VRAAG EN ANTWOORD

Wie is die AP Kerk?

Die Skrifbeskouing van die AP Kerk

Die ontstaan van die AP Kerk

Die roeping van die AP Kerk

Waarom die AP kerke?

Die AP kerke is gereformeerde kerke (dit is: Bybelgetroue kerke) en binne die gereformeerde kerkefamilie is dit ’n beginsel dat jy jou moet voeg by dié kerkverband waarvan jy glo dat dit suiwerste kerkverband is (N.Gb. Art. 28). Dit beteken dat jy lidmaat moet wees by dié kerk waar jy glo die Here die Skrifgetrouste gedien word. 

In die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 29) word duidelik uitgespel wat die drie merktekens van die ware kerk is: 

  • die suiwere verkondiging van die Woord. 
  • die suiwere bediening van die sakramente. 
  • die handhawing van die kerklike tug.
Wat is belydenisskrifte?

’n Belydenisskrif is ’n kort, kernagtige samevatting van wat in die Bybel geleer word.

Die AP kerke het ses belydenisskrifte: die Algemene belydenisskrifte: Die Apostoliese Geloofsbelydenis of die Twaalf Artikels, die Geloofs- belydenis van Nicéa en die Geloofsbelydenis van Athanasius, en die besondere belydenisskrifte: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

Waarom het ons belydenisskrifte nodig?
  • Sodat die gelowiges presies kan weet wat hulle glo.
  • Dit vorm ’n eenheid tussen die gereformeerde kerke en tussen die gelowiges.
  • ‘n Belydenisskrif is ’n wapen teen dwaalleraars.
  • Deur die belydenisskrifte word die suiwer leer aan die nageslag oorgedra.
Wat is die gesag van die belydenisskrifte?

Ons belydenisskrifte het geen gesag vanuit hulself nie, maar ontvang hulle gesag vanuit die Woord, juis omdat dit met die Woord ooreenstem. Daarom is die belydenisskrifte bindend en moet u die inhoud daarvan onderskryf as u ’n lidmaat van ‘n gemeente wil word.

Wat word met ‘gereformeerd’ bedoel?

Gereformeerd word in HAT soos volg beskryf: “Hervorm volgens die beginsels van die kerkhervorming van die 16de eeu; Protestants, volgens die Calvinistiese beginsels”. Om gereformeerd te wees, beteken dus om konsekwent Bybels te glo en te lewe.

Wat is 'n Gereformeerde Skrifbeskouing?

Die AP Kerkverband handhaaf die beskouing dat God Drie-enig Homself en sy wil, in soverre dit Hom behaag, in die Skriftuur en natuur openbaar. Die Heilige Skrif bevat die wil van God volkome en dat dit wat daarin geleer word, genoegsaam is vir die mens se saligheid. Die Heilige Skrif is deur die Heilige Gees geïnspireer en die Gees van God het mense vir hierdie doel gebruik. Die Skrif het onfeilbare Goddelike gesag. Al sou alles nie vir die gelowige duidelik wees nie, moet die Heilige Skrif verstaan word in die lig van die herstelde verhouding van God in Jesus Christus met die mens. Alhoewel die boeke van die Ou en Nuwe Testament op verskillende tye geskryf is, vorm die 39 boeke van die Ou Testament en die 27 boeke van die Nuwe Testament ‘n onverbreekbare eenheid en volg ‘n groeiende openbaringslyn van Génesis tot Openbaring, waarin Christus sentraal staan.

Wat is die kerkregeringstelsel van die AP kerkverband?

Die AP kerkverband word ingerig en regeer  volgens  die  Presbiteriale of gereformeerde kerkregeringstelsel. Jesus Christus is  die Hoof van sy kerk en regeer die kerk deur sy Gees en met sy Woord en in die plaaslike kerk deur die ouderlinge amp. Elke plaaslike kerk (gemeente) is ‘n volledige kerk en het drie plaaslike vergaderings te wete die kerkraad, ouderlingeraad en diakonie. Die plaaslike kerke leef in kerkverband met mekaar saam. In die kerkverband konstitueer die volgende meerdere vergaderings wanneer nodig, nl. ringe en sinodes. In die kerkverband word elke plaaslike kerk deur die belydenisskrifte en kerkorde, as die gemeenskaplike akkoord, en sinodebesluite gebind

Wat is die Uitverkiesing?

Met die sondeval in die paradys, het Adam en Eva  hulself  en  die ganse menslike geslag in die sonde gedompel (Rom. 5:12). Die verskriklike gevolg daarvan word beskryf in Rom. 3:10-12. Die mens het nou vyand van God geword en verdien die hel. Sy hart het vir die Here doodgegaan. Dit is daarom  vir  die  mens  onmoontlik  om God uit sy eie vrye wil te dien. Om ons tot geloof te bring, werk die Here nou self die geloof en bekering in die hart van die uitverkorene. Volgens die Bybel het God, nog voordat Hy die aarde gemaak het, sekere mense as sy kinders gekies en hulle name in die boek van die lewe opgeskryf. Hierdie verkiesende genade gaan egter nie tot alle mense uit nie, want volgens Openb. 21:27 kan net die mense wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. So leer die Here ons in Hand. 13:48 dat net diegene wat Hy tot die ewige lewe bestem het, gelowig word. Die uitverkiesing beteken dus dat God vir Hom kinders kies en dan net hulle red.

Wat is die Genadeverbond?

Die Here het ‘n paar keer met die mens ‘n verbond gesluit, maar elke keer het die mens die verbond verbreek. Die verbond waaroor dit in hierdie dokument gaan, is die genadeverbond ná die sondeval. Adam en Eva moes as gevolg van hulle sonde vir ewig verlore gaan, maar toe kom God genadiglik met sy genadeverbond.

Die verbond behels dat die Here aan Adam en aan elke mens wat in die geloofskring gebore word of later daarin intree, heerlike beloftes gee, byvoorbeeld dat Hy hulle God sal wees, hulle sal red, die ewige lewe sal gee. Maar Hy stel ook eise. As die mens dan nie die eise in die krag van die Heilige Gees nakom nie, trek hy ‘n streep deur God se beloftes. God se beloftes bly staan, al kom die mens nie die eise na nie. Maar daardie beloftes realiseer nie vir so ‘n mens nie. God se verbond kan met ‘n testament vergelyk word: Hy laat in Christus wonderlike skatte aan ons na: byvoorbeeld dat Hy ons God sal wees en ons die ewige lewe sal gee. Maar Hy eis ook: byvoorbeeld dat ons Hom moet liefhê en dien. As ons nie die eise nakom nie, is ons soos mense wat nie die bemakings van die testament wil hê nie.

Omdat ons nie in staat is om hierdie eise na te kom nie, het God uit sy genade sy Seun, Jesus Christus, gestuur om die straf wat Adam se verbondsbreuk meegebring het (kyk Gén. 15:9-21), te kom dra en om in die plek van God se kinders die wet te vervul.

Dit beteken dat God die mens wel aan die verbond hou, maar dat Hy sy verbondskind nie noodwendig vernietig as laasgenoemde se voete gly nie.

So het die Here die mens in ‘n verbondsverhouding gestel. So eenvoudig! So wonderlik.

Wat is die Sakramente?

Sakramente is tekens en seels. Dit beeld die verlossingswerk  van Jesus Christus op sigbare wyse uit sodat gelowiges in hul geloof versterk kan word. Die doop is ‘n teken van ons reiniging deur die bloed van Christus en bewerk nie outomaties sondevergifnis nie. Dit geskied in die Naam van die Drie-enige God (vgl. Mt. 28:19). Die AP kerke pas die kinderdoop toe (en die grootdoop toe waar volwassenes tot geloof gekom het en nog nie op korrekte Bybelse wyse gedoop is nie). Ons herhaal nie  die  doophandeling  nie.  Ons  doop  kinders van verbondsouers  omdat die  doop in  die plek  van die  besnydenis gekom het en hierdie kindertjies ook deur God in sy verbond met die ouers ingesluit word. Daarom ontvang hulle die doop as teken van die verbond. Die AP kerke handhaaf ‘n geslote nagmaalsviering. Dit beteken dat net lidmate van die plaaslike gemeente nagmaal mag gebruik. Persone  uit  ander  AP  gemeentes  en  ander  gereformeerde kerke met dieselfde belydenisgrondslag as ons, wat nie onder sensuur is nie en toestemming by die plaaslike ouderlingeraad verkry het, mag ook saam nagmaal gebruik. Die plaaslike ouderlingeraad moet waak oor die tafel van die Here om sover menslik moontlik toe te sien dat die verbond van God nie ontheilig word en die toorn van God oor die hele gemeente verwek word nie. Daarom is dit nodig dat gelowiges met verantwoordelikheid voorberei vir die nagmaal. Slegs belydende lidmate word tot die nagmaalstafel toegelaat. Kinders het nog nie ‘n ware begrip van die nagmaal se diepere betekenis  nie  en  daarom word hulle nie in die AP kerke toegelaat om nagmaal te gebruik nie.

Wat is die basiese verskille tussen die gereformeerde kerke en die charismatiese groepe?

Die charismatiese groepe verwerp die kinderdoop en die verbond en eis dat daar eers ’n bewuste belewing van die wedergeboorte moet plaasvind voordat ’n mens gedoop word. Ook die uitverkiesing word verwerp en die redding van die mens word hoofsaaklik aan homself toegeskryf en nie aan God nie. Die werk van die Heilige Gees word oorbeklemtoon ten koste van die ander twee Persone in die Drie-eenheid. By die charismatiese groepe is belydenisskrifte nie belangrik nie omdat hulle beweer dat dit die Heilige Gees aan bande lê. Daarteenoor stel ons dat die belydenisskrifte juis in ooreenstemming met die Skrif is en daarom nooit die Heilige Gees aan bande kan lê nie.

Wat is die Christelike Sondagsviering?

Toe God sy skepping voltooi het, het Hy op die sewende dag gerus. Later het Hy dit in die Tien Gebooie laat opteken dat ons ook ses dae moet werk en dan op die sewende dag moet rus. In die Ou Testament is die rusdag op die sewende dag van die week gevier (Saterdag). Ná Christus se opstanding, het die Here dit só beskik dat die kerk die opstandingsdag (Sondag) as rusdag begin hou het.

Hierdie rus hou in dat ons liggame ‘n dag van herstel kan hê. Maar daar is ook ‘n dieper betekenis: ons moet die rusdag gebruik om spesiaal tyd met God te bestee. Dit doen ons deur persoonlike gebed en Bybelstudie, en deur as gemeente saam die Here in die erediens te ontmoet waar Hy met ons praat, met ons ‘n besonderse gemeenskap beoefen en ons saam in aanbidding voor Hom kan verkeer. Hy werk, op hierdie wyse veral, in ons harte sodat ons in geloof kan groei, in ons liefde kan verdiep en in ons geestelike gemeenskap kan verinnig.

As enige van die Tien Gebooie oortree word, is dit ‘n sonde. So ge- sien, is wegbly van die erediens sonder ‘n baie ernstige rede, voor die Here ‘n sonde (lees Hebr. 10:25; Ps. 68:27) – ook wanneer onnodig gewerk word, en wanneer besigheid bedryf of sport beoefen word.

Wat van die vrou in die amp?

In die AP kerke dien die susters in ander hoedanighede as in die besonder ampte. Die Kerk handhaaf die beginsel van die Heilige Skrif wat manne aanwys om in die besondere ampte te dien.

Wat van die Vrymesselary?

Die Vrymesselary is in sy wese ‘n geheime, humanistiese en antichristelike organisasie waarin geen toegewyde lidmaat van ‘n Christelike kerk tuishoort nie. Met die opneem van lidmaatskap in ‘n plaaslike AP kerk gee die voornemende lidmaat te kenne dat hy nie ‘n lid van die Vrymesselary is nie.

Wat van die Chiliasme?

Die Chiliasme glo aan ‘n tweërlei wederkoms van Christus. Met sy eerste wederkoms  sal  Hy  die  antichristelike  magte  oorwin  en  vir ‘n periode van ‘n duisend jaar oor die wêreld heers. Aan die einde van die duisend jaar keer Christus terug na die hemel en die satan word ontbind. Dan beleef diegene wat op die aarde is, die tyd van die laaste en groot verdrukking wat beëindig word met die tweede wederkoms van Christus.

Hierdie dwaling vertolk die Skrifgegewens oor die wederkoms van Christus verkeerd en het daarom geen staanplek binne die gereformeerde oortuiging nie.

Wat is die Israelhipotese in Suid-Afrika?

Hierdie mense glo dat God wit mense, en nie swart mense nie, as sy kinders uitverkies. Dié blankes word op grond van hulle Israelitiese (tien stamme) (bloed-) herkoms gered. Hulle glo wit mense, en ver- al wit Afrikaners, is die uitverkore volk van God. Hulle maak daarop aanspraak dat God altyd aan hulle kant is in hulle stryd teen swart mense. Hiermee word die genade-karakter van die uitverkiesing en die geloof in die soenverdienste van Jesus Christus, as  die  enigste grond van ons saligheid, tot niet gemaak.

Wat is die AP kerke se standpunt oor homoseksualisme?

Die AP kerke handhaaf die Skrifbeskouing dat die huwelik ‘n instelling van God is tussen een man en een vrou. Die sg. “burgerlike verbintenisse” word daarom op grond van Skrifgegewens verwerp. Die Bybel is baie duidelik in sy verwerping van homoseksualisme. God het die mens nie homoseksueel geskape nie. Die Woord veroordeel dit as sonde. God sal nie sonde maak en dit dan straf nie. Die huwelik moet tot eer van God dien. ‘n “Huwelik” tussen twee persone van dieselfde geslag is sonde en daarom nie tot eer van God nie. Die menslike ge- slag kan ook nie deur sodanige “huwelik” gebou word nie (Gén. 1:28; 9:1-7).

Is die Bybel vertaal?

Die Bybel was oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Ongelukkig het ons nie vandag meer die oorspronklike manuskripte van die Bybel nie. Verder is die ou tale nie meer algemeen toeganklik vir die gelowige nie. Omdat ons van oordeel is dat ons graag die Woord van God wil hoor soos Hy dit aan ons gegee het, is dit noodsaaklik dat die Bybel vertaal word om verstaanbaar te wees vir gelowiges vandag. Tans is die amptelike vertaling wat deur die AP kerke gebruik word, die 1933/53-vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Wat is die volkseie karakter van die AP kerke?

In sy skepping van alle dinge het God voorsiening gemaak vir verskeidenheid. As deel van hierdie verskeidenheid, het Hy ook verskillende volkere geskep – elk met ‘n unieke karakter. Nêrens in die Skrif word die volkskap van mense opgehef wanneer hulle tot geloof in Jesus Christus kom nie. Inteendeel, Jesus Christus het juis dit wat uniek is aan elke volk en nie in stryd met sy Woord is nie, geheilig, sodat dit tot sy eer benut kan word. Hierdie verskeidenheid van volkere sal voort- bestaan tot aan die voleinding van die wêreld. In  die  liefdesgebod maak Christus ruimte dat die unieke karakter van elke volk bewaar word. Daarom handhaaf die AP kerke die volkseie karakter van die kerk. Die handhawing van hierdie beginsel bedreig nie die eenheid van die kerk nie, aangesien die eenheid van die Kerk geestelik van aard is en daarom nie deur verskeidenheid ingeperk kan word nie.

Red God net wit mense?

Daar is baie mense wat glo dat net wit mense gered kan word. Hulle glo byvoorbeeld dat swart mense nie regtig mense is nie, maar diere. Omdat hulle diere is, reken hulle, besit swart mense nie siele nie en daarom kan hulle nie glo en uiteindelik gered word nie. Hulle reken verder dat jy net gered kan word as jy kan aantoon dat jy ’n direkte afstammeling van Abraham (die volk Israel) is. Volgens hulle is al die blanke volke van die wêreld direkte afstammelinge van Abraham, maar geen swart volk nie. Die mense wat hierdie dinge verkondig, staan bekend as die Israelvisie. Hulle verkondig ’n dwaalleer wat nie ooreenstem met die boodskap van die Bybel nie. In die AP Kerk stem ons glad nie saam met hierdie standpunte van die Israelvisie nie, omdat dit nie met die boodskap van die Bybel ooreenstem nie. Tydens meer as een van ons sinodes het ons aangedui dat ons nie met hulle saamstem nie en dat ons hulle as dwaalleraars beskou wat ’n valse evangelie verkondig. Die AP Kerk is nie ’n politieke kerk nie. Ons laat ons deur niks anders as die Bybel voorskryf nie, want in die AP Kerk is Jesus Christus Koning. Hy regeer sy kerk, ook die AP Kerk, deur sy Woord en sy Gees. Dit beteken dat ons altyd al ons standpunte oor verskillende sake aan die Bybel moet toets om seker te maak dat dit daarmee ooreenkom.

Wat ons dus in die AP Kerk oor hierdie dinge glo, is dit wat die Bybel daaroor leer:

  • Ons glo dat God alle mense, wit en swart, na sy beeld geskep het (Gén. 1:26-27).
  • Ons glo dat alle volke uit Adam en Eva stam en daarom kan geen volk as “diere” beskryf word nie (Hand. 17:26).
  • Ons glo dat elke mens ewe veel waarde in God se oë het, want by Hom is daar geen aanneming van die person nie (Rom. 2:11). Dit beteken dat geen mens (of volk) vir Hom belangriker as ’n ander is nie.
  • Ons glo dat God vir Hom ’n volk (sy kerk/kinders) uit elke volk en taal en stam en nasie bymekaarmaak. Hy wil hê dat die geslagte van die volke aan Hom eer en sterkte sal gee (Ps. 96:7).
  • Daarom glo ons dat die Here Jesus sy volgelinge uitstuur om die evangelie aan alle mense te verkondig en dissipels van al die nasies te maak (Mt. 28:19).
  • Ons glo dat elkeen wat in Jesus Christus glo, deel van God se volk, die ware Israel, is (Gal. 3:26-29).
  • Ons glo dat daar ook Christene uit die swart volke is wat eendag saam met ons in die hemel sal wees. Die Bybel leer ons dat God sy kinders met die bloed van Jesus Christus uit elke stam en taal en volk en nasie gekoop het (Openb. 5:9).
  • Ons glo ook dat wanneer iemand ’n Christen word, so ’n persoon nie ophou om te wees wat God hom/haar gemaak het nie. ’n Gelowige wat uit ’n spesifi eke volk kom, kan dus steeds ’n Afrikaner, Zoeloe, Engelsman of Duitser bly en mag ook saam met sy eie mense en volgens sy volk se gebruike en gewoontes die Here aanbid (Hand. 2:6-11). Die AP Kerk is nie ’n rassistiese kerk nie. Ons verwerp mense soos die Israelvisie met hulle rassistiese sienings. As jy weer aangevat word oor ons kerk, herinner jou teenstanders dan daaraan dat die AP Kerk ’n kerk van Jesus Christus is wat by die Woord staan!
Hoe is 'n Skrifbeskouing van die Israelvisie as aanloop tot die vraag wat van die tien noordelike stamme van Israel geword het?

Inleiding

In tye van swaarkry en moedeloosheid is mense geneig om by dwalings en valse gerusstellings aanklank te vind, omdat daardie groepe meestal die Bybel so interpreter dat dit belangegroepe” naderlok. Hulle fokus gewoonlik op die dinge wat vir mense sensitief is en na aan die hart lê, omdat die behoud van ons volk en ons land vir baie van ons Afrikaners uiters belangrik is. Daarom is die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika die ideale broeiplek vir die leer van die Israelvisie onder ’n groeiende deel van die Afrikanervolk. 

Skrifvreemde uitverkiesingsleer

Die verskynsel dat verskillende mense na dieselfde gedeeltes van die Bybel kyk en verskillende interpretasies daaruit haal, noem ons hulle Skrifbeskouing. Die Skrifbeskouing van die Israelvisie is egter twyfelagtig, omdat hulle net sekere verse met ander vergelyk om uiteindelik ’n teorie oor die uitverkiesing van volke te ontwikkel wat vreemd aan die Bybel is.

Die hoeksteen van die dwaling is die opvatting dat die Ou Testamentiese volk Israel in die blanke volke (oorspronklik van Europa en vandag oor die wêreld versprei) voortleef en daarom spesiaal deur God uitverkies is.

Die AP Kerk het alreeds tydens sy derde sinode in 1989 sy kommer oor die Skrifbeskouing van die Israelvisie soos volg uitgespreek: “Die sinode wys die Israelvisie se Skrifhantering af, omdat vanuit ’n vooropgestelde fundamentalistiese wyse van die Bybel vir ’n biblisistiese bewysvoering gebruik gemaak word onder ’n skyn van vroomheid en Skrifgetrouheid.” Die aanhangers van die Israelvisie word bitter moeilik oortuig van hulle dwaling, omdat hulle oortuig is dat hulle interpretasie van die Bybel die waarheid is. Daar kan ook baie moeilik op grond van die Bybelse wetenskap en teologie met hulle geredeneer word, “want”, sê hulle “die Gees lei alle kinders van die Here en nie net teoloë nie”.

Dit is waar dat elkeen wat die Here liefhet, die Bybel kan verstaan. Dit is mos een van die belangrike grondslae van die Reformasie. Ons moet egter nie so eiewys wees dat ons dink ons altyd reg is, sonder om ons standpunt aan die Bybel en dié van ander opregte gelowiges deur die eeue, asook ons belydenisskrifte, te toets nie. Daarom is die belydenisskrifte van ons kerk so ’n kosbare skat. Hierin kan ons ons standpunt toets aan dié van ware gelowiges wat ons voorgegaan het.

Die Skrifbeskouing van die Israelvisie is voorwaar verdag wanneer dit aan ons belydenisskrifte gemeet word, aangesien ons belydenisskrifte die waarheid van die Bybel bevestig, naamlik dat ’n mens gered word op grond van die volkome soenverdienste van ons Here Jesus Christus alleen, uit genade alleen en alleen deur die Heilige Gees wat die wedergeboorte bewerkstellig (vgl. bv. HK So. 20,V/A 53; NGb Art. 16; 22).

Die Skrifverklaring van die Israelvisie maak die genade-karakter van die uitverkiesing en die geloof in die soenverdienste van Jesus Christus as die enigste grond van ons saligheid, tot niet. Die bewys hiervoor is dat God se uitverkiesing reeds in die Ou Testament op ’n daad van genade gegrond was. In Deuteronómium 7:7 lees ons dat God vir Israel gesê het:

Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.

Paulus sluit hierby aan as hy sê dat Abraham nie deur enige natuurlike verkiesing of verdienste uitverkies is nie, maar deur die geloof in die geregtigheid van God (Rom. 4:13). Dit is ook deur die geloof en nie  deur afkoms of herkoms nie, dat ons toegang kry tot hierdie genade waarin ons staan (Rom. 5:2). 

Wat het van die tien stamme van Israel geword?

In die lig van bogenoemde maak die Israelvisie in hulle Skrifverstaan afleidings oor die tien “verlore” stamme van Israel.

Wanneer mense na die “verlore stamme van Israel” verwys, het hulle gewoonlik die tien stamme van die Noordelike Ryk wat ongeveer 722 v.C. onder Assirië geval het, in gedagte. Hierdie stamme is Ruben, Simeon, Levi, Dan, Náftali, Gad, Aser, Issaskar, Sébulon en Josef (wie se stam verdeel was in die stamme van Efraim en Manasse).

Dit is bekend dat die meeste van die mense van die Noordelike Ryk deur die Assiriërs na die ou Assiriese gebied in ballingskap weggevoer is (2 Kon. 17: 6). Hulle is toegelaat om in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan en in die stede van Medië te woon. Baie van die Jode wat in die land agtergebly het, het ondertrou met die volke wat ná die ballingskap in Samaría gaan vestig het (2 Kon. 17:24; Esra 4: 2-11).

Die verlof om terug te keer na Israel is eers in 537 v.C. deur Kores van Persië gegee, sodat die Israeliete wat ná afloop van die Assiries-Babiloniese ballingskap na Israel wou terugkeer, vry was om dit te doen (2 Kron.36:22-23; Esra 1:3; 2:70; Eség. 47:13). Die tien stamme (Noordryk) was dus reeds 200 jaar lank weg uit hulle land voordat hulle weer kon terugkeer, terwyl Juda (Suidryk) hoogstens 60-70 jaar weg was. Daar was nog mense onder dié van Juda wat kon onthou hoe die tempel gelyk het (Esra 3:12).

Esra 2:64 en Nehemía 7:66 stel die getal teruggekeerdes op 42 360, wat baie meer was as wat net die stam van Juda op daardie stadium kon wees en het dus ander stamme ook ingesluit. Die teruggekeerdes word almal aangespreek as die “huis van Israel” (Neh. 9:1). Ná die ballingskap is 12 bokke volgens die getal van die stamme van Israel geoffer (Esra 6:17). In Openbaring 7:7 word die geslag van Levi onder die geslagte van Israel gereken, wat geen erfenis in die land Kanaän gehad het nie en die geslag van Dan word weggelaat. Die rede hiervoor is omdat hulle die eerstes was wat hulle tot die afgodsdiens begewe het (Rig. 18) en die kalwers van Jeróbeam in Dan aangehou het (vgl. 1 Kon. 12). 2 Konings 15 meld dat hulle om hierdie rede van die eerstes was wat deur die heidene weggevoer was en verstrooid onder hulle gebly het. Die stam van Dan word ook in die terugkeer van die Israeliete, ná die ballingskap van Babel, nie meer onder die Israelitiese stamme in die eerste boek van die Kronieke gereken nie, maar wel Levi.

Dit is onlogies om te dink dat almal na Jerusalem sou wou terugkeer ná 200 jaar van ballingskap, nadat etlike geslagte al in Assirië gebore is. Hulle het reeds daar wortel geskiet en gevestig. Volgens die Israelvisie sou hierdie stamme van Israel ná die Assiriese ballingskap na Europa gemigreer het. Hulle meen byvoorbeeld die Donau-rivier kry sy naam van die stam van Dan. Ander meen dat hierdie stamme al die pad na Brittanje getrek het. Ons het nie al die bewyse waar die tien stamme van Israel vandag is nie, maar die opmerkings hierbo toon genoegsaam aan dat hulle nie “verlore” is nie en dat hulle bes moontlik ná die ballingskap deel van die Joodse volk gebly het. Daar is dus histories en Bybels geen bewys dat die tien stamme van Israel vandag in die Afrikaner voortleef nie. 

Samevatting

Die Israelvisie verkondig ’n valse idee van die uitverkiesing van Westerse volke wat in stryd is met die leer van die Bybel dat God die mens nie op grond van die persoon nie, maar op grond van sy genade verkies (Rom. 2:11). Die Israelvisie is ’n valse godsdiens wat die genade van ons Here Jesus Christus en die verlossing deur sy soenverdienste alleen, verwerp.

Wie is die ware Israel van God?

Op hierdie vraag kan geantwoord word dat daar ’n aanname is dat slegs Israel die erfdeel van God is. Hierdie aanname word op grond van Bybeltekste soos Jesaja 19:25 gemaak waar die Here van Israel praat as “my erfdeel Israel” en ook Psalm 147:19, 20 waar daar staan: Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie. Daar word ook daarop gewys dat die Here Jesus self aan die Kananése vrou gesê het: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel (Mt. 15:24). Verder word ook beklemtoon dat die Here Jesus toe Hy die apostels op hul sending uitgestuur het, aan hulle gesê het: Moenie gaan op pad na die heidene nie, … maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel (Mt. 10:5, 6).

Hierdie woorde van Jesus moet egter gesien word as ’n tydelike beperking wat later opgehef word. Wanneer Hy van sy dissipels afskeid neem, sê hy in Matthéüs 28:19: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies … Ook in Handelinge 1:8 lees ons: … maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterstes van die aarde. Hier is dus ’n duidelike opdrag van die Here dat die evangelie nie net aan die Israeliete verkondig moet word nie, maar aan die hele wêreld wat ook nie-Israeliete insluit. Petrus se gesig van die laken in Handelinge 10 is ’n verdere bewys daarvan. Hy sê self in verse 34 en 35: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.

Die Here sou vir Paulus veral gebruik om die werk onder die heidene te doen. Toe die Jode van Antiochië aan wie hulle die evangelie verkondig het, hulle met lasterlike woorde weerspreek het, het Paulus en Bárnabas aan hulle gesê: Dit was noodsaaklik dat die Woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene (Hand. 13:46). Met sy roeping op die Damaskuspad het die Here Jesus dit vir Paulus duidelik gemaak dat hy die apostel van die heidene sal wees. As hy voor Agríppa getuig oor sy roeping, sê Paulus vir hom dat die stem vir hom gesê het: Maar rig jou op en staan op jou voete want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ’n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn, terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou stuur, om hulle oë te open … (Hand. 26:16-18).

Dat die apostels nie aan die heidene as verstrooide Israeliete gedink het nie, maar as nie-Israeliete, is duidelik waar Paulus aan die Galásiërs skryf: Daarna, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Bárnabas, en Titus ook saamgeneem. Maar ek het opgegaan op grond van ’n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig, en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie. Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ’n Griek is. Maar dié wat in aansien was … het my niks meer opgelê nie. Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes – want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene – en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Bárnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan (Gal. 2:1-9).

In Handelinge 15 lees ons van Paulus en Bárnabas en nog ’n paar ander wat na die apostels en ouderlinge in Jerusalem gegaan het oor die vraagstuk rakende die besnydenis. Dit was toe sekere persone uit Judéa geleer het dat die gelowiges uit die heidene nie gered kan word as hulle nie besny word nie. Tydens dié vergadering het Jakobus opgestaan en gesê: Daarom oordeel ek dat ons dié wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed (Hand. 15:19, 20). Die vergadering het toe eenparig met hom saamgestem en hulle het dit so in briewe vervat en dit deurgestuur na die gelowiges onder die heidene. Judas en Silas is ook afgevaardig om mondelings die boodskap aan hulle oor te dra (Hand. 15:25-27).

Wanneer Johannes ’n kykie in die hemel kry, staan daar in Openbaring 7:9, 10: Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: “Heil aan onse God wat op die troon sit en aan die Lam.” Dit is dus duidelik dat nie net een volk of nasie gered sal word nie, maar dat die genade van God oor almal sal wees wat in Hom glo.

Dit is dan ook wat Paulus aan die Romeine skryf naamlik dat die Israeliete wat nie geglo het nie, se takke afgebreek word. Die heidene, of dan liewer dié uit ander bevolkingsgroepe wat wel in Christus glo, word op die afgesnyde takke se oorblyfsels ingeënt. Waar hy praat van ’n mak olyfboom (Israel), word dit nou ’n veelkleurige boom waarop ander volke (takke) se gelowiges ingeënt word. Die beeld wat hier na vore kom, is dat die wortels (dit is die verbond) en die stam (Abraham), dieselfde bly. Dit het nog nooit verander nie, want die Here het aan Abraham belowe dat al die nasies van die aarde in sy nageslag geseën sal word (Gén. 12:2-3).

Die vraag is nou: Hoe kry die ander volke, stamme, nasies en tale deel aan die verbond wat God met Abraham gesluit het? Hoe word dit moontlik dat hulle takke op die mak olyfboom (Israel) ingeënt word? Die antwoord kry ons in Galásiërs 3:6, 7, 9: Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat dié wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. Sodat dié wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. Dit kom ooreen met Romeine 4:3: Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 

Dit is dan baie duidelik dat diegene wat in God glo soos Abraham in Hom geglo het, kinders van Abraham is en dus deel het aan die verbond wat God met Abraham gesluit het. Sodoende word óns takke ook op die olyfboom ingeënt.

Daar is baie wat roem dat hulle die nageslag van Abraham is. Die Fariseërs het dit ook gedoen (Joh. 8:39). As redding vir die natuurlike kinders van Abraham bestem is, dan sluit dit ook Moslems in. Hulle roem ook daarop dat hulle die kinders van Abraham is. Hulle stam egter van Ismael af. Hulle is natuurlike kinders van Abraham. Romeine 9:6-8 sê dat nie net die natuurlike kinders van Abraham tot sy nageslag gereken word nie, maar diegene wat glo soos wat Abraham geglo het, dié is sy kinders en nageslag.

As iemand nie glo soos wat Abraham geglo het nie, is hy nie ’n geredde persoon nie. Wie egter in God en sy verlossing glo soos wat Abraham geglo het, sal gered word omdat sy geloof in Jesus Christus hom tot geregtigheid gereken sal word.

Hoe is Israel-isme 'n skeefgetrekte en verskraalde verbondsbeskouing?

Wie die waarheid ken, sal die leuen herken. In ons earlike beoordeling van enige leerstelling, is dit noodsaaklik dat ons die Bybelse leer oor die saak goed ken en verstaan. Alreeds 400 jaar gelede is een van die die belangrikste sake wat in die kerk se geskiedenis kop uitgesteek het, hanteer. Toe die Arminiane in die Nederlande deur hulle leer en die verwerping van Nederlandse Geloofsbelydenis (NGb) Artikel 16 oor die ewige verkiesing van God, onmin in die kerk veroorsaak het, was dit noodsaaklik geag dat die kerke in Europa moes vergader om vanuit God se Woord te bepaal wat die waarheid oor die uitverkiesing is. Tydens daardie waterskeidingsinode is die Dordtse Leerreëls opgestel om hulle dwaalleer te bestry en is die Nederlandse Geloofsbelydenis in sy geheel goedgekeur en is artikel 16 dus gehandhaaf.

Die Skrif oor die verbond

Wanneer ons die verbondsbeskouing en uitverkiesingsleer van die Israelisme beoordeel, doen ons dit aan die hand van die Woord. Deur bloot hulle basiese seining oor die uitverkiesing met N.Gb Artikel 16 en die Dordtse Leerreëls te vergelyk, is dit reeds duidelik dat ons hier met ’n dwaling te doen het. Om egter te verstaan waarom hierdie dwaling ontstaan het, moet ons begin by hulle verbondsbeskouing, aangesien hul uitverkiesingsleer op hulle verbondsbeskouing gebaseer is.

Die Bybelse verbondsteologie word duidelik uiteengesit in O Palmer Robertson se boek The Christ of the Covenants. Hy sluit by die eeue-oue gereformeerde leer oor die verbond aan en maak dit duidelik dat die verskillende verbonde in die Bybel verskillende fasette van dieselfde verbond behels. Prof. L Floor sluit hierby aan: … in die verbond kom veral die innige verhouding wat daar tussen die Koning en sy onderdane is, tot uitdrukking. Ons sluit ook by Bartholomew en Goheen aan wat in hulle boek The Drama of Scripture stel dat die Bybel een groot verhaal vertel en dat die onderlinge verband wat tussen die verbonde bestaan, duidelik sigbaar is. Die verbonde, met Adam, Noag, Abraham, Moses en Dawid, is almal aspekte van dieselfde koninklike verbond tussen God as Koning en sy onderdane, die mense. Hierdie verbond word in die Nuwe Verbond vervul en deur Christus bekragtig en staan ook as die Genadeverbond bekend.

Bavinck stel dit soos volg: Ten eerste is het genadeverbond overal en ten alle tijde in zijn wezen een, maar treedt het toch telkens in nieuwe vormen op en doorloopt het verschillende bedeelingen. Wezenlijk en zakelik blijft het één, voor en onder en na de wet. Het is altyjd genadeverbond; het heet zoo, omdat het uit genade Gods voortvloeit, genade tot inhoud heeft, en in de verheerliking van Gods genade zijn einddoel vindt. 

Hiervolgens is die eerste binding in bloed reeds die verbond met Adam, oftewel die Aanvangsverbond,  wanneer God ná die sondeval die mens genadig is en die belofte aan Eva gee dat haar saad die slang se kop sal vermorsel. Volgens Galásiërs 3:16 is dit ’n belofte van die oorwinning deur Jesus Christus oor die Satan. Om die verbond te sluit, lees ons in Génesis 3:21 van die eerste bloedoffer toe God self vir die mens rokke van vel gemaak het. Al die daaropvolgende verbonde word met bloed verseël as voorskou van die finale verbond wat met die bloed van Jesus Christus verseël word.

Verbondsbeskouing van die Israelisme

As ons nou na die verbondsbeskouing van die Israelisme kyk, sien ons duidelik dat hulle die verbond met Abraham van die res van die verbonde losmaak en die Abrahamitiese verbond as hoofsaak beskou. Al wat hulle van die verbond met Adam af wil weet, is die valse idee dat daar uit Eva twee fisiese bloedlyne voortgekom het: een wat in ’n verhouding met God kan staan en een wat vervloek is. Daarna volg verskillende kunsgrepe met die Skrif om te probeer bewys dat daar twee geneties-verskillende geslagte op aarde is, terwyl die Skrif dit duidelik maak dat almal deur die sondeval in ellende gedompel is (vgl. Rom. 3:9-20). Daarom het die AP Kerk reeds tydens die 1989-sinode die Israelvisie of eerder Israelisme verwerp en onder meer besluit:

Die Israelhipotese verskraal die uitverkiesing strydig met wat die Skrif leer asook die Dordtse Kerkorde en die Heidelbergse Kategismus.

In die pamflet Bied die Israelvisie die antwoord? stel dr. Hennie Smith dit soos volg: Hierdie leer beweer dat die Wes-Europese blanke nasies en hulle spruite (waaronder die Boere-Afrikanervolk) die direkte afstammelinge is van Israel – die volk met wie die Here in die Ou Testament die verbond gesluit het. Dié verbond is dan vir altyd en eksklusief met Israel gesluit sodat slegs die biologiese afstammelinge van Israel (en daarom die blanke afstammelinge van die Wes-Europese volke) op ewige redding aanspraak kan maak. 

Die aard van die verbond

Dr. Smith verduidelik die deurslaggewende rol wat die verbond in die Israelvisie speel, soos volg:

Volgens dié leer is slegs die historiese Israel as volk uitverkies, en dit bly so ook deur die Nuwe Testament heen. Voorstanders van die leer bly hang dan ook aan die Ou Testamentiese vorme (soos hulle dit vertolk) van die Godsname soos Yahweh (Here) en Yashua (Jesus). Die verbond is slegs met Abraham en sy nageslag; dus met Israel gesluit. Die verbond is dus die verwerkliking van die verkiesing in die tyd. Daarom is die verbond en die ewige heil slegs vir die fisiese nageslag van Abraham. Dié nageslag beërf die ewige heil dus “outomaties”; bloot kragtens die toebehoort tot die verbond. Die belang van die geloof in die verbond kry dus nie die klem wat die Bybel daaraan toeken nie. Ds. GJ Steenkamp, wie se uiteensetting onder hierdie punt in breë trekke gevolg is, sê: ’n Mens kan glo sonder om verkore te wees. ’n Mens kan glo en dan is dit blote indoktrinasie (Die Wonder van die Uitverkiesing, p. 25). 

Met 1 Petrus 2:9 as vertrekpunt, kom Steenkamp tot die gevolgtrekking dat die “uitverkore geslag” waarvan Petrus skryf, op die saad dui en skryf hy voorts: “… die hele Bybel hanteer die woord  uitverkiesing in dié konteks.”

Hy maak dan ook die bewering dat God sy vrou wil terugneem hoewel Israel volgens Jeremia 3:20 troueloos teen haar man gehandel het en gevolglik van hulle kant die verbond verbreek het en dat die enigste manier hoe Hy dit kon doen, was dat Christus Jesus moes sterf sodat die vrou vry kon wees om weer te trou en dat Hy haar kon terugneem nadat Hy uit die dood opgestaan het. Daarom maak Steenkamp die aanspraak: Ons moet tog die verbond behou en dan is dit tog duidelik dat die nuwe verbond met die huis van Israel is en nie met die kerk nie – maar die verbond is met die fisiese nageslag van Abraham …

Hierop antwoord dr. Smith soos volg:

Die verbond is op die heil in Christus afgestem

Dat die Ou Verbond in die kanaal van die fisiese nageslag van Abraham gevloei het, is gedeeltelik waar, maar dit was nooit bedoel as ’n ewige en absolute begrensing nie. Die Here het hierdie kanaal verkies, nie om die ewige heil hiertoe te beperk nie, maar om Jesus Christus na die vlees hieruit gebore te laat word ten einde (hoewel ook deur sy oordeel heen) sy ganse geskape wêreld uiteindelik in Hom te vernuwe. Daarom bring die geredde verteenwoordigers uit die nasies hul heerlikheid in die nuwe stad  (Openb. 21:24). Ds. Steenkamp glo wel dat die Bybelse woorde wat met “nasie” en “heiden” vertaal word op die verstrooide en onbesnede Israeliete dui en nie op die heidene en nasies volgens die hedendaagse begrip nie. Let egter daarop dat God reeds vir Abraham, reg aan die begin van die verbond en nog voordat daar histories sprake van afgedwaalde Israeliete was, beloof dat die nasies in hom geseën sal word.

Die verbond eis geloof

Die verbond was nooit bedoel om as ’t ware outomaties tot die ewige heil te lei nie. ’n Mens kan nie sonder meer aanvaar dat elkeen wat die verbondsteken ontvang het of binne die verbondsgeslag gebore is, die ewige heil op grond daarvan ontvang nie. Die verbond bied die sfeer waarbinne God normaalweg reddend werk en gee ons, vanuit dié sfeer, ’n sterker aanspraak daarop, maar sowel in die Ou as die Nuwe Testament word die redding primer en onlosmaaklik aan die dringende oproep tot geloof gekoppel. Nadat Jesus Christus gekom het, word alles bepaal deur die vraag hoe ek op Hom reageer. Hý is die nageslag van Abraham. In die lig van bogenoemde pleit ek by ons lidmate om die ware leer van die Bybel, soos uiteengesit in die belydenisskrifte, te bestudeer en te leer ken. Sodoende kan ons die dwaalleer weer en ons kinders in die suiwer leer opvoed sodat hulle kan staande bly teen die valse leerstelling van die dwaalleraars en kultusse wat hulle as gelowiges voorhou.

Is alle gelowiges die fisiese afstammelinge van Abraham?

Wie is die Israel van God waarna die Nuwe Testament in Galásiërs 6:16 verwys? Om hierdie vraag na behore te beantwoord, vereis ’n openbaringshistoriese aanslag.

 

Was Abraham ’n Jood?

Nee, tegnies het die term “Jood” eers later na vore gekom. Abraham was ’n afgodsaanbidder (vgl. Jos. 24:15), ’n heiden wat in Ur van die Chaldeërs gebore is en grootgeword het. Abraham was die belangrikste vader wat van oorkant die Eufraat gekom het. Sy verkiesing is aan God se genade alleen toe te skryf en nie een of ander besondere eienskap(e) nie.

 

Eiendomsvolk

Die uitverkiesing van Abraham en die verbond wat die Here met hom en sy nageslag gesluit het, het sy nageslag in die Ou Testamentiese bedeling as besondere eiendomsvolk van God gestempel. Tog is ander volke of rasse van die begin af nie uitgesluit van God se genade nie. Inteendeel, reg aan die begin het die Here dit duidelik gestel dat almal wat in Abraham se huis was, dié wat daar gebore is asook dié wat van ’n vreemdeling gekoop is, die teken van die verbond (die besnydenis) moes ontvang (Gén. 17:17, 23). Ook Ismael, die seun van die slavin Hagar, het die verbondsteken ontvang. Later sou Ragab (’n Kanaänitiese vrou) en Rut (’n Moabitiese vrou) deel van die verbondsvolk word. Die besnydenis het ’n nie-Israeliet in ’n Israeliet verander.

 

Rassuiwerheid?

Dat God deur Abraham en sy nageslag in ’n besondere verhouding met die mens getree het (Gén. 12), het dus nooit suiwer oor ras gegaan nie. Selfs die verbod teen huwelike met die inwoners van Kanaän (Deut. 7:3), het niks daarmee te doen nie, maar het ’n godsdienstige oogmerk gehad: Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie – jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg (Deut. 7:3-4). Dit het dan ook inderdaad gebeur. Dink maar aan Salomo met sy baie vreemde vrouens (vgl. 1 Kon. 11:4).

 

Ballingskap

Die aanbidding van die afgode het die Here se toorn opgewek. Hul volhardende ongehoorsaamheid het uiteindelik op ballingskap uitgeloop. Die noordelike tien stamme is in 722 v.C. deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer en die suidelike Juda in 586 v.C. deur die Babiloniërs. Die tien noordelike stamme het nooit as ’n volkseenheid teruggekeer nie.1 ’n Oorblyfsel van die stam van Juda het na Judéa teruggekeer en voortgeleef as volk aan wie die Here sy besondere guns betoon het.

 

Herstel in die vooruitsig

Die profete wat voor, tydens en ná die ballingskap opgetree het, het die herstel van Israel in die vooruitsig gestel, maar ’n nuwe dimensie het bygekom. Heidene sou nou deel van God se volk word. Die profeet Amos het aangedui dat God nie net met Israel op ’n besondere manier gewerk het nie. Hy het sy belangstelling in die ander volke van die aarde behou (vgl. Amos 9:7). Hy kon net so goed ’n ander volk as Israel gekies het. Sy Naam is egter ook oor Edom uitgeroep (Amos 9:12). Dit is ’n verrassende uitspraak. In Génesis 25:23 het die Here verklaar dat Hy Jakob (d.w.s. Israel) bo Esau (d.w.s. Edom) verkies het. Dinge gaan egter verander. Die een wat deur God verwerp is, sal nou deur Hom verkies word. Tog sal God nie die volk Israel verlaat nie. In Jesaja vind ons nog ’n verrassende uitspraak in die Godspraak oor Egipte: En die Here sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die Here ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die Here en dit betaal (Jes. 19:21). Die profeet gaan self verder en sluit Assirië in God se genadige werking in (Jes. 19:23-25). In Jesaja 57:6-7 vind ons ’n verdere profetiese uitspraak aangaande die insluiting van heidenvolke in die Godsvolk: En die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke. Ook Jeremia skryf hieroor: So sê die Here: Aangaande al my goddelose bure wat die erfenis aantas wat Ek my volk Israel laat erf het – kyk, Ek ruk hulle uit hul land uit, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde wegruk. Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm; en Ek sal hulle terugbring, elkeen na sy erfenis en elkeen na sy land. En as hulle ywerig die weë van my volk leer om te sweer by my Naam … dan sal hulle onder my volk gebou word (Jer. 12:14-16).

 

Vervulling

Hierdie profetiese uitsprake is met die koms van Christus vervul. Hoewel Hy sy bediening hoofsaaklik op Israel gerig het en selfs vir die Kananése vrou gesê het: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel (Mt. 15:24), maak Hy positiewe uitsprake oor die geloof van nie-Israeliete (Mt. 8:10). Meer as een keer sinspeel Hy op die toestroming van die volke, byvoorbeeld in Matthéüs 8:11: Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Tydens die profetiese rede sê Hy uitdruklik dat die evangelie eers aan al die nasies verkondig moet word voordat die einde sal kom (Mk. 13:10). En uiteindelik stuur Hy sy dissipels uit met die opdrag: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies (Mt. 28:19). In die boek Handelinge word dit klinkklaar uitgespel dat die apostels inderdaad na die nasies gegaan het en dat mense uit alle volke tot geloof in die Here Jesus gekom het en so deel van God se Nuwe Testamentiese verbondsvolk geword het. Handelinge 13 vertel dat Paulus en Bárnabas in Antiochië die evangelie in die sinagoge verkondig. ’n Week later het hy dit weer gedoen, maar dié keer was daar ook ’n groot skare uit die stad wat gekom het om na hom te luister, waarvan baie nie-Jode was. Die Jode was jaloers toe hulle die skare sien en het Paulus probeer weerspreek. En dan lees ons: Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene (Hand. 13:46). ’n Groot deel van die briewe van die Nuwe Testament is aan nie-Joodse gelowiges gerig. Paulus skryf bvoorbeeld aan die gemeentes in Galasië waar Judaïste gepoog het om die gelowiges uit die heidendom te oorreed om hulle te laat besny. Dan sê hy in Galásiërs 5:2: Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle julle laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. Uit sy woorde lei ons af dat die lesers op daardie stadium onbesnedenes was, met ander woorde nie Jode nie. Ook in sy brief aan die Efésiërs wys hy op Christus wat die middelmuur van skeiding tussen Jode en heidene afgebreek het (vgl. Efés. 2:14-16).

 

’n Nuwe mensheid

Uit die Bybelse gegewens is dit duidelik dat Christus as tweede Adam die middelpunt van ’n nuwe mensheid geword het. Hierdie nuwe mensheid bestaan uit Jode wat tot geloof in Christus gekom het (soos die apostels) sowel as nie-Jode wat Christus as hulle Verlosser aanvaar het. Die Ou Testamentiese profesieë aangaande die toestroming van die heidene het dus in die Nuwe Testamentiese kerk waar geword. Die nasionale volk Israel van die Ou Testament was dus, net soos die tempel en die land Kanaän, ’n afbeelding of skadu van die volle werklikheid wat in Christus sou kom.

 

Is Israel steeds die uitverkore volk?

In die gelykenis van die landbouers (Mt. 21:33-46) werp Christus lig hierop. Hy wys daarop dat die Jode Hom as hulle Messias verwerp het. Daarom sal die koninkryk van hulle weggeneem en aan ’n ander volk gegee word wat vrug sal dra. Hierdie nuwe volk is nóg Israel, nóg die heidense volke, maar ’n nuwe formasie, die kerk (“Israel van God” genoem) wat nie deur etniese oorsprong gekenmerk word nie, maar deur geloof in Christus.

 

Wat van God se beloftes aan Israel?

Hy vervul dit in die kerk. Jode wat tot geloof in Christus kom, is die kern van die Nuwe Testamentiese kerk. Dit is immers die Joodse apostels wat saam met die profete die fondament van die kerk gelê het. Die kerk is dus meer as ou Israel. Nie-Jode is nou medeburgers van die heiliges en huisgenote van God (Efés. 2:19). Die Israel van God is dus diegene na wie Paulus in Galásiërs 3:29 verwys: En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

Etnisiteit – Bybels of duiwels?

In sy boek Black and Reformed skryf dr. Alan Boesak dat demokraties-denkende mense enige vorm van etnisiteit (volksbewussyn) behoort te verwerp as strydig met die Bybel. Volgens hom is dit veral die groot liefdesgebod van Matthéüs 22 en die opdrag in Johannes 13:34-35 wat onder skoot kom.

In aggressiewe trant gaan hy voort en beweer dat mense vandag al meer besef dat etnisiteit nie probleme oplos nie, maar eerder veroorsaak. Etnisiteit aksentueer verskille en kweek etniese nasionalisme; iets wat volgens dr. Boesak eerder met wortel en tak uitgeroei moet word. Hy sluit af en sê dat etnisiteit onlosmaaklik aan rassisme verbind is en derhalwe as duiwels verwerp en bestry moet word.

 

Drie basiese opsies

Die behoudende gelowige kom vandag toenemend onder liberale skoot as gevolg van sy weiering om in te val by ’n verdraaide evangelie met ’n vreemde verlossingsboodskap en gepaardgaande verlosser. Maar hoe moet hy oordeel oor etnisiteit? Wat leer die Bybel? Daar is drie basiese opsies in die verband.

Ten eerste is daar diegene wat alle onderskeid as uit die bose beskou, of dit nou apartheid, skeiding, ongelykheid of watter vorm van onderskeiding ook al is. Volgens hulle is alle etniese onderskeid sonde en die voorstanders daarvan verdoemenswaardig. Maar wat dan van Génesis 11? Hulle sien die skeiding by Babel as ’n straf van God wat net vir daardie spesifieke geval bedoel was. Daaruit mag geen beginsel afgelei word nie. Die mens behoort eerder te streef na ’n holistiese wêreldeenheid2 waarin daar geen sprake van skeiding is nie. Die voorstanders van hierdie opsie maak veral baie van Pinksterdag. Omdat Christus sonde en dood oorwin het, het Hy volgens hulle ook die geskeie mens deur die wonder van Pinkster kom verlos van etnisiteit, klasbewustheid en ander skeidings.

Tweedens is daar weer diegene wat glo dat eenheid sonde is. Hulle gaan van die standpunt uit dat God spesifieke etniese onderskeid daargestel het en gevolglik is skeiding en verdeling die Godgewilde weg vir die mensdom. Alle onderskeibare mense en groepe moet so ver moontlik uitmekaar gehou word.

Derdens is daar diegene wat glo dat die beginsels van eenheid en verskeidenheid, soos by die drie-enige God, nie teen mekaar afgespeel mag word nie omdat die mens na die beeld van die drie-enige God geskape is. Net soos eenheid en onderskeiding in ewige harmonie in God bestaan, so bestaan die mens, gered of ongered, ook in ’n staat van ware-onderskeiding-in-ware-eenheid. Die gevalle mens word nie tydens sy bekering van sy godgegewe onderskeidinge onthef nie. Hy word gered met al sy etniese en ander groepsonderskeidinge nog staande. Tog vind die mense ware eenheid onder mekaar in hulle geloof in die een Here sonder dat etniese en ander groepsonderskeidinge eers opgehef moet word om vir God aanvaarbaar te wees. Anders as wat die bevrydingsteoloë leer, bestaan sonde nie in die beginsel van onderskeid of etnisiteit nie, maar in die opstand teen God (vgl. 1 Joh. 3:4). Dit is gevolglik nie moeilik om in te sien dat die laaste opsie die Bybelse maatstaf vir die vraag na die wenslikheid van etnisiteit is.

 

Etnisiteit in die humanisties-sekulêre wêreld

Diegene wat die Bybelse beginsel van etniese selfbeskikking verwerp en ’n eenheidstaat vir Suid-Afrika voorstaan, stap baie duidelik af van die Bybelse teologie. In plaas daarvan dat hulle suiwer na die Woord van God luister, kom hulle met ’n totaal ander godsdiens na vore wat sy uitgangspunt vind in die stelreëls van die Humanisme: ’n afgodiese, Drie-eenheid-ontkennende burgergodsdiens. Die verenigde mensheid word tot voorwerp van aanbidding verhef en word die verlosser, wetgewer en finale regter van die individuele mens. Met hierdie siening word ’n streep getrek deur Jesaja 33:22: Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hy sal ons verlos. Die Humanistiese Manifes (1973) stel dit reguit: “Ons betreur die skeiding van die mensdom op nasionalistiese gronde. Die wêreld moet bo die grense van nasionale oppergesag uitstyg en in die rigting beweeg waar ’n wêreldgemeenskap tot stand gebring kan word (beginsel 12). Ons betreur die skeidings wat groepe teen mekaar opmaak en stel vir ons ’n geïntegreerde gemeenskap ten doel met maksimum geleentheid vir vrye en vrywillige assosiasie (beginsel 11).” En in die slotbeginsel sê die manifes: “Ons dring aan op die erkenning van die algemene menslikheid van alle mense en maak dit ons hoogste prioriteit. Elke persoon moet net een versugting hê en dit is om ’n burger te word van die wêreldgemeenskap” (vry vertaal uit Engels).

 

Etnisiteit en rassediskriminasie

Die Bybel leer dat alle mense afstammelinge van Adam en Eva is. Almal is geskape na die beeld van God en besit gevolglik dieselfde waardigheid. Alle mense het ook deel aan die sondeval (1 Joh. 1:8) en almal word uitgenooi om deel te hê aan die herstel in Christus (Mt. 11:28). Tog vertoon die mensdom nie ’n eenheid nie, maar eerder ’n ryke verskeidenheid van volke en nasies – ’n definitiewe onderskeid wat tot en met die wederkoms van Christus sal bly bestaan (vgl. Openb. 5:9; 7:9; 21:24). ’n Volk is ’n magdom van families wat ondertrou het. Hulle woon in dieselfde geografiese gebied, praat dieselfde taal, handhaaf dieselfde beskawingswette, deel in dieselfde kultuur en word heg verbind deur hulle geloof in dieselfde God. Die basis van etnisiteit is gevolglik nie velkleur soos wat die eenheidsdrywers as verwerplik wil voorgee nie, maar die taal, kultuur, beskawing en geloof wat hulle met mekaar deel. Om in ’n land gebore te wees, impliseer nie outomaties burgerskap van daardie land nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die Israeliete wat vir ongeveer 400 jaar in Egipte was en steeds nie as Egiptenare beskou is nie. Daar in die vreemde het hulle hul eie identiteit bly behou en word nooit anders as “die kinders van Israel” aangespreek nie. Toe Israel op pad na die beloofde land was, was daar ook nie-Israeliete onder hulle wat aangespreek is as “vreemdelinge”. Alhoewel hierdie nie-Israeliete selfs die godsdiens van Israel aangeneem het (Lev. 17:8-15), het hulle nog steeds ’n aparte, identifiseerbare groep gebly. Israel het altyd ’n afstand tussen hulle en die vreemdelinge bly behou. Nêrens in die Bybel veroordeel God hierdie “apartheid” nie. Volle burgerskap was gewoonlik slegs toegestaan wanneer daar ten minste drie geslagte van immigrant-inwoners was. Dit het natuurlik ook volle deelname aan die godsdiens, taal en kultuur geïmpliseer.

 

God en die volke

Die Bybel stel dit duidelik dat God al die nasies gemaak het (Ps. 86:9). Hy is nie net die Skepper van al die nasies nie, maar ook God, Redder, Heerser, Gids en Regter van die nasies. God het dus daarmee ook etnies-taalkundige verskeidenheid geskep en verlustig Hom daarin. Elke stam, volk en nasie se tyd en verblyfplek is deur God vasgestel (Hand. 17:27). God handel dus nie net met die enkeling nie, maar met hele volke. God seën en verdoem volke en stamme wat van Hom afvallig raak (Jer. 18:7-10). God roep volke as geheel op om Hom as Koning van alle konings te dien (Ps. 96:2-5). Die moderne neiging is dat volke doelbewus van hul groepsidentiteit gestroop moet word. Daarvoor word veral kansels en teologiese opleidingsentrums deur oortuigde liberaliste gruwelik misbruik om hierdie ideaal by mense en kerkleiers tuis te bring. Mense word toenemend vanaf kansels bestook met ’n valse evangelie en aangemoedig om op te gaan in ’n sekulêre menslike eenheid. Gelukkig vind dit nie oral byval nie. Ironies genoeg is daar vandag in die VSA ’n duidelik groeiende afkeur in integrasionisme en daarmee gepaardgaande ’n verblydende terugkeer na ware etnisiteit en pluraliteit. Daar is basies drie groot teologiese gedagteskole in die VSA wat, soos die Afrikaanse Protestantse Kerk in Suid-Afrika, etnisiteit en pluraliteit voorstaan. Hierdie skole is: die Christian Reconstructionists van RJ Rushdooney, G North en ander; Church Growth Missiology van D McGavran, CP Wagner en ander; en die Theology of Pluralism van A Greenley, M Novak en ander. Hierdie geleerdes erken openlik dat slegs die suiwere eksegese van gedeeltes soos Génesis 1:26 e.v. en Génesis 10-11 hulle tot hierdie siening gebring het. Die eenheidsteoloeë vermy gewoonlik genoemde Skrifgedeeltes omdat dit lynreg indruis teen hulle dwaalleringe en politieke sieninge. Hulle maak die eienaardigste eksegetiese spronge wanneer met hierdie waarhede gekonfronteer word.

 

Is etnisiteit kettery?

Wanneer daarop gewys word dat God die mensdom by Babel met ’n spraakverwarring uiteengedryf en etnisiteit daargestel het, beskou eenheidsteoloë dit slegs as ’n straf op die mensdom vir daardie tyd met geen waarskuwingsboodskap aan die mens vir die toekoms nie. Selfs al sou dit ’n mate van waarskuwing inhou, breek die “Eeu van die Gees” volgens hulle met Pinkster aan wat die straf van Babel onmiddellik ongedaan maak. Mense begin ná Pinkster weer in die Gees na mekaar toe beweeg in plaas van weg van mekaar soos by Babel. Wat ’n gruwelike verdraaiing van Bybelwaarhede vind ’n mens nie wanneer holisme in hierdie konteks ingelees word nie! Behoudende teoloë het geen probleem daarmee om Pinkster as die begin van die vervulling van die “laaste dae” van die Ou Testamentiese profesie te sien nie. Die belofte dat in Abraham se saad al die geslagte van die aarde geseën [sal] word (Gén. 12:3), word onder meer ook met die uitstorting van die Heilige Gees bewaarheid. Indien Pinkster as die opskorting van Babel beskou word, moes die mense, streng gesproke, ná Pinksterdag weer almal een taal gepraat het, iets wat die Bybel nie leer nie. Die teendeel is eerder waar. Elkeen getuig oor die “groot dade van God” in sy eie taal. Etniese onderskeid word steeds gehandhaaf. Om Pinkster as die verbreker van etniese onderskeiding asook nasionale selfbeslissing te wil sien, getuig geensins van ’n besondere teologiese insig nie, maar eerder van ’n verdraaide wil. Etnies-taalkundige onderskeiding was alreeds inbegrepe in die opdrag van die Here aan Adam en Eva sowel as Noag. Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop (Gén. 9:7). Geografiese of sosiale isolasie bring altyd etniese, taalkundige en kulturele onderskeid en daarmee is niks verkeerd nie. Die Babelgebeure verwys na ’n sodanige mensdom wat hierdie opdrag van God willens en wetens wou dwarsboom. In hulle opstand wou hulle in selfverheffing ’n eenheidstaat skep om doelbewustelik verspreiding oor die aarde teen te werk. God se reaksie op hierdie trots-vervulde opstand was om die mensdom te dwing om kultureel en taalkundig te versprei. Die straf op die vergrype van Babel was nie etniese verspreiding in die eerste plek nie, maar die afskaling van die mens se trots asook die verwoesting van sy eenheidstaat.

 

Die Goddelike seën van etnisiteit

Dit is interessant om daarop te let dat Moses baie geïnteresseerd was in die “verspreidingstema” van die tyd ná die sondvloed (vgl. Gén. 9:9-18; 10:18; 32). Hy dui aan dat etniese onderskeiding die direkte resultaat van Goddelike seën is en heenlei tot die roeping van Abraham in wie se saad al die volke geseën sou word. Baie duidelik sal die mense nie geseën kan word indien hulle hul etniese onderskeiding vaarwel roep nie. Etniese onderskeiding is nie duiwels nie, maar Bybels verantwoordbaar. Die seën van Abraham kom deurdat mense, alhoewel onderskeie, hul eenheid vind in die verlossende doel van God wat in die verskeidenheid van sy skepping Hom verheug. Dus is die Babelverhaal, wanneer dit in konteks gelees word, geen basis vir ’n negatiewe opvatting oor pluralisme as sou dit God se straf wees nie. Die verstrooiing was nie ’n straf nie maar eerder, soos Calvyn dit ook in sy kommentaar op Génesis sien, ’n seën en genade van God. God maak ook in sy Woord die motief bekend vir die vernietiging van die mens se bose werke. En die Here sê … nou sal niks meer vir hulle onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie (Gén. 11:6). God as die Skepper en kenner van die mens se hart, het geweet dat die mens ten spyte van sy boosheid nogtans baie slim is. Die Heidelbergse Kategismus stel dit dan ook treffend dat die mens in sy wese van nature in opstand teen God is. Daarom sal boosheid oral volg waar die mens, en nie God nie, die septer swaai. Sonder etniese onderskeiding in die mensdom sou God die hele mensdom moes vernietig indien hulle gestraf moes word. God het egter in sy groot liefde die ganse mensdom verdeel in verskillende etnies-taalkundige groepe sodat hulle individueel geseën of gestraf kon word. Let ook op dat wanneer die profete na die laaste dae verwys, hulle nie ’n groot geheel van mense sien wat van hul etniese verskeidenheid gestroop is nie. Diegene wat die nuwe Jerusalem ingaan, gaan dit in as volke, nasies, stamme en tale (Jes. 2; 61-66; Openb. 20-21). 

Kinderloosheid in die Bybel en wat ons daaruit kan leer

Die saak van kinderloosheid is ’n sensitiewe en hoogs emosionele saak. Egpare wat kinderloos is, ervaar baie pyn wat ander mense nie altyd verstaan of genoeg begrip voor toon nie. Die verlange na ’n eie kindjie is altyd daar. Spreuke 30:15-16 sê nie verniet dat die toegesluite moederskoot nooit “Genoeg!” sê nie.

Met betrekking tot hierdie saak moet gelowiges ook hul toevlug tot die Here neem met die vraag: Wat leer die Bybel ons hieroor?

 

Bedeling vóór die sondeval

Wat die onderwerp van gesinsvorming betref, moet ons ons vertrekpunt in die tydperk vóór die sondeval neem. Die Bybel leer ons in Génesis 1 dat God alles goed geskape het, ook die mens as sy beelddraer. Nadat Hy sy skeppingswerk afgehandel het, het Hy verklaar dat dit baie goed is. Dit beteken die skeppingswerk was volmaak, daar was geen gebrek nie. Alles in God se goeie skepping was in volkome harmonie met mekaar.

God het met die skepping van die mens ’n duidelike doel gehad, naamlik om oor sy skepping te heers en dit te bewerk en te bewaak. Hierdie opdrag sluit alle menslike aktiwiteite in. Die mens moes dit wat God in die skepping ingeskape het, deur sy arbeid en op verantwoordelike wyse tot eer van God en tot voordeel van die ganse mensdom ontgin en ontwikkel. Op dié wyse moes die mens God se heerlikheid en heerskappy in die wêreld sigbaar maak.

Hierdie grootse taak sou die eerste mensepaar nie alleen kon verrig nie. Om dus uitvoering aan hierdie doelwit te gee, ontvang die mens die vermoë en opdrag om te vermeerder (Gén. 1:28). Die voortplantingsvermoë is ’n seën. Daarom is kinders in Israel as ’n besondere seën van die Here beskou (vgl. Deut. 7:14; Ps. 127:3-5; 128:3-4). Maar dit is ook as ’n heilige plig beskou. Dit was ’n taak waarvoor God die mens aanspreeklik sou hou. So word gesinsvorming dan ’n gawe én roeping.

Hierdie roeping tot ouerskap sny selfsug in die vorming van die gesin by die wortel af. Hierdie selfsug kan tot uiting kom in die keuse van egpare om geen kinders te hê nie. So ’n besluit, anders as in die geval van geregverdigde redes soos genetiese afwyking, kan die gevolg wees van verskeie faktore, soos byvoorbeeld die selfsugtige najaag van genot en gemak, vrees vir die toekoms of die klem op materiële voorspoed. Watter selfsugtige motivering die mens ook al vir so ’n besluit mag hê, die Bybelse boodskap is duidelik: Die verbondsmens het nie ’n keuse of hy kinders wil hê of nie. Slegs God het daardie keuse – net Hy kan ’n egpaar tot kinderloosheid roep.

 

Bedeling ná die sondeval

Die sondeval het verwoestende gevolge vir die mens en die skepping gehad. Die harmonie is versteur. Dood, in al sy vorms, het in die mens se lewe gekom. Dit het ook sy effek op die mens se voortplantingsvermoë gehad. Daarom kan ons weet dat kinderloosheid een van die tragiese gevolge van die sondeval is. Wat meer is, die Bybel noem onvrugbaarheid een van die strawwe wat die Here oor sondige en ongehoorsame mense kan bring. In Génesis 20:18 straf die Here Abiméleg se huis met kinderloosheid, omdat hy Abraham se vrou Sara by sy harem gevoeg het. 2 Samuel 6:23 toon aan dat Migal kinderloos gebly het omdat sy haar man, koning Dawid, verag het terwyl hy voor die ark van die Here gehuppel en gedans het. In Hoséa 9:14 vra die profeet die Here om Israel, wat op die afgod Baäl vertrou het vir vrugbaarheid, met ’n kinderlose moederskoot te straf.

Nie elke geval van kinderloosheid is egter ’n straf van die Here nie. Ons moet daarteen waak om sommer ’n direkte lyn te trek tussen ’n kinderlose egpaar en hulle persoonlike sonde. Anders gestel, kinderloosheid is nie (noodwendig) ’n straf vir die sondes van ’n kinderlose egpaar nie. In hierdie verband is dit veelseggend dat ’n vrou nêrens in die Bybel vir haar onvrugbaarheid veroordeel word nie. Met die ontwikkeling van die mediese wetenskap weet ons vandag dat die man ook die oorsaak vir kinderloosheid kan wees. In sommige gevalle in die Bybel kon manlike infertiliteit dus ook die oorsaak van die kinderloosheid gewees het (vgl. Deut. 7:14).

 

Bybelse voorbeelde van kinderloosheid

In die Bybel is daar bekende gevalle van kinderloosheid. Sara, Abraham se vrou, was aanvanklik kinderloos en moes baie jare wag op die vervulling van God se belofte aangaande ’n eie kind (Gén. 11:30). Isak, die seun wat uiteindelik vir Abraham en Sara gebore is, se vrou Rebekka was ook lank kinderloos (Gén. 25:21). Ragel, een van Jakob se twee vrouens, het met kinderloosheid geworstel (Gén. 29:31). Manóag se vrou (Rigt. 13:2) en Élkana se vrou, Hanna (1 Sam. 1:5), word ook as kinderloos beskryf. In die Nuwe Testament is dit Sagaría se vrou, Elizabeth, wat kinderloos was (Lk. 1:7, 36). Die Bybelse beskrywing van elk van bogenoemde vrouens se omstandighede en reaksie op hulle onvrugbaarheid, is insiggewend en gee waardevolle geloofslesse vir egpare wat met hulle kinderloosheid worstel. Die feit dat die Here bogenoemde vroue se lot verander en uiteindelik aan hulle kinders gegee het, verander nie aan die waarde van die lesse nie.

 

Onderwerping aan God se plan

Sara het ná vele jare se vrugtelose wag op die vervulling van God se belofte, sélf probeer om die belofte waar te maak. Sy het Abraham versoek om ’n kind by haar slavin, Hagar, vir haar te verwek (Gén. 16:1-3), wat op ’n soort surrogaatmoederskap neergekom het. Uit die spanning wat dié plan meegebring het, soos in die vervolg van die verhaal aangedui word, is dit duidelik dat haar optrede nie God se goedkeuring weggedra het nie. Sara moes leer om haar by God se plan vir haar lewe neer te lê.

 

Die rol van gebed

In die geval van Rebekka val dit ons op hoe Isak sy vrou bygestaan en ondersteun het. Hy het die beste ding gedoen wat ’n man kán doen: Hy het met die Here oor sy vrou se situasie gepraat (Gén. 25:21). Sy gebed is verhoor en sy vrou het swanger geword. Ook in Hanna se geval het gebed ’n belangrike rol gespeel (1 Sam. 1:10). Hanna het selfs verder gegaan en ’n gelofte gedoen. As die Here haar gebed verhoor, het sy beloof om die kind vir diens aan die Here af te staan (1 Sam. 1:11). Dit is die voorreg van gelowiges dat hulle met die Here oor hulle diepste gevoelens en grootste wense kan praat. Elke gebed moet uiteindelik gedra word deur die gesindheid van onderworpenheid aan die wil van die Here.

 

Pasop vir afgodery!

In Ragel se geval het ons met ’n bittere protes teen die Goddelike wil te doen. Haar verwyt teenoor Jakob dui daarop dat haar begeerte na eie kinders haar tot op die afgrond van afgodery gedryf het: Gee vir my kinders of anders sterf ek (Gén. 30:1). Haar man moes haar daarop wys dat dit net God is wat die moederskoot oop- of toesluit. Ragel het egter steeds nie die Goddelike wil aanvaar nie en het, soos Jakob se ouma Sara, ’n nageslag deur haar slavin probeer bou. Dit was die begin van ’n bittere vrugbaarheidsoorlog tussen die twee susters. Om kinders te hê, is belangrik, maar mag nooit bo ’n persoonlike verhouding met die Here en ’n gelowige aanvaarding van sy Goddelike beskikking gestel word nie. ’n Mens kan van kinders ook ’n afgod maak.

 

Die belangrikheid van die huweliksverhouding

Die geskiedenis van Élkana en Hanna leer ons dat die verhouding tussen man en vrou ’n prioriteit moet wees in ’n kinderlose situasie. Élkana het aan Hanna ’n dubbele deel van die offervleis gegee, want hy het Hanna liefgehad ten spyte van die feit dat sy nie vir hom kinders gegee het nie (1 Sam. 1:5). Sy vraag aan haar in reaksie op haar hartseer oor haar kinderloosheid en die treitering van Peninna, bevestig hoe belangrik die huweliksverhouding vir ’n kinderlose egpaar moet wees: Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie? (1 Sam. 1:8).

 

God het ’n plan, ook met jou kinderloosheid

Die één boodskap wat soos ’n goue draad deur al die verhale loop, is dat God ’n plan met elke kinderlose egpaar gehad het en ’n besondere pad met elkeen geloop het om sý doel met hulle te bereik. Hoewel Hy in elkeen van die gevalle ’n kind of kinders gegee het, neem dit nie die feit weg dat hulle aanvanklike kinderloosheid ’n integrale deel van hulle verhale uitgemaak en in die groot skema van God se verlossingsplan ’n belangrike rol gespeel het nie. Vertrou Hom!

Geroep tot kinderloosheid

Alta1* kan haar nie so ver kry om in die stootwaentjie in te kyk nie. Daarbinne lê ’n wonderwerk van hierdie skepping, maar iets wat háár nie beskore is nie. Sy is kinderloos. Sy wens hierdie doopdag wil verbygaan, want elke lag wat tussen die familie uitkreet, is ’n herinnering aan iets wat haar nie beskore is nie. Vandag worstel Alta weer. Sy is jaloers. Sy is hartseer. Sy wil saam bly wees, maar haar trane stoot uit en die jare se liters word voller. Sy stap badkamer toe. Kry haar skaflik. Stap uit en poseer saam vir die familiefoto’s.

Elders sit Rian* alleen buite in die tuin. Hy kan nie meer so aangaan nie. “Ek was aanvanklik ondersteunend teenoor my vrou se kinderloosheid; ek het immers saam met haar hierdie nuus gekry, ervaar en beleef. Maar dit kan nie meer nie. Sy is obsessief. Dit is asof ék nie meer bestaan nie. Alles gaan vir haar oor dit wat sy nie het nie.” Die volgende môre doen Rian ’n internetsoektog vir prokureursfirmas naby hom.

Maritha* se laaste ginekoloogafspraak kon maar net sowel haar doodstraf gewees het. Die dokter was simpatiek, maar hoe simpatiek kan jy wees as hy aanbeveel dat ek so gou as moontlik ’n histerektomie moet kry? Maritha kan nie kinders kry nie. Nié omdat sy nie wil nie, maar omdat, glo sy, God besluit het om haar baarmoeder uit te ruk. “Die mediese wonder van narkose en die kilheid van ’n vlymskerp skalpel het my laat twyfel aan ’n genadige God.” Hierdie is die verhale van smart en pyn in die harte van egpare; verhale wat nie sommer maar net eenvoudig verstaan kan word nie. Wie sal die smart kan indink van ouers wat beskore was om ’n eersteling te kon hê, maar nadat hy dood (stil) gebore is, nooit weer kon kinders kry nie?

 

Die rimpeleffek

Kinderloosheid is nie net ’n enkelvoudige traumatiese gebeurtenis nie, maar gee dikwels aanleiding tot ’n rimpeleffek van uitkringende pyn en seer. Hierdie seer word soms ’n sweer wat kan uitbars in depressie, sosiale onttrekking, egskeiding of ernstige geloofskrisisse. Hierdie rimpeleffek staan egter nie bó of buite die begrip van God nie, want die Skrif beskryf juis hierdie uitmergelende pyn: Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! — die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie! (Spr. 30:15-16). Iets van die smart word ook in Génesis 30:1 verwoord as Ragel haar geliefde Jakob toeroep: Gee vir my kinders of anders sterf ek.

 

Wees vrugbaar en vermeerder?

Midde-in die worsteling van soveel vroue (en mans), word dikwels ook die boodskap verkondig dat dit die wil van die Here is dat die mens vrugbaar moet wees en vermeerder. Inderdaad is dit die wil van God, maar is dit die enigste wil van God? God is ’n “God van oneindige verrassings”, skryf Karen Swallow Prior in ’n artikel2, en toon daarmee aan dat ons roeping op aarde wél anders kan wees as die “wees vrugbaar en vermeerder”-narratief.

Bloot om die bekende teks van die apostel in 1 Korinthiërs 7 te hoor, sê vir ons dat ons binne bepaalde tye of kontekste tot iets buite die “normale” geroep kan word: En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag (7:32, 33). Later skryf Paulus in dieselfde hoofstuk: Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.

Die kerk as vertrooster, en die kinderlose as lyer, word in die hantering en belewing van kinderloosheid ook opgeroep tot ’n opregte soeke na God se wil en om versigtig te wees om dit bloot as ’n simplistiese ja of nee voor te stel.

 

’n Valse aanname: Vrouwees is eers vervul in moederskap

In die soeke na God se wil, is dit ook baie belangrik om verskeie vooropgestelde idees te ondersoek en aan God se Woord te toets. Een van hierdie idees is natuurlik die gedagte dat vrouwees eers werklik tot volheid kom wanneer ’n vrou ’n kind van haar eie kan hê. Uit die aard van die saak is daar iets natuurlik in hierdie siening. Sandra* se belewenis verwoord iets van hierdie verwagting. Sy was ’n suksesvolle rekenmeester en wou nooit kinders hê nie, want sy het nie ruimte vir hulle in haar beroep gesien nie. Ná ’n roetine-ondersoek by die ginekoloog het sy heelnag gehuil. Daar was ’n moontlikheid dat sy nie kon kinders kry nie. Om hierdie aanname uit te daag, sou ons moet antwoord op die vraag: Is ons hoogste roeping op aarde werklik om kinders te kry? Inderdaad nie. Ons is immers in die eerste plek geroep tot redding in Jesus Christus, waaruit dan die roeping tot gehoorsaamheid aan die wil van God vloei. As bevestiging van hierdie waarheid kan ons iets leer uit die ontmande se belewenis op die pad tussen Jerusalem en Gasa (Hand. 8). Sy geloof in Jesus Christus en sy doop was sy grootste opwinding en hy het sy reis met blydskap voortgesit (v. 39). En tog het hy die ontmande gebly …

 

En dan?

Die opskrif van hierdie artikel is Geroep tot kinderloosheid en hiermee wil ons die “hantering” van kinderloosheid plaas in die bane van Goddelike roeping. Ons wil egter onmiddellik byvoeg dat ons nie ’n towerstaffie-oplossing veronderstel nie. Wie al met hierdie snoeiskêr van God gesnoei is (Joh. 15:2), weet dat dit intens-pynlik kan wees. Mag God egter elke kinderlose seën tot vrugdraende loot van die koninkryk van God. Wie egter die roeping van God wil hoor, het nooit klaar gehoor nie, maar is steeds die horende; wie die wil van God soek, het nooit klaar gesoek nie, maar bly die altyd-soekende. Dit is in die luister en soek wat elke kinderlose moeder of vader eindelik ook die troos en hoop kan vind.

 

Troos en hoop

Daar is groot troos in die wete dat God ’n plan het met elkeen van ons. Hoe vertroostend is dit nie om te weet dat selfs die kinderlose in God se plan ingesluit is nie? Hierdie waarheid word heerlik ontsluit in Efésiërs 1:11- 12 (Direkte Vertaling): In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, sodat ons wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan leef tot lof van sy heerlikheid! Soveel troos! God het ons van die begin af in Christus as sy eie gekies. Ons hoor die eggo’s van die Heidelbergse Kategismus … my enigste troos, dat ek met liggaam en siel, in lewe en sterwe, nie aan myself behoort nie … (v/a 1). Verder troos Efésiërs ons in die wete dat my lewe in die veilige kamp van God se raad en wil afspeel. My hele lewe is getroetel in die vertroosting dat God my lewe veilig in sy hande het, ook my kinderloosheid. Daarom kan ook die kinderlose met hoop leef – ’n hoop gevestig op Christus – sodat ons kan leef tot lof van sy heerlikheid! God se belofte is dít: Iewers sal ook hierdie kinderloosheid diensbaar wees in God se plan en lof bring tot die heerlikheid van Christus. Dit is wat Carla* bely het nadat haar suster skielik in ’n motorongeluk oorlede is. Sy moes voluit inspring om twee laerskoolkinders te help versorg, skool toe neem en sorg dat die buitemuurse aktiwiteite normaal aangaan. Iewers langs die pad kon sy bely: Vandag verstaan ek hoekom die Here nie vir my my eie kinders gegee het nie.

 

’n Praktiese oordenking

Omdat antwoorde en berusting nie eensklaps en klaar verpak uit die hemel val nie, is dit goed om ook te groei in die “rol” wat God vir my as kinderlose gegee het. ’n Goeie vraag om te vra, sou wees: Waar kan ek diensbaar wees (bv. in die kerk, skool, gemeenskap) wat nie moontlik sou wees as ek kinders gehad het nie? Uiteindelik sal die antwoord wees wat elke gelowige moet antwoord: Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hand. 9:6).

1 Fiktiewe karakters. 2 Called to childnessness: The surprising ways of God.

Spore van vreugde en pyn! Kinderloosheid ná die dood van 'n kind

“Dominee, hoeveel kinders het jy?” Die woorde sny deur my hart. Wat antwoord ek? Twee of vier. Ek dink voor ek antwoord en sê dan: “Vier, maar twee is reeds in die hemel.” 

Skielik verstaan ek hoe mense moet voel as hulle onnadenkend gevra word: “Nou wanneer is die pienkvoet daar?” Ek is self soms hieraan skuldig. Ek ken die stryd en die begeerte om ’n kind te hê. Besoeke aan die fertiliteitskliniek, bloedtoetse, ensovoorts. Ook die geloof- en gebedstryd wat daarmee saamgaan.

 Rick Warren skryf dat “pyn en vreugde saamloop deur die lewe – soos die twee stawe van ’n treinspoor”. Hierdie aanhaling is van toepassing op elke ouerpaar wat kinderloos is ná die dood van ’n kind. In die oomblikke van pyn is daar klein vreugdes. In die grootste vreugdes, is daar altyd ’n onderlagie pyn.

In die storie van my lewe is daar twee stasies van pyn wat my uitkyk op die lewe en my verhouding met God heeltemal verander het.

Ek en Marthie is in 1988 getroud en ná meer as twee jaar se probeer en ’n brief van die fertiliteitskliniek kon ons vir aanneming aansoek doen. Ná drie maande het ons gehoor dat daar ’n baba op pad is. Twee weke later hou ons die tweeling, Kobus en Karlien, in ons arms vas. Dit is die wonderlikste gevoel wat daar in die lewe bestaan. Onbeskryflik. Jy droom drome en bou lugkastele. Jy beloof God dat die twee kinders koninkrykskinders gaan wees.

Ná ’n maand kry ons nog nuus: Marthie is swanger. Werner word gebore. Nog vreugde en skielik is ons vyf in die gesin.

Twee datums op ons lewensreis veroorsaak ongeneeslike pyn in ons lewens. Op 15 Augustus 1988 brand die pastorie op Barkly-Wes af. Werner sterf in die brand. Ewe skielik gryp Totius se Pyn-gedagte ons harte wreed en krampagtig vas: O Die pyn-gedagte: My kind is dood! … dit brand soos ’n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan die skadu’s word lank en weer kort; die drywerstem van my werk weerklink, en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart, só, dat my lewe se glans verdwyn: Jou kind is dood met ’n vreeslike dood! en – ek gryp my bors van die pyn.

Op my reis het ’n sielkundige vir my gesê: “Op die reis sal jy vir God ontdek en in jou verhouding met Hom groei.”

Die volgende datum is 5 Julie 2015. My blondekop meisiekind, derdejaar-onderwysstudent in Potchefstroom met provinsiale kleure in swem en tweekamp, skiet haarself buite op ’n plaas in die Lichtenburg-distrik.

Tussen die twee datums is daar weer vreugde wanneer Marthie in 2007 swanger word en geboorte skenk aan Hanno. Wat baie mense nie besef nie, is dat elke kind uniek is en dat geen kind deur ’n ander vervang kan word nie. Daarom sal Hanno nooit Werner se plaasvervanger wees nie. In ons lewe sal daar altyd twee leë stoele aan tafel wees.

Gedurende hierdie wipplank-reis van vreugde en pyn, het ek met ’n klomp vrae oor God, myself en my verhouding met God geworstel. JULIE/AUGUSTUS 2019 11

 

Het ek gesondig of iets verkeerd gedoen?

In dié tyd was die “Maak my huis skoon”-DVD’s in omloop en ek het dit bestudeer en selfs Rebekka Brown se boeke gelees. Ek het besef dat daar wel ’n geesteswêreld bestaan soos in Efésiërs 6 beskryf word en dat ’n mens wel deur jou betrokkenheid deure kan oopmaak. Die gevaar is dat jy die goed uit verband ruk en die duiwel agter elke bos soek.

 

Almag en liefde van God

Mense sê vir my dat dit die duiwel was wat kom steel en verwoes het. Ek skop daarteen vas, want ek dien ’n almagtige God en as dit die duiwel was, dan is hy magtiger as God. Ek vra: “God, as U die mag het om die waters van die see te begrens, waarom het U nie my kind uit die brandende huis gered nie?”

Ten spyte van al die selfondersoek en huis-skoonmaak, het ek bly vasgryp aan die dorings. Elke keer wat ek gehoor het dat ’n paartjie swanger is, of wanneer ek ’n kind moes doop, was ek kwaad. Ek het geweet ek is selfsugtig, want ek het steeds twee kinders gehad. Tog was daar ’n onverklaarbare drang om dit wat ek verloor het, terug te hê. Ek kon nie vrede maak met die Godsbesluit nie.

Bo al u donker bome, o Heer, groei my ’n enk’le reusboom uit dit is die wag-’n-bietjie-bos van u besluit. Van ver so skoon, so groen, so blink … maar hoe verward wanneer ek dieper kyk en dink as wat ’n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas. (Uit Die Godsbesluit van Totius)

Wyle dr. Kobus Bezuidenhout het ’n gemeentekamp kom aanbied met die tema: “Lag oor die dag wat kom.” Hy praat oor die soewereiniteit van God en die feit dat God vrymagtig is (Hy kan doen wat Hy wil).

Wee hom wat met sy Formeerder twis – ’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie! (Jes. 45:9).

Maande daarna besef ek ek is maar klei in God se hande. Ek het soveel keer gesing: “Doen slegs u wil Heer, u wil met my” en “Vorm my en maak my tot u eer”. Ek het nie die reg om met God te baklei nie. Ek moet dankbaar wees, want daar is so baie mense wat nooit kinders gehad het nie. Ek het Werner vir 18 maande gehad.

Ek verstaan skielik hoe lief God my het. As dit vir my so moeilik is om Werner aan die dood af te staan, hoe moeilik moes dit nie vir Hom gewees het om sy Seun na die wêreld te stuur om vir my sonde te sterf nie? Ek buig voor die lewende God en sê: Here gebruik my vreugde en pyn tot u eer!

Wat die selfmoord betref – worstel ek met God se wil en die keuses van die mens

Ek glo absoluut in die soewereiniteit van God. Hy bepaal jou geboortedag en sterfdag. Ek glo egter dat Karlien ’n verkeerde keuse gemaak het. God het dit in sy raadsplan toegelaat. Ek glo ook dat God haar vergewe het vir haar verkeerde keuse net soos wat hy my vergewe vir al my verkeerde keuses in die lewe.

Daar is baie dinge wat ek anders kon doen en waaroor ek myself verwyt het. ’n Aangenome kind dra dikwels die saad van verwerping en daarvoor moet professionele hulp gekry word.

Niks kan die verlies omkeer nie. Ek moes myself vergewe. Ek moes haar vergewe. Ek moes almal vergewe het wat ek as sondebokke kon identifiseer. In die reis van vreugde en pyn het ek Romeine 8 ontdek en ek weet dat ek seker kan wees dat niks vir Werner en Karlien – nie eers die brand of die dood – van die liefde van God kon skei nie. Verder weet ek dat God, vir ons vier wat oorgebly het, alles ten goede sal laat meewerk.

 

Slaggate op die pad:

  1. Moenie jou emosies en gevoelens onderdruk nie. Die Here Jesus het self gehuil. Wees eerlik, ook oor die feit dat julle nie kinders kan hê nie. As jy wil help – blaai saam deur foto-albums en lok gesprek oor die verlies uit.
  2. Moenie jou verlies probeer vervang nie. Die gevaar is dat jy skielik baie harder werk. Jy kan dalk in die slaggat trap om jou pyn te probeer weg drink, weg eet of weg koop. Dit bied geen oplossing vir die seer nie.
  3. Huil saam met jou gesin. Nie almal treur op dieselfde manier nie. Praat met mekaar. Pas jou huwelik op. Verlies of die trauma van kinderloosheid kan afstand tussen man en vrou bring. Daar is soveel huwelike wat in die skeihof beland omdat huweliksmaats nie saam getreur het nie. Jy kan help deur te keer dat mense uit die gemeenskap en uit die kerk onttrek.
  4. Troos ander sodat jy getroos kan word.
  5. Vergifnis bring vrede. Vergewe jouself, want God het jou lankal vergewe. Vergewe die sondebok sodat jy genees kan word. Aanvaar die soewereiniteit van God en dat Hy die beste weet anders gaan jy verstrengel raak in die dorings van die Godsbesluit.
  6. God gaan vir jou vriende stuur om die seer ligter te maak. Moet nie jou rug op hulle draai nie. Ek dank God vir ouers wat ons bygestaan het; vir AP Kerk Amajuba wat ons die ruimte gegee het om ons seer te verwerk en vir vriende met wie ons nog steeds ons pyn kan deel.
Smagtend na moederskap

Deur Chelsea Patterson Sobolik2

Kinderloosheid het al baie mense se harte gebreek. Menige paartjie het al hierdie moeilike paadjie gestap. Die worsteling hiermee, is so oud soos die wêreld self.

Onvrugbaarheid raak ongeveer 12% van die Amerikaanse bevolking – meer as een uit tien paartjies worstel daarmee. Dit sluit nie paartjies in wat kinders verloor het, miskrame gehad het, of enkellopende vroue wat begeer om moeders te wees nie.

Kinderloosheid is een van dié eensaamste worstelinge wat enige vrou kan beleef. Dit is ’n worsteling wat niemand sien nie. Tensy jy iemand vertel, weet niemand dat jy nie kinders kan hê, of dat jy sukkel nie. Min mense, indien enige, ken die hartseer in jou hart, of hoe swaar en moeilik die situasie kan wees. Dit is nie oop en bloot vir die wêreld om te sien nie. ’n Sigbare worsteling – hoewel steeds moeilik – maak dit makliker vir mense om te sien dat jy swaarkry en hulp nodig het. Kinderloosheid val nie in hierdie kategorie nie.

 

Stille stryd

Ek het persoonlike ervaring met hierdie worstelstryd. Daar is baie bemoedigende dinge wat ek vir jou kan fluister, maar hierdie drie het vir my persoonlik die meeste beteken:

  1. Moenie bang wees om te rou nie

Die reis van onvrugbaarheid, of miskrame, is ’n reis van trane. Een van die belangrikste dinge om te onthou wanneer jy hierdie paadjie stap, is dat dit natuurlik is om te rou. Dit is normaal om oor die vernietiging van ’n droom te huil en om daarna te begin aanvaar hoe ’n onvervulde wens onder die sambreel van God se soewereiniteit inpas.

Moenie bang wees vir trane of vir die gevoel van die pyn nie. Dit kan makliker wees om die pyn te onderdruk, eerder as om jouself toe te laat om dit te voel en daaroor te rou. Gee jouself ruimte om die smart te ervaar; rou, kla, skree, roep uit tot God. Huil in sy arms en worstel in gebed.

  1. Weet dat Jesus weet

In vele van die mees treffende Psalms in die Bybel, roep Dawid na God met ’n opmerklike eerlikheid. Hy het smart en lyding goed geken. Hy het self ’n kind verloor. Hy het verlate gevoel, was swak en hulpeloos. Uit sy pen het van die aangrypendste woorde in die Skrif gevloei. Wat ’n kosbare skat het God nie vir ons gegee toe hy voorbeelde van smart en lyding in sy heilige Woord laat opteken het nie.

Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? (Ps. 13:2)

Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders (Ps. 6:7-8).

My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie (Ps. 22:2-3).

Só bekend as wat Dawid met smart, verlies en pyn was, só ken ons hemelse Vader die diepte van ons smarte beter as enige iemand anders. Ons Verlosser was bekend met smarte en Hy simpatiseer aktief met ons hartseer. Hy is “naby die wat gebroke is van hart” (Ps. 34:19). Die troos wat in sy Woord gevind kan word, oortref alle ander troos.

  1. Kinderloosheid definieer jou nie

Christen, jou identiteit word nie bepaal deur jou vermoë om kinders te hê nie. Baie paartjies is geneig om minderwaardig te voel omdat hulle met kinderloosheid worstel. Die duiwel se lekkerste speletjie is om die fondamente van jou identiteit te skud en jou oë van die Here Jesus af te trek en jou sodoende op jouself te laat fokus.

Jy is geskape na die beeld van God. Jou siel is geskape om God te ken. As gevolg van hierdie wonderlike waarheid is alle menslike lewe van groot waarde. Jou identiteit be hoort nie gekoppel te wees aan jou vermoë om kin ders te kry nie; dit behoort diep genestel te wees in die feit dat jy aan God behoort. Jy is sy oogappel (Sag. 2:8). Hierdie worstelstryd is tydelik, jou identiteit in Hom is vir ewig.

Selfs al is jou skoot vir altyd leeg, kan jou hart vol wees. In jou donkerste uur kan jy jou hoop op God plaas, in die wete dat Hy jou pyn ken en dat Hy belowe dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie.

Oorspronklike artikel: https://www.desiringgod.org/articles/longing-formotherhood.

Vertaling: Marica du Preez.

2 Skrywer van die boek Longing for Motherhood.

Wat behels die kultuuropdrag?

Bybelse beginsels en die relevansie van die Mosaïese wet vir die huidige sosiale vraagstuk(1)

Herman Bavinck

Skepping
Ons behoort ’n duidelike onderskeid tussen die skepping van die mens en ander kreature te tref. Dit word deur ’n plegtige verklaring van God (Gén. 1:26) voorafgegaan en ingelei. Die liggaam van die mens word doelbewus uit die stof van die aarde gevorm terwyl sy lewensasem van bo kom (Gén. 2:7). Die gevolg is dat die mens beelddraer van God is.

Die mens se eindbestemming kom met sy oorsprong ooreen. As God se beelddraer, is die mens geroep om sy Skepper reg te ken, Hom met sy hele hart lief te hê en om vir ewig saam met Hom te wees. Die mens het ’n hoër bestemming as enige ander skepsel; dit styg bo die aardse uit en vind nie in hierdie bedeling nie, maar in die ewigheid sy rus. Hoewel die mens veel van God ontvang het, was hy nog nie wat hy moes word en wees nie. Hy het nog nie die ewige lewe gehad nie, maar moes dit langs die weg van gehoorsaamheid verwerf. Sodoende het hy ’n hemelse doel gekry waarna hy moes streef.
Hierdie ewige bestemming sluit egter nie ’n aardse lewenstaak uit nie. Die natuurlike kom eerste, nie die geestelike nie. Die eerste mens is immers uit die stof van die aarde geneem en was daarom aards (vgl. 1 Kor. 15:45-47). Hy ontvang ook ’n roeping ten opsigte van hierdie wêreld. Hy is liggaamlik aan die aarde verbind, vir sy bestaan daarvan afhanklik en leef in vele opsigte met die aarde mee. Ten opsigte van die aarde het die mens ’n dubbele taak ontvang, naamlik om dit te vul en om daaroor te heers (Gén. 1:28; 2:15). Hoewel hierdie taak van sy ewige bestemming verskil, soos die instelling van ’n rusdag naas die normale werksdae ook bewys, is dit nie teenstrydig daarmee nie. Getrouheid ten opsigte van sy aardse roeping, berei die mens juis vir die ewigheid voor en wanneer hy die dinge daarbo bedink, word hy bemagtig om sy aardse taak getrou uit te voer.

Die mens het verskillende gawes en vermoëns ontvang om hom met hierdie taak te help. As beelddraer van God is hy met ware kennis, geregtigheid en heiligheid geskep en dus ten volle toegerus om God se wil uit te voer. Deur die mens as man en vrou te skep, het Hy hom toegerus om die aarde te vul en daaroor te heers. In hierdie twee geslagte, in die instelling van die huwelik, is alle latere sosiale ordes reeds vervat, naamlik die van man en vrou, ouers en kinders, broers en susters, slawe en vrymanne, owerheid en onderdaan. In  die tweeslagtigheid van die mens is alle ongelykhede wat weldra tussen mense sal bestaan, in beginsel reeds teenwoordig – verskille ten opsigte van liggaam en siel, karakter en temperament, verstandelike vermoëns, hart en hand, ensovoorts. Hierdie verskille is dus in die wil van God gegrond en is nie ’n gevolg van die sonde nie.

Deur hierdie tweërlei lewenstaak word die mens tot arbeid opgeroep. Die mens is nie gemaak om niks te doen nie, maar om soos God altyd arbeidsaam te wees (Joh. 5:17). Daarvoor het ons ses dae ontvang waarin ons met hoof en hand kan werk om die aarde te onderwerp. Om te arbei is ’n Goddelike instelling. God het ook ’n sewende dag gegee wat Hy geseën en geheilig het. Op hierdie dag moet die mens rus van sy aardse arbeid sodat hy altyd bewus sal wees dat die einddoel van sy strewe nie die aardse moet wees nie, maar die hemelse en dat hy saam met alle skepsels, sy rus in gemeenskap met God sal soek.

Vir sy hele lewe, inwendig en uitwendig, in sy handel en sy wandel, het God sy wet as reël en riglyn gegee. Hierdie wet is op die hart van die mens geskryf en bestaan uit liefde tot God en die naaste. Solank as wat die mens by hierdie wet bly, hoef hy hom nie te bekommer dat dinge verkeerd sal loop in die verkillende verhoudinge waarin hy staan nie. Die dood en alles wat daarmee gepaardgaan, kon nie hier inkom nie. As dienskneg van God en heerser oor die aarde, staan die mens in die regte verhouding tot alle dinge. Selfs die wêreld waarin hy geleef het, het met sy innerlike gesteldheid ooreengestem – die Paradys was sy woonplek. Daar was harmonie tussen deug en geluk; tussen heiligheid en saligheid.

Sondeval
Die koms van die sonde in die wêreld, wat die oortreding van God se wet behels, het ’n vernietigende uitwerking gehad op alle verhoudinge waarin die mens staan. Eerstens is die gemeenskap met God verbreek. Die sonde het ongeloof, ongehoorsaamheid en vyandskap jeens God tot gevolg gehad. Dit het veroorsaak dat die mens die dinge daarbo vergeet en sy ewige, hemelse bestemming uit die oog verloor het. Hy het hom aan die aarde onderwerp en vind nou sy geluk en saligheid in die aardse. Deur die sonde het die mens nou “vlees” geword.

Gevolglik is die regte verhouding van die mens tot homself, ook versteur. Die ewewig is verbreek. Siel en liggaam, gees en vlees staan nou teenoor mekaar. Die gewete word nou ’n regter wat die mens aankla en veroordeel. Hoof en hart, wil en verstand, begeerte en plig is in ’n onversoenlike stryd gewikkel. Die verskillende gawes en kragte voer nou voortdurend stryd en word verwaarloos of misbruik. Selfsug verdryf nou die liefde uit die mens se hart en het afguns, bedrog, haat en moord tot gevolg. Dit het nou die mens se lewensbeginsel en die dryfkrag van sy optrede geword.

Op hierdie wyse is die alledaagse bestaan van die mens verander in ’n oorlog van “almal teen almal”. Mans en vrouens, ouers en kinders, ryk en arm, ensovoorts, is nou vyande van mekaar. Verskille word nou teenstellings, ongelykhede verander in botsende kontraste. Voortgedryf deur selfsug dink niemand meer aan wat hy besit nie, maar konsentreer hy nou op dit wat aan ’n ander behoort. Die samelewing word ’n verhoog waarop die mens se stryd om oorlewing uitgebeeld word; ’n wêreld waarin mense soos wolwe teenoor mekaar optree.

Die sondeval het ook nie die mens se verhouding tot die natuur ongeskonde gelaat nie. God en sy gebod bly dieselfde. Die mens het steeds die verantwoordelikheid om die aarde te vul en daaroor te heers. Die aard van sy arbeid verander egter heeltemal. Die vrou sal met moeite kinders baar, terwyl die man in die sweet van sy aangesig sy brood sal verdien. Die natuur werk nou teen die mens sodat sy arbeid in ’n oorlewingstryd verander. Die mens heers nie meer nie en is ongehoorsaam. Die dorings en distels, die diere van die veld en die elemente van die natuur het nou die mens se vyand geword. Die Paradys is agter hom gesluit terwyl hy sonder enige wapens die wilde, woeste wêreld ingestuur word.
In dit alles beleef die mens God se oordeel wat bo sy kop vermenigvuldig.

Ongehoorsaamheid aan God se wet word nooit ongestraf gelaat nie. Sonde op sigself is ellende en word deur ’n hele rits rampe gevolg. Sielepyn en gebroke liggame is die wrakstukke van God se oordeel. Onrustigheid in die gemoed, skuldgevoel, gewetenswroeging en vrees vir God se straf knaag aan die verborge lewe van elke mens. Siekte en pyn, rampe en gevaar, rou en dood beroof die mens van ’n vreugdevolle aardse bestaan. In die graf vier die stof haar triomf en sing die verderf haar oorwinningslied.

Eerste treë van verlossing
Hierdie verwoestende uitwerking van die sonde word egter deur die genade van die Here gestuit. God rig sy gedagtes immers nie op die mens se verderf nie, maar op sy behoud en redding. As Skepper en Onderhouer beheer hy die sonde en hou dit in bedwang sodat dit nie die skepping vernietig en sy raadsplanne verydel nie.

Hy doen dit eerstens deur sy oordeel oor en straf van die sonde. Die onrustigheid van die siel, die smart van die lewe, die stryd om oorlewing en moeitevolle arbeid is alles dinge waardeur God sy toorn openbaar. Dit is egter tegelykertyd ook middele van sy algemene genade om die ongeregtigheid se spoed te breek en die skrikwekkende uitbarsting van die sonde tee te gaan.

God doen dit verder deurdat Hy ’n klein oorblyfsel van sy beeld en gelykenis (na die sondeval) in die mens laat agterbly. Hy gee vir die mens ’n rede en gewete; Hy laat ’n sekere kennis oor God en sy eienskappe in hom oorbly, die saadjies van geloof, die besef van goed en kwaad, die bewustheid van ’n ewige bestemming. Sodoende hou God die mens voortdurend bewus dat daar ’n ander, beter wêreld as die sigbare bestaan. Te midde van al die verval, is daar steeds ’n natuurlike Godskennis by elke volk en elke mens aanwesig.

Die laaste manier waarop God die sonde teëwerk, is deur bepaalde strukture soos die gesin, die samelewing en die staat vir die mens op te rig. Hy bewerk ’n natuurlike liefde tussen man en vrou en tussen ouers en kinders. Hy kweek allerhande sosiale deugde: ’n behoefte vir samesyn asook ’n behoefte aan toenadering en vriendskap tussen mekaar. Hy verdeel uiteindelik die mensdom in verskillende tale en volke om hulle van algehele ondergang te bewaar. Onder hierdie volke bewerk Hy sekere nasionalistiese deugde van aangetrokkenheid tot en liefde vir die vaderland. Hy laat toe dat hierdie volke hulself staatkundig organiseer met die roeping om te midde van ’n velerlei samelewingsverbande, die onderlinge verhoudings te reël en die reg staande te hou.

Hierdie algemene genade en lankmoedigheid van God is egter nie genoeg nie. Dit hou wel die mens in bedwang, maar herskep hom nog nie. Terwyl die Here die heidene op hul eie weë laat begaan, sonder Hy Israel as sy volk af en openbaar sy insettinge en verordeninge aan hulle. God is Israel se Koning, Wetgewer en Regter (Jes. 33:22). Hierdie insettinge het die ganse lewensbestaan van Israel beheers – inwendig sowel as uitwendig, godsdienstig en sedelik, staatkundig en in die burgerlike samelewing. Met betrekking tot die sosiale terrein, kry ons veral die volgende instellings:
a. Israel is die volk van God wat Hy vir Hom uit al die volke van die aarde afgesonder het om in sy weë te wandel (Ex. 19:5,6, ens.). Tydens die wetgewende handeling by Sinai, staan hierdie geestelike bestemming van Israel op die voorgrond. Ook die land is God se eiendom. Volgens sy vrye beskikking het Hy Kanaän by die oorspronklike bewoners daarvan weggeneem en aan Abraham en sy nageslag as erfporsie gegee. Die land behoort aan God en die Israeliete is vreemdelinge en bywoners by Hom (Lev. 25:33). Aan Israel is slegs gebruiksreg verleen. God beskik daaroor en sorg dat en hoe die land onder die stamme verdeel moet word (Jos. 13).
b. Hierdie stamme en geslagte word deur die Here in stand gehou terwyl Hy hul eiendom beskerm. Hy beloof vrugbaarheid aan die nageslag van Israel (Gen. 12:2,13,16 en Deut. 28:4) terwyl Hy die gedagte koester dat kinders ’n seëning en erfdeel uit sy hand is (Ps. 113:9; 127:3-5; 128:3). Besittings is deur die seuns geërf en as daar geen seuns was nie, erf die dogters, maar met die verpligting om met ’n man uit hul eie stam te trou (Num. 27:8; 36:1-13). Kinderlose weduwees moes met die broer of ’n bloedverwant van die oorlede eggenoot trou, sodat sy broer se naam nie tot niet gaan en sy besittings na iemand anders oorgaan nie (Deut. 25:5-10).
c. Omgekeerd is die eiendom ook vir die stamme en families bewaar. Dit het veral deur die instelling van die jubeljaar gebeur. Nie alleen moes hulle wat weens armoede aan hul skuldeisers verkoop is, in die jubeljaar vrygelaat word nie (Lev. 25:39,40 en Deut. 15:12), maar was die lossingsreg ook tot hul beskikking (Lev. 25:47). Hul eiendom mag nie vir altyd verkoop geword het nie, maar slegs vir ’n vasgestelde tydperk verpag word. In die jubeljaar moes dit sonder enige vergoeding aan die oorsponklike eienaars teruggegee word. Selfs voor die jubeljaar het die eienaar of sy losser die reg gehad om verkoopte eiendom terug te koop (Lev. 25). Hierdie instelling van terugkeer en lossing het nie vir stadshuise (Lev. 25:29-30) of landerye wat aan die Here gewy was (Lev. 27:16-21), gegeld nie.
d. Deur hierdie bepalings is verarming aan die een kant en die opeenhoping van grondbesit en kapitaal aan die ander kant, verhoed. Tog is die verskil tussen ryk en arm, vryman en slaaf nie opgehef nie. Dit is deel van God se raadsplan dat daar armes moet wees (Deut. 15:11; Spr. 22:2) en om slawe te besit, was ’n wettige instelling (ex. 21:20 e.v.). ’n “Menswaardige bestaan” word vir die meeste moontlik gemaak. Die kontras (tussen ryk en arm) is op ’n pragtige wyse tydens die Sabbat en feesdae versag. Dan was daar nie iets soos arm en ryk nie, maar het almal sonder enige verdienste uit die hand van die Here geleef. Alles was verniet; die werkskleed is verruil vir ’n feesgewaad. Daar was rus van arbeid en feesvieringe voor die aangesig van die Here.
e. Dan was daar ook nog die diens van barmhartigheid. Daar moes gewilliglik aan die arme geleen word (Deut. 15:7); ’n pand mog nie met geweld geneem word nie en moes soms voor die volgende oggend teruggegee word (Deut. 24:6,10 en Ex. 22:26). Rente mag nie op lenings aan mede-Israeliete geëis word nie (Deut. 25:19 en Lev. 25:36), skuld moes in die sewende jaar kwytgeskeld word (Deut. 15:1) terwyl lone betyds betaal moes word (Deut. 24:19 e.v.). Weduwees en wese, armes en vreemdelinge moes voor die gereg gelyk behandel word (Deut. 14:7; Ex. 22:21-22), hulle het die reg gehad om dit wat na die oes oorgebly het, op te tel (Lev. 19:9 e.v.; Deut. 24:19 e.v.) en in die Sabbatsjaar was hulle op die hele opbrengs van die land geregtig (Lev. 25:5). Verder kon hulle ook deel in die offer- en tiendemaaltye (Deut. 14:28 e.v.; 16:10 e.v.; 26:12 e.v.). Met gebreklikes mag nie gespot word nie (Lev. 19:14; Deut. 27:19) en oumense moes gerespekteer word (Lev. 19:32). God se wet het selfs vir die versorging en rus van die diere voorsiening gemaak (Ex. 20:10; Deut. 25:4; 22:6,28). Israel is telkens aangemoedig tot hierdie diens van barmhartigheid deur hulle te herinner aan die tyd toe hulle verdrukking en vreemdelingskap in Egipte beleef het (Ex. 22:20; 23:9, ens.). Israel se etiese wetgewing is vanuit die gesigspunt van die onderdrukte geskryf.

Die nuwe bedeling
In die volheid van die tyd het hierdie ou bedeling vir die nuwe bedeling plek gemaak. Die wese bly dieselfde, hoewel die vorm verander. Noudat die liggaam gekom het, verdwyn die skaduwee. Die wet word nie net afgeskaf en tersyde gestel nie, maar word in en deur Christus vervul en kom sodoende tot ’n einde. Die Nuwe Testament bevat dus nie meer wetgewing wat net so deur die staat oorgeneem en met sy gesag afgedwing kan word nie. Uit die Ou Testament word egter ewige beginsels afgelei wat die welwese en voortbestaan van die huisgesin, die burgerlike samelewing en die staat, waarborg. Hierdie wette word nie op kliptafels geskryf nie, maar op die vleestafels van die hart en sodoende deur die gemeente in die sondige wêreld ingedra.

Sonder twyfel staan die redding van siele in die Nuwe Testament op die voorgrond. Deur die sonde is die gemeenskap met God vernietig en as gevolg daarvan is ook die mens se verhouding met alle ander skepsels, versteur. Die mens moet dus in die eerste plek weer in die regte verhouding tot God herstel word. Daarom is die kruis van Christus die hart en middelpunt van die Christelike geloof. Jesus het nie in die eerste plek gekom om die gesin, die burgerlike samelewing of die staat te hervorm nie, maar om sondaars salig te maak en die wêreld van toekomstige toorn te red. Die redding van sy siel moet dus vir die mens hoofsaak wees en hy moet bereid wees om alles daarvoor op te offer: vader en moeder, huis en landery. Hy moet selfs bereid wees om sy eie lewe te verloën ten einde die koninkryk van die hemele deelagtig te word (Mt. 6:33; 16:26, ens.). Hierdie nuwe, versoende verhouding waarin die mens deur die geloof in Christus tot God staan, is van soveel betekenis en waarde, dat alle ander verhoudings en verskille daardeur verdwyn. In Christus is daar nie meer man of vrou, Griek of Jood, vryman of slaaf nie (Kol. 3:11).

Daarmee word die ongelykhede wat kragtens die skepping tussen mense bestaan, nie tydens die aardse lewe uitgewis nie. Dit wat uniek aan elkeen is, sal bly bestaan. Hiervan is die gemeente in Jerusalem ’n goeie voorbeeld en het so ’n unieke karakter gehad, dat dit moeilik is om daarteen te argumenteer. Die onderskeid tussen armes en rykes, slawe en vrymanne, ouers en kinders, owerheid en onderdaan word te alle tye deur Jesus en sy apostels in hulle woorde en optrede veronderstel en eerbiedig. Veral ’n teks soos 1 Korinthiërs 7:17-24 leer dat gelowiges na hul bekering in die beroep waarin hul gestaan het, gebly het. Die verskeidenheid wat volgens die wil van God in die skepping teenwoordig is, word nie deur die Seun tydens die herskepping tot niet gemaak nie.

Wat egter wel gebeur is dat alle ander verhoudings waarin die mens staan, vanuit die versoening met God, nuut gereël en tot hulle oorspronklike staat teruggelei word. God is die eienaar van die mens en van al sy besittings. Die mens is slegs rentmeester en sal eendag rekenskap van sy  rentmeesterskap moet gee (Lk. 16:2; Mt. 25:14 e.v.). Man en vrou (Efés. 5:22; Tit. 2:5; Kol. 3:18), ouers en kinders (Efés. 6:1-4; Kol. 3:20-21), eienaars en slawe (1 Kor. 7:21-22; Efés. 6:5-9; Kol. 3:22), owerheid en onderdaan (Rom. 13:1-7; 1 Tim. 1-2; 1 Petr. 2:13-16, ens.) word in die regte verhouding tot mekaar gestel. Die verskille in die burgerlike samelewing bly dus voortbestaan, maar verloor hul skerp kante. Teen rykdom word meer as een keer gewaarsku (Mt. 6:19; 19:23; 1 Tim. 6:17-19, ens.), maar armoede is ook nie ’n deug nie en die natuurlike is nie op sigself onrein nie (Mk. 7:15 e.v.; Hand. 14:17; Rom. 14:14; 1 Tim. 4:4). Arbeid word aangemoedig met die vooruitsig van voedsel en loon (Mt. 10:10; 1 Tim. 5:18; Efés. 4:28; 2 Thes. 3:10). In Matthéüs 6:25-34 neem Jesus alle bekommernisse oor gelowiges se aardse bestaan weg. Aangesien die herskepping wel die aardse verhoudinge waarin ons staan, vernuwe maar nie ophef nie, is daar steeds ruimte vir die diens van  barmhartigheid. Net soos ons altyd die armes by ons sal hê (Mt. 26:11; Joh. 12:8; Openb. 13:16), net so sal daar ook altyd allerhande soorte ellende by ons wees. As barmhartige Hoëpriester word Jesus steeds diep geraak deur hulle wat in ellende verkeer. Om hierdie rede moedig Christus sy volgelinge in die besonder aan tot die Christelike deug van barmhartigheid (Mt. 5:17; Lk. 6:36). Wie Christus se barmhartigheid ontvang het (1 Petr. 2:10) behoort dit op hulle beurt ook aan ander te bewys (Mt. 18:33). In die gemeente word dan ook ’n besondere amp vir die diens van barmhartigheid ingestel.

Gevolgtrekking
1. Die ongelykhede wat tussen mense bestaan, is in die skepping, dus in die wil van God, gegrond en het ten doel om die mens in staat te stel om sy lewenstaak te vervul.

2. Sonde het die eenheid van hierdie verskeidenheid vernietig; verskille in teenstellings verander en alle skepels in vyandskap teenoor God en mekaar gestel.

3. Kragtens die wil van God word die verskille nie met die herskepping uitgewis nie. Alle verhoudings word wel in ooreenstemming met hul oorspronklike vorm vernuwe deur alles in ’n versoende verhouding met God te stel.

4. Die belangrikste algemene beginsel vir die oplossing van die sosiale kwessie, behoort volgens die Skrif geregtigheid te wees. Dit impliseer dat daar vir elke skepsel ’n ruimte moet wees waar hy na sy eie aard, sy plek teenoor God en alle ander skepsels kan inneem.

5. Dit is daarom in ooreenstemming met die Skrif om:
a. die mens nie net vir sy ewige bestemming voor te berei nie, maar om dit ook vir hom moontlik te maak om sy aardse roeping te vervul;
b. op die politieke terrein die Sabbat as rusdag naas die werksweek te handhaaf ten einde die onderskeid en verband tussen die mens se dubbele roeping te handhaaf;
c. vanuit die kruis van Christus wat van ons versoening met God getuig, alle verhoudings waarin ons staan, in die besonder op sosiale terrein, op ’n nuwe manier te bestuur en tot hul oorspronklike voorkoms te herstel;
d. armoede en ellende, veral verarming, te voorkom;
e. die opeenhoping van kapitaal en grondbesit teë te werk en om so ver moontlik vir elke mens ’n sorgelose lewe en “menswaardige” bestaan te verseker;

6. As God se dienaar, is die burgerlike owerheid geroep om geregtigheid binne die burgerlike samelewing te handhaaf. Dit is hulle verantwoordelikheid om die reg altyd te toets aan en te grond op die ewige beginsels wat God in sy Woord vir die verskillende samelewingsverbande neergelê het.

7. Aangesien daar altyd ellende sal wees en dit nooit [slegs] deur geregtigheid vernietig sal word nie, behoort die diens van barmhartigheid altyd ’n belangrike plek te beklee.

(1)Vertaal deur Schalk Strauss. Referaat gelewer tydens die Nederlandse Sociaal Congress 1891. Volledige Nederlandse titel: “Welke algemeen beginselen beheerschen, volgens de H. Schrift, de oplossing de social quaestie, en welke vingerwijzing voor die oplossing ligt in de concréte toepassing, welke deze beginselen voor Israël in het Mozaïsch recht gevonden hebben.”

Hoe benader mens iemand om oor die Here te gesels?

EERSTE, VERKENNENDE KONTAK MET IEMAND

1. Die gedagte is nie dat jy elke mens wat jy ontmoet, trompop moet loop en vra of hy ’n Christen is nie.

2. Dit mag egter nie gebeur dat jy vir ’n geruime tyd met iemand gekommunikeer het en hy nooit agtergekom het dat jy ’n Christen is nie.

3. In die eerste plek moet jou voorbeeld (jou woordkeuse, die dinge waaroor jy lag of nie lag nie) onberispelik wees. Jou woorde moet mense trek en nie afstoot nie – behalwe as jou liefdevolle Christelike woorde of optrede aanstoot gee.

4. Hou rekening daarmee dat jy die persoon dalk nooit in jou lewe weer mag raakloop nie. As hy dan niks van jou ontvang het nie, het jy jou kans verspeel. Sou dit iemand wees wat jy meermale sien, kan jy wag vir ’n gunstige geleentheid – moet egter nie onnodig uitstel nie.

5. Daar is baie maniere om ’n gesprek oor die Here aan te voor – bv. “Verlede Sondag in die kerk…”; of: “Ek lees gisteraand in die Bybel…”; of: “My Ma sê altyd…”; of: “Stem jy saam dat…”; of: “Vir my as Christen staan dit vas dat…”; of: “Hoe dink jy behoort ons as Chistene…”; ens. Uit die reaksie van die persoon, volg ’n verdere gesprek.

6. Sou die persoon afwysend wees teenoor die Chistene, kan jy die geleentheid gebruik om te vra of hy werklike Christene ken, en of hy die basiese boodskap van die Christelike leer ken. Dit mag vir jou die deur oopmaak om daaroor te praat.

7. Moenie onnodig aanvallend wees nie. Onthou altyd dat jy nie uit jou eie krag beter as ’n ongelowige is nie. Jy het genade ontvang om te wees wat jy geword het. Daardie genade moet ons verkondig!

Hoe benader mens iemand wie nie in God glo nie en Hom nog nooit gedien het nie? (Deel 1)

Die “Daar is nie ‘n God nie” redenasie:

Geen mens kan aan jou bewys dat daar ’n God is nie.
God self probeer Hom nie in die Bybel bewys nie. Hy vertel net van Homself sonder om te probeer bewys. Maar Hy verwag van jou dat jy in Hom moet glo.

Jy kan ook nie aan my bewys dat God nie bestaan nie. Jou oortuiging is maar wat jy glo. Maar waarop beroep jy jou? Waarskynlik op jou waarneming en jou rede. Jy sien God nie, jy hoor Hom nie praat nie, jy voel Hom nie aan nie, en dan kom jy tot die gevolgtrekking dat daar nie ’n God is nie.

Ek sien God ook nie met my vleeslike oë nie. Ek hoor nie ’n stem wat met my praat nie. Ek voel ook nie altyd sy teenwoordigheid aan nie. Maar ek het ’n Bybel waarin die Here vir my sê dat Hy bestaan en waardeur Hy met my kommunikeer. Ek verlaat my nie op my rede of gevoel nie, maar ek glo die Bybel.

Niemand van ons betwyfel dit of Jan van Riebeeck in die Kaap gebly het nie. Hoekom nie? Omdat dit in die geskiedenisboeke opgeskryf is. Iemand sal darem dwaas wees as hy die feit dat Van Riebeeck hier was, ontken.

Maar in die Bybel word ook aan ons deur betroubare getuies vertel van wat God gedoen en gesê het. En dit is wat ek glo.

Weet jy waarom ek die Bybel glo? Omdat God se Gees my in my hart oortuig dat dit alles waar is.

Jy sien, ek kan God se bestaan nie vir jou bewys nie, maar ek getuig daarvan. Ek, en miljoene ander mense is oortuig daarvan dat God bestaan en Hom in die Bybel aan ons openbaar. Ons bron van kennis hiervan is die Bybel, en die Heilige Gees oortuig ons daarvan.

Die kern van wat ek hiermee aan jou wil sê, is: Glo in die God van die Bybel, glo in die Here Jesus Christus en dan sal jy die ewige lewe hê. So vervul jy die doel wat God met jou op aarde het – en dit is ware geluk.

Hoe benader mens iemand wie nie in God glo nie en Hom nog nooit gedien het nie? (Deel 2)

Die “Daar is nie ‘n God nie” redenasie:

Ek moet toegee dat geen mens aan jou met logika kan bewys dat daar wel ’n God is nie. O, ja, daar is baie aanduidings! Baie wetenskaplikes
sal vir jou sê dat al hierdie dinge wat bestaan, deur ’n hoër hand, of deur ’n onbekende mag of krag tot stand moes gekom het. Hulle sê die dinge kon eenvoudig nie anders daargestel wees nie. Maar wat dit was, of as dit ’n persoon was, wie hy was, kan maar net gespekuleer word.

Daar is ook in die geskiedenis van die kerk verskeie sogenaamde “Godsbewyse” verdedig. So is byvoorbeeld geredeneer dat dit duidelik is dat daar iemand moet wees wat vir alles sorg, die aarde in stand hou. Die gevolgtrekking is dan dat dit die God van die Bybel moet wees. ’n Tweede manier van redenasie was dat elke mens ’n aangebore aanvoeling het dat daar ’n God moet wees – en dit is dan die God van die Bybel. Die soort redenasies is nie totaal waardeloos nie, maar as ek ’n aanvoeling van God het, weet ek nog nie of dit die God van die Bybel of van ’n ander godsdienstige groep is nie. Al sou ek weet dat daar ’n God is, weet ek dan nog nie Wie Hy is nie. Hierdie “bewyse” is nie afdoende nie.

Tog moet ek vir jou ook sê dat daar ’n werklike lewende God is. Hy maak Homself op ’n baie spesiale manier aan ons bekend. Dit is merkwaardig dat Hy die hele Bybel laat skryf het deur mense. Daarin vertel Hy van Homself, van Wie Hy is, wat Hy doen, en wat Hy van ons eis. Maar nêrens probeer Hy eers om Homself in die Bybel te bewys nie.

Hy sê baie dinge wat van sy Godheid getuig, soos dat Hy die hemel en die aarde gemaak het, soos dat Hy by geleentheid plae gestuur het, of reën laat kom het, of iets voorspel het wat later net so uitgekom het – en nog so baie ander dinge! Net Iemand wat God is, kan dié dinge doen.

Verder doen Hy ook baie dinge wat ons laat besef dat Hy God is. Dink net aan al die plae wat Hy oor die Egiptenaars laat kom het. Of dink aan die son wat Hy laat stil staan het, of aan die beskerming van Daniël in die leeukuil, of die opwekking van mense uit die dood! Daar is so baie dinge wat God die Vader en wat sy Seun, Jesus, gedoen het, en wat die Heilige Gees gedoen het, wat my met verwondering laat sien: Hy is God.

Die eintlike bewys van sy Godheid lê daarin dat Hy deur sy Heilige Gees so in mense se harte werk en lewe dat hulle onwrikbaar seker weet dat God bestaan en hulle liefhet. Hierdie sekerheid kan ek jou nie gee nie, maar die Here kan. En dit is waarvoor ek vir jou bid: Dat jy die Here sal glo as Hy in die Bybel sê Hy is die enigste God van hemel en aarde en van alle eeue. So staan daar in Jes. 44:6 “…buiten My is daar geen God nie” en in 1 Kor. 8:4 ons weet “dat daar geen ander God is nie, behalwe Een”.

‘n Mens wat die ware God nie ken en dien nie, weet nog nie hoe wonderlik jou lewe word as Hy jou lewe beheers nie. Ek getuig persoonlik daarvan dat die Here my lewe vervul en dat ek rus by Hom vind.

Hoe benader mens iemand wie nie in God glo nie en Hom nog nooit gedien het nie? (Deel 3)

Die “NIKS EN NIEMAND OORTUIG MY IN MY HART DAT DAAR ’N GOD IS NIE. EK HET NOG NOOIT IN ’N GOD GEGLO NIE.” redenasie:

Ek hoor wat jy sê. Soos ek reeds gesê het, kan ek jou ook nie oortuig nie. Die Here kan!
Daarom moet ek aan jou van die Here vertel. Die Bybel sê ’n mens kan nie glo as iemand jou nie vertel nie (Rom. 10:14). Ek gaan jou vertel wat die Here in my lewe en hart gedoen het. Die baie probleme van elke dag kry my nie onder nie, omdat ek op ’n manier, wat nie aan myself te danke is nie, krag het om dit alles te hanteer. En ek weet dit kom van die Here. Weet jy, ek is so oortuig van die werklikheid van die Here en oor sy liefde vir my, soos oor niks anders nie. Daarom weet ek dat my lewe nie verby is as ek my laaste asem uitblaas nie. Daar wag ’n nuwe lewe vir my na my dood. Dan sal ek by die Here wees en volkome geluk hê. Enige mens wat hierdie sekerheid ontbeer, weet nie watter ontsaglike rus hy in sy hart en bestaan mis nie. Ek wil graag met jou vriende word en jou nog baie hiervan vertel.

Miskien is die feit dat jy nie glo nie, te wyte daaraan dat jy nog nie regtig van die Here gehoor het nie, of dat jy ’n wanindruk van Hom
het. Uit ons gesprek mag dit algaande dalk duidelik word.

Party mense stel dit so dat God verleë oor mense is. Wel, dis ’n fout. Hy is nie. Hy is God. Hy is soewerein – dit beteken dat Hy van niemand afhanklik is nie. Hy kan doen wat Hy wil, en Hy gee aan niemand rekenskap nie. As ’n mens nie in Hom wil glo nie, sal die Here niks daarvan oorkom nie. Maar die ongelowige mens sal die diepe vrede (met God) wat hy in hierdie lewe in sy hart kan hê, mis. Hy sal nie soos ons gepantser wees teen die teëspoede en pyne van die mens se bestaan nie. Hy sal nie die diepe Christelike liefde tussen mense wat geen bloedfamilie van hom is, leer ken nie. Dit leer jy in die kerk tussen gelowiges ken. Die ongelowige sal ook nie die wonderlike nuwe lewe wat na die dood kom, ervaar
nie. Uiteindelik bly ’n ongelowige ’n arm mens.

Ek het gesê die Here doen wat Hy wil. Daarmee bedoel ek nie dat Hy verkeerde dinge doen nie. God is liefde en Hy doen net wat reg is. Om iets verkeerds te doen, is in stryd met sy Wese want Hy is die heilige God.

Maar jy kan nie in Hom glo as jy niks van Hom weet nie. Die wonderlike is egter dat wanneer jy van Hom hoor, Hy jou in jou hart so kan aanspreek en verander dat jy absolute sekerheid verkry oor sy bestaan en oor sy liefde vir jou.

Ek weet nie wat die Here se plan met jou is nie, maar ek wil graag van Hom getuig. En ek gaan baie bid dat Hy jou oortuig, sodat jy, soos ek, daardie wonderlike vrede in jou hart kan hê en jy ook die behoefte kan hê om aan ander mense wat die Here nie in hulle lewe het nie, van Hom te vertel.

“Glimmend én gloeiend” deur ds. Schalk Strauss

Dit is deesdae standaardpraktyk om eers jou temperatuur te laat meet voordat jy by die kerk, ’n gebou of ’n winkel ingaan. Een feit wat deur hierdie praktyk vir ewig in ons geheue ingebrand is, is dat ’n mens se normale liggaamstemperatuur enige iets tussen 36˚C en 37˚C is. ’n Mens raak naderhand afgestomp vir hierdie nuwe gebruik. Jy gee nie eintlik om hoe ver jy onder die gemiddeld lê nie, solank jy net nie warmer as 37˚C is nie. Met COVID-19 is té warm nie goed nie. Té warm laat die gevaarligte flikker. Té warm maak jou paniekerig!

In ’n sekere sin is mense al só geprogrammeer teen die gevare van “te veel hitte”, dat hulle ’n bepaalde weersin daarin opbou. Aardverwarming is nog ’n voorbeeld hier­van. Dit word deur baie as die grootste vyand van ons tyd beskou. Ons voel so skuldig dat ons selfs bereid is om belastings te betaal net om die wêreld ’n bietjie koeler te maak.

Die kommerwekkende is dat dit lyk asof hierdie anti-­hitte-­ingesteldheid ook ’n invloed op ons geestelike le­wens het. In ’n postmoderne samelewing is dit eerder “cool” om net nie te warm te wees nie. Dit is daarom nie vreemd dat die Christelike boodskap op so baie terreine ver­flou nie. Dit is nie vreemd dat daar oral aan­ge­dring word op ’n meer gematigde en genuanseerde benadering tot die verkondiging van die evangelie nie. In ’n wêreld waarin waarheid gerelativeer word, is dit nie meer gepas om mense teen die ewige vuurgloed van God se toorn en die verdoemende poel van vuur en swael te waarsku nie.

Vurige Christenskap is vir baie “te warm” en word dik­wels as fundamentalisties geëtiketteer. ’n Christelike le­we en getuienis wat op heiligmaking gerig is, maak baie mense ongemaklik. Gevolglik verkies baie Christene om maar eerder soos ’n uitgebrande kooltjie te wees wat net so af en toe gloei wanneer iemand daarop blaas of daar ’n windjie daaroor waai. Ons kan uitgebrande Christene deesdae uitken aan hulle uitgebrande kool­tjie-gedrag: Hulle gaan af en toe kerk toe; hulle lees nou en dan die Bybel; hulle kies hier en daar ’n Christelike beginsel waarvolgens hulle wil lewe – net genoeg om da­rem nog as gelowiges “gekenmerk” te kan word. Solank die kerk nie te veel van ons vra nie en daar nie van ons verwag word om in gloeiende ywer standpunt in te neem ter wille van ons geloof nie, is ons tevrede.

Blus die Gees nie uit nie

Lees jy egter die Bybel, kan jy die feit nie ignoreer nie dat die verlossingswerk van Christus en die Gees ’n krag­tige en vurige uitwerking op gelowiges het. Dit is nie sonder rede dat ons gedurende Pinkstertyd herinner word aan die feit dat die Heilige Gees se uitstorting met tonge van vuur gepaardgegaan het nie (vgl. Hand. 2:3). Die gevolg hiervan was die kragtige getuienis van die apostels (vgl. Hand. 8:25; 20:24; ens.) waardeur duisende hulle bekeer het en Christus met brandende harte begin volg het (vgl. Lk. 24:32).

Dit is daarom nie vreemd dat Paulus die gelowiges in Thes­sa­lonika waarsku om nie die Gees uit te blus nie (vgl. 1 Thes. 5:19). Dit is ’n uitspraak wat die vurige wer­king van die Gees erken. Vers 20 van dieselfde hoofstuk maak die waar­skuwing op profesieë (die Geesvervulde ver­kon­di­ging van die Woord) van toepassing – moet dit nie verag nie. Dit kom daarop neer dat die vurige ver­kon­diging van die Woord en die kragtige werking van die Gees in men­se se lewens, nie geïgnoreer of teë­ge­werk moet word nie.

Hitte én lig

In hierdie uitgawe val die fokus op die eindtyd en hoe die Heilige Gees gelowiges bemagtig – nie net om in die eindtyd te oorleef nie, maar om waarlik te lééf. Hierin is die rol van die Heilige Gees onontbeerlik. Met tonge van vuur as simbool van die werking en teen­woordigheid van die Gees, is dit te ver­wag­te dat gelowiges se lewens gedurende hul af­wag­ting op die wederkoms, deur beide hitte én lig ge­ken­merk sal word – glimmend én gloeiend.

In sy preek aan die hand van Johannes 15:35 “The true excellency of a minister of the gospel”, help die Puri­tein­se teoloog, Jonathan Edwards (1703-1758), ons om dit beter te verstaan. Hoewel hy in sy toepassing hoofsaaklik op predikante fokus, is die basiese beginsels op alle gelowiges van toepassing. Oor Johannes die Doper sê die Here Jesus: Hy was die lamp wat brand en skyn … (Joh. 5:35). Edwards verduidelik dat om waarlik Geesvervuld te wees, beide die innerlike en uiterlike lewe van die gelowige beïnvloed. Gelowiges behoort dus in hul harte ’n brandende ywer vir die Here te hê wat in ’n sigbaar-Godvresende lewe uitmond. Hy stel die gevaar van die een sonder die ander soos volg (vry vertaal):

Indien ’n predikant (of gelowige) lig sonder hitte uit­straal en sy gehoor met geleerde praatjies vermaak sonder enige geur van godvresendheid of enige skynsel van vurigheid van gees en sonder ywer vir God of vir dit wat goed is vir ander se siele, sal hy miskien hul jeukende ore streel en hul gedagtes met niksseggende idees vul, maar hy sal nie sommer hul harte bereik of hul siele red nie. En as hy, aan die ander kant, gedring word deur ’n vurige en ongetemperde ywer en geweldige hitte, maar sonder enige lig, sal hy heel waarskynlik ’n soortgelyke onheilige vlam in die binneste van sy mense aansteek. Hy sal hulle verdorwe begeertes en voorliefdes aanvuur, maar hy sal nooit hul lewens verbeter of hul een tree nader aan die hemel lei nie. Hy sal hulle eerder in die teenoorgestelde rigting dring.

Globale effek

Waar die wêreld daarop ingestel is om die temperatuur van die aarde af te koel, behoort gelowiges in ’n geestelike sin daarop ingestel te wees om juis die temperatuur te laat styg in afwagting van die koms van Here. Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees (2 Kor. 5:9). Waar die Gees werk, is die dringendheid van Jeremia teenwoordig: En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente (Jer. 20:9).

Christus se oproep om “lig van die wêreld” te wees, is egter ook ’n oproep om ’n Geesgedrewe warmte in ons optrede uit te straal. Laat ons dan mekaar vurig liefhê (vgl. 1 Petr. 4:8); vurig bid (vgl. Jak. 5:16); nie traag wees in ons ywer nie, maar die Here vurig van gees dien (vgl. Rom. 12:11) en dit “des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr. 10:25)

“Die Heilige Gees en jou lewe in die eindtyd” – deur ds. Ruan Combrink

Die rol wat die Heilige Gees in die lewens van gelowiges speel om hulle toe te rus vir ’n lewe in die eindtyd met die oog op die wederkoms van die Here Jesus Christus. 

  • Die Heilige Gees bekragtig geloof
  • Die Heilige Gees maak ons heilig
  • Die Heilige Gees bemoedig en bou op in onseker tye
  • Die Heilige Gees bemagtig volharding te midde van verdrukking
  • Die Heilige Gees bewerk standvastigheid teenoor teenstanders van buite
  • Die Heilige Gees werk onderskeidingsvermoë teenoor onordelikes

Die Heilige Gees bekragtig geloof

Teksvers: Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige
Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het
(v. 5).

Die versoeking is groot om te midde van ekonomiese krisisse, droogtes, pandemies en politieke magspeletjies tot die gevolgtrekking te kom dat die laaste tye nou aangebreek het en die wederkoms van die Here Jesus op hande is. Die mens is egter gebonde aan tyd. Ons kan, wat ons aardse lewe betref, net in een tyd leef en al dink ons ons lewe in ’n unieke tyd, is die realiteit dat gelowiges in elke geslag sedert die hemelvaart van die Here dieselfde waarnemings gemaak het. Die rede hiervoor is dat die eindtyd juis die tydperk tussen die hemelvaart en die wederkoms van die Here is.

Reeds in die vroegste gemeentes is daar ’n fokus op hoe die lewe van ’n gelowige moet lyk in afwagting van die wederkoms van Christus. Hierdie fokus is prominent regdeur die twee briewe aan die Thessalonicense. Reeds hier in hoofstuk 1 vers 9-10 word verwys na ’n lewe waarin die gelowiges die lewende, waaragtige God dien en sy Seun uit die hemele verwag.

Wat egter dikwels amper mis gelees word, is die rol en die werking van die Heilige Gees in die lewens van die ge­lowiges wat in hierdie eindtyd moet leef. Net soos die klem op die wederkoms deurlopend prominent is in die briewe aan die Thessalonicense, is die verwysings na die werking van die Gees ook kenmerkend.

In die verloop van hierdie reeks kyk ons na verskil­len­de aspekte van die werking van die Heilige Gees in aan­loop tot die wederkoms. Eerstens bekragtig die Gees van God geloof!

Die apostel Paulus sê in vers 5 aan die Thessa­lo­ni­cense dat die evan­gelie tot hulle kom in:

  • Woord
  • Krag
  • Die Gees
  • Volle versekerdheid
  • Woord
  • Krag

Nie een van hierdie elemente staan los van mekaar nie. Die kragtige werking van die Heilige Gees werk volle versekerdheid in die Woord van die evangelie. Ons kan praat van die Woord as die middel waardeur geloof gewerk word, die krag as die bewys dat dit gewerk is, die Gees as die oorsaak wat dit bewerk en die volle versekerdheid as die gevolg daarvan.

Die Woord as die middel

Wanneer Paulus sê dat die evangelie nie tot die Thessa­lo­ni­cense gekom het “in woord alleen nie”, is die veron­der­stelling dat dit wel in woord gekom het. Hierop word eenvoudig nou uitgebrei. Die evangelie het dus wel tot hulle gekom deur die verkondiging van Paulus en sy me­de­werkers. Die verkondiging is immers die middel waar­deur God ge­loof bewerk. Romeine 10:17 stel dit so duidelik: Die ge­loof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

’n Verdere belangrike aspek om raak te sien, is wat die woord is. Die woord wat verkondig is, is evangelie – let­ter­lik goeie nuus of ’n blye boodskap. Dit gebeur so dikwels dat die kerk haarself laat definieer deur die dinge waarteen sy gekant is en nie deur dit waarvoor sy staan nie. Die kerk moet natuurlik gekant wees teen al­les wat onbybels is, maar die goeie nuus is die ver­los­sing deur die kruis van Jesus Christus. Vers 6 sê die Thes­sa­lo­nicense ontvang die woord met blydskap, selfs in hul verdrukking, en vers 8 beskryf hoe die woord van die Here ook verder deur hulle verkondig is, nie net in Macedónië en Acháje nie, maar op elke plek.

Krag as die bewys

Die evangelie kom egter nie net in woord nie, maar ook in krag. Die Griekse woord, dunamis, is die oorsprong vir ons woorde dinamo, dinamies en dinamiet. Paulus gebruik dikwels hierdie woord in hierdie verband in sy briewe. Waar die Woord in goeie grond val en wortel skiet, bewerk die Gees van God ’n kragtige getuienis.

In die geval van die Thessalonicense het dit hulle weg­ge­draai van hulle afgode af om die lewende God te dien (v. 9). By die Thessalonicense was die kragtige, di­na­mie­se wer­king van die Gees duidelik sigbaar, sodat die apostels nie nodig het om iets daarvan te sê nie. Die di­na­miese werking van die Gees is ’n bewys van die le­wen­de geloof waarvan Jakobus 2 praat en dit is ’n on­mis­ken­bare ge­tuie­nis. Luister na die woorde van Paulus in 1 Korinthiërs 2:4-5.

… en my rede en my prediking was nie in oor­re­dende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.

Die Heilige Gees as oorsaak

In 2 Timótheüs 3:1-5 vind ons ’n beskrywing van die men­se wat in die laaste dae ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën:

Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulle­self wees, geldgieriges, grootpraters, trots­aards, lasteraars, on­ge­hoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, son­der natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, ban­deloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van god­sa­lig­heid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

As die evangelie nie tot ’n mens in woord en krag en in die Heilige Gees kom nie, sal daar bloot ’n gedaante van godsaligheid wees, terwyl die vrugte wat voortgebring word, sal uitwys dat die ontvangers daarvan mense met onbekeerde harte is.

Dit is die Gees van God wat geloof in ’n mens se hart werk. Dit is die Gees van God wat wederbaar. Dit is die Gees van God wat deur die Woord van God werk. Dit is die Gees van God wat die dinamiese krag voorsien. Dit is die Gees van God wat ons van ons afgode laat wegdraai om die lewende God te dien en dit is die Gees van God wat ons in die laaste dae, te midde van onbekeerde massas, vervolging, rampe en pandemies, die Seun van God uit die hemele laat verwag (v. 10).

Volle versekerdheid as die gevolg

Paulus sê ook dat die evangelie tot die Thessalonicense in volle versekerdheid gekom het. Dit is die uit­wer­king wat die Heilige Gees het. Die Heilige Gees verdryf ons onsekerheid sodat ons volle versekerdheid in die evangelie van Jesus Christus kan hê. Dit was immers vir Pau­lus die geval. Hy be­twy­fel telkens sy eie vermoë. Hy leef met ’n doring in die vlees en beklemtoon dikwels sy eie swakheid. In die evangelie wat hy verkondig, het hy egter volle se­kerheid. Dit is die effek wat die kragtige werking van die Gees deur die Woord op Paulus het en wat ook na die Thessalo­ni­cen­se deursuur.

 Slot

Die Here Jesus laat nie sy kerk in die laaste dae alleen nie. Ná sy hemelvaart stuur Hy aan ons sy Gees. Deur die Gees kan ons met volle versekerdheid en in diens van die lewende en waaragtige God, die evangelie van Christus in woord en krag verkondig terwyl ons sy Seun uit die hemele verwag.

Die Heilige Gees maak ons heilig

Teksvers: Want dit is die wil van God: julle heiligmaking … Want God het ons nie tot
onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie
’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het
(v. 3, 7, 8).

Wat is God se wil vir die lewe van gelowiges? Hierdie is ’n belangrike vraag om te vra. As jy weet wat God se wil vir jou is, kan jy begin om te soek na die regte middele en na die gepaste strategie om dit uit te voer.

Die vraag kan dalk wel ’n bietjie breed gestel wees en ’n mens sou dit verder kon verfyn deur te vra: Wat is God se wil vir gelowiges wat in die eindtyd leef – in die tyd ná die hemelvaart van die Here Jesus en wat sy we­der­koms verwag?

1 Thessalonicense 4 antwoord hierdie vraag baie spesifiek, juis binne die konteks van die verwagting van die wederkoms. Die hele brief fokus herhaaldelik op die we­der­koms van die Here:

  • 1:1 praat van die Thessalonicense se “… hoop op onse Here Jesus Christus …”
  • 1:10 praat van hoe hulle God dien en sy Seun uit die hemele verwag.
  • In 2:19 noem Paulus hulle sy hoop of blydskap of kroon van roem “in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms”.
  • In 3:13 bid Paulus dat hulle harte versterk sal word en hulle onberispelik sal wees in heiligheid “… voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges”.
  • Die eerste verse van hoofstuk 4 is ’n verduideliking van hoe die wederkoms sal plaasvind.
  • In die slot van die brief word weer gebid vir die hei­lig­making en die bewaring van die liggaam en siel van die gemeentelede “…by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (5:23).

As 1 Thessalonicense 4 dan vir ons aandui wat God se doel vir die lewe van gelowiges is, is dit baie spesifiek binne die konteks van die eindtyd en van ’n lewe wat die wederkoms van die Here Jesus verwag. Hierdie hoofstuk gee ons egter nie net die antwoord op die vraag van wat God se wil vir ons lewe in die eindtyd is nie, maar ook hoe Hy ons in staat stel om dit te doen.

Wat is God se wil vir gelowiges?

1 Thessalonicense 4 antwoord dié vraag in vers 3: Dit is die wil van God: julle heiligmaking. Vers 7 voeg by: God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.

Die aspek wat Paulus gebruik om die punt te illustreer, is dié van seksuele sonde. Daar is twee maniere hoe die mens seksuele begeerte kan gebruik.

  • Soos die heidene wat God nie ken nie (v. 5).
  • Volgens die bevele wat die apostels deur die Here Je­sus gee (v. 2).

Die manier van die heidene word beskryf as hoere­ry (v. 3) en hartstogtelike begeerlikheid (v. 5) wat ander bedrieg en benadeel (v. 6). John Piper definieer wellus as seksuele begeerte wat ontaard het in dade wat God minag en die eer van mense skend, veral die mense wat aan die ontvangkant van die wellus is.

Seksuele begeerte word sonde en hoerery wanneer dit ge­stroop word van die Bybelse vereistes van liefde en ag­ting vir God en die naaste. Seksuele begeerte is egter hei­lig as elkeen weet om sy eie vrou in heiligheid en eer te verkry.

God se wil vir gelowiges is heiligmaking. God eis dat ge­lo­wiges teen sonde stry. 1 Petrus 2:11 sê die vlees­li­ke begeertes voer stryd teen die siel. Heiligmaking is ’n stryd waarin ons gees teen ons eie vlees stry. Die vraag is dan hoe ons daardie stryd kan wen?

Hoe kan ons dit uitvoer?

Vers 8 sê dat hy wat die heiligmaking verwerp, nie ’n mens verwerp nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het. God gee sy Gees juis vir hierdie doel. Die Heilige Gees maak heilig. Luister na Efésiërs 5:17-18 oor die wil van die Here:

Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

En ook Gálasiërs 5:16-18: Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

Deur die leiding van die Heilige Gees word ons geheilig. Ons moet egter besef dat ons nie elke gevoel of gier wat in ons opkom aan die Gees kan toeskryf nie. Gelowiges moet leer om te onderskei watter dinge van die Gees af kom. Jeremia 17 waarsku dat die hart bedrieglik is bo alle dinge. Elke gevoel moet aan die Skrif getoets word om uit te vind of dit van die Gees is of uit ons eie bedrieglike hart (vlees) spruit.

Die Gees werk egter ook deur omstandighede. Uit Han­delinge 16:6-7 kan afgelei word dat die Gees van God die omstandighede so beskik het dat Paulus en sy mede­werkers nie na Asië kon reis nie. Die Gees werk ook deur die medegelowiges in wie se harte Hy woon. So vermaan Spreuke 12:15 ons ook om te luister na raad. Uiteindelik kan ons ook uit Filippense 4:7 leer dat ons groot vrede kan beleef wanneer ons al ons begeertes in gebed en smeking met danksegging by God bekendgemaak het.

Slot

Om heilig te wees, beteken om anders te wees – afge­son­der vir God. Die voorbeeld van seksuele kuisheid waar­deur elke man hom in heiligheid en eer aan sy eie vrou verbind en die opdrag om te werk (v. 11), her­in­ner sterk aan die skeppingsorde van Génesis 1 en 2. Heiligmaking is om elke dag meer en meer te lewe volgens God se wil uit dankbaarheid vir die verlossing in Jesus Christus.

Dit is in hierdie laaste dae die Heilige Gees wat ons heilig maak.

Die Heilige Gees bemoedig enbou op in onseker tye. 

Teksvers: Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op …
(4:18 en 5:11).

Ons lewe in die eindtyd. Paulus se briewe aan die Thes­salonicense maak dit duidelik dat die eerste ge­meen­tes reeds met die verwagting van die wederkoms van Christus geleef het. Omdat ons in die eindtyd leef en die tekens van die tye sien, behoort dit seker dan nie vreemd te wees om voorspellings aangaande die einde van die wêreld te hoor nie.

Elke paar jaar is daar weer iemand, gewoonlik ’n leier van een of ander godsdienstige groep, wat seker is dat die oordeelsdag of die wegraping op een of ander bepaalde datum sal plaasvind.

Die vraag is: Wat maak ons daarmee?

Die antwoord wat hierdie gedeelte hierop gee: Weet wat om te verwag; weet hoe om daarop te wag en weet om mekaar intussen te bemoedig en op te bou.

Weet wat om te verwag

Vers 13 maan dat gelowiges nie onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie. Om kennis te hê van wat met die wederkoms sal gebeur, behoort by ongelowiges ’n troostelose smart en diepe angs tuis te bring, maar vir gelowiges beteken dit om nie te treur soos die ander wat geen hoop het nie. In Paulus se beskrywing van wat sal gebeur, vestig hy die sekerheid van die gelowige met betrekking tot die wederkoms in die eerste koms van die Here. As ons glo dat die Here Jesus gesterf en opgestaan het, dan kan ons sekerheid hê dat hulle wat in Christus ontslaap het, saam met Hom sal kom by sy wederkoms. Vers 15 bevestig “… deur die woord van die Here …” dat die lewendes die ont­slape­nes nie voor is nie.

Wat gelowiges ook moet besef, is dat hierdie weder­koms, hoewel dit onmoontlik is om die tyd daarvan te bepaal, nie in die geheim sal plaasvind nie. Die gedagte van ’n gehei­me wegraping waarin gelowiges bloot van die aarde af sal verdwyn en niemand wat oorbly sal weet wat gebeur het nie, word deur vers 16 weerlê. Hier word gepraat van:

  • Die Here wat uit die hemel neerdaal met ’n geroep
  • Met die stem van ’n aartsengel
  • Met die geklank van die basuin

Hier is geen sprake van ’n stille, geheimsinnige wegra­ping nie, maar van ’n majestueuse gebeurtenis terwyl die hemele weergalm! Baie van die voorspellings van die einde van die wêreld maak staat op ’n soeke na ge­hei­me boodskappe in die Bybel. Jou troos lê egter nie in dit wat verborge is nie, maar in dit wat geopenbaar word. Openbaring 1:7 sê dat die Here op die wolke sal kom en dat elke oog Hom sal sien!

Weet hoe om daarop te wag

Paulus gaan voort in hoofstuk 5 en sê dat dit nie nodig is om oor die tye en geleenthede te skryf nie. Die Here Jesus antwoord sy dissipels op ’n baie soortgelyke wyse as hulle in Handelinge 1:6-8 oor die vestiging van die koninkryk uitvra. Die dag van die Here kom soos ’n dief in die nag. Ons sal nie weet wanneer nie, maar dit is ook nie wat saak maak nie. Wat saak maak, is wat ons doen terwyl ons wag. Volgens die eerste verse in hoofstuk 4 is God se wil vir gelowiges heiligmaking en Hy het sy Gees daarvoor gegee.

Mense wie se vrede en veiligheid nie in Christus is nie, maar wat in die duisternis leef, sal soos deur barensnood oorval word en, sê vers 3, hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Ook dit spreek teen die idee van ’n wegraping. Die verderf kom saam met die verlossing tydens die dag van die Here en niemand ontvlug nie. Daar bly geen tweede kans vir ongelowiges oor nie.

Gelowiges moet hulle nie oor die wanneer van die we­der­koms bekommer nie. Hulle moet hulle bepaal by wat God se wil vir hulle lewens is – heiligmaking – ’n le­we in die lig en nie in die duisternis nie. Luister na Efé­siërs 5:8-9:

Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

Om in die lig te lewe is die vrug van die Heilige Gees van God. Die Gees berei ons voor vir die koms van die Here Jesus deur ons in die lig te laat wandel. Hy stel ons in staat om wakker en waaksaam te wees.

Bemoedig en bou mekaar op

1 Thessalonicense 4:18 word gebruik as oorgang van die beskrywing van wat by die wederkoms sal gebeur na hoe gelowiges daarop moet wag. Die gedagtegang van hoofstuk 5 word dan afgesluit met dieselfde oproep as in 4:18: “Bemoedig mekaar.” Hier word bygevoeg: “… en bou die een die ander op …” Die Heilige Gees leef in elke gelowige, maar werk nie in isolasie nie. Die Gees bind gelowiges saam tot die liggaam van Christus waar­in hulle mekaar slyp, vermaan, bemoedig en leer.

Slot

Onder die inspirasie van die Heilige Gees is aan ons as gelowiges in hierdie brief ook geopenbaar wat ons moet weet met betrekking tot die wederkoms, hoe ons daarop moet wag en dat ons mekaar daarin moet bemoedig en opbou.

Mag daar ook van ons gesê word: “… soos julle ook doen.”

Die Heilige Gees bemagtig gelowiges tot volharding te midde van verdrukking 

Teksvers: Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof
grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, sodat ons
self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle
vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur …
(2 Thes. 1:3-4).

Die dwalinge van welvaartsteoloë is deesdae volop. Hulle leer dat gelowiges voorspoed op alle terreine van die lewe behoort te verwag. Wat die gewildheid van hierdie dwaling so frustrerend maak, is die feit dat dit ’n dwaling is wat, soos dikwels die geval is, baie Bybels klink, maar die waarheid effe verdraai en mense so op ’n dwaalspoor lei. Mense word op sleeptou geneem deur ’n dwaling wat lynreg teen die leer van die Here Jesus indruis!

In die bergrede waarsku Hy: Salig is die wat ver­volg word ter wille van die ge­reg­tigheid, want aan hulle behoort die ko­ninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en ver­heug julle om­dat julle loon groot is in die he­me­le; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het (Mt. 5:10-12).

In Lukas 21:12 leer die Here ons wat in die laaste dae sal gebeur en waarsku Hy weer dat die einde deur ver-
volging voorafgegaan sal word:

Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in si­na­goges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Diens­kneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar (Joh. 15:20).

Vele ander voorbeelde kan nog genoem word, maar hier­die waarskuwing van vervolging in Johannes 15 sluit die Here af met ’n belangrike troosboodskap in vers 26:

Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig. En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.

Die gelowiges wat in die laaste tyd lewe, sal beslis gebuk gaan onder verdrukking en vervolginge, maar die Here Jesus het sy Gees gestuur om te midde van vervolginge en verdrukking, in getuienis te volhard. Dit is die werking van die Gees in die Thessalonicense wat Paulus dank­baar maak, hom God se geregtigheid laat besing en hom dring om vir hulle te bid.

Paulus se dankbaarheid

Ná sy groetwoord is die eerste saak wat Paulus aanraak sy dankbaarheid vir hierdie gemeente. In vers 3 noem hy twee redes vir sy dankbaarheid. Hy noem hulle geloof wat grootliks toeneem en hy noem die wederkerige lief­de wat by hulle elkeen groter word.

Wie met Paulus goed bekend is, sal waarskynlik ver­wag dat as hy geloof en liefde noem, hy ook oor hoop sal skryf. Geloof, hoop en liefde, wat 1 Korinthiërs 13:13 as die bly­wende gawes van die Gees beskryf, word gewoonlik deur Paulus in kombinasie gebruik. Waar jy twee van hulle kry, verwag jy die derde, veral omdat hy reeds in die eerste brief by twee geleenthede hierdie drie woorde saamgevoeg het (vgl. 1 Thes. 1:3 en 1 Thes. 5:8).

Hier word die hoop egter nie bygevoeg nie, maar word in vers 4 gepraat van die volharding in geloof onder ver­vol­ginge en verdrukkinge. Lees ’n mens egter Romeine 5:3-5, word dit duidelik dat die hoop nie verlore geraak het nie, inteendeel!

En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die ver­druk­kinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Paulus laat nie hoop uit nie. Hy wil die klem plaas op die verdrukkinge omdat dit lydsaamheid werk en lydsaamheid beproefdheid en beproefdheid bewerk hoop wat nie beskaam nie. Hoekom beskaam die hoop nie? Omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Dit is die Gees van God wat die gelowige in geloof, hoop en liefde laat volhard in tye van verdrukking.

God se geregtigheid

Vers 5-10 plaas die verdrukkinge en vervolginge van gelowiges binne die groter raamwerk van God se ge­reg­tig­heid. Aan die een kant is die vervolginge wat die gelowiges verduur ’n teken van die regverdige oordeel van God – dat hulle die koninkryk waarvoor hulle ly, waardig geag mag word (v. 5). Die bedoeling hier is nie dat enige mens deur genoeg lyding die koninkryk kan bekom nie. Die woord wat hier met “waardig” vertaal word, dra die gedagte van iets wat gepas is. Om vervolging te verduur, pas in by die lewe van gelowiges.

Kortom is die bedoeling dat die regverdige oordeel en ge­nade van God waardeur ons gered is, bevestig word deur die groei in geloof, hoop en liefde – selfs te midde van vervolginge.

God se geregtigheid behels om deur sy reddende genade uit sy oordeel verlos te wees. Diegene wat nie deel het aan die redding nie, sal deel hê aan die oordeel van God. Ook die oordeel van die vervolgers wat in verse 6 tot 9 be­skryf word, is ’n bewys van God se geregtigheid.

Gelowiges wat in die eindtyd leef, sal verdrukking ver­duur, maar leef ook met die verwagting van die wederkoms. Vers 10 beskryf hoe die Here Jesus by sy wederkoms verheerlik sal word en deur sy heiliges bewonder sal word. Vers 7-9 beskryf sy koms vir diegene wat die evangelie nie glo nie as ’n ewige verderf weg van die aangesig van die Here.

Die gedagte aan God wat sy aangesig wegdraai, is ’n vrees­aanjaende een. Gelowiges moet goed besef dat dit ten diepste is wat aan die kruis gebeur het – God draai sy aangesig weg van sy Seun en die hele aarde verval in duis­ternis wanneer die oordeel wat ons verdien, deur ons Ver­losser gedra word. Ons kan met hoop onder ver­druk­kinge van mense leef, omdat die Here Jesus namens ons gebuk gegaan het onder die oordeel van God.

Paulus se gebed

Paulus sluit af met ’n gebed vir die gemeente in vers 11-12 en daarin vind ons weer die woordjie ‘waardig’. Hierdie keer met betrekking tot die roeping. Paulus bid dat hul lewens by hul roeping sal pas. So sal God die welgevalle van wat goed is en die werk van die geloof met krag volkome maak, sodat die Here Jesus in hulle verheerlik kan word en hulle in Hom.

Mag hierdie wonderlike gebed ook vir elke gelowige waar wees.

Die Heilige Gees bewerk standvastigheid teenoor teenstanders van buite

Teksvers: Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle
van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid …
(v. 13).

Paulus spreek weer hier met die oog op die weder­koms van die Here Jesus (v. 1) en die woorde van vers 2 klink waarskynlik bekend. Hy pleit by gelowiges om nie hul verstand te verloor of verskrik te word wanneer hulle boodskappe of briewe met aansprake oor die dag van die Here ontvang nie.

In hierdie geval blyk dit dat die boodskap was dat die dag van die Here reeds aangebreek het. Die woorde wat Paulus in vers 2 gebruik, skep die idee dat iemand dalk aan hulle ’n brief in sy naam gestuur het. Die wyse waar­op die boodskap hulle bereik het, is nie so belangrik nie. Die gevaar is dat hulle dit sou glo, hul verstand sou verloor en verskrik sou raak.

In vandag se tyd is dit waarskynliker dat iemand ’n YouTube-opname oor die eindtyd sal maak – die dag van die Here of die tekens van die tye. Die effek bly egter die­selfde. Mense verloor hulle verstand en word verskrik. Markus 13:7 gebruik dieselfde woord om te waarsku dat mense nie opgewerk moet raak oor oorloë nie, aangesien dit ook nog nie die einde aandui nie.

Die doel van die verse wat daarna volg, is om die ge­meen­te in Thessalonika te maan om in die leer van die apos­tels vas te staan. Paulus versterk hierdie stand­vas­tig­heid deur te wys op God se beheer, die besliste ge­vol­ge van elke reaksie op die waarheid en deur sy ge­be­de
vir hulle.

God se beheer

Vers 3 tot 10 stel die dwaling reg waardeur die ge­meen­te mislei is en wys op drie dinge wat moet gebeur voor die we­derkoms van die Here Jesus:

  • Afvalligheid (v. 3)
  • Die mens van sonde moet geopenbaar word (v. 3)
  • Wat teëhou, moet uit die weg geruim word (v. 6-7)

Wat opvallend is van hierdie verse, is hoe vaag Paulus daaroor is. As hy die gemeente wou gerusstel met inligting oor wat in die laaste dae moet gebeur voordat die wederkoms plaasvind, sou ’n mens verwag dat hy dit baie duidelik en in groot besonderhede sou bespreek.

In hierdie beskrywing is dit egter onseker wie die mens van sonde is. Hy word ook die seun van die verderf genoem, oftewel een wat in die verderf gestort sal word. Judas word in Johannes 17:12 so genoem. Uit die ver­de­re beskrywing in vers 4 blyk dit ’n beskrywing van die An­ti­chris te wees. Uit 1 Johannes 2:18-22 blyk dit egter dat die Antichris nie noodwendig net na een persoon ver­wys nie. Word hier dus gepraat van ’n spesifieke per­soon of van ’n ideologie of ’n beweging?

Ook die een wat die openbaring van die mens van die son­de teëhou, is ’n baie vae verwysing. Ongeslagtelike voor­naam­woorde word gebruik om te verwys na die een wat teëhou. Is dit ’n persoon, ’n krag, of die Gees van God?

Selfs wat die afval presies behels, is onseker. Is dit gelo­wi­ges wat afvallig word, verwys dit na die verval van etiese standaarde in die wêreld oor die algemeen, of verwys dit na ongelowiges wat al hoe boser word?

Die enigste duidelikheid en sekerheid in hierdie verse skemer eers in vers 8 deur, waar belowe word dat hierdie teenstander deur die asem van God verdelg en deur die verskyning van die wederkoms van die Here Jesus tot niet gemaak sal word. Hierdie beskrywing van die Here Jesus is reeds in Jesaja 11 geprofeteer. Dit gee meer inligting oor die rol wat die Gees van God hierin speel in die beskrywing van die Messias:

Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here … maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak (Jes. 11:1-2, 4b).

As Paulus se doel was om standvastigheid te versterk deur inligting te gee, sou hy sekerlik meer besonderhede verskaf het. Paulus se fokus val egter nie op wat die teenstander doen en wie hy is nie. Die fokus val op God se beheer. Wat duidelik is, is God se beheer – sy be­heer van die tyd, die gebeure en die uiteinde daarvan.

Aanvaarding of verwerping van die waarheid

In die volgende verse word die kontras gestel tussen die­gene wat verlore gaan (v. 10-12) en diegene wat deur God bemin is en verkies is tot saligheid (v. 13) Die ver­skil tussen die twee kom neer op hulle reaksie op die waar­heid. Diegene wat behae gehad het in die ongereg­tig­heid, het nie die waarheid geglo nie. Diegene wat deur God bemin is, is uitverkies tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid waartoe hulle geroep is deur die evangelie van die apostels. Dit alles om die heerlikheid van die Here Jesus Christus te verkry.

Die beskrywing van die verlorenheid fokus op die keuses van die mens. God stuur hulle die krag van die dwaling om die leuen te glo (v. 11), omdat hulle die waarheid nie aangeneem het nie en behae gehad het in die ongeregtigheid. God gee hulle oor, soos ook in Romeine 1, aan die keuses wat hulle maak en die sonde wat hulle kies om te doen.

Aan die ander kant is die fokus by die beskrywing van die gelowiges vierkantig op wat God doen. Paulus dank God vir hulle, want Hy bemin hulle en verkies hulle tot saligheid. Hy werk heiligmaking deur sy Gees in hulle, Hy skenk geloof in die waarheid waartoe Hy hulle roep en selfs die heerlikheid wat hulle daardeur verkry, is die heerlikheid van onse Here Jesus Christus!

Die mens stort homself in die verderf, maar die verlossing word deur God geskenk. Hy bewerk geloof deur sy Heilige Gees om die waarheid van die evangelie van die Here Jesus Christus te aanvaar. Paulus het hierdie evangelie aan die Thessalonicense verkondig. In vers 15 sinspeel hy weer op vers 2, maar hierdie keer doen hy ’n beroep op die gemeente om vas te hou aan die verkondiging en die briewe wat werklik van hom afkomstig is.

Paulus se gebed

Soos in die vorige gedeelte, sluit Paulus weer af met ’n gebed vir die gemeente. Hy pleit by die Here Jesus self en by God dat Hy hulle harte sal vertroos en hul werke en woorde sal versterk. Die Gees van God hou die gelowiges van die eindtyd standvastig in die leer van die apostels, nie op grond van ’n sekerheid oor wat gaan gebeur nie, maar op grond van ’n sekerheid in die God wat dit alles laat gebeur.

 Die Heilige Gees werk onderskeidingsvermoë teenoor onordelikes

Teksvers: … en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense … Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel … (v. 2, 6)

In 2 Thessalonicense 2:13-14 word dit duidelik gestel dat dit God is wat bemin, verkies tot saligheid, roep deur die evangelie, geloof in die Woord skenk en deur sy Gees heilig maak. Dit is ook Hy wat die heerlikheid van die Here Jesus aan gelowiges skenk.

In 2 Thessalonicense 3 word dit egter duidelik gemaak dat nie almal wat hulself in ’n geloofsgemeenskap bevind, hierdie geskenk ontvang nie. Die oproep van hierdie hoofstuk is dat diegene wat wel die Gees van God het, moet kan onderskei wie onordelik wandel sodat daar op die regte manier teenoor hulle opgetree kan word.

Die apostel Paulus begin sy laaste gedagtegang met ’n ge­bed, ’n aan­moediging en seënwense. Sy gebed in vers 1-2 is nie so­seer vir homself nie, maar vir die werk wat hy doen. Hy bid vir:

  • Die snelle verloop van die evangelie en die aanvaar­ding daarvan.
  • Verlossing van verkeerde en slegte mense.

Die kontras tussen diegene wat die geloof nie het nie (v. 2) en die trou van God (v. 3), is treffend in die Griekse grond­teks. Dieselfde stamwoord word gebruik wat dalk mak­liker na Engels vertaal as ‘faithless’ en ‘faithful’. Pau­lus se vertroue dat die gemeente dit wat hy in vers 4 beveel, sal doen, is gebaseer op hierdie troue God wat ver­sterk en van die Bose bewaar. Hierdie wete en die seën­wense van vers 5, lei die opdragte in wat hy van vers 6 af gee.

Bevele tot onderskeid en optrede

Die bevele wat Paulus gee, word genoodsaak deur men­se in die gemeente in Thessalonika wat as “onordelikes” beskryf word. Uit die gegewens blyk dit mense te wees wat beroering in die gemeente veroorsaak, omdat hulle nie self werk om hulself te onderhou nie, maar ’n las vir die gemeente word. Vers 11 se beskrywing kan letterlik vertaal word as ‘mense wat nie besig is met werk nie, maar besig lyk met werk’.

Die bevele wat Paulus dan gee, kom daarop neer dat die­gene wat die geloof deur die Gees van God het, moet kan onderskei wat onordelik is en op die regte wyse daar­teen kan optree.

Onderskeiding

Gelowiges moet volgens vers 6 onordelike lewenswandel kan onderskei. Die riglyne wat hiervoor aangevoer word, is om die gedrag van hierdie mense te toets aan die leer van die apostels (v. 6) en aan die voorbeeld wat hulle aan die gemeente gestel het (v. 7-9).

Paulus beskryf die optrede van homself en die ander apos­tels onder die gemeente, as gedrag wat nie on­or­de­lik was nie. Hulle voorbeeld was een van harde werk om hulself te onderhou. As apostels het hulle die gesag gehad om as leermeesters deur die gemeente onderhou te word (v. 9). Paulus kies egter om dit nie van hulle te ver­wag nie, sodat hulle nie verkeerde afleidings uit sy voorbeeld maak nie.

 ’n Verdere riglyn word in vers 14 gegee. Onordelikes kan onderskei word aan hul reaksie op die vermaning van Paulus in hierdie brief. Teenoor iemand wat nie op hierdie vermaning ag slaan en hom bekeer nie, die voor­beeld van die apostels nie navolg nie en nie volgens hul leer wan­del nie, moet gemeentelede optree.

Optrede

Die bevele van Paulus word gerig aan die broeders. Dit is die verantwoordelikheid van elke Geesgevulde in die gemeente om te onderskei en op te tree.

Gelowiges word in vers 6 beveel om hulle te ont­trek aan sulke onordelikes. Dieselfde opdrag word in Romeine 16:17 gegee met betrekking tot diegene wat tweedrag en aanstoot teen die leer van die apostels veroorsaak. Daar kry ons dieselfde woord in die Afrikaanse vertaling, naamlik om sulke mense te ‘vermy’. Sonde kan nie toegelaat word om ’n gemeente te deursuur nie en gelowiges moet leer om versigtig te kies met wie hulle assosieer en sosialiseer, selfs binne die gemeente!

Verse 10-11 se opdrag kom daarop neer om nie onor­delike gedrag te beloon nie. As hierdie mense nie wil werk nie, sal dit hulle verkeerde gedrag aanmoedig wanneer daar aangehou word om vir hulle te sorg. Ge­lowi­ges moet baie versigtig omgaan met barmhartig­heid. Goeie bedoelings kan tot onbybelse praktyke lei as dit nie deur die Woord van God getemper word nie.

Dit beteken egter nie ’n liefdelose verwerping van on­or­de­like mense nie. Hulle moet volgens vers 12 vermaan en beveel word om rustig te werk en hulle eie brood te eet. Vers 13 voeg die opdrag by om aan te hou goeddoen aan hulle. Onordelikes moet in liefde vermaan word met die doel om hulle te bekeer en as gehoorsame broeders te be­hou. Daarom die waarskuwing van vers 15 om hulle te vermaan as broeders en nie as vyande nie.

Gelowiges ontvang die Gees van God. Die Gees wat die Woord geïnspireer het, is ook die Gees wat gehoorsaamheid daaraan in die lewens van gelowiges moont­lik maak. Om te onderskei en op te tree, word saam met geloof aan ons geskenk as deel van die heiligmakende werk van die Heilige Gees.

Seënwense, handtekening en gebed

Paulus sluit af met die seënwense van die Here van vrede. Die effek van onderskeiding en Bybelse optrede, is die vrede van God in ’n gemeente. Paulus teken hiermee sy brief af in sy eie hand. Daar kan geen twyfel of verwar­ring wees van wie dit kom nie. Dit kom van een wat self die genade van die Here Jesus Christus deur die Gees van God deelagtig geword het. Mag God deur sy Gees ook die genade en vrede van God, in Jesus Christus aan elke gemeente toevoeg.

 

 

 

 

 

 

 

“Die kerkvaders se beskouing oor die duisendjarige vrederyk” – deur prof. Gerrit Smit

Die Skrif maak melding van ’n duisend jaar van vrede voor die wederkoms van Christus. Ons vind verwysings hierna in Jesaja 65:17-25; Lukas 20:35-36 en Openbaring 20:4-6. Die vraag is egter of die kerk die duisendjarige vrederyk (oftewel millennium) as ’n tydperk van letterlik een duisend jaar moet verstaan of as ’n simboliese getal wat op ’n lang en tog vasgestelde tydperk dui.

Die verskille in interpretasie oor hierdie vraag gee aan­lei­ding tot ’n vraagstuk in die teologie waarna ons as die pre-, post- en a-millennialisme ver­wys. Ons kan die ver­skille kortliks so aandui:

 a) Pre-millennialisme:

Die beskouing dat Christus eers sal kom en die gelowiges opneem in die hemel (“weg­raap”) en dat daar dan ’n letterlike dui­send­ja­ri­ge vre­de­ryk op aarde sal aanbreek, waarna Chris­tus finaal sal kom.

b) Post-millennialisme:

Die beskouing dat daar eers ’n duisendjarige vre­de­ryk op aarde sal aanbreek voor die wederkoms van Christus. Eers daarna sal Chris­tus kom. Sommige ver­staan die duisend­ja­ri­ge vrederyk as ’n tydperk en nie noodwendig ’n pre­sie­se duisend jaar nie. Volgens die beskouing van die post-millennialisme sal die kerk se invloed in die wêreld al meer toeneem, sodat die wêreld in hierdie tyd sodanig sal verchristelik dat daar ’n tydperk van vrede op aarde sal wees.

c) A-millennialisme:

Die beskouing dat die duisend­jarige vrederyk ’n simboliese getal is wat die tydperk sedert die hemel­vaart van Christus tot en met sy we­der­koms insluit. In hierdie tydperk word die mag van die Satan gebind, omdat hy reeds met die op­stan­ding oorwin is.

Vervolgens kyk ons wat die vroeë kerkvaders hieroor ge­leer het. Plek ontbreek ongelukkig om in besonderhede hierop in te gaan en daar word dus met ’n aantal kern­notas volstaan.

Die eerste vier eeue ná Christus pre-millennialisties?

Sommige teoloë beweer dat die kerkvaders voor die vier­de eeu uitsluitlik pre-millennialisties was.1 Diegene verwys gewoonlik na onder andere Barnabas, Papias en Justinus die Martelaar en sommige ander wat, volgens hulle, die beskouing oor die letterlike duisendjarige vrederyk op aarde geleer het.

Dit is wel waar dat die beskouing oor die letterlike vre­de­ryk by sommige vroeë kerkvaders voorkom. In die brief van Barnabas 15:4-5 word byvoorbeeld aangevoer dat een dag vir God soos duisend jaar is en dat Hy die skepping voltooi het in ses dae en op die sewende dag gerus het. Vir Barnabas beteken dit dat die geskiedenis sedert Adam sesduisend jaar sou duur, waarna die “Sabbatsrus” van ’n duisendjarige vrederyk sal aanbreek en die wederkoms sal volg. Ons vind dié gedagte ook by die kerkvader Papias.

In Justinus die Martelaar (110-165 n.C.) se Dia­loog met Trypho, hoofstuk 80, verdedig hy die leer van die letter­li­ke duisendjarige vrederyk, maar voeg daarby dat nie almal wat ware en op­regte gelowiges is, dié oortuiging deel nie. Dit is dus duidelik dat daar standpunte onder op­regte gelowiges teen die pre-millennialisme was, waarvan Justinus kennis gedra het.

Ons moet twee dinge in gedagte hou ten opsigte van som­mi­ge vroeë kerkvaders se aanvaarding van die let­ter­li­ke duisendjarige vrederyk. Eerstens moet ons onthou dat die vroeë kerk vir die eerste vier eeue, tot ongeveer 320 ná Christus, onder wrede vervolging deurgeloop het. Die beskouing oor ’n letterlike duisendjarige vre­de­ryk op aarde was in vele opsigte vir gelowiges in hierdie slegte omstandighede ’n troos, omdat dit die verwagting ge­skep het dat die bose gebind sal word, sodat die vervol­ging van die kerk tot ’n einde kan kom. Binne die konteks van die eerste eeue ná Christus, het die beskouing die doel gedien om gelowiges te laat uitsien na die oorwinning van die kerk oor die wêreld en die gevolglike koms van die dag van die Here. Tweedens hou die opinie dat die kerkvaders die pre-millennialisme geleer het, nie reke­ning met die feit dat die meerderheid kerkvaders nié die pre-millennialisme geleer het nie. Hier kan ons name noem soos: die pastor van Hermas, Klemens van Rome, Ig­natius, Irenaeus, Tatianus, Augustinus en vele meer. Die eerste vier eeue ná Christus was dus nie eksklusief pre-millennialisties met betrekking tot die duisendjarige vrederyk van Christus nie.

Post-millennialisme by die kerkvaders?

Die siening van die post-millennialisme, dat die let­ter­li­ke duisendjarige vrederyk op aarde die wederkoms van Christus voorafgaan, kom slegs by die kerkvaders Hip­po­lytus van Rome (170-236 n.C.) en Tertullianus (160-220 n.C.) voor. Gedagtes hieroor kom ook voor by Metho­dius van Olympus (vierde eeu ná Christus), maar dit is onseker of hy bloot kennis neem van die beskou­ing wat in sy tyd in die kerk voorgekom het en of hy dit self geleer het. Die beskouing van die post-millennia­lis­me was egter nooit baie gewild in die Christelike kerk nie en het eintlik eers sedert die negentiende eeu by van die pinksterkerke gewild geraak.

Augustinus oor die millennium

Die beskouing dat die duisendjarige vrederyk verstaan moet word as ’n simboliese tydperk, het veral in die teo­logie van die kerkvaders van Aleksandrië voorgekom, by name Klemens van Aleksandrië, Origenes en Diony­sius. Hoewel hierdie name nie gewild onder sommige gelowiges is nie, het die kerkvader Augustinus veral op die beskouing van die kerkvaders van Aleksandrië voortgebou met betrekking tot die leer oor die millennium. Augustinus was aanvanklik pre-millennialisties, maar het met verloop van tyd sy standpunt oor die vrederyk verander na a-millennialisties. Augustinus kan hierna beskou word as die vader van die a-millennialistiese be­skouing van die eskatologie (leer oor die eindtyd), wat die duisendjarige vrederyk as ’n simboliese tydperk tus­sen die hemelvaart van Christus en sy wederkoms ver­staan het.

Augustinus se verstaan van die millennium het se­dert­dien verreweg die grootste invloed op die Westerse ker­ke gehad. Hy het die teenswoordige wêreld verstaan as ’n stryd tussen die “stad van God” en “die stad van Satan” oftewel, ’n stryd tussen die kerk en die wêreld. Volgens Augustinus leef die gelowige sedert die he­melvaart van Christus in die duisendjarige vrederyk, waarin Satan reeds oorwin is. Volgens sy verstaan van Lukas 10:18, het hy geleer dat die binding van Satan reeds tydens die aardse bediening van Christus plaasgevind het, so­dat Satan nie die kerk van Christus sal of kan oorwin nie, al het hy nog beperkte mag om chaos op aarde te veroorsaak en die kerk te vervolg (Augustinus, Stad van God, XX, bl. 8). Augustinus meen verder dat hoewel die Satan beperkte mag het, die stryd tussen die kerk en die bose voortwoed, totdat Christus eendag weer kom. Augustinus het wel gedink dat die verloop van die simboliese duisendjarige vrederyk in sy tyd reeds so ver gevorder het, dat Christus se koms baie naby was. Hy wys egter daarop dat elkeen ’n mening het oor wanneer die wederkoms gaan plaasvind en dat al sulke pogings verniet is, aangesien dit net God is wat weet.

Dié a-millennialistiese standpunt van Augustinus, wat die simboliese duisendjarige vrederyk aanvaar, was voorts die standpunt wat in die hoofstroom van die Westerse kerke van dié tyd af nagevolg is tot en met die tyd van die Protestantse Reformasie en ook daarna.

Die kerkhervormers het hulle reformatoriese leerstellinge veral uit die kerkvaders se denke, soos onder andere dié van Augustinus, geput. Dit is daarom te verstane dat die a-millen­nia­lisme deur kerkhervormers soos Luther, Calvyn, Melanchton en Bullinger geleer is en in die teo­logie van groot name soos BB Warfield, Geer­hardus Vos, Louis Berkhof en Herman Rid­der­bos voorkom.

Die Lutherse kerke het ’n amptelike standpunt teen die leer van die pre- en post-millennialisme ingeneem en bely in die Augsburgse konfessie, artikel 17, die standpunt van die a-millennialisme.

Wat Calvyn betref, leer hy byvoorbeeld in sy Institusie (XXV, 5) dat die duisendjarige vrederyk van Openba­ring 20 nie letterlik verstaan moet word nie, maar dat die duisendjarige tydperk eerder herinner aan die baie swaarkry wat die kerk hier op aarde beleef het en nog sal beleef. Op ’n ander plek (Institusie III, 25) herhaal Calvyn dat die tydperk van ’n duisend jaar, wat graag aangehaal word deur die mense wat die millennium leer, nie na die seën van die kerk verwys nie, maar na die baie swaarkry wat die kerk nog gaan beleef.

Ten slotte

Die Nuwe Testament en die vroeë kerkvaders leer konsekwent dat die koninkryk van God nou hier op aarde teenwoordig is, maar dat dit nog nie volheid bereik het nie. Ons het reeds die koninkryk, maar ons sal eers met die koms van Christus die koninkryk ten volle erf.

Die Nuwe Testament beskou ook, na my mening, die duisendjarige vrederyk as ’n simboliese getal wat verwys na die heerskappy van Christus in hierdie tyd (die “reeds” van die koninkryk) totdat Hy weer kom (die “nog nie” van die koninkryk). Ek is oortuig dat dit die standpunt is wat die meerderheid kerkvaders geleer het.

Die “alreeds, maar nog nie” van gereformeerde eskatologie – deur ds. Greyling van Rooyen

Die afgelope maande, veral in die lig van die CO­VID-19-entstof wat versprei word en die verskeie teo­rië wat daarmee hand aan hand loop, is die gesprekke rond­om die tekens van die eindtye met nuwe vuur hervat. Die omstandighede het aanleiding gegee tot baie on­se­kerhede waarvoor antwoorde gesoek word, ook op die vak­gebied van Eskatologie.1 Almal staan nou op die fi­guur­like wagtoring en kyk stip na die horison van wê­reld­se gebeure vir enige teken wat sou aandui dat die eindtyd aangebreek het.

Om egter die saak op so ’n wyse te benader, is om ’n groot fout te maak, want dan veronderstel ons dat die eind­tyd ’n gebeurtenis is waarop ons wag en wat nog moet plaasvind. Dit is tog nie wat a-millennialisme be­hels, en hoe ons daaroor dink nie. Wanneer ons praat oor a-millen­nialisme, die groot verdrukking en die tekens van die tye, soos in die gereformeerde leer vervat, is daar drie punte waarop ons baie mooi moet let:

  • Christus het rééds die oorwinning behaal;
  • sy koninkryk het rééds op aarde aangebreek; en
  • ons leef rééds in die laaste dae.

Wanneer ons hierdie drie punte verstaan, lei dit tot ’n be­ter begrip rondom die groot verdrukking en die te­kens van die tye – dit wat alles reeds gebeur het, maar ook dit wat nog nie tot vervulling gekom het nie.

Christus het reeds die oorwinning behaal

Deur sy koms, volkome gehoorsame lewe, sterwe aan die kruis en opstanding uit die graf, het Christus die son­de en die dood oorwin. Die gevolge van Adam se on­ge­hoor­saamheid, naamlik die verdorwenheid van alle mense, is deur Christus as die volmaakte Adam oor­win. Met ons Here se eerste koms is die skuld vir die gelowiges se sonde vereffen en deel ons reeds in sy oorwinning. Romeine 8:37: Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

Steeds verlang ons egter in afwagting na Christus se we­der­koms wat nog nie plaasgevind het nie. Met die wederkoms sal Christus se oorwinning tot voleinding gebring word, hoewel dit reeds volkome aan die kruis bewerk is. Dus, al het Christus reeds die oorwinning behaal en is ons reeds meer as oorwinnaars in Hom, leef ons steeds in ’n wêreld gekenmerk deur die sonde wat nog nie finaal vernietig is nie. Daarom sal elke skepsel op aarde op ’n dag die einde van sy lewe hier bereik as gevolg van die sonde wat in die wêreld gekom het.

Aangesien ons reeds die oorwinning in Christus toe­gereken word, beteken dit dat ons, wanneer ons die dag sterf, opgewek sal word om saam met Hom in die hemel te wees. Nie die fisiese dood, geestelike dood of ewige dood het meer mag oor ’n kind van God nie, al is die dood van lewende wesens nog nie iets van die verlede soos wat met die wederkoms sal gebeur nie.

 Die koninkryk van God het reeds gekom

Die koninkryk is terselfdertyd teenwoordig en toe­koms­tig. Om dit te verstaan, moet ons die aard van God se koninkryk begryp. Die koninkryk van God neem nie die vorm aan van ’n aardse koninkryk soos wat deur die Jode al vir eeue lank verwag word nie. Die koninkryk van God behels die heerskappy van God, in Christus, oor die hele geskape werklikheid en dit is reeds gevestig. Christus self sê in Matthéüs 12:28:

Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.

Die koninkryk sal egter eers ten volle geopenbaar word met die wederkoms van ons Here, wanneer die nuwe he­mel en aarde aanbreek. Daarom is die koninkryk ’n reeds teenwoordige werklikheid, maar behels ook ons toekomstige hoop op dit wat God as erfenis aan sy kin­ders belowe het. Ons leef reeds in God se koninkryk on­der sy heerskappy, maar sien uit na die volle mani­fes­tasie daarvan wat nog moet plaasvind.

Deur die fokus op die koms van ’n fisiese koninkryk te plaas, is die verwagting dat die wederkoms nie kan plaasvind voordat die Koning nie die volkome oorwinning behaal en algehele heerskappy het nie. So ’n leer stem ooreen met dit wat die post-millennialisme leer en staan loodreg teenoor die teenwoordige werklikheid en heerlike, toekomstige verwagting wat deur God in Christus bewerkstellig is.

 Ons leef reeds in die laaste dae

Wanneer verwys word na die laaste dae, moet ons besef dat dit die hele tydperk vanaf Christus se eerste koms tot en met sy tweede koms behels. Die oomblik toe Chris­tus die oorwinning behaal het en sy koninkryk geves­tig het, het die laaste dae reeds begin. Tog het die heel laas­te dag, die oomblik van Christus se wederkoms, nog nie aangebreek nie.

Dit beteken verder dat ons tans in die figuurlike duisend jaar van vrede lewe. Satan is reeds gebind en die kerk kan nie in geheel vernietig word nie. Tog doen Satan sy bes om dit reg te kry, omdat hy nog nie sy finale straf ont­vang het nie, al is die oordeel reeds uitgespreek. Vir ’n kort ruk sal hy losgelaat word net voor die aanvang van die laaste dag in die vervulling van die tyd.

Omdat ons in die laaste dae leef, was vervolging nog altyd deel van die kerk se bestaan sedert Christus se eers­te koms. Aangesien Satan reeds gebind is en sy oordeel reeds aangekondig is, maar hy nog nie in die poel van vuur gewerp is nie, ervaar gelowiges tegelykertyd oorwin­ning en vervolging. Hieroor stel Christus baie duidelik die volgende in Matthéüs 5:11:

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.

Slot

Om dit alles makliker te verstaan, moet ons die hele saak dalk anders benader. In stede daarvan dat ons kyk na oomblikke in die geskiedenis (bv. die sondeval, kruisi­ging, opstanding, wederkoms, ens.), moet ons eerder let op die tydperke waarin die geskiedenis verdeel word. Een gebeurtenis staan tog nie heeltemal geïsoleer van al die ander gebeurtenisse nie, maar vorm saam deel van die verloop van gebeure binne ’n sekere tydperk.

In hierdie lig het ons die tydperk voor Christus se eerste koms, die tydperk tussen sy eerste en tweede koms en die tydperk ná sy wederkoms. Tans val ons in die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms en leef ons in die laaste dae met alles wat daarmee gepaardgaan. Alle beloftes, professië en waarskuwings rondom die laaste dae is reeds en steeds van toepassing in die tye waarin ons leef.

Die ‘tekens van die tye’ is daarom nie iets waarvoor ons moet uitkyk wat die aanvang van die laaste dae sal aan­kondig nie. Die tekens het reeds begin met Christus se eerste koms. Daar is tekens wat die wederkoms direk vooraf sal gaan en nog nie gebeur het nie (bv. Satan wat losgelaat sal word, die groot verdrukking wat sal plaasvind, ens.), maar baie van die tekens van die eind­tye was al vir eeue teenwoordig, omdat ons sedert die op­standing in die laaste dae leef.

Ons hoef egter nie daarvoor bang te wees nie. Al ervaar ons reeds vervolging, het die groot verdrukking nog nie gekom nie. Die stryd teen Satan is steeds ’n werklikheid al is hy nog nie finaal losgelaat nie. Nooit mag ons vergeet nie dat:

  • Al het ons nog nie verheerlikte liggame ontvang nie, is ons reeds meer as oorwinnaars in Christus.
  • Al het die nuwe hemel en nuwe aarde nog nie aangebreek nie, leef ons reeds in God se koninkryk onder sy heerskappy.
  • Al wag ons nog in opwinding vir die wederkoms van ons Here, het die laaste dae lankal ’n aanvang geneem met al die beloftes wat daarmee gepaardgaan.

Die tekens was nog altyd daar. Die groot verdrukking kom. Maar in hierdie laaste dae is ons reeds meer as oor­winnaars in die koninkryk van ons Here.

Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar na­ma­te julle gemeenskap het aan die lyde van Chris­tus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel (1 Petr. 4:12-13). 

“Die wederkoms, die bekering van die Jode en die herstel van Israel” – deur dr. Hendrik Breytenbach

Christus se opstanding, sy hemelvaart, sy weder­koms en die laaste oordeel is onlosmaaklik aan mekaar ver­bind. Die saambindende faktor is die koningskap van die Here Jesus. Sy opstanding bevestig en waarborg dat Hy aan die kruis die sonde, die dood, en die Bose oorwin het. As Oorwinnaar sit Hy aan die regterhand van die Vader en regeer oor die heelal tot met die wederkoms.

Aan die werklikheid van hierdie oorwinning, hang die hele evangelie (vgl. 1 Kor. 15:14). Daarin is die heils­plan van God verwerklik – die heilsplan wat reeds in Géne­sis 3:15 aangekondig is. Dit is die heilsplan tot red­ding van God se verbondsvolk en tot herstel van die verdor­we skepping.1 Die volk van God is almal wat Hy uitver­kies het tot die verbond van genade, sodat hulle kan glo en lewe (Efés. 1:4-6). Aan die uitverkiesende genade is geen voorwaardes of vereistes verbonde waaraan mense moet voldoen nie. Dit is God se heilsplan wat Hy tot sy eer uitvoer (Eség. 36:22 v.v.).

Die wederkoms

Wanneer die wederkoms sal plaasvind, is nie vir ons om te weet of te probeer raai nie (vgl. Mt. 24:30). Dit is nie afhanklik van een of ander voorwaarde nie, maar van God se wilsbesluit. Daar is wel tekens wat dit sal voor­afgaan, maar die tekens is nie voorwaardes vir die wederkoms nie. Dit is daar vir elke geslag, sodat nie­mand ooit sal kan beweer dat hy nie geweet het dat die Here kom nie (vgl. Mt. 24:32-33). Dit is tekens wat gelowiges oproep om gereed te wees vir en uit te sien na die koms van die Here.2 Dit is egter ook tekens wat die ongelowiges van alle verontskuldiging sal ont­neem (vgl. Mt. 24:37-39).

Die liggaamlike opstanding van die dooies en die oombliklike liggaamlike verandering van die nog lewen­des, val saam met die wederkoms (vgl. 1 Kor. 15:23; 51-52; 1 Thes. 4:16-17). Die Bybel leer dat die wederkoms van die Here gepaard gaan met harde basuingeklank en dat dit vir almal sigbaar sal wees. Dit getuig daarvan dat die Here weer kom in sy koninklike heerlikheid en mag. Almal word met die basuin opgeroep om voor Hom te buig en elkeen sal Hom in sy heerlikheid sien (Openb. 1:7).

Wanneer Jesus Christus weer kom, kom Hy as die Ko­ning wat die reg handhaaf en die laaste oordeel spreek. Die oordeel volg op die opstanding, want dit raak alle mense – lewendes en dooies (vgl. Mt. 25:31-33; 2 Thes. 1:8-10). Die laaste oordeel is die openbare erkenning deur alle skepsele dat God regverdig is as Hy tot eer van sy Naam oordeel. Dit is verder die publieke en finale open­ba­ring van die historiese teenstelling tussen die ge­lo­wi­ges en die ongelowiges. Dit openbaar die finale von­nis en loon vir elkeen voor God se troon.3

In die laaste oordeel word die verlossingsplan van God tot sy finale einde gevoer. Dit is dán wanneer die dui­wel, die Antichris en die ongelowiges in die poel van vuur gegooi word. Só word die dood en die doderyk on­der sy voete gestel en dan is al sy vyande vernietig (vgl. 1 Kor. 15:25-26).4 Daarmee saam word die nuwe be­de­ling ingelui – die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar die koningskap aan die Vader behoort – en God ge­hoor­saam word soos voor die sondeval.

Sommige geloofsgroepe voorsien egter meer as een koms van Jesus Christus en meer as een oordeel. Die Bybel on­der­steun dit egter nie, want dit versplinter God se heils­werk in Jesus Christus. Dit hou ook nie vol­doen­de re­ke­ning daarmee dat al God se beloftes in Christus ver­vul is nie (vgl. 2 Kor. 1:20). Daardie groepe verstaan party van die tekens as voorwaardes vir die wederkoms en wil daaruit aflei hoe ver of naby dit is.

Die bekering van die Jode

Die bekering van die Jode word gesien as een van die be­langrike voorwaardes vir die wederkoms. Uit Romei­ne 11:25-26 lei hulle af dat die Jode in ’n groot massa tot bekering moet kom voor die wederkoms kan plaasvind. Romeine 11:25-26 dui egter nie daarop dat die Jode, Paulus se volk, in massa bekeer sal word voor die we­der­koms nie. Paulus erken die verwerping van Jesus deur ’n deel van sy volk – ’n ten dele verharding. Daar is egter ook ’n deel wat nie verhard is nie – die vroegste kerk het immers selfs in Paulus se tyd baie gelowiges uit die Jode getel.

Deur die evangelie wat aan die heidene ver­kon­dig word, kom hulle tot geloof. Dit is nie al­mal nie – maar die volle getal uitverkorenes. Die volheid van die heidene dui nie op elke enkele individu uit die heidenvolke nie, maar op die volle getal van hulle wat glo. Net so dui die hele Israel wat gered word nie op elke en­ke­le Jood nie, maar op die deel uit die Jodedom wat ver­kies is. Dit is die hele Israel – hulle wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (vgl. Rom. 11:4).

Daar is vir die Jood nie ’n ander weg tot saligheid as vir die heiden nie, daarom voorsien God ook uit die Jo­de­dom die volle getal van die Joodse volk wat tot geloof in Christus kom.5 Dit kan egter nie só verstaan word asof die Jode tot aan die eindtyd nie tot bekering kan kom nie, omdat die volle getal heidene nog nie bereik is nie. Tegelyk met die uitverkore heidene word die uitverkore Jode in elke geslag ingebring as teken. Só word die hele Israel, dit is alle gelowiges uit alle volke, stamme en tale, gered.

Die herstel van Israel

Veral die dispensasionalisme6 gaan uit van die stand­punt dat Israel steeds die uitverkore volk van God is, vir wie daar ’n ander heilsplan as vir die kerk is.7 Die we­der­koms is volgens dié siening van die herstel van Is­rael as volk en staat afhanklik. Die herstel van Israel as staat in die beloofde land na sy volle grense, van die rivier van Egipte tot aan die Eufraat, sal die wederkoms voorafgaan. Die beskouing rus op profetiese uitsprake in die Ou Testament wat uitdruklik daarna verwys.

Die argument hou egter nie rekening met die ver­vul­ling in Christus nie. Die profetiese uitsprake oor die her­stel van Israel stel ook die herstel van die tempel, die pries­terdom en die offerkultus in vooruitsig. Die Nu­we Testament verklaar daarteenoor dat die offers, pries­ter­dom en tempel afgeskaf is as skadubeelde van die vervulling in Christus.8

Die gereformeerde teologie ken net één heilsplan van God. Dit sluit die hele volk van God in – die volk van God vóór Abraham en ná die geboorte van Jesus Christus. Dit is die volk wat bestaan uit almal wat deur God uitverkies is tot geloof in Hom en dus in Jesus as die Christus glo. Die ware Israel is die gelowiges oor al die eeue, want hulle is die egte kinders van Abraham (vgl. Gal. 3:27-29). Dit draai die evangelie op sy kop as alles wat die Bybel oor Israel sê, verstaan moet word as ’n verwysing na die natuurlike afstammelinge van Abraham en die geestelike kinders uitsluit.9

Die beloftes aan ou Israel van herstel in ’n eie land as ’n afsonderlike volk met ’n nuwe tempel, offers, priesterdom, ensovoorts, verwys na iets veel groter en heerliker wat in Christus vervul word.10 Die beloofde land waarheen ons op pad is, is die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer. Die ware tempel is God wat self by sy volk is en die ware volk van God is al die volke wat voor Hom leef (vgl. Openb. 21:3). So word al die beloftes van God in Christus vervul (vgl. 2 Kor. 1:20), volgens die ewige heilsplan van God. 

“Die merk van die dier” – deur ds. Henning Dafel

Samesweringsteorieë oor die merk van die dier word tans met hernude ywer versprei. ’n Mens kan dit seker verstaan, want mense is onseker en soek antwoorde. As Christene soek ons egter daardie antwoorde in die Bybel.

 Die hele Bybel

Ons moet versigtig wees om nie net ’n versie of twee bui­te konteks te gebruik nie. Openbaring 22:18-19 waar­sku ons duidelik: … iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek ge­skry­we is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. 

Die hele Bybel, en dit sluit Openbaring in, het een doel: om God aan ons te openbaar. Kolossense 2:9 sê: Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik …, met ander woorde, Jesus Christus is die duidelikste open­baring van God. Openbaring praat nie uit ’n an­der mond as die res van die Bybel nie.

Samesweringsteorieë

Dit bring ons by samesweringsteorieë in die algemeen. Hoor asseblief duidelik die waarskuwing van Jesaja 8:12‑13: Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hier­die volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie be­vrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die Here van die leërskare – Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!

As ons nie ons hemelse Vader se soewereiniteit erken nie, sal ons noodwendig al hoe angstiger en kwater word in tye van beproewing.

As Christene mag ons nie saam met almal rondom ons spekuleer en alles ’n sameswering teen ons noem nie. Ons mag nie bang wees vir dit waarvoor ongelowiges bang is nie. Ons moet die Here vrees. Ons mag nie maak as­of die duiwel magtiger as God is nie. Dit is lasterlik.

Die merk van die dier en die merk van God se kinders

Een teorie wat tans groot vrees inboesem, is op Openba­ring 13:16-17 gebaseer.

En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

Daar word tans beweer dat ’n mikroskyfie in die CO­VID-19-entstof geplaas gaan word. Hierdie skyfie word dan met die merk van die dier (Openb. 13:16-17) ge­assosi­eer. Na bewering sal jy nie sonder hierdie skyfie kan koop of verkoop nie. Die groot vrees is dat ons deur hierdie teg­nologie gedwing gaan word om die Antichris te dien. Sodanige samesweringsteorie verduister die waarheid van die Bybel. Dit mislei mense en trek ons aandag van Jesus Christus af.

Om ’n gebalanseerde Bybelse perspektief te kry, moet ons weet dat die merk van die dier nie die enigste merk is waarvan die Bybel praat nie. As ons na Deuteronómium 6:8 kyk, word daar van nog ’n merk vertel wat op die hand en op die voorhoof aangebring moet word. Dit is die merk van God se kinders. Openbaring 7:1-8 eggo ook hierdie gedagtegang wanneer na gelowiges verwys word as dié wat op hul voorhoofde verseël is.

Judaïsme glo dat hierdie letterlike merke moet wees. Daarom bind hulle die wet met leerbande styf om hulle voorarms en voorkop vas.

Christene moet dadelik vra: Is dit wat God in sy Woord eis? Miga 6:8, Spreuke 21:3 en Deuteronómium 6:1-6 leer ons dat ons dade en gedagtes deur God se wet be­heer moet word. Ons dade en gedagtes moet soos ’n merk wees wat wys dat ons aan Hom behoort – met ander woorde, God se merk is nie ’n uitwendige merkteken nie, maar inwendig.

Nou moet ons konsekwent wees. Indien God se merk in die Ou Testament simbolies geïnterpreteer moet word, moet die merk van die dier in Openbaring ook sim­bo­lies geïnterpreteer word. Onthou die duiwel boots God op baie maniere na.

Deur die twee merke met mekaar te vergelyk, word ’n ver­skriklike realiteit duidelik: Dié wat die merk van die dier dra, se gedagtes en dade word deur hom beheer, net soos dié wat die merk van God dra se gedagtes en dade deur God beheer word! Efésiërs 4:8 bevestig hier­die interpretasie:

… mense wat verduisterd is in die verstand en ver­vreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart …

Wanneer ons sê dat die dier se merk op ’n bepaalde denk­rigting en dade dui, beteken die res van Open­ba­ring 13:16-17 dat ons nie sal kan koop of verkoop as ons nie ook so dink en ooreenkomstig dié denk­rig­ting op­tree nie. As jy uit vrees gehoor gee, dien jy onwetend die Sa­tan. Dink maar aan ’n paar voorbeelde:

  • As jy nie bereid is om vir ’n homoseksuele paartjie ’n trou­koek te bak nie, word jy voor die hof gedaag en kan jy selfs jou besigheid verloor, want jy diskrimineer.
  • Dieselfde geld vir dokters wat nie aborsies wil uitvoer nie en skielik van die rol geskrap word.
  • As jou kinders nie bereid is om op skool die evolusie-­antwoord te skryf wat die departement vereis nie, kan hulle die vak en selfs matriek druip. Almal weet dat jy sonder ’n matrieksertifikaat nie veel kan doen nie.

1 Thessalonicense maak dit baie meer persoonlik. Pau­lus verduidelik dat die duiwel ons geloof, hoop en lief­de lamlê en dit uiteindelik dooddruk wanneer hy ons versoek. Ek dra dus die dier se merk wanneer ek byvoorbeeld lief­de­loos is. 1 Johannes 4:8 sê: Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Suid-Afrika se hoë egskeidingsyfer bevestig dalk ons grondliggende ge­neigd­heid om liefdeloos te wees – dit wil sê die merk van die dier te dra – waar dit die meeste saak maak.

Dieselfde geld vir ons Christelike hoop. ’n Christen het al­tyd hoop, selfs al moet hy op ’n brandstapel sterf. Hy het ’n lewende hoop op die ewige lewe. Ons moet versigtig wees dat ons nie dalk met ons konstante moedeloosheid kies om eerder die merk van die dier te vertoon nie.

Op dieselfde wyse kan ons oor geloof redeneer. Geloof is wanneer ek God ken en gevolglik my vertroue in Hom stel. Tog vergaan ons as gevolg van ’n gebrek aan kennis (vgl. Hos. 4:6; Hebr. 5:11-14). Bitter min van ons ken God regtig (toets maar jou eie kennis van die Bybel). As ons God nie ken nie, kan ons nie eers van vertroue in Hom praat nie. Wys die feit dat ons kies om onkundig oor God te bly nie dalk hoeveel mense onwetend die merk van die dier dra nie?

Kan jy met eerlikheid sê dat jy nie die duiwel se kloumerke in baie kerke raaksien nie? Om die merk van die dier tot ’n stukkie tegnologie te beperk, is baie kortsigtig!

Al hoe ons nie vanself die merk van die dier dra nie, is wanneer ons deur God se genade werklik tot bekering kom. Dit beteken dat ons nie meer dinge sal doen soos wat óns dit wil doen nie, maar eerder begin vra: Here, wat wil U hê moet ek doen? Hoe wil U hê moet ek u liefde uitstraal in al my verhoudings? Hoe wil U hê moet my geloof lyk? Watter hoop wil U hê moet in my bin­ne­ste leef?

Dan sal die “vrug van die Gees” die merk wees dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, toebehoort, wat met sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos het … (vgl. HK v/a 1).

Slotsom

Kom ons hou op om die duiwel daar ver te soek terwyl hy miskien reeds in my eie huis en hart ’n vashouplek het. Ons kan die duiwel dit toegee: Hy moet nie onderskat word nie.

Terselfdertyd moet ons nie maak asof die duiwel almagtig is nie. Hoor weer wat God in sy Woord vir sy volk sê: … Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! (Jes. 43:1). Hou ook Jesaja 8:12-13 se waarskuwing in jou gedagtes en laat ons gaan doen soos wat Hebreërs 12:1 ons leer:

Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van ge­tuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met vol­har­ding die wedloop loop wat voor ons lê … 

“Die Antichris” – deur prof. Koos Adendorff

By die noem van die naam “Antichris” spits mense hulle ore. Dit is ’n raaiselagtige en onheilspellende figuur wat die Bybel aan ons voorhou en wat ons nuuskierigheid prikkel. Wie is hy en wat gaan hy doen? Hoe kan ons hom uitken? In Openbaring 13 gee die Woord van God vir ons belangrike riglyne aangaande die Antichris.

Die Antichris tree op in die gesindheid van die Satan

Openbaring 13:1: En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone. Dit herinner sterk aan die beskrywing van die draak (die Satan) in Openbaring 12:3 wat ook sewe kop­pe en tien horings gehad het. Die Satan oefen sy mag op die aarde deur die Antichris uit. Die Satan is die groot teenstander van God. Dit beteken die Antichris is ’n mens of menslike mag wat, in die gees en gesindheid van die Satan, teen God stry.

Die horing is in die Bybel ’n simbool van krag en mag. Die feit dat hierdie dier tien horings het, toon sy groot mag aan. Ons het dus te doen met ’n mens of menslike in­stelling wat groot mag op die aarde uitoefen. Dit word ook deur Openbaring 13:2 beklemtoon. Die dier was soos ’n luiperd, sy pote soos dié van ’n beer, sy bek soos dié van ’n leeu. Dit toon ooreenkomste met die vier diere van Daniël 7:3-8 (leeu, beer, luiperd, vreeslike en skrikwekkende dier). In Daniël 7 het dit vier opeenvol­gen­de koninkryke aangedui, maar in Openbaring 13 word hulle tot een koninkryk gekombineer. Dit simboliseer die woeste aard van die koninkryk.

Johannes se eerste lesers sou hierdie dier as die Ro­mein­se ryk geïdentifiseer het. Dié ryk was die erfgenaam en hoogtepunt van al die heidense en anti-goddelike ryke van die verlede. Dit het ’n antichristelike gees geadem wat ook koninkryke daarna sou inspireer. Daarom moet die identifikasie van die dier nie tot die Romeinse ryk be­perk word nie. Die dier se optrede is immers gelyk­lo­pend met dié van die draak, wie se optrede die eeue oor­span. Die dier verteenwoordig alle wêreldmagte, ower­hede en sisteme wat deur die eeue heen hulle energie op die bestryding van God en sy koninkryk toespits. Johannes bevestig dié gedagte ook in sy brie­we wanneer hy sê dat die Antichris aan die kom is, maar dat daar nou reeds baie antichriste in die wêreld aan die werk is (vgl. 1 Joh. 2:18).

Die Antichris kom weer en weer

Openbaring 13:3 sê: En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. Die beste verklaring van hierdie moeilike vers is dat dit die effek aantoon wat Christus se oorwinning aan die kruis op die Satan en sy handlangers het. Christus het deur sy dood en opstanding die beslissende oorwinning oor Satan behaal, maar dit lyk oën­skyn­lik asof die Bose voortbestaan. Hy sit sy werk deur die dier (God-vyandige wêreldmagte) as sy instrument voort. Die dier kan egter nooit ’n volledige oorwinning oor die volke van die aarde behaal nie. Hy word telkens ver­slaan (ontvang ’n dodelike wond), maar staan weer in ’n ander gedaante op.

In Ou Testamentiese tye was dit al so. Daar was die groot en wrede ryk van die Assiriërs wat Israel bedreig het en die noordelike ryk van Israel in ballingskap wegge­voer het. Hierdie ryk is uiteindelik deur die Babiloniërs vernietig. Dit het egter net tydelike verligting vir die Israeliete gebring. Die Babiloniese ryk was uiteindelik net so wreed en het die suidelike ryk van Juda bedreig en in ballingskap weggevoer. Die Babiloniërs is later deur die Perse verslaan en weer het dit gelyk of die bose magte verslaan is. Aanvanklik is die Persiese koning, Kores, soos ’n held ontvang, omdat hy die wrede Babi­lo­niese ryk beëindig het. Die Perse het egter hulle mag op ’n ander manier oor die wêreld uitgeoefen. Die hele wêreld is in provinsies opgedeel en in elke provinsie was daar ’n goewerneur wat die Persiese koning se wil op die bevolking afgedwing het. Die Perse is deur die Grieke oorwin en onder die Griekse bewind het die Israeliete swaar geleef. Uiteindelik, ná ’n lang stryd, is die Grieke deur die Romeine oorwin, wat die ganse bekende wêreld met ’n ysterhand regeer het. Die Antichris, soos beliggaam in antichristelike magte, wissel mekaar af. Daarom sê 1 Johannes 2:18:

Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste.

Die Antichris kom weer en weer! Ons moet nie die fout maak om net aan antichristelike owerhede te dink nie. Daar is ook antichristelike sisteme, soos kommunisme. Een van die sisteme wat vandag ’n baie belangrike rol speel, is die sosialisme wat wêreldwyd besig is om sy greep te verstewig.

Die Antichris verhef die mens tot ’n godheid

In Openbaring 13:4 lees ons: En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Laasgenoemde uitdrukking word dikwels in die Bybel met verwysing na God gebruik. Dink maar aan Jesaja 40:18 wat vra: By wie wil julle God dan vergelyk? Hier word egter gevra: Wie is soos die Antichris? Ons lees in Openbaring 13:5‑6 ook van die dier se godslastering. God, en almal wat aan Hom behoort, word belaster, want hierdie mens sien homself as God.

Die oersonde in die paradys was dat die mens soos God wou wees. Een van die belangrikste kenmerke van die Antichris is dat hy homself God wil maak in die plek van God. Hy eis die aanbidding wat God toekom, vir homself op. Dit is ’n tendens wat telkens in die koninkryke van die wêreld voorkom. In die Romeinse ryk het die keisers vir hulleself titels toegeken. Keiser Domitianus is byvoorbeeld aangespreek as “ons here en god”. Die wekroep was: Die Keiser is Heer. Daarteenoor het die Christene gestaan met hulle belydenis: Jesus is die Heer. Hulle moes die prys vir hulle belydenis betaal.

Gaan soek dus ’n regering of ideologie waar die mens vergoddelik word en jy weet: Hier ruik ek die asem van die Antichris. Dink maar aan die groot klem wat die menseregtebeweging na die tweede wêreldoorlog gekry het. Dit word vandag só beklemtoon dat jy bykans niks meer kan sê nie, of jy oortree ’n ander mens se reg. Om byvoorbeeld ander godsdienste as vals uit te wys en die Christendom as die enigste ware godsdiens voor te hou, is ’n aantasting van die aanhangers van ander gods­dienste se regte. Om homoseksualisme as in stryd met die Here se Woord aan te toon en mense op te roep om hulle daarvan te bekeer, is om jou bloot te stel aan vervolging voor die Menseregtekommissie.

 Die Antichris maak oorlog teen die Christene.

Openbaring 13:7 stel dit duidelik: Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges. Die Antichris eis aanbidding op en as jy hom nie aanbid nie, word jy vervolg. ’n Voorbeeld daarvan sien ons in Daniël 3 waar Nebukadnésar ’n beeld opgerig het waarvoor al­mal moes buig. Toe Daniël se vriende dit nie wou doen nie, is hulle in die vuuroond gegooi. Dit is die tipiese optrede van die Antichris.

In die Romeinse ryk het die Christene swaar geleef, nie net vanweë fisiese vervolging nie, maar ook omdat die Romeinse ryk ’n samelewing geskep en onderhou het wat antichristelik van aard was. God se gebooie het geen rol gespeel nie en sedeloosheid het hoogty gevier. In sommige gevalle kon diegene wat nie die heidene se gode aanbid het nie, nie handel dryf nie.

Op hierdie stadium word beweer dat een uit elke agt Christene swaar vervolg word – en dit neem toe. Die afgelope jaar het die getal Christene wat vir hulle geloof gesterf het, met 60% toegeneem. Voeg daarby die verskillende wyses waarop teen Christene gediskrimineer word, dan besef jy die Antichris is aan die werk in ons tyd … en in ons land.

Hierdie gedagtes oor die Antichris moet ons nie de­pres­sief maak en ons in ons hoekie laat sit en bewe nie. Nee, ons moet met lydsaamheid en geloof lewe (vgl. Openb. 13:10). Ons weet mos hierdie wêreld is ten diepste in die hande van God. Hy regeer die wêreld deur sy Christus wat dood was en lewe. Hy skenk aan ons die lewe in sy volheid. Daarom kan ons met geduld volhard terwyl ons vrymoedig bely: Jesus is die Here!

"Die wegraping" – deur ds. Jannie Bisschoff

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met ge­klank van die basuin van God; en die wat in Christus ge­sterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die le­we oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees (1 Thes. 4:16 en 17).

Wat is die wegraping? Die woord “wegraping” kom nie in die 1933/53-Afrikaanse vertaling van die Bybel voor nie. Navolgers van hierdie leer beweer dat die Griekse woord harpadzo (wat in ons aangehaalde teks met “weggevoer” vertaal word) hierop dui. Die woord kan onder meer beteken om iets of iemand met geweld te gryp of om skielik en met mag iets te neem.

Die wegraping is ’n leerstelling wat baie uiteenlopende ver­tak­kinge het en daarom moeilik is om te definieer, maar dit kom daarop neer dat Christus die gelowiges in die geheim van die aarde af sal wegvoer. Sodoende spring hulle die groot verdrukking (vgl. Mt. 24:21) vry wat kort voor die einde sal plaasvind wanneer Satan, volgens Openbaring 20, vir ’n kort tydjie ontbind word. Eers daarna sal dit die einde wees wanneer die Here Jesus in heerlikheid ver­skyn. In effek kom dit dus daarop neer dat Christus twee keer kom: Een keer in die geheim om die gelowiges te kom haal en een keer in die openbaar om almal te oor­deel. Met sy eerste wederkoms sit Hy nie sy voete op die aarde nie, maar met sy tweede we­der­koms wel.

Die wegraping is ’n leerstelling wat vandag al hoe meer veld onder sekere groeperinge wen. Die re­de hiervoor is waarskynlik omdat dit die (valse) hoop bied dat gelo­wi­ges die verskriklike dinge waaroor die Bybel waar­sku kort voor die einde sal gebeur, gespaar sal word. Dit is vir hulle nie genoeg dat God sy kinders te midde van swaarkry en verdrukking bewaar nie (vgl. bv. Jesaja 43). Nee, in aansluiting by die voorspoedteologie word verkondig dat die ge­lo­wige se lewe tot aan die einde net maanskyn en rose sal en behoort te wees.

Die wegraping is ’n gewilde leer, maar tog is dit ’n re­la­tiewe jong leer. Dit is vir die eerste keer rondom 1830 deur ’n man genaamd John Nelson Darby in Ierland ver­kon­dig. Vir ongeveer 1800 jaar het die kerk dus vasge­hou aan die wete dat Christus eenmaal op die wolke sal kom om te oordeel, maar binne ’n kwessie van bietjie min­der as twee eeue word aanvaar dat die kerkvaders1 en alle gelowiges wat op hulle gevolg het, nog altyd die By­bel verkeerd verstaan het. Meteens word verklaar dat die Heilige Gees mense nog altyd in die leuen gelei het, maar nou het die lig van die waarheid begin seëvier.

Die feit dat die leer aangaande die wegraping, relatief ge­spro­ke nog in sy babaskoene staan, is reeds genoeg om ons te laat wonder oor die geldigheid daarvan. Kom ons gaan beoordeel egter sommige van die stellinge wat voor­standers van die leer maak, sodat ons kan weet hoe om mense te antwoord wat ons hiervan probeer oortuig:

 a. Net een wederkoms

Die Bybel ken net een wederkoms van die Here Jesus. Van­af die profete se verkondiging van die groot en ver­skrik­like dag van die Here in die Ou Testament tot by die einde van Openbaring, word verklaar dat Christus eenmaal op die wolke sal kom. Op daardie stadium sal Hy oordeel oor lewende en dode. Die ongelowiges sal die ewige oordeel van die hel ontvang en die gelowiges sal vir ewig in heerlikheid die nuwe hemel en aarde beërwe.

 b. Geen geheim

Die Woord skep verder glad nie die indruk dat die koms van Christus in die geheim sal wees nie. In 1 Thessalo­ni­cense 4:16-17 word verklaar dat Christus uit die hemel sal neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God (eie on­der­streping). Dit klink beslis nie na iets wat onder ’n dekmantel plaasvind nie. So is daar vele ander verse wat ook leer dat die wederkoms deur almal gesien en gehoor sal word. Die Here Jesus verklaar self in Matthéüs 24:27: Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dit sal so duidelik soos ’n bliksemstraal wees.

As almal die wederkoms sal sien, waarom leer die Here Jesus dan dat dit soos “’n dief in die nag” sal kom (vgl. Mt. 24:42-44)? Hierdie beeld het te doen met die tyd en nie die wyse van sy koms nie. Ons weet nie wanneer die dief sal inbreek nie, maar as hy eers ingebreek het, weet ons tog hy het. Christus vergelyk die wederkoms in hierdie gedeelte ook met die dae van Noag. Behalwe vir Noag, het niemand die vloed verwag nie, maar toe dit eers daar was, het almal dit gesien.

c. Gelowiges word verdruk

Sal die gelowiges gespaar word van die groot verdrukking in die laaste dae? Nêrens in die Skrif word geleer dat gelowiges se lewens net maanskyn en rose sal wees nie. Inteendeel, Christus waarsku ons ook in Matthéüs 24:9:

Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.

Terwyl hierdie dinge nog besig is om te gebeur, sê die Here Jesus in die verse wat volg, sal die wederkoms plaas­vind. Die Here belowe om ons te midde van ver­druk­king te bewaar. Hy belowe nie om ons van alle ver­druk­king te vrywaar nie.

d. Eerste en tweede opstanding

Is die eerste opstanding van Openbaring 20:5 nie ’n on­teen­seglike bewys van die wegraping nie? Nee, die eers­te opstanding vind plaas wanneer die gelowiges met hulle dood die hemel betree. Wat in hierdie verse vir ons beskryf word, is dus die heerlikheid wat vir ons wag met ons dood. Op die oomblik van sterwe sal ons siele “geestelik opstaan” om met Christus verenig te word.

Die “tweede opstanding” word wel nêrens in die Bybel per­ti­nent genoem nie, maar die beginsel is tog daar. Dit is bloot die liggaamlike opstanding wat plaasvind saam met die wederkoms van Christus. Op daardie dag sal almal, gelowig en ongelowig, opgewek word om die eindoordeel te betree.

1 Thessalonicense 4:16-17

Hoe moet ons dan die gedeelte in 1 Thessalonicense 4 ver­staan? Hiervoor is bietjie agtergrond van antieke ge-
brui­ke nodig. Wanneer die Romeinse leërmagte op mi­li­têre veld­togte vertrek het, het hulle baniere met die letters SPQR gedra. Dit was ’n Latynse afkorting wat beteken: die senaat en die burgers van Rome. Die gedagte was dat die soldate nie vir hulself of vir hul generaals of selfs vir die keiser geveg het nie, maar vir die mense van Rome.

Wanneer die soldate ná maande of selfs ’n paar jaar met krygsgevangenes en die buite van hulle oorwinning terugkeer, het hulle boodskappers vooruit gestuur. Op ’n afgespreekte tyd is die basuin geblaas en die mense van Rome het die soldate tegemoet gegaan en saam met hulle die stad inbeweeg. Dit het gedien as die teken dat die burgers van Rome deel in die oorwinning van die veroweraars.

Dit is hierdie beeld wat Paulus gebruik om die gelowiges in Thessalonika te vertroos. Daar was sommige onder hulle wat hartseer was omdat hulle gestorwe geliefdes klaarblyklik die triomf van Christus se wederkoms gaan misloop. Paulus verseker hulle in vers 14 dat die siele van gestorwe gelowiges reeds by Christus is. Met die wederkoms sal hulle liggame opstaan sodat hulle siele met hulle liggame herenig kan word. Op dieselfde oomblik word ook hulle wat nog nie ontslaap het nie, verander, hoor ons in 1 Korinthiërs 15.

Al die gelowiges gaan die Here dan in die lug tegemoet, sê vers 17. Die uitdrukking wat met “tegemoet” vertaal word, is ’n tegniese term vir die amptelike verwelkoming van ’n belangrike persoon. Die gelowiges van alle eeue trek dan saam met Christus en sy hemelse leër die nuwe Jerusalem binne as teken dat hulle in sy oorwinning deel. Van daar af sal al die gelowiges vir altyd by die Here wees.

Die groot gevaar wat die leer aangaande die wegraping vir die gelowiges inhou, is die volgende: Hoe gaan die ge­lo­wi­ges dit hanteer as die wegraping nie plaasvind nie en hulle wel deur die groot verdrukking moet gaan? Dalk is die teleurstelling en verwarring wat sulke mense op daardie tydstip ervaar, so groot dat hulle die rug op die evangelie draai.

Die Bybel leer niks oor die wegraping nie. Tog is hierdie nie ’n saligheidskwessie nie. Daarom kan ons getuig van die waarheid wanneer ons met hierdie leer gekonfronteer word, maar ons het nie nodig om in nuttelose stryery te verval met voorstanders hiervan nie. Solank Christus as Verlosser aanvaar word, eindig ons tog almal op dieselfde plek: in heerlikheid saam met God.

 

“Afgode – Wat is dit?” – deur ds. Henning Dafel

In die boek Rigters lees ons dat Israel baie keer gesondig het deur ander gode te aanbid. Wanneer hulle die afgode aanbid het, het God hulle elke keer gestraf en dan het hulle tot bekering gekom: hulle het opgehou om daardie vreemde gode te aanbid en hulle het weer die Here gedien.

Wanneer ons na Israel se geskiedenis kyk, dink ons met goeie rede dat hulle baie keer ongelooflik dom moes gewees het. Hoe dan anders as jy ’n stuk hout vat, ’n gesig op daardie hout uitkerf en dan later voor die stuk hout buig asof dit ’n god is. Hulle het dit nie net met houtafgode gedoen nie. Daar was afgode wat ook van silwer en goud gemaak was.

Dit maak nie regtig saak waarvan die afgode gemaak is nie, die punt is dat hulle gekies het om eerder voor ’n dooie ding te buig as voor die lewende God. Hulle het gedink dat as hulle ’n ander god vir hulp gaan vra, hy of sy hulle beter gaan help as die enigste, ware God.

Die meeste van ons sal nie sommer vandag voor ’n stuk klip of hout buig nie. Ons weet mos dat ons nie op ’n stuk hout of klip kan vertrou om vir ons te sorg nie. Ongelukkig beteken dit nie dat ons vandag nie meer afgode het nie. Ons dink dadelik byvoorbeeld aan Hindoes en Moslems. Selfs al is hulle vriendelike n gawe mense, is hulle ongelukkig besig om afgode te aanbid.

Maar daar is baie mense wat hulself Christene noem, wat ook afgode aanbid. Al verskil is dat hulle afgode nie name soos Boeddha of Allah het nie. Die Heidelbergse Kategismus vat dit mooi raak as dit verduidelik wat afgodery is. Daar staan: “Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel” (HK v/a 95).

Kom ons gebruik ’n paar voorbeelde. Die Here Jesus se dissipels was vissermanne (vgl. Mt. 4:18). Hy het hulle selfs gehelp visvang (vgl. Lk. 5:1 11). Visvang is dus nie verkeerd nie, maar as jou tyd langs die dam of op die see vir jou belangriker as jou tyd saam met God is, dan het visvang vir jou ’n afgod geword.

Jy kan ook van rekenaarspeletjies of jou selfoon ’n afgod maak as dit vir jou belangriker as God is. Dit beteken dat jy selfs ook van jou vriende of jou ouers ’n afgod kan maak, as hulle vir jou belangriker as God is.

Verstaan asseblief baie mooi. Ek probeer glad nie sê dat alle ouers, vriende, selfone, rekenaar- of videospeletjies, ensovoorts, vanself afgode is nie. Daardie goed wat vir jou belangriker as God is, word jou afgod. Johannes Calvyn het dit mooi verduidelik toe hy geskryf het dat die mens se verstand ’n fabriek vir nuwe afgode is (Institusie Boek 1.11.8).

Ons gaan in die Oktober- en November-uitgawes van die Jeug­bood­skapper by hierdie gedagtes stilstaan. Ons weet nou reeds wat afgode is. In die artikel op bladsy 7-8 wil ek verduidelik hoekom afgode so gevaarlik is. Mag jy genade kry om die afgode in jou eie lewe raak te sien en dit ook te vernietig.

“Die gevaar van afgode” – deur ds. Henning Dafel

1 Afgode dryf ’n wig tussen jou en God in

Baie keer sal jy hoor dat iemand nie Sondag kerk toe “kan” kom nie, omdat hulle nie daardie Saterdag kans gehad het om vir ’n toets of eksamen te leer nie, want hulle het aan sport deelgeneem. Soms kan dit nie anders nie – ek weet dit – maar kom ons wees eerlik oor wat dikwels gebeur: Ons het ons prioriteitslysie opgestel en ons het maar net eenvoudig besluit dat gehoorsaamheid aan God nie die belangrikste is nie.

As goeie punte vir jou belangrik was, sou jy waarskynlik nie Saterdag aan sport gewy het nie – jy sou geleer het. As gehoorsaamheid aan God die belangrikste was, sou jy onthou het dat Hebreërs 10:25 ons leer om nie van die erediens af weg te bly nie – jy sou kerk toe gegaan het. As God nie vir jou ’n prioriteit is nie, sal jy die hele tyd ’n rede kry om nie te doen wat Hy van jou vra nie – dit is so maklik soos dit. Afgode dryf ’n wig tussen jou en God in. 

2 Afgode is nooit tevrede nie

As iets vir jou belangriker as God is, maak dit nie saak hoeveel jy doen nie, dit sal nooit genoeg wees om die afgod tevrede te stel nie. Om ’n afgod te dien, is baie soos om vuur te maak. Solank daar genoeg hout is, sal die vuur bly brand, maar sodra die hout opraak, gaan die vlamme dood. Nooit sal jy hoor dat ’n vuur nou genoeg hout het en dat hy nou vanself sal bly brand nie.

Wanneer ander mense se opinie van jou vir jou belangriker as God is, dan is jou grootste behoefte om gewild te wees. Om gewild te word, is een ding, maar om gewild te bly, is iets anders – dit is moeiliker as wat jy dink en die kompetisie is straf. Waarom dink jy is daar soveel popsterre wat allerhande vreemde goed aanvang? Tog maak dit nie saak wat jy doen nie, op ’n dag gaan jy agterkom dat jy nie meer “in” is nie en weet jy, niemand gaan omgee nie. Dan het daardie afgod alles wat jy het, soos ’n vuur verbrand en al wat jy oorhou, is die as.

3 Afgode gaan jou in die steek laat

Wanneer jy jonk is of wanneer dit goed gaan, wil jy dit miskien nie hoor nie, maar dit is ongelukkig waar: dinge gaan dalk nie vir altyd goed gaan nie. Iewers gaan jy oud word. Iewers gaan dit begin sleg gaan en dinge gaan nie weer beter word nie. Iets gaan iewers veroorsaak dat jy doodgaan – dit is ’n realiteit! Op daardie punt gaan jy niks meer hê om te gee nie.

Dink mooi. Wat kan enige afgod op daardie stadium vir jou doen? Watter troos kan geld of gewildheid of jou prestasies of ander se respek vir jou doen as jy besig is om te sterf? Niks nie. Alle ander gode gaan jou in die steek laat!

Die enigste een wat op daardie stadium vir jou iets kan doen, is die enigste, lewende en ware God. Ongelukkig besef baie mense dit te laat (dink maar aan die gelykenis van die vyf wyse en die vyf dwase maagde). Moet daarom nie rustig wees oor die afgode in jou lewe nie – dit is nie die moeite werd nie.

Wat is die oorsprong van Valentynsdag?

Valentynsdag[1]

’n Aanslag deur die Gote en ’n plaag dun soldate uit

Die oorsprong van Valentynsdag kan teruggevoer word na die 3de eeu. Gedurende daardie tyd is die Romeinse Ryk deur die Gote (’n Germaanse/Duitse volk) binnegeval. Terselfdertyd het die Plaag van Cyprianus (249-262), waarskynlik pokke, uitgebreek en op sy hoogtepunt 5 000 mense per dag laat sterf.

Hierdie twee gebeure het daartoe gelei dat die Romeinse leër uitgeput geraak het. Die Romeinse keiser, Claudius II (268-270), het meer soldate nodig gehad om die Gote teen te staan. Hy het geglo dat mans beter veg as hulle nie getroud is nie, daarom het hy huwelike vir soldate verbied.

Vergoddeliking van keisers lei tot Christenvervolging

Rome is ook verskeur deur interne wedywering wat voortgeduur het sedert die sluipmoord op die vorige keiser, Gallienus (253-268). Keiser Claudius II het hierdie spanning onderdruk deur die Romeinse Senaat te versoek om keiser Gallienus te vergoddelik, om saam met die ander Romeinse gode aanbid te word.

Burgers is gedwing om die Romeinse gode te aanbid en keisers te “vergoddelik” deur ’n knippie wierook op ’n vuur voor hul standbeelde te plaas. Diegene wat die aanbidding van die Romeinse gode geweier het, is as “polities inkorrekte” of “onpatriotiese” vyande van die staat beskou en tereggestel.

Keiser Decius (249-251) se vervolging het Christene spesifiek geteiken met wetgewing wat hulle gedwing het om hul geloof te versaak of te sterf. Gedurende die eerste drie eeue van die Christendom was daar tien groot vervolgings waarin die regering Christene vir die leeus gegooi het, hulle lewendig gekook het, hulle tonge uitgesny en nog erger marteling bedryf het.

’n Christelike kerkdienaar weier om sy geloof te verloën

Toe keiser Claudius II eis dat Christene hul geloof verloën en heidense afgode aanbid, het St. Valentinus geweier. Hy is gearresteer en voor die prefek van Rome gesleep, wat hom tot die dood veroordeel het.

Alhoewel verskeie mense dieselfde naam gehad het, blyk dit dat St. Valentinus óf ‘n priester in Rome, óf ‘n biskop in Terni, Sentraal-Italië was. Hy het hom ook die keiser se toorn op die hals gehaal deur soldate in die geheim met hul jong bruide te laat trou.

Terwyl St. Valentinus op sy teregstelling gewag het, het sy tronkbewaarder, Asterius, hom gevra om vir sy blinde dogter te bid. Toe sy wonderbaarlik haar sig herwin, het die tronkbewaarder tot bekering gekom en is hy saam met baie ander gedoop.

Kort voor sy teregstelling het St. Valentinus ’n nota aan die tronkbewaarder se dogter geskryf en dit onderteken met: “Van jou Valentyn.” Hy is met stokke en klippe geslaan en toe dit hom nie kon dood nie, is hy op 14 Februarie 269 by die hek van die Via Flaminia onthoof.

In 496 het pous Gelasius 14 Februarie as “Valentynsdag” verklaar. Gedurende die vervolging van die Christene het Romeinse soldate by kerkvergaderings, katakombes en huise ingebreek en Christelike geskrifte en kerkrekords gekonfiskeer en vernietig. Omdat soveel rekords vernietig is, is besonderhede oor St. Valentinus se lewe skraps.

Valentynsdag verbind met hoflike liefde

Gedurende die laat Middeleeue (c.1393) het Geoffrey Chaucer, die vader van die Engelse letterkunde, ’n gedig genaamd “Parliament of Foules” geskryf. Daarin het hy beskryf hoe hoenders en voëls hul maats in die middel van Februarie kies: “Want dit was Sint Valentynsdag, wanneer elke voël van elke soort wat ’n mens kan voorstel na hierdie plek kom om sy maat te kies.” Hy het ‘n soortgelyke opmerking gemaak in die laaste hoofstuk van The Canterbury Tales.

Die assosiasie van voëls se paarwyse met getrouheid in huweliksliefde, het ontstaan omdat 90% van voëlspesies monogaam is. Ná Chaucer se gedigte, het meer verwysings in die literatuur verskyn wat Valentynsdag met hoflike liefde verbind. Dit het uiteindelik ontwikkel tot die 18de eeuse Engelse gebruik om blomme en lekkergoed aan te bied en Valentynsdag-groetekaartjies te stuur.

Ondertekening van Valentynskaartjies

Mense onderteken Valentynskaartjies dikwels met X’e en O’s. Die Griekse naam vir Christus is Χριστό, met die aanvangsletter “X” wat in Grieks “Chi” genoem word. “X” het ’n algemene afkorting vir die naam Christus geword. Dit is waarom Kersfees byvoorbeeld as “X-mas” afgekort word. In die Middeleeue is die “X” die Christuskruis, of “Criss-Cross” genoem. Dit het mense daaraan herinner dat “die vrees van die Here die begin van wysheid is”. Die Christuskruis was ’n vorm van ’n geskrewe eed.

Soortgelyk aan die ou praktyk om op ’n Bybel te sweer met die woorde “so help my God” en dan die Bybel te soen, sou mense ’n dokument teken met of langs die Christuskruis, om só voor God te sweer dat hulle die ooreenkoms sou nakom en dit dan soen om hul opregtheid te toon.

Ons het hierdie praktyk oorgeneem deur te vra om by die “X” te teken, of om te sê “ek sweer, kruis my hart”. Dit is die oorsprong van die ondertekening van ‘n Valentynskaartjie met ’n “X” – om ‘n belofte van getrouheid voor God uit te druk en ’n “O” – om die belofte te verseël met ‘n soen van opregtheid.

St. Valentinus se gewilligheid om ’n martelaar vir Christus te wees en sy heldhaftige, liefdevolle voorbeeld, inspireer gelowiges steeds om die Bybel te gehoorsaam:

Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg, sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; (Mt. 5:44, 45); Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het (Joh. 13:35); Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee (Joh. 15:13).

[1] https://americanminute.com/blogs/todays-american-minute/origin-of-saint-valentines-day-american-minute-with-bill-federer

 

ARTIKELS DEUR PROF. GERRIT SMIT (REKTOR BY AP AKADEMIE):

Hoe is Boekinleidings in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling gedoen? 'n Kritiese Evaluering – deur prof. Gerrit Smit

1.  Inleiding

Die 2020-Afrikaanse Bybelvertaling, ook bekend as Die Bybel: Direkte Vertaling, is die derde amptelike Afrikaanse Bybelvertaling, naas die 1933/53-vertaling en die 1983-vertaling. Die oogmerk van hierdie vertaling was ‘n sogenaamde direkte vertaling, ook bekend as formele ekwivalensie. Dit beteken dat die vertalers probeer het om so na as moontlik aan die brontale, naamlik Hebreeus, Aramees en Grieks, te bly, sonder om die teks te parafraseer of te verklaar.

Benewens die Bybelteks bevat hierdie vertaling ook inleidings tot elke Bybelboek. Hierdie inleidings wil die leser help deur agtergrond te gee oor sake soos outeurskap, datering en historiese konteks. Op sigself is dit ‘n nuttige hulpmiddel. Die vraag waarmee ons in hierdie artikel werk, is egter:

Is die boekinleidings in die 2020-vertaling in lyn met ‘n reformatoriese verstaan van die Skrif?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons drie dinge doen: eerstens die reformatoriese Skrifbeskouing verstaan, tweedens die metode wat in die inleidings gebruik word, identifiseer, en derdens die konkrete stellings evalueer. 

2.  Wat is Skrifbeskouing?

Voordat ons die inleidings evalueer, moet ons verstaan wat met ‘n Skrifbeskouing bedoel word. ‘n Skrifbeskouing is jou fundamentele verstaan van wat die Bybel is. Hoe jy oor die Bybel dink, bepaal hoe jy dit lees, en hoe jy dit lees, bepaal wat jy daarin sien. Dit is nie ‘n neutrale of bloot akademiese saak nie, maar ‘n diep teologiese en geestelike kwessie.

Die reformatoriese Skrifbeskouing kan in drie kernbegrippe saamgevat word: 

2.1  Inspirasie

Die woord inspirasie kom van die Latynse inspirare, wat beteken “in te asem”. In 2 Timoteus 3:16 staan daar dat die Skrif deur God ingegee is. Die Griekse woord is theopneustos, letterlik Goddelik-geasem. God is dus die oorsprong van die Skrif. Die menslike skrywers skryf werklik, maar hulle skryf onder die leiding van die Heilige Gees.

Dit word teologies beskryf as organiese inspirasie. Dit beteken dat God nie die menslike skrywers uitskakel nie, maar hulle persoonlikheid, styl en konteks gebruik om sy Woord mee te skryf. Die Bybel is dus volkome menslik geskryf, maar terselfdertyd volkome Goddelik van oorsprong. Hierdie spanning moet eerbiedig word, nie opgelos word deur een kant te beklemtoon ten koste van die ander nie. 

2.2  Gesag

Wanneer ons sê die Skrif het gesag, bedoel ons dat dit normatief is. Dit beteken dat die Bybel nie bloot inligting gee nie, maar dat dit bindend is vir geloof en lewe. Die Reformasie het sterk beklemtoon dat die Skrif sy gesag nie van die kerk ontvang nie, maar dat die kerk sy gesag van die Skrif ontvang.

Hier speel die begrip profeties-apostoliese gesag ‘n sentrale rol. Dit beteken dat die Skrif gebou is op die getuienis van die profete in die Ou Testament en die apostels in die Nuwe Testament. Hierdie getuienis is deur God gegee en dra dus Goddelike gesag, wat beteken dat tradisionele outeurskap nie bloot ‘n historiese detail is nie, maar teologiese betekenis dra. 

2.3  Die Eenheid van die Skrif

Die derde kernbegrip is die eenheid van die Skrif. Dit beteken dat die Bybel nie ‘n los versameling boeke is nie, maar ‘n samehangende geheel. Hierdie eenheid word heilsgeskiedenis of ‘n heilshistoriese eenheid genoem. Dit is ‘n woord wat verwys na God se verlossingswerk deur die geskiedenis.

Prakties beteken dit:

  • Genesis en die Evangeliebeskrywings staan nie los van mekaar
  • Die Ou en Nuwe Testament bevestig en verklaar
  • Christus is die middelpunt van die hele Skrif, van Genesis tot Openbaring

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikels 3 tot 7, bely hierdie verstaan van die Skrif uitdruklik. Die Bybel is die Woord van God, en dit is die maatstaf waaraan alle leer en lewe gemeet moet word. 

3.  Die Aard van die Boekinleidings

Die boekinleidings in die 2020-vertaling wil die teks verduidelik deur erkende akademiese insigte te gebruik. Hulle behandel outeurskap, datering, literêre vorm, historiese konteks en teologiese temas. Hierdie tipe studie staan bekend as inleidingswetenskap of isagogiek.

Dit is op sigself nie ‘n probleem nie. Elke Bybelleser word bevoordeel deur ‘n beter begrip van die historiese- en kulturele agtergrond van die Bybel. Die probleem lê egter  nie  in  die  vrae  wat  gevra  word  nie,  maar  in  die  metode  en voorveronderstellings waarmee hierdie vrae beantwoord word. Wanneer ‘n mens die boekinleidings met aandag lees, word dit duidelik dat hulle ‘n bepaalde teologiese vertrekpunt het, al word dit nie altyd eksplisiet uitgespel nie. 

4.  Die Histories-Kritiese Metode

Die metode wat in die boekinleidings gebruik word, kan grootliks beskryf word as die histories-kritiese metode. Hierdie metode probeer die Bybel bestudeer soos ‘n mens enige ander antieke teks sou bestudeer. Dit sluit verskeie tegnieke in: 

4.1  Bronnekritiek

Bronnekritiek vra: Uit watter bronne is hierdie teks saamgestel? Byvoorbeeld, ten opsigte van die Pentateug word beweer dat verskillende dokumente op ‘n latere stadium saamgevoeg is. Die hipotese is dat stylverskille en verskillende Godsnaamgebruike bewys lewer van onderskeie brondokumente. 

4.2  Redaksiekritiek

Redaksiekritiek fokus op die redakteur, dit wil sê die persoon of groep wat die finale teks saamgestel het. Die vraag is: hoe het die redakteur die materiaal gerangskik, verander en teologies bewerk? Hierdie benadering sien die Bybelse tekste as die produk van ‘n lang redaksionele proses eerder as die getuienis van ‘n spesifieke skrywer. 

4.3  Literêre Ontwikkeling

Die idee van literêre ontwikkeling sien die Bybel as ‘n teks wat oor eeue heen gegroei het. Die finale vorm is dus die resultaat van ‘n lang proses van saamstel, redigeer en aanvul. Dit beteken dat geen Bybelboek ‘n eenvoudige, eenmalige skryfdaad is nie, maar ‘n saamgestelde produk.  

5.  Die Probleem met Voorveronderstellings

‘n Kernbegrip hier is voorveronderstelling. ‘n Voorveronderstelling is iets wat jy reeds glo voordat jy na die teks kyk. Dit bepaal hoe jy die teks gaan lees, en watter gevolgtrekkings jy gaan maak. 

Die histories-kritiese metode werk dikwels met die volgende voorveronderstellings, al word dit nie altyd erken nie:

  • Tekste ontwikkel oor tyd deur mondelinge tradisie en redaksionele
  • Tradisionele outeurskap is onwaarskynlik of moet bewys
  • Redaksionele prosesse is die norm eerder as die
  • Teologie ontstaan   uit    gemeenskapservaring    eerder    as    uit   Goddelike openbaring.

Vanuit ‘n reformatoriese perspektief is die kernprobleem dat hierdie aannames nie uit die teks self kom nie, maar van buite af ingevoer word. Die Skrif word dus nie geïnterpreteer op grond van sy eie selfgetuienis nie, maar gefiltreer deur ‘n vooraf bepaalde metodologiese lens. Hierdie benadering lei maklik tot wat genoem kan word metodologiese skeptisisme, waar die gesag van die Skrif geleidelik ondermyn word, nie deur direkte ontkenning nie, maar deur subtiele relativering. 

6.  Genesis as Gevallestudie

Die inleiding tot Genesis dien as ‘n duidelike voorbeeld van hierdie spanning. Aan die een kant erken die inleiding dat Moses volgens tradisie as die skrywer beskou word. Aan die ander kant word dit onmiddellik gerelativeer deur te stel dat dit waarskynlik nie die geval is nie, en dat die Pentateug eerder ‘n versameling tekste is wat oor ‘n lang tydperk ontwikkel het.

Genesis 1 word soms as kunsprosa of poëtiese narratief beskryf, wat as sodanig nie ‘n probleem of fout is nie, maar in die konteks van die inleidings dikwels die implikasie dra dat die teks nie bedoel is as historiese verslag nie. Hier kom ‘n belangrike teologiese verskuiwing na vore: die fokus beweeg van openbaring na ontwikkeling, en van skrywer na redakteur. 

7.  Die Dokumentêre Hipotese

Hierdie benadering het sy wortels in die sogenaamde dokumentêre hipotese, veral soos ontwikkel deur Julius Wellhausen in die negentiende eeu. Volgens hierdie teorie bestaan die Pentateug uit vier hoofbronne:

  • J (Jahwis): gebruik die Naam JHWH en sou uit die suidelike koninkryk, naamlik van Juda, afkomstig wees.
  • E (Elohis): gebruik die Naam Elohim en sou uit die noordelike koninkryk, naamlik van Israel, afkomstig wees.
  • D (Deuteronomis): fokus op Deuteronomium en die Wet.
  • P (Priesterlike bron): bevat priesterlike en rituele materiaal, soos offer- en reinheidsvoorskrifte.

Die probleem met hierdie teorie is egter fundamenteel tot die afleidings wat gemaak word: geen van hierdie veronderstelde brondokumente bestaan as afsonderlike manuskripte nie. Die onderskeiding tussen hulle berus grootliks op subjektiewe kriteria, stilistiese verskille en ‘n vooraf bepaalde teorie oor hoe tekste sou ontwikkel. Dit is ‘n hipotese, nie ‘n feit nie, en dit moet as sodanig aangebied word.

8.  Genesis 1–11 en Historisiteit

Die vraag na die aard van Genesis 1–11 is van besondere belang. Is hierdie gedeeltes mitologie of geskiedenis? Die teks self gee sterk aanduidings van historiese kontinuïteit.

Let op die volgende aanwysers van historisiteit:

  • Die toledot-formule: Die uitdrukking “Dit is die geskiedenis van…” verbind die verskillende gedeeltes van Genesis saam as ‘n samehangende historiese
  • Genealogieë: Die geslagsregisters in Genesis 5 en 11 verbind Adam direk met Abraham, en word in 1 Kronieke 1 herhaal.
  • Lukas 3: Die geslagsregister van Jesus word teruggevoer tot by Adam, wat behandel word as die eerste werklike mens.

Hoewel Genesis ooreenkomste toon met ander Ou Nabye Oosterse tekste soos die Enuma Elish en die Gilgamesj-verhaal, is die verskille ook van kardinale belang. Genesis verkondig ‘n streng monoteïsme, beskryf skepping deur die Woord alleen, en stel God voor as transendent (in die hemel), persoonlik (op die aarde) en sonder die beperkings van Babiloniese gode.

Die begrip historisiteit beteken dat iets werklik in tyd en ruimte gebeur het. As Genesis 1–11 nie histories is nie, raak dit kernleerstellings van die Christelike geloof:

  • Die sondeval as werklike historiese gebeure word
  • Die oorsprong van die mens as beelddraer van God word
  • Die behoefte aan verlossing en die noodsaaklikheid vir die koms van Christus verloor sy Skriftuurlike grondslag.

9.  Die Nuwe Testament se Getuienis

Die Nuwe Testament bied beslissende getuienis oor die aard van Genesis 1–11. Die skrywers behandel hierdie gedeeltes nie as mitologie nie, maar as werklike geskiedenis:

  • Paulus behandel Adam as ‘n historiese persoon in Romeine 5:12–21 en 1 Korintiërs 15:22 en verbind hom direk met die leer van sonde en verlossing.
  • Jesus verwys na die skepping in Markus 10:6 en na die vloed in Matteus 24:37–38 as werklike historiese gebeure.
  • Petrus bevestig die historiese werklikheid van Noag en die vloed in 1 Petrus 3:20 en 2 Petrus 2:5.

Hier speel die begrip hermeneutiek ‘n beslissende rol. Hermeneutiek is die wetenskap van Skrifuitleg, en die reformatoriese beginsel is eenvoudig: die Skrif verklaar die Skrif. Dit beteken dat die Nuwe Testament se behandeling van Ou Testament-gebeure normatief is vir ons interpretasie, nie die teorieë van negentiende- of twintigste-eeuse Bybelgeleerdes nie.

10.  Die Pentateug in Esra en Nehemia se Tyd

Een van die sterkste argumente teen die idee van ‘n laat samestelling van die Pentateug kom uit Esra en Nehemia. In Nehemia 8 lees ons dat die volk versoek dat die “boek van die wet van Moses” gebring en aan hulle voorgelees moet word. In Esra 7 word Esra beskryf as iemand wat vaardig is in hierdie Wet.

Die kritieke punt is: die teks praat van ‘n bestaande boek, nie van ‘n nuwe samestelling nie. Die volk “vind geskrywe” wat hulle moet doen, ‘n uitdrukking wat dui op die herontdekking en herinstelling van ‘n reeds gesagvolle, bestaande teks.

Dit wys dat die Wet reeds gesag dra lank voor enige veronderstelde laat redaksie. Die histories-kritiese model, wat die Pentateug as ‘n produk van die ballingskaptyd of later sien, is moeilik versoenbaar met die getuienis van die Skrif self.

11.  Die Beslissende Getuienis van Christus

Jesus self bevestig die gesag van Moses en die Wet op minstens drie maniere: 

  • In Johannes 5:46 sê Hy: “Want as julle Moses geglo het, sou julle My geglo het, want hy het van My geskrywe.” Jesus verbind Moses direk as skrywer aan profetiese inhoud oor Homself.
  • Hy verwys na “die boek van Moses” as ‘n bekende en gesagvolle entiteit in Markus 12:26.
  • Hy onderskei die Wet wat deur Moses gegee is van menslike tradisies in Johannes 7:19 en Matteus 15:3–6.

Vir ‘n reformatoriese benadering is die getuienis van Christus deurslaggewend. Christus se woorde het hermeneutiese gesag en kan nie opsy geskuif word ten gunste van akademiese teorieë nie. Wie Christus se gesag aanvaar, moet ook sy getuienis oor die Skrif aanvaar.

12.  Die Patroon in die 2020-Inleidings

Wanneer ‘n mens die boekinleidings in die 2020-vertaling stelselmatig deurlees, kom ‘n herkenbare patroon na vore. In elke geval word die tradisionele siening genoem, maar dan onmiddellik gerelativeer:

  • Genesis: Moses word as tradisionele skrywer genoem, maar die finale vorm word verbind aan ‘n latere redaksionele proses.
  • Eksodus: Die Mosaïese outeurskap word bevraagteken, en die boek word beskou as ‘n post-Mosaïese samestelling.
  • Levitikus en Numeri: Gesien as produkte van ‘n langer ontwikkelingsproses, vermoedelik in die priesterlike skool.
  • Deuteronomium: Outeurskap en historiese konteks word gekoppel aan die Josia-hervorming en later redigering, eerder as aan Moses.

Hierdie patroon weerspieël ‘n sistematiese verskuiwing weg van tradisionele outeurskap en Goddelike openbaring, na redaksie en menslike konstruksie.

13.  Veronderstelde Teologiese Gevolgtrekkings

Wanneer hierdie benadering konsekwent deurgetrek word, volg sekere logiese gevolgtrekkings wat ernstige teologiese implikasies het: 

  • Mosaïese outeurskap word bevraagteken, en Moses word eerder ‘n tradisiefiguur as  ‘n  historiese    Hiermee  verloor  die profeties-apostoliese grondslag van die Pentateug sy selfverklarende krag.
  • Die Ou Testament word gesien as ‘n produk van die ballingskaptyd of later, wat impliseer dat die teks oor eeue saamgestel is en nie die direkte vrug van Sinaï-openbaring is nie.
  • Die Wet word nie meer verstaan as iets wat by Sinai gegee is nie, maar as iets wat oor tyd ontwikkel het en eers na die ballingskap volle gesag ontvang
  • Teologie word ‘n produk van gemeenskapservaring eerder as Goddelike openbaring. Die verskuiwing is van openbaring na konstruksie.

14.  Die Praktiese Impak op die Kerk

Die probleem met hierdie benadering is nie net akademies nie. Dit het werklike gevolge vir die geloofslewe van gewone gelowiges:

  • Gelowiges begin twyfel oor Bybelse tradisies en outeurskap, en wonder of die Bybel werklik is wat dit beweer om te wees.
  • Die Skrif word geleidelik as ‘n bloot menslike dokument gesien, eerder as die Woord van God.
  • Die gesag van die Bybel word verswak, en daarmee ook die vertroue wat gelowiges in die Skrif kan stel.
  • Spanning ontstaan met die belydenisskrifte, wat die kerk se leer en die inleidings se vertrekpunte in konflik bring.

Dit is nie ‘n uitsluitlik akademiese debat nie. Predikante wat uit hierdie vertaling preek, en gemeentelede wat self die Bybel met hierdie inleidings lees, word blootgestel aan ‘n verstaan van die Skrif wat stelselmatig van die reformatoriese belydenis afwyk. Die kerk het ‘n verantwoordelikheid om dit te herken en aan te spreek.

15.  ‘n Gebalanseerde Reformatoriese Benadering

‘n Reformatoriese benadering hoef nie naïef te wees nie. Dit kan literêre vorme erken, historiese konteks ondersoek en akademiese insigte gebruik, maar dit doen alles binne die raamwerk van Goddelike inspirasie en gesag, nie buite dit nie. 

Die pad vorentoe vereis drie dinge:

  • Respek vir die selfgetuienis van die Skrif: Wat die Bybel oor homself sê, moet ernstig opgeneem word. Die Skrif se eie aansprake oor outeurskap en inspirasie is normatief.
  • Onderskeiding tussen hipotese en feit: Akademiese teorieë moet as voorlopige verklarings aangebied word, nie as vaste waarhede nie. Die dokumentêre hipotese is ‘n wetenskaplike model met beduidende kritiese
  • Die heilshistoriese konteks as vertrekpunt: Die Bybel is nie net ‘n literêre dokument nie, maar die openbaring van God se verlossingsplan. Elke Bybelboek moet binne hierdie groter raamwerk gelees word.

Die sleutel is balans: ontwikkeling en literêre konteks mag erken word, maar dit mag nooit openbaring vervang nie. Die Bybel is nie die getuienis van Israel se worsteling met God nie, maar die Woord van God tot Israel en tot ons.

16.  Gevolgtrekking

Die 2020-Bybelvertaling is ‘n waardevolle hulpmiddel vir die kerk. Dit is ‘n teksgetroue, noukeurige vertaling van die brontale, en dit word met dankbaarheid aanvaar, hoewel daar enkele vertalingsprobleme is. Geen vertaling is egter volkome nie. Die boekinleidings vra teologiese besinning.

Die kernprobleem is nie wat eksplisiet ontken word nie, maar wat implisiet verskuif word:

  • Sekerheid word
  • Openbaring word
  • Outeurskap word

Dit is ‘n subtiele maar gevaarlike verskuiwing. Wanneer die fondamente verskuif, beweeg alles wat daarop gebou is, saam.

Die reformatoriese antwoord moet gehandhaaf word dat die Skrif God se Woord is, en dit bly normatief vir geloof en lewe. Die kerk het die verantwoordelikheid om die Woord te bewaar, nie net die teks nie, maar ook die verstaan en vertaling van die teks. Hierdie gesprek is ‘n bydrae tot daardie bewaking.  

Sola Scriptura- Die Skrif alleen is die norm vir alle leer en lewe. 

Ten slotte moet dit gestel word dat die beginsel van Sola Scriptura nie ‘n outydse slagspreuk uit die Reformasie is nie, maar ’n lewende en bepalende waarheid vir die kerk van alle tye. Dit beteken dat die Skrif alleen die hoogste gesag is waardeur alle leer, teorieë en interpretasies gemeet moet word. Nie die akademie, nie tradisie, en ook nie metodologiese aannames mag uiteindelik die laaste woord hê nie. Wanneer die kerk dus die boekinleidings of enige ander uitleg van die Bybel lees, moet dit voortdurend terugkeer na die Skrif self as maatstaf. Die Bybel verklaar homself, bevestig sy eie gesag, en getuig eenstemmig van God se openbaring in Christus. Daarom is ons nie onseker nie, maar gegrond op die vaste fondament van die Woord. Sola Scriptura beteken eenvoudig dit: die Skrif alleen is genoeg, die Skrif alleen is duidelik, en die Skrif alleen is die finale norm vir geloof en lewe.

Watter vertalingsprobleme is in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling? – deur prof. Gerrit Smit

Na aanleiding van ‘n skrywe wat ek onlangs ontvang het in verband met, wat die skrywer beweer “vertalingsfoute” in die 2020 Afrikaanse  Bybelvertaling is, bespreek ek ‘n aantal vertalingsprobleme in die 2020-vertaling.

Alle verwysings kom uit die 2020 vertaling met hoofletters (2020 HL).

 

Ps. 45:7-8 (2020 HL)

“U troon, o Goddelike wese, is vir altyd en altyd, die septer van u heerskappy is ‘n regverdige septer. U het •geregtigheid lief en U haat goddeloosheid. Daarom, o Goddelike wese, het u God U met olie van vreugde gesalf – meer as u metgeselle”.

Die vertaling van אֱ֭לֹהִים in Psalm 45:7-8 as “o Goddelike wese” is na my mening nie ‘n goeie vertaling nie en dit is ‘n saak wat die kerke vorentoe sal/kan bespreek wanneer, of indien, die 2020-vertaling ter sprake kom vir oorweging. ‘n Beter vertaling sou wees om van “God” of “Here” gebruik te maak, wat beide die persoonlike aanspreekvorm en die Bybelse selfopenbaring van God respekteer. Die stelling wat sommige maak, naamlik dat die vers nie rekening hou met Christus nie, word nietemin in hierdie vertaling weerlê, deurdat “U” hier in die 2020 HL met hoofletters vertaal word.

 

Miga 5:1 (2020 HL)

“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n Heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.”

Die frase: וּמֹוצָאֹתָ֥יו מִקֶּ֖דֶם מִימֵ֥י עֹולָֽם moet letterlik vertaal word as: “Hy is afkomstig vanuit die Ooste, vanuit die ou (ewige) dae”. Die vertaalopdrag van die Bybel Direkte Vertaling (2020) was om ‘n letterlike vertaling van die grondteks te maak. Die vertaling van die frase as: “Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer” is reeds ‘n poging om die Christelike tradisie rondom die vertaling in ag te neem en wyk dus wel van die grondteks af ter wille van die kerklike leser, maar is ‘n moontlike vertaling.

 

1 Tim. 3:16 (2020 HL)

“…Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam…”.

Die 1953-vertaling het die woord “vlees” teenoor die 2020-vertaling se “menslike liggaam”. Dit is sinonieme.

 

Johannes 1:14 (2020 HL)

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid”.

Hier word toegegee oor die vertaling van die “unieke Seun van die Vader” dat dit nie ‘n goeie vertaling is, in ag geneem die kerklike tradisie en die leer oor Christus se pre-eksistensie. Christus is meer as die unieke Seun, Hy is die Enigste Seun van die Vader. Die kerke behoort hierdie in ag te neem wanneer die 2020-vertaling ter sprake kom. Dieselfde geld die vertaling van Johannes 3:16 in die 2020-vertaling.

 

Johannes 6:69 (2020 HL)

“En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.”

Die Textus Receptus (Elsevier) lees: και ημεις πεπιστευκαμεν και εγνωκαμεν οτι συ ει ο χριστος ο υιος του θεου του ζωντος (“En ons het geglo en geweet dat U die Christus is, die Seun van die lewende God”) teenoor die grondteks van die 2020-vertaling wat lees: καὶ ἡμεῖς πεπιστεύκαμεν καὶ ἐγνώκαμεν ὅτι σὺ εἶ ⸂ὁ ἅγιος τοῦ θεοῦ⸃ (“En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.”). Ons het hier met ‘n tekskritiese verskil te doen. Die 2020-vertaling het wel die grondteks korrek vertaal, wat eerder verskille in die grondteks aantoon as ‘n fout.

 

Johannes 9:35 (2020 HL)

Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die Seun van die Mens?”

Die Griekse grondteks lees: σὺ πιστεύεις εἰς τὸν υἱὸν τοῦ ⸀ἀνθρώπου; (“Glo jy in die Seun van die Mens?”). Die vertaling van die teks in die 2020-vertaling is in ooreenstemming met die grondteks. Vergelyk die opmerking hier bo oor tekskritiese verskille.

1 Joh. 5:7-8

“Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens”.

Hierdie is die bekende Comma Johanneum, waaroor al boeke vol geskryf is. In kort kom dit hierop neer: hierdie frase kom slegs in die Latynse Vulgaat, wat vir eeue die grondteks van die Rooms Katolieke kerk was, voor. Die enigste Griekse manuskrip wat die weergawe soos in die 1953-vertaling voorkom, bevat, dateer uit die 16de eeu nadat Desiderius Erasmus dit nie in sy eerste uitgawe van die Griekse Nuwe Testament ingesluit het nie, en op aandrang van die Rooms Katolieke kerk wat gemeen het sy teks verskil van die Vulgaat wat hulle as gesaghebbende teks aanvaar, het hy die teks vanaf sy tweede uitgawe onder protes ingesluit. As die gereformeerde beginsel van Skrif-met-Skrif vergelyk toegepas word, is daar geen twyfel oor die belydenis oor die Drie-Eenheid in die getuienis van honderde ander verse nie. Die teks van die 2020-vertaling is hier gebaseer op betroubare Griekse teksgetuienis.

Ek heg hier onder ‘n skermgreep uit Desiderius Erasmus se eie kommentaar op 1 Joh. 5:7-8 aan:

Hier bo skryf Erasmus in sy kommentaar op die eerste uitgawe van die Griekse Nuwe Testament (1516) die volgende:

In graeco codice tantum hoc reperio de testimonio triplici: ὅτι τρεῖς εἰσιν οἱ μαρτυροῦντες, τὸ πνεῦμα καὶ τὸ ὕδωρ καὶ τὸ αἷμα, id est: quoniam tres sunt qui testificantur, Spiritus, aqua et sanguis.

In die Griekse kodeks vind ek net hierdie oor die drievoudige getuienis: ‘ὅτι τρεῖς εἰσιν οἱ μαρτυροῦντες, τὸ πνεῦμα καὶ τὸ ὕδωρ καὶ τὸ αἷμα, dit wil sê, ‘daar is drie wat getuig: die Gees, die water en die bloed’.

Die 2020 vertaling het die grondteks korrek vertaal.

Kolossense 1:14 (2020 HL)

“… deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het”.

Die Griekse grondteks lees:  ἐν ᾧ ⸀ἔχομεν τὴν ἀπολύτρωσιν⸆, τὴν ἄφεσιν τῶν ἁμαρτιῶν· Die 2020-vertaling het die Griekse grondteks korrek vertaal.

 

Habakuk 2:4

“Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe”.

Omdat die vers in die Nuwe Testament aangehaal word in die bekende Romeine 1:17, sal dit vreemd op die oor val soos vertaal in Habakuk 2:4. Hierdie teks word ook in die Nuwe Testament aangehaal en deur vergelyking is die bedoeling van die vertaling meer duidelik. In die 2020-vertaling word Rom. 1:17 soos volg vertaal: “…soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” ‘n Beter vertaling sou wees: “deur die geloof”.

Hoe is die gebruik van ”Jy” en ”Jou” in die 2020 Bybelvertaling met hoofletters? – deur prof. Gerrit Smit

Die volledige artikel met diagramme is by hierdie skakel:

2020-Bybelvertaling met hoofletters: die gebruik van ”Jy” en ”Jou”

 

Verwys ’Ĕlōhīm altyd na God in die Bybel? – deur prof. Gerrit Smit

In Psalm 45:6 en 7 vind ons die Hebreeuse woord ’Ĕlōhīm (God/gode). Wat het die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling daarmee gemaak?

 

Hoe die verse vertaal word

In die Afrikaanse vertalings word die verse waarin die woord ’Ĕlōhīm voorkom, soos volg vertaal:

1953-vertaling

7U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer.

8U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.

1983-vertaling

7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied.

8U het die reg lief en u haat die onreg, want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.

2020-vertaling (Kleinletter )

7 U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.

8 U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf — meer as u vriende.

2020-vertaling (Hoofletter)

7 U troon, o Goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.

8 U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o Goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf — meer as u vriende.

  

’Ĕlōhīm vertaal met ”God” in Ps. 45

In ‘n onlangse artikel word die stelling gemaak dat die aanspreekvorm ’Ĕlōhīm 205 kere in die Ou Testament voorkom en in al die gevalle word dit net van toepassing gemaak op die God van Israel. Om dié rede, meen die skrywer, kan die 2020 vertaling nie die woord ’Ĕlōhīm gebruik as aanspreekvorm in Ps. 45:6 en 7 anders vertaal het as “o God” nie.

Hoewel die vertaling “Goddelike wese” na my mening vir ons moontlik nie die beste vertaling in die konteks is nie, omdat ons mos die teks Messiaans verstaan, laat die genoemde artikel die vraag ontstaan of daar bybedoelinge was met die vertaling van die woord ’Ĕlōhīm, veral omdat die afleiding deur sommige lesers gemaak word dat daar geen voorbeelde in die Ou Testament is waar ’Ĕlōhīm anders vertaal word as “God” nie?

 

Word ’Ĕlōhīm net vertaal met ”God” in die Bybel?

Aangesien daar tans weer heelwat kritiek op die 2020 vertaling die rondte doen, moet ons besef dat stellings soos hier bo graag deur opportuniste gebruik word om die hele vertaling af te maak en verdag te laat voorkom.

 Op die gebruik van ’Ĕlōhīm in die Ou Testament wil ek vervolgens kortliks reageer deur uit te lig dat, hoewel ek bewus is dat die gemelde artikel na ’Ĕlōhīm in die aanspreekvorm in die Ou Testament gebruik word met verwysing na die God van Israel of “God” (met ‘n hoofletter), dit nie korrek is om daaruit af te lei dat al die gevalle waar ’Ĕlōhīm in die Hebreeuse teks voorkom, dit slegs na God (met ‘n hoofletter) in vertalings kan verwys nie. Daar is talle voorbeelde van die teenoorgestelde in die Hebreeuse Ou Testament. 

 

Voorbeelde waar ’Ĕlōhīm nie ”God” is nie

Exodus 12:12

”En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE “(1953 vertaling) Hier word wel nie die woord ’Ĕlōhīm aangetref in die absolutus vorm nie maar Ĕlōhei (’Ĕlōhīm in die status constructus, ml. mv. gebruik as genitiefkonstruksie). Dit is egter die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”

Eksodus 18:11

”Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode… “(1953 vertaling)

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met gode.

Josua 24:20

”As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien….” (1953 vertaling)

Dit is die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”.

Josua 24:23

”Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is…” (1953 vertaling)

Dit is die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”.

Psalm 82:1

”God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.” (1953 vertaling).

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met gode. 

 

Dit is ook nie vreemd om die koning of owerheid ’Ĕlōhīm te noem nie

Exodus 21:6

“…dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring” (1953 vertaling).

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met “owerhede”.

Exodus 22:8 (Hebreeuse teks vers 7)

”As     die     dief     nie     uitgevind     word     nie,     moet     die     eienaar     van     die     huis     na die owerhede gaan…” (1953 vertaling)

Die woord ’Ĕlōhīm word weer hier vertaal met “owerhede”.

Exodus 22:9 (Hebreeuse teks vers 8)

”…moet die saak van altwee voor die owerhede kom….” (1953 vertaling) 

Die woord ’Ĕlōhīm word weer hier vertaal met “owerhede”.

  

Waarom ek nie oordeel die aanspreekvorm (vokatief) verwys net na God (hoofletter) nie

Ek is van mening dat die argument dat ”o God” (aanpreekvorm) slegs van toepassing is op die Hebreeuse teks en nie bv. die Septuagint-teks van Psalm 45 nie, wat die teks sou wees waarmee die vroeg-Christelike kerk oor die Psalm gedink het. Om die afleiding te maak dat die woord slegs op een manier vertaal word wanneer dit met die aanspreekvorm gepaard gaan, blyk nie konsekwent te wees nie. Na my mening is die argument afhanklik van watter vertaling van die frase ter sprake is. Met ander woorde: Ek dink aan heelwat voorbeelde in die kerkvaders waar θεὸς (Grieks vir God) in die vokatief (aanspreekvorm) ‘n aanspreekvorm vir die gode is. Dit maak my gevolglik huiwerig om af te lei dat ’Ĕlōhīm in die vokatief in alle gevalle God (met ‘n hoofletter) is en of dit nie afhang van die vertaler se interpretasie nie? Ek verstaan egter die gemelde skrywer se argument dat waar die woord ’Ĕlōhīm in die vokatief voorkom, dit “o God” in die 1953 vertaling vertaal is. Maar dan vra ek: sluit dit enige ander vertalingsmoontlikhede uit omdat een vertaling dit anders gedoen het? Dan blyk die argument vir my eerder vertalings-gebaseer te wees, en nie teks-gebaseer nie.

 

Slotopmerking

Ek stem saam dat, indien ‘n mens Psalm 45 Messiaans verstaan (soos ons mos doen), dit vreemd sou wees om ’Ĕlōhīm hier anders te verstaan as met betrekking tot God. ‘n Mens moet egter bewus wees daarvan dat die 2020 vertaling (met kleinletters) die koning van Israel hier in gedagte het, en dus sou dit onvanpas wees om van van hom as “God” te praat. In die 2020 hooflettervertaling word die woord “Goddelike wese” gevind, wat volgens konsensus by die Werkgroep vir Hoofletters, heenwys na Christus, die Seun van God en dus Messiaans verstaan moet word. Aangesien die woord “Goddelike wese” met ‘n hoofletter vertaal word in die 2020 vertaling met hoofletters, is daar na my mening geen twyfel wie dié Goddelike wese is nie, en vind ons in die voetnoot “f” van hierdie vers ‘n hoofletter waar verwys word na die Koning, en ook ‘n opmerking: Word ook vertaal as ‘God’.

Daar bestaan dus geen twyfel Wie die Goddelike wese op die troon is in Ps. 45:7 en 8 nie.

Wat is ”oerwater” in Genesis 1:2 soos in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling? – deur prof. Gerrit Smit

Die volledige artikel met diagramme is by hierdie skakel:

2020 Bybelvertaling: ”oerwater” in Genesis 1:2

 

Wat is die Hebreeuse name vir God in die Ou Testament? – deur prof. Gerrit Smit

Die transkribering van die woorde hier onder word uitgespreek soos volg:

[e] soos in “e” in “seraf” [ε] soos in “e” in “wet” [Ə] soos in “e” in se

[o] soos in “oo” in “room” [ɔ} soos in “o” in “lot”

[i] soos in “i” in minimum 

[x] soos in “g” in “gees” 

[v] soos in “v” in “universiteit” (m.a.w. “w”)

[a:] soos in baan 

 

Hieronder is ‘n lys van die korrekte name:

ֵאל – [El]

“God”, en soms “god/afgod” of in die meervoud telkens “afgode”, behalwe waar ֵאל [el] ‘mag’ beteken (bv. Gen. 31:29; Deut. 28:32).

ִהים˄ֱא – [’Ĕlōhīm]

“God” en “gode”, behalwe waar ִהים˄ֱא as ‘n superlatief* gebruik word (bv. Jona 3:3). 

*(GDS) Superlatief verwys na adjektiewe wat in die hoogste vorm gebruik word. In die geval van God se naam kan dit ook verstaan word as ‘n majesteitsmeervoud. Rekening word gehou daarmee dat die uitgang in Hebreeus normaalweg in die status absolutus as ‘n meervoud gelees word, vandaar die vertalingsmoontlikheid “gode”. 

ִריתבְּ ֵאל – [El bƏrit] 

“die Verbondsgod” of “(die) God van die verbond”. 

 

ֹעוָֽלם ֵ֥אל – [El ola:m]

“die Ewige God” of “God, die Ewige”. 

 

ְלֹֽיוןﬠֶ ֵ֥אל – [El εljon]

“die Allerhoogste God” of “God, die Allerhoogste” (Gen. 14:18). 

 

ֳרִאי ֵאל – [El rɔ’i]

“Die God wat my sien” (Gen. 16:13)

 

ידָּ֥שַׁ ֵאל – [El sjad’dai]

“die Almagtige God” of “God, die Almagtige”. 

 

ֲאֹדָני en ןוָֹאד – [Ədona:i] en [a:don]

“my/ons Heer” en “die Heer” (Jes. 10:16). 

 

ֹ֔קבﬠַיֲ ֲאִ֣ביר – [Əbir ja’Əkob] en [Əbir jisra:’el]

“die Magtige van Jakob” en “die Magtige van Israel”.

 

ְצָבֹ֔אות ֲאֹדָני ְיהָ֣וה – [jhvh Ədona:i tsƏba:’ot]

“die Here, my Heer, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “HERE, my Heer, Heerser oor alle magte”.

 

ֲאֹדָני ְיהָ֣וה – [jhvh Ədona:i ] 

“my/ons Heer, die HERE”, en as aanspreekvorm “HERE, my/ons Heer”. 

 

ְצָבֹ֔אות ְיהָ֣וה ָֽהָאֹדו֙ן – [haƏdon jhvh tseba:’ot]

“die HERE, my Heer, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “HERE, my Heer, Heerser oor alle magte” (GDS: Jes. 1:24) 

 

יהוה – [jhvh]

“die HERE”, en as aanspreekvorm “HERE”. 

 

ִהים˄ֱא יהוה – [jhvh ’Ĕlōhīm]

“die HERE God”, en as aanspreekvorm “U, HERE God”.

 

ְלֹ֔יוןﬠֶ ֵ֣אל ְיהָו֙ה – [jhvh El εljon]

“die HERE God, die Allerhoogste” (Gen. 14:22). 

 

ְצָבֹ֔אות ְיהָ֣וה – [jhvh tseba:’ot]

“die HERE, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “U HERE, Heerser oor alle magte”. 

 

ִיְצָח֙ק ַ֤פַחד – [paxad jitsxa:k]

“die Vrees van Isak” (Gen. 31:42) 

 

ָראוֹנ ֵאל – [El nora:]

“ontsagwekkende God”

Hoe is die gebruik van hoofletters in die Messiaanse tekste van die Ou Testament? – deur prof. Gerrit Smit

Inleiding

Die verskyning van die 1983-Bybelvertaling het by baie gelowiges ’n diep gevoel van teleurstelling ontlok. Twee sake het veral onder kritiek deurgeloop, naamlik die gebruik van die dinamies-ekwivalente vertalingsmetode, asook die vervanging van hoofletters met kleinletters in persoonlike voornaamwoorde wat op Christus betrekking het. Die verwagting het ontstaan dat ’n meer bronteks-georiënteerde vertaling hierdie probleme sou aanspreek. Tog het dit geblyk dat die gebruik van kleinletters in Messiaanse verwysings voortgesit was, wat opnuut spanning veroorsaak het. Dit is die agtergrond tot die ontstaan van die Bybel; Direkte Vertaling (2020) met hoofletters.

Waarom ‘n Ou Testament met hoofletters nodig was?

Die debat oor hoof- en kleinletters is nie bloot ’n stilistiese aangeleentheid nie. Dit raak twee teologiese lyne. Eerstens funksioneer hoofletters in verwysing na Christus as ’n uitdrukking van eerbied teenoor die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Tweedens impliseer die gebruik van kleinletters dikwels ’n bepaalde hermeneutiese standpunt, naamlik dat Ou-Testamentiese tekste nie direk Messiaans is nie, maar eers deur die Nuwe Testament so geïnterpreteer word.

Hierdie tweede punt is die kern van die saak. Indien die Ou Testament nie self van Christus getuig nie, word die klassieke Gereformeerde praktyk van Christusprediking vanuit die Ou Testament problematies. Die gaan dus nie bloot net oor hoe ons die tekste vertaal nie, maar dit gaan ook oor wat ons bely oor die openbaring van Christus in die Bybel.

Die Ou Testament as getuienis van Christus

Die Nuwe Testament self lewer getuienis oor die Christologiese karakter van die Ou Testament.

Die volgende uitsprake is hier van besondere belang:

Joh. 5:39 – Die Here Jesus sê: Julle ondersoek die Skrifte,… en dit is dié wat van My getuig.
Mat. 21:42 – Jesus sê vir hulle: Het julle nooit die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword.
Mat. 26:54 – Die Here Jesus sê: Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?
Mat. 26:56 – Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word.
Mark. 14:49; Joh. 13:18; 17:12; 19:24, 28, 36 – soortgelyke formulerings.
Mark. 12:10 – Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie…?
Luk. 22:37 – Want Ek sê vir julle dat dít wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word…
Luk. 24:27 – En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

Hierdie uitsprake bevestig dat die Ou Testament nie bloot ’n voorlopige dokument is wat later herinterpreteer word nie, maar dat dit inherent Christologies is. Die sleutelwoord in Lukas 24:27 is “uitgelê”. Uitleg veronderstel dat die inhoud reeds in die teks teenwoordig is. Christus voeg nie nuwe betekenis by nie, maar openbaar die bestaande betekenis.

Dieselfde beginsel geld in:

Joh. 20:9 – Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.
Hand. 17:2,3 – …gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly…
Rom. 1:1-3 – …wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun…

Die patroon is konsekwent. Die Nuwe-Testamentiese verkondiging is nie ’n herinterpretasie nie, maar ’n vervulling en ontsluiting van die Ou Testament.

Hermeneutiese implikasies

Indien die Ou Testament werklik van Christus getuig, volg daaruit ’n belangrike hermeneutiese gevolgtrekking. Waar tekste eksegeties duidelik op die Messias betrekking het, moet dit ook in die vertaling weerspieël word. Die gebruik van hoofletters vir “Hy” en “Hom” is dan nie ’n toevoeging tot die Skrif nie, maar ’n erkenning van die Skrif se eie bedoeling.

Die alternatief, naamlik die gebruik van kleinletters met voetnote, skep ’n skeiding tussen teks en betekenis. Dit plaas die Messiaanse interpretasie buite die teks self, terwyl die Nuwe Testament dit juis binne die teks plaas.

Die argument vanuit die brontale

’n Gereelde beswaar is dat Hebreeus en Aramees nie hoofletters gebruik nie. Hierdie argument hou egter nie stand nie. Dieselfde geld vir eiename, goddelike titels en selfs sinne se begin, wat alles in Afrikaans aangepas word volgens taalreëls.

Afrikaans ken die gebruik van eerbiedshoofletters. Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls word benamings wat eerbied uitdruk, met hoofletters geskryf. Hierdie beginsel kan dus nie bloot linguisties wegredeneer word nie. Ons kan dit uit die geskiedenis kultureel, taalkundig en teologies motiveer.

Tradisie en teologiese identiteit

Die gebruik van hoofletters in Messiaanse verwysings al jare lank gewortel in die Gereformeerde tradisie. Om hierdie gebruik prys te gee ter wille van internasionale tendense, is om ’n stuk teologiese identiteit prys te gee.

Die argument dat ander tale dit anders doen, is nie normatief nie. Vertaling vind altyd plaas binne ’n bepaalde geloofsgemeenskap, met eie oortuigings en praktyke.

Historiese ontwikkeling van die hooflettervertaling

Sedert 2009 het daar binne kerklike strukture doelbewuste pogings ontstaan om ’n hooflettervertaling van die Direkte Vertaling in Afrikaans te ontwikkel. Die Werkgroep vir Hoofletters in die Ou Testament het ’n omvangryke taak aangepak, waarin duisende tekste geïdentifiseer is waar hoofletters volgens eksegetiese oorwegings gepas sou wees.

Die proses is bemoeilik deur uiteenlopende teologiese standpunte, beperkte hulpbronne en organisatoriese uitdagings. Tog het die projek voortgegaan, gedryf deur die oortuiging dat Christus nie net in die Nuwe Testament teenwoordig is nie, maar in die hele Skrif. Die produk van hierdie oortuiging vind ons in die Bybel: Direkte Vertaling (2020) Hoofletteruitgawe.

Samevatting

Die kernvraag is: Getuig die Ou Testament self van Christus? Indien die antwoord ja is, dan moet ons vertaling dit weerspieël. Die gebruik van hoofletters erken dat die Skrif een is, en dat die openbaring een lyn volg, van belofte tot vervulling. Om dit te ontken, selfs implisiet, raak die hart van Skrifgesag.

Moet Jesus se Naam vertaal word met Josua? – deur prof. Gerrit Smit

In sommige kringe het daar ’n hernieude aandrang ontstaan om die Naam van Jesus as “Josua” weer te gee in vertalings, veral met ’n beroep op die Hebreeuse vorm יְהוֹשֻׁעַ (Yehoshua). Hierdie benadering word dikwels aangebied as ’n herstel van sogenaamde “oorspronklike” Bybelse akkuraatheid. Tog berus hierdie argumentasie dikwels op ’n gebrekkige verstaan van die taalontwikkeling, transliterasie, en, meer fundamenteel, van die teologiese aard van die Nuwe-Testamentiese openbaring self.

Die Nuwe-Testamentiese getuienis weerspreek reeds die eenvoudige onderskeid tussen “Josua” in die Ou Testament en “Jesus” in die Nuwe Testament. Die Griekse teks gebruik immers dieselfde naamvorm, Ἰησοῦς, vir beide persone. Hebreërs 4:8 is hier ’n klassieke voorbeeld: “εἰ γὰρ αὐτοὺς Ἰησοῦς κατέπαυσεν…”. In die King James Version en die 1953 Afrikaanse vertaling word dit tereg as “Josua” weergegee, nie omdat die Griekse teks ’n ander woord gebruik nie, maar omdat die konteks dit vereis. Die teks self maak dus geen formele onderskeid tussen “Josua” en “Jesus” nie. Dit was eenvoudig ’n algemene Joodse naam, soos Jochanan wat in Grieks Johannes geword het.

Die poging om die Naam van Christus in vertalings te dwing na “Josua” berus verder op ’n verwarring tussen transliterasie en oorspronklike vorm. Die naam “Jesus” is nie ’n suiwer Griekse skepping nie, maar ’n transliterasie wat deur beide die Grieks en later die Latyn gevorm is. Die bekende -us uitgang is nie tipies Grieks nie, maar weerspieël Latynse invloed, soos gesien in talle Nuwe-Testamentiese name. Hierdie verskynsel is nie uniek aan Jesus nie. Die Nuwe Testament getuig konsekwent van gelatiniseerde of vergriekste vorme van Semitiese name, soos Barabbas, Petrus, Nikodemus, Silvanus, Paulus, Barnabas, Sebedeus, Markus en Mattheus. Om dus net by Jesus ’n “herstel” te vereis, is inkonsekwent en selektief.

Die kern van die saak lê egter nie in fonetiek of spelling nie, maar in betekenis. Die naam Ἰησοῦς dra dieselfde teologiese inhoud as die Hebreeuse vorm, naamlik “Die HERE red”. Die evangelie rus nie op die presiese klankwaarde van die Naam nie, maar op die Persoon en werk wat daardeur aangedui word. Om die Naam te reduseer tot ’n debat oor lettergrepe of uitspraak, is om die fokus te verskuif van openbaring na filologie.

Daarby moet in gedagte gehou word dat die vroeë kerk, wat self Grieks as omgangstaal gebruik het, sonder gewetensbeswaar die vorm Ἰησοῦς gebruik het. Hierdie gebruik om na Jesus te verwys en nie Josua nie, het deel van die geïnspireerde teks self geword. As die Heilige Gees die Naam in hierdie vorm laat opteken het, is dit teologies problematies om te beweer dat ’n ander vorm meer “reg” of “heilig” sou wees.

Die moderne debat oor “Josua” teenoor “Jesus” openbaar dus nie net ’n linguïstiese misverstand nie, maar ook ’n teologiese verskuiwing. Dit skuif die klem van die inhoud van die openbaring na die vorm daarvan. Die Skrif self doen die teenoorgestelde. Die Naam is belangrik, maar dit is belangrik omdat dit die wese van God se reddende handeling openbaar, nie omdat dit ’n spesifieke klankvorm behou of in ‘n spesifieke taal vasgelê is nie. In daardie sin geld ’n eenvoudige beginsel: die krag van die Naam van Jesus Christus lê nie in sy spelling nie, maar in die inhoud wat Christus daardeur verkondig.

Wat is die korrekte gebruik van die woord “‘amen”? – deur prof. Gerrit Smit

Soms kom daar vreemde uitsprake in ons tyd voor, byvoorbeeld die bewering dat “Amen” nie ‘n Bybelse woord is nie en sou verwys na die Egiptiese god Amun. Die implikasie van hierdie bewering is dan dat die kerk ‘n afgod aanbid deur die woord “amen” te gebruik. Die vraag is: is daar enige gronde vir hierdie bewerings?

Die woord Amen is een van die woorde wat die meeste in kerke oor die wêreld heen gebruik word. Daar is nie ‘n kerk op aarde in watter taal ook al waarin die woord nie gebruik word in gebede, lofprysing, prediking en die liturgie nie.

Die woord Amen kom uit Bybelse-Hebreeus (אָמֵן) en is afgelei van die Aramese woord אָמַן (’āman), wat beteken “om stewig te wees”, “om vas te staan” of “om getrou te wees”. Hierdie stamwoord lewer in die Hebreeuse taal ook ander woorde soos emunah (geloof, getrouheid) en emet (waarheid) wat baie algemeen in die Ou Testament gebruik word. Die basiese gedagte is dus bevestiging en betroubaarheid.

In die Ou Testament word Amen dikwels gebruik as ’n bevestigingsformule, soos in Deuteronomium 27:15–26, waar die volk na elke uitspraak van ’n wet of vloek antwoord: “Amen”. Dit is ’n liturgiese woord wat “so is dit” of “laat dit so wees” uitdruk, wat instemming en bevestiging bewys.

In die Septuagint (Griekse vertaling van die Ou Testament) is Amen meestal onvertaal gelaat, wat daarop dui dat dit reeds in die Joodse aanbidding gevestig was. In die Nuwe Testament word Amen direk oorgeneem vanuit die Grieks (ἀμήν) en later Latyn, en is dit verder so gedoen in alle Europese tale.

Die gebruik van Amen het twee hoofvorme in die Bybel:

  1. Dit kan vooraf of agterna kom. Wanneer Jesus sê: “Voorwaar, voorwaar (ἀμὴν ἀμὴν) Ek sê vir jou…” (bv. Joh. 3:3), gebruik Hy Amen aan die begin van ’n stelling om sy waarheid en gesag te onderstreep.
  2. In gebede en lofprysing dien dit as ’n antwoord van die gemeente (vgl. 1 Kor. 14:16). Dit is ’n bewys van aktiewe deelname in die gebede en lofprysing wat bely: “So is dit”, “Ek stem in”, “Dit is waar”.

Openbaring 3:14 noem Christus self “…die Amen, die getroue en waaragtige Getuie…”, wat die betekenis van sy standvastigheid en sy waarheid bevestig.

Die idee dat Amen van die Egiptiese god Amun (of Amon, Amen-Ra) kom, is ’n moderne mite sonder taalkundige of historiese grondslag. Die volgende redes wys hoekom:

  • Die Aramese ’āman en Egiptiese Imn (Amun) is twee heeltemal verskillende woorde, uit twee verskillende taalfamilies (Semities vs. Egipties). ’Āman beteken “vas, betroubaar”, terwyl Imn in Egipties beteken “die verborge een”. Om te beweer dat die twee woorde verwant is bloot omdat hulle soortgelyk klink, is soos om te sê dat die Engelse woord gift (geskenk) en die Afrikaanse gif (gifstof) dieselfde oorsprong en betekenis het. Hulle klink eenders, maar kom uit verskillende tale, het verskillende geskiedenisse en beteken selfs teenoorgestelde dinge. Dit is voor-die-hand-liggend dat iemand wat sulke bewerings maak, nie antieke tale ken nie.
  • Soms word beweer dat die gebruik van die woord “amen” deur Konstantyn onder invloed van die Griekse mitologie ingewerk is. So ‘n bewering is eenvoudig vals: die gebruik van Amen in die Bybel dateer minstens uit die 15de eeu v.C. (Mosaïese tyd), lank voor enige moontlike Hellenistiese godsdiens bekend was. Die liturgiese gebruik het sy wortels in die verbondsliturgie van Israel, nie in heidense tempelkultusse nie.
  • Nêrens in die Hebreeuse Bybel of in die Joodse tradisie word Amen met ’n heidense god verbind nie. Dit is eerder konsekwent ’n geloofsreaksie op God se waarheid en beloftes.
  • Joodse gemeenskappe het deur die eeue Amen gebruik in sinagoges en huise, selfs in lande en tydperke waar die Egiptiese godsdiens onbekend was. Dit toon dat die woord se gebruik alleen in die Bybel voorkom.

Teologies dra Amen die belydenis dat God se Woord seker is en dat die gelowige dit as waar aanvaar. Wanneer ’n Christen “Amen” sê, bevestig hy of sy die gesag van God se openbaring en onderwerp hom of haar daaraan.

In Christus kry Amen sy volle betekenis:

  • Hy is die Amen (Openb. 3:14), die volmaakte vervulling van God se beloftes (2 Kor. 1:20).
  • Ons Amen in gebed is ’n geloofsantwoord op God se onveranderlike waarheid.
Hoe word God se Naam "Jahwe" in Eksodus gebruik? – deur prof. Gerrit Smit

Inleiding tot die boek Eksodus

Stel jou voor: dit is laat nag in Egipte. Dit is pikdonker en die straatjies is stil. In elke Israelitiese huis brand ‘n klein olielampie. Die reuk van gebraaide lamsvleis en ongesuurde roosterkoeke hang in die lug. Teen elke deurkosyn is bloed gesmeer met ‘n hisoptak. Almal eet haastig, met hulle skoene aan die voete, en ‘n staf in die hand. Hulle weet nie presies wat aan die kom is nie, maar dit was God se opdrag aan hulle deur Moses en daarom eet hulle vir die eerste maal die Pasga. Hulle weet iets groot is aan die gebeur. Hierdie aand sal hulle lewens vir altyd verdeel in die tyd voor die uittog en die tyd na die uittog uit Egipte.

Waar Genesis die wêreld van die aartsvaders skets: die sondeval, die eerste moord, die nomadiese lewe, die sluit van verbonde, die belofte van ‘n nageslag en die betekenis van ‘n naam, neem Eksodus ons na iets fundamenteel anders. God werk nie meer slegs met individue of enkele families nie, maar is besig met die geboorte van ‘n volk.

In Eksodus is dit die HERE (JHWH) self wat met sy volk praat, nie alleen oor hoe hulle moet glo nie, maar in hoe hulle moet leef: hoe hulle eet, wanneer hulle moet rus, hoe hulle moet aanbid, en hoe hulle reg moet laat geskied aan mekaar en aan die armes en vreemdelinge.

Die lewenswyse van die aartsvaders word nou vervang deur ‘n gemeenskapslewe wat deur God self voorgeskryf word. En die belangrikste boodskap van Eksodus is oor die aard van God se verlossing: God red nie sodat mense as individue kan leef nie. Hy red sodat hulle binne sy verbond saam met ander voor sy aangesig kan lewe.

God se Naam: EK IS

Voordat enige gebruik in Eksodus ter sprake kom, gebeur iets van wesenlike belang: God openbaar sy Naam aan Moses en aan sy volk. By die brandende bos in Eksodus 3 ontmoet Moses die God van sy vaders. Wanneer Moses vra wie hom gestuur het, antwoord God met ‘n Naam wat dwarsdeur die Ou Testament gebruik sou word: “EK IS WAT EK IS”, in Hebreeus, Ehyeh asher Ehyeh. En dan sê Hy: “Dit is my Naam vir ewig, en dit is My gedenknaam van geslag tot geslag” (Eksodus 3:14–15).

In die antieke Nabye Ooste was iemand se naam ‘n teken van sy karakter. ’n Naam het aan almal vertel wie jy is en wat hulle van jou kan verwag. Gode in die omringende kulture het name gehad wat hulle domein beskryf het: die songod, die stormgod, die vrugbaarheidsgodinne. Maar Israel se God maak Homself bekend met ‘n werkwoord: “Ek Is” (Ehyeh). Dit verwys na sy absolute, onafhanklike bestaan. Hy is die Een wat nie afhanklik is van ruimte of tyd of seisoene nie. Hy is die ewige, soewereine God.

Die naam JHWH (Hy is) is die derde persoon enkelvoud van Ehyeh (Ek is). Wanneer Moses die groot “Ek is” aan die volk bekendstel, doen hy dit deur na Hom te verwys as “Hy is” (Jahwe).

Vir die volk Israel het die gebruik van die Naam van God groot betekenis gekry. Die Naam was heilig; so heilig dat dit later nie eens hardop uitgespreek sou word nie. Die derde gebod verbied die gebruik van God se Naam op ‘n sinnelose of lighartige manier (Eksodus 20:7). Die Naam dra soveel gewig omdat die Naam die Persoon verteenwoordig. Om die Naam te misbruik, is om God self te minag. Uit eerbied vir sy Naam en om te voorkom dat hulle die Naam ydellik gebruik, het die Israeliete na die terugkeer uit die ballingskap God se verbondsnaam weergegee met Adonai (my Here).

Later sou Jahwe in die Griekse vertaling van die Ou Testament weergegee word met die Griekse vorm van HEER (Adonai), naamlik KURIOS, wat tans ook in Afrikaanse Bybelvertalings vertaal word met 4 eerbiedwaardige hoofletters: HERE. Die gebruik van die verbondsnaam HERE in Bybelvertalings wil erkenning gee aan die 4 hoofletters van die Naam JHWH, saam met die vertaalde vorm van die Griekse KURIOS (HERE). Dit word die verbondsnaam waarmee God Homself aan Israel bind. God sê deur sy Naam in effek: “Ek wil deur julle geken word. Ek gee julle my Naam”.

En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die Here, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.

Eksodus 3:14–15

God het Homself laat ken. En dít is die fondament van ons geloof. Ons aanbid nie ‘n onbekende mag of krag nie, maar ‘n God wat Homself deur sy Naam bekend gemaak het, en wat deur sy volk geken kan word.

Die openbaring van God se Naam is die mees wesenlike daad in Eksodus. Alle ander gebruike en gewoontes, soos die Pasga, die instelling van die Sabbat, die bou van die Tabernakel, ens., is antwoorde op hierdie een openbaring: die God met die Naam “EK IS”, is hier teenwoordig.

 

ARTIKELS UIT DIE BOODSKAPPER (OKT 2023 UITGAWE):

Duskant TULIP: Lesse uit die geskiedenis en die erfenis van die Dordtse Leerreëls (deur ds. Henning Dafel1)

Duskant TULIP: Lesse uit die geskiedenis en die erfenis van die Dordtse Leerreëls

Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) was ’n belangrike internasionale samekoms van gereformeerdes. Dié sinode is in Dordrecht byeengeroep om ’n teologiese dispuut wat in en om die Nederlande ontstaan het, aan te spreek. Die middelpunt van hierdie dispuut was die leer van die teoloog, Jacob Arminius, en sy volgelinge. Hulle het geleer dat mense moet kan kies of hulle gered wil word of nie.

Jacob Arminius (1559-1609)

In die laat 16de eeu was daar ’n groeiende weerstand teen belangrike gereformeerde leerstellings. Aanvanklik was Arminius ’n belowende student aan die Geneefse Akademie wat geen sigbare dwaalleer voorgestaan het nie. Ná voltooiing van sy studies ontvang hy selfs ’n getuigskrif van Theodor Beza. Vrae oor sy geloofsoortuigings ontstaan eers in 1590, maar invloedryke vriende beskerm hom telkens. Teen 1594 kom hy met ’n nuwe interpretasie van Romeine 7 vorendag: dat Paulus nie ’n verloste persoon beskryf nie, maar wel ’n ongeregverdigde. In 1596 kom hy tot die gevolgtrekking dat ’n mens ’n bydrae moet maak om gered te word – jy moet God se redding gaan soek. Op slinkse wyse bely hy oënskynlik dat ’n mens deur geloof alleen gered word, terwyl hy die betekenis van die begrippe “uitverkiesing” en “geloof ” verander.

Besorgde predikante sien rooi ligte, maar tydens gesprekke met Arminius gee hy telkens goeie antwoorde – daar was geen konkrete bewyse van dwaalleer nie. Ondanks al die onsekerheid stel die Universiteit van Leiden hom as professor in Teologie aan. Daar kry hy egter gou teenstand. Na bewering het hy geleer dat God mense nie uitverkies nie, maar omdat God vooruit weet wat ’n mens gaan doen, kies Hy jou op grond van daardie keuse (Pelagianisme).

In 1605 dring gereformeerde predikante aan dat daar met die tug teen Arminius en sy volgelinge opgetree word, maar politici weier om ’n nasionale sinode by­een te roep. So ’n inisiatief sou Nederland se moeilike verhouding met hul Rooms-Katolieke koning (Phillip III van Spanje) verder versuur. Aan die ander kant het invloedryke Arminiane probeer om ’n sinode byeen te roep om die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus in lyn met Arminius se idees te bring – iets wat Nederland se verhouding met Spanje nie sou beïnvloed nie.

Die dispuut duur voort

Arminius se dood (1609) los dié dispuut nie op nie. In 1610 publiseer die Arminiane (Remonstrante) ’n be-swaarskrif (Remonstransie) teen die gereformeerde leer waarin hulle vyf besware teen die gereformeerde leer uiteensit. Die gereformeerdes (Kontraremonstrante of Calviniste) reageer uiteindelik by die Sinode van Dordrecht (1618-1619) daarop.

Opsommend verklaar die Arminiane:

  1. Uitverkiesing word bepaal deur vooruitgesiene geloof en gehoorsaamheid.
  2. Almal word gered; dié wat glo ontvang dit.
  3. Die mens is nie dood in sy sonde nie, net siek (beperkte menslike verdorwenheid).
  4. Genade kan verwerp word (vrye wil).
  5. Jy kan jou redding verloor. 

Die Sinode reageer punt vir punt op die vyf besware en teenoor die Arminiane bevestig die gereformeerdes die ou leerstellings van die kerk. Omdat Dordt van mening was dat die derde en vierde punte baie naby aan mekaar lê, hanteer hulle hierdie twee punte saam. 

  • Die eerste hoofstuk fokus op onvoorwaardelike uitverkiesing en bevestig dat God kies wie gered of veroordeel word. Die mens kan geen bydrae maak nie.
  • Die tweede hoofstuk fokus op beperkte versoening en verduidelik dat Christus se kruisdood slegs versoening bring vir hulle wat deur God uitverkies is. Dit kyk ook na die manier hoe hierdie leer verkondig moet word.
  • Punt drie en vier fokus op totale verdorwenheid en onweerstaanbare genade. Hierdie hoofstuk verduidelik die mens se totaal verdorwe natuur en dat hy glad nie in staat is om homself te red nie. God se genade is die enigste weg tot redding. Verder word die aard van wedergeboorte en geloof, asook die mens se verantwoordelikheid beskryf.
  • Die vyfde hoofstuk fokus op die volharding van die heiliges en bevestig dat wanneer iemand een maal gered is, die redding nie verloor kan word nie. Dit verduidelik waarom die heiliges nie verlore kan gaan nie en bevestig die troos en bemoediging wat uit hierdie waarheid geput kan word.

 Ná hierdie oorsig móét ons die volgende verreken:

Eerstens is dit nóg die Calviniste óf die Sinode van Dordrecht, nóg Calvyn óf die ander 16de eeuse Hervormers wat hierdie gedagtes uitgedink het. Dordt het bloot die leer van die Bybel en die kerkvaders bevesig. Ons moet onthou dat hierdie leerstellings baie ver teruggevoer kan word.

Tweedens kán ons nie in isolasie na die Dordtse Leerreëls kyk nie. Terwyl hierdie vyf onderwerpe deeglik hanteer word, het hulle ’n nouer fokus as die Nederland­se Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus. Hierdie vyf punte is ’n gereformeerde antwoord op die Arminiaanse dispuut en in die eerste plek ’n strydskrif wat beskou moet word as ’n soort voetnota by die ander twee gereformeerde belydenisskrifte.

Laastens moet ons ook sien watter rol die Leerreëls vandag vervul. Die vyf gegewe opskrifte is nié die opskrifte wat in 1618-1619 aan die verskillende hoofstukke gegee is nie. Tog gee dit ons ’n goeie begrip van die belangrikste gevolgtrekkings wat elke hoofstuk maak. In Engels word die opskrifte met die akroniem TULIP2 saamgevat wat wyd en syd bekend is en deur gereformeerde kerke van die 21ste eeu met groot vrymoedigheid as belydenis onderteken word. Gevolglik word selfs Calvinisme gereeld met hiérdie vyf punte (TULIP) omskryf.

Waar laat dit gereformeerdgesinde kerke vandag? Kortweg: Ons moet die dwaasheid daarvan besef om TULIP as ’n geloofsbelydenis of belydenisskrif te gebruik. Dit is ’n nuttige eselsbrug vir memorisering en ’n goeie manier om die nuanses van gereformeerde teologie te verduidelik. As ’n belydenis is dit egter ’n stomp ’n stomp mes, ’n geraamte sonder murg of spiere en op die beste ’n struktuur, maar nie ’n tuiste nie. Die punt is duidelik: So ’n skuif maak dat ons ontsaglik baie verloor.

Ons moet ook verstaan dat ons nie TULIP of selfs die Dordtse Leerreëls in sy geheel as die een en alles van Calvinisme of gereformeerde teologie kan sien nie. Om slegs hierdie Leerreëls as belydenis te gebruik, beteken dat jy gereformeerde teologie in ’n wapen verander. As belydenis sê die Dordtse Leerreëls of TULIP min of selfs niks oor die aard van die Skrif, persoonlike vroomheid, gebed, die sakramente of die nature en Persoon van Christus nie. Gevolglik sal jy ’n groot deel van die vaste fondamente van troos waarop hierdie Leerreëls gebou is, verloor as jy die gereformeerde leer hiertoe beperk. Kortom, jy sal presies weet waarteen jy standpunt in­neem, maar jy sal ’n uiters beperkte begrip hê van dít waarvoor jy wel staan.

Om Calvinisme en meer spesifiek Calvýn die draaipunt van die gereformeerde Christendom te maak, is soos om anker te gooi op ’n nuwe sandbank en nie op die ewige Rots nie. Dit beroof gereformeerde kerke van die volheid van hul identiteit as ’n tempel van die Heilige Gees wat op die ewige Rots gebou is. Geen mens of mensgemaakte sisteem kan soortgelyke sekuriteit bied nie. Ons is lewende stene in ’n baie ou geestelike gebou. Ons is egter redelik onlangs as stene in hierdie tempel van die Heilige Gees ingebou – soos ook Ursinus (Heidelbergse Kategismus), De Brés (Nederlandse Geloofsbelydenis) en Calvyn (wat beide direk beïnvloed het). Ons moet hulle waardeer, maar nie oorwaardeer nie. Ook húlle is op steeds ouer stene gebou – Anselmus van Kantel­berg, Gregorius van Nazianze, Augustinus van Hippo, Cyprianus van Karthago, wat op hul beurt weer op die fondament van die apostels gelê is (vgl. Efés. 2:20). Buiten die Woord van God is geen geskrif onfeilbaar nie en daarom moet ons selfs verby die Sinode van Dordrecht, Ursinus, De Brés en Calvyn kyk om die groot genade wat God deur die eeue aan sy kerk gegee het, te waardeer, want daar is meer.

TULIP en die Dordtse Leerreëls is monumente van God se genade aan sy kerk en ons moet die tyd neem om dit op ’n gepaste wyse te waardeer. Tog moet ons nie kortsigtige slagoffers wees van ’n kultuur wat sy eie fondament onder homself uitgrou nie. As ons die gevare van verskraling verstaan, sal dit ons help om te besef dat ons net soveel genade vir ons eie en toekomstige generasies van die kerk kan verwag. Hoe meer ons dít sien, hoe meer hoop sal ons hê vir die toekoms van Christus se kerk. 

_________________________________________

  1. Leraar van die AP Kerk Potgietersrus en redaksielid van Die Boodskapper.

Total depravity, Unconditional election, Limited atonement, Irresistible grace, and Perseverance of the saints. LIG IN DUISTERNIS

Kennis en die liefde van God1 (deur dr. Tim Keller2)

Skriflesing: Efésiërs 3:14-21 • Sing: Gesang 274:1, 2, 4

Daar is mense wat Christelike spiritualiteit sónder moraliteit wil hê: Die kerk moenie vir ons voorskryf hoe ons moet leef nie – ons wil God “voel”, dis al! Ander wil weer moraliteit sonder spiritualiteit hê: In óns kerk leer jy net van die Bybel se reëls vir ’n goeie lewe – geen “spiritualiteit” hier by ons nie! Die Bybel leer egter niks van hierdie tweedeling nie. In Efésiërs 3:14-21 (Paulus se gebed vir die Efésiërs) kry ons ’n volledige teologie van Christelike spiritualiteit: ons moet nie net bewus wees dat daar ’n God is nie, ons moet Hom ontmoet; ons moet nie net weet dat Hy liefdevol is nie, ons moet sy liefde beleef, ons moet nie net weet dat daar volheid en heer­likheid in Hom is nie, ons moet daarmee vervul word. Die apostel Paulus se gebed lig ons godsdiensbelewing op drie vlakke toe: die realiteit van hierdie belewing, die aard daarvan en die middele daarvoor.

Die realiteit van die belewing

Paulus bid vir twee dinge: dat Christus deur die geloof in [hul] harte kan woon (v. 17) en dat hulle Christus se liefde ken sodat [hulle] vervul kan word tot al die volheid van God (v. 19). Romeine 8, Johannes 14 en talle ander plekke leer dat as die Gees van Christus nie in jou hart woon nie, jy nie ’n Christen is nie. Kolossense stel wat dit beteken om ’n Christen te wees: … in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en dan: … julle het die volheid in Hom … (2:9-10). Dit is een ding om Christus in jou hart te hê en ’n ander ding om dit te beleef. Dit is soos om miljarde in die bank te hê, maar arm te leef. Elke gelowige besit per definisie reeds die dinge waarvoor Paulus hier bid. Dit lei dus tot die vraag: Waarvoor vra hy dan as hulle reeds hierdie dinge besit? Sy antwoord: Iets meer. ’n Belewenis daarvan wat meer as net kopkennis is, maar wat die hart raak en lewens verander.

Die aard van die belewing

Dit is baie belangrik om eers te verstaan wat dit nié is (doen) nie en dan wat dit wel is (doen). Eerstens skei Christelike spiritualiteit nie emosie en denke nie. Aan die begin van ons Skrifgedeelte staan daar: … buig ek my knieë … (v. 14). In Paulus se tyd het gelowiges hoofsaaklik gestaan tydens gebed. Jy het net gekniel wanneer iets jou verpletter het of iets oor jou gekom het – dit was ’n uitdrukking van diepe emosie. Lees jy hierdie gebed in Grieks, is die grammatika baie moeilik. Paulus is hier baie gelukkig en opgewonde. Hy gebruik woorde soos … die breedte en lengte en diepte en hoogte … (v. 18). Die sinne is nie volledig nie. Daar is ongelooflike emosie, maar daar is ook geweldige intellek – Paulus is nie buite beheer nie. Hier is diepgaande, helder, indringende, gedetailleerde, Trinitariese teologie. Ons is geneig om leerstellings van emosie te skei. Christelike kerke wat klem op emosie lê, dink leerstellings en teologie is nie belangrik nie en Christelike kerke wat baie klem op teologie plaas, is bang vir emosie. Hierdie twee dinge kom hier bymekaar: emosie en denke; dieper denke as ooit, dieper emosie as ooit. Hulle gaan saam; jy kan die twee nie skei nie.

Tweedens skei Christelike spiritualiteit nie die individu en die gemeenskap van mekaar nie. Voor wie buig die apostel die knieë? Voor God … die Vader … van wie elke geslag … sy naam ontvang (v. 14-15). God is dus ’n “Familiegod”: … saam met al die heiliges … (v. 18). En in vers 21: … in die gemeente. Moderne mense wil spiritualiteit hê, maar hulle wil nie deel van ’n kerk wees nie. Hulle wil nie aanspreeklik wees nie. Hulle wil nie deel van ’n groep wees nie. Hulle wil individuele spiritualiteit hê. Hulle wil dit hê wanneer húlle dit wil hê. Die Bybel ken nie hierdie soort skeuring nie. Dit weier om die individu van die groep te skei. Die gevolgtrekking is dat dit net in ’n gemeenskap met Christenbroers- en susters is, waar jy saam bid en met wie jy oor Christus praat, waar jy ware Christelike spiritualiteit sal beleef.

Derdens beteken Christelike spiritualiteit nie om jou van die wêreld te onttrek nie. Oor al die geslagte heen was dit God se plan om van Christus af, deur die kerk, sy koninkryk uit te brei; om die Woord deur offerdiens te bring; om ’n lewe van offerdiens te laat leef. Deur diep betrokke te raak by mense se lewens (by hul seerkry en behoeftes), raak jy ook opofferend betrokke. Daarom moet jy nie verwag om God te beleef as jy jou uit die wêreld onttrek nie.

Wat ís Christelike spiritualiteit dan? Paulus bid in vers 18: … en julle in staat kan wees om … ten volle te begryp … Waarom gebruik hy die woord “begryp”? Die Griekse woord vir “begrip” is katalambanō, ’n baie interessante woord wat “om ’n hinderlaag te lê” beteken. In 1 Thessalonicense 5:4 sê Paulus: … nie in duisternis, dat die dag [oordeelsdag] julle soos ’n dief sou oorval nie. Hy gebruik die woord katalambanō op die gewone manier: om na ’n hinderlaag te verwys. Wanneer jy jou in ’n hinderlaag vasloop, is jy verras; jy is onder iets/iemand se beheer – jy word deur die verrassing in die hinderlaag “oorval”.

Wanneer die Bybel oor die verskil tussen kennis (in die kop) en belewing praat, gebruik dit altyd sintuiglike taal. In Efésiërs 1:18-19 sê Paulus eintlik: “Ek wil nie hê julle moet net weet nie; ek wil hê julle oë moet verlig word om te sien.” Toe Job God uiteindelik heel aan die einde beleef het, sê hy: Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien (Job 42:5) – selfs al weet ons uit die teks dat hy niks gesien het nie.

Dit is een ding om te weet dat God liefde is. Dit is ’n ander ding om dit te sien, dit te hoor, dit te proe, daaraan te raak. Die Bybel gebruik sintuiglike taal, wat beteken dat daar ’n gevoel is wat die “hart” van waarheid het. Dit is een ding om ’n waarheid te ken; dit is ’n ander ding om dit in die hart te beleef. Dít is wat die Heilige Gees doen. Wanneer die waarheid in jou innerlike wese deur die krag van die Gees afdaal, dan weet jy dit nie net nie, jy beleef dit. Jy proe dit. Jy sien dit. Jy hoor dit. Dit neem besit van jou. Dit hinder jou. Jy het gedink jy ken dit, maar nou is jy in die hinderlaag – jy word daardeur beheer. Jy sê: Ek het gedink ek verstaan, maar ek het dit nog nooit “gesien” nie. Die apostel Petrus het ook gedink hy weet, maar hy moes dit ook eers sien. In Handelinge 10, ná die visioen waar God sê: “Petrus, jy moet die heidene as gelykes in die kerk toelaat,” sê Petrus: Ek sien [katalambanomai] waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie (v. 34). Nou het dit vir Petrus werklikheid geword. Hy het hom in ’n hinderlaag vasgeloop en nou het dit afgekom; ín hom gekom. Dít is waarna jy soek.

Die middele vir belewing

Hoe krý ons dit? Daar is drie middele wat ons met die belewing van waarheid kan help: geestelike voorbereiding, evangeliebegrip, waarheidsbepeinsing.

Geestelike voorbereiding

Wát moet die woorde: om … ten volle te begryp … (v. 18) voorafgaan? Die Heilige Gees moet jou hart voorberei. Paulus sê: “Ek bid dat jy deur die Heilige Gees in jou binneste versterk sal word” (vgl. v. 16). Voordat jy dit kan begryp of vind, moet God iets aan jou hart doen. Jý moet begin deur te sê: “Here, ek weet ek is nie daartoe in staat nie. Help my.” Jy moet bely dat jy weet dat dit ’n geskenk is. Die punt is dat jy God moet soek en nie die belewing nie. Slegs dan sal jy die waarheid só beleef, want Hý is die Bron van daardie belewing.

Evangeliebegrip

Waarom is ’n goeie begrip van die Evangelie so belangrik? Die Here Jesus het gesê: “Sodat hulle kan leef, moet Ek sterf.” Wat tref jou dieper as dit? In hierdie opsig is Christenskap uniek. Elke ander godsdiens sê: Hier is die beginsels. Hier is die reëls. Hier is hoe om ’n god te vind. Gaan bepeins die reëls. Maar let op wat Paulus sê: … begryp … die breedte en lengte en diepte en hoogte … (v. 18). Van wat? Van die liefde van Christus.

Dink aan die breedte. Waar sien jy die breedte van God se liefde? Aan die kruis: En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek (Joh. 12:32). Die hele punt van die kruis is dat dit nie saak maak wat jy is of wie jy is of wat jy gedoen het nie …

As jy die lengte van die liefde van Christus wil sien, kyk na die kruis. Jesus Christus sê oor die lengte van die eeue heen: “Ek gaan my lewe vir jou opoffer.” En Hy hét, aan die kruis.

Soek jy na die diepte van God se liefde? Kyk na die Here Jesus se woorde aan die kruis: My God, my God, waarom het U My verlaat? Dit is aan die kruis, in die Evangelie, in die verhaal van Jesus Christus, waar jy die breedte en lengte en diepte van God se liefde sien.

Wat is die hoogtepunt van God se liefde? Jesus sê: “Ek het gesterf sodat jy kan wees waar Ek is.” In Johannes 17 sê Hy: “Vader, Ek wil hê dat hulle die heerlikheid moet hê wat Ons gehad het voor die wêreld begin het.” Hy sê verder: In die huis van my Vader is daar baie wonings … Ek gaan om vir julle plek te berei (Joh. 14:2). Dit is die hoogte. Dit is Jesus Christus wat vir jou gesterf het, wat vir jou die breedte en die lengte en die diepte en die hoogte wys van wie God is. Wanneer jy dit begryp en wanneer jy die Evangelie sien, sal jy daar, en net daar, vind dat jou kennis in belewing verander.

Waarheidsbepeinsing

Bepeinsing beteken om in die teenwoordigheid van God die waarheid wat jy sopas gelees het, te oordink en om Hom hierdie vraag te vra: “Here God, as ek regtig in die diepte van my wese geweet het wat ek sopas gelees het, hoe sou ek anders wees? Hoe sou my emosies anders wees? Hoe sou my wil anders wees? Hoe sou my optrede anders gewees het, as ek dit regtig in die diepte van my wese geweet het?”

Daar is ’n wonderlike lied wat soos volg lui:

“Die berg Sion geeduisende heilige soetigheid,

voordat ons die hemel betree,

of stap deur goue strate wyd.”

Die skrywer beklemtoon dat ons in hierdie lewe reeds iets van hierdie soetigheid sal beleef. Proe jy dit? Het jy van dit? Dít is ware spiritualiteit. Dít is waarna mense smag. Dit is by die kruis van Christus waar jy die breedte en die lengte en die diepte en die hoogte van die liefde van God, wat Christus aan ons gegee het, sal sien.

 _____________________________________

  1. “Knowledge and the love of God,” in Ephesians – God’s New Society, Ephesians 3:14-21 (Timothy Keller Sermon Archive, logos.com, 7/12/1998). Vertaal en opgesom deur Charlotte Möller.
  2. Ontslape leraar van Redeemer Presbyterian Church, New York.

 

Daar is meer: Hoe om ’n 37-punt-Calvinis te wees (deur Prof. Alwyn Swanepoel1)

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) help ons om meer as ’n 5-punt-Calvinis te wees. Daar is tereg vyf belangrike punte wat handel oor bepaalde vrae in die verlossingsleer (die Dordtse Leerreëls), maar die NGB help ons om hierdie vyf punte in te bou in ’n meer omvattende visie van 37 artikels. Hierdie 37 punte daag ons uit oor baie beelde in ons kop asook denkbeelde in vandag se samelewing.

Ons hoor nogal dikwels die woord “selfbeeld” en reformatoriese Christene is gewoonlik gou en reg om daarop te wys dat ons eerder aan ’n goeie Godsbeeld moet werk. Dit is mos die diepste kuur vir onsself en ons samelewing. Ons dink nie altyd so daaraan nie, maar die NGB help ons op ’n verrassende wyse om nóg meer omvattend hieraan aandag te gee.2

Wanneer ons na die artikels in terme van denkbeelde kyk, kom dit duideliker uit die verf dat alle Christene onvermydelik die een of ander gevormde beeld hieroor het. Ons sou selfs kon sê dat gevormde denkbeelde hieroor, al is dit afvallig, selfs vir ongelowiges en dwaalleraars onvermydelik is. Die rede is dat hierdie sake, soos wat dr. RJ Rushdoony in ’n ander konteks dit gestel het, werklikhede verteenwoordig waaraan ons nie in hierdie wêreld kan ontsnap nie (inescapable concepts). Hier kan slegs beginstrepe getrek word om aan te dui hoe die NGB vanuit die Woord kan help om die heidensamelewing met sy New Age-konsepte, met die reformatoriese alternatief tegemoet te tree.

Ons Godsbeeld (Godsleer: Artikel 1-13)

Almal het die een of ander siening van wie God is. Sommige meen dat hulle nie die konsep “God” aanvaar nie en dat hulle ateïste of agnostici is. Die Christelike joernalis, Brandon McGinley, het egter raak opgemerk dat die teenoorgestelde van geloof in God nie ateïsme is nie, maar afgodery. Hy sê as ons nie die lewende God dien nie, ons enige aantal gode wat ons vir onsself skep, sal dien. Hierdie opmerking is waar. Mense is nou een maal so dat ons, in die sentrum van ons lewens, dít opstel wat ons as “lewe” beskou. Dr. Tim Keller is bekend vir sy stelling dat die heidene in ’n sekere sin eerliker as ons hieroor was. As hulle byvoorbeeld gedink het skoonheid is “lewe”, het hulle daarvan ’n beeld gemaak, dit aanbid en daaraan ’n naam gegee: Afrodite – eerlik genoeg om daaraan sekere goddelike status te verleen.

Artikel 1 konfronteer egter reeds alle soorte afgodery met die lewende God. Hy is enersyds onvergelyklik en andersyds so naby ons in sy goedheid en regverdigheid. Elkeen van die woorde hier gebruik om Hom te beskryf, nooi uit tot ’n hele wêreld van ontleding. Die groot gereformeerde teoloog, prof. Herman Bavinck (1854‑1921), het reeds in sy tyd gehelp om perspektief te kry oor die basiese alternatiewe waartoe mense sonder die lewende God hulle wend.

Hy het daarop gewys dat wanneer ons net op God se grootheid (sy transendensie) fokus, ontwikkel ons ’n Godsbeskouing waar Hy baie veraf is (deïsme). Wanneer ons aan die ander kant net op sy nabyheid (immanensie) fokus, het ons weer ’n Godsbeskouing wat heeltemal te klein oor Hom dink. Dan grens dit aan, óf val vir voorstellings waarin ons almal sogenaamd deel van die god­delike is (panteïsme). Die klein dink sluit verder ook in dat verskillende groepe elkeen ’n soort beperkte godheid net vir hulleself daarstel en daaraan name gee soos hulle dit sien (pluralisme).

Gou besef ons hoe hierdie ontleding op ons dag van toepassing is, veral as ons besef dat pluralisme eintlik neerkom op ’n soort veelgodedom wat nou geakkommodeer moet word (politeïsme). Prof. Bavinck help ons om te besef dat hierdie soort Godsbeskouing uit pas is met wat die Bybel en artikel 1 oor die lewende God se onvergelyklikheid leer. Dit is daarom te verwagte dat New Age-panteïsme sal gedy in ’n omgewing waar die lewende God nie meer in sy grootheid geëer word nie. Kerke wat nalaat om God se heiligheid en andersheid in Christus sterk te beklemtoon (bewus en onbewus), kan maklik ’n bepaalde soort afgodsbeeld van die lewende God aanhelp – asof Hy ons speelmaat is. Dan besef ons hoe belangrik die NGB is wat ons help om die ware Godsbeeld van die Drie-enige God (art. 1, 8-11) in ere te hou; ook sy onfeilbare Woord (art. 3-7) waarsonder ons Hom nie so sou kon ken nie. Daarsonder sien ons konkreet hoe prof. Bavinck se voorspelling voor ons oë gestalte kry.

Ons mensbeeld (Antropologie: Artikel 14-15)

So word die mens aljuis, dikwels in lyn met die huidige godsbeeld, voorgehou as altyd-reeds delende in die goddelike vonk (panteïsme). Ons hoor ook dikwels dat die woord “sonde” taboe is, aangesien dit net patologieë by mense veroorsaak. Die vraag is egter: Waarvan wil jy dan verlos word as dit nie sonde is nie? (vgl. Mt. 1:21). Ons kan verwag dat een of ander vorm van hedendaagse positiewe herbevestiging (positive reinforcement) buite die maat inslag sal vind en dat elke mens en elke kind die Goddelike vonk wat reeds in hulleself is, net sal vind. In so ’n wêreld is dit belangrik om artikel 14-15 staande te hou wat die skeppings- en sondeleer erken en daarmee ook insien waarom dit fataal is om die sondeval te ontken. Dit moet noodwendig lei tot ’n verkeerde soort oplossing oor wie die Messias is en wat Hy eintlik gedoen het. Let wel: Ware reformasie is nie bevrees vir ’n donker sondeleer nie, aangesien ons hiermee saam ook ’n helder, skitterende Christusleer het. Die ware Messias is die heerlike oplossing wat altyd groter vergif­nis en groter verlossing as die sonde waarin ons onsself gedompel het, bring.

Ons Christusbeeld (Christologie: Artikel 16-21)

Almal het een of ander siening van wie die eintlike Redder, of dan Messias, in hierdie wêreld is. Ontkenning van die ware Messias maak iemand ook hier nie vry van die beeld of die konsep nie. Dit lei bloot tot toevlug in een of ander vals messias. Deur die geskiedenis het die staat dikwels die messias geword; wat later geblyk het ’n monster (Leviátan) te wees. Iewers moet ’n redder wees en hoe dan nou anders vir wêreldlinge as die soge­naamd almagtige staat met soveel kollektiewe krag. Die onvermydelike volg vir die eerlikes: Iemand moet ons red! En wanneer hierdie staat dan boonop allerhande plesiertjies vir sy slawe in die privaatlewe borg, soos wat dikwels die geval met slawe was, is alles in orde. Sluk net die staat se blou of rooi pilletjie, dan het jy jou redder vir jou private vryheid – van die wieg tot aan die graf.

In so ’n wêreld is die ware leer oor die ware Chris­tus van artikel 16–21 uiters belangrik. Die plan van die verlossing vanuit die uitverkiesing (art. 16) en in samehang daarmee die belofte van ver­lossing van die begin af (art. 17), die Persoon van die Verlosser (art. 17–19) en sy werk (art. 20‑21), dui aan waar ons ons heil en ons sekerheid buite onsself kan vind. Hierdie Verlosser het raad met sonde en waar die sonde in ons dag donkerder en dierliker word, is die groot troos dat hierdie Verlosser net helderder skitter. Sy Persoon en werk maak dit duidelik hoe heerlik en groot (vgl. Efés. 3:18–19) sy verlossingswerk was, sodat ons ook in ons dag sy verlossing mag ken.

Daarom deug karige plaasvervangers nie en moet ons ook waak vir opvattings oor Jesus wat net te klein en beperk is. In ’n New Age-omgewing kan ons byvoor­beeld verwag dat vorms van die sogenaamde heidense christus (pagan christ) toenemend gehuldig sal word. Volgens hierdie opvatting ken die antieke Egiptenaars al die leer oor ’n soort kosmiese christus en moet ons nou erken dat die Christus van die Skrifte net simbolies verstaan moet word as nóg ’n variasie daarvan. Daarom is dit dringend noodsaaklik om op hierdie oerdwaling van die gnostisisme te wys. Pasop om net ’n geestelike waarde, los van geskiedkundige waarde, van Christus te erken, soos wat afvallige teologiese skole dit reeds leer. Vra mense van jou dag van watter Jesus hulle praat (vgl. Gal. 1:6-7; 1 Kor. 15; 1 Tim. 6:3) en handhaaf dan self artikel 16-21 onverkort.

Ons verlossingsbeeld (Soteriologie: Artikel 22-26)

Almal het ook ’n siening van hoe verlossing in hierdie lewe werk. Die blote voorkoms van die woord “transfor­masie” wys reeds in ons dag hoe “verlossing-agtig” ons hele politieke bestel kort-kort beskrywe word. Transfor­masie in natuurlik in die eerste plek ’n biologiese begrip. Tog is dit duidelik dat die Skrif ’n beter oordragtelike beeld daarvan gee as wat in die hoofstroompolitiek gangbaar is (vgl. Rom. 12; Kol. 3; Efés. 4). Die NGB help ons vanuit die Skrif om die dubbele genade (duplex gratia) van ons verlossing te waardeer wat in die leer oor die regverdiging (art. 22-23) en die heiligmaking (art. 24-26) duidelik word. Daar leer ons hoe ons deur die krag van die Heilige Gees, langs die weg van geloof en God se wet, ware regverdiging en heiliging deelagtig word. Dit beteken ’n definitiewe alternatiewe visie op transformasie en die liberale tien gebooie wat vroeg en laat aangebied word.

Ons Kerkbeeld (Ekklesiologie: Artikel 27-35)

Vanuit die Woord leer die NGB duidelik dat ware verlossing nie alleen ’n individuele nie, maar ook ’n gemeenskaplike saak is. Die Here het daagliks by die eerste gemeente gevoeg dié wat gered is (vgl. Hand 2:47). Die NGB lei ook tereg uit die Skrif af dat elkeen verplig is om hom by die ware Kerk aan te sluit en daarmee te verenig en hom te onderwerp aan haar leer en tug (art. 28). Hoewel ons nie moet vaskyk teen kwantiteit nie, is die meer as halvering van Afrikaners uit die hoofstroomkerke (die AP Kerk ingesluit), ’n duidelike sein van iets wat drastiese verkeerd is. Daar is ’n gees van individualisme vaardig waarin mense reken dat hulle “ja” kan sê vir Jesus (wat­ter Jesus?), maar “nee” vir sy liggaam (die Kerk). Hier is ’n ondersoek na twee kante nodig. Enersyds moet die leierskap in Kerke hulself afvra of die plaaslike Kerk nog werklik die beeld van Christus uitdra. Andersyds moet lidmate hulleself afvra: Is daar nog onderwerping aan die leer en tug, die gesag en genade van die Kerk? Is ons werklik gewillig om te buig onder die juk van Christus en onderling aan mekaar diensbaar te wees, soos artikel 28 dit stel? Hierdie vrae aan beide kante kan grootliks aangehelp word deur ’n gefokusde oriëntasie ten opsigte van artikel 27-35. Dit sluit onder meer in die eienskappe en kenmerke van die Kerk (art. 27-29), die regering van die Kerk (art. 30-32), die sonderlinge betekenis van die sakramente in die Kerk (art. 33-35), naas die Woord.

Ons politieke beeld (Teopolitiek: Artikel 36)

Vir te veel mense, ook in kerke, is artikel 36 (oor ’n Christelike regering) nie meer aanvaarbaar in ’n plurale opset nie. Ons moet egter onthou dat dié artikel die ideaal stel waarna ons altyd weer kan reformeer. Dit bou op die veronderstelling dat Ou en Nuwe Testament een geheel is wat in Christus na alle kante toe steeds waarde het. Daarom mag ons saam met hierdie artikel steeds afleidings maak oor Koning en altaar, staat en Kerk, wanneer ons in die Ou Testament lees oor Koning en profeet of priester. Hiermee kom ook die vraag of ons hoegenaamd nog onder die leiding van die Gees mag werk vir ’n tweede reformerende Christendom? Artikel 36 antwoord “ja” en herinner ons dat ons steeds die brandende begeerte mag koester dat die hele wêreld, ook regerings, sal buig voor die troonregte van Jesus Christus (vgl. Ps. 2; Openb. 21:24). Ook een of ander beeld oor politiek is onvermydelik en hierdie artikel herinner ons aan die droom van die Godsryk en egte en opwindende teopolitiek.

Ons eindbeeld (Eskatologie: Artikel 37)

Alle mense het implisiet of eksplisiet ’n beeld van waarop alles afstuur. By elke nagmaal hoor ons dat die nagmaal ook ’n verwagtingsmaaltyd is. Daarmee bely ons dat alles afstuur op die groot banket, die groot bruilof van Bruidegom en bruid waarby ons eresitplekke mag hê. Ons mag uitsien na ’n lewe saam met Hom waar, soos CS Lewis dit gestel het, elke hoofstuk die vorige oortref. Artikel 37 herinner ons aan hierdie visie en dat tyd (bv. art. 36) en ewigheid (art. 37) mekaar veronderstel. Dit vuur die hoop en verlange telkens aan; dit bevestig dat elke sekonde op aarde sin het; dit laat ons saam met Gesang 353:4 sing:

“Eens aan die einde van my lewe sal ek van sorge en moeite vry,

vir elke dag my hier gegewe U hoër, reiner loflied wy, U hoër, reiner loflied wy, U hoër, reiner loflied wy.”

Hierdie eindbeeld rig ons nou reeds en impliseer ook dat al die ander genoemde beelde in lyn daarmee is. Ja, die denkbeelde werk saam en laat ons deur doendade aan egte reformasie diensbaar wees. Laat ons dan die goud in die Nederlandse Geloofsbelydenis afstof; laat ons dit gebruik om reformasie in die krag van sy Gees te pleeg.

_________________________________________________

  1. Professor in Dogmatologie aan die AP Akademie.
  2. Die indeling van die gereformeerde teoloog, Daniel Hyde, word gebruik en effens aangepas en omgebou in ’n eie idioom om te help om ’n greep op hierdie belydenisskrif se geheel te kry.
Die tulp – vyf blommetjies of die hele ruiker? TULIP in die lig van die Dordtse Leerreëls (deur dr. Erik van Alten1)

Inleiding

TULIP is ’n akroniem wat op ’n eenvoudige manier ’n uiteensetting van die gereformeerde verlossingsleer probeer bied. Elkeen van die letters van TULIP verteenwoordig ’n sentrale aspek in hierdie verlossingsleer.

Eenvoudig en duidelik – en daarom begryplik dat hierdie akroniem by baie mense aanklank gevind het en steeds vind. By nadere ondersoek blyk egter dat die gebruik van TULIP baie meer kompleks en problematies is as wat dikwels aangeneem word.

TULIP – ’n historiese probleem

Die eerste probleem waaraan aandag geskenk moet word, is die veronderstelling van voorstanders van hierdie akroniem dat dit ’n “historiese” term is. Tekenend hiervan is wat Collin Hansen in Young, Restless, Reformed2 skryf:

“Arminianism stands against Calvinism as its theological foil. The system draws its name from the Dutch theologian Jacob Arminius (1560-1609), who challenged the prevailing views of his colleagues. In fact, Calvinists produced the TULIP acronym at the Synod of Dordt in 1618 and 1619 in response to followers of Arminius.”

Hansen veronderstel dus dat die Calviniste die TULIP-akroniem by die Sinode van Dordrecht geproduseer het. Wanneer ons egter probeer om die historiese wortels van die akroniem na te speur, vind ons geen verwysing daarna wat teruggaan tot voor die 20ste eeu nie. Die werk wat waarskynlik aan TULIP populariteit verleen het, was David N Steele en Curtis C Thomas se The Five Points of Calvinism Defined, Defended, Documented.3 Daarin gaan die outeurs terug op Loraine Boettner se The Reformed Doctrine of Predestination.4 Voor Boettner se boek (waarin hy, terloops, met groot versigtigheid die TULIP-akroniem hanteer) is daar nog een ouer bron waarin TULIP gebruik word: ’n artikel in die Christe­like tydskrif The Outlook.5 Hier verwys die outeur na ’n lesing van dr. CB McAfee in 1905: “To aid the mind in remembering the Five Points, Dr. McAfee made use of the word Tulip, which, possessing five letters, lends itself nicely to the subject in hand …” McAfee se gebruik van TULIP is waarskynlik die vroegste gebruik waarvan ons weet. Uiteraard, in die eeue daarvoor was daar baie wat die leer van Dordt verwoord en verdedig het, maar nêrens vind ons die gebruik van TULIP nie – dis ’n uitvindsel van die 20ste eeu en is nie tydens die Sinode van Dordrecht geproduseer nie.

TULIP en die Dordtse Leerreëls

Behalwe hierdie historiese probleem, bevat TULIP egter ook sekere teologiese probleme (of in elk geval die potensiaal tot sekere teologiese probleme). Ek behandel hier die eerste vier letters van TULIP. Oor die vyfde letter bestaan daar weinig verskil van mening.

Totale verdorwenheid (TULIP)

Totale verdorwenheid het te make met die menslike toestand. Wat sê die Dordtse Leerreëls (DL)6 hieroor? In DL 1.1 lees ons die volgende: “Aangesien alle mense in Adam gesondig en aan die vloek en die ewige dood skuldig geword het …” DL 3.1 sê: “Maar toe hy deur die ingewing van die duiwel en deur sy eie vrye wil van God afgewyk het, het hy homself van hierdie uitnemende gawes beroof; en hy het daarenteen in die plek daarvan oor homself gebring blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verkeerdheid van oordeel in sy verstand, boosheid, wederspannigheid en hardheid in sy wil en sy hart, en laastens onsuiwerheid in al sy geneenthede.” Die verdorwenheid van die mens word dus onomwonde in die Leerreëls bely. Die vraag is egter wat presies hiermee bedoel word. Met die T (totale verdorwenheid) dreig die gevaar dat daar binne die gereformeerde tradisie ’n stuk misantropie ingedra word – die visie dat alle mense só sleg is soos wat hulle moontlik kan wees.

Vir die Reformatore het dit egter nie gegaan oor die totale afwesigheid van enige soort goedheid nie, maar oor die onvermoë van die mens om homself van die sonde te verlos en weer met God versoen te word. Ook die Leerreëls wys dat dít die rigting is waarin die sinode gedink het – kyk maar net na DL 3/4.3: “Daarom word alle mense in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enige saligmakende goed …” Teenoor hierdie onvermoë van die mens om homself van sonde te verlos, bevestig Dordt juis dat alle mense die beeld van God dra (DL 3/4.1) en dat “daar wel ná die val in die mens nog ’n bietjie lig van die natuur oorgebly [het] waardeur hy enige kennis behou van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen wat betaamlik en onbetaamlik is, terwyl hy ook enigsins ’n strewe openbaar na deug en uiterlike tug” (DL 3/4.4).

Uiteraard spreek die Dordtse Leerreëls hierdie woorde binne ’n bepaalde konteks en met ’n spesifieke rede, naamlik om aan die gevalle mens alle verontskuldiging te ontneem (sien DL 3/4.4). Die gevolgtrekking in DL 3/4.4 lui daarom ook: “… vir die mens is dit onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer …” Maar uit hierdie laaste aanhaling blyk weereens hoe die verdorwenheid van die mens omskryf word in terme van sy onvermoë om self tot saligmakende kennis en bekering te kom. Maar Dordt sê nêrens dat die mens so sleg is soos wat hy moontlik kan wees nie. Inteendeel, dit bevestig juis dat die mens nie opgehou het om mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie (sien DL 3/4.16).

Onvoorwaardelike uitverkiesing (TULIP)

As ons by die letter U vashaak, is daar die reële gevaar van verskraling, want met hierdie enkele letter word die uitverkiesing in baie gevalle tot ’n geïsoleerde leerstuk gemaak. Wanneer ons egter vanaf die enkele letter U teruggaan na die bron van die Dordtse Leerreëls (en daaragter die Skrif), sien ons dat hierdie belydenisgeskrif die uitverkiesing in ’n baie spesifieke konteks plaas. Neem byvoorbeeld hoofstuk 1 van die Leerreëls, waarin dit baie konkreet oor God se voorbestemming (uitverkiesing en verwerping) gaan. Eers in paragraaf 7 word spesifiek oor die uitverkiesing gepraat. Paragrawe 1-6 plaas egter God se uitverkiesing en verwerping in ’n breër konteks. Dordt begín dus nie met God se voorbestemming nie! Dit begin met die verhaal: van skepping en sondeval (par. 1), verlossing (par. 2), die verkondiging van die Evangelie (par. 3 [sendingwerk!]), die reaksie op die verkondigde Evangelie (par. 4-6 [geloof of ongeloof]). En eers daarna volg die konklusie: Hierdie ongeloof of geloof gaan terug op God se verwerping of verkiesing. Hierdie is nie slegs die konteks van hoofstuk 1 van die Leerreëls nie, maar is ook die patroon wat ons in hoofstukke 2 en 3/4 teëkom. Ek gee dit hieronder weer: 

  • Die skepping van die mens en sy val in sonde (1.1, 2.1, 3/4.1-5)
  • Christus se werk (1.2, 2.2-4)
  • Die Evangelie en die verkondiging daarvan (1.3-4, 2.5, 3/4.6-8)
  • Reaksie 1: ongeloof (1.5, 2.6, 3/4.9)
  • Reaksie 2: geloof as gawe (1.6, 2.7, 3/4.10)
  • En slegs dán: God se soewereine werk van verkiesing en verwerping

 Uitverkiesing en verwerping moet in die regte konteks gesien word – wat alles te make het met die reaksie op en gevolg van die Evangelieverkondiging: Waarom is dit dat sommige mense met geloof op die verkondiging van die Evangelie reageer en ander nie? Vir die Dordtse Leerreëls gaan uitverkiesing en verwerping nie oor teologiese spekulasie nie, maar vloei voort vanuit waarneembare feite: Sommige glo die Evangelie, ander nie. Uitverkiesing en verwerping is dus ’n agteraf verduideliking vir die besondere karakter van die menslike reaksie op die genadige Evangelie. En dit neem sy vertrekpunt in die tyd, nie in die ewigheid nie. Die gevaar van ’n enkele konsep (onvoorwaardelike uitverkiesing) is dat ons die breër konteks waarin die Skrif en ons belydenis God se uitverkiesing plaas, uit die oog verloor en daardeur word uitverkiesing baie maklik ’n harde leerstuk.

Beperkte versoening (TULIP)

Nóg die Dordtse Leerreëls, nóg enige van die gereformeerde teoloë van die 16de en 17de eeu, maak melding van beperkte versoening. Daar was in daardie tyd geen debat oor die waarde of meriete van Christus se dood nie: Omtrent almal was dit eens dat Christus se dood in waarde voldoende was om vir die sonde van die hele wêreld te betaal. Die woorde “beperkte versoening” skep egter die indruk dat Christus se dood onvoldoende was vir die sonde van die hele wêreld, ’n posisie wat eksplisiet deur Dordt verwerp word. “Hierdie dood van die Seun van God … [is] oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen” (DL 2.3). “… [dat] baie wat deur die Evangelie geroep is, nie tot bekering kom of in Christus glo nie, maar in ongeloof sterwe, dit kom nie deur die gebrekkigheid of ongenoegsaamheid van die offer wat Christus aan die kruis gebring het nie, maar deur hul eie skuld” (DL 2.6). En daarom het die skrywers van die 17de eeu en later verkies om eerder te praat van “spesifieke versoening” (particular redemption). Christus het vir spesifieke mense gesterf, soos Hy self sê: Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken … Ek lê my lewe af vir die skape. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My (Joh. 10:14-15, 27; sien ook weerlegging 2.1). Christus se selfaanduiding in Johannes 10 gaan terug op profesieë soos Jesaja 53:10: … as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien.

Onweerstaanbare genade (TULIP)

Vir die Arminiane was God se genade weerstaanbaar (resistible), waarmee hulle – soos so dikwels in hul teologie – bedoel het dat die geloof en die verlossing uiteindelik van menslike keuse afhang. Teenoor hierdie dwaling en as ’n direkte antoniem vir weerstaanbaar, het die term “onweerstaanbaar” (irresistible) sy plek binne die akroniem ingeneem. Of weerstaanbaar die optimale teenvoeter vir onweerstaanbaar is, moet ons egter bevraagteken. Uiteraard is die Goddelike oormag in die werk van bekering uiteindelik te sterk vir ons. Maar, net soos met die ander letters van TULIP, dreig hier ’n verskraling en ’n verdraaiing: Die gevaar is naamlik dat God se genade uiteindelik gesien word as ’n soort dwingende mag wat mense forseer. Plaas hierteenoor die pragtige beskrywing wat DL 3/4.12 van die wederge­boorte gee: “… sodat hulle almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en effektief wedergebore word en daadwerklik glo. En dan word die wil wat nou vernuut is, nie alleen deur God gedrywe en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, soos hy is, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.”

DL 3/4.16 bevestig hierdie posisie wanneer dit sê: “Maar die mens het deur die val nie opgehou om mens te wees nie, begaaf met verstand en wil … So ook werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte in die mens nie asof hulle stompe en stamme is nie; dit vernietig die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie, maar maak dit geestelik lewend, genees dit, verbeter dit en buig dit tegelykertyd sagkens en kragtig, sodat waar wederspannigheid en teenstand van die vlees tevore volkome die oorhand gehad het, daar nou ’n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees die oorhand begin te kry. Daarin is die ware en geestelike wederoprigting en vryheid van ons wil geleë.”

Gevolgtrekking

Dit val op dat 20ste en 21ste eeuse werke oor TULIP selde, indien ooit, teruggaan na die Dordtse Leerreëls self. Die Reformatore het ’n leer voorgestaan wat duidelike kontinuïteit vind in die Dordtse Leerreëls, maar nóg die Reformatore, nóg die outeurs van die Leerreëls, het hul konfessionele posisie verskraal tot ’n enkele blom (TULIP). Met TULIP loop ons die gevaar om slegs die tulp uit die gereformeerde veld te pluk en daardeur baie ander blomme mis te kyk. Die TULIP-akroniem dreig om die identiteit van die gereformeerde tradisie skade aan te doen. Dit is, in die eerste plek, anachronisties en, vervolgens, verskralend. Daarom, in plaas daarvan om van TULIP (of selfs die Vyf Punte van die Calvinisme) gebruik te maak, wil ek ’n pleidooi voer om terug te gaan na die bron ágter TULIP, die Dordtse Leerreëls. En daaragter die Skrif.

_______________________________________________________

  1. Leraar van die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria.
  2. C. Hansen, Young, Restless, Reformed: A Journalist’s Journey with the New Calvinist (Wheaton: Crossway, 2008).
  3. D.H. Steele et al., The Five Points of Calvinism Defined, Defended, Documented (Phillipsburg: P&R Publishing, 2004).
  4. L. Boettner, The Reformed Doctrine of Predestination (Grand Rapids: Eerdmans, 1936).
  5. C.B. Spahr ed., The Outlook, June 6, 1913.
"Cur Deus Homo". Die enigste Weg uit ons verdorwenheid (deur ds. Johan Schütte1)

Anselmus van Kantelberg

Die Noorde van Italië is bekend as een van die gebiede waar die Waldense gevestig was. Dit is ook in 1033 die geboorteplek van Anselmus, twee jaar voordat Wilhelm die Veroweraar die hertog van Normandië sou word en hulle twee se vervlegde lewens die wêreldgeskiedenis drasties sou beïnvloed.

Anselmus was 23 jaar oud toe hy hom in Normandië gevestig het. Ná die afsterwe van sy vader word hy in 1060 ’n monnik. Binne drie jaar word hy die kloosterhoof van Bec as opvolger van Lanfranc, wat deur Wilhelm as Aartsbiskop van Kantelberg aangestel is. Dertig jaar later word hy weer Lanfranc se opvolger, die keer in Brittanje as Aartsbiskop van Kantelberg. Dit was ’n posisie wat hy huiwerig aanvaar het en wat vir hom agt jaar van ballingskap sou beteken.

Hoe betaal ’n méns eerberowing terug?

Sy bekendste werk is sekerlik die boek Cur Deus Homo2 (Waarom God mens geword het). In hierdie boek word die Evangelie verduidelik in die vorm van ’n dialoog waar die vrae van die ongelowige Boso beantwoord word. Hy begin met die vraag: Wat is sonde? waarop hy antwoord dat God se skepsele Hom vereer deur absolute gehoorsaamheid in alles. Sonde is wanneer ’n skepsel deur ongehoorsaamheid nie aan God die nodige eer gee wat Hom toekom nie. Jy beroof God van die eer wat Hom toekom. Gevolglik skryf hy:

“Daarom moet elkeen wat sonde doen sy skuld teenoor God betaal deur aan God die eer te gee waarvan die sondaar Hom beroof het.”

behoort nie. Verder is sonde so ’n aantasting van God, dat jy vir ewig daarvoor sal moet aanhou betaal, want daar is geen einde aan God se heiligheid nie.

Maar kan God nie in sy liefde en genade bloot besluit om ons sonde te ignoreer en ons te vergewe nie? Anselmus redeneer waarom dit nie moontlik is nie. Eerstens sou dit beteken dat sonde ongestraf bly. God sal dus onreg­verdig wees deur nie te onderskei tussen ’n sondaar en ’n regverdige nie. God is egter regverdig, sowel as liefdevol en genadig. Waarom moet net sy liefde en genade uitgedruk word en nie sy regverdigheid nie?

Uit die verdorwenheid ondanks ons skuld

Die mensdom se enigste hoop is dat daar Iemand moet wees wat ons skuld by God kan betaal, maar omdat die ganse mensdom verdorwe is en die ganse skepping aan die nietigheid onderwerp het, is die mens se hoop by geen skepsel te vinde nie. Daarom moet die Skepper die skuld betaal. Maar niemand anders as ’n mens is skuldig nie en daarom is dit ’n mens wat moet betaal. Derhalwe moet die Een wat betaal, tegelykertyd God én mens wees.

Met ander woorde, net ons het skuld wat betaal moet word, maar ons kan dit nie betaal nie. Net God kan die skuld betaal, maar dit is nie sy skuld nie. Daarom kort ons ’n Verlosser wat God en mens tegelyk is en dit is Cur Deus Homo … waarom God ’n mens moes word. Jesus Christus was sondeloos en het geen skuld voor God gehad nie, daarom kon Hy ons skuld namens ons betaal. Sy dood was vrywillig en in ons plek gewees. Hy het nie dood as straf op enige sonde verdien nie. Maar Hy het ons sonde op Homself geneem en daarom kon God dit as betaling aanvaar. Deur Jesus Christus se vrywillige, selfopofferende sterwe aan die kruis, word God se regverdigheid, liefde en genade in harmonie aan ons bekend gemaak. 

_________________________________________________________

1. Direkteur van Kerkadministrasie en dosent in Ekklesiologie aan die AP Akademie.

2. Lees die boek hier: https://bit.ly/3R2W4Qe

 

 

Onvoorwaardelike uitverkiesing: Die gedagtes van Augustinus (deur ds. Dubois du Toit1)

God se onvoorwaardelike uitverkiesing van mense was nog altyd een van die groot twispunte en teologiese kopkrappers in die kerk. Die idee dat God mense, in die woorde van Paulus in Efésiërs 1:4 (2020-vertaling) … voor die grondlegging van die wêreld in Hom [Christus] uitgekies het, nie op grond van enige werke-meriete of Goddelike voorkennis van toekomstige menslike besluite nie, maar suiwer uit soewereine goedheid en genade, gaan in vele opsigte ons moderne, Westerse, prestasiegedrewe, meritokratiese, eiegeregtigde, “dis-nie-regverdig-nie”-verstand te bowe.

G’n wonder dat, toe die sogenaamde gereformeerde teologie van onder andere Martin Luther en Johannes Calvyn die status van gevierde en gegote sistematiek bereik het, ’n mens jouself kon indink hoe die veelgeopperde vertoë verwoord is: “Hierdie laat-Middeleeuse teologie is vreemd aan die groot Christelike tradisie,” of minstens, “dit is ’n bittere ’nuwe’ pil om te sluk.”

’n Herontdekking van Skrifwaarhede

Die gevolg van hierdie verwikkelinge op die kerklike toneel was dat hierdie nuwe teologie ’n laat-Middeleeuse benaming gekry het: Calvinisme. Die feit van die saak is egter dat ons die sistematisering van hierdie teologie minstens met ’n 1 000 jaar kan vervroeg, al die pad terug tot by een van die grootste teoloë van die Westerse kerk, Augustinus. Soos Calvyn dit in sy eie woorde beskryf: “Augustinus is so geheel en al met my, dat, sou ek wens om ’n geloofsbelydenis te skryf, ek so sou kon doen met alle volheid en bevrediging jeens myself vanuit sy geskrifte.”2 Ons sou dan verder, volgens ’n opmerking van Luther, hierdie teologie kon terugtrek tot by die vroeë kerkvaders: “Niks in Augustinus is vanuit sy eie wysheid nie, maar is eerder dié van die mees uitstaande vaders, soos Cyprianus, Gregorius van Nazianze, Irenaeus, Hilarius, Olympias, Innocentius en Ambrosius.”3 Wanneer ons egter die groot Princeton-teoloog, BB Warfield, se uitlating rakende Augustinus se teologie in ag neem, word dit duidelik dat die teologie wat via Augustinus aan Calvyn toegeskryf word, in der waarheid die teologie van Paulus is en dus ’n teologie wat op “datapunte” gebou is, wat deur die Heilige Gees self geïnspireer is: “Dit was nie nuut in die sin dat dit Augustinus se uitvindsel was nie; dit is, byvoorbeeld, die teologie van Paulus voordat dit die teologie van Augustinus was, en dit is bloot deur Augustinus vir die kerk herontdek.”4 Voordat ons ’n voëlvlug oor Augustinus se handeling rakende die leerstuk van God se onvoorwaardelike uitverkiesing van mense neem, is dit nodig om net eers te definieer wat hy daarmee bedoel het.

Uitverkies voordat en sodat ek kan kies

In sy Lectures or Tractates on the Gospel according to St. John skryf Augustinus die volgende: “Luister, ondank­bare, luister: Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies. Sodat jy nie kan sê ‘ek is gekies omdat ek alreeds geglo het’ nie … sodat jy nie kan sê, ‘voordat ek geglo het, het ek al goeie werke gedoen en daarom is ek gekies’ nie. Want watter goeie werk kan daar wees voor geloof? terwyl die apostel sê, ‘enigiets wat ’n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde’. Wat moet ons dan sê wanneer ons sulke woorde hoor: Julle het My nie uitverkies nie … buiten dat ons boos was en gekies is sodat ons goed kan wees deur die genade van Hom wat ons gekies het? Want dit is nie deur genade as verdienste dit voorafgegaan het nie; dit is wel deur genade en daarom het daardie genade nie verdienste gevind nie, maar verdienste bewerkstellig.”

Augustinus haal die Here Jesus se woorde hier direk uit Johannes 15:16 aan, wat die begrip van onvoorwaardelike uitverkiesing ondubbelsinnig uitspel: God kies ons nie uit om deel te hê aan sy verlossing éérs wanneer daar aan sekere voorwaardes voldoen is (soos geloof en/of goeie werke) nie. God kies ons om deel te hê aan sy verlossing voordat geloof en/goeie werke selfs moontlik is. Hoe lank voor dit? Voor die grondlegging van die wêreld … (Efés. 1:4). Waarom het Hy gekies om dit so te doen? Sodat niemand op iets vanuit hulself kan roem nie (vgl. Efés. 2:9); soos iemand eenkeer gesê het: “God gaan nie hoogmoed in die hemel toelaat nie.”

In sy geskrif, On the Predestination of the Saints, skryf Augustinus verder verhelderend hieroor: “God kies ons nie omdat ons glo nie, maar sodat ons sal glo; nie omdat ons regverdig is nie, maar sodat ons dit sal wees.” Luther het later hierdie denke van Augustinus gemunt in ’n kort frasetjie wat ook die titel van een van sy geweldig invloedryke boeke geraak het, The Bondage of the Will.

Dit is belangrik om kortliks kennis te neem van die kerngedagte van Luther se boek met die oog op dit wat volg. Toe daar oor die eeue in die kerk gesels of nagedink is oor die leerstellings van God se genade, was die onvermydelike metgesel in hierdie gesprek natuurlik die vraag na die aard en funksie van vrye wil. Die beswaar teen Augustinus se (en dus die gereformeerde) verstaan van God se genade, kan soos volg beskryf word: As God soewerein/monergisties (God bewerk verlossing deur die Heilige Gees) in die verlossing van die mens te werk gaan, het ons dan nog vrye wil in die keuses wat ons uitoefen en, gevolglik, is ons op enige noemenswaardige manier verantwoordbaar vir ons dade? Luther antwoord die vraag soos volg: “Vrye wil sonder God se genade is geensins vry nie, maar dit is die ewige gevangene en slaaf van die boosheid, omdat dit nie vanself na die goeie kan keer nie.” En elders: “’n Man sonder die Gees van God tree nie weens druk boos op, asof hy by die nekvel gegryp word en teen sy wil daarin gesleep word, soos ’n dief wat teen sy sin ingelei word na sy straf nie, maar hy doen dit spontaan en vrywillig. En hierdie gewilligheid van die wil is iets wat hy nie in sy eie krag kan elimineer, beperk of verander nie. Hy gaan voort om boosheid te wil en te begeer en al word eksterne druk op hom geplaas om anders op te tree, bly sy wil innerlik afkerig daarteen en skaaf hy onder sulke beperking en teenstand.”

Met hierdie in gedagte, beweeg ons na die volgende punt: Augustinus se leerstuk van onvoorwaardelike uitverkiesing, hang ten nouste saam met die leerstuk van radikale verdorwenheid.

Ek ontvang, daarom kan ek

Die kerndefiniërende faktor van Augustinus se hele bediening (en daarom ook van sy teologie) kan onteenseglik beskou word as sy polemiese (strydende) optrede teen Pelagius. Louis Berkhof beskryf dit so: “In die algemeen het die Griekse vaders van die 3de en 4de eeue ’n neiging getoon om die verband tussen die sonde van Adam en dié van sy nasate te ontken, terwyl die Latynse vaders met al meer helderheid geleer het dat die huidige sondige toestand van die mens sy verduideliking vind in die eerste oortreding van Adam in die Paradys. Die leerstellings van die Oosterse kerk het uiteindelik gekulmineer in Pelagianisme, wat ontken het dat daar enige verband was tussen die twee, terwyl dié van die Westerse kerk gekulmineer het in Augustinianisme, wat klem gelê het op die feit dat ons beide skuldig en besoedel in Adam is.”5

Een spesifieke frase in Augustinus se beroemde Confes­sions het Pelagius – wat gemaklik was met die veronder­stelling dat die mens bekwaam is om sy eie verlossing uit te werk – veral uitgelok: “Gee wat U beveel, beveel dan wat U wil.” Hierdie gebed van Augustinus het die mens se behoefte aan soewereine genade ten sterkste erken. Hy het gesien dat God ín die mens moet doen wat Hy ván hom verwag; dat Hy deur sy genade die mens moet bemagtig as die mens enige hoop het om sy opdragte uit te voer. Pelagius kon dit nie aanvaar nie – ’n Goddelike opdrag het vir hom noodwendig die mens se vermoë om daardie opdrag uit te voer, geïmpliseer.

Dít was die hart van die dispuut tussen Augustinus en Pelagius – en ook weer tussen Calvyn en Arminius, Luther en Erasmus, Whitefield en Wesley, ensovoorts. Augustinus het geleer dat die mens, na aanleiding van die val van Adam, alle vermoë verloor het om God te ge­hoorsaam. As gevolg van die oersonde, wat die erfsonde geword het, kan die mens nie uitvoer wat God van ons verwag nie – ons wil is gebonde.

Daarom dat God se uitsluitlike werking in ons lewens ab­soluut noodsaaklik is vir verlossing. Daarom dat God se genade niks anders as onvoorwaardelik kan wees nie, soos Augustinus skryf in On the Predestination of the Saints: “Want God het nie so uitgekies omdat Hy vooraf geweet het dat hulle goed sou wees nie, maar deur sy genade het Hy hulle goed gemaak nadat Hy hulle verkies het.”

________________________________________________________________

  1. Leraar van die NG Kerk Suiderhof, Windhoek, Namibië. PhD-kandidaat onder prof. Henk Stoker (Potchefstroom).
  2. J. Calvin, Institutes of the Christian Religion, Book 1, Chapter 7, Section 1.
  3. M. Luther, Luther’s Works, ed. F. Sherman, Vol. 48, Letters 1 (Philadelphia: Fortress Press, 1999), 24.
  4. B.B. Warfield, “Augustine,” in Calvin and Augustine (Literary Licencing, LLC, 2011), 321.
  5. L. Berkhof, Systematic Theology (Eerdmans, 1996), 219-220.
Beperkte versoening by Calvyn (deur ds. Willem van Schalkwyk1)

Deur die eeue het mense gepoog om aan te toon dat die groot Hervormer, Johannes Calvyn, nie beperkte genade geleer het nie. Vandag is daar steeds pogings in Evangeliese kerke om hierdie saak te bewys. ’n Mens lees selfs dat mense aanspraak maak op Calvinis-wees, maar dan verwerp hulle die uitverkiesing en gevolglik beperkte versoening.

Agtergrondgeskiedenis

Die Here onse God is oneindig ryk aan genade en Hy gee dit oorvloedig aan sy kinders. In sy genade het die Here, in die 16de eeu, die wegbreek van die Rooms-Katolieke Kerk beskik. Die Roomses het die kinders van die Here met verskriklike dwaalleringe mislei om God op ’n wyse te dien waardeur Hý nie die eer gekry het nie. Een van hierdie dwalinge was hul verlossingsleer. Die Roomse Kerk leer onder meer dat jou goeie werke en gehoorsaamheid jou red.

Ná die Reformasie het ’n ander dwaalleer posgevat: Die eeueoue dwaling van Pelagius het weer herleef. Dwaal­geeste het geredeneer dat Christus vir alle mense gesterf het en dat God die verlossing in Christus aan die mens aanbied en dan hoop en wag dat die mens dit aanvaar. As die mens nie kies of self besluit om te glo nie, kan die Here niks daaraan doen nie.

Calvyn het sodaniges ernstig bestry en sê dat hulle die eer van God roof en vir die mens self wil toe-eien.2 Vanuit die Skrif, en die geskrifte van veral Augustinus, toon Calvyn onteenseglik aan dat die uitverkiesingsleer (ook predestinasieleer of beperkte versoening) ’n suiwer Bybelse waarheid is. Ons gereformeerde belydenisskrif, die Dordtse Leerreëls, is monumentale getuienis van hierdie stryd teen die dwaalleraars in die kerk.

Calvyn se standpunt

In sy stryd teen dwaalleraars het Calvyn benadruk dat die mens geen plek in sy redding het nie. In sy teologiese denke was die eer van God die hoogste motief. Juis daarom is dit in sy werke baie duidelik hoedat hy die mens se aandeel in sy redding met baie duidelike terme diskwalifiseer.

Wanneer Calvyn oor predestinasie skryf, maak hy dit baie duidelik dat dit ’n ewige besluit van God is waarvol­gens God by Homself oor elke mens se lewe besluit het: Hy neem níks van die mens in ag nie; Hý het oor elke mens ’n besluit geneem – óf vir die lewe, óf vir die ewige dood.3 Versoening of genade is dus beperk tot die uit­verkorenes. In sy geskrif oor die uitverkiesing, A Treatise of the Eternal Predestination, beskryf hy dit so (vertaal):

“God het in sy ewige goedheid hulle in wie Hy ’n behae gehad het, gekies om gered te word en al die ander verwerp. Dié wat Hy deur sy vrye genade aangeneem het om sy kinders te wees, [se harte] word deur die Heilige Gees verlig, sodat hulle die lewe wat in Christus gegee word, kan ontvang – terwyl die ander, wat in hul ongeloof voortleef, sonder die lig van die geloof, in totale duisternis voortleef.”

Wanneer Calvyn die beperkte genade beredeneer, begin hy by die volk Israel. In die persoon van Abraham word een volk uitverkies en ander volke verwerp. Dit gebeur nie omdat Israel waardiger as ander volke is nie, maar op grond van God se onverdiende liefde.4 God se meer beperkte genade (t.o.v. individue) word duideliker daarin sigbaar dat Hy uit dieselfde geslag van Abraham sommige verwerp en ander in sy kerk koester. Ismael (Moslems) “word verwerp, daarna ook Esau en uiteindelik ’n ontel­bare menigte en amper die hele Israel”.5 Hierdie beperkte genade word duidelik daarin dat die Vader sommiges aan Christus gegee het én dat dié wat Hy aan Christus gegee het, na Christus toe sal kom, omdat Hý hulle na Christus sal trek (vgl. Joh. 6:44). Om hierdie argument te versterk, haal hy Augustinus aan wat sê (vertaal):

“Niemand wat deur die Vader getrek word, is vanself gewillig om na Christus te gaan nie. Die Vader trek hulle egter op so ’n wonderlike manier dat hulle inderdaad gewillig is om te gaan. Hy werk só in hul harte dat hulle, wat vroeër onwillig was om te glo, nou gewillig gemaak word. God gee die wil om gehoorsaam na Christus te kom as vrye genade en nie op grond van enige waar­digheid in die persoon wat die gawe ontvang nie. Waar God nie hierdie gawe wil gee nie, is dit ’n bewys dat as die wil om na Christus te kom nie aan jou gegee word nie, kan jy nie kom nie. Al het God die krag om hulle na Christus te trek, trek Hy hulle nie, maar hulle word gelos om te vergaan. Dit beklemtoon die waarheid van die Skrif dat niemand na Christus kan kom as die Vader hom nie trek nie.”6

Juis daarom, sê Calvyn, sal Christus op die laaste dag die twee groepe skei: die skape en die bokke; die uitver­korenes en dié wat verlore gaan.

Calvyn word verketter

Soos reeds genoem, was daar deur die eeue pogings om aan te toon dat Calvyn eintlik ’n algemene genade geleer het. Hierdie mense wil glo dat God sy genade aan almal aanbied en gebruik dan sekere sinne in Calvyn se werke om te probeer bewys dat dit ook sý standpunt was. Ten diepste verstaan hulle nie hoe Calvyn die saak beredeneer het nie.

Calvyn bly getrou aan die Skrif wat leer dat almal op­geroep word om in die Here Jesus te glo. Ongelukkig is die woorde waarmee hy dit beskryf al so deur dwaalleer verwring, dat dit gelaaide woorde geword het. Hy sê dat God sy genade en die verlossing aan alle mense aanbied of dat Hy almal uitnooi om in Christus te glo. Vyfhonderd jaar ná Calvyn rys ons hare oor hierdie taal, maar dit is presies wat die Bybel leer. Bogenoemde mense sukkel egter om dit met beperkte genade te versoen.

Calvyn bevestig ronduit dat Christus vir die hele wêreld gesterf het en God alle mense nooi om in die genade van Jesus Christus te deel. Dit kom baie duidelik na vore in sy kommentare op Matthéüs 26:28; Johannes 1:29, 3:14-16; Romeine 5:18; Galásiërs 5:12 en vele ander. Bogenoemde mense sien egter die bepaalde paragrawe in sy kommentare in isolasie. Wie Calvyn wil lees, moet sy kommentare én Institusie én ander geskrifte as ’n eenheid lees wat mekaar aanvul en opbou. Wie moeite doen om te verstaan, sal sien: Calvyn handhaaf albei waarhede van die Skrif – God se genade is algemeen én besonders. Die genade is gratis vir almal, maar omdat die mens geestelik dood is, gee God die genade net aan sy uitverkorenes.

Calvyn verduidelik hierdie waarheid deur die roeping van die Here. God nooi (roep) alle mense deur die verkondiging van die Woord na Hom toe (algemene of uitwendige roeping) – ook diegene aan wie Hy die roeping as ’n reuk van die dood en rede tot ’n swaarder verdoeming voorhou. Met sy besondere of inwendige roeping vestig Hy, deur die verligting van die Gees, die Woord in die harte van ander. Die koning van Matthéüs 22 (wat mense na sy maaltyd nooi), is vir Calvyn ’n duidelike verklaring hiervan. Baie word genooi (geroep), maar waarom kom baie nie? Omdat min uitverkies is (vgl. v. 14).7 In A Treatise … beskryf hy dit so (vertaal):

“Die genade van God word in gelyke mate aangebied aan hulle wat glo en hulle wat nie glo nie, sodat hulle wat nie innerlik deur God geleer word nie, uiteindelik sonder enige verontskuldiging gelaat, maar nie gered word nie.”

Die wonder van die beperkte genade

In A Treatise … begin hy so (vertaal):

“Hierdie wonderlike onderwerp is nie ’n doring in die vlees of blote spekulasie nie, maar ’n suiwere voordrag ten bate van die gelowiges. Hierdie saak bou ons geloof, begelei ons in nederigheid en bring ons in verwondering oor die oneindige goedheid van God. Daar in nie ’n meer effektiewe manier om ons geloof te versterk as om te luister na die verkiesing van God nie. Die Heilige Gees verseker ons in ons harte dat dit [die uitverkiesing] in die ewige goedheid van God teenoor ons veranker is, daarom kan dit nie deur die storms van hierdie wêreld of deur die aanslae van die Satan of deur die swakheid van die mens verander word nie. Ons redding is vas en seker as ons die oorsprong daarvan in die boesem van God vind.”

________________________________________________________________

  1. Leraar van die AP Kerk Heilbron.
  2. A Treatise of the Eternal Predestination.
  3. Institusie 3.21.5.
  4. Institusie 3.21.5.
  5. Institusie 3.21.6.
  6. A Treatise of the Eternal
Onweerstaanbare genade – Gregorius van Nazianze (deur dr. Adi Schlebusch1)

Gregorius van Nazianze (329-390 n.C.), ook bekend as Gregorius die Teoloog, was ’n baie invloedryke figuur in die vroeë kerk. Hy is gebore slegs vier jaar ná die belangrike Konsilie van Nicéa (325) in die dorp Nazianze, ’n plekkie in Turkye (vandag bekend as Ber­kalar). Hy is bekend vir sy groot werke wat handel oor die Drie-eenheid en veral sy teologiese bydraes met betrekking tot die leer van die Heilige Gees, oftewel pneumatologie. Hy het tydens die belangrike Konsilie van Konstantinopel (381) vir ’n kort tydjie as aartsbiskop van daardie stad gedien. In die Oosters-Ortodokse teologie word hy al vir eeue as een van die belangrikste kerkvaders geag, maar ook in die Weste is daar veral vir die afgelope paar dekades toenemende belangstel­ling in en waardering vir sy ryk teologiese bydraes.2 Sy besonderse groot invloed in die vroeë kerk blyk duidelik uit die feit dat die Konsilie van Chalcedon (451) aan hom die amptelike titel “die teoloog” toegeken het – ’n titel wat tot op daardie stadium amptelik uitsluitlik aan die apostel Johannes gegee is.3 Hy het saam met sy bekende tydgenote uit dieselfde streek, Basilius die Grote (330‑379) en Gregorius van Nyssa (335-395), as die drie Kappadosiërs bekendgestaan.

God bewerk die bekering van die verdorwe wil

Een van die leerstellings wat baie sterk in Gregorius van Nazianze se teologie na vore kom, is dit wat algemeen bekendstaan as die leer van onweerstaanbare genade – ’n leerstelling wat deur die Dordtse Leerreëls4 (3/4.11 en 14) soos volg verwoord word:

“[W]anneer God hierdie welbehae in die uitver­korenes uitvoer en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy aan hulle nie alleen uiterlik die Evangelie verkondig en verlig Hy nie alleen hul verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle reg kan verstaan en onderskei die dinge van die Gees van God nie; maar Hy dring ook in tot in die binneste dele van die mens met die kragtige werking van dieselfde wederbarende Gees; Hy open die hart wat gesluit is; Hy vermurf wat hard is; Hy besny wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe hoedanighede in en maak dat die wil wat dood was, lewend word; wat boos was, goed word; wat nie wou nie, nou inderdaad wil; wat wederspannig was, gehoorsaam word … So is die geloof dan ’n gawe van God; nie omdat dit aan die vrye wil van die mens deur God aangebied word nie, maar omdat dit die mens metterdaad meegedeel, ingegee en ingestort word. Ook nie daarom dat God net die mag om te glo, sou gee en daarna die toestemming of die daadwerklike geloof van die vrye wil van die mens sou verwag nie; maar omdat Hy wat werk om te wil sowel as om te werk, ja alles in almal werk, in die mens teweegbring die wil om te glo en die geloof self.”

God red wanneer Hy wil red

God se werk van genade deur die Heilige Gees is dus nie afhanklik van die mens se instemming daartoe nie, maar die genade van God behels juis dat beide die gawe van geloof, sowel as die wil om daardie geloof te aanvaar, deur God in die mens bewerk word. Dit is waarom God se gawe van genade in die Calvinistiese teologie dikwels “onweerstaanbaar” genoem word, juis omdat die uitverkore mens nie hierdie gawe kan weerstaan of teenstaan wanneer God dit deur sy Gees aan ons gee nie. En watter troos is dit nie om te weet dat ons geloof, van begin tot einde, ’n gawe van die almagtige God is en dus geensins van ons as nietige, sondige mense afhanklik is nie. Dit beteken dat wanneer God ons wil red, Hy dit inderdaad ook doen. As God jou liefhet en jou deel van sy familie wil maak, dan gaan Hy jou noodwendig red en niks sal jou ooit van sy liefde kan skei nie.

Dit is noemenswaardig hoe prominent hierdie leerstelling, wat deur ons gereformeerde voorouers by Dordrecht in ’n belydenisskrif saamgevat is, reeds in die 4de eeu in Gregorius se werke figureer. By hom staan dit vas: Die saligheid is ’n gawe van God wat deur God self in die mens bewerk word sonder dat die mens enige verdienstelike bydrae daartoe lewer.5 Die werk van die Heilige Gees om die wedergeboorte in die uitverkore mens te verwesenlik, beskryf hy dan ook as “’n verandering van die lewe en ’n bevryding van die bande van slawerny en ’n transformasie van die elemente waaruit ons natuur saamgestel is”.6 Hy gaan dan verder deur te noem dat dit “die Gees is wat die geestelike wedergeboorte bewerk en dat … niemand die koninkryk sal sien tensy hulle deur die Gees vernuwe word nie”.7 In ’n kommentaar op Romeine 9:16 sê hy dan ook uitdruklik presies dieselfde as wat ons in die Dordtse Leerreëls leer, naamlik dat “selfs die daad om vír God te kies, ’n genadegawe ván God is … Omdat die wil om te kies self ook ’n gawe van God is, skryf Paulus alles aan God toe”.8 Gregorius maak dit dus duidelik dat, soos Filippense 2:13 ook leer, dit God die Heilige Gees is wat in ons die wil of begeerte om vir Hom te kies, bewerk, sonder dat Hy eers ons toestemming daarvoor nodig het.

God alleen laat ons vír Hom kies

Gregorius se siening van die soewereiniteit van God in die bewerking van die mens se saligheid, is dus volkome in lyn met wat die Skrif en ons gereformeerde belydenisskrifte leer. Hy lê op verskeie plekke baie klem daarop dat wanneer die mens kies om te glo, dan doen hy dit slegs omdat die Heilge Gees ons wil so verander het dat ons nie meer téén Hom kies soos ons van nature geneig is nie, maar vír Hom. Alhoewel ons as mense uit onsself noodwendig altyd teen God sal kies, aangesien ons natuur deur die sondeval verdorwe is, beklemtoon Gregorius tegelykertyd dat die mens nie bloot passief in die ontvangs van geloof is nie, want die geloof is immers iets wat ons ons eie moet maak. Ons doen dit inderdaad gewilliglik, maar net omdat ons genade daartoe ontvang.9

Hiervolgens is God se genade dus nie “weerstaanbaar” oftewel afhanklik van die aanneming van die mens, soos die Arminiaanse dwaling wat by die Sinode van Dordrecht (1618-1619) verwerp is, leer nie, maar onweerstaanbaar in die sin dat God diegene wat Hy uitverkies, ook roep, en dié wat Hy roep, tot geloof bring en hulle in die geloof bewaar sodat hulle volhard tot die einde toe (vgl. Rom. 8:28-30, 38-39).

Ons saligheid is dus suiwer genade en sonder enige ver­dienste van ons kant. In lyn met die Skrif leer Gregorius van Nazianze dat, alhoewel die mens deur die sondeval van nature geneig is om altyd teen God te kies, daar redding van die verderf moontlik is by wyse van God se onweerstaanbare genade alleen.10

________________________________________

  1. Hoof van die Pactum Instituut en lidmaat van die AP Kerk Lichtenburg.
  2. J.A. McGuckin, Gregory of Nazianzus: An Intellectual Biography (Crestwood, NY: St Vladimir’s Seminary Press, 2001), 24.
  3. McGuckin, Gregory of Nazianzus, 25.
  4. Sinodale Publikasie, Erediensboek vir die Afrikaanse Protestantse Kerk (Hatfield: Lig in Duisternis Uitgewers, 2006), 195.
  5. S.J. Lawson, Pillars of Grace, AD 100-1564: A Long Line of Godly Men (Orlando, FL: Reformation Trust, 2011), 160.
  6. N.V. Harrison, Festal Orations (Crestwoord, NY: St Vladimir’s Seminary Press, 2008), 100-101.
  7. Harrison, Festal Orations, 156.
  8. P. Schaff, “Oration 37.13,” in Nicene and Post-Nicene Fathers, Second Series, vol. VII (New York: Cosimo Classics, 2007), 341-342.
  9. Schaff, “Oration 33.9,” 331.
  10. Harrison, Festal Orations, 171.
Die volharding van die heiliges volgens Cyprianus (deur Prof. Gerrit Smit1)

Inleiding

Cyprianus (200-258) was een van die kerkvaders en was afkomstig uit Karthago, Noord-Afrika (hedendaagse Tunisië). Naas Chrysostomos (347-407) en Augustinus (354-430), was hy een van die grootste invloede op die Kerkhervormers, onder andere Johannes Calvyn en Martin Bucer.2

Agtergrond

’n Mens kan eintlik nie aan die teologie van Cyprianus reg laat geskied alvorens jy nie kennis geneem het van die teologie van Tertullianus (150-222) nie. Cyprianus was ’n opvolger van Tertullianus en is sterk deur sy prediking en werke beïnvloed. Daar word vertel dat daar nie ’n dag verbygegaan het waarop Cyprianus nie iets uit die Bybel gelees en dit dan vergelyk het met wat Tertullianus daaroor gesê het nie. Vandaar toon sy teologie baie ooreenkomste met dié van Tertullianus. 

Hoewel Cyprianus bekend is as dié kerkvader wat die kinderdoop geleer het, het hy ’n reusebydrae gelewer tot die kerk se verstaan van die onderskeid tussen die sigbare en onsigbare kerk, asook die leer oor die uitverkiesing van God. Dit is dus te verstane dat Cyprianus so ’n groot invloed op die Kerkhervormers se teologie gehad het.

 Cyprianus was nie die intellektuele reus wat Tertullianus was nie, maar sy goedhartigheid, opregtheid en erns waarmee hy die kerk bedien het, het hom gou baie geliefd onder gelowiges gemaak. Hy was maar minder as ’n jaar lank leraar in die kerk in Karthago toe die groot vervolging van Christene onder keiser Decius in 250 uitgebreek het. Dit was nie die eerste vervolging van die kerk nie, maar Decius se vervolging het vir die eerste keer oor die héle Romeinse Ryk gestrek. Derhalwe het dit ook na Noord-Afrika oorgespoel, wat andersins tot dusver dikwels die vervolgings vrygespring het. Dié keer was daar vir Christene min wegkruipplek.

Wat gemaak met dié wat afvallig raak?

Die grootste uitdaging vir die kerk in dié tyd was die bevel van die keiser waarvolgens alle Romeinse burgers verplig was om offers aan die Romeinse afgode te bring. Cyprianus kon daarin slaag om ’n plek van veiligheid te vind en het talle briewe aan gelowiges geskryf om hulle te bemoedig. Hy het hulle ook aangespoor om in die geloof te volhard en nie toe te gee aan die versoeking om Christus te verloën ter wille van tydelike vrede nie. Dit was egter glad nie maklik vir almal om enduit te volhard nie. Christene is uit die samelewing verban, met stokke geslaan, lewend verbrand en in hulle honderde onthoof. Sommige kon die druk nie meer hanteer nie en het uiteindelik in die heidense tempels gaan offer.

Toe die ergste vervolging sowat ’n jaar later be­daar, was hierdie kwessie ’n ernstige vraagstuk in die kerk: Wat moet met Christene wat afvallig geraak het, gedoen word?

In 251 keer Cyprianus na Karthago terug. Sy advies was dat Christene wat tydens die vervolging aan die afgode geoffer het en deel van die kerk wil bly: hul skuld moet bely; die Here om vergifnis moet vra vir hul sonde; be­lydenis moet doen van hul geloof. Dan eers kan hulle weer in die kerk opgeneem word. Hy meen dat dit nie sommer net lippediens mag wees nie. Sulke persone moet ernstig deur die ampsdraers ondersoek word alvorens hulle in die kerk opgeneem mag word – ter wille van die heiligheid van die kerk.

Almal in die kerk was egter nie daarvoor te vinde dat afvalliges so maklik toegelaat moes word nie. Sommige het aangedring dat mense wat hulself buite die kerk geplaas het, nie gered kan word nie en die ewige verdoemenis verdien. ’n Sinode van die kerke in Noord-Afrika het vervolgens in 254 in Karthago plaasgevind en nieteenstaande teenkanting van sommige, is Cyprianus se standpunt oor die lot van afvalliges deur die kerk aanvaar. Die hoofsaak van dié Sinode se besluite was:

God red sy uitverkorenes ten spyte van hul sonde, alléén op grond van die soenverdienste van Christus en nié die werke nie.

Volharding van die heiliges en die rol van die kerk

Cyprianus was deeglik bewus dat die versoekings van die wêreld sommige gelowiges tydelik van die kerk afvallig kan maak. Sy leer oor die volharding van die heiliges het behels dat ware gelowiges in Christus, hoewel dit moontlik is dat hulle soms vir ’n tyd lank afvallig van die geloof kan word, altyd uiteindelik sal terugkom. Christus leer dat niemand die ware kind van God uit die Vader se hande kan ruk nie (vgl. Joh. 10:28) en daarom kan ’n ware gelowige nie die geloof verloor nie. Dit is egter nie deur hul eie toedoen of keuse nie, maar alléén deur die genade van God dat hulle dit kan regkry. Dié wat deel van die kerk was en afvallig van die geloof word en nooit weer terugkeer nie, meen Cyprianus, was nooit ware gelowiges nie. Die Kerkhervormer, Johannes Calvyn, het dit later verduidelik as mense wat ’n “tydsgeloof” gehad het, na aanleiding van die gelykenis van die Here Jesus oor die saaier (vgl. Lk. 8:13).

Verder sê hy dat volharding in die geloof vir die ware kind van God moontlik is indien hy aktief in die kerk van Christus betrokke is. Die kerk is die plek by úitstek waar gelowiges mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor en waar mense geleer word hoe om in die ge­loof te volhard. Cyprianus het die kerk met Noag se ark vergelyk. In een van sy briewe3 sê hy dat niemand buite Noag se ark oorleef het nie en as iemand binne die ark sou besluit om die ark te verlaat, hulle onder die oordeel van God sou kom. Hy wys hoe sommige mense Matthéüs 18:20 (Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde) verdraai om te meen dat hulle God liefhet, maar nie die kerk nodig het nie en dat hulle God net so goed by hul huise kan dien as in die kerk. In hierdie verband sê hy dat iemand wat hierdie vers buite die konteks van die vorige verse lees, verdraaiers van die Evangelie is, want in die vorige verse word duidelik geleer dat die kerk die sleutels van die hemelryk dra – wat die hemel kan oopsluit óf toesluit. Hy stel dit dat sulke valse leraars slegter daaraan toe is as dié wat aan die afgode geoffer het, aangesien hulle nie berou oor hul sonde van afvalligheid het nie. Dit was in hierdie konteks dat die bekende uitdrukking van Cyprianus ontstaan het:

“Jy kan nie God as Vader hê, as jy nie die kerk as moeder wil hê nie.”

Cyprianus het dus ’n hoë waardering vir die kerk gehad en dwarsdeur sy briewe die gelowiges aangemoedig om, ten spyte van hul verlede, hulle by die kerk te voeg om gehelp te word om deur die prediking van die Evangelie in die geloof te volhard.

Samevatting

Ons kan ons die Kerkhervorming (Reformasie) nie indink sonder die teologiese bydrae van die kerkvader Cyprianus nie. Hy het die kerk as die moeder van elke ware gelowige beskou: sy wat die heiliges wil beskerm; hulle wil leer; hulle wil aanmoedig om te volhard in die geloof tot aan die einde van hul lewens. Natuurlik is dit nie die kerk wat mense red nie, maar iemand wat gered is, sal nie sonder die kerk wil wees nie. As ’n mens Cyprianus se bydrae oor die volharding van die heiliges wou opsom, sou jy kon beaam wat Jim George gesê het:

“Dit is nie hoe jy begin wat belangrik is nie, maar hoe jy eindig.” 

________________________________________________

  1. Leraar van die AP Kerk Wonderboom en Rektor van die AP Akademie.
  2. In die eerste twee uitgawes van Calvyn se Institusie (1536 en 1539), vind ons net 4 aanhalings van Cyprianus. In 1543 erken Calvyn dat die min verwysings wat hy in die eerste uitgawes gebruik het, te wyte was aan ’n gebrek aan beskikbare bronne; vgl. Anthony N.S. Lane, John Calvin. Student of the Church Fathers (Edinburgh: T&T Clark, 1999), 116. In die laaste uitgawe van sy Institusie (1559), haal Calvyn 28 keer uit Cyprianus se werke aan. Martin Bucer haal die meeste aan uit die kerkvader Cyprianus (vgl. bv. Bucer se werk: Florilegium).
  3. Cyprianus, Epistoles 75, 1-2.
Wat beteken dit om gereformeerd te wees?1 (deur dr. Brian A de Vries1)

Wat beteken dit om te sê dat ’n denominasie of plaaslike kerk gereformeerd is? Dit is nodig om oor hierdie vraag na te dink omdat die woord “gereformeerd” op ten minste vyf verskillende maniere gebruik kan word.

Die betekenis van die woord

Eerstens sê ons dat ons konfessioneel gereformeerd is. Die susterkerke onderskryf die Nederlandse Geloofsbe­lydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls. Naby verwant aan hierdie Drie Formuliere van Eenheid is die Westminster Standards (Westminster Confession of Faith, Westminster Larger Catechism, Westminster Shorter Catechism) uit die Engelse tradisie, asook ander soortgelyke belydenisse.

Tweedens kan ons ook histories gereformeerd wees. Die susterkerke en ander soortgelyke kerke in Suid-Afrika spoor hul geskiedenis terug na die Protestantse Reformasie en die Nederlandse Nadere Reformasie, met ortodokse leiers soos Johannes Calvyn, Gisbertus Voetius en Wilhelmus à Brakel. Baie kerke, alhoewel hulle steeds die gereformeerde belydenisskrifte onderskryf, is nie langer histories gereformeerd nie, omdat hulle van die ortodokse leerstellinge en praktyke uit die verlede afgewyk het.

Derdens kan ons leerstellig gereformeerd wees. Die woord “gereformeerd” verwys ook na ’n stelsel van leerstellinge omskryf deur die bekende vyf Solas: Ons word gered deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, soos geopenbaar deur die Skrif alleen, tot eer van God alleen. Baie kerke in Suid-Afrika verkondig vandag hierdie teologie, insluitend die gereformeerde Anglikane, gereformeerde Presbiteriane, baie gereformeerde Baptiste van verskillende genootskappe en selfs verskeie ander charismaties-georiënteerde groepe.

Vierdens kan ons ook organisatories gereformeerd wees wat betref ons kerkregeringstelsel. Hier is die kriteria meer prakties: ’n spesifieke ekklesiologie (kerkbegrip) met die tersaaklike toepassings. Ongelukkig word hierdie gebied dikwels deur sekondêre besprekings oorheers omdat dit afgelei word van leerstellige, historiese en konfessionele gereformeerd wees.

Vyfdens kan ons kultureel gereformeerd wees. In Suid-Afrika staan gereformeerd wees in noue verband met die Afrikanerkultuur en -tradisies van die 20ste eeu en die drie susterkerke. Ongelukkig is baie Afrikaners net Christene in naam – kultureel gereformeerd, maar in die praktyk verwerp hulle gereformeerde teologie, omdat hulle dit nie uitleef nie. In teenstelling met die genoemde tendens is sommige nie-Afrikaanse kerke, hoewel hulle nie kultureel gereformeerd nie, beslis gereformeerd op al die ander vlakke.

Kom ons evalueer ons eie gereformeerd wees

Dit is bekend dat baie van die susterkerke in Suid-Afrika nie langer histories óf leerstellig gereformeerd is nie. Tog is daar ander kerke wat minstens op sommige vlakke wel gereformeerd is. Baie Baptiste is glad nie gereformeerd in enige sin van die woord nie. Tog ís daar Baptiste in Suider-Afrika wat histories gereformeerd is en Charles Spurgeon en ander groot evangeliese predikers navolg. Hierdie Baptiste is meestal ook leerstellig gereformeerd en verdedig getrou die meeste van die waarhede in die gereformeerde belydenisskrifte.

Dit is ook bemoedigend om kennis te neem van som­mige gereformeerde Suid-Afrikaanse Anglikane en veral die groeiende aantal gereformeerde Presbiteriane wat ongetwyfeld histories én teologies gereformeerd is en ook volgens die Skotse tradisie, ’n gereformeerde kerkorde gebruik.

In watter sin van die woord is jou kerk gereformeerd? Ons moet hierdie vraag dalk meer persoonlik maak aangesien die woord “gereformeerd” op verskillende maniere gebruik kan word. Daarom, op watter vlak(ke) is jy gereformeerd? ’n Kerk kán organisatories en kultureel gereformeerd wees en die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf, maar selfs dán die kern van Bybelse kerkwees mis. 

• Is jou kerk gereformeerd in leer en lewe – volgens die Skrif?

• Is jou kerk een met ander Bybelgetroue kerke – histories en wêreldwyd?

• Is jou Christelike getuienis meer as net ’n kulturele uitdrukking van jou godsdienstige of etniese erfenis?

Afrikanerkultuur te bevorder, is nie dieselfde ding nie, hoewel laasgenoemde met tye goed en nuttig is. Kan dit wees dat baie kerke net ’n spesifieke kulturele erfenis “preek” en hul roeping om die Bybelse waarheid binne ’n goddelose samelewing te verdedig, agterweë laat?

’n Weg vorentoe

Baie sogenaamde gereformeerde kerke staar op hierdie gebied tans ernstige gevare in die gesig wanneer hulle eerstens, toelaat dat ander godsdienstige ideologieë (soos liberale teologie en wêreldsheid) ons getroue belydenis van Bybelse teologie mislei en tweedens, toelaat dat ’n weergawe van gereformeerde kultuur op ’n subtiele wyse ons uitleef van gereformeerde teologie oorskadu. Ons moet teen alle kompromieë waak (vgl. 1 Tim. 4:16).

Ons kerke moet gereformeerd bly. Daar is baie kommerwekkende tekens in Suid-Afrika, maar dit is nie te laat nie. God het sy kerk al dikwels laat herleef; die kerkgeskiedenis gee baie voorbeelde van werklike geestelike herlewings. Ons moet afwykings van die gereformeerde teologie verwerp. Liberale teologieë wat aan Suid-Afrikaanse universiteite geleer word, is ’n vals godsdiens wat deur kerkleiers openlik bestry moet word. J Gresham Machen, ’n gereformeerd-Presbiteriaanse predikant, het hierdie punt honderd jaar gelede in sy klassieke werk, Christianity and Liberalism, duidelik gemaak. Dit is nie genoeg om net die gereformeerde belydenisskrifte te erken nie, aangesien baie kerke met ’n goeie belydenis ver van die getroue leer van die Skrif afgedwaal het.

Ons moet ophou om gereformeerde kultuur bo gereformeerde waarheid lief te hê. Om kultureel gereformeerd te wees, is nie genoeg nie. Op die oordeelsdag sal daar mense wees wat in gereformeerde kerke grootgeword het met die oortuiging dat hul doop ’n kaartjie hemel toe was. Maar die Here Jesus sal vir hulle sê:

Ek het julle nooit geken nie (Mt. 7:23).

Ons moet terugkeer na ons historiese wortels. Ons het ’n herontdekking van die ou skrywers nodig: Nie net teoloë soos Andrew Murray of Dirk Postma nie, maar veral hervormers soos Calvyn; geestelike leiers soos Voetius en À Brakel; Puriteine soos John Owen en Matthew Henry.

Dit sal ’n groot jammerte wees as die gereformeerde stem in Suid-Afrika stil gemaak word. Ons moet weer rondom die historiese leerstellinge van soewereine genade verenig en saam ons toewyding aan gereformeerde waarheid bely. Gegewe die toenemende teenstand van ’n goddelose samelewing, is dit selfs meer dringend dat ons in ons openbare getuienis van Bybelse waarheid, verenig.

____________________________________________

  1. Vertaal deur ds. Henning Dafel.
  2. Hoof van Mukhanyo Teologiese Kollege en leraar van die Grace Reformed Church in Pretoria.
Aan die anderkant van die wêreld (deur Pieta Oosthuizen)

Ek glo nie wat ek hoor nie

“Pappa, ek het besluit om ook in Amerika te gaan werk.” Dié woorde van my 21-jarige seun laat my na asem snak. “Pappa moet hoor hoeveel geld het David verlede jaar in Amerika verdien.” En voor ek nog mooi tot verhaal kan kom, “ek het vandag uit my werk bedank”.

Hoeveel ouers moet nie jaarliks hierdie woorde aanhoor nie? Die scenario’s mag effens verskil. Soms is dit ’n seun wat sy studies staak of ’n afgestudeerde kind wat nie werk kry nie. In baie gevalle deesdae is dit ’n pa met skoolgaande kinders wat sy werk verloor het. Wat ook al die geval, vir baie ouers voel dit soos ’n doodsvonnis wanneer ons verneem dat ons kinders in die buiteland gaan werk.

Talle vrae het gelyktydig deur my kop gemaal: Waar gaan die kind werk kry? Gaan hy genoeg en gesond kan eet? Wat as hy skielik siek word? Wat as hy sy aansluitingsvlug in Zürich, Switserland, verpas? Wie gaan ons help om deur al die papierwerk van paspoorte en visums te worstel? En dan seker die belangrikste vraag: Gaan ons hom weer sien?

Sielestryd

Wanneer ’n mens effens tot verhaal kom, begin jou werklike sielestryd. Sal my kind naby aan die Here bly leef? Sal hy staande kan bly in ’n Goddelose wêreld? Is daar ’n erediens wat hy kan bywoon, al is dit in ’n Engelse kerk? Sal hy sy geloof behou? Sal hy gereeld Bybel lees en bid? En dan dring die besef skielik tot jou deur. Dit is eintlik ’n baie groter toets vir jou eie geloof as vir jou seun s’n. Jou kind se naam is mos in die boek van die lewe opgeskryf. God is baie duidelik hieroor in Lukas 10:20 … maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is. Waarom twyfel jy dan aan God se belofte in Hebreërs 13:5: … Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. En weer in Johannes 10:28: 

En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

 Gemoedsrus

Skielik het my gemoed tot bedaring gekom en ek het geweet God is in beheer. Ook van vlug LX283 vanaf Johannesburg na Zürich en ook van die aansluitingsvlug na O’Hare internasionale lughawe in Chicago, VSA. Selfs daar waar my kind teen ’n gemiddelde spoed van 873 km/h en ’n hoogte van 21 496,8 m bo moederaarde op pad was na ’n bestemming letterlik aan die anderkant van die wêreld. Maak nie saak wat met die vliegtuig gebeur nie, my kind was veilig. Want God is in beheer, binne-in die vliegtuig en ook aan die buitekant by -57º C.

En die belangrikste van alles is dat die Heilige Gees mos self in die harte van gelowige kinders van die Here woon en hul voetstappe rig. Van hul eerste babatreëtjies, klein spoortjies in die sandput by die kleuterskool, diep spore wat oor die hele skoolterrein verspreid lê, tot daar waar hulle as volwassenes deur doeane stap en die laaste tree gee om in die kajuit van die Airbus A340-300 te verdwyn. En dan natuurlik ook waar hulle aan die anderkant van die wêreld nuwe spore in ’n vreemde land gaan trap. Ook daar sal sy engele [hom] op die hande dra, sodat [hy sy] voet teen geen klip stamp nie (Ps. 91:12).

Stof tot dankbaarheid

Elke mens is mos maar ’n produk van sy ouerhuis en die samelewing waarbinne hy grootgeword het. Wanneer jou kind in ’n vliegtuig op pad is na die anderkant van die wêreld, is jy dankbaar vir elke mens wat ’n aandeel in sy vormingsjare gehad het. En net daar, in die vertreksaal van die lughawe, terwyl ek die al hoe kleinerwordende vliegtuig agterna staar, stuur ek ’n dankgebed op vir my kind se kleuterskooljuffrou wat hom van die Here Jesus geleer het. Ek sê dankie vir sy skool wat ’n verlengstuk van die ouerhuis was en “dankie Here” vir ’n vak soos Bybelonderrig en Christenonderwysers. Te midde van mense wat rondom my kom en gaan, bid ek verder: 

Dankie vir verbondsonderrig by die kerk.

Dankie vir elke verbondsonderrigvoorganger.

Dankie vir die Bybelgenootskap van Suid–Afrika.

Dankie vir die Gideons vir die Bybel in sy tas en die Sakbybeltjie in sy rugsak. Dankie vir tegnologie en die Bybel in Afrikaans op die selfoon in sy hand.

 

Grootword is ’n normale verskynsel

Op pad van die lughawe af terug huis toe, besef ek dat dié Amerika-onderneming ’n normale deel van ons kinders se grootword is. In hierdie grootwordproses is dit vir elke mens noodsaaklik om sy staanplekkie in hierdie ou wêreld te vind. Hopelik weet hy wie hy is wanneer hy terugkeer, waarmee hy hom graag wil besig hou en waarheen hy op pad is. Toe óns hulle jare was, moes seuns nog twee jaar verpligte militêre diens doen, soms met baie traumatiese gevolge. Destyds was “die grens” vir ons ouers ook aan die anderkant van die wêreld en selfs ons oupas het die anderkant van die wêreld tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef.

Liewe pa en ma:

  • Knoop jou kind van kleins af aan die Here vas.
  • Bid vir hulle: … die gebed van die regverdige hoor Hy (Spr. 15:29).
  • Wees dankbaar vir elke Christengelowige se voorbeeld in jou kind se lewe.
  • Laat jou kind toe om sy/haar vlerke te sprei: Hy sal [ons kinders] dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal [hulle] skuil (Ps. 91:4).
Duskant TULIP: Lesse uit die geskiedenis en die erfenis van die Dordtse Leerreëls (deur ds. Henning Dafel)

Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) was ‘n belangrike internasionale samekoms van gereformeerdes. Dié sinode is in Dordrecht byeengeroep om ‘n teologiese dispuut wat in en om die Nederlande ontstaan het, aan te spreek. Die middelpunt van hierdie dispuut was die leer van die teoloog Jacob Arminius en sy volgelinge.

Hulle het geleer dat mense moet kan kies of hulle gered wil word of nie.

 Jacob Arminius (1559-1609)

In die laat 16de eeu was daar ‘n groeiende weerstand teen belangrike gereformeerde leerstellings. Aanvanklik was Arminius ‘n belowende student aan die Geneefse Akademie wat geen sigbare dwaalleer voorgestaan het nie. Ná voltooiing van sy studies ontvang hy selfs ‘n getuigskrif van Theodor Beza. Vrae oor sy geloofsoortuigings ontstaan eers in 1590, maar invloedryke vriende beskerm hom telkens. Teen 1594 kom hy met ‘n nuwe interpretasie van Romeine 7 vorendag: dat Paulus nie ‘n verloste persoon beskryf nie, maar wel ‘n ongeregverdigde. In 1596 kom hy tot die gevolgtrekking dat ‘n mens ‘n bydrae moet maak om gered te word – jy moet God se redding gaan soek. Op slinkse wyse bely hy oënskynlik dat ‘n mens deur geloof alleen gered word, terwyl hy die die betekenis van die begrippe “uitverkiesing” en “geloof” verander.

Besorgde predikante sien rooi ligte, maar tydens gesprekke met Arminius gee hy telkens goeie antwoorde – daar was geen konkrete bewyse van dwaalleer nie. Ondanks al die onsekerheid stel die Universiteit van Leiden hom as professor in Teologie aan. Daar kry hy egter gou teenstand. Na bewering het hy geleer dat God mense nie uitverkies nie, maar omdat God vooruit weet wat ‘n mens gaan doen, Hy jou op grond van daardie keuse kies (Pelagianisme).

In 1605 dring gereformeerde predikante aan dat daar met die tug teen Arminius en sy volgelinge opgetree word, maar politici weier om ‘n nasionale sinode saam te roep. So ‘n inisiatief sou Nederland se moeilike verhouding met hul Rooms-Katolieke koning (Phillip III van Spanje) verder versuur. Aan die ander kant het invloedryke Arminiane probeer om ‘n sinode byeen te roep om die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus in lyn met Arminius se idees te bring – iets wat Nederland se verhouding met Spanje nie sou beïnvloed nie.

Die dispuut duur voort

Arminius se dood (1609) los dié dispuut nie op nie. In 1610 publiseer die Arminiane (Remonstrante) ‘n beswaarskrif (Remonstransie) teen die gereformeerde leer waarin hulle vyf besware teen die gereformeerde leer uiteensit. Die gereformeerdes (Kontraremonstrante of Calviniste) reageer uiteindelik by die Sinode van Dordrecht (1618-1619) daarop. In kort verklaar die Arminiane:

  1. Uitverkiesing word bepaal deur vooruitgesiene geloof en gehoorsaamheid.
  2. Almal word gered; dié wat glo ontvang dit.
  3. Die mens is nie dood in sy sonde nie, net siek (beperkte menslike verdorwenheid).
  4. Genade kan verwerp word (vrye wil).
  5. Jy kan jou redding verloor.

Die Sinode reageer punt vir punt op die vyf besware en teenoor die Arminiane bevestig die gereformeerdes die ou leerstellings van die kerk. Omdat Dordt van mening was dat die derde en vierde punte baie naby aan mekaar lê, hanteer hulle hierdie twee punte saam.

  • Die eerste hoofstuk fokus op onvoorwaardelike uitverkiesing en bevestig dat God kies wie gered of veroordeel word. Die mens kan geen bydrae maak nie. Hierdie hoofstuk werk deur die geskiedenis, betekenis en gevolge van hierdie leerstelling en kyk op wie dit van toepassing is.
  • Die tweede hoofstuk fokus op beperkte versoening en verduidelik dat Christus se kruisdood slegs versoening bring vir hulle wat deur God uitverkies is. Dit kyk ook na die manier hoe hierdie leer verkondig moet word.
  • Punt drie en vier fokus op totale verdorwenheid en onweerstaanbare genade. Hierdie hoofstuk verduidelik die mens se totaal verdorwe natuur en dat hy glad nie in staat is om homself te red nie. God se genade is die enigste weg tot redding. Verder word die aard van wedergeboorte en geloof en ook die mens se verantwoordelikheid beskryf.
  • Die vyfde hoofstuk fokus op die volharding van die heiliges en bevestig dat wanneer iemand een maal gered is, die redding nie verloor kan word nie. Dit verduidelik waarom die heiliges nie verlore kan gaan nie en bevestig die troos en bemoediging wat uit hierdie waarheid geput kan word.

Ná hierdie oorsig móét ons die volgende verreken:

Eerstens is dit nóg die Calviniste óf die Sinode van Dordrecht, nóg Calvyn óf die ander 16de eeuse Hervormers wat hierdie gedagtes uitgedink het. Dordt het bloot die leer van die Bybel en die kerkvaders bevesig. Ons moet onthou dat hierdie leerstellings baie ver teruggevoer kan word.

Tweedens kán ons nie in isolasie na die Dordtse Leerreëls kyk nie. Terwyl hierdie vyf onderwerpe deeglik hanteer word, het hulle ‘n nouer fokus as die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus. Hierdie vyf punte is ‘n gereformeerde antwoord op die Arminiaanse dispuut en in die eerste plek ‘n strydskrif wat beskou moet word as ‘n soort voetnota by die ander twee gereformeerde belydenisskrifte.

Laastens moet ons ook sien watter rol die Leerreëls vandag vervul. Die vyf gegewe opskrifte is nié die opskrifte wat in 1618-1619 aan die verskillende hoofstukke gegee is nie. Tog gee dit ons ‘n goeie begrip van die belangrikste gevolgtrekkings wat elke hoofstuk maak. In Engels word die opskrifte met die akroniem TULIP saamgevat wat wyd en syd bekend is en deur gereformeerde kerke van die 21ste eeu met groot vrymoedigheid as belydenis onderteken word. Gevolglik word selfs Calvinisme gereeld met hiérdie vyf punte (TULIP) omskryf.

Waar laat dit gereformeerdgesinde kerke vandag? Kortweg: Ons moet die dwaasheid daarvan besef om TULIP as ‘n geloofsbelydenis of belydenisskrif te gebruik. Dit is ‘n nuttige eselsbrug vir memorisering en ‘n goeie manier om die nuanses van gereformeerde teologie te verduidelik. Maar as belydenis is dit ‘n stomp mes, ‘n geraamte sonder murg of spiere en op die beste ‘n struktuur maar nie ‘n tuiste nie. Die punt is duidelik: So ’n skuif maak dat ons ontsaglik baie verloor.

Ons moet ook verstaan dat ons nie TULIP of selfs die Dordtse Leerreëls in sy geheel as die een en alles van Calvinisme of gereformeerde teologie kan sien nie. Om slegs hierdie Leerreëls as belydenis te gebruik, beteken dat jy gereformeerde teologie in ‘n wapen verander. As belydenis sê die Dordtse Leerreëls of TULIP min of selfs niks oor die Skrif, persoonlike vroomheid, gebed, die sakramente of die nature en Persoon van Christus nie. Gevolglik sal jy ’n groot deel van die vaste fondamente van troos waarop hierdie Leerreëls gebou is, verloor. Kortom, jy sal presies weet waarteen jy standpunt inneem, maar jy sal ‘n uiters beperkte begrip hê van dít waarvoor jy wel staan.

Om Calvinisme en meer spesifiek Calvýn die draaipunt van die gereformeerde Christendom te maak, is soos om anker te gooi op ‘n nuwe sandbank en nie op die ewige Rots nie. Dit beroof gereformeerde kerke van die volheid van hul identiteit as ‘n tempel van die Heilige Gees wat op die ewige Rots gebou is. Geen mens of mensgemaakte sisteem kan soortgelyke sekuriteit bied nie. Ons is lewende stene in ‘n baie ou geestelike gebou. Ons is egter redelik onlangs as stene in hierdie tempel van die Heilige Gees ingebou – soos ook Ursinus (Heidelbergse Kategismus), De Brés (Nederlandse Geloofsbelydenis), Calvyn (wat beide direk beïnvloed het). Ons moet hulle waardeer, maar nie oorwaardeer nie. Ook húlle is op steeds ouer stene gebou – Anselmus van Kantelberg, Gregorius van Nazianze, Augustinus van Hippo, Cyprianus van Karthago, wat op hul beurt weer op die fondament van die apostels gelê is. Buiten die Woord van God is geen geskrif onfeilbaar nie en daarom moet ons selfs verby die Sinode van Dordrecht, Ursinus, De Brés en Calvyn kyk om die groot genade wat God deur die eeue aan sy kerk gegee het, te waardeer.

TULIP en die Dordtse Leerreëls is monumente van God se genade aan sy kerk en ons moet die tyd neem om dit op ‘n gepaste wyse te waardeer. Tog moet ons nie kortsigtige slagoffers wees van ‘n kultuur wat sy eie fondament onder homself uitgrou nie. As ons die gevare van verskraling verstaan, sal dit ons help om te besef dat ons net soveel genade vir ons eie en toekomstige generasies van die kerk kan verwag. Hoe meer ons dít sien, hoe meer hoop sal ons hê vir die toekoms van Christus se kerk.

Daar is meer: Hoe om 'n 37-punt-Calvinis te wees (deur prof. Alwyn Swanepoel)

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) help ons om meer as ’n 5-punt-Calvinis te wees. Daar is tereg vyf belangrike punte wat handel oor bepaalde vrae in die verlossingsleer (die Dordtse Leerreëls), maar die NGB help ons om hierdie vyf punte in te bou in ’n meer omvattende visie van 37 artikels. Hierdie 37 punte daag ons uit oor baie beelde in ons kop asook denkbeelde in vandag se samelewing.

Ons hoor nogal dikwels die woord “selfbeeld” en reformatoriese Christene is gewoonlik gou en reg om daarop te wys dat ons eerder aan ’n goeie Godsbeeld moet werk. Dit is mos die diepste kuur vir onsself en ons samelewing. Ons dink nie altyd so daaraan nie, maar die NGB help ons op ’n verrassende wyse om nóg meer omvattend hieraan aandag te gee.[1]

Wanneer ons na die artikels in terme van denkbeelde kyk, kom dit duideliker uit die verf dat alle Christene onvermydelik die een of ander gevormde beeld hieroor het. Ons sou selfs kon sê dat gevormde denkbeelde hieroor, al is dit afvallig, selfs vir ongelowiges en dwaalleraars onvermydelik is. Die rede is dat hierdie sake, soos wat dr. RJ Rushdoony in ’n ander konteks dit gestel het, werklikhede verteenwoordig waaraan ons nie in hierdie wêreld kan ontsnap nie (inescapable concepts). Hier kan slegs beginstrepe getrek word om aan te dui hoe die NGB vanuit die Woord kan help om die heidensamelewing met sy New Age-konsepte, met die reformatoriese alternatief tegemoet te tree. 

Ons Godsbeeld (Godsleer: Artikel 1-13)

Almal het die een of ander siening van wie God is. Sommige meen dat hulle nie die konsep “God” aanvaar nie en dat hulle ateïste of agnostici is. Die Christelike joernalis, Brandon McGinley, het egter raak opgemerk dat die teenoorgestelde van geloof in God nie ateïsme is nie, maar afgodery. Hy sê as ons nie die lewende God dien nie, ons enige aantal gode wat ons vir onsself skep, sal dien. Hierdie opmerking is waar. Mense is nou een maal so dat ons, in die sentrum van ons lewens, dít opstel wat ons as “lewe” beskou. Dr. Tim Keller is bekend vir sy stelling dat die heidene in ’n sekere sin eerliker as ons hieroor was. As hulle byvoorbeeld gedink het skoonheid is “lewe”, het hulle daarvan ’n beeld gemaak, dit aanbid en daaraan ’n naam gegee: Afrodite – eerlik genoeg om daaraan sekere goddelike status te verleen.

Artikel 1 konfronteer egter reeds alle soorte afgodery met die lewende God. Hy is enersyds onvergelyklik en andersyds so naby ons in sy goedheid en regverdigheid. Elkeen van die woorde hier gebruik om Hom te beskryf, nooi uit tot ’n hele wêreld van ontleding. Die groot gereformeerde teoloog, prof. Herman Bavinck (1854-1921), het reeds in sy tyd gehelp om perspektief te kry oor die basiese alternatiewe waartoe mense sonder die lewende God hulle wend. Hy het daarop gewys dat wanneer ons net op God se grootheid (sy transendensie) fokus, onwikkel ons ’n Godsbeskouing waar Hy baie veraf is (deïsme). Wanneer ons aan die ander kant net op sy nabyheid (immanensie) fokus, het  ons weer ’n Godsbeskouing wat heeltemal te klein oor Hom dink. Dan grens dit aan, óf val vir voorstellings waarin ons almal sogenaamd deel van die goddelike is (panteïsme). Die klein dink sluit verder ook in dat verskillende groepe elkeen ’n soort beperkte godheid net vir hulleself daarstel en daaraan name gee soos hulle dit sien (pluralisme).

Gou besef ons hoe hierdie ontleding op ons dag van toepassing is, veral as ons besef dat pluralisme eintlik neerkom op ’n soort veelgodedom wat nou geakkommodeer moet word (politeïsme). Prof. Bavinck help ons om te besef dat hierdie soort Godsbeskouing uit pas is met wat die Bybel en artikel 1 leer oor die lewende God se onvergelyklikheid. Dit is daarom te verwagte dat New Age-panteïsme sal gedy in ’n omgewing waar die lewende God nie meer in sy grootheid geëer word nie. Kerke wat nalaat om God se heiligheid en andersheid in Christus sterk te beklemtoon (bewus en onbewus), kan maklik ’n bepaalde soort afgodsbeeld van die lewende God aanhelp – asof Hy ons speelmaat is. Dan besef ons hoe belangrik die NGB is wat ons help om die ware Godsbeeld van die Drie-enige God (art. 1, 8-11) in ere te hou; ook sy onfeilbare Woord (art. 3-7) waarsonder ons Hom nie so sou kon ken nie. Daarsonder sien ons konkreet hoe prof. Bavinck se voorspelling voor ons oë gestalte kry. 

Ons mensbeeld (Antropologie: Artikel 14-15)

So word die mens aljuis, dikwels in lyn met die huidige godsbeeld, voorgehou as altyd-reeds delende in die goddelike vonk (panteïsme). Ons hoor ook dikwels dat die woord “sonde” taboe is, aangesien dit net patologieë by mense veroorsaak. Die vraag is egter: Waarvan wil jy dan verlos word as dit nie sonde is nie? (vgl. Mt. 1:21). Ons kan verwag dat een of ander vorm van hedendaagse positiewe herbevestiging (positive reinforcement) buite die maat inslag sal vind en dat elke mens en elke kind die Goddelike vonk wat reeds in hulleself is, net sal vind. In so ’n wêreld is dit belangrik om artikel 14-15 staande te hou wat die skeppings- en sondeleer erken en daarmee ook insien waarom dit fataal is om die sondeval te ontken. Dit moet noodwendig lei tot ’n verkeerde soort oplossing oor wie die Messias is en wat Hy eintlik gedoen het. Let wel: Ware reformasie is nie bevrees vir ’n donker sondeleer nie, aangesien ons hiermee saam ook ’n helder, skitterende Christusleer het. Die ware Messias is die heerlike oplossing wat altyd groter vergifnis en groter verlossing as die sonde waarin ons onsself gedompel het, bring. 

Ons Christusbeeld (Christologie: Artikel 16-21)

Almal het een of ander siening van wie die eintlike Redder, of dan Messias, in hierdie wêreld is. Ontkenning van die ware Messias maak iemand ook hier nie vry van die beeld of die konsep nie. Dit lei  bloot tot toevlug in een of ander vals messias. Deur die geskiedenis het die staat dikwels die messias geword; wat later geblyk het ’n monster (Leviátan) te wees. Iewers moet ‘n redder wees en hoe dan nou anders vir wêreldlinge as die sogenaamd almagtige staat met soveel kollektiewe krag. Die onvermydelike volg vir die eerlikes: Iemand moet ons red! En wanneer hierdie staat dan boonop allerhande plesiertjies vir sy slawe in die privaatlewe borg, soos wat dikwels die geval met slawe was, is alles in orde. Sluk net die staat se blou of rooi pilletjie, dan het jy jou redder vir jou private vryheid – van die wieg tot aan die graf.

In so ’n wêreld is die ware leer oor die ware Christus van artikel 16-21 uiters belangrik. Die plan van die verlossing vanuit die uitverkiesing (art. 16) en in samehang daarmee die belofte van verlossing van die begin af (art. 17), die Persoon van die Verlosser (art. 17-19) en sy werk (art. 20-21), dui aan waar ons ons heil en ons sekerheid buite onsself kan vind. Hierdie Verlosser het raad met sonde en waar die sonde in ons dag donkerder en dierliker word, is die groot troos dat hierdie Verlosser net helderder skitter. Sy Persoon en werk maak dit duidelik hoe heerlik en groot (vgl. Efés. 3:18-19) sy verlossingswerk was sodat ons ook in ons dag, sy verlossing mag ken.

Daarom deug karige substitute nie en moet ons ook waak vir opvattings oor Jesus wat net te klein en beperk is. In ’n New Age-omgewing kan ons byvoorbeeld verwag dat vorms van die sogenaamde heidense Christus (pagan Christ) toenemend gehuldig sal word. Volgens hierdie opvatting ken die antieke Egiptenaars al die leer oor ’n soort kosmiese Christus en moet ons nou erken dat die Christus van die Skrifte net simbolies verstaan moet word as nóg ’n variasie daarvan. Daarom is dit dringend noodsaaklik om op hierdie oerdwaling van die gnostisisme te wys. Pasop om net ’n geestelike waarde, los van geskiedkundige waarde, van Christus te erken, soos wat afvallige teologiese skole dit reeds leer. Vra mense van jou dag van watter Jesus hulle praat (vgl. Gal. 1:6-7; 1 Kor. 15; 1 Tim. 6:3) en handhaaf dan self artikel 16-21 onverkort.

Ons verlossingsbeeld (Soteriologie: Artikel 22-26)

Almal het ook ’n siening van hoe verlossing in hierdie lewe werk. Die blote voorkoms van die woord “transformasie” wys reeds in ons dag hoe “verlossing-agtig” ons hele politieke bestel kort-kort beskrywe word. Transformasie in natuurlik in die eerste plek ’n biologiese begrip. Tog is dit duidelik dat die Skrif ’n beter oordragtelike beeld daarvan gee as wat in die hoofstroompolitiek gangbaar is (vgl. Rom. 12; Kol. 3; Efés. 4). Die NGB help ons vanuit die Skrif om die dubbele genade (duplex gratia) van ons verlossing te waardeer wat in die leer oor die regverdiging (art. 22-23) en die heiligmaking (art. 24-26) duidelik word. Daar leer ons hoe ons deur die krag van die Heilige Gees, langs die weg van geloof en God se wet, ware regverdiging en heiliging deelagtig word. Dit beteken ’n definitiewe alternatiewe visie op transformasie en die liberale tien gebooie wat vroeg en laat aangebied word. 

Ons Kerkbeeld (Ekklesiologie: Artikel 27-35)

Vanuit die Woord leer die NGB duidelik dat ware verlossing nie alleen ’n individuele nie, maar ook ’n gesamentlike saak is. Die Here het daagliks by die eerste gemeente gevoeg dié wat gered is (vgl. Hand 2:47). Die NGB lei ook tereg uit die Skrif af dat elkeen verplig is om hom by die ware Kerk aan te sluit en daarmee te verenig en hom te onderwerp aan haar leer en tug (art. 28). Hoewel ons nie moet vaskyk teen kwantiteit nie, is die meer as halvering van Afrikaners uit die hoofstroomkerke (die AP Kerk ingesluit), ’n duidelike sein van iets wat drastiese verkeerd is. Daar is ’n gees van individualisme vaardig waarin mense reken dat hulle “ja” kan sê vir Jesus (watter Jesus?), maar “nee” vir sy liggaam (die Kerk). Hier is ‘n ondersoek na twee kante nodig. Enersyds moet die leierskap in Kerke hulself afvra of die plaaslike Kerk nog werklik die beeld van Christus uitdra. Andersyds moet lidmate hulleself afvra: Is daar nog onderwerping aan die leer en tug, die gesag en genade van die Kerk? Is ons werklik gewillig om te buig onder die juk van Christus en onderling aan mekaar diensbaar te wees, soos artikel 28 dit stel? Hierdie vrae aan beide kante kan grootliks aangehelp word deur ‘n gefokusde oriëntasie ten opsigte van artikel 27-35. Dit sluit onder meer in die eienskappe en kenmerke van die Kerk (art. 27-29), die regering van die Kerk (art. 30-32), die sonderlinge betekenis van die sakramente in die Kerk (art. 33-35), naas die Woord. 

Ons politieke beeld (Teopolitiek: Artikel 36)

Vir te veel mense, ook in kerke, is artikel 36 (oor ’n Christelike regering) nie meer aanvaarbaar in ’n plurale opset nie. Ons moet egter onthou dat dié artikel die ideaal stel waarna ons altyd weer kan reformeer. Dit bou op die veronderstelling dat Ou en Nuwe Testament een geheel is wat in Christus na alle kante toe steeds waarde het. Daarom mag ons saam met hierdie artikel steeds afleidings maak oor Koning en altaar, staat en Kerk, wanneer ons in die Ou Testament lees oor Koning en profeet of priester. Hiermee kom ook die vraag of ons hoegenaamd nog onder die leiding van die Gees mag werk vir ’n tweede reformerende Christendom? Artikel 36 antwoord “ja” en herinner ons dat ons steeds die brandende begeerte mag koester dat die hele wêreld, ook regerings, sal buig voor die troonregte van Jesus Christus (vgl. Ps. 2; Openb. 21:24). Ook een of ander beeld oor politiek is onvermydelik en hierdie artikel herinner ons aan die droom van die Godsryk en egte en opwindende teopolitiek. 

Ons eindbeeld (Eskatologie: Artikel 37)

Alle mense het implisiet of eksplisiet ’n beeld van waarop alles afstuur. By elke nagmaal hoor ons dat die nagmaal ook ’n verwagtingsmaaltyd is. Daarmee bely ons dat alles afstuur op die groot banket, die groot bruilof van Bruidegom en bruid waarby ons eresitplekke mag hê. Ons mag uitsien na ’n lewe saam met Hom waar, soos CS Lewis dit gestel het, elke hoofstuk die vorige oortref. Artikel 37 herinner ons aan hierdie visie en dat tyd (bv. art. 36) en ewigheid (art. 37) mekaar veronderstel. Dit vuur die hoop en verlange telkens aan; dit bevestig dat elke sekonde op aarde sin het; dit laat ons saam met Gesang 353:4 sing:

“Eens aan die einde van my lewe
sal ek van sorge en moeite vry,
vir elke dag my hier gegewe
U hoër, reiner loflied wy,
U hoër, reiner loflied wy,
U hoër, reiner loflied wy.”

Hierdie eindbeeld rig ons nou reeds en impliseer ook dat al die ander genoemde beelde in lyn daarmee is. Ja, die denkbeelde werk saam en laat ons deur doendade aan egte reformasie diensbaar wees. Laat ons dan die goud in die Nederlandse Geloofsbelydenis afstof; laat ons dit gebruik om reformasie in die krag van sy Gees te pleeg.

[1] Die indeling van die gereformeerde teoloog, Daniel Hyde, word gebruik en effens aangepas en omgebou in ’n eie idioom om te help om ’n greep op hierdie belydenisskrif se geheel te kry.

TULIP in die lig van die Dordtse Leerreëls (deur dr. Erik van Alten)

Inleiding

TULIP is ’n akroniem wat op ’n eenvoudige manier ’n uiteensetting van die gereformeerde verlossingsleer probeer bied. Elkeen van die letters van TULIP verteenwoordig ’n sentrale aspek in hierdie verlossingsleer. 

T =  Total depravity (totale verdorwenheid)

U =  Unconditional election (onvoorwaardelike uitverkiesing)

L =  Limited atonement (beperkte versoening)

I =   Irresistible grace (onweerstaanbare genade)

P =  Perseverance of the saints (volharding van die heiliges) 

Eenvoudig en duidelik – en daarom begryplik dat hierdie akroniem by baie mense aanklank gevind het en steeds vind. By nadere ondersoek blyk egter dat die gebruik van TULIP baie meer kompleks en problematies is as wat dikwels aangeneem word. 

TULIP – ‘n historiese probleem

Die eerste probleem waaraan aandag geskenk moet word, is die veronderstelling van voorstanders van hierdie akroniem dat dit ’n “historiese” term is. Tekenend hiervan is wat Collin Hansen skryf in Young, Restless, Reformed:[1]

“Arminianism stands against Calvinism as its theological foil. The system draws its name from the Dutch theologian Jacob Arminius (1560-1609), who challenged the prevailing views of his colleagues. In fact, Calvinists produced the TULIP acronym at the Synod of Dordt in 1618 and 1619 in response to followers of Arminius.”

Hansen poneer dus dat die Calviniste die TULIP-akroniem by die Sinode van Dordrecht geproduseer het. Wanneer ons egter probeer om die historiese wortels van die akroniem na te speur, vind ons geen verwysing daarna wat teruggaan tot voor die 20ste eeu nie. Die werk wat waarskynlik aan TULIP populariteit verleen het, was David N Steele en Curtis C Thomas se The Five Points of Calvinism Defined, Defended, Documented.[2] Daarin gaan die outeurs terug op Loraine Boettner se The Reformed Doctrine of Predestination.[3] Voor Boettner se boek (waarin hy, terloops, met groot versigtigheid die TULIP-akroniem hanteer) is daar nog een ouer bron waarin TULIP gebruik word: ’n artikel in die Christelike tydskrif The Outlook.[4] Hier verwys die outeur na ’n lesing van dr. CB McAfee in 1905: “To aid the mind in remembering the Five Points, Dr. McAfee made use of the word Tulip, which, possessing five letters, lends itself nicely to the subject in hand …” McAfee se gebruik van TULIP is waarskynlik die vroegste gebruik waarvan ons weet. Uiteraard, in die eeue daarvoor was daar baie wat die leer van Dordt verwoord en verdedig het, maar nêrens vind ons die gebruik van TULIP nie – dis ’n uitvindsel van die 20ste eeu en is nie tydens die Sinode van Dordrecht geproduseer nie. 

TULIP en die Dordtse Leerreëls

Behalwe hierdie historiese probleem, bevat TULIP egter ook sekere teologiese probleme (of in elk geval die potensiaal tot sekere teologiese probleme). Ek behandel hier die eerste vier letters van TULIP. Oor die vyfde letter bestaan daar weinig verskil van mening. 

Totale verdorwenheid (TULIP)

Totale verdorwenheid het te make met die menslike toestand. Wat sê die Dordtse Leerreëls (DL)[5] hieroor? In DL 1.1 lees ons die volgende: “Aangesien alle mense in Adam gesondig en aan die vloek en die ewige dood skuldig geword het …” DL 3.1 sê: “Maar toe hy deur die ingewing van die duiwel en deur sy eie vrye wil van God afgewyk het, het hy homself van hierdie uitnemende gawes beroof; en hy het daarenteen in die plek daarvan oor homself gebring blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verkeerdheid van oordeel in sy verstand, boosheid, wederspannigheid en hardheid in sy wil en sy hart, en laastens onsuiwerheid in al sy geneenthede.” Die verdorwenheid van die mens word dus onomwonde in die Leerreëls bely. Die vraag is egter wat presies hiermee bedoel word. Met die T (totale verdorwenheid) dreig die gevaar dat daar binne die gereformeerde tradisie ’n stuk misantropie ingedra word – die visie dat alle mense só sleg is soos wat hulle moontlik kan wees. 

Vir die Reformatore het dit egter nie gegaan oor die totale afwesigheid van enige soort goedheid nie, maar oor die onvermoë van die mens om homself van die sonde te verlos en weer met God versoen te word. Ook die Leerreëls wys dat dít die rigting is waarin die sinode gedink het – kyk maar net na DL 3/4.3: “Daarom word alle mense in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enige saligmakende goed, …” Teenoor hierdie onvermoë van die mens om homself van sonde te verlos, bevestig Dordt juis dat alle mense die beeld van God dra (DL 3/4.1) en dat “daar wel ná die val in die mens nog ‘n bietjie lig van die natuur oorgebly [het] waardeur hy enige kennis behou van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen wat betaamlik en onbetaamlik is, terwyl hy ook enigsins ‘n strewe openbaar na deug en uiterlike tug” (DL 3/4.4).

[1] C. Hansen, Young, Restless, Reformed: A Journalist’s Journey with the New Calvinist (Wheaton: Crossway, 2008).

[2] D.H. Steele et al., The Five Points of Calvinism Defined, Defended, Documented (Phillipsburg: P&R Publishing, 2004).

[3] L. Boettner, The Reformed Doctrine of Predestination (Grand Rapids: Eerdmans, 1936).

[4] C.B. Spahr ed., The Outlook, June 6, 1913.

[5] Sinodale Publikasie, Erediensboek vir die Afrikaanse Protestantse Kerk (Hatfield: Lig in Duisternis Uitgewers, 2006), 195.

"Cur Deus Homo". Die enigste Weg uit ons verdorwenheid (deur ds. Johan Schütte)

Anselmus van Kantelberg

Die Noorde van Italië is bekend as een van die gebiede waar die Waldense gevestig was. Dit is ook in 1033 die geboorteplek van Anselmus, twee jaar voordat Wilhelm die Veroweraar die hertog van Normandië sou word en hulle twee se vervlegde lewens die wêreldgeskiedenis drasties sou beïnvloed. 

Anselmus was 23 jaar oud toe hy hom in Normandië gevestig het. Ná die afsterwe van sy vader word hy in 1060 ‘n monnik. Binne drie jaar word hy die kloosterhoof van Bec as opvolger van Lanfranc, wat deur Wilhelm as Aartsbiskop van Kantelberg aangestel is. Dertig jaar later word hy weer Lanfranc se opvolger, die keer in Brittanje as Aartsbiskop van Kantelberg. Dit was ‘n posisie wat hy huiwerig aanvaar het en wat vir hom agt jaar van ballingskap sou beteken. 

Hoe betaal ‘n méns eerberowing terug?

Sy bekendste werk is sekerlik die boek Cur Deus Homo[1] (Waarom God mens geword het). In hierdie boek word die Evangelie verduidelik in die vorm van ‘n dialoog waar die vrae van die ongelowige Boso beantwoord word. Hy begin met die vraag: Wat is sonde? waarop hy antwoord dat God se skepsele Hom vereer deur absolute gehoorsaamheid in alles. Sonde is wanneer ‘n skepsel deur ongehoorsaamheid nie aan God die nodige eer gee wat Hom toekom nie. Jy beroof God van die eer wat Hom toekom. Gevolglik skryf hy: “Daarom moet elkeen wat sonde doen sy skuld teenoor God betaal deur aan God die eer te gee waarvan die sondaar Hom beroof het.” Daar is skuld wat betaal moet word, maar gesien die onskatbare aantasting van God se eer, is die prys wat betaal moet word meer as wat enige mens ooit sal kan doen, want almal is verdorwe. Hy beskryf die mensdom as ‘n sondigende massa wat almal saam met Adam in sonde gestort is. Ná die sondeval is elke mens se verstand en sy liggaam verdorwe en die prooi van vleeslike begeertes.

Dit plaas die mens dus in ‘n dilemma, want jy moet absoluut gehoorsaam wees en skuld God meer as wat jy Hom ooit sal kan betaal. Die loon van die sonde is die dood. Anselmus skryf: “Deur die ongehoorsaamheid van een mens het die dood oor die ganse mensdom gekom.”

Hy stel dit egter baie duidelik dat elke afstammeling van Adam verantwoordelik is vir hierdie skuld. Want jy is nie bloot ‘n afstammeling van Adam nie, jy is ‘n afstammeling van die in-sonde-gevalle-Adam. Dit is nie nét Adam se skuld nie – alle mense is ewe skuldig. Almal is in sonde ontvang en gebore. Die feit dat jy ‘n mens is, is genoeg om verlore te gaan. Daarom dat Anselmus die woorde van Psalm 51 kan eggo wanneer hy oor sy eie sondigheid skryf: “Waarlik, in duisternis is ek ontvang en in duisternis is ek gebore.” Dit is dan ook hierdie sondige natuur wat maak dat almal God van sy eer beroof en dus voor Hom skuldig staan. 

Ewige straf óf eenmalige soenoffer as betaling

Die enigste twee uitkomste vir die mensdom is dat ons gestraf moet word óf God moet op ‘n ander manier behaag word. Om gestraf te word beteken egter dat die ganse mensdom vanweë ons verdorwenheid vir ewig verlore moet gaan. Dus sal daar dan niks kom van ‘n ewige lewe van heerlikheid saam met God nie. Die enigste hoop vir die mens is dus dat God behaag moet word. 

Dit plaas ons voor ʼn verdere dilemma, want ons skuld God reeds absolute gehoorsaamheid en ons het verder niks om aan Hom te bied wat nie alreeds aan Hom behoort nie. Verder is sonde so ‘n aantasting van God, dat jy vir ewig daarvoor sal moet aanhou betaal, want daar is geen einde aan God se heiligheid nie. 

Maar kan God nie in sy liefde en genade bloot besluit om ons sonde te ignoreer en ons te vergewe nie? Anselmus redeneer waarom dit nie moontlik is nie. Eerstens sou dit beteken dat sonde ongestraf bly. God sal dus onregverdig wees deur nie te onderskei tussen ‘n sondaar en ‘n regverdige nie. God is egter regverdig, sowel as liefdevol en genadig. Waarom moet net sy liefde en genade uitgedruk word en nie sy regverdigheid nie? 

Uit die verdorwenheid ondanks ons skuld

Die mensdom se enigste hoop is dat daar Iemand moet wees wat ons skuld by God kan betaal, maar omdat die ganse mensdom verdorwe is en die ganse skepping aan die nietigheid onderwerp het, is die mens se hoop by geen skepsel te vinde nie. Daarom moet die Skepper die skuld betaal. Maar niemand anders as ‘n mens is skuldig nie en daarom is dit ‘n mens wat moet betaal. Derhalwe moet die Een wat betaal, tegelykertyd God én mens wees. 

Met ander woorde, net ons het skuld wat betaal moet word, maar ons kan dit nie betaal nie. Net God kan die skuld betaal, maar dit is nie sy skuld nie. Daarom kort ons ‘n Verlosser wat God en mens tegelyk is en dit is Cur Deus Homo … waarom God ‘n mens moes word. Jesus Christus was sondeloos en het geen skuld voor God gehad nie, daarom kon Hy ons skuld namens ons betaal. Sy dood was vrywillig en in ons plek gewees. Hy het nie dood as straf op enige sonde verdien nie. Maar Hy het ons sonde op Homself geneem en daarom kon God dit as betaling aanvaar. Deur Jesus Christus se vrywillige, selfopofferende sterwe aan die kruis, word God se regverdigheid, liefde en genade in harmonie aan ons bekend gemaak.

[1] Lees die boek hier: https://play.google.com/books/reader?id=heVBaO8CQ3IC&pg=GBS.PP10&hl=en.

 

Onvoorwaardelike uitverkiesing: Die gedagtes van Augustinus (deur ds. Dubois du Toit)

God se onvoorwaardelike uitverkiesing van mense was nog altyd een van die groot twispunte en teologiese kopkrappers in die kerk. Die idee dat God mense, in die woorde van Paulus in Efésiërs 1:4 (2020-vertaling) … voor die grondlegging van die wêreld in Hom [Christus] uitgekies het, nie op grond van enige werke-meriete of Goddelike voorkennis van toekomstige menslike besluite nie, maar suiwer uit soewereine goedheid en genade, gaan in vele opsigte ons moderne, Westerse, prestasiegedrewe, meritokratiese, eiegeregtigde, “dis-nie-regverdig-nie”-verstand te bowe.

G’n wonder dat, toe die sogenaamde gereformeerde teologie van onder andere Martin Luther en Johannes Calvyn die status van gevierde en gegote sistematiek bereik het, ‘n mens jouself kon indink hoe die veelgeopperde vertoë verwoord is: “Hierdie laat-Middeleeuse teologie is vreemd aan die groot Christelike tradisie,” of minstens, “dit is ’n bittere ‘nuwe’ pil om te sluk.”

‘n Herontdekking van Skrifwaarhede

Die gevolg van hierdie verwikkelinge op die kerklike toneel was dat hierdie nuwe teologie ’n laat-Middeleeuse benaming gekry het: Calvinisme. Die feit van die saak is egter dat ons die sistematisering van hierdie teologie minstens met ’n 1 000 jaar kan vervroeg, al die pad terug tot by een van die grootste teoloë van die Westerse kerk, Augustinus. Soos Calvyn dit in sy eie woorde beskryf: “Augustinus is so geheel en al met my, dat, sou ek wens om ’n geloofsbelydenis te skryf, ek so sou kon doen met alle volheid en bevrediging jeens myself vanuit sy geskrifte.”[1] Ons sou dan verder, volgens ’n opmerking van Luther, hierdie teologie kon terugtrek tot by die vroeë kerkvaders: “Niks in Augustinus is vanuit sy eie wysheid nie, maar is eerder dié van die mees uitstaande vaders, soos Cyprianus, Gregorius van Nazianze, Irenaeus, Hilarius, Olympias, Innocentius en Ambrosius.”[2] Wanneer ons egter die groot Princeton-teoloog, BB Warfield, se uitlating rakende Augustinus se teologie in ag neem, word dit duidelik dat die teologie wat via Augustinus aan Calvyn toegeskryf word, in der waarheid die teologie van Paulus is en dus ’n teologie wat op “datapunte” gebou is, wat deur die Heilige Gees self geïnspireer is: “Dit was nie nuut in die sin dat dit Augustinus se uitvindsel was nie; dit is, byvoorbeeld, die teologie van Paulus voordat dit die teologie van Augustinus was, en dit is bloot deur Augustinus vir die kerk herontdek.”[3]

Voordat ons ’n voëlvlug oor Augustinus se handeling rakende die doktrine van God se onvoorwaardelike uitverkiesing van mense neem, is dit nodig om net eers te definieer wat hy met hierdie doktrine bedoel het.

Uitverkies voordat en sodat ek kan kies

In sy Lectures or Tractates on the Gospel according to St. John skryf Augustinus die volgende: “Luister, ondankbare, luister: Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies. Sodat jy nie kan sê ‘ek is gekies omdat ek alreeds geglo het’ nie … sodat jy nie kan sê, ‘voordat ek geglo het, het ek al goeie werke gedoen en daarom is ek gekies’ nie. Want watter goeie werk kan daar wees voor geloof? terwyl die apostel sê, ‘enigiets wat ’n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde’. Wat moet ons dan sê wanneer ons sulke woorde hoor: Julle het My nie uitverkies nie … buiten dat ons boos was en gekies is sodat ons goed kan wees deur die genade van Hom wat ons gekies het? Want dit is nie deur genade as verdienste dit voorafgegaan het nie; dit is wel deur genade en daarom het daardie genade nie verdienste gevind nie, maar verdienste bewerkstellig.Top of Form”

Augustinus haal Jesus se woorde hier direk uit Johannes 15:16 aan, wat die begrip van onvoorwaardelike uitverkiesing ondubbelsinnig uitspel: God kies ons nie uit om deel te hê aan sy verlossing éérs wanneer daar aan sekere voorwaardes voldoen is (soos geloof en/of goeie werke) nie. God kies ons om deel te hê aan sy verlossing voordat geloof en/goeie werke selfs moontlik is. Hoe lank daarvoor? Voor die grondlegging van die wêreld … (Efés. 1:4). Waarom het Hy gekies om dit so te doen? Sodat niemand op iets vanuit hulself kan roem nie (vgl. Efés. 2:9); soos iemand eenkeer gesê het: “God gaan nie hoogmoed in die hemel toelaat nie.”

In sy geskrif, On the Predestination of the Saints, skryf Augustinus verder verhelderend hieroor: “God kies ons ons nie omdat ons glo nie, maar sodat ons sal glo; nie omdat ons geregtig is nie, maar sodat ons dit sal wees.” Luther het later hierdie denke van Augustinus gemunt in ’n kort frasetjie wat ook die titel van een van sy geweldig invloedryke boeke geraak het, The Bondage of the Will.

Dit is belangrik om kortliks kennis te neem van die kerngedagte van Luther se boek met die oog op dit wat volg. Toe daar oor die eeue in die kerk gesels of nagedink is oor die doktrines van God se genade, was die onvermydelike metgesel in hierdie gesprek natuurlik die vraag na die aard en funksie van vrye wil. Die beswaar teen Augustinus se (en dus die gereformeerde) verstaan van God se genade kan soos volg beskryf word: As God soewerein/monergisties in die verlossing van die mens te werk gaan, het ons dan nog vrye wil in die keuses wat ons uitoefen en, gevolglik, is ons op enige noemenswaardige manier verantwoordbaar vir ons dade? Luther antwoord die vraag soos volg: “Vrye wil sonder God se genade is geensins vry nie, maar dit is die ewige gevangene en slaaf van die boosheid omdat dit nie vanself na die goeie kan keer nie.” En elders: “’n Man sonder die Gees van God doen nie boosheid teen sy wil onder druk nie, asof hy by die nekvel gegryp word en teen sy wil daarin gesleep word, soos ‘n dief wat teen sy sin ingelei word na sy straf nie, maar hy doen dit spontaan en vrywillig. En hierdie gewilligheid van die wil is iets wat hy nie in sy eie krag kan elimineer, beperk of verander nie. Hy gaan voort om boosheid te wil en te begeer, en al word eksterne druk op hom geplaas om anders op te tree, bly sy wil innerlik afkerig daarteen en skaaf hy onder sulke beperking en teenstand.”

Met hierdie in gedagte beweeg ons na die volgende punt: Augustinus se doktrine van onvoorwaardelike uitverkiesing hang ten nouste saam met die doktrine van radikale verdorwenheid.

Ek ontvang, daarom kan ek

Die kerndefiniërende faktor van Augustinus se hele bediening (en daarom ook van sy teologie) kan onteenseglik beskou word as sy polemiese optrede teen Pelagius. Louis Berkhof beskryf dit so: “In die algemeen het die Griekse vaders van die 3de en 4de eeue ’n neiging getoon om die verband tussen die sonde van Adam en dié van sy nasate te ontken, terwyl die Latynse vaders met al meer helderheid geleer het dat die huidige sondige toestand van die mens sy verduideliking vind in die eerste oortreding van Adam in die Paradys. Die leerstellings van die Oosterse kerk het uiteindelik gekulmineer in Pelagianisme, wat ontken het dat daar enige verband was tussen die twee, terwyl dié van die Westerse kerk gekulmineer het in Augustinianisme, wat klem gelê het op die feit dat ons beide skuldig en besoedel in Adam is.”[4]

Een spesifieke frase in Augustinus se beroemde Confessions het Pelagius – wat gemaklik was met die veronderstelling dat die mens bekwaam is om sy eie verlossing uit te werk – veral uitgelok: “Gee wat U beveel, beveel dan wat U wil.” Hierdie gebed van Augustinus het die mens se behoefte aan soewereine genade ten sterkste erken. Hy het gesien dat God ín die mens moet doen wat Hy ván hom verwag; dat Hy deur sy genade die mens moet bemagtig as die mens enige hoop het om sy opdragte uit te voer. Pelagius kon dit nie aanvaar nie – ’n Goddelike opdrag het vir hom noodwendig die mens se vermoë om daardie opdrag uit te voer, geïmpliseer.

Dít was die hart van die dispuut tussen Augustinus en Pelagius – en ook weer tussen Calvyn en Arminius, Luther en Erasmus, Whitefield en Wesley, ensovoorts. Augustinus het geleer dat die mens, na aanleiding van die val van Adam, alle vermoë verloor het om God te gehoorsaam. As gevolg van die oersonde, wat die erfsonde geword het, kan die mens nie uitvoer wat God van ons verwag nie – ons wil is gevange.

Daarom dat God se uitsluitlike werking in ons lewens absoluut noodsaaklik is vir verlossing. Daarom dat God se genade niks anders as onvoorwaardelik kan wees nie, soos Augustinus skryf in On the Predestination of the Saints: “Want God het nie so uitgekies omdat Hy vooraf geweet het dat hulle goed sou wees nie, maar deur sy genade het Hy hulle goed gemaak nadat Hy hulle verkies het.”

[1] J. Calvin, Institutes of the Christian Religion, Book I, Chapter 7, Section 1.

[2] M. Luther, Luther’s Works, ed. F. Sherman, Vol. 48, Letters 1 (Philadelphia: Fortress Press, 1999), 24.

[3] B.B. Warfield, “Augustine,” in Calvin and Augustine (Literary Licencing, LLC, 2011), 321.

[4] L. Berkhof, Systematic Theology (Eerdmans, 1996), 219-220.

Beperkte versoening by Calvyn (deur ds. Willem van Schalkwyk)

Deur die eeue het mense gepoog om aan te toon dat die groot Hervormer, Johannes Calvyn, nie beperkte genade geleer het nie. Vandag is daar steeds pogings in Evangeliese kerke om hierdie saak te bewys. ’n Mens lees selfs dat mense aanspraak maak op Calvinis-wees, maar dan verwerp hulle die uitverkiesing en gevolglik beperkte versoening. 

Agtergrondgeskiedenis

Die Here onse God is oneindig ryk aan genade en Hy gee dit oorvloedig aan sy kinders. In sy genade het die Here, in die 16de eeu, die wegbreek van die Rooms-Katolieke Kerk beskik. Die Roomses het die kinders van die Here met verskriklike dwaalleringe mislei om God op ’n wyse te dien waardeur Hý nie die eer gekry het nie. Een van hierdie dwalinge was hul verlossingsleer. Die Roomse Kerk leer onder meer dat jou goeie werke en gehoorsaamheid jou red. 

Ná die Reformasie het ’n ander dwaalleer posgevat: Die eeueoue dwaling van Pelagius het weer herleef. Dwaalgeeste het geredeneer dat Christus vir alle mense gesterf het en dat God die verlossing in Christus aan die mens aanbied en dan hoop en wag dat die mens dit vat. As die mens nie kies of self besluit om te glo nie, kan die Here niks daaraan doen nie. 

Calvyn het sodaniges ernstig bestry en sê dat hulle die eer van God roof en vir die mens self wil toe-eien.[1] Vanuit die Skrif, en die geskrifte van veral Augustinus, toon Calvyn onteenseglik aan dat die uitverkiesingsleer (ook predestinasieleer of beperkte versoening) ’n suiwer Bybelse waarheid is. Ons gereformeerde belydenisskrif, die Dordtse Leerreëls, is monumentale getuienis van hierdie stryd teen die dwaalleraars in die kerk. 

Calvyn se standpunt

In sy stryd teen dwaalleraars het Calvyn benadruk dat die mens geen plek in sy redding het nie. In sy teologiese denke was die eer van God die hoogste motief. Juis daarom is dit in sy werke baie duidelik hoedat hy die mens se aandeel in sy redding met baie duidelike terme diskwalifiseer. 

Wanneer Calvyn oor predestinasie skryf, maak hy dit baie duidelik dat dit ’n ewige besluit van God is waarvolgens God by Homself oor elke mens se lewe besluit het: Hy neem níks van die mens in ag nie; Hý het oor elke mens ’n besluit geneem – óf vir die lewe, óf vir die ewige dood.[2] Versoening of genade is dus beperk tot die uitverkorenes. In sy geskrif oor die uitverkiesing, A Treatise of the Eternal Predestination, beskryf hy dit so (vertaal): 

“God het in sy ewige goedheid hulle in wie Hy ’n behae gehad het, gekies om gered te word en al die ander verwerp. Dié wat Hy deur sy vrye genade aangeneem het om sy kinders te wees, [se harte] word deur die Heilige Gees verlig sodat hulle die lewe wat in Christus gegee word, kan ontvang – terwyl die ander, wat in hul ongeloof voortleef, sonder die lig van die geloof, in totale duisternis voortleef.” 

Wanneer Calvyn die beperkte genade beredeneer, begin hy by die volk Israel. In die persoon van Abraham word een volk uitverkies en ander volke verwerp. Dit gebeur nie omdat Israel waardiger as ander volke is nie, maar op grond van God se onverdiende liefde.[3] God se meer beperkte genade (t.o.v. individue) word duideliker daarin sigbaar dat Hy uit dieselfde geslag van Abraham sommige verwerp en ander in sy kerk koester. Ismael (Moslems) “word verwerp, daarna ook Esau en uiteindelik ’n ontelbare menigte en amper die hele Israel”.[4] Hierdie beperkte genade word duidelik daarin dat die Vader sommiges aan Christus gegee het én dat dié wat Hy aan Christus gegee het, na Christus toe sal kom, omdat Hý hulle na Christus sal trek (vgl. Joh. 6:44). Om hierdie argument te versterk, haal hy Augustinus aan wat sê (vertaal): 

“Niemand wat deur die Vader getrek word, is vanself gewillig om na Christus te gaan nie. Die Vader trek hulle egter op so ’n wonderlike manier dat hulle inderdaad gewillig is om te gaan. Hy werk só in hul harte dat hulle, wat vroeër onwillig was om te glo, nou gewillig gemaak word. God gee die wil om gehoorsaam na Christus te kom as vrye genade en nie op grond van enige waardigheid in die persoon wat die gawe ontvang nie. Waar God nie hierdie gawe wil gee nie, is dit ’n bewys dat as die wil om na Christus te kom nie aan jou gegee word nie, kan jy nie kom nie. Al het God die krag om hulle na Christus te trek, trek Hy hulle nie, maar hulle word gelos om te vergaan. Dit beklemtoon die waarheid van die Skrif dat niemand na Christus kan kom as die Vader hom nie trek nie.”[5]

Juis daarom, sê Calvyn, sal Christus op die laaste dag die twee groepe skei: die skape en die bokke; die uitverkorenes en dié wat verlore gaan. 

Calvyn word verketter

Soos reeds genoem, was daar deur die eeue pogings om aan te toon dat Calvyn eintlik ’n algemene genade geleer het. Hierdie mense wil glo dat God sy genade aan almal aanbied en gebruik dan sekere sinne in Calvyn se werke om te probeer bewys dat dit ook sý standpunt was. Ten diepste verstaan hulle nie hoe Calvyn die saak beredeneer het nie. 

Calvyn bly getrou aan die Skrif wat leer dat almal opgeroep word om in die Here Jesus te glo. Ongelukkig is die woorde waarmee hy dit beskryf al so deur dwaalleer gekorrupteer, dat dit gelaaide woorde geword het. Hy sê dat God sy genade en die verlossing aan alle mense aanbied of dat Hy almal uitnooi om in Christus te glo. Vyfhonderd jaar ná Calvyn rys ons hare oor hierdie taal, maar dit is presies wat die Bybel leer. Bogenoemde mense sukkel egter om dit met beperkte genade te versoen. 

Calvyn bevestig ronduit dat Christus vir die hele wêreld gesterf het en God alle mense nooi om in die genade van Jesus Christus te deel. Dit kom baie duidelik na vore in sy kommentare op Matthéüs 26:28; Johannes 1:29, 3:14-16; Romeine 5:18; Galásiërs 5:12 en vele ander. Bogenoemde mense sien egter die bepaalde paragrawe in sy kommentare in isolasie. Wie Calvyn wil lees, moet sy kommentare én Institusie én ander geskrifte as ’n eenheid lees wat mekaar aanvul en opbou. Wie moeite doen om te verstaan, sal sien: Calvyn handhaaf albei waarhede van die Skrif – God se genade is algemeen én besonders. Die genade is gratis vir almal, maar omdat die mens geestelik dood is, gee God die genade net aan sy uitverkorenes. 

Calvyn verduidelik hierdie waarheid deur die roeping van die Here. God nooi (roep) alle mense deur die verkondiging van die Woord na Hom toe (algemene of uitwendige roeping) – ook diegene aan wie Hy die roeping as ’n reuk van die dood en rede tot ’n swaarder verdoeming voorhou. Met sy besondere of inwendige roeping vestig Hy, deur die verligting van die Gees, die Woord in die harte van ander. Die koning van Matthéüs 22 (wat mense na sy maaltyd nooi) is vir Calvyn ’n duidelike verklaring hiervan. Baie word genooi (geroep), maar waarom kom baie nie? Omdat min uitverkies is (vgl. v. 14).[6] In A Treatise … beskryf hy dit so (vertaal): 

“The mercy of God is offered equally to those who believe and to those who believe not, so that those who are not divinely taught within, are only rendered inexcusable, not saved.” 

Die wonder van die beperkte genade

In A Treatise … begin hy so (vertaal): 

“Hierdie wonderlike onderwerp is nie ’n doring in die vlees of blote spekulasie nie, maar ’n suiwere voordrag ten bate van die gelowiges. Hierdie saak bou ons geloof, begelei ons in nederigheid en bring ons in verwondering oor die oneindige goedheid van God. Daar in nie ’n meer effektiewe manier om ons geloof te versterk as om te luister na die verkiesing van God nie. Die Heilige Gees verseker ons in ons harte dat dit [die uitverkiesing] in die ewige goedheid van God teenoor ons verankerd is, daarom kan dit nie deur die storms van hierdie wêreld of deur die aanslae van die Satan of deur die swakheid van die mens verander word nie. Ons redding is vas en seker as ons die oorsprong daarvan in die boesem van God vind.”

[1] A Treatise of the Eternal Predestination.

[2] Institusie 3.21.5.

[3] Institusie 3.21.5.

[4] Institusie 3.21.6.

[5] A Treatise of the Eternal Predestination.

[6] Institusie 3.24.8.

Onweerstaanbare genade – Gregorius van Nazianze (deur dr. Adi Schlebusch)

Gregorius van Nazianze (329-390 n.C.), ook bekend as Gregorius die Teoloog, was ‘n baie invloedryke figuur in die vroeë kerk. Hy is gebore slegs vier jaar ná die belangrike Konsilie van Nicea (325) in die dorp Nazianze, ‘n plekkie in Turkye (vandag bekend as Berkalar). Hy is bekend vir sy groot werke wat handel oor die Drie-eenheid en veral sy teologiese bydraes met betrekking tot die leer van die Heilige Gees, oftewel pneumatologie. Hy het tydens die belangrike Konsilie van Konstantinopel (381) vir ‘n kort tydjie as aartsbiskop van daardie stad gedien. In die Oosters-Ortodokse teologie word hy al vir eeue as een van die belangrikste kerkvaders geag, maar ook in die Weste is daar veral vir die afgelope paar dekades toenemende belangstelling in en waardering vir sy ryk teologiese bydraes.[1] Sy besonderse groot invloed in die vroeë kerk blyk duidelik uit die feit dat die Konsilie van Chalcedon (451) aan hom die amptelike titel “die teoloog” toegeken het – ‘n titel wat tot op daardie stadium amptelik uitsluitlik aan die apostel Johannes gegee is.[2] Hy het saam met sy bekende tydgenote uit dieselfde streek, Basilius die Grote (330-379) en Gregorius van Nyssa (335-395), bekendgestaan as die drie Kappadosiërs. 

God bewerk die bekering van die verdorwe wil

Een van die leerstellings wat baie sterk in Gregorius van Nazianze se teologie na vore kom, is dit wat algemeen bekendstaan as die leer van onweerstaanbare genade – ‘n leerstelling wat deur die Dordtse Leerreëls[3] (3/4.11 en 14) soos volg verwoord word: 

“[W]anneer God hierdie welbehae in die uitverkorenes uitvoer en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy aan hulle nie alleen uiterlik die Evangelie verkondig en verlig Hy nie alleen hul verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle reg kan verstaan en onderskei die dinge van die Gees van God nie; maar Hy dring ook in tot in die binneste dele van die mens met die kragtige werking van dieselfde wederbarende Gees; Hy open die hart wat gesluit is; Hy vermurf wat hard is; Hy besny wat onbesnede is. In die wil stort hy nuwe hoedanighede in en maak dat die wil wat dood was, lewend word; wat boos was, goed word; wat nie wou nie, nou inderdaad wil; wat wederspannig was, gehoorsaam word … So is die geloof dan ‘n gawe van God; nie omdat dit aan die vrye wil van die mens deur God aangebied word nie, maar omdat dit die mens metterdaad meegedeel, ingegee en ingestort word. Ook nie daarom dat God net die mag om te glo, sou gee en daarna die toestemming of die daadwerklike geloof van die vrye wil van die mens sou verwag nie; maar omdat Hy wat werk om te wil sowel as om te werk, ja alles in almal werk, in die mens teweegbring die wil om te glo en die geloof self.” 

God réd wanneer Hy wil red

God se werk van genade deur die Heilige Gees is dus nie afhanklik van die mens se instemming daartoe nie, maar die genade van God behels juis dat beide die gawe van geloof, sowel as die wil om daardie geloof te aanvaar, deur God in die mens bewerk word. Dit is waarom God se gawe van genade in die Calvinistiese teologie dikwels “onweerstaanbaar” genoem word, juis omdat die uitverkore mens nie hierdie gawe kan weerstaan of teenstaan wanneer God dit deur sy Gees aan ons gee nie. En watter troos is dit nie om te weet dat ons geloof, van begin tot einde, ‘n gawe van die almagtige God is en dus geensins van ons as nietige, sondige mense afhanklik is nie. Dit beteken dat wanneer God ons wil red, Hy dit inderdaad ook doen. As God jou liefhet en jou deel van sy familie wil maak, dan gaan Hy jou noodwendig red en niks sal jou ooit van sy liefde kan skei nie. 

Dit is noemenswaardig hoe prominent hierdie leerstelling, wat deur ons gereformeerde voorouers by Dordrecht in ‘n belydenisskrif saamgevat is, reeds in die 4de eeu in Gregorius se werke figureer. By hom staan dit vas: Die saligheid is ‘n gawe van God wat deur God self in die mens bewerk word sonder dat die mens enige verdienstelike bydrae daartoe lewer.[4] Die werk van die Heilige Gees om die wedergeboorte in die uitverkore mens te verwesenlik, beskryf hy dan ook as “’n verandering van die lewe en ‘n bevryding van die bande van slawerny en ‘n transformasie van die elemente waaruit ons natuur saamgestel is”.[5] Hy gaan dan verder deur te noem dat dit “die Gees is wat die geestelike wedergeboorte bewerk en dat … niemand die koninkryk sal sien tensy hulle deur die Gees vernuwe word nie”.[6] In ‘n kommentaar op Romeine 9:16 sê hy dan ook uitdruklik presies dieselfde as wat ons in die Dordtse Leerreëls leer, naamlik dat “selfs die daad om te kies vír God, ‘n genadegawe ván God is … Omdat die wil om te kies self ook ‘n gawe van God is, skryf Paulus alles aan God toe”.[7] Gregorius maak dit dus duidelik dat, soos Filippense 2:13 ook leer, dit God die Heilige Gees is wat in ons die wil of begeerte om vir Hom te kies, bewerk, sonder dat Hy eers ons toestemming daarvoor nodig het. 

God alleen laat ons vír Hom kies

Gregorius se siening van die soewereiniteit van God in die bewerking van die mens se saligheid, is dus volkome in lyn met wat die Skrif en ons gereformeerde belydenisskrifte leer. Hy lê op verskeie plekke baie klem daarop dat wanneer die mens kies om te glo, dan doen ons dit alleen omdat die Heilge Gees ons wil so verander het dat ons nie meer téén Hom kies soos ons van nature geneig is nie, maar vír Hom. Alhoewel ons as mense uit onsself noodwendig altyd teen God sal kies, aangesien ons natuur deur die sondeval verdorwe is, beklemtoon Gregorius tegelykertyd dat die mens nie bloot passief in die ontvangs van geloof is nie, want die geloof is immers iets wat ons ons eie moet maak. Ons doen dit inderdaad gewilliglik, maar net omdat ons genade daartoe ontvang.[8]

Hiervolgens is God se genade dus nie “weerstaanbaar” oftewel afhanklik van die aanneming van die mens, soos die Arminiaanse dwaling wat by die Sinode van Dordrecht (1618-1619) verwerp is, leer nie, maar onweerstaanbaar in die sin dat God diegene wat Hy uitverkies, ook roep, en dié wat Hy roep, tot geloof bring en hulle in die geloof bewaar sodat hulle volhard tot die einde toe (vgl. Rom. 8:28-30, 38-39).

 Ons saligheid is dus suiwer genade en sonder enige verdienste van ons kant. In lyn met die Skrif leer Gregorius van Nazianze dat, alhoewel die mens deur die sondeval van nature geneig is om altyd teen God te kies, daar redding van die verderf moontlik is by wyse van God se onweerstaanbare genade alleen.[9]

[1] J.A. McGuckin, Gregory of Nazianzus: An Intellectual Biography (Crestwood, NY: St Vladimir’s Seminary Press, 2001), 24.

[2] McGuckin, Gregory of Nazianzus, 25.

[3] Sinodale Publikasie, Erediensboek vir die Afrikaanse Protestantse Kerk (Hatfield: Lig in Duisternis Uitgewers, 2006), 195.

[4]  S.J. Lawson, Pillars of Grace, AD 100-1564: A Long Line of Godly Men (Orlando, FL: Reformation Trust, 2011), 160.

[5]  N.V. Harrison, Festal Orations (Crestwoord, NY: St Vladimir’s Seminary Press, 2008), 100-101.

[6]  Harrison, Festal Orations, 156.

[7]  P. Schaff, “Oration 37.13,”  in Nicene and Post-Nicene Fathers, Second Series, vol. VII (New York: Cosimo Classics, 2007), 341-342.

[8]  Schaff, “Oration 33.9,” 331.

[9] Harrison, Festal Orations, 171.

Die volharding van die heiliges volgens Cyprianus (deur prof. GDS Smit)

Inleiding

Cyprianus (200-258) was een van die kerkvaders en was afkomstig uit Karthago, Noord-Afrika (hedendaagse Tunisië). Naas Chrysostomos (347-407) en Augustinus (354-430), was hy een van die grootste invloede op die Kerkhervormers, onder andere Johannes Calvyn en Martin Bucer.[1]

Agtergrond

‘n Mens kan eintlik nie aan die teologie van Cyprianus reg laat geskied alvorens jy nie kennis geneem het van die teologie van Tertullianus (150-222) nie. Cyprianus was ’n opvolger van Tertullianus en het groot beïnvloeding uit Tertullianus se prediking en werke gehad. Daar word vertel dat daar nie ’n dag verbygegaan het waarop Cyprianus nie iets uit die Bybel gelees en dit dan vergelyk het met wat Tertullianus daaroor gesê het nie. Vandaar toon sy teologie baie ooreenkomste met dié van Tertullianus. Hoewel Cyprianus bekend is as dié kerkvader wat die kinderdoop geleer het, het hy ’n reusebydrae gelewer tot die kerk se verstaan van die onderskeid tussen die sigbare en onsigbare kerk, asook die leer oor die uitverkiesing van God. Dit is dus te verstane dat Cyprianus so ‘n groot invloed op die Kerkhervormers se teologie gehad het. 

Cyprianus was nie die intellektuele reus wat Tertullianus was nie, maar sy goedhartigheid, opregtheid en erns waarmee hy die kerk bedien het, het hom gou baie geliefd onder gelowiges gemaak. Hy was maar minder as ’n jaar lank leraar in die kerk in Karthago toe die groot vervolging van Christene onder keiser Decius in 250 uitgebreek het. Dit was nie die eerste vervolging van die kerk nie, maar Decius se vervolging het vir die eerste keer oor die héle Romeinse Ryk gestrek. Derhalwe het dit ook na Noord-Afrika oorgespoel, wat andersins tot dusver dikwels die vervolgings vrygespring het. Dié keer was daar vir Christene min wegkruipplek. 

Wat gemaak met dié wat afvallig raak?

Die grootste uitdaging vir die kerk in dié tyd was die bevel van die keiser waarvolgens alle Romeinse burgers verplig was om offers aan die Romeinse afgode te bring. Cyprianus kon daarin slaag om ’n plek van veiligheid te vind en het talle briewe aan gelowiges geskryf om hulle te bemoedig. Hy het hulle ook aangespoor om in die geloof te volhard en nie toe te gee aan die versoeking om Christus te verloën ter wille van tydelike vrede nie. Dit was egter glad nie maklik vir almal om enduit te volhard nie. Christene is uit die samelewing verban, met stokke geslaan, lewendig verbrand en in hulle honderde onthoof. Sommige kon die druk nie meer hanteer nie en het uiteindelik in die heidense tempels gaan offer. Toe die ergste vervolging sowat ’n jaar later bedaar, was hierdie kwessie ’n ernstige vraagstuk in die kerk: Wat moet met Christene wat afvallig geraak het, gedoen word? 

In 251 keer Cyprianus terug na Karthago. Sy advies was dat Christene wat tydens die vervolging aan die afgode geoffer het en deel van die kerk wil bly: hul skuld moet bely; die Here om vergifnis moet vra vir hul sonde; belydenis moet doen van hul geloof. Dan eers kan hulle weer in die kerk opgeneem word. Hy meen dat dit nie sommer net lippediens mag wees nie. Sulke persone moet ernstig deur die ampsdraers ondersoek word alvorens hulle in die kerk opgeneem mag word – ter wille van die heiligheid van die kerk. 

Almal in die kerk was egter nie daarvoor te vinde dat afvalliges so maklik toegelaat moes word nie. Sommige het aangedring dat mense wat hulself buite die kerk geplaas het, nie gered kan word nie en die ewige verdoemenis verdien. ’n Sinode van die kerke in Noord-Afrika het vervolgens in 254 in Karthago plaasgevind en nieteenstaande teenkanting van sommige, is Cyprianus se standpunt oor die lot van afvalliges deur die kerk aanvaar. Die hoofsaak van dié Sinode se besluite was: 

God red sy uitverkorenes ten spyte van hul sonde, alléén op grond van die soenverdienste van Christus en nié die werke nie.

Volharding van die heiliges en die rol van die kerk

Cyprianus was deeglik bewus dat die versoekings van die wêreld sommige gelowiges tydelik van die kerk afvallig kan maak. Sy leer oor die volharding van die heiliges het behels dat ware gelowiges in Christus, hoewel dit moontlik is dat hulle soms vir ’n tyd lank afvallig van die geloof kan word, altyd uiteindelik sal terugkom. Christus leer dat niemand die ware kind van God uit die Vader se hande kan ruk nie (vgl. Joh. 10:28) en daarom kan ’n ware gelowige nie die geloof verloor nie. Dit is egter nie deur hul eie toedoen of keuse nie, maar alléén deur die genade van God dat hulle dit kan regkry. Dié wat deel van die kerk was en afvallig van die geloof word en nooit weer terugkeer nie, meen Cyprianus, was nooit ware gelowiges nie. Die Kerkhervormer Johannes Calvyn het dit later verduidelik as mense wat ‘n “tydsgeloof” gehad het, na aanleiding van die gelykenis van die Here Jesus oor die saaier (vgl. Lk. 8:13). 

Verder sê hy dat volharding in die geloof vir die ware kind van God moontlik is indien hy aktief in die kerk van Christus betrokke is. Die kerk is die plek by úitstek waar gelowiges mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie werke en waar mense geleer word hoe om in die geloof te volhard. Cyprianus het die kerk met Noag se ark vergelyk. In een van sy briewe[2] sê hy dat niemand buite Noag se ark oorleef het nie, en as iemand binne die ark sou besluit om die ark te verlaat, hulle onder die oordeel van God sou kom. Hy wys hoe sommige mense Matthéüs 18:20 (Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde) verdraai om te meen dat hulle God liefhet, maar nie die kerk nodig het nie en dat hulle God net so goed by hul huise kan dien as in die kerk. In hierdie verband sê hy dat iemand wat hierdie vers buite die konteks van die vorige verse lees, verdraaiers van die Evangelie is, want in die vorige verse word duidelik geleer dat die kerk die sleutels van die hemelryk dra –  wat die hemel kan oopsluit óf toesluit. Hy stel dit dat sulke valse leraars slegter daaraan toe is as dié wat aan die afgode geoffer het, aangesien hulle nie berou oor hul sonde van afvalligheid het nie. Dit was in hierdie konteks dat die bekende uitdrukking van Cyprianus ontstaan het: 

“Jy kan nie God as Vader hê, as jy nie die kerk as moeder wil hê nie.” 

Cyprianus het dus ’n hoë waardering vir die kerk gehad en dwarsdeur sy briewe die gelowiges aangemoedig om, ten spyte van hul verlede, hulle by die kerk te voeg om gehelp te word om deur die prediking van die Evangelie in die geloof te volhard. 

Samevatting

Ons kan ons die Kerkhervorming (Reformasie) nie indink sonder die teologiese bydrae van die kerkvader Cyprianus nie. Hy het die kerk as die moeder van elke ware gelowige beskou: sy wat die heiliges wil beskerm; hulle wil leer; hulle wil aanmoedig om te volhard in die geloof tot aan die einde van hul lewens. Natuurlik is dit nie die kerk wat mense red nie, maar iemand wat gered is, sal nie sonder die kerk wil wees nie. As ‘n mens Cyprianus se bydrae oor die volharding van die heiliges wou opsom, sou jy kon beaam wat Jim George gesê het: 

“Dit is nie hoe jy begin wat belangrik is nie, maar hoe jy eindig.”

[1] In die eerste twee uitgawes van Calvyn se Institusie (1536 en 1539), vind ons net 4 aanhalings van Cyprianus. In 1543 erken Calvyn dat die min verwysings wat hy in die eerste uitgawes gebruik het, te wyte was aan ’n gebrek aan beskikbare bronne; vgl. Anthony N.S. Lane, John Calvin. Student of the Church Fathers (Edinburgh: T&T Clark, 1999), 116. In die laaste uitgawe van sy Institusie (1559), haal Calvyn 28 keer uit Cyprianus se werke aan. Martin Bucer haal die meeste aan uit die kerkvader Cyprianus (vgl. bv. Bucer se werk: Florilegium).

[2] Cyprianus, Epistoles 75, 1-2.

Wat beteken dit om gereformeerd te wees? (deur dr. Brian A de Vries)

Wat beteken dit om te sê dat ‘n denominasie of plaaslike kerk gereformeerd is? Dit is nodig om oor hierdie vraag na te dink omdat die woord “gereformeerd” op ten minste vyf verskillende maniere gebruik kan word. 

Die betekenis van die woord

Eerstens sê ons dat ons konfessioneel gereformeerd is. Die susterkerke onderskryf die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls. Naby verwant aan hierdie Drie Formuliere van Eenheid is die Westminster Standards [Westminster Confession of Faith, Westminster Larger Catechism, Westminster Shorter Catechism] uit die Engelse tradisie, asook ander soortgelyke belydenisse. 

Tweedens kan ons ook histories gereformeerd wees. Die susterkerke en ander soortgelyke kerke in Suid-Afrika spoor hul geskiedenis terug na die Protestantse Reformasie en die Nederlandse Nadere Reformasie, met ortodokse leiers soos Johannes Calvyn, Gisbertus Voetius en Wilhelmus à Brakel. Baie kerke, alhoewel hulle steeds die gereformeerde belydenisskrifte onderskryf, is nie langer histories gereformeerd nie, omdat hulle van die ortodokse leerstellinge en praktyke uit die verlede afgewyk het. 

Derdens kan ons leerstellig gereformeerd wees. Die woord “gereformeerd” verwys ook na ‘n stelsel van leerstellinge omskryf deur die bekende vyf Solas: Ons word gered deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, soos geopenbaar deur die Skrif alleen, tot eer van God alleen. Baie kerke in Suid-Afrika verkondig vandag hierdie teologie, insluitend die gereformeerde Anglikane, gereformeerde Presbiteriane, baie gereformeerde Baptiste van verskillende genootskappe en selfs verskeie ander charismaties-georiënteerde groepe. 

Vierdens kan ons ook organisatories gereformeerd wees wat betref ons kerkregeringstelsel. Hier is die kriteria meer prakties: ‘n spesifieke ekklesiologie (kerkbegrip) met die tersaaklike toepassings. Ongelukkig word hierdie gebied dikwels deur sekondêre besprekings oorheers omdat dit afgelei word van leerstellige, historiese en konfessionele gereformeerd wees.

Vyfdens kan ons kultureel gereformeerd wees. In Suid-Afrika staan gereformeerd wees in noue verband met die Afrikanerkultuur en -tradisies van die 20ste eeu en die drie susterkerke. Ongelukkig is baie Afrikaners net Christene in naam – kultureel gereformeerd, maar in die praktyk verwerp hulle gereformeerde teologie omdat hulle dit nie uitleef nie. In teenstelling met die genoemde tendens is sommige nie-Afrikaanse kerke, hoewel hulle nie kultureel gereformeerd nie, beslis gereformeerd op al die ander vlakke. 

Kom ons evalueer ons eie gereformeerd wees

Dit is bekend dat baie van die susterkerke in Suid-Afrika nie langer histories óf leerstellig gereformeerd is nie. Tog is daar ander kerke wat minstens op sommige vlakke wel gereformeerd is. Baie Baptiste is glad nie gereformeerd in enige sin van die woord nie. Tog ís daar Baptiste in Suider-Afrika wat histories gereformeerd is en Charles Spurgeon en ander groot evangeliese predikers navolg. Hierdie Baptiste is meestal ook leerstellig gereformeerd en verdedig getrou die meeste van die waarhede in die gereformeerde belydenisskrifte. 

Dit is ook bemoedigend om kennis te neem van sommige gereformeerde Suid-Afrikaanse Anglikane en veral die groeiende aantal gereformeerde Presbiteriane wat ongetwyfeld histories én teologies gereformeerd is en ook volgens die Skotse tradisie, ‘n gereformeerde kerkorde gebruik. 

In watter sin van die woord is jou kerk gereformeerd? Ons moet hierdie vraag dalk meer persoonlik maak aangesien die woord “gereformeerd” op verskillende maniere gebruik kan word. Daarom, op watter vlak(ke) is jy gereformeerd? ‘n Kerk kán organisatories en kultureel gereformeerd wees en die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf, maar selfs dán die kern van Bybelse kerkwees mis. 

Is jou kerk gereformeerd in leer en lewe – volgens die Skrif?

Is jou kerk een met ander Bybelgetroue kerke – histories en wêreldwyd?

Is jou Christelike getuienis meer as net ‘n kulturele uitdrukking van jou godsdienstige of etniese erfenis?

Om Bybelse waarhede te verkondig en die Afrikanerkultuur te bevorder, is nie dieselfde ding nie, hoewel laasgenoemde met tye goed en nuttig is. Kan dit wees dat baie kerke net ‘n spesifieke kulturele erfenis “preek” en hul roeping om die Bybelse waarheid binne ‘n goddelose samelewing te verdedig, agterweë laat?

 ‘n Weg vorentoe

Baie sogenaamde gereformeerde kerke staar op hierdie gebied tans ernstige gevare in die gesig wanneer hulle eerstens, toelaat dat ander godsdienstige ideologieë (soos liberale teologie en wêreldsheid) ons getroue belydenis van Bybelse teologie mislei en tweedens, toelaat dat ‘n weergawe van gereformeerde kultuur op ‘n subtiele wyse ons uitleef van gereformeerde teologie oorskadu. Ons moet teen alle kompromieë waak (vgl. 1 Tim. 4:16). 

Ons kerke moet gereformeerd bly. Daar is baie kommerwekkende tekens in Suid-Afrika, maar dit is nie te laat nie. God het sy kerk al dikwels laat herleef; die kerkgeskiedenis gee baie voorbeelde van werklike geestelike herlewings. Ons moet afwykings van die gereformeerde teologie verwerp. Liberale teologieë wat aan Suid-Afrikaanse universiteite geleer word, is ‘n vals godsdiens wat deur kerkleiers openlik bestry moet word. J Gresham Machen, ‘n gereformeerd-Presbiteriaanse predikant, het hierdie punt honderd jaar gelede in sy klassieke werk, Christianity and Liberalism, duidelik gemaak. Dit is nie genoeg om net die gereformeerde belydenisskrifte te erken nie, aangesien baie kerke met ‘n goeie belydenis ver van die getroue leer van die Skrif afgedwaal het. 

Ons moet ophou om gereformeerde kultuur bo gereformeerde waarheid lief te hê. Om kultureel gereformeerd te wees, is nie genoeg nie. Op die oordeelsdag sal daar mense wees wat in gereformeerde kerke grootgeword het met die oortuiging dat hul doop ‘n kaartjie hemel toe was. Maar die Here Jesus sal vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie (Mt. 7:23). 

Ons moet terugkeer na ons historiese wortels. Ons het ‘n herontdekking van die ou skrywers nodig: Nie net teoloë soos Andrew Murray of Dirk Postma nie, maar veral hervormers soos Calvyn; geestelike leiers soos Voetius en À Brakel; Puriteine soos John Owen en Matthew Henry. 

Dit sal ‘n groot jammerte wees as die gereformeerde stem in Suid-Afrika stil gemaak word. Ons moet weer rondom die historiese leerstellinge van soewereine genade verenig en saam ons toewyding aan gereformeerde waarheid bely. Gegewe die toenemende teenstand van ‘n goddelose samelewing, is dit selfs meer dringend dat ons in ons openbare getuienis van Bybelse waarheid, verenig.