, The Black Swan: The Impact of the Highly Improbable.

[8] Vergelyk in hierdie verband die Wêreld Ekonomiese Forum se woorde oor die tegnologie van mRNA: “Second, although clinical trials and early studies of these vaccines in real-world use have shown largely positive results, the long-term effects are still unknown.” Aanlyn: https://t.co/ZWSVrOk8Rk.

[9] Lees in hierdie verband die fassinerende verhaal van die ontdekking van en eksperimentering met mRNA by STAT:

[10] Aanlyn:

 66 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial