Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

In Suid-Afrika is die Afrikaanse taal ’n warm onderwerp. Dit word dikwels verpolitiseer en gebruik om die gebruikers daarvan te etiketteer en om gemeenskappe te polariseer. Om Afrikaans te wees het deesdae net so ’n muishondreuk as om blank te wees. Dit beïnvloed selfs geloofsgemeenskappe se gebruik daarvan, sodat sinodes dikwels vir ure lank debatteer oor watter taal as voertaal tydens die vergadering gebruik moet word.

In ’n onlangse artikel op Maroela Media[1], word berig oor ’n byeenkoms van die Afrikaanse Taalraad (ATR) waartydens kommer uitgespreek is oor die afskaffing en verskraling van die gebruik van Afrikaans in kerke. Verskeie voorbeelde is genoem van kerke wat ter wille van groter inklusiwiteit gekies het om eerder Engels as voertaal te gebruik. Die basiese standpunt is dat die meeste mense Engels verstaan en dat dit daarom sin maak om eerder alles in Engels te doen, sodat soveel mense as moontlik met die evangelie bereik kan word.

Tydens die ATR se bespreking, het dr. Braam Hanekom dit benadruk dat die verkondiging van die evangelie die kerk se eerste taak is en nie ’n taal nie. Carel Boshoff van die Vryheidstigting het by hom aangesluit en gesê dat dit nie ’n geloofsgemeenskap se werk is om taalaktiviste te wees nie.

Hoewel beide hierdie stellings tegnies korrek is, het dit potensiaal om verkeerd vertolk te word, aangesien dit mense tot die gevolgtrekking lei dat taal geensins vir gelowiges en die kerk belangrik hoef te wees nie. In sommige gevalle sal die standpunt selfs gehandhaaf word dat gelowiges bereid moet wees om hul taal ter wille van die evangelie prys te gee. Dit is ongelukkig die uitgangspunt van daardie kerke wat Engels as voertaal ter wille van inklusiwiteit kies. Taal word as’t ware teenoor die verkondiging van die evangelie opgestel asof dit ’n belemmering daarvoor is. Daar word geredeneer dat enige iets wat die verkondiging van die evangelie verhoed en mense uitsluit, uit die weg geruim moet word.

Die gevolge is egter dikwels ’n verarming en selfs ’n ontneming van mense se geestesgoedere. Dr. Hendrik Thys van die ATR het na voorbeelde verwys van kerke waar die meerderheid gelowiges Afrikaanssprekend was, maar daar toe gekies is om na Engels as voertaal oor te slaan ter wille daarvan om ’n klein minderheid wat nie-Afrikaans verstaan nie, in te sluit. So ’n besluit word dikwels as ’n “liefdesdaad” geprys, maar ’n mens kan nie help om te wonder of dit nie eerder liefdeloos is nie. Ter wille van ’n klein minderheid, is daar van die meerderheid verwag om hul geestesgoedere prys te gee. Die gevolg is dat baie van die lidmate nie meer kerk toe kom nie, sê Thys, omdat hulle gewoon net nie die preke in Engels verstaan nie.

Hoe moet gelowiges dan oor taal dink? Handelinge 2 help ons hiermee wanneer ons van die uitstorting van die Heilige Gees lees. Weens die Romeinse oorheersing, was Grieks op daardie tydstip die lingua franca. Bykans almal in die Romeinse ryk kon dit praat en verstaan. Dit sou dus sin gemaak het indien die kerk besluit het om Grieks as voertaal te gebruik. Dit sou die meeste mense “ingesluit” het en dit sou die effektiwiteit van verspreiding van die evangelie drasties verhoog het – so sou ons vanuit ons huidige konteks redeneer. Tog is die teendeel waar. Toe die Gees uitgestort is, het die apostels die evangelie in verskillende tale begin verkondig. Mense was verbaas, want hulle het die evangelie gehoor in die taal waarin hulle gebore is.

Hierdie gebeure bevestig ’n sekere waarheid wat die kerk nie ter wille van politiese korrektheid of inklusiwiteit durf ignoreer nie. Op ’n bonatuurlike wyse het God self die tale en diversiteit van sy kinders geheilig. Dit beteken dat Hy geestesgoedere, soos taal (en kultuur), afgesonder het sodat dit gebruik kan word om Hom daarmee te verheerlik. Dit is die voertuig waardeur die evangelie van genade aan mense gebring word op ’n wyse wat hulle harte aangryp sodat hulle in lofsange oor die groot dade van God kan uitbreek. Was God liefdeloos toe Hy elkeen op Pinkstersondag die evangelie in hulle eie taal laat hoor het? Was dit liefdeloos van Hom toe die Kretense nie die apostel verstaan het wat die evangelie in Arabies verkondig het nie? Het hulle uitgesluit gevoel?

Natuurlik behoort taal nie die kernbesigheid van die kerk te wees nie, maar as ’n geheiligde gawe behoort die kerk ook nie traak-my-nie-agtig sy skouers daaroor op te trek nie. As God ons geestesgoedere geheilig en in sy diens gestel het, wie is ons om te besluit dit is onbenullig? Aan die kerk was daar nog altyd ’n eendersheid en ’n andersheid net soos wat daar in die Drie-eenheid is – drie Persone, maar een Wese; duidelik onderskeibaar en uniek en tog een. Die twee sluit mekaar nie uit nie, maar onderstreep juis die uniekheid van die kerk van Jesus Christus waarin eendersheid (eenheid) deur die Heilige Gees bewerk word, sonder dat van gelowiges verwag word om hul andersheid (diversiteit) prys te gee.

God hou nie daarvan dat sy lof net op een deuntjie uitgetokkel word nie. In Ps. 96:7 gee Hy opdrag dat die geslagte van die volke aan die HERE eer en sterkte moet gee, terwyl Christus self die kerk beveel om dissipels van al die nasies te maak (vgl. Mt. 28:19). God se heerlikheid is soos ’n diamant wat vanuit verskillende hoeke (volke, tale, kulture) belig word, sodat die heerlikheid daarvan toeneem namate die ligstrale wat daarop val, meer word. As ons meer in lyn met die Skrif oor ons geestesgoedere en die gebruik daarvan in die kerk begin dink, sal dit nie nodig wees om bekommerd te wees oor Afrikaans (of Xhosa, of Sotho, of Zoeloe, of …) as geloofstaal nie. Die ewige God se lof sal immers tot in ewigheid vanuit verskeie monde en in verskillende tale weerklink wanneer die vrygekooptes, soos Openbaring 5:9 leer, uit elke stam en taal en volk en nasie ’n nuwe lied tot eer van die Lam sal sing.

[1] https://maroelamedia.co.za/nuus/kommer-oor-afrikaans-as-geloofstaal/

Die kerk en die markplein het mánne nodig

Die kerk en die markplein het mánne nodig

Deur ds. Diederich Kleynhans[1]

In sy artikel “Nine Attributes of a Real Man”[2] vertel Vince Miller hoe hy sonder ’n pa grootgeword het en gevolglik nie iemand gehad het om hom oor ware en gesonde manlikheid te leer nie. Sy soeke na antwoorde op sy diepste vrae het Hom na God én na die Skrif gedryf. Hier het hy sy antwoorde gekry, vervulling gevind en geleer wat seunskap beteken.

Die wêreld se vals manlikheid

Miller skryf verder dat ‘n duidelike en presiese definisie van manlikheid nie by die wêreld te vinde is nie. Selfs die vermaaklikheidswêreld faal, want sý voorbeelde van die sogenaamde regte man is manne soos die chauvinistiese rokjagter James Bond; of die onverstoorbaar-taai en emosioneel-afgetrokke Jason Bourne; of die gierige en magsugtige Gordon Gekko (Wall Street).

Meer onlangs sou ons dalk selfs die seksbehepte vrouehater en miljardêr Christian Grey (Fifty Shades of Grey) by hierdie lys name kon voeg. Telkens sal ons moet bieg dat nóg die gay Suid-Afrikaanse modeontwerper Rich Mnisi[3] met sy Pride-vroueswembroek (vertoon deur ‘n man), óf die rokgeklede Harry Styles[4] op Vogue se voorblad; nóg die transgenderbeïnvloeder Dylan Mulvaney[5] van die Bud Light-advertensieveldtog, óf enige van die ander macho Hollywood-manne die Bybelse definisie van manlikheid gestand doen!

“Manlikheid na God se hart”

Hierteenoor gee die Bybel die regte perspektief op manlikheid, meen Isaac Khalil.[6] ’n Perspektief wat deur die voorbeelde van gewone, sondige manne se verhale (bv. Dawid se verhaal) as raamwerk vir “manlikheid na God se hart” dien. Die Bybel gee vele prototipes van manlikheid, maar bevat ook talle heenwysings na manlike kenmerke waaruit ons ’n Bybelse definisie van manlikheid kan formuleer.

In die Ou Testament lees ons van ‘n getroue Noag, ‘n toegewyde Abraham en ‘n nederige Moses. Josua was opreg en Simson was sterk. Samuel was die toonbeeld van ’n profetiese leier. Salomo was wys en Daniël het besonderse insig en onderskeidingsvermoë gehad. God het hierdie manne gekies, geroep en toegerus. Hy het hulle gebruik en by hulle kan ons leer. Ja, ook by die talle manne in die Nuwe Testament: Johannes, Petrus, Paulus – lewende boustene in die tempel van God.

“Daar heers ’n skryende hunkering in die kerk na manne om weer mán te wees,” skryf Richard D Phillips in sy boek The Masculine Mandate, “omdat die kompeterende ideologieë van die kulturele tydsgees en die vals dogmas van liberale kerke die krisis (ook ‘n samelewingskrisis) ignoreer en selfs aanhits.” Hierdie verwarring aan die een kant en blatante wanvoorstellings aan die ander kant, noop die kerk om deur ’n reformatories-teologiese lens vir leidrade na die Skrif te draai (so ‘n bietjie ruggraat te wys) en dán tot die gesprek toe te tree, mét antwoorde.

Die Bybel is duidelik oor die eienskappe wat manne nie net in hul huise en families, gemeentes en (geloofs)gemeenskappe moet openbaar nie, maar ook moet aanwend op die markplein en in die publieke sfeer – eienskappe van manwees wat húlle gevorm het en waarop die volgende generasie moet voortbou.

Selfopofferende leierskap

Vanuit die staanspoor begrond die Bybel die eerste eienskap, selfopofferende leierskap, in navolging van Goddelike leierskap. Die man se mandaat vloei voort uit God se opdrag aan Adam: Heers oor … die skepping … as Mý verteenwoordiger (vgl. Gén. 1:26). In hierdie besonderse posisie, uniek geskape na God se beeld, word die man geroep en aangestel om met dapperheid, wysheid, insig en medelye te lei! Die Here Jesus gee self die voorbeeld van Bybelse leierskap ten opsigte van die huwelik (sy liefde vir sy bruid, die kerk) en wil dat Christenmanne Hom hierin navolg.

Dit is nié: wrede oorheersing of diktatoriale magsvergrype nie! Dit ís: verantwoordelike, selfopofferende, dienende liefde in gehoorsaamheid aan God. As vóór-loper moet die man aanmoedig, inspireer, lei; altyd soekend na die wil van God. By kruispaaie moet hý die een wees wat verantwoordelikheid neem en dan bereid wees om die gevolge te dra – soos ‘n toegewyde Abraham.

Dapper nederigheid

Nederigheid is beslis nie ‘n term wat die wêreld sal gebruik om manlikheid te beskryf nie. Vanuit ’n Bybelse perspektief is dit egter ‘n sleutelaspek van “manlikheid na God se hart”. Die moderne samelewing se “Amerikaanse droom” en Instagram- en TikTok-viering van die eie-ek, het daartoe gelei dat arrogansie en selfverheerliking as ’n vorm van deugsaamheid geprys word. Mag, krag en sterkte het die antagoniste van nederigheid geword.

Die status van nederigheid is gevolglik degradeer tot ’n “kruk”, of selfs ’n “kenteken van swakheid”. Bybelse manlikheid kyk en lyk egter anders as dit kom by nederigheid en dít wat nederigheid doen. Moses, dapper leier van God se volk, … was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem (Núm. 12:3). Hy is die een wat in die aangesig van die Allerhoogste, wanneer die toorn van die HERE teen die volk wil ontvlam, keer op keer tussen God en sy volk gaan staan het; die een wat stotterend die paleis van Farao ingaan en telkens eis: Laat my volk trek … Dapper, manlike nederigheid is nie gelyk aan “trap maar op my nie”, maar is vinnig om te vergewe en stadig om kwaad te word, én bowenal, bereid en gereed om te dien!

Wyse selfbeheersing

Wanneer manne in nederigheid opstaan en vóór stap (agter Jesus aan, waar dit ook al mag wees), moet hul gedagtes, woorde en dade in lyn met God se wil wees. In toegewydheid en met dissipline, eerlik en opreg, moet eers “na binne” gekyk word. Daarna volg die wandel en handel na buite in sý kerk, sý koninkryk. Hy beloof om in ons daaglikse en mees basiese behoeftes te voorsien en ons moet tevrede daarmee saamleef. Dit beteken natuurlik nie dat ons nie met ’n gesonde mate van ambisie en entoesiasme kan streef na groei en verbetering nie.

In ons mees intieme verhoudings ontdek ons dikwels die waarde en vreugde van selfbeheersing die meeste – wanneer ons ander (baie gereeld selfs ons eie kinders en eggenote) se belange en behoeftes bo ons eie stel en beleef hoe hulle floreer in geleenthede waaruit ons, deur selfbeheersing, teruggetree het. Dan weet ons: Ek verloor niks deur aan ander ’n tikkie sonskyn te gun nie.

Versorgende beskerming

Die voorreg om te beskerm en te versorg, veral ten opsigte van die veiligheid en welstand van ander, is by uitstek ‘n eienskap van Bybelse manlikheid. Die wêreld gee hier ook ‘n vals betekenis aan die konsep van versorging, want tradisioneel is ons gekondisioneer om aan die term “versorging” die beeld van ’n moeder te heg, terwyl die Vader vir Homself hierdie voorreg toe-eien: … hoe dikwels wou Eksoos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak… (Mt. 23:37). En: Soos ’n arend …  sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra (Deut. 32:11).

Versorging en beskerming strek egter veel verder as die liggaamlike! Dit sluit die psigiese, emosionele en geestelike welstand en ontwikkeling van ons naaste in. As mans móét ons natuurlik ons vrouens liefhê en versorg, bewaar en beskerm – soos Christus sy kerk liefhet. Maar hierdie versorgende beskerming kring ook uit na die res van die skepping waaroor ons rentmeesters is.

Hoe ver strek hierdie verantwoordelikheid? Ons plig is om ’n veilige omgewing te skep waarbinne selfs die mees weerlose mens kan ontwikkel om sy/haar Skepper te leer ken, te dien, te eer. In hierdie verband kan ons nie help om te vra nie: Waar is manne se stemme van protes wanneer aborsiesyfers die hoogte in skiet? Waarom swyg hulle?

Allesomvattende voorsiening

Laastens is voorsiening een van die besonderse deugde van Bybelse manlikheid, wat ook deur die sekulêre tydsgees onder ‘n wanvoorstelling gebring is. Hierdie eienskap word deur die wêreld gereduseer tot finansiële kapasiteit en geldelike vermoëns. Bybelse voorsiening impliseer natuurlik ook materiële middele en potensiaal, maar is geensins daartoe beperk nie!

Allesomvattende voorsiening is meer as net die beursie vir gesin, vriend, geliefde en naaste. Dit is die stem wat ondersteun op die sportveld; die inspirerende woord voor ’n groot eksamenvraestel; die gebedstem knielend langs ’n kind voor slapenstyd; die boodskap wat hoor of ’n vriend nog veilig is. Dit is die man wat die anker in die stormwaters van sy vrou se depressie is; die man met die oop hand wat die werklose buurman om die braaivleisvuur op ‘n skaapribbetjie trakteer.

En hierdie manne gee, omdat hulle weet hoeveel hulle ontvang het; hulle doen, omdat hulle weet hoeveel hulle in die skuld is; hulle dien, omdat hulle die Dienskneg aan die kruis kén, liefhet en wil verheerlik. Hy, die tweede Adam; die vlekkelose, sondelose, Beeld van God, in perfekte gehoorsaamheid; as waaragtige God én ware mens – Hóm wil Bybelse manne naleef!

[1] Leraar van die NG Kerk Secunda-Goedehoop.

[2] https://www.desiringgod.org/articles/nine-attributes-of-a-real-man

[3] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[4] https://www.vogue.com/article/harry-styles-cover-december-2020

[5] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[6] https://lifehopeandtruth.com/life/blog/biblical-masculinity-becoming-a-man-after-gods-own-heart/

Halleluja, loof die Here!

Halleluja, loof die Here!

“Mag slegs orrelbegeleiding in die kerkverband gebruik word?” is ’n vraag wat die afgelope tyd ’n paar keer op die Kommissie vir Kerkregtelike Sake (KKS) se tafel beland het. Mense is dan verbaas om te hoor dat daar geen sinodale besluite in die AP kerkverband is wat die orrel uitsonder as enigste instrument wat vir begeleiding gebruik mag word nie. Hulle besef ook nie dat ’n besluit om begeleiding tot een instrument te beperk in die lig van Psalm 150 se lys instrumente, onskriftuurlik sou wees nie.

Baie gereformeerde gemeentes beweeg tans weg van die orrel na klein klassieke kamerorkeste, of na die klavier, omdat goed opgeleide orreliste al hoe skaarser raak. Heelwat gemeentes het geen begeleiding nie en het a capella sang. As dit gaan oor ’n begronding vir die orrel dan is die feit dat die orrel meer as een instrument verteenwoordig en uitdrukking bied aan Psalm 150 se instrumente, sonder dat die kerkraad ’n hele orkes hoef aan te skaf. Dit beteken egter ook dat ’n vol orkes heel aanvaarbaar binne die gereformeerde verstaan van die erediens sal wees.

Kerkverband gaan onder andere oor ’n binding aan die Skrif en Belydenis op alle terreine van ons kerklike lewe. Daarom is dit elke ouderlingeraad se verantwoordelikheid om die inrigting van die gemeente se kerklike lewe aan die Skrif en Belydenis te toets. Wanneer jy bewus is van enige optrede in stryd met die Skrif en Belydenis is die aangewese weg tog dié van Matthéüs 18, om met die “oortreder” te gaan praat en uiteindelik selfs ’n klag daaroor by die betrokke ouderlingeraad te lê. Ons kan beslis nie toelaat dat dwaalleer en kettery binne die kerkverband hoogty vier nie. In so ’n klag sal duidelike grond aangewys moet word waar daar teen die Skrif en Belydenis oortree word.

Daar moet gewaak word teen twee uiterstes binne die AP Kerk. Die AP Kerk het doelbewus gekies teen sinodokrasie én independentisme. Die kerke in kerkverband het met mekaar ooreengekom dat die aanwysing van (’n) sangbundel(s) vir amptelike gebruik een van die werksaamhede van die sinode is (Art. 41). Wanneer ’n gemeente dus afwyk van die Psalms en Gesange vir die AP Kerk en begin om Halleluja-liedere of ander liedere tydens die erediens te sing, maak sy haarself skuldig aan independentisme. Sou die sinode besluite neem oor watter instrument ’n gemeente vir begeleiding moet gebruik, maak die sinode homself skuldig aan sinodokrasie en ’n oorskryding van sy bevoegdhede volgens Artikel 41 van die Kerkorde.

Saam voor die troon van God

Saam voor die troon van God

Mense het snaakse idees oor godsdiens en hoe om kerk van Christus te wees. Ek wou sê dat mense daarom sukkel om Christene te verstaan, maar dit sal nie korrek wees nie, want deesdae het baie “Christene” net sulke vreemde gedagtes daaroor. Soms wil dit vir my voel asof ék die een met die vreemde idees is.

Mense verstaan nie dat ek kan verlang na die gemeenskaplike aanbidding van God nie. “O nee, ek kan die Here net so goed in my huis aanbid.” Of: “Die kerk is maar net ’n gebou.” Of: “Maar ons het mos opnames wat uitgesaai word, jy het dan self ’n hele paar daarvan hanteer.” Om deel te wees van Christus se kerk gaan egter om soveel meer as om die Here in my binnekamer te aanbid of om saam met my gesin na ’n preek te luister. Ja, ek het ’n binnekamer. Ja, ons het ’n huisaltaar. Maar dit is nie al nie!

God het my en my huisgesin deel gemaak van ’n koninklike familie. Ons is deel van sy uitgesoekte priesterdom en Hy gee aan ons ’n boodskap om te verkondig. Hy maak ons deel van ’n plaaslike kerk waar ons mekaar se broeders en susters is. Een hegte familie wat saam aan ons Vader se voete stil word. Ons is nie ’n klomp losstaande individue nie, maar is organies aan mekaar verbind as die liggaam van Christus, wat ons Hoof is. Hoe kan iemand nie verstaan dat ek al my ledemate nodig het nie?

Dalk is jy ook een van die vreemdes wat daarna uitsien om op ’n Sondag saam ander gelowiges in gemeenskaplike aanbidding voor God stil te word. Al is jou plaaslike kerk hoe groot of hoe klein, as die Here in Gees en in waarheid aanbid word, is dit deel van die grootste geheimenisse in die heelal.

Want sien, die kerk is nie maar net ’n gebou nie. Die kerk is ook nie ’n organisasie nie. Die kerk is ’n familie wat saamkom. Dit is mense wat as lewende stene ’n organisme vorm wat vir hierdie wêreld onverstaanbaar is. Ons kan nie in ’n kliniese kategorie of ekonomiese sektor geplaas word nie. In elke kultuur lyk dit anders, soos wat die verskeidenheid van kulture tot eer van God omvorm word en die ligstraal in ’n kaleidoskoop van kleure soos deur ’n loodglasvenster skyn en die duisternis verdring.

Ons leef met ’n hoop op die ewigheid. Ons is nie bang om dood te gaan nie. Ons vrees niemand anders as God nie. Die Here het inderdaad van ons vreemde mense gemaak – vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde wat smag na ons hemelse vaderland.

Sensasie is geen plaasvervanger vir waarheid nie. Ope brief aan Deon Wiggett en die Sunday Times

Sensasie is geen plaasvervanger vir waarheid nie. Ope brief aan Deon Wiggett en die Sunday Times

Op Sondag 28 Mei publiseer die Sunday Times ’n meningstuk deur Deon Wiggett met die opskrif “Voortrekker Monument: ‘Golgotha’ that became reverend’s ‘preying ground’”.[1] Met die lees van die stuk was ek van vooraf teleurgesteld oor die vlak waartoe joernalistiek in Suid-Afrika gedaal het. Sensasiebehepte joernalistiek mag dalk koerante se leserstal ’n hupstoot gee, maar dit is nie ’n plaasvervanger vir waarheid en geloofwaardigheid nie. Dit is jammer poniekoerant-sensasie-joernalistiek die integriteit van gerespekteerde nuusagentskappe en mediahuise in gedrang bring. Ek verskil ten sterkste met die inhoud van die stuk en reageer graag op enkele aspekte daarvan, aangesien dit die ware feite gruwelik verdraai. 

Uit die meningstuk is dit duidelik dat meneer Wiggett “anti” sekere dinge is: anti-Afrikaner, anti-konserwatief, anti-patriargaal en anti-kerk. Uit die lees van die meningstuk kry ’n mens die indruk dat hy na ’n uitlaatklep vir sy frustrasie gesoek het – ’n geleentheid om hierdie anti-sentimente in ’n konkoksie saam te voeg waarin lesers iets van sy teleurstelling en weersin kon proe. Dit laat egter ’n bitter nasmaak van ongeloofwaardigheid. 

Lees ’n mens die stuk deur, is dit op die oog af duidelik dat daar wyer gekrap en gelees is op soek na inligting – dit is immers wat ’n mens van ’n ondersoekende joernalis sal verwag. Wat egter jammer is, is dat hy nie belanggestel het in inligting wat die feite van die saak kon bevestig al dan nie, maar dat hy eerder na inligting gesoek het wat sy eie mening, voorveronderstellings en wanpersepsies kon ondersteun. Ons almal is bekend met strooipopargumente. In hierdie artikel is die strooipoppe selfs duideliker as die Voortrekkermonument teen die blou hemel afgeëts. Die konserwatiewe Afrikaner, sy patriargale sisteme en kerklike instellings, word uit die staanspoor as bose strooipoppe geteken wat vir alles wat fout is in die samelewing, blameer word. Sonder om te blik of te bloos, word die AP Kerk as “verregs” geklassifiseer en die Afrikaner se Voortrekkervoorouers, as diewe wat daarop uit was om die Zoeloes se “land af te neem”. 

Ek glo dat iemand soos meneer Wiggett graag wil hê dat die waarheid moet seëvier – veral in ’n saak soos hierdie en omdat hy persoonlik al deur die trauma van molestering moes gaan. Dit is net jammer dat hy self kies om selektief met die waarheid om te gaan. Hoewel hy by ds. Johan Schütte, Direkteur van Kerkadministrasie van die AP Kerk, navraag oor die saak gedoen het, besluit hy om nie ’n woord van ds. Schütte se reaksie in sy meningstuk te publiseer nie.

In stede daarvan kies hy eerder om sekere uitsprake buite konteks aan te haal en slaag hy daarin om ’n verdraaide beeld van ’n historiese geleentheid soos die slag van Bloedrivier te skets en om die Afrikaanse Protestantse Kerk as verregs en ultra-reaksionêr te tipeer. Om dit te doen, is nie ’n kuns nie. Deur byvoorbeeld Christus se woorde selektief aan te haal en in ’n sekere volgorde in te span, kan selfs iets soos verkwisting en losbandigheid uit sy mond regverdig word: En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe (Lk. 15:13). Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so (Lk. 10:37). Konteks is belangrik. ’n Korrekte aanhaling sonder die korrekte konteks, verander waarheid in sensasie en plaas ’n demper op geloofwaardigheid. 

As meneer Wiggett die moeite gedoen het om eerlik met die feite om te gaan, sou hy dalk tot sy verbasing ontdek het dat die AP Kerk nie “anti” alles is nie, maar dat ons beslis vír sekere dinge staan. 

  • Ons staan vír waarheid en geregtigheid, maar nie vir ’n verdraaide of saamgeflansde weergawe daarvan nie. Indien dit aan die lig kom dat die aantygings teen ds. Swart en sy vrou inderdaad waar is, sal die kerk nie huiwer om, ooreenkomstig die Skrif, die nodige tugstappe toe te pas nie.
  • Ons staan egter nie net vir waarheid en geregtigheid nie, maar ook vír liefde. Daarom weet ons dat wanneer die waarheid in sensasie verander word, dit die geneigdheid het om uiters liefdeloos te wees en uiteindelik op boendoegeregtigheid uitloop – al is dit net in die vorm van ’n artikel soos dié van meneer Wiggett.
  • Ons staan vír lewe en gevolglik vír menswaardige optrede teenoor alle mense. Dit sluit beide die menswaardigheid van die vermeende slagoffer as die menswaardigheid van die vermeende oortreders in. Ons besef terdeë, en is dit daarin met meneer Wiggett eens, dat ’n kind vir ewig geskend kan word wanneer hy of sy die slagoffer van volwassenes se siek en perverse begeertes is, maar ons weet net so goed dat nie eens ’n uitspraak van “onskuldig” ’n brandmerk soos “seksuele roofdier” kan verwyder nie.
  • Ons staan vír die gesonde waardering van ons geskiedenis en simbole, soos die Voortrekkermonument, wat ons aan die groot dade van God in ons volk se geskiedenis herinner. 

Waarom staan ons vir hierdie dinge? Want, anders as die gevolgtrekking waartoe meneer Wiggett kom, is daar vir ons heiliger grond as die Voortrekkermonument. Dit is om elke dag voor die aangesig van die lewende, regverdige en alwetende God te leef wat die lewende en die dode sal oordeel!

[1] https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/insight/2023-05-28-voortrekker-monument-golgotha-that-became-reverends-preying-ground/

Die ANC se geveg met die “auto-pilot”

Die ANC se geveg met die “auto-pilot”

In ’n onlangs episode van “Air Crash Investigations” op televisie, word ’n vliegtuig kort voor landing deur weerlig getref. Die loodse aanvaar verkeerdelik dat die “auto-pilot” afgeskakel het. Hulle besluit om nie voort te gaan met die landing nie, maar eers te sirkel om vas te stel of daar skade is. Toe hulle wil begin klim, ontstaan daar ’n stryd tussen die loodse en die “auto-pilot”. Hulle wil op en die “auto-pilot” wil die hoogte handhaaf. Hulle wen gedeeltelik en kry die vliegtuig so 2000 voet hoër – ontspan effens, maar die “auto-pilot” neem oor en hulle beland in ’n duik. Gelukkig – wat seker as genade van Bo gesien kan word – skakel die “auto-pilot” minder as twee minute voor hulle in die see duik af en die loodse kan normaal voortgaan om veilig te land.

Die analogie met die Suid-Afrikaanse ekonomie is duidelik. As ons die markkragte sien as die “auto-pilot”, is dit duidelik dat die ANC-regering in ʼn hewige stryd met die markkragte gewikkel is in ’n poging om die ekonomie te laat groei. Somtyds wen hulle ’n bietjie deur beleggingskonferensies, maar dan neem die markkragte weer oor en die ekonomie duik verder as gevolg van die markkragte wat die ANC-regering self deur hulle ekonomiese benadering ingestel het om ons te laat duik.

’n Vriend twiet onlangs: “Dit behoort ’n vereiste te wees dat enige-een wat in die parlement mag stem oor ten minste Ekonomie 101 moet beskik.” Dalk is die hele Ekonomie 101 nie nodig nie, want ek dink dit was al in die eerste lesing in Ekonomie 101 dat die lektor verduidelik het dat as ’n produk se vraag hoër is as die aanbod, dan styg die pryse. Sodoende word die aanbod gestimuleer en die vraag ontmoedig. Wanneer die aanbod hoër is as die vraag, daal die pryse om die aanbod te ontmoedig en die vraag te stimuleer. Dit is die lesing wat die ANC-regering – of is dit nou die vyfjaarlikse ANC-konferensiegangers – skynbaar gebank het of nie verstaan dat dit ook op die arbeidsmag van toepassing is nie.

Die ANC is behep met die swak Gini-koëffisiënt wat die ongelykheid tussen arm en ryk meet, maar verstaan nie dat dit eintlik net die resultaat is van ’n onderaanbod van vermoënde, goed opgeleide bestuurders of professionele mense met ondervinding en ’n ooraanbod van swak opgeleide mense sonder ondervinding nie. Hierdie situasie dryf dus die vergoeding van bestuurders en professionele mense opwaarts en die vergoeding van die swak opgeleide werkers afwaarts.

Die oplossing om die Gini-koëffisiënt te verbeter, is dus om méér goed opgeleide mense met ondervinding in die ekonomie in te bring en minder swak opgeleide werkers sonder ondervinding in die beskikbare werksmag te hê. As ons na die ANC en sy vyfjaarlikse konferensiegangers se beleid kyk, is dit presies die teenoorgestelde.

Eerstens is daar die voorgeskrewe minimumlone. Minimumlone is seker gedeeltelik geregverdig en kan uitbuiting verhoed, maar dit is en bly ’n direkte inmenging in die markkragte. Dit skuif die salarisse van die laer besoldigde werkers kunsmatig op en gevolglik ook die ekonomiese gelykbreekpunt tussen arbeidskoste en die koste van kapitaalbeleggings in meganiserings- en outomatiseringstoerusting. Dit lei dus tot meer meganisering en minder werksgeleenthede en dus hoër werkloosheid. Dit forseer ook werkgewers om opnuut te kyk na hulle werksmag met die vraag of hulle nie met minder arbeiders kan regkom nie. In hierdie opsig is huiswerkers dalk ’n goeie voorbeeld: Ek vermoed dat baie gesinne besluit het dat hulle nie meer die luuksheid van ’n huiswerker kan bekostig nie en nou hulle eie werk doen.

In ander gevalle verhoog dit die produksiekoste van goedere wat prysverhogings noodsaak. Volgens die ekonomiese reël hier bo, beteken dit laer verkope en dus laer winsgewendheid wat personeelverminderings noodsaak. Die resultaat is dat party werkers meer geld kry, ander hulle werk verloor, pryse styg en die Gini-koëffisiënt dieselfde bly.

Tweedens is die ANC-regering se grensbeheer uiters swak met die gevolg dat letterlik duisende onwettige immigrante die land instroom. Ek vermoed die meeste hiervan is onvoldoende gekwalifiseerde mense met min of geen ondervinding nie. Die huidige debat oor xenofobie is die resultaat van dié mislukking. In plaas van beter grensbeheer en ’n beter immigrasiebeleid, beskuldig die regering net die mense wat die impak van hulle swak beleid eerstehands ervaar. Die gevolg is meer werkloosheid, onrus en geweld.

Derdens volhard die ANC met sy benadering van regstellende aksie en raskwotas in die werksplek. Dit het veral in die staatsdiens en die staatsbeheerde maatskappye gelei tot die vinnige vervanging van goed opgeleide, bevoegde, hoofsaaklik blanke mense met ondervinding, met mense wat minder of selfs geen toepaslike ondervinding het nie. Dit lei tot die ineenstorting van besigheidsprosesse en die geleidelike verval van die genoemde organisasies en die staatsdiens.

Mense wat so uit diens gestel is en sukkel om weer werk te kry, tesame met skeptisisme oor die toekoms van die land en die hoë misdaadsyfer, besluit maklik om te emigreer. Suid-Afrika het sedert 1994 seker ten minste een miljoen van sy goed opgeleide en ervare werkers verloor. Dit beteken ’n tekort aan die hoërinkomstewerkers wat weer hulle besoldiging opskuif en die Gini-koëffisiënt verswak.

As ‘n mens weet dat die kaliber (vermoë, opleiding, ondervinding en so meer) van die mense in ’n land die belangrikste, selfs die enigste faktor is wat jou land se ekonomiese vlak bepaal, dan besef jy die diepgaande skade wat die ANC aan die ekonomiese vermoë van Suid-Afrika aangerig het.

Die oplossing is nie ʼn vinnige een nie, want selfs as jy vandag die situasie omkeer, sal dit ten minste15 jaar neem voordat jy goed opgeleide mense uit die opleidingstelsel kry en as ons nog tien jaar bytel vir daardie mense om goeie praktiese ondervinding op te doen, mits daar mentors is om hulle indiensopleiding te gee, dan lyk die korttermyn ekonomiese toekoms nie goed nie. Oor baie is hulle aangestel, maar oor so min daarvan is hulle getrou.

Miskien is dit nou die tyd vir die ANC-regering, hul konferensie-afgevaardigdes en die kiesers wat vir hulle stem, om kennis te neem van wat Einstein gesê het: “Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”