Meerderhede vind maklik verdoemende woorde om die bedreiging van andersdenkende minderhede te beskrywe. Vra maar vir die Jode. Selfs Sokrates moes die gifbeker drink omdat sy denke en waarheidsoeke te gevaarlik vir die meerderheid van die stad geraak het. Dit is nie moeilik om te sien hoe sogenaamde fundamentaliste in die huidige konteks ook as gevaar beskou kan word vir die openbare belang en veiligheid nie. Dit is mos nou ook al die hoeveelste keer wat die “chip” en die “merk van die dier” op alles van toepassing gemaak word. En werklikwaar, hoeveel keer gaan ons nou nog wolf-wolf hoor?
Die bedoeling hier is allermins om op simplistiese wyse die “merk van die dier” aanhangig te maak en f-tiperings te kry. Die bedoeling is eerder om die simplistiese wyse waarop dit afgekraak word, ook af te wys. Wanneer ons dieper delwe en besef dat die beeld van die merk van die dier in Openbaring 13 voortbou op patrone en konsepte wat in die hele Bybel gevind word, moet ons tog versigtiger wees. Sonder om sy naam aan hierdie verklaring te koppel, gee een van die publikasies oor Openbaring van die bekende teoloog, Richard Bauckham, in die titel ’n goeie wenk: “The Climax of Prophecy: Studies on the Book of Revelation”. Ons behoort die boek Openbaring nie as ’n boek op sigself te lees nie, maar eerder as deel en klimaks van die hele Skrif. Die merk van die dier druk in Openbaring iets uit van hierdie klimaks wat net tot volheid bring wat al dikwels voorgekom het. Die patrone van minderhede wat deur meerderhede deur die geskiedenis onderdruk was, soos by Jeremia (onder sy eie volk) en Daniel (onder ’n eenwêreld-regering), dui heenwysend reeds op dit wat uiteindelik in sy volle bose gestalte manifesteer. Dit gaan dikwels oor die staat wat ’n eie godsdiens met simbole skep aan die hand waarvan die ingewydes uitgeken word.[i] Die denkbeeld van die dier appelleer dus op ’n hele profetiese tradisie waar die meerderheid die minderheid afgelag het, vervolg het, en selfs gedink het dat dit ter wille van openbare belang was.
In die lig van die reeds bespreekte punt van biopolitiek, is dit daarom nie van alle waarheid ontbloot om te wys op die dreigende klanke van die ondier nie. Sonder om apokalipties oor die huidige gebeure te raak, behoort ons wel raak te sien dat hier patrone aan die werk is wat maklik kan oorgaan na nuwe moontlikhede vir die staat as die Messias. Waarom is dit belangrik om hierdie denkwyses en herkenning van grondpatrone lewend te hou? Die antwoord is dat indien ons dit nie doen nie, help ons mens om nie ’n sensitiwiteit vir die Woord of minderhede te behou nie. Ons help ook om ’n klimaat te skep waar mense sekere gedeeltes in die Woord soos die beeld van die merk van die dier, of aflag of verkeerd toepas. Dan word dit later beskou as maar net nog een van die sê-dinge (trope) van Christene wat nog nie aangekom het in die moderne land nie. Bedoeld en onbedoeld haal dit so die krag uit die Woord. Dit behoort egter vir Christene belangrik te wees om hul eerder in die ritmes en kadense en grondpatrone van die Woordopenbaring in te leef sodat daar ’n sensitiwiteit sal wees vir dit wat die kerk wêreldgelykvormigheid noem.
Gegewe die vorige punt oor biopolitiek en ondier-klanke wat baie gelowiges in hulle eenvoud waarneem, moet ons op hierdie ongemaklike patrone wys en soos met die bespreking oor biopolitiek, aantoon dat die waarnemings nie ongegrond is nie. Ons sou egter terselfdertyd ook leiding moet gee en op ’n belangrike gereformeerde beginsel in Skrifverklaring oor die laaste dae (dit is vandat Christus opgevaar het totdat Hy weer kom) moet wys. Dit is dat die horlosie se lang wyser dikwels dieselfde patrone in die geskiedenis aantoon soos wat die wyser om en om gaan, maar dat dit nie beteken dat die kort wyser al op 12 is nie. Te veel alarmiste gee konstant voor dat die kort wyser nou al op 12 is. Maar te veel ander gee voor dat die lang wyser wat tendens en patrone aandui, niks beteken nie en dat Openbaring net (miskien) eendag in die voleinding sy toepassings vind.
Dit bly daarom belangrik dat getroue Christene ook in hierdie tyd daarop sal wys dat daar iets drasties fout is in die openbare diskoers oor die krisis van die pandemie/endemie. Dit is dat die aanroep van die lewende God nie werklik voorop staan nie. Kerke word nie voor almal die geleentheid gegee om op gedissiplineerde en veilige wyse met eredienste voor te gaan en God te eer en aan te roep nie (vgl. 2 Kron. 7:13-14).[ii] Dit hang saam met die siening dat die kerk bloot ’n godsdienstige klub is en dat geloof eintlik privaat is. Hierdie armsalige en geprivatiseerde siening van die Christelike godsdiens speel dan ook lieflik in die hand van die staat. Die hemelvaart van die staat word subtiel en minder subtiel aan die orde gestel en daarom mag die staat nou neerkyk op die verskillende godsdienste en Christene hanteer as net nog ’n manifestasie van spiritualiteit. Volgens hierdie siening uit die hoogte kan ook Christene wel met hul rituele besig wees wanneer daar nie te veel risiko’s is nie. Volgens die openbare diskoers het ons egter nou ’n krisis, en dit moet eers hanteer word. Daarna kan Christene weer aangaan met hulle geestelike oefeningtjies wat op subjektiewe vlak tog so belangrik is net vir sekere mense.
Die openbare diskoers is by verre nie by die punt waar God voor alles aangeroep word nie. Die orderreëlings daaroor skrei ten hemele. Natuurlik wys die meeste Christene daarop dat God ook nie sonder medisyne werk nie, maar dit is duidelik dat die openbare diskoers iets anders suggereer. Dit is dat die God-konsep eintlik bloot bykomstig is, blote simbole-taal is, en gebruik word in diens van ander agendas. Die ou debat tussen geloof en wetenskap tree hiermee natuurlik ook weer op die voorgrond. Christene behoort hierin te getuig dat ons die geloof sowel as die rede voluit handhaaf, omdat beide in God gesetel is. Juis daarom dat hierdie argument ook gevoer kan word. Maar die geloof behoort in ons tyd ook onomwonde van meer te getuig. Die geloof in die lewende God kan die rede juis verryk. Die geloof kan die wetenskap verryk deur te wys op moontlike eensydighede of dat dit te haastig is. Die geloof kan ook opmerk dat dinge in die openbare diskoers nie pluis is nie en dat die eintlike geloof vir baie in die wetenskap alleen lê (sola scientia).
Die geloof kan help om daarop te wys dat kudde-immuniteit te eng gedefinieer word. Die geloof kan help om aan te toon, om by die inleidingsartikel aan te sluit, watter alternatiewe spreekwyses kan help om anderkant versmalde denke oor kudde-immuniteit te dink en te praat. Die geloof kan help om God te sien wat nog altyd deur die swaard, die hongersnood en die pes met die wêreld gepraat het en ook ons tot orde en bekering roep. Die geloof kan help om veral versigtig te wees oor langtermyn gevolge vir ons kinders en ons jongmense. Die geloof kan waarsku dat ons nie moet dink dat ons sonder God die plaag onder beheer sal bring nie. Die geloof het nog altyd ’n ruimer visie van die wetenskap tot gevolg gehad. Dink maar weer aan Josef en Daniel in die howe van die hoogste geleerdes van hul tyd. Bo alles kan geloof ons help om te besef dat ons tye ten diepste in die Here se hand is en dat ons nie vrees ons grootste motivering hoef te maak nie, ook as die dood opsigtelik dreig. ’n Twitter-gesegde van ’n leraar ’n paar jaar gelede help my vandag nog hiermee, en ek is seker ook vir baie ander sterflinge: “Wil jy genees word van daardie algemene siekte wat die vrees vir die dood genoem word? Kyk na Christus en jy sal meer vind as waarna jy soek.”
[i] Vir die werklikheid hiervan in ons dag, vgl. die volgende publikasies: Christopher Ferrara se Liberty: The God that Failed: Policing the Sacred and Constructing the Myths of the Secular State, from Locke to Obama; Benjamin Wiker se Worshipping the State: How Liberalism became our State Religion.
[ii] Vers 14 word dikwels aangehaal, maar dit is belangrik dat ons ook in hierdie tye die verband met vers 13 en die pes sal raaksien.
76 Besoeke vanaf 30 Maart 2022, 2 Besoeke vandag