Die kerk en die markplein het mánne nodig

Die kerk en die markplein het mánne nodig

Deur ds. Diederich Kleynhans[1]

In sy artikel “Nine Attributes of a Real Man”[2] vertel Vince Miller hoe hy sonder ’n pa grootgeword het en gevolglik nie iemand gehad het om hom oor ware en gesonde manlikheid te leer nie. Sy soeke na antwoorde op sy diepste vrae het Hom na God én na die Skrif gedryf. Hier het hy sy antwoorde gekry, vervulling gevind en geleer wat seunskap beteken.

Die wêreld se vals manlikheid

Miller skryf verder dat ‘n duidelike en presiese definisie van manlikheid nie by die wêreld te vinde is nie. Selfs die vermaaklikheidswêreld faal, want sý voorbeelde van die sogenaamde regte man is manne soos die chauvinistiese rokjagter James Bond; of die onverstoorbaar-taai en emosioneel-afgetrokke Jason Bourne; of die gierige en magsugtige Gordon Gekko (Wall Street).

Meer onlangs sou ons dalk selfs die seksbehepte vrouehater en miljardêr Christian Grey (Fifty Shades of Grey) by hierdie lys name kon voeg. Telkens sal ons moet bieg dat nóg die gay Suid-Afrikaanse modeontwerper Rich Mnisi[3] met sy Pride-vroueswembroek (vertoon deur ‘n man), óf die rokgeklede Harry Styles[4] op Vogue se voorblad; nóg die transgenderbeïnvloeder Dylan Mulvaney[5] van die Bud Light-advertensieveldtog, óf enige van die ander macho Hollywood-manne die Bybelse definisie van manlikheid gestand doen!

“Manlikheid na God se hart”

Hierteenoor gee die Bybel die regte perspektief op manlikheid, meen Isaac Khalil.[6] ’n Perspektief wat deur die voorbeelde van gewone, sondige manne se verhale (bv. Dawid se verhaal) as raamwerk vir “manlikheid na God se hart” dien. Die Bybel gee vele prototipes van manlikheid, maar bevat ook talle heenwysings na manlike kenmerke waaruit ons ’n Bybelse definisie van manlikheid kan formuleer.

In die Ou Testament lees ons van ‘n getroue Noag, ‘n toegewyde Abraham en ‘n nederige Moses. Josua was opreg en Simson was sterk. Samuel was die toonbeeld van ’n profetiese leier. Salomo was wys en Daniël het besonderse insig en onderskeidingsvermoë gehad. God het hierdie manne gekies, geroep en toegerus. Hy het hulle gebruik en by hulle kan ons leer. Ja, ook by die talle manne in die Nuwe Testament: Johannes, Petrus, Paulus – lewende boustene in die tempel van God.

“Daar heers ’n skryende hunkering in die kerk na manne om weer mán te wees,” skryf Richard D Phillips in sy boek The Masculine Mandate, “omdat die kompeterende ideologieë van die kulturele tydsgees en die vals dogmas van liberale kerke die krisis (ook ‘n samelewingskrisis) ignoreer en selfs aanhits.” Hierdie verwarring aan die een kant en blatante wanvoorstellings aan die ander kant, noop die kerk om deur ’n reformatories-teologiese lens vir leidrade na die Skrif te draai (so ‘n bietjie ruggraat te wys) en dán tot die gesprek toe te tree, mét antwoorde.

Die Bybel is duidelik oor die eienskappe wat manne nie net in hul huise en families, gemeentes en (geloofs)gemeenskappe moet openbaar nie, maar ook moet aanwend op die markplein en in die publieke sfeer – eienskappe van manwees wat húlle gevorm het en waarop die volgende generasie moet voortbou.

Selfopofferende leierskap

Vanuit die staanspoor begrond die Bybel die eerste eienskap, selfopofferende leierskap, in navolging van Goddelike leierskap. Die man se mandaat vloei voort uit God se opdrag aan Adam: Heers oor … die skepping … as Mý verteenwoordiger (vgl. Gén. 1:26). In hierdie besonderse posisie, uniek geskape na God se beeld, word die man geroep en aangestel om met dapperheid, wysheid, insig en medelye te lei! Die Here Jesus gee self die voorbeeld van Bybelse leierskap ten opsigte van die huwelik (sy liefde vir sy bruid, die kerk) en wil dat Christenmanne Hom hierin navolg.

Dit is nié: wrede oorheersing of diktatoriale magsvergrype nie! Dit ís: verantwoordelike, selfopofferende, dienende liefde in gehoorsaamheid aan God. As vóór-loper moet die man aanmoedig, inspireer, lei; altyd soekend na die wil van God. By kruispaaie moet hý die een wees wat verantwoordelikheid neem en dan bereid wees om die gevolge te dra – soos ‘n toegewyde Abraham.

Dapper nederigheid

Nederigheid is beslis nie ‘n term wat die wêreld sal gebruik om manlikheid te beskryf nie. Vanuit ’n Bybelse perspektief is dit egter ‘n sleutelaspek van “manlikheid na God se hart”. Die moderne samelewing se “Amerikaanse droom” en Instagram- en TikTok-viering van die eie-ek, het daartoe gelei dat arrogansie en selfverheerliking as ’n vorm van deugsaamheid geprys word. Mag, krag en sterkte het die antagoniste van nederigheid geword.

Die status van nederigheid is gevolglik degradeer tot ’n “kruk”, of selfs ’n “kenteken van swakheid”. Bybelse manlikheid kyk en lyk egter anders as dit kom by nederigheid en dít wat nederigheid doen. Moses, dapper leier van God se volk, … was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem (Núm. 12:3). Hy is die een wat in die aangesig van die Allerhoogste, wanneer die toorn van die HERE teen die volk wil ontvlam, keer op keer tussen God en sy volk gaan staan het; die een wat stotterend die paleis van Farao ingaan en telkens eis: Laat my volk trek … Dapper, manlike nederigheid is nie gelyk aan “trap maar op my nie”, maar is vinnig om te vergewe en stadig om kwaad te word, én bowenal, bereid en gereed om te dien!

Wyse selfbeheersing

Wanneer manne in nederigheid opstaan en vóór stap (agter Jesus aan, waar dit ook al mag wees), moet hul gedagtes, woorde en dade in lyn met God se wil wees. In toegewydheid en met dissipline, eerlik en opreg, moet eers “na binne” gekyk word. Daarna volg die wandel en handel na buite in sý kerk, sý koninkryk. Hy beloof om in ons daaglikse en mees basiese behoeftes te voorsien en ons moet tevrede daarmee saamleef. Dit beteken natuurlik nie dat ons nie met ’n gesonde mate van ambisie en entoesiasme kan streef na groei en verbetering nie.

In ons mees intieme verhoudings ontdek ons dikwels die waarde en vreugde van selfbeheersing die meeste – wanneer ons ander (baie gereeld selfs ons eie kinders en eggenote) se belange en behoeftes bo ons eie stel en beleef hoe hulle floreer in geleenthede waaruit ons, deur selfbeheersing, teruggetree het. Dan weet ons: Ek verloor niks deur aan ander ’n tikkie sonskyn te gun nie.

Versorgende beskerming

Die voorreg om te beskerm en te versorg, veral ten opsigte van die veiligheid en welstand van ander, is by uitstek ‘n eienskap van Bybelse manlikheid. Die wêreld gee hier ook ‘n vals betekenis aan die konsep van versorging, want tradisioneel is ons gekondisioneer om aan die term “versorging” die beeld van ’n moeder te heg, terwyl die Vader vir Homself hierdie voorreg toe-eien: … hoe dikwels wou Eksoos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak… (Mt. 23:37). En: Soos ’n arend …  sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra (Deut. 32:11).

Versorging en beskerming strek egter veel verder as die liggaamlike! Dit sluit die psigiese, emosionele en geestelike welstand en ontwikkeling van ons naaste in. As mans móét ons natuurlik ons vrouens liefhê en versorg, bewaar en beskerm – soos Christus sy kerk liefhet. Maar hierdie versorgende beskerming kring ook uit na die res van die skepping waaroor ons rentmeesters is.

Hoe ver strek hierdie verantwoordelikheid? Ons plig is om ’n veilige omgewing te skep waarbinne selfs die mees weerlose mens kan ontwikkel om sy/haar Skepper te leer ken, te dien, te eer. In hierdie verband kan ons nie help om te vra nie: Waar is manne se stemme van protes wanneer aborsiesyfers die hoogte in skiet? Waarom swyg hulle?

Allesomvattende voorsiening

Laastens is voorsiening een van die besonderse deugde van Bybelse manlikheid, wat ook deur die sekulêre tydsgees onder ‘n wanvoorstelling gebring is. Hierdie eienskap word deur die wêreld gereduseer tot finansiële kapasiteit en geldelike vermoëns. Bybelse voorsiening impliseer natuurlik ook materiële middele en potensiaal, maar is geensins daartoe beperk nie!

Allesomvattende voorsiening is meer as net die beursie vir gesin, vriend, geliefde en naaste. Dit is die stem wat ondersteun op die sportveld; die inspirerende woord voor ’n groot eksamenvraestel; die gebedstem knielend langs ’n kind voor slapenstyd; die boodskap wat hoor of ’n vriend nog veilig is. Dit is die man wat die anker in die stormwaters van sy vrou se depressie is; die man met die oop hand wat die werklose buurman om die braaivleisvuur op ‘n skaapribbetjie trakteer.

En hierdie manne gee, omdat hulle weet hoeveel hulle ontvang het; hulle doen, omdat hulle weet hoeveel hulle in die skuld is; hulle dien, omdat hulle die Dienskneg aan die kruis kén, liefhet en wil verheerlik. Hy, die tweede Adam; die vlekkelose, sondelose, Beeld van God, in perfekte gehoorsaamheid; as waaragtige God én ware mens – Hóm wil Bybelse manne naleef!

[1] Leraar van die NG Kerk Secunda-Goedehoop.

[2] https://www.desiringgod.org/articles/nine-attributes-of-a-real-man

[3] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[4] https://www.vogue.com/article/harry-styles-cover-december-2020

[5] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[6] https://lifehopeandtruth.com/life/blog/biblical-masculinity-becoming-a-man-after-gods-own-heart/