Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor (4)

Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor (4)

Wanneer ons vandag as kinders van die lewende God die unieke uitdagings van ons tyd tegemoet tree, is ’n bepaalde onderskeid belangrik: Daar is vandag twee groot maniere waarop mense hulle geloofsvrae beantwoord en teologie beoefen. Ons doen dit óf in kontinuïteit óf in diskontinuïteit met die kerk van die eeue. Eintlik is dit die twee bepalende kategorieë waarin teologiese opleidingsentrums vandag in ons land ingedeel kan word. Dit is jammer om te sê dat te veel hoofstroom teologiese opleidingsentrums die pad van diskontinuïteit gekies het. Dit word op ‘n Gnostiese wyse maklik verbloem met woorde soos “oorstyging van die verlede” (transcending the past), maar in wese kom dit neer op diskontinuïteit.

Diskontinuïteit met die tradisie

Daar is nou al ’n paar dekades lank sogenaamde teoloë in ons land wat skynbaar op die skouers van die kerkgeskiedenis wil aftrap om heeltemal nuwe dinge te sê wat nog nooit gesê of gedoen is nie. Dit hang saam met die genoemde hermeneutiek van suspisie wat sedert die twintigste eeu sterk vaardig is. Alles moet bevraagteken word, behalwe natuurlik die ondervraer self, of so lyk dit dikwels in die praktyk. In die onlangse verlede is dit uitnemend geïllustreer deur die beweging van die sogenaamde kanselleer-kultuur. Dit lyk beslis of sekere kerkleiers vandag hulle eie weergawe van kanselleer-kultuur het. Dit hang ook saam met ’n bepaalde verstaan van wat reformasie nou eintlik beteken.

Hierdie visie op reformasie hang saam met ’n misleidende lyn in die kerkgeskiedenis. Dit is dat die sogenaamde “nuwe” wat Christus bring, so totaal nuut is dat dit in die verlede onvoorstelbaar was. Om die kerklike beslissings en uitsprake van die verlede eintlik in wese te kanselleer en met iets heeltemal nuut te vervang, verteenwoordig klaarblyklik vandag hierdie “onvoorstelbare” werking van die Gees. Dit is baie duidelik dat so ’n benadering ’n opvatting van diskontinuïteit met die verlede vertoon. ’n Belangrike voorbeeld wat in hierdie gesprek oor verwysings na God as vroulik hanteer moet word, is die invloed van die Feminisme.

Die geskiedenis van die moderne Feminisme-beweging word in vier golwe ingedeel en derhalwe sal daar hieroor genuanseerd gepraat moet word. Hoewel daar simpatie kan wees met die aanvanklike golwe se geregverdigde protes teen die uitbuit van vroue, vertoon die latere golwe duidelik dat hier baie meer op die spel is. Die kultuur-teoloog, Richard John Neuhauss, wys daarom daarop dat ons veral moet onderskei tussen vroulike opstand teen onreg (liberale feminisme) en Feminisme as beheersende idee (gender feminisme).[1] Tog wys hy ook daarop dat eersgenoemde ruimte kan maak vir laasgenoemde. Laasgenoemde is die opsigtelike gevaarlike ideologie en vertoon ook verskillende gestaltes.[2] Ons behoort daarom duidelik te maak presies wat ons bedoel en wat ons nie bedoel nie wanneer ons Feminisme wil afwys.

Hier gaan dit om die beheersende idee en die feit dat die Feminisme ook die grond voorberei het vir die feit dat selfs die begrippe Vader, Seun en Heilige Gees nou as seksisties beskou word. Aangesien God mos Gees is, is daar volgens hierdie opinie nou ruimte dat hierdie ou opvattings “gereformeer” moet word as deel van die werk van die Gees wat totaal nuwe dinge doen. In hierdie gees van diskontinuïteit word daar dan ook graag gebruik gemaak van die gelykstelling (egalitarisme) en die relativering (postmodernisme) van ons tyd. Dit bied uitstekende grond vir die sogenaamde “nuwe dinge” wat die heilige tydsgees, en hier met name die Feminisme, tot stand moet bring. Die ironie is egter dat die modernisme juis gedefinieer kan word as dat dit die gees van die tyd beskou as die gees van God. Uiteindelik is dit een van die hartseer werklikhede dat ons tydvak nie regtig as postmodern getipeer kan word nie, maar eerder net as laaste stuiptrekkings van die modernisme wat selfvernietigend begin word het.

Dit is duidelik dat ’n volbloed feministiese benadering maklik in die teologie vandag ’n baie kritiese funksie teenoor die verlede sal inneem, tot op die vlak van die benaming van Vader, Seun en Heilige Gees. Gesonde kritiek is natuurlik ’n goeie ding, maar deel van gesonde kritiek is om ook op jouself en jou eie tyd krities te wees. Kritiek gebeur altyd aan die hand van een of ander bewuste of onbewuste standaard en bewuste en onbewuste aannames. Dit is egter wat ’n mens so besorg laat, aangesien dit toenemend blyk dat die New Age Beweging (NAB) die toon in standaarde aangee. Prof. Paul de Bruyn wat reeds voorheen genoem is, wys daarop dat die feminisme beskou kan word as een van die belangrikste en invloedrykste fasette van die New Age Beweging: “Dit word selfs die hart van die bewussynsrevolusie in die Westerse wêreld genoem.”

Hiervolgens is ons nou uit die vis-tydperk van die Christendom waar die manlike oorheersend was. In die waterdraer-tydperk tree die vrou nou volgens hierdie siening na vore en moet ons dit as die vroulike tydperk beskou. Teenoor die Christendom wat volgens die NAB ’n manlike godsdiens is wat sentreer rondom God die Vader en God die Seun, verkies die NAB ’n godsdiens waar “God die Moeder” en “God die Dogter” in die sentrum staan en waar alles “vroulik”, “sag” en “liefdevol” moet wees.[3] So word dit duidelik watter vaarwater bewus en onbewus betree word  wanneer daar diskontinuïteit met die Christen-verlede is.

Die klassieke teologie daarenteen, ag die kontinuïteit met die verlede hoog. Eintlik is dit bloot ’n besondere toepassing van die vyfde gebod. Daarom sal die klassieke teologie ook lank bly leef, aangesien hierdie teologie insien dat die nuwe orde lankal reeds ingelei is met die hemelvaart toe Christus aan die regterhand van die Vader gaan sit het om te heers te midde van die vyande. Kontinuïteit met die tradisie beteken daarom gewoon dat erken word dat Christus se heerskappy nie onttroon gaan word nie en dat die Gees reeds lankal kragtig werksaam is. Met dankbaarheid kan voortgebou word op dit waarmee God besig is.

Kontinuïteit met die tradisie

Kontinuïteit beteken nie dat alles van die verlede bloot klakkeloos herhaal word nie. Dit beteken wel dat daar simpatiek-krities en dankbaar op die verlede voortgebou word, met inagneming van die permanente dinge wat ons vaders en moeders moontlik beter as ons ingesien het. Daar is by moderne mense die neiging tot chronologiese snobisme, soos wat CS Lewis dit by geleentheid uitgedruk het. Dit word nog altyd in die klassieke teologie afgewys. In sy voorwoord tot ’n heruitgawe van Athanasius se klassieke werk oor die vleeswording van Christus, stel Lewis dit soos volg:

“Dit [die nuwe teologiese boeke] moet getoets word aan die groot volume Christelike denke deur die eeue heen, en al die verskuilde implikasies daarvan (wat dikwels nie deur die outeur self vermoed word nie) moet aan die lig gebring word … Die enigste veilige weg is om ’n standaard van duidelike, sentrale Christenskap te hê … wat die kontroverse van die oomblik in hul regte perspektief plaas. So ’n standaard kan slegs van ou boeke verkry word. Dit is ‘n goeie reël om, nadat jy ’n nuwe boek gelees het, jouself nooit ’n ander nuwe een toe te laat voordat jy ’n ou boek tussenin gelees het nie.”[4]

Hierdie benadering van kontinuïteit het tot gevolg dat verteenwoordigers van die klassieke teologie daarom eerder deeglik sal nagaan watter sake en verwante sake in die verlede moontlike lig kan werp op die winde van Feminisme en dit is ook in die vorige aflewerings gedoen. Dit is duidelik dat daar in die meeste weergawes van Feminisme duidelik sprake is van ’n definitiewe diskontinuïteit met die tradisie. Dit lei noodwendig daartoe om ook te vra hoe die Feminisme in verband met die tydsgees staan. Daar sal natuurlik ook nagegaan moet word watter onderliggende vakuum en leemtes by die kerk moontlik kon bydra dat dit uitgegroei het tot die gestaltes waarin dit vandag voorkom, en wat die geloofsantwoord hierop is. Hier word gebruik gemaak van die publikasies van twee vroue wat presies dit probeer doen, en dit in kontinuïteit met die tradisie opneem teen die Feminisme vir ’n beter alternatief. Daarna sal ter afsluiting ook gewys word op ’n alternatief op die Feminisme wat voortspruit uit die feit dat ons God as Vader aanbid en die kerk haar Bruidegom ken.

In haar nadenke oor die onderwerp, het ’n opvoeder in die klassieke skool tradisie, Rebekah Merkle, ’n publikasie in 2016 die lig laat sien met die titel: Eve in Exile and the Restoration of Femininity. Hierin wys sy daarop dat daar in die sogenaamde goeie orde van die 1950’s reeds probleme in konserwatiewe huise was. Die insiggewende en inspirerende in die benadering van Merkle is dat sy nie bloot ’n ontvlugting na die 1950’s voorstaan nie. Sy propageer daarom ook nie die oplossing van die sogenaamde status quo ante nie. Dit beteken dat ons bloot die vorige bekende status quo moet opsoek. Sy identifiseer eerder die vroeëre wortels van die Feminisme tot vroeg in die 1800’s van die moderne era en let dan op die uitgroei daarvan.

Merkle is nie geneë met blote konserwatiewe waardes nie. Sy stel dat vroue in die 1950’s reeds verveeld met konserwatiewe waardes was en al toe reeds nie uit die volheid van die Skrifte geleef het nie. Sy toon egter ook aan hoe die Feminisme die probleme net vererger het en wys veral op die aborsie-probleem wat daardeur gestimuleer is. Sy lê ook die gay-agenda en transgender-agenda voor die deur van die Feminisme wat die grond daarvoor voorberei het. Sy sluit haar werk egter positief af deur riglyne daar te stel waarmee vroue vandag vol lewens kan leef. Dit gaan nie oor ontvlugting na die sogenaamde goue verlede nie, maar eerder om deur egte reformasie dinamies te herontdek wat die implikasies is vir konsepte uit die Bybel soos mede-beheersing van die aarde, vrugbaarheid in elke onderneming, helper in nood, en verheerliker van projekte. Merkle maak ’n mens daarvan bewus en opgewonde daaroor dat daar eintlik ook baie ander kwessies is wat met hierdie werkswyse aangepak kan word.   

Joyce Little, reeds in 1995 die skrywer van The Church and the Culture War, se gedagtes sluit op interessante wyse reeds hierby aan. Little wys onder meer op die mag, outoriteit en politiek van taal. Die implikasie is dat heersende strome soos die taalwending en die Feminisme ook in politieke en magsterme beskou moet word. Die bekende George Orwell van Animal Farm en 1984, het al gewys op die krag wat herdefiniëring speel en om vandag te begin praat van ons “Moeder God” het definitiewe gevolge, ook in die uitoefening van mag oor ons Godsbeeld. Little fokus veral op die Feminisme as gestalte van relativisme, subjektivisme en individualisme wat so tiperend van ons dag is.

Sy gaan ook spesifiek in op die heerlike waarheid van God as Vader. Op geheiligde  wyse laat Little ’n mens besef wat gebeur met  nadenke wanneer dit gebonde bly aan die Skrif en gesonde tradisie. Little wys daarop dat die beeld van Vader suggereer dat Hy van buite af tot sy wêreld toetree. Juis daarom is die beeld van Moeder nie sentraal nie, aangesien die moeder gedurende swangerskap biologies verenig is met die kind, terwyl vaders fisies van buite af toetree tot die vader-kind verhouding. Ja, die Bybel kan ook praat van God wat sy kinders voortgebring het, maar dit is duidelik dat die frekwensie hiervan baie minder is as die Vaderbeeld en dat manlike beelde sentraal gestel word in die aanroeping. Little is van mening dat dit belangrik is vir die heiligheid, gesag en onderskeid tussen die Skepper en sy skepsels, terwyl daar ook nie afbreek gedoen word aan die Vader-kind verhouding nie.

Wanneer daar saam met hierdie gedagtes van Little ook die sentrale beeld van bruidegom en bruid in oënskou geneem word, versterk dit ’n bepaalde Godsbeeld. Soos meer as een teoloog in hierdie verband al opgemerk het: Met betrekking tot God is alle gelowiges vroulik in die sin dat hulle deel is van die bruid van Christus. Wat wel uit die Skrif en tradisie duidelik is, is dat God gelowiges se Vader en hulle eggenoot is, eerder as ons moeder of ons eggenote. Hier het ons met definitiewe Godsbeelde tot op die vlak van aanroeping te make wat uit die Skrif verdedig kan word en wat teenoor baie heidengodsdienste staan. Dit staan definitief teenoor godsbeelde wat uit die heidendom of die Gnostisisme na vore tree. Gaan besoek gerus ’n webwerf soos www.truthxchange.com om onder die indruk te kom van watter verskil hierdie Godsbeeld maak. Dit bied die teenvoeter in ’n wêreld wat verheidens en allerhande New Age-geluide maak en daarom dikwels voorspraak maak vir die ou dwaling van die panteïsme waar God en wêreld nie meer van mekaar onderskei kan word nie. In sulke New Age kringe word daarom ook graag voorspraak daarvoor gemaak om God as moeder te begin aanspreek.

Ten slotte

Dit is insiggewend om raak te sien dat daar in ons tyd ’n toename is van mense wat hulle geslagtelikheid as “vloeibaar” beskrywe. In so ’n geestesklimaat sal daar  graag daarmee saamgegaan word om God ook so te beskrywe. Dit bevestig die feit dat dit belangrik is om by die grense van die Skrif te bly. As ons nie staan vir enigiets nie, val ons vir alles en dit is duidelik dat dit eerder die heilige tydsgees is wat sulke stellings oor “vloeibaarheid” begelei. Die konnotasie van vloeibaarheid met die postmodernisme is net te opmerklik en daarom is dit belangrik dat die teologie baie bewus sal wees van die tydsgees waarin die teologie haar, let wel, getuienis lewer.

Die konsekwensies hiervan behoort ons terug te laat staan om diep na te dink oor wat die klassieke belydenis van die Woord van God vandag nog vir ons beteken: dat dit gesagvol, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is. Wanneer ons met nuwe veer in ons tred daaraan gehoor gee, word ons nie aan bande gelê nie, maar eerder saam met die kerk van die eeue in staat gestel om effektief teen die dwaalleringe standpunt in te neem. Ons word deel van die rivier wat definitiewe grense en walle het wat ons kanaliseer om die lewende waters deur droë laagtes te laat vloei.

Ons kan op hierdie weg dieper begin nadink waarom die Vadernaam en die beeld van bruidegom en bruid so belangrik is. Kosbare nadenke deur die eeue heen kan byvoorbeeld hieroor gevind word in menige kommentare op die Apostoliese geloofsbelydenis oor die feit dat ons glo in God die Vader en aan die kerk as moeder. Daar is ook aangrypende kommentare wat die bewoording van die Onse Vader en die kerk as moeder in die Skrif en in die belydenisskrifte ontleed. Hier kan ons vir ’n begin slegs wys op die ontvouende openbaring van God wat die sentrale Vader- en Bruidegombeelde bevestig. Hierdie beelde vermeerder, verinnig en verdiep wanneer ons verneem van die band tussen die Vader en die Seun en die Gees en die kerk as bruid wat daarin opgeneem word. Wanneer ons oor die misterie nadink en besef dat verloste mense bestem is tot asembenewende heerlikheid om God as hul Vader en Christus as hul Bruidegom te ken, sou ons net verwonderd kon staan en nederig daaruit leef. Dit is eintlik ons belangrikste roeping.

Die ongelukkige realiteit van sommige se negatiewe ervaring met slegte vaders en eggenote, moet ons egter nie lei tot die wegdoen daarvan of vervanging deur ’n sentrale moeder of blote ouerbeeld van God nie. Die beeld van Vader en Bruidegom in ons Godsbeeld bly sentraal en onvermydelik. Dit hang ook saam met ’n diepe protes teen die nuwe heidendom. Ja, dit hang ook saam met die visie op ’n tweede reformerende Christendom. Daar is eintlik net een uitweg uit hierdie neiging om na God as vroulik te begin verwys en dit is bekering. Vir sommige is dit so moeilik, juis omdat hulle hele menswees so diep belê is in die gees van die tyd.

Die Vader-honger van ons dag gaan nie weggaan nie. Ons kan dit bloot goed of sleg probeer opvul. Die troos vir die wat slegte ervarings met vaders gehad het, is dat dit niks afbreek doen aan die liefde van hul Hemelvader nie en dat hulle aangemoedig word om eerder hul vader- en bruidegombeeld aan die hand van die Godsbeeld te herstel, eerder as andersom. Hierin kan gesonde kerke wat opgewonde is oor die Bybel as Woord van God, in woord en daad ’n kragtige rol speel. Laat ons daarom nie bloot stry oor die verwysing na God as vroulik nie, maar laat ons leef uit die werklikheid dat die Seun die Naam van die Vader aan ons geopenbaar het (vgl. Joh. 17:1, 26).

[1] Vgl. sy artikel;, “Feminism and Feminism” by https://www.firstthings.com/article/1992/06/feminism-and-feminism

[2] Neuhauss gee erkenning aan die onderskeiding van Marxistiese, radikale en soisale Feminisme, maar wys dan daarop dat die groepe oorvleuel en as beheersende idee in baie opsigte ooreenstem. Kyk sy artikel genaamd ‘The Feminist revelation’ by https://www.firstthings.com/article/1991/12/the-feminist-revelation.

[3] De Bruyn, P.J. 2013. Die Tien Gebooie. Potchefstroom: PTP, bl. 53.

[4] Vgl. sy versamelling geskrifte in God in the Dock.

Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor (4)

Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die Kerkgeskiedenis hoor (3)

 Wanneer ons na die kerkgeskiedenis kyk, is dit belangrik om te besef dat ons altyd-alreeds met ’n bepaalde benadering deur die geskiedenis sif. Almal het, ook wat geskiedenis betref, filters en selfs ’n selektiewe geheue. Die groot vraag is egter wat jou filters is en wat jy onthou en waarom dit belangrik is. Hiermee help die kerk en die groot beslissings wat geval het. Ons sou dit die avontuur van ortodoksie kon noem.

Die Kerkvaders praat anders

In die beslissinge van die kerk moes die kerk dikwels na meer as een kant toe maan. Die klassieke leer oor die twee nature van Christus soos verwoord by die konsilie van Chalcedon, is ’n goeie voorbeeld hiervan: Die twee nature van Christus is onvermeng, onverander, ongedeel en ongeskeie. Dit was in reaksie teenoor verskillende leiers wat na die een of ander kant toe die saak skeefgetrek het. Dit is daarom ook te verstane waarom sommige die dogma al beskryf het as die bewaarder van die misterie. Met ander woorde, dit beteken dat die misterie so groot is dat ons soms net omheinings kan plaas om die grense aan te dui van wat die bepaalde misterie nie is nie. In ander sake het die kerk egter genoeg oortuiging gehad om onbeskaamd te bely. Soms moes die Kerk die mensheid van Christus onbeskaamd bely (soos onder meer in die Apostoliese geloofsbelydenis) en soms die Godheid van Christus (vgl. die geloofsbelydenis van Nicéa). Dit is egter opmerklik dat in beide genoemde belydenisse wat later deur die kerk as algemeen aanvaar is, daar geen skroom was om die eerste persoon van die Drie-eenheid as Vader te bely nie.

Matthew Barret skryf byvoorbeeld die volgende oor Alexander, die biskop van Alexandrië: “In sy preke het Alexander geleer, soos baie voor hom, dat die Bybelse name – Vader, Seun, Gees – nie willekeurige, betekenislose uitvindings is nie; eerder dat hierdie name onthul wie hierdie Drie-eenheid is.”[1] In lyn met die latere besondere belydenisskrifte, is aanvaar dat God Homself openbaar om as Vader aangeroep te word in die Naam van die Seun en in die krag van die Heilige Gees. In hierdie verband is dit nodig om in die besonder na die Gnostisisme te verwys.

Die Gnostisisme as skaduwee

Daar is gewys op die liberale godsdienshistorikus, Elaine Pagels wat in die onlangse verlede ’n naam verwerf het vir die herwaardering van die Gnostiese geskrifte. (Pagels het besondere roem verwerf met haar publikasie van 1979, uitgebrei in 2003, genaamd Gnostic Gospels). Pagels merk tereg op dat die vroulike simboliek oor God baie minder sentraal voorkom in die  Bybel as in die omringende kulture. Sy is ten minste eerlik daaroor en vind daarom eerder in die Gnostiese evangelies duidelike bewyse van vroulike metafore vir God. Sy stel dan dat dit bloot deur magsuitoefening deur die oorwinnaars uit die kanon uitgeskuif is. Hierdie gnostiese evangelies, wat eintlik met heidense spiritualiteit vermeng is, moet daarom volgens Pagels eerder as gewaardeerde alternatief weer hul regmatige plek vind. So gebeur dit selfs dat sy die eerste vier eeue van kerklike beslissings met agterdog bejeën. Dit is duidelik dat Pagels met definitiewe vooroordele werk wat uiteindelik selfs haar eie uitsprake ondermyn. As alle beslissings net magsuitoefening is, wat is dit dan waarmee sy nou besig is? Haar waarde lê wel daarin dat sy ’n lewende bewys is dat ou dwaalleringe nuwe baadjies en bypassende hermeneutiese dasse kan kry.

Die kerk het egter die dwaalleer van die Gnostisisme, wat natuurlik oor baie meer as verwysings na God as vroulik gegaan het, afgewys. Dit verg eintlik omvattende studies soos die van Eric Voegelin (Science, Politics and Gnosticism), Hans Jonas (The Gnostic Religion) of meer populêr, Peter Burfeind (Gnostic America), om aan te toon hoe springlewendig hierdie neigingin die modernisme en postmodernisme voortgesit word. Burfeind noem dit selfs die skaduwee wat die kerk sedert die vroegste tye agtervolg en soos ’n dubbelganger voortdurend na-aap. Iemand soos die behoudende teoloog, Douglas Farrow, identifiseer selfs ’n lyn wat vanaf Origenes met sy gefaalde poging teen die Gnostisime, via figure soos Bultmann en Scheleiermacher, tot in ons dag in die liberale teologie loop. Dit werk ’n soort vergeesteliking van Christenskap in die hand waarin grense ontken word, die gevoelsmatige en subjektiewe belewenis voorrang verkry, en waar aardse werklikhede na die agtergrond skuif. Dit sou daarom net verantwoordelik wees om te vra watter verbande daar is met die neiging by sommige, in teenstelling met die Woord, om nou na God as “haar” te begin te wys. Iemand soos Burfeind is byvoorbeeld van mening dat die beklemtoning van die vroulike kant in ons spiritualiteit een van die handelsmerke van die moderne Gnostisisme is.

Hiermee is ook reeds die vraag beantwoord na wat ons dan maak met bepaalde kerkvaders soos byvoorbeeld Klemens, die leermeester van Origenes, wat volgens sommige reeds gewys het op die verwysing en benaming van God as vroulik. ’n Eerste antwoord sou wees om te vra wat Klemens werklik in konteks gesê het. Het hy bloot die vrou as beeld van God as analoog gebruik om ons iets beter te laat verstaan van wie God is, of wou hy konsekwent iets meer doen? Dit sou daarom ook gevra kon word wat sy eie trajek en frekwensie hieroor was en of dit as ’n deurlopende tema by hom aangemerk kon word. Verder sou dan gevra moes word of dit ’n getroue lyn in die kerkvaders verteenwoordig al dan nie.. Indien wel, sou veral die eerste konsilies (kerkvergaderings) se beslissings tog blyke hiervan gee. Die verwysings na God as Vader in die groot belydenisse, spreek tog boekdele hieroor.

Analogiese spreke oor God[2]

So gepraat van kerkvergaderings: Hoewel van minder waarde as die eerste konsilies, vind daar tog by die Vierde Lateraanse Konsilie (1215)’n belangrike beslissing plaas met betrekking tot ons stamelende spreke oor die lewende God wat ons verstand en ons woorde te bowe gaan: “Daar kan nie ’n ooreenkoms (hoe groot ook al) tussen die Skepper en die geskapene wees sonder dat daar nie ook ’n groterwordende verskil tussen hulle uitgewys kan word nie.”  Hiermee is daar reeds gedurende die hoë Middeleeue belangrike bakens aangedui oor hoe ons in ons spreke oor God moet waak teen die eenduidige denke wat wil maak asof God presies net dit is wat ons woorde van Hom sê (byvoorbeeld manlik). Andersyds moet ons ook teen die meerduidige denke waak wat maklik voorgee asof God hoegenaamd nie is wat ons woorde oor Hom sê nie (byvoorbeeld dat dit nie belangrik is dat Hy as Vader en nie as Moeder geopenbaar is nie). God openbaar Homself dus werklik in sy Woord, maar op so ’n wyse dat ons moet besef dat Hy nog meer so is as wat die aardse beeld en taal oor Hom praat.

Met die sogenaamde taalwending in die filosofie in die twintigste eeu, het die taalfilosofie opnuut gevra wat taal doen wanneer ons oor God praat. Veral die kwessie van metafore het sterk aandag gekry en ook in ons land het dit in die gedoseerde teologie, veral sedert 1986, nie uitgebly nie. Hier kan net kortliks daarop gewys word dat die kerk se genoemde klassieke antwoord baie beter verwysingspunte bied as die onlangse toevlug tot “metaforiek” in die teologie. Een van die basiese probleme met die hedendaagse beklemtoning is dat metafore so meerduidig hanteer word, dat daar nie meer trou gebly is aan die analogiese benadering nie. Metafore is so oorbeklemtoon dat dit  in ons dag die doel, in plaas van die middel tot die doel geword het.[3] Sodoende word metafore, ironies genoeg, juis maklik in diens van heersende agendas ingespan. Die mities-mitologies-metaforiese teologie is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Die analogiese benadering is nie hieraan skuldig nie en neem die metafore van die Bybel ernstig op. Dit beteken dat metafore sin maak binne ’n baie spesifieke Bybelse verstaansraamwerk. Indien jou raamwerk oor metafore egter veronderstel dat mense in Bybelse tye bloot oor God vanuit hul eie kultuur gepraat het, sal jy maklik swig vir dit wat meer as een moderne teoloog in ons dag sê: dat mense se verstaan van God verander soos wat veranderinge in hulle kultuur plaasvind en dat ons daarom nou ander metafore moet skep om sin te maak van ons ervaring. Die genoemde leer van die analogie help ons egter om die metafore wat ons in die Bybel vind, met respek te hanteer. Dan sien ons in dat ons metafore ingebed moet bly in hoe dit hanteer word in die geheel van die Bybel waar die betekenis gerig word en binne bepaalde grense aangroei, op pad na ’n definitiewe heerlike einde. Op hierdie wyse bly die verdiepende misterie van Bybelse metafore binne die regte bane en word die einddoel van ’n sentrale manlike metafoor soos Vader en Bruidegom tot in Openbaring beter waardeer.

Maria ’n moedergod?

Die saak oor vroulike beelde moet ook noodwendig daartoe lei dat ons kortliks nagaan wat oor Maria in die geskiedenis gesê is. Daar bestaan enersyds maklik vertekenings hieroor en andersyds is beskrywings maklik vatbaar vir misverstand. ’n Mens hoef ook nie met ’n bepaalde tradisie hieroor saam te stem nie, maar ons moet wel poog om so eerlik as moontlik met die feite om te gaan. Dit is dat Maria in die Christelike tradisie, insluitend die Rooms-Katolieke Kerk, as skepsel bly hanteer is en nie in die beste eksponente ooit op dieselfde vlak as die drie-enige God beskou is nie. Daarom sal diegene wat aan Maria ’n besondere plek wil gee, eerder verwys na die verering van Maria as na die aanbidding van Maria. Die aanroep van Maria word dus nie verstaan as op dieselfde vlak as God nie, maar eerder as op dieselfde wyse wat iemand ’n gelowige vra om vir jou te bid. Dit is wel vir Protestante moeilik wanneer hulle hoor van woorde soos die aanroep van en toewyding aan Maria en dit is ook te verstane. Dit word ook nie hier goedgepraat nie, maar wel gepoog om strooipop-voorstellings te vermy en eerlik weer te gee wat die beste moontlike interpretasie van die feite en geskiedenis hieroor is. Maria word met baie nuansering in sekere tradisies as die “moeder van God” beskou, maar selfs hier word die grense na ’n soort moedergod nie oorgesteek nie.[4]

Gevolgtrekking

Die trajek van die ortodokse kerklike beslissings wys duidelik in die rigting dat die belydenis dat God openbaar word as Vader, Seun en Heilige Gees, onopgeefbaar is. Om daarom na God as “haar” en as moeder of ouer te begin verwys en Hom só aan te roep, is nie aanvaarbaar nie, ook wanneer dit gedoen word vanweë slegte ervarings met mans. Dit vererger net die probleem en trek mense weg van die geloof wat eenmaal oorgelewer is. Die Woord en tradisie kon nog altyd hard en duidelik teen mans se afvalligheid spreek. Dit is presies wat ons Vader doen en sal doen wanneer mans sy beeld verwring. Die kerk behoort dit ook vandag te doen, maar dan op ’n heel ander wyse as om God “haar” en “ons Moeder” te begin noem.

[1] Matthew Barrett, 2021. Simply Trinity: The Unmanipulated Father, Son and Spirit. Grand Rapids: Baker.

[2] Om gedeeltelike ooreenkomste tussen twee dinge, wat in ander opsigte verskillend is, uit te wys.

[3] Vergelyk in hierdie verband die uiters boeiende bespreking van die hedendaagse hantering van metafore teenoor die wyse waarop iemand soos die vroulike skrywer, Flannery O’Connor, se metafore in werklikheid verstaan moet word in Gregory Wolf se artikel, Flannery O’Connor: Mystery & Metaphor, by https://theimaginativeconservative.org/2013/03/flannery-oconnor-mystery-metaphor.html.

[4] Protestante het nie amptelik hierteen beswaar aangeteken nie, maar baie verkies om eerder te praat van die moeder van Christus (Christotokos in plaas van Theotokos soos wat laasgenoemde in die geskiedenis by die konsilie van Éfese en Chalcédon geformuleer is en letterlik God-draer beteken. Die betekenis daarvan was volgens die kerkgeskiedkundige, Jaroslav Pelikan “die een wat geboorte gee aan die een wat God is”, en daarmee as sodanig is daar minder beswaar. Die Rooms Katolieke het op die keuse van “moeder van Christus” ’n teenantwoord waarop daar nie nou ingegaan word nie). Die denkwyse wat hier gevolg word, is dit wat die teoloog John Frame voorstel vir goeie interpretasie. Hy beveel aan dat ’n mens eers na die beste moontlike interpretasie moet vra; daarna die slegste moontlike interpretasie. Eers dan is ’n mens meer gereed om te stel wat die mees waarskynlike interpretasie is. Vir ’n verteenwoordiging van die slegste moontlike interpretasie, vgl. Loraine Boettner se bekende werk, Roman Catholicism. Vir ’n verteenwoordiging van die beste moontlike interpretasie, kyk na die publikasie van die Rooms Katolieke teoloog, Aidan Nichols in 2015, There is no Rose: The Mariology of the Catholic Church. Nichols hou Maria voor as ’n proto-tipe van die Kerk as moeder en daarom nie ’n god nie. Hy onderskei tussen Christus-gebaseerde en kerklik-gebaseerde beskouings oor Maria. Nichols wys ook in sy werk hoe die Oosters-ortodokse tradisie Maria sien. Vir ’n verteenwoordiging van ’n aanspraak op ’n mees waarskynlike interpretasie in Protestantse geledere, kan R.C. Sproul se bondige werk, Are We Together: A Protestant Analyzes Roman Catholicism, geraadpleeg word.

Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor (4)

Oor verwysings na God as vroulik: Tweede opmerkings (2)

Hoe praat die Woord van God oor God en hoe word Hy aangespreek? Veral die metafore behoort nagegaan te word, aangesien hulle wat God as vroulik wil aanspreek, beweer dat dit tog reeds in die Bybel voorkom of ten minste geïmpliseer word.

Wat die Woord leer oor metafore vir God

Wanneer ons die kwessie oor metafore en vergelykings vir God in die Bybel nagaan, is daar baie literatuur wat hiermee help, ongelukkig in regte én verkeerde rigtings. Hier sal inleidend  gewys word op prof. PJ de Bruyn se gewaardeerde werk, Die Tien Gebooie.[1] Dit is insiggewend dat prof. De Bruyn die bespreking van die metafore van God onder die tweede gebod laat val wat spesifiek oor eiewillige godsdiens handel. Die spesifieke gedeelte oor metafore vir God word voorafgegaan deur die mens se denkbeelde van God en daaropvolgend word die kwessie van eiewillige godsdiens hanteer.

De Bruyn wys daarop dat hoewel God uitdruklik bepaalde fisiese beelde van Hom verbied, Hy homself tog in taal en woordbeelde openbaar. Hy wys selfs daarop dat dit ons nie verbaas dat die Woord van God deur “metaforiese veelsydigheid” gekenmerk word nie: “God is immers in alle opsigte so onuitspreeklik groot en verhewe dat daar nie anders as met simbole en vergelykings oor Hom gepraat kan word nie. Dit is egter geen probleem nie, as daar maar net altyd onthou word dat God nie identies met die simboolanalogie is nie en dat sy wese so uniek is dat dit uitstyg bo alle metafore …” Inderdaad. God is Gees en in metafore gaan dit oor God wat Homself aan ons menswees akkommodeer, sodat ons Hom tog reg kan ken en aanroep.

De Bruyn onderskei insiggewend genoeg tussen menslike metafore (manlik sowel as vroulik), dierlike metafore, en stoflike metafore: “Wat die manlike metafore betref, kom behalwe die beeld van die vader (vgl. Deut. 32:6; Jes. 64:8; Mt. 6:9, 32) ook die beeld van die herder (vgl. Ps. 23; Eség. 43; Joh. 10:1; 1 Petr. 2:25; 5:4) en die beeld van die koning (vgl. Rigt. 8:23; 1 Sam. 8:7; Ps. 44:5, ens.) dikwels in die Skrif voor. Wat die vroulike metafore betref, word daar dikwels in die Skrif na God verwys met die beeld van die moeder (vgl. Deut. 32:18; Jes. 42:14; 49:14-15; 66:13). In die Nuwe Testament word Hy in Lukas 15 nie net vergelyk met die herder wat sy skaap soek en die vader wat twee seuns het nie, maar ook met die vrou wat die muntstuk soek (vgl. Mt. 23:37). In die Bybel word verder beelde uit die dierelewe (leeu, beer, arend, ens.) en ook uit die stoflike wêreld (son, fontein, bergvesting, ens.) gebruik en op God toegepas. ’n Bepaalde aspek van Christus se optrede, naamlik sy wederkoms, word selfs vergelyk met die van ’n dief (Mt. 24:43; 1 Thes. 5:2; 1 Petr. 3:10).”

De Bruyn se gevolgtrekking is dat “nie ’n enkele metafoor in die Skrif ten doel [het] om alleen die volheid van God se deugde en die geheel van sy optrede te verduidelik nie. Die verskillende metafore sluit mekaar gevolglik nie uit nie, maar vul mekaar aan sodat God Homself terselfdertyd met behulp van al die metafore aan die mens openbaar. … God is dus terselfdertyd vir die mens soos ’n vader, ’n moeder, ’n koning, ’n herder, ’n arend, die son, ’n fontein, ’n bergvesting, ensovoorts.”

In die lig van die huidige debat is daar egter ’n paar sake wat by De Bruyn se behandeling bygevoeg moet word en indien hy vandag sy gewaardeerde publikasie sou bywerk, sal hy dit waarskynlik ook doen. Daar sal eerstens ook gevra moet word oor die onderskeid tussen metafore (bv. God is my rots) en vergelyking (God is soos ’n rots). Die rede is dat die vroulike beelde feitlik nooit metafore is nie, maar eerder vergelykings. Tweedens sal daar ook gevra moet word na die frekwensie van bepaalde beelde en die rol van sentrale metafore. Derdens moet ons ook spesifiek nagaan hoe God openbaar het dat ons Hom sal aanspreek. Dit is veral belangrik dat ons daarop sal let dat, hoewel God dikwels deur verskeie metafore en vergelykings in die Bybel beskryf word, insluitende die beeld van moederskap (meer dikwels as vergelyking en nie as metafoor nie), Hy nooit as Moeder aangeroep of so genoem word nie. Dit behoort ons tog definitief te laat nadink, aangesien God selfs “my bergvesting” genoem kan word (vgl. Ps. 91:2; 2 Sam. 22:2). Soos die Skrifopenbaring ontvou, waar God eintlik in die Ou Testament nog net sporadies Vader genoem word (ongeveer 20 keer), vermeerder (ongeveer 250 keer), verdiep en verinnig hierdie vader-beeld in die Nuwe Testament tot selfs by die punt dat ons hoor dat die Heilige Gees ons “Abba Vader” laat roep (vgl. Gal. 4:6). Dit is duidelik daar hier ’n grens is wat nie oorgesteek word na “Moeder God” nie.

Wat is ons reaksie?

Wanneer die Here Jesus ons die Onse Vader leer bid (vgl. Mt. 6) en selfs kan verklaar dat Hy die Naam van die Vader aan sy dissipels bekendgemaak het (vgl. Joh. 17:1, 26) en self ook God as “Abba Vader, en “Vader” voor en aan die kruis aanroep (vgl. Mk. 14:36; Lk. 24:34), is daar eintlik net een vraag wat oorbly: Wat is ons reaksie op die Bybel as Woord van God? Tradisioneel bely ons dat die gesag van die Skrif direk en volstrek is. As die Bybel dus nie ’n bepaalde grens in die aanspreek en aanroep van God na vroulike aanspreekvorme oorsteek nie, dan behoort ons onsself daardeur te laat lei, soos dit ook in die klassieke teologie gedoen is. As mense van ons dag dan vra waarom daar soveel emosie is wanneer daar nou ook na God as “haar” verwys word, en watter vrees daaragter skuil, dan is die eenvoudige antwoord: Die openbaring van God en die grense van die Skrif sit daaragter. Selfs die opstellers van die algemene en besondere belydenisskrifte is sensitief vir hierdie grense. Ons sou dit ook kon noem gesonde tradisie, of soos die teoloog Jaroslav Pelikan dit genoem het, die lewende geloof van die dooies.  

Waar dit in ons dag nie meer aanvaar word nie, is die enigste opstandige dog vervelige alternatief om te probeer om die beelde van die Skrif op een of ander wyse te relativeer. ’n Kenmerkende skuif is om te beweer dat die konteks (wat deur mans oorheers is) waarin die Bybelse teks ontstaan het, vir ons tyd aangepas moet word. Hiervolgens is die beelde van die Bybel dan net woorde oor God in ’n bepaalde tyd en kenmerkend van ’n patriargale kultuur. Aangesien ons hedendaagse leefwêreld en kultuur anders is, behoort ons op dieselfde manier vir ons eie tyd nuwe name te kan bywerk wat by ons tyd pas. Die probleem hiermee is egter dat so ’n verklaarder tipiese moderne vooroordele openbaar. Die gesag van die Skrif teenoor die gesag van die eie tyd, die geheel van die Skrif asook Skriftrajekte, Skrifpatrone en kerkworstelinge van die verlede, word byvoorbeeld nie in ag neem nie. So word eintlik dan begin om presies dit te doen wat die tweede gebod verbied: Om God na eie goeddunke aan die hand van eiewillige kultuur-gekondisioneerde oortuigings te aanbid. Uiteindelik kom dit op niks anders as afgodery neer nie.

’n Basiese uitgangspunt in eiewillige godsdiens is dat godsdiens eintlik maar grootliks ’n funksie van kultuur is, maar die teenoorgestelde is eerder waar: Kultuur is die funksie van godsdiens. Die probleem ontstaan daarom juis wanneer kulture een of ander afgod of afgode in die sentrum reflekteer en die kerk van Christus daarin wil insuig. Daarom sal ons later ook aandag moet gee aan die afgode van die tydgees wat hier moontlik ’n invloed uitoefen.

Die gevolge van ons keuse

Diegene wat bly vashou aan die gesag van die Skrif, vind vinnig twee gevolge wat dit vir hulle duidelik maak waarom dit belangrik is om ons aan die grense van die Bybel te hou wanneer ons na God verwys en Hom aanroep. Eerstens moet ons daarop let dat selfs ’n liberale godsdienshistorikus soos Elaine Pagels daarop kan wys dat die opsigtelike afwesigheid van sentrale vroulike simboliek oor God in Judaïsme en die Christendom opmerklik is, selfs te midde van omringende kulture soos Egipte, Babilonië, Griekeland, Rome en Afrika. Sy vind die teendeel juis in die Gnostici wat in reaksie gekom het teen Christene se algemene denkbeelde.[2] Pagels wil daarom eerder na die Gnostiese tradisie wat deur die kerk afgewys is, gaan kyk. Dit is presies die geval in dit wat die sogenaamde Nuwe Hervorming onlangs in ons land openlik begin doen het. Om die Gnostiese beklemtonings nou net in ligter vorm voort te sit, is nie die oplossing nie. Die feit is dat daar ’n grens is wat nie oorgesteek word in die Bybel self wanneer direk na God verwys word of wanneer Hy aangeroep is nie en dat dit juis teenoor heidengodsdienste gestaan het wat sentrale vroulike simboliek vir God betref.

Bybelse beelde en metafore is dikwels van mekaar afhanklik of bou op mekaar. As God nou ook as moeder benoem en aangeroep word, wat doen ons met die sentrale beeld van bruidegom en bruid in die Skrif wat hierby aansluit? Let weer eens daarop: Dit gaan nie daaroor dat God se wese ook met die van ’n moeder vergelyk word om ons beter insig te gee in wie Hy is nie, maar dat na God as “haar” verwys word asof dit nie saak maak nie. Toegegee, die verskeidenheid van beelde oor God bevestig juis dat ons nie klein oor die lewende God moet dink nie. Daaraan kan ons werk. Daar is egter iets soos sentrale beelde waardeur God bekendmaak hoe ons Hom moet aanroep. Dink maar weer aan die Onse Vader en aan 2 Korinthiërs 6:18: “… en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” Juis daarom is dit so belangrik om raak te sien dat die Bybel, in onderskeid van die heidengodsdienste, juis nie sekere grense oorsteek nie. Dit behoort ons weer diep te laat nadink oor wat die klassieke belydenis oor die Woord van God vandag nog vir ons inhou: dat dit gesagvol, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is. In ’n volgende aflewering sal ons nagaan hoe bepaalde kwessies en verwante kwessies in die kerkgeskiedenis verder help om lig op die saak te werp.

______________  

[1] De Bruyn, P.J. 2013. Die Tien Gebooie. Potchefstroom: PTP.

 [2] Pagels, E.H. 1976. What Became of God the Mother? Conflicting Images of God in Early Christianity, in Signs, Vol. 2, No. 2 Gepubliseer deur The University of Chicago Press. p. 293-303. Vgl. ook verdere inligting oor Pagels en haar werk by https://truthxchange.com/2003/10/04-beyond-belief-a-pagan-read-of-early-church-history/

Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor (4)

Oor verwysings na God as vroulik: Eerste opmerkings (1)

Die onlangse gebeure in Stellenbosch met die legitimasie van studente waar na God Drie-enig verwys is as die Een wat “haar verbond bevestig, … of Hom, hoe jy dit ook al sien”, is tans sterk onder bespreking. Die vraag oor die implikasies van verwysings na God as vroulik, het weer opgevlam. By alle verleentheid, bied dit ook ’n besondere geleentheid om na te gaan waarom soveel mense deesdae telkens in dieselfde soort slaggate beland. Eintlik is hierdie saak ook nie so nuut nie en wie werklik hieroor wil naslaan, sal goed doen om uit verskillende tradisies verteenwoordiging van getroue antwoorde te vind in ’n publikasie van 1992 met die naam, Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism.[1] Die goeie nuus is dat die Bybel en teologie steeds in ons geslag vernuwend met mense kan werk. Maar dan moet ons leer om nie ons Bybel en tradisie vir ’n pot lensiesop te verruil nie. Wie werklik aangesit het by die feesmaal van klassieke teologie, wil dit ook nie doen nie. Daarom is dit belangrik dat ons bepaalde bakens goed in die oog sal kry.

Heerlike teologie

My pa het ons altyd vertel van ’n oom wat vir hulle geleer het: “Om mens te wees, is lekker, maar dan moet jy ’n lekker mens wees.” Oorgedra na geloofsvrae kan ons stel: Om teologie te beoefen is heerlik, maar dan moet jy leer om ’n heerlike beoefenaar van die teologie te wees. Dit is ook nie so moeilik nie. Ons hoef eenvoudig soos kinders te wees wat luister en gehoorsaam wat hul Vader, let wel, in en deur Christus en sy kerk duidelik gemaak het. Daar is ’n sin waarin elke gelowige ’n mini-teoloog is, want teologie gaan daaroor om God en sy Woord te ken en met jou lewe in verband te bring. Al wat betitelde teoloë doen is om dit op amptelike vlak te doen, maar dikwels gaan nie-amptelike teoloë die amptelike teoloë voor in egte teologie. Om maar een voorbeeld te noem: Die ou krom tannie wie se oë blink en wat vir die dominee met lewende geloofsoë in haar beproewing sê: “Dit gaan goed, dominee, want die Here leef en Satan beef”, is dalk ’n beter teoloog as die dominee wat al referate oor die soewereiniteit van God uitgewerk het.

Bewus van hierdie werklikheid, wil ek tog waag om my mede mini-teoloë te wys op ’n aantal bakens wat help om die saak oor verwysings na God as vroulik te hanteer. En laat my toe om my gelowige leser se goeie gesindheid te verseker: Ons behoort inderdaad ’n hekel te hê aan teoloë wat uit die hoogte vir gelowige mense wil vertel hoe eenvoudig hulle is om nie die kompleksiteit van teologiese sake beter te begryp nie. Het ek my leser dan nou met vleitaal probeer sagmaak vir my saak? Nee, stellig nie. Soos die profeet Sarel van Roepersfontein by geleentheid gesê het: “Ek wil net bevestig dat drie vingers ook terugwys na diegene wat uit die hoogte praat van hermeneutiese onderrokke wat uithang by gelowiges wat net maar hulle Bybels getrou wil lees.”

Metode en aptytwekkers

Wanneer ons die saak oor verwysings na God as vroulik moet hanteer, is daar ten minste drie sake wat aandag moet kry. (1) Ons sal deur die Skrif moet nagaan hoe daar oor God gepraat word en spesifiek hoe Hy aangeroep word. Ons sal hiermee ook opnuut moet vra wat die gesag van die Skrif beteken en hoe ons dit in breë trekke behoort te hanteer. (2) ons sal voorts moet nagaan hoe die saak of verwante sake in die geskiedenis van die kerk hanteer is. Die vraag wat natuurlik hiermee saam hanteer moet word, is hoe ons met die geskiedenis van die kerk se worstelinge en interpretasie omgaan. Daarna (3) sal ons moet vra hoe ons vandag op die skouers van hulle wat ons voorgegaan het, getroue kinders van God kan wees wat in ons eie tyd waardig die roeping wandel waarmee ons geroep is. Hiermee saam sal die gees van die tyd en die tipiese winde wat vandag waai, in ag geneem moet word. Dit sal ons by ’n gevolgtrekking bring.

Dit kan wel belangrik wees om hier reeds inleidende aptytwekkers te gee en nie soos pure postmoderniste die antwoord oneindig uit te stel nie. Hier kan daarom reeds opgemerk word dat dit een ding is om heel geregverdig vroulike eienskappe ook met God in verband te bring deur vergelykings, aangesien beide man en vrou na die beeld van God geskape is. Dit is egter ’n ander saak, en dit is waar die weë skei, om na God as vroulik te verwys en veral om Hom, let wel, so aan te spreek. Dit is eintlik ook reeds ’n verlore stryd vir die wat dit wil teengaan, aangesien dit net te diep by die deursnee Christen ingegraveer is wat tereg geleer het om die Onse Vader te bid. Al wat eintlik oorbly vir diegene wat daarvan hou om te hoes teen die donderslae van die Woordopenbaring, is om met een of ander vorm van suspisie te werk: Is dit werklik so dat God dit sê, of het ons in die Bybel maar net te doen met woorde oor Hom in ’n patriargale kultuur? Kortom, is die Bybel Woord van God of net woorde oor God in ’n ander tyd wat ons vir ons tyd moet “herinterpreteer”?

Die hermeneutiek van suspisie hou van laasgenoemde antwoord, maar dit is eintlik nie iets nuuts nie. Die slang in die paradys het reeds suspisie oor God se Woord begin saai en die afgelope eeu het ons meer as genoeg van twyfelkunde in teologiese en filosofiese departemente gehad. Die gevolg is dat te veel mense uit die volk, soos in die tyd van Elia, maar net een antwoord kan gee toe hy hulle vra waarom hulle op twee gedagtes hink (vgl. 1 Kon. 18:21). Die volk het stilgebly, want inderdaad het hulle nie meer geweet nie. Daar is egter wel wonderlike maniere om tot helderheid te kom. Die bekende skrywer en Christelike apologeet, C.S. Lewis, het by geleentheid deur een van sy karakters in ’n verhaal daarop gewys dat daar skynbaar ’n dosyn sienings oor enigiets is. Dit is, totdat jy die antwoord ken; dan is daar nooit meer as een nie.[2] Klink dit arrogant? Nie as jy al in praktyk dit self beleef het nie. Kyk maar vir ’n begin net na ’n episode uit die mediese Sherlock Holmes-reeks, House, as enigiemand nog twyfel, of gaan soek sommer net weer net ’n goeie speurverhaal om te lees.

Suspisieus oor suspisie

Daarom moet ons eenvoudig suspisieus wees teenoor die kampioene van suspisie. As hulle daarin uitmunt om te vra wat die storie agter die storie is, ook van die Vadernaam, en twyfel-twyfel alles op losse skroewe stel behalwe hul eie twyfel, wel dan sal ons die gunsie terugkaats. Ons sal suspisieus wees oor hul suspisie en ook vra wat die storie agter hul storie is. Ons sal die geneesheer met sy of haar eie medisyne hanteer – ons sal die dekonstruksioniste dekonstrueer. En ons sal verder moet gaan en suspisie eerder met dankbaarheid vérvang. Waarom? Omdat ons die openbaring van God, in natuur en Skriftuur, werklik as verdiepende misterie óntvang. Dit het skynbaar mode geword om openbaring en misterie teenoor mekaar op te stel. Maar wat gebeur wanneer ons vind dat die openbaring van God nie die misterie wegneem nie, maar tegelykertyd lig bring asook die misterie verder verdiep? Die antwoord: Dan het jy ’n leeftyd van avontuur en ontdekking in verdiepende misterie wat voorlê. Dit geld ook met betrekking tot openbaring van die Vadernaam. Dit is maar een saak wat die herontdekking van die openbaring van God in die natuur en die Skriftuur vir ons inhou. Dit het werklik die potensiaal om ons geslag te vernuwe in die geheimenis van eeueoue woorde wat oopbreek om ons op wonderlike avonture te neem waar die openbaring van God net verdere verwondering bring. Daarvoor het ons klassieke teologie nodig en nie korrelasie-teologie wat met byderwets-gekleurde brille dink dat dit alreeds die gehalte van die bril waarborg nie. Hierop sal daar in volgende aflewerings verder ingegaan word met die werkswyse wat hierbo uiteengesit is.

 

[1] Kimel, A. 1992. Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism. Grand Rapids: Eerdmans.

[2] C.S. Lewis, That Hideous Strength.

Huldeblyk aan dr. Ferdi Hartzenberg (8 Januarie 1936 tot 12 Maart 2021 – 85 jaar)

Huldeblyk aan dr. Ferdi Hartzenberg (8 Januarie 1936 tot 12 Maart 2021 – 85 jaar)

As jy dr. Ferdi Hartzenberg persoonlik ontmoet het, sal jy verstaan waarom hy so geliefd onder sy mense was. Baie nederig, plat op die aarde, maar ’n Christen met ’n groot Afrikanerhart.

Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar hy sy DSc (Landbou) verwerf het. Met sy landboukwalifikasies boer hy suksesvol naby Lichtenburg. Op versoek van die kiesers van Lichtenburg verruil hy ’n belowende landbouloopbaan vir die politiek. In 1964 word hy lid van die Transvaalse Provinsiale Raad en in 1970 die Nasionale Party parlementslid vir Lichtenburg. Onder sy bekwame leiding sou Lichtenburg baie pryse wen as een van die bes georganiseerde kiesafdelings in die provinsie.

In 1979 word hy as Minister van Onderwys en Opleiding aangestel. Hy pak die moeilike taak van swart onderwys met groot entoesiasme aan. Ondanks die rassistiese beeld wat sekere media verkeerdelik aan hom wou toedig, was daar groot waardering in die swart onderwyswêreld vir sy bydrae om hierdie onderwys steeds te verbeter. Swart skoolhoofde en onderwysers getuig vandag nog van sy toeganklikheid en gemaklike omgang met alle mense.

Omdat hy en dr. Andries Treurnicht in 1982 van Eerste Minister PW Botha oor sekere beleidsrigtings verskil, bedank hy uit die kabinet. Hy verruil die ministershuis en motor vir ’n klein asbeshuisie in die Parlementêre dorpie Akasiapark. Daar is in ons geskiedenis nie baie politici wat sulke besluite geneem het terwille van dit waarin hulle geglo het reg is nie.

Met die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) word hy as voorsitter van die party verkies met dr. Treurnicht as leier. Die twee vorm saam ’n baie goeie kombinasie wat die party binne sewe jaar uitbou tot die amptelike opposisie in die parlement. Waar dr. Treurnicht die meer filosofiese denker was, was dr. Hartzenberg die praktiese politikus. Hy kon die kiesers met vurige toesprake oortuig om reg te stem terwyl hy terselfdertyd die persoon in die party was wat gesorg het dat die party se takke georganiseerd is en dat daar genoeg geld vir verkiesings was.

Met dr. Treurnicht se dood het dr. Hartzenberg in 1993 die leier van die KP geword. Dit was ’n baie moeilike oorgangstyd in Suid-Afrika se geskiedenis met die Kodesa-onderhandelinge aan die een kant aan die gang en die 1994-verkiesings wat plaasgevind het. Hoewel ek en dr. Hartzenberg op hierdie tydstip oor die beste strategie vorentoe verskil het, het ons nooit verskil oor die eindpunt van vryheid en selfbeskikking vir die Afrikaner nie. Ná die stigting van die Vryheidsfront was ons vir ’n kort tydjie in verskillende politieke partye. Dit het egter nie ons persoonlike verhouding as kollegas en vriende geraak nie en het ons nog saam in sekere trusts gedien. Dit is nie alle politici wat verskille so volwasse kan hanteer nie.

In 2003 het die Vryheidsfront, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB) en later dr. Louis Luyt se Federale Alliansie saamgesmelt om die Vryheidsfront Plus te vorm. Dr. Hartzenberg het hierdie geleentheid gebruik om uit die aktiewe politiek te tree en weer voltyds te gaan boer.

Ek onthou sy gereelde telefoongesprekke waar hy joviaal op sy tipiese Ferdi Hartzenberg-manier my as “Ou Piet” aanspreek en aan my advies gee uit sy meerdere ervaring oor sekere politieke sake.

Die Bybelse boodskap word gewoonlik gepreek, maar is baie sterker as dit deur iemand se lewe gedemonstreer word. Johannes 13:35 stel dat as julle so en so optree “sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Dr. Ferdi se lewenslus, entoesiasme, liefdevolle omgang met mense en sy hele lewe, illustreer hierdie teks vir my – ’n dissipel van God. Waar die politiek dikwels ’n baie wrede en ondankbare wêreld is, gun ek hom die rus na ’n vol lewe. My opregte simpatie ook met sy vrou Judy en sy familie.

Dr. Pieter Mulder (Voormalige Parlementslid saam met dr. Hartzenberg en leier van die VF Plus.)

Babelse verwarring oor 2020 Bybelvertaling

Babelse verwarring oor 2020 Bybelvertaling

Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling[1]

Teen die einde van November 2020 word die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling na verwagting vrygestel. Daar was vir lank ’n proefvertaling hiervan beskikbaar, maar dit is nie die amptelike finale vertaling nie. Die finale produk word eersdaags vrygestel. Dit is te verwagte dat daar teen hierdie tyd weer talle gerugte op sosiale media die rondte sal doen om dié Bybelvertaling te bevraagteken en verwarring onder kerklidmate én kerklose Afrikaners te skep.

Een van hierdie boodskappe wat tans weer die rondte doen, is die volgende:

Die 2020 Bybelvertaling word in November 2020 vrygestel. Van die vertalings is glo al beskikbaar. Die vraag ontstaan hoekom daar twee vertalings uitgegee gaan word? Die een vertaling sal die “normale” vertaling wees terwyl daar ’n vertaling gaan wees bekend as die “hoofletter” vertaling. Hier gaan dit oor die weglating van hoofletters in die Ou Testament met spesifieke verwysing na Jesus Christus.
In Jesaja 53 word daar verwys na “Hy”. Hy wat verag is. Hy het ons krankhede op Hom geneem. Hy het ons smarte gedra. Hy is ter wille van ons deurboor .
Dertig keer plus word die woord Hy of Hom gebruik. ’n Duidelike verwysing na Jesus Christus se koms, Sy kruisiging , Sy lyde , Sy sterwe. Nou word alles met ’n klein letter gespel aangesien dit nie klink klaar deur die skrywer verwys na Christus nie.
Die “hoofletter” Bybel is op aandrang van die Afrikaanse Protestantse Kerk as kompromie daargestel.
Mag daar dus nêrens in die Ou Testament na Christus se koms verwys word nie? Loop die Evangelie in die Ou en Nuwe Testament nie saam soos ’n goue draad tot en met Christus se koms nie? Is dit ’n afwatering van die Skrif? Is dit weereens ’n aanslag op die kernwaarhede van die Bybel, die geïnspireerde Woord van God?
Is hierdie mense, die geleerdes wat die Bybel vertaal het, besig om dit wat ons glo te ondermyn?
Qua Vadis Afrikaner Christenvolk.

Ek wil graag kortliks hierop reageer. Ek het al dikwels op akademiese vlak met hierdie saak omgegaan, maar ek dink hier sal dit beter wees om die saak eenvoudig te benader.

Jesus haal uit ’n vertaling van die Ou Testament aan.

Bybelvertaling het ’n lang geskiedenis. Selfs in die tyd van Jesus was daar verskillende vertalings van die Ou Testament beskikbaar en hoewel daar ’n Joodse vertaling van die Ou Testament in Aramees (op sy beurt ’n vertaling van die Hebreeuse Ou Testament) beskikbaar was, het Jesus self uit die Griekse vertaling van die Ou Testament aangehaal wanneer Hy na die tekste in die Ou Testament verwys het.

Paulus en die kerkvaders doen dit ook

Die apostel Paulus volg hierdie voorbeeld van Jesus na wanneer hy ook uit die Griekse vertaling aanhaal wanneer hy tekste uit die Ou Testament gebruik. Net so het die kerkvaders van die eerste eeue uit die Griekse vertaling aangehaal wanneer hulle die Ou Testament aanhaal. Teen die einde van die vierde eeu na Christus, het Latyn as algemene spreektaal die Griekse taal al sodanig begin vervang dat die meeste mense nie meer Griekse vertalings van die Bybel kon lees nie en die Latynse vertaling van die Bybel, wat bekend gestaan het as die Vulgaat, verwelkom het. Dit was die vertaling van die Bybel wat algemeen deur die kerk gebruik was tot-en-met die veertiende eeu toe Wycliffe se middel-Engelse vertaling die lig gesien het en die Latynse Vulgaat later deur die kerkhervormers van die sestiende en sewentiende eeu vervang is met verskillende vertalings in die taal van die kerkvolk. Dit is in hierdie tyd ook in Nederlands vertaal en derhalwe het die Statevertaling die lig gesien. Dit is die vertaling wat sedert die koms van die Europeërs na Suid-Afrika onder die Afrikanervolk in gebruik was en tydens die Groot Trek op die wa saam met die trekkers getrek het die binneland van Suid-Afrika in.

Daar bestaan al jare behoefte aan ’n nuwe vertaling

Met die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal, het die behoefte aan ’n vertaling in Afrikaans onder die kerkvolk gegroei totdat die eerste proefvertalings van die Bybel in Afrikaans uitgeloop het op die vertaling van die Bybel in Afrikaans in 1933 en die hersiene uitgawe daarvan in 1953. Ons moet onthou dat hierdie vertaling grootliks gebaseer was op die Nederlandse Statevertaling en nie uitsluitlik op die Hebreeuse en Griekse manuskripte van die Ou en Nuwe Testament nie.

Die 1983vertaling was nie vir almal aanvaarbaar nie

Met die verskyning van die 1983-vertaling van die Bybel was daar by baie mense groot teleurstelling oor veral twee sake: die gebruik van die dinamies-ekwivalente-vertalingsmetode (wat die Bybel nie woord-vir-woord vertaal nie, maar die boodskap van die teks probeer weergee), en tweedens die verandering van die hoofletters in die persoonlike voorname, “Hy” en “Hom”, waar dit in die Ou Testament op Christus slaan, in kleinletters. Gevolglik was daar met die verskyning van die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans nie konsensus onder Afrikaanssprekende gelowiges dat dit ’n goeie vertaling van die Bybel was nie. Dit het daartoe gelei dat talle kerke, onder meer die Afrikaanse Protestantse Kerk, nie die 1983Bybelvertaling as amptelike vertaling van die kerk aanvaar het nie.

Daar was egter al vir baie dekades die behoefte onder Afrikaanssprekende gelowiges om ’n vertaling van die Bybel te hê wat die grondtekste van die Bybel letterlik vertaal, of ten minste so na as moontlik aan die letterlike, maar ook in ’n taal wat vandag algemeen gepraat word. Die behoefte is ook reeds lankal uitgespreek dat dié vertaling óók die tekste in die Ou Testament wat na Christus verwys, met hoofletters moet vertaal.

Dit is daarom te verstane dat baie gelowiges wat uitgesien het na ’n direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans, met groot teleurstelling kennis geneem het dat in die vertaling waaraan sedert 2005 gewerk word, weer kleinletters vir tekste in die Ou Testament wat na Christus verwys, gebruik gaan word. Toe ons in Oktober 2009 beswaar gemaak het teen die beplande Afrikaanse vertaling waarin die Ou Testamentiese tekste wat na Christus verwys met kleinletters vertaal sal word, was ons argument dat ’n Christen mos nie kan aanvaar dat daar geen profesie oor die Here Jesus Christus in die Ou Testament is nie. Dit is die aandrang oor eeue heen in die gereformeerde kerkfamilie dat Christus (ook vanuit die Ou Testament) verkondig moet word. Op grond hiervan is besluit dat die AP Kerk die eerste konsep sou voorlê en dat ander kerke wat betrokke wil wees, kan saamwerk aan ’n “hoofletter-uitgawe” van die vertaling waarin die Messiaanse tekste wat in die Ou Testament na Christus verwys, met hoofletters vertaal sal word.

Talle pogings om die projek te ontspoor, misluk

Sedert die begin van die vertalingsprojek was daar pogings om die Afrikaanse Bybelvertaling verdag te maak. Vir die afgelope 15 jaar word boodskappe op sosiale media rondgestuur om die vertaling te probeer ontspoor en gelowiges aan te moedig om die boodskappe te versprei. In die meerderheid gevalle was die boodskappe gemik op die feit dat Christus sogenaamd “uit die Bybel uitvertaal word”. Nou dat daar op aandrang van behoudende Christene ’n vertaling verskyn waarin Christus in die Ou Testament erken word en tekste met hoofletters vertaal word, word dit as ’n “kompromie” beskryf. Die soort opmerkings bereik na my mening niks anders as om onkunde oor die hele proses en die werk wat gedoen is om dit te verwesenlik, te verraai nie.

Weerstand is te verwagte

Een van die kenmerke van ’n nuwe vertaling van die Bybel, is dat dit aanvanklik heelwat weerstand ontlok. Dit is te verstane, aangesien mense geneig is om te wil vashou aan wat bekend is en nie graag die onbekende verwelkom nie. Ongelukkig veroorsaak onkunde oor die proses van vertaling en die doel van Bybelvertaling deesdae heelwat verwarring onder gelowige Afrikaners wat wonder waarom nog ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans nodig is en of die negatiewe gerugte oor die vertaling waar is?

Christene moet altyd die volle waarheid hoor, voor ons besluit

Dit is met die oog op hierdie soort vrae en verwarring wat bestaan, dat dit nodig is dat Afrikaanssprekende gelowiges die volle prentjie kry en nie op sleeptou geneem moet word deur halwe waarhede nie.

Die boodskap waarna ek hier bo verwys het, maak egter die aanname dat dit die posisie is wat onder die meeste gelowiges aanvaar word, naamlik dat Christus uit die 2020vertaling vertaal word.

Ek twyfel sterk of die deursnee Afrikaanssprekende gelowige al diep oor die saak gedink het en of hulle dit nie maar aanvaar, omdat hulle daaraan gewoond is dat dit só in die vertaling wat hulle sedert 1983 gebruik, gedoen is nie. Daar is egter ’n definitiewe alternatief. Die boodskap hier bo verwys ook tereg daarna, maar ongelukkig binne ’n konteks wat die “hoofletter”-vertaling baie verdag laat voorkom. Lees byvoorbeeld die woordjie “kompromie” raak in die volgende sin: “Die “hoofletter” Bybel is op aandrang van die Afrikaanse Protestantse Kerk as kompromie daargestel”.

Dit is wel jammer dat daar ’n Bybelvertaling verskyn waarin die tekste wat Messiaanse toepassing het, nie met hoofletters vertaal word nie. Die argumente daaragter wissel, maar kom hoofsaaklik daarop neer dat dié wat dit voorstaan meen dat die verwysings in die Ou Testament na die Messias binne Joodse verwagting verstaan moet word. Hulle het ’n aardse messias verwag wat die Joodse volk van hulle oorheersers sou bevry en sy koninkryk in Jerusalem vestig. Volgens hierdie verklaarders verwys die tekste nie binne die eerste konteks na Jesus Christus nie, hoewel hulle erken dat dit in die lig van die Nuwe Testament op Christus van toepassing gemaak kan word – vandaar die voetnote in die vertaling wat die Nuwe-Testamentiese toepassing meld. Ek stem persoonlik nie met hierdie argumente saam nie en dit is een van die hoofredes waarom ek my volle gewig ingegooi het om die “hooflettervertaling” die lig te laat sien en enduit ’n groot bydrae gelewer het.

Die “hooflettervertaling” is geen “kompromie” nie

Dit was op aandrang van die AP Kerk dat die Bybelgenootskap besluit het om ’n komitee saam te stel uit kerke wat die Messiaanse tekste in die Ou Testament met hoofletters wil vertaal. Dit was ook die leeue-aandeel van die AP Kerk wat die eerste 1000 tekste op die tafel geplaas het vir bespreking. Ek was sedert die begin van hierdie vertaling by die proses betrokke en kan getuig van baie jare se worsteling en oorweging wat geskenk is aan elke iedere teks in die Ou Testament of dit met ’n hoofletter vertaal kan of moet word. Teen die einde van die projek, is daar meer tekste in die 2020vertaling met hoofletters as in die 1933/1953 vertaling van die Bybel. Aangesien ek een van die vertalers van die 2020Bybelvertaling was en ook een van die medewerkers aan die “hooflettervertaling” sedert die AP Kerk die versoek aan die Bybelgenootskap gerig het vir ‘n hoofletter-uitgawe van die Bybel, kan ek getuig dat die Bybelgenootskap met erns en opregtheid geluister het na ons besware en nooit voorgeskryf het watter tekste as heenwysing na Christus verstaan moet word en watter nie, maar ons die ruimte gegee het om ons oortuiging dat Christus in die Ou Testament teenwoordig is, in die 2020Afrikaanse Bybelvertaling met hoofletters, te handhaaf. Daar is dus geen sprake daarvan dat die hoofletter-uitgawe van die 2020Afrikaanse Bybelvertaling as ’n “kompromie” beskou kan word nie, maar as Woord van God met volle erkenning aan Christus se besondere plek in die Messiaanse verwagtinge van die Ou Testament.

Die boodskap wat die rondte doen dat die 2020 “hooflettervertaling” ’n kompromie is en dat Christus uit die Ou Testament “uitvertaal” word, wil dus gevolglik die spreekwoordelike kind met die badwater uitgooi en gaan nie eerlik met die ooglopende feite om nie.

As Christene moet ons ons nie met halwe waarhede ophou nie, want ’n halwe waarheid, is ook ’n leuen.

 

 [1] Met vergunning gebruik. Oorspronklike plasing: https://gdssmit.com/babelse-verwarring-oor-die-2020-bybelvertaling/

 

Indien u die debat verder wil volg, lees gerus die volgende opvolgartikels deur prof. Gerrit Smit: 

https://gdssmit.com/reaksie-op-babelse-verwarring-oor-die-2020-bybelvertaling/

https://gdssmit.com/2020-bybelvertaling-hebreeuse-name-van-god/

https://gdssmit.com/antwoord-op-bogaards-se-artikel-5-op-die-2020-bybelvertaling-met-hoofletters/

https://gdssmit.com/verwys-elohim-net-na-god-in-die-bybel/