DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE KERKVERBAND

Die Afrikaanse Protestantse kerkverband bestaan uit gereformeerde kerke (gemeentes) van Christus wat:

  • God Drie-enig waarlik wil ken en wil dien;
  • Jesus Christus as Here bely en in Hom as die enigste Middelaar hul volle saligheid verwag;
  • glo dat die oppermag van God vanuit sy Woord onverskrokke verkondig moet word in ‘n wêreld wat die mens al meer sien as die norm vir besluitneming;
  • hul kerkwees bou op die Bybel as die geïnspireerde, onfeilbare, gesaghebbende, algenoegsame Woord van God;
  • hul roeping om God se Woord suiwer te verkondig, van harte onderneem en hierin staan die uitgangspunte van die Reformasie vir hulle sentraal, te wete: die Woord alleen (sola Scriptura), Christus alleen (solus Christus), genade alleen (sola Gratia), geloof alleen (sola Fide), aan God alleen die eer (soli Deo Gloria);
  • die volgende belydenisskrifte aanvaar omdat dit in ooreenstemming met God se Woord is, naamlik (1) Ekumenies: Apostoliese Geloofsbelydenis, Geloofsbelydenis van Nicea, Geloofsbelydenis van Athanasius; (2) Gereformeerd (Drie Formuliere van Eenheid): Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls;
  • in die tradisie van die Reformasie staan;
  • mense tot dissipels van God Drie-enig wil maak en hulle wil leer om alles te onderhou wat die Here sy kerk beveel het – elkeen as pilaar en grondslag van die waarheid.

Die diepgewortelde verwysingsraamwerk aan die hand waarvan die lewe vandag verstaan en ingerig word, is die humanisme. Die AP kerkverband het sedert sy ontstaan hierteen standpunt ingeneem, terwyl vele hoofstroomkerke al meer toegeeflik jeens humanisme geraak het. Sodoende het kerke meegewerk aan die proses van die sekularisering van die samelewing. In ons dag word die waarheid gerelativeer as sou dit bloot die tydgebonde gesigspunte van bepaalde groepe en individue verteenwoordig, met die hoop en verwagting dat die vermenging van standpunte en kultuureie tot ‘n nuwe oorkoepelende eenheid sal groei. Hierop wil die AP kerkverband ‘n antwoord bied deur vanuit die waarheid van die Woord, kerke te wees wat dinamies hul roeping vervul.