Verlede week het die Instituut vir Geregtigheid en Versoening die resultate bekend gemaak van ’n studie wat hulle onder Suid-Afrikaners gedoen het om hul mening oor inentings te toets. Een van die vrae wat aan respondente gevra is, was of hulle dink dat gebed meer effektief as die entstof is of andersom. Die basiese voorveronderstelling waarmee die studie gewerk het, was dat jy óf iemand is wat in gebed glo, óf iemand wat jou vertroue in die wetenskap stel. 

Dit het deelnemers natuurlik in ’n onmoontlike situasie geplaas aangesien die vraag só gevra is dat dit godsdiens teenoor wetenskap opgestel het. Deelnemers moes dus kies tussen Sola Fide (geloof alleen) en Sola Scientia (wetenskap alleen). Gevolglik het 47% van die respondente aangedui dat hulle van mening is dat gebed meer effektief teen COVID-19 is as om ’n inenting te ontvang. Die resultate wek die indruk dat Christene oor die algemeen nie bybly met moderne tegnologie en wetenskaplike deurbrake nie. Dit wek die indruk dat Christene eintlik nie tred hou met die werklikheid nie, maar soos kinders wat in sprokies glo, hul geloof in die fabelagtige, bo-natuurlike vestig. 

Sulke denke is natuurlik die gevolg van ’n dualistiese benadering waarvolgens ons denke oor die hemelse en ons denke oor die aardse, wêrelde van mekaar geskei is. Só ’n benadering hanteer geloof en wetenskap asof dit niks met mekaar te doen het en gevolglik ook niks vir mekaar te sê het nie. Hierdie navorsingsverslag – sy basiese voorveronderstellings, maar ook die antwoorde van respondente – toon duidelik hoe deurdrenk ons samelewing van hierdie soort dualisme is. 

Volwasse geloof bring egter juis die hemel en die aarde bymekaar. Die Christelike geloof was nog nooit net tot die geestelike beperk nie. Dit bely nog altyd geloof in die God van die hemel én die aarde. Ons leef nie in ’n soort dualisme waarin die geestelike lewe teenoor die fisiese lewe opgestel word sodat ons noodgedwonge ’n keuse tussen die twee hoef te maak nie. Christene leef vanuit die wete dat die geestelike lewe nie los van die fisiese lewe staan nie, maar dit juis beïnvloed en bepaal. 

Geloof en wetenskap gaan dus saam. Dit verdiep, verryk en verruim mekaar soos wat prof. Alwyn Swanepoel in sy artikel Minderheidsverslag (5): Die onderdrukkende aard van staatisme aandui. Hy stel dat geloof juis die wetenskap kan verryk deur “te wys op moontlike eensydighede of dat dit te haastig is. Die geloof kan ook opmerk dat dinge in die openbare diskoers nie pluis is nie en dat die eintlike geloof vir baie in die wetenskap alleen lê (Sola Scientia).” Aan die ander kant verdiep, verryk en verruim die wetenskap weer die geloof deur dit uit te daag om konkreet te raak en nie in ’n moderne soort gnostisisme te verval waarin die geestelike verabsoluteer word nie. Ons is geneig om alles te vergeestelik terwyl die materiële en die geestelike bymekaar hoort en mekaar veronderstel. 

Om hierdie rede werk Christene met ’n ander voorveronderstelling. Ons voorveronderstelling is dat God alles geskep het – die aarde en die volheid daarvan, behoort aan Hom (vgl. Ps. 24:1). Nadat Hy die mens geskep het, gee Hy in Génesis 1:28 opdrag dat die mens vrugbaar moet wees, moet vermeerder, die aarde moet vul en, belangrik, die aarde moet onderwerp en daaroor heers. Ons noem dit die kultuuropdrag. Dit word in Génesis 2:15 herhaal wanneer God opdrag gee dat die tuin deur die mens “bewerk en bewaak” moet word. 

Met hierdie opdrag het God die mens se geestelike lewe aan sy fisiese bestaan verbind. Hy sou sy Koning eer deur verantwoordelikheid vir die Koning se goed te neem. Die kultuuropdrag impliseer natuurlik dat God die aarde met al sy grondstowwe tot die mens se beskikking gestel het. Sy opdrag impliseer dat die mens dit sal gebruik en ontwikkel. Iets soos die ontwikkeling van entstowwe, sou dus gereken kon word as ’n positiewe uitvloeisel van hierdie kultuuropdrag. 

As gelowiges hoef ons ons dus nie deur verkeerde voorveronderstellings gyselaar te laat hou nie. Vir ons is dit nie óf gebed, óf die wetenskap nie, maar beide. Ons glo immers dat God ook middellik werk. Dit beteken dat Hy van sekere middele gebruik maak om sy raadsplanne tot uitvoer te bring en sy skepping te versorg. So gebruik Hy byvoorbeeld, as deel van sy algemene genade, dokters om mense te genees en wetenskaplikes om deur middel van teenmiddels, die gevolge van die sondeval teen te werk.

Hiermee kan ons dit eens wees met prof. Gerrit Smit wat skryf: “Ons leef in die troos dat God sy algemene genade aan die mensdom gee sodat ons oor die skepping kan heers, en ook mettertyd oor die virus kan heers, en daarom is ek dankbaar dat selfs ongelowiges in God se Raad gebruik kan word om God se kinders en sy kerk te dien – ook met die ontwikkeling van entstowwe.” 

Met hierdie voorveronderstelling bid ons dus vir God se beskerming, maar kan ons ons ook met vrymoedigheid laat inent indien ons risikoprofiel dit vereis. Met hierdie voorveronderstelling eer ons die Koning oor wie se goed ons heers. Dit stel ons in staat om die wetenskap as gawe van ons goeie God te waardeer, maar om ook met verantwoordelikheid daarmee om te gaan sonder om daarvan ’n sola te maak. Om ingeënt te word, trek immers net so min ’n streep deur die effektiwiteit van my gebede as wat die keuse om nie ingeënt te word nie, die indruk van groter geestelikheid wek.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial