Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Spore van die vryheidsdrang wat so kenmerkend van die Afrikanervolk dwarsdeur ons geskiedenis was, word na alle waarskynlikheid reeds so vroeg as 1795 aangetref met die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam. Hierdie opstande is voorafgegaan deur die grootskaalse korrupsie onder die Kompanjiesbewind (1652-1795) sedert die sewentigerjare van die 18de eeu.

Ná jare waarin die Kaapse burgers se belange blatant geïgnoreer is en daar selfs hardhandig teen sommige van hulle opgetree is, het die bom in 1795 gebars, alhoewel daar reeds sedert 1784 ’n nuwe gees van verset waarneembaar was. Diegene wat nie meer met die toedrag van sake genoeë geneem het nie, het na hulself as “patriotte” begin verwys. Hulle het besef dat selfs hulle pogings om die Nederlandse Regering (State-Generaal) se bemiddeling te bekom, tevergeefs was. Reeds teen 1794 was die verset nie meer net ekonomies nie, maar ook polities van aard, soos die totstandkoming van ’n Kollege van Volksrepresentante (volksverteenwoordigers), bestaande uit 11 lede onder voorsitterskap van oudlanddros Marthinus Bergh, aantoon. Hierdie liggaam moes sowel die burgers van Kaapstad as die buitedistrikte verteenwoordig, hulle belange behartig en hulle in sake van belang voorlig.

Nie net het die ekonomiese beleid van die Kompanjie armoede en ellende in die distrikte veroorsaak nie, maar voeg daaraan toe die voortdurende Xhosa-strooptogte wat op die Tweede Xhosa-oorlog van 1793 uitgeloop het en wat die Kompanjieslanddros Maynier in Graaff-Reinet en Faure in Swellendam, tot verbittering van die burgers, op onbekwame wyse gevoer en beëindig het.

Die burgers was ook ontevrede omdat Maynier Hottentotte bo hulle begunstig het, drosters teen hulle base beskerm het en geknoei het met kwitansies vir gelde wat deur die burgers inbetaal is. Dit het vroeg in 1795 tot ’n stormagtige vergadering aanleiding gegee, waartydens ’n aantal gewapende burgers Maynier gelas het om die drosdy onmiddellik te ontruim. Die volksverteenwoordigers het daarop, in wat as ’n direkte uitdaging van die Kompanjiesgesag beskou kan word, hulle eie amptenare aangestel. CD Gerotz is as voorlopige landdros aangestel, terwyl Jan Booysen in heemraadsaangeleenthede sou voorsit en Adriaan van Jaarsveld as president sou optree wanneer krygsaangeleenthede ter sprake is. Hiermee is die Kompanjiesgesag afgesweer.

 Sowat vyf maande later het Swellendam die voorbeeld van Graaff-Reinet gevolg toe ’n sestigtal gewapende burgers onder hulle selfverkose “Nasionale Kommandant”, PJ Delport, Faure en van sy meelopers verjaag het en daarna hulle eie administrasie daargestel het. ’n Nasionale Konvensie (Vergadering) is ingestel met die Nasionale Landdros, Hermanus Steyn, as president. Die Swellendamse burgers het verdere stappe gedoen om hulle nuutgewonne vryheid te bewaar. Hulle het onderneem om tot die dood toe getrou te wees en om hul vryheid “tot die laaste druppel bloed” te verdedig, omdat hulle “lank genoeg onder die juk van slawerny was”. Nie net is hierdeur oënskynlik ’n nuwe dimensie, waarin liefde vir die vryheid sterk op die voorgrond getree het, aan verset toegevoeg nie, maar hiermee het Swellendam ook die gesag van die Kompanjie finaal afgeskud.

Die afleiding kan derhalwe waarskynlik met reg gemaak word dat die Afrikaner se oorheersende vryheidsdrang sy ontstaan in Graaff-Reinet en Swellendam gehad het.

Interessant genoeg, is die woord “republiek” ook vir die eerste keer tydens die gebeure in Graaff-Reinet en Swellendam gebruik. Daaroor bestaan daar by historici ’n verskil van mening. Sommige vertolk dit as sou die Afrikaners van Graaff-Reinet daarmee bedoel het dat hulle ’n republiek wou hê. Ander weer beweer dat hulle maar net bedoel het dat hulle hul onder die gesag van die vrye Republiek van Nederland wou bevind.

Die geskiedenis van die Afrikanervolk is intussen ongelukkig ingrypend beïnvloed deur die Engelse besetting van die Kaap in 1795. Ook die nuutgewonne vryheid van Graaff-Reinet en Swellendam is hierdeur tot in sy wortels aangetas. Sowat ’n maand ná die verowering het die volksverteenwoordigers van Graaff-Reinet in ’n brief aan generaal Craig die situasie in hierdie distrik uiteengesit en versoek dat die amptenare en krygsoffisiere wat deur die volkstem daargestel is, deur die Engelse erken word. Craig het geantwoord dat Gerotz kon aanbly tot tyd en wyl Craig se aanstelling, Bresler, sy opwagting maak.

Dit was vir die burgers onaanvaarbaar en hulle het te kenne gegee dat hulle liewer sou sterf as om hulle “Vaderland” prys te gee.

Toe Bresler dan ook in Februarie 1796 in Graaff-Reinet aankom, is die Britse vlag wat gehys is, afgetrek en het almal geweier om die eed van trou af te lê. Dit het Craig in ’n baie moeilike situasie geplaas, aangesien hy dit nie kon toelaat nie. Maar die Britse posisie aan die Kaap was nog nie verseker nie en daar was sprake van ’n vyandelike vloot op pad na die Kaap. Die patriotte was daarvan bewus, maar toe dit nie gebeur nie en die Britse posisie versterk is, het van die ontevredenes hulle aan die Britse gesag onderwerp, sonder dat dit vir Craig nodig was om teen hulle op te tree. Daarmee was hulle vryheid en vaderland, soos hulle daarna verwys het, daarmee heen. Dit laat ’n mens nogal dink aan wat in 1994 gebeur het, nie waar nie? Nietemin, die vryheidsvlam in die harte van regskape Afrikaners was nie daarmee vir goed geblus nie.

’n Lewende klokkespel wat selfs ná Paasnaweek weergalm

’n Lewende klokkespel wat selfs ná Paasnaweek weergalm

Op 8 Maart 2019 is die sinodale besluite wat die NG Kerk in 2016 oor selfdegeslagverhoudings en -huwelike geneem het, deur die Hooggeregshof ter syde gestel.

Die Hooggeregshof in Pretoria is deur ʼn groep van vier lidmate genader om die besluit van 2016 onwettig en ongeldig te verklaar. In hul beantwoordende verklaring het die NG Kerk toegegee dat die besluite deur die appèlliggaam van die Algemene Taakspan Regte (ATR), rakende die aanvaarding van appèlle teen die vorige besluit van 2015, onwettig en ongeldig was. Hiermee het die NG Kerk erken dat hy sy eie huishoudelike reëls oortree het.

Tot voor hierdie uitspraak het die howe hul egter deurgaans daarvan weerhou om by kerke se leerstellige verskille betrokke te raak. So het die Konstitusionele Hof byvoorbeeld beslis dat mense die reg en ook grondwetlike beskerming geniet om geloofsoortuigings te handhaaf wat selfs “bisar, onlogies en irrasioneel” is. Wat met hierdie hofsaak ter sprake gekom het, was die vraag of die weiering om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en te aanvaar, een van hierdie geloofsoortuigings is wat grondwetlike beskerming geniet. Twee regte binne die Suid-Afrikaanse Grondwet blyk in konflik met mekaar te wees, naamlik die reg op godsdiensvryheid en die reg dat niemand op grond van jou seksuele oriëntasie teen jou mag diskrimineer nie.

Wat interessant is van die uitspraak, is dat die Hof in sy uitspraak gesteun het op die omstrede verslag van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) rakende die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se geloof, waarin daar vir die regulering van alle godsdienste deur middel van wetgewing gepleit word. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie verslag se aanbevelings deur die parlementêre portefeuljekomitee verwerp is. Hierdie verwerpte aanbeveling van die KGT-kommissie word dus nou vir die regters deel van die basis op grond waarvan hulle reken die hof wel oor die kerklike aangeleentheid mag beslis.

Tot op hede is kerke deur die hof as vrywillige organisasies beskou. Tot nou het dit beteken jy sluit vrywillig by ʼn kerk van jou keuse aan en daardeur aanvaar jy die oortuigings van die betrokke kerk en lê jy jouself by die interne prosedures en besluite neer. Die hof was nog altyd huiwerig om by enige leerstellige twiste betrokke te raak en het dit vermy om uitspraak te lewer oor die inhoud of die waarheid van geloofsoortuigings. Die hof het aanvaar dat individue wat by ʼn kerk aansluit, bereid moet wees om die regverdige beslissings binne die betrokke kerk se strukture te aanvaar. Wanneer die saak dan wel voor ʼn hof kom, is die vraag of daar enige onreg gepleeg is. Die hof is dan in daardie gevalle gevra om te bepaal of die betrokke kerk in stryd met sy eie Kerkorde en besluite opgetree het.

Teen hierdie agtergrond kom die uitspraak van 8 Maart 2019 waarin die Hooggeregshof van Pretoria besluit om wel by die inhoud van ʼn kerklike twispunt betrokke te raak, omdat:

  • die Hof oordeel dat besluite oor seksuele oriëntasie buite die raamwerk van godsdiensvryheid val, maar deur die Grondwet gereël word;
  • daar getoets moet word of die NG Kerk met sy 2016-besluite voldoen aan hulle wetlike, etiese en gemeenskapsverantwoordelikheid;
  • geen argumente deur die NG Kerk daarvoor gepleit het dat die saak op ʼn ander forum hanteer kan word nie, veral aangesien twee sinodes ná vele bespreking en debat nie tot ʼn konsensus-besluit kon kom nie.

Die belangrikste rede waarom die hof egter besluit het om wel by die substantiewe kwessie van onregverdige diskriminasie betrokke te raak, is omdat die aansoekers en ook die NG Kerk die hof daartoe versoek het! Deur gehoor te gee aan die versoek, wyk die hof af van die gebruik hier ter lande en ook internasionaal.

Hoewel die wet vir iets soos geregverdigde diskriminasie voorsiening maak, het die hof in sy uitspraak telkens daarop gewys dat die NG Kerk nêrens in hulle stukke probeer het om enige feite hieroor aan te bied nie. Hiervolgens moes die NG Kerk aantoon hoe geloofsgemeenskappe se besluite oor seksuele oriëntasie in terme van Artikel 36 van die Grondwet gesien kan word as ʼn beperking van die betrokke gelykheidsregte. Die NG Kerk het dit egter ook nie beredeneer nie.

Op grond van die feite (of die doelbewuste uitlating daarvan) aanvaar die hof dat die diskriminasie nie geregverdig kan word nie. Diskriminasie kan ook geregverdig word deur aan te toon dat die mikpunt en doel daarvan ʼn waardige en belangrike doel in die gemeenskap het. Ook hierdie punt is nie deur die NG Kerk beredeneer nie.

Vanweë die gebrek aan argumente en feite bevind die hof toe dat die 2016-besluit nie net onregverdige diskriminasie is nie, maar ook sekere lidmate se menswaardigheid aangetas het, aangesien persone in verhoudings met iemand van dieselfde geslag nie leraars in die kerk mag wees nie en ook nie toegang het tot kerklike seremonies nie.

Die hof het verder ʼn leemte in die NG Kerk se sinodebesluit gesien in die feit dat dit uiteindelik gegaan het oor die uitsluiting van persone wat nie heteroseksueel is nie uit leierskapposisies en kerklike huweliksbevestiging, terwyl hulle nie uit die kerkgemeenskap uitgesluit word nie. Die hof is van oordeel dat jy nie iemand vanuit die LGBTIQA+ -gemeenskap mag toelaat om lidmaat van die kerk te wees, maar daarna uit sekere posisies en seremonies uitsluit nie.

Waar plaas dit gelowiges en ander kerke in Suid-Afrika?

Hoewel hierdie uitspraak spesifiek op die NG Kerk gemik is, het dit ook implikasies vir ander kerke. ʼn Presedent is nou geskep is waarop daar in toekomstige hofsake geleun sal word. Dit is egter tans nog nie duidelik of die hof se uitsprake oor die grondwetlike aangeleentheid deel van amptelike uitspraak is en of dit bloot ʼn opinie binne die uitspraak is nie. Hieroor het die Alliance Defending the Autonomy of Churches in South Africa (ADACSA) uitsluitsel by die hof gevra.

Juis danksy die beginsel dat ʼn soortgelyke saak binne ʼn ander konteks nie noodwendig dieselfde beoordeel kan word nie, sal enige toekomstige sake moet fokus op al die gebreke wat in die NG Kerk se verdediging aangetoon is.

Dit is egter kommerwekkend dat die hof sy uitspraak nie net tot die prosedurele foute beperk het nie, maar ook oor die grondwetlike aspekte sekere bevindings gemaak het. Sodoende het die bedreiging van godsdiensvryheid ʼn groter werklikheid geword.

Die uitspraak behoort ook ʼn wekroep vir kerke te wees, wat getrou aan die Bybel wil bly, om erns met kerklike tug te maak en konsekwent te wees. Kerklike tug kan nie beperk word tot sekere persone en sekere oortredings nie. Jy kan nie eers tug wil toepas wanneer iemand as ampsdraer verkies word nie. Daar moet met dieselfde erns teen alle sondes opgetree word.

Vir kerke wat die oortuiging handhaaf dat die Bybel nie vrouens as ampsdraers toelaat nie, het hierdie uitspraak natuurlik ook die gevaar dat daardie standpunt op presies dieselfde gronde betwis kan word.

Hoewel daar baie vrae gevra kan word oor die redes waarom die NG Kerk nie hierdie saak beter verdedig het nie, is die water onderdeur die brug. 8 Maart 2019 gaan in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis heel moontlik ʼn datum word naas Ordonnansie 7 van 1843, die Loedolff-saak van 1862 en ander. 8 Maart 2019 gaan onthou word as die saak waarin die NG Kerk nie eers probeer het om redes aan te voer hoekom Bybelse gehoorsaamheid geregverdigde diskriminasie kan wees nie.

Die saak in die hof het dalk oor homoseksualisme gegaan, maar die stryd binne die NG Kerk bly ʼn stryd om Skrifgesag.

Oor verwysings na God as vroulik: Eerste opmerkings (1)

Oor verwysings na God as vroulik: Eerste opmerkings (1)

Die onlangse gebeure in Stellenbosch met die legitimasie van studente waar na God Drie-enig verwys is as die Een wat “haar verbond bevestig, … of Hom, hoe jy dit ook al sien”, is tans sterk onder bespreking. Die vraag oor die implikasies van verwysings na God as vroulik, het weer opgevlam. By alle verleentheid, bied dit ook ’n besondere geleentheid om na te gaan waarom soveel mense deesdae telkens in dieselfde soort slaggate beland. Eintlik is hierdie saak ook nie so nuut nie en wie werklik hieroor wil naslaan, sal goed doen om uit verskillende tradisies verteenwoordiging van getroue antwoorde te vind in ’n publikasie van 1992 met die naam, Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism.[1] Die goeie nuus is dat die Bybel en teologie steeds in ons geslag vernuwend met mense kan werk. Maar dan moet ons leer om nie ons Bybel en tradisie vir ’n pot lensiesop te verruil nie. Wie werklik aangesit het by die feesmaal van klassieke teologie, wil dit ook nie doen nie. Daarom is dit belangrik dat ons bepaalde bakens goed in die oog sal kry.

Heerlike teologie

My pa het ons altyd vertel van ’n oom wat vir hulle geleer het: “Om mens te wees, is lekker, maar dan moet jy ’n lekker mens wees.” Oorgedra na geloofsvrae kan ons stel: Om teologie te beoefen is heerlik, maar dan moet jy leer om ’n heerlike beoefenaar van die teologie te wees. Dit is ook nie so moeilik nie. Ons hoef eenvoudig soos kinders te wees wat luister en gehoorsaam wat hul Vader, let wel, in en deur Christus en sy kerk duidelik gemaak het. Daar is ’n sin waarin elke gelowige ’n mini-teoloog is, want teologie gaan daaroor om God en sy Woord te ken en met jou lewe in verband te bring. Al wat betitelde teoloë doen is om dit op amptelike vlak te doen, maar dikwels gaan nie-amptelike teoloë die amptelike teoloë voor in egte teologie. Om maar een voorbeeld te noem: Die ou krom tannie wie se oë blink en wat vir die dominee met lewende geloofsoë in haar beproewing sê: “Dit gaan goed, dominee, want die Here leef en Satan beef”, is dalk ’n beter teoloog as die dominee wat al referate oor die soewereiniteit van God uitgewerk het.

Bewus van hierdie werklikheid, wil ek tog waag om my mede mini-teoloë te wys op ’n aantal bakens wat help om die saak oor verwysings na God as vroulik te hanteer. En laat my toe om my gelowige leser se goeie gesindheid te verseker: Ons behoort inderdaad ’n hekel te hê aan teoloë wat uit die hoogte vir gelowige mense wil vertel hoe eenvoudig hulle is om nie die kompleksiteit van teologiese sake beter te begryp nie. Het ek my leser dan nou met vleitaal probeer sagmaak vir my saak? Nee, stellig nie. Soos die profeet Sarel van Roepersfontein by geleentheid gesê het: “Ek wil net bevestig dat drie vingers ook terugwys na diegene wat uit die hoogte praat van hermeneutiese onderrokke wat uithang by gelowiges wat net maar hulle Bybels getrou wil lees.”

Metode en aptytwekkers

Wanneer ons die saak oor verwysings na God as vroulik moet hanteer, is daar ten minste drie sake wat aandag moet kry. (1) Ons sal deur die Skrif moet nagaan hoe daar oor God gepraat word en spesifiek hoe Hy aangeroep word. Ons sal hiermee ook opnuut moet vra wat die gesag van die Skrif beteken en hoe ons dit in breë trekke behoort te hanteer. (2) ons sal voorts moet nagaan hoe die saak of verwante sake in die geskiedenis van die kerk hanteer is. Die vraag wat natuurlik hiermee saam hanteer moet word, is hoe ons met die geskiedenis van die kerk se worstelinge en interpretasie omgaan. Daarna (3) sal ons moet vra hoe ons vandag op die skouers van hulle wat ons voorgegaan het, getroue kinders van God kan wees wat in ons eie tyd waardig die roeping wandel waarmee ons geroep is. Hiermee saam sal die gees van die tyd en die tipiese winde wat vandag waai, in ag geneem moet word. Dit sal ons by ’n gevolgtrekking bring.

Dit kan wel belangrik wees om hier reeds inleidende aptytwekkers te gee en nie soos pure postmoderniste die antwoord oneindig uit te stel nie. Hier kan daarom reeds opgemerk word dat dit een ding is om heel geregverdig vroulike eienskappe ook met God in verband te bring deur vergelykings, aangesien beide man en vrou na die beeld van God geskape is. Dit is egter ’n ander saak, en dit is waar die weë skei, om na God as vroulik te verwys en veral om Hom, let wel, so aan te spreek. Dit is eintlik ook reeds ’n verlore stryd vir die wat dit wil teengaan, aangesien dit net te diep by die deursnee Christen ingegraveer is wat tereg geleer het om die Onse Vader te bid. Al wat eintlik oorbly vir diegene wat daarvan hou om te hoes teen die donderslae van die Woordopenbaring, is om met een of ander vorm van suspisie te werk: Is dit werklik so dat God dit sê, of het ons in die Bybel maar net te doen met woorde oor Hom in ’n patriargale kultuur? Kortom, is die Bybel Woord van God of net woorde oor God in ’n ander tyd wat ons vir ons tyd moet “herinterpreteer”?

Die hermeneutiek van suspisie hou van laasgenoemde antwoord, maar dit is eintlik nie iets nuuts nie. Die slang in die paradys het reeds suspisie oor God se Woord begin saai en die afgelope eeu het ons meer as genoeg van twyfelkunde in teologiese en filosofiese departemente gehad. Die gevolg is dat te veel mense uit die volk, soos in die tyd van Elia, maar net een antwoord kan gee toe hy hulle vra waarom hulle op twee gedagtes hink (vgl. 1 Kon. 18:21). Die volk het stilgebly, want inderdaad het hulle nie meer geweet nie. Daar is egter wel wonderlike maniere om tot helderheid te kom. Die bekende skrywer en Christelike apologeet, C.S. Lewis, het by geleentheid deur een van sy karakters in ’n verhaal daarop gewys dat daar skynbaar ’n dosyn sienings oor enigiets is. Dit is, totdat jy die antwoord ken; dan is daar nooit meer as een nie.[2] Klink dit arrogant? Nie as jy al in praktyk dit self beleef het nie. Kyk maar vir ’n begin net na ’n episode uit die mediese Sherlock Holmes-reeks, House, as enigiemand nog twyfel, of gaan soek sommer net weer net ’n goeie speurverhaal om te lees.

Suspisieus oor suspisie

Daarom moet ons eenvoudig suspisieus wees teenoor die kampioene van suspisie. As hulle daarin uitmunt om te vra wat die storie agter die storie is, ook van die Vadernaam, en twyfel-twyfel alles op losse skroewe stel behalwe hul eie twyfel, wel dan sal ons die gunsie terugkaats. Ons sal suspisieus wees oor hul suspisie en ook vra wat die storie agter hul storie is. Ons sal die geneesheer met sy of haar eie medisyne hanteer – ons sal die dekonstruksioniste dekonstrueer. En ons sal verder moet gaan en suspisie eerder met dankbaarheid vérvang. Waarom? Omdat ons die openbaring van God, in natuur en Skriftuur, werklik as verdiepende misterie óntvang. Dit het skynbaar mode geword om openbaring en misterie teenoor mekaar op te stel. Maar wat gebeur wanneer ons vind dat die openbaring van God nie die misterie wegneem nie, maar tegelykertyd lig bring asook die misterie verder verdiep? Die antwoord: Dan het jy ’n leeftyd van avontuur en ontdekking in verdiepende misterie wat voorlê. Dit geld ook met betrekking tot openbaring van die Vadernaam. Dit is maar een saak wat die herontdekking van die openbaring van God in die natuur en die Skriftuur vir ons inhou. Dit het werklik die potensiaal om ons geslag te vernuwe in die geheimenis van eeueoue woorde wat oopbreek om ons op wonderlike avonture te neem waar die openbaring van God net verdere verwondering bring. Daarvoor het ons klassieke teologie nodig en nie korrelasie-teologie wat met byderwets-gekleurde brille dink dat dit alreeds die gehalte van die bril waarborg nie. Hierop sal daar in volgende aflewerings verder ingegaan word met die werkswyse wat hierbo uiteengesit is.

 

[1] Kimel, A. 1992. Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism. Grand Rapids: Eerdmans.

[2] C.S. Lewis, That Hideous Strength.

Ds. Johan Theron deel hulle COVID-19-ervaringe

Ds. Johan Theron deel hulle COVID-19-ervaringe

Die Covid-19-virus is nie die ergste nie, maar wel die vrees waarmee dit die mens beetgepak het. Dit het ons lewe heel interessant gemaak. 

My en Meisie se lewens was vir twee maande intens geraak. Soos elke jaar die afgelope vyf jaar, het ons verlede jaar betyds ons vlugkaartjies by SAL gekoop; die goedkoopste en ’n direkte vlug na Perth, Australië. Ons het toé al die tyd spanningsvol afgewag, want SAL was in die weegskaal. Die nuwe jaar breek aan en die lugdiens hou nog – 16 Maart kom al nader. Met die nuwe jaar saam kom daar ook ’n nuwe virus wat baie gou die hele wêreld op hol het, veral toe die media Italië se gevalle met vreesaanjaendheid die wêreld instuur.

Met ’n gewik en ’n geweeg is ons 16 Maart 2020 op die lughawe. Om van ons kant te kanselleer sou meebring dat ons al die geld verloor. Rondom ons is dit mense met maskers en handskoene en botteltjies met ontsmettingsmiddels. Op daardie stadium het ons nog geen telefoniese kennisgewing gekry dat die vlug afgestel is nie. So stoom ons voort tussen gemaskerde mense en kontrolepunte deur totdat ons uiteindelik op ons sitplekke sit (nadat die vlug twee ure laat was).

Nege ure later land ons op Perth lughawe. Ons het dit gemaak. Nie sonder ’n verrassing nie. In Afrikaans word ons twee toe deur die vlieënier in Australië verwelkom (ons skoonseun was op daardie stadium in die beheertoring). Daar tref ons dieselfde voorsorgmaatreëls aan, maar met minder vreesagtigheid. Die vereiste is dat ons vir twee weke by die kinders in huis-isolasie is sonder dat dit hul bewegings inperk. Ná die twee weke kon ons vry in die openbaar beweeg.

Ons sou 14 April weer terugvlieg, maar intussen het daar baie gebeur. Suid Afrika het in grendelstatus gegaan; alle vlugte is gekanselleer en SAL is windaf. Daarmee saam ook ons retoerkaartjies. Alle verbinding met die reisagentskap en die lugdiens was verbreek. Die enigste wat ons kon doen, was om die ambassade te kontak en ons name as gestrandes op te gee. Die kinders wou nie hê ons moes terugkom nie; die berigte vanuit Suid-Afrika rakende die repatriasievlugte en kwarantyntyd was nie bemoedigend nie. Intussen het die tyd aangestap sonder enige nuus van iewers en vier weke word toe ses weke.

Skielik een oggend kry ons die tyding dat daar op 30 April ’n vlug Suid-Afrika toe is vir vasgekeerdes in Australië. Wil ons of wil ons nie? Ons het twee dae om te besluit; die geld moet inbetaal wees die vorige dag vóór vyfuur die middag. Ten spyte van ons retoerkaartjies moet ons toe nog R17,000 inbetaal. Ons wag. Die kinders sê, nee en ons twee is in groot twyfel. Vyf minute voor die tyd betaal ons in.

Dit was ’n terugvlug van groot onsekerheid oor wat om te verwag. Waar en hoe gaan die kwarantynplek wees? Dit leef in al die passasiers se gemoedere. Ons kom om tienuur Donderdagaand in Johannesburg aan. Ons word aangesê om in die vliegtuig te bly totdat ons koors geneem en ons hande gereinig is. Dit word warm en bedompig en die tyd stap aan. Die leviete word ons voorgelees en ons wag. Ons sal uitgaan en na die paspoortkontrolepunt geneem word terwyl ons bagasie vir ons buite, langs die vliegtuig, op die teerblad, neergesit sal word. Onder goeie bewaking word ons op ons tog begelei. Uiteindelik was ons voor die uitgang na buite, aan die agterkant van die lughawe. Ons word in groepe van nege deurgelaat na ’n plaat van minibus-taxi’s wat gereed staan; sewentien van hulle. Uitgelaat, moes ons die bagasie kry en na ons taxi neem. Vir die eerste keer in my lewe ry ek in ’n “taxi” met die vraag in my gemoed of dit gereinig is. Dit was iets om te aanskou. Sewentien of meer taxi’s wat met polisiebegeleiding met flitsende ligte deur die strate van Johannesburg ry. Waarheen? bly ons wonder.

Eers verdwaal die touleiers. Die heel pad volg ek die naamborde en kom agter ons is later op die westelike ompad in die rigting van Soweto. Gelukkig word daar by Sandton afgedraai na Fourways. Nog later sien ek die naambord van die Indaba hotel. Wat ’n massiewe terrein! In die nag lyk dit nog erger met so n klomp voertuie. Toe was dit reeds halftwee die oggend. Weer wag ons. Die passasiers word taxi vir taxi ingeboek en ons was van die laastes. Later besef hulle dit gaan tot ligdag duur en ons word na ons kamers geneem om die volgende oggend alle papierwerk af te handel. Halfdrie was ons in ons kamer. Heel verlig besef ons dit is ’n gerieflike kamer met privaat badkamer en stortgeriewe. Ook ’n ketel met koffie en tee; – so welkom daardie tyd van die oggend ná baie lang ure.

Ek slaap tot laat die oggend in die bed met sagte matras en heerlike beddegoed, net soos dit in ’n ordentlike hotel kan wees. Wat ’n dankbare gevoel binne my ná ’n spanningsvolle tyd.

Darem nie té laat nie. Net voor agt is daar ’n klop aan die deur, tyd vir koors meet. Maskers aan, asseblief. Tien minute later weer ’n klop aan die deur. Ontbyt word in polistireenbakkies in ’n plastiese sak toegebind, voor die deur neergesit en die afleweraars is reeds weg toe ons dit kry. Nie te sleg nie. Wors, eiers, bone, koeldrank, ensovoorts Middagete was burgers, aartappels, vrugtesappe, ensovoorts. Aandete was vleis, groente, terte as nagereg en baie vrugte soos appels en pere. Die eerste Saterdagaand het ons selfs braaivleis gekry – heerlike skaaptjops en ’n biefstuk. Elke agtermiddag is ons koors weer gemeet.

Ek was later moeg gelees – die geskiedenis van die profete en konings van Israel. Ná ’n week was ek deurgeëet. Gelukkig het ons ná ’n paar dae begin rondbeweeg op die terrein; natuurlik met wagte wat ons gekeer het as ons te ver weg beweeg het. Ons het baie vriende gemaak. Van so ver as Durban, Port Elizabeth en Kaapstad. Almal met kinders in Australië. Sommige het so naby as  ’n paar kilometer van die hotel af gebly. Vir hulle was dit baie swaar.

Ná ses dae is ons getoets vir die virus. Dit was aardig. Met ’n lang ding word daar agter in jou keel gekrap en baie van ons was baie na aan naar word. Tot vandag toe het ons nog nie die uitslae gekry nie. Die laboratoriums was tien dae agter. Op die veertiende dag kon ons huis toe gaan; magtigingsvorms in die hand. Skielik het ek die gevoel gekry dat dit nie veilig was om die strate aan te pak nie. Padblokkades met onverdraagsame beamptes was nie aanloklik nie.

Ons motor was by my broer in Randfontein. Vir hom is gesê hy moet by die landdroskantoor ’n permit gaan kry om ons te kom haal, ten spyte van ons magtiging wat geldig was. Daar gekom was die een wat moes teken, in n vergadering. Dit was eers elfuur toe hy by ons opdaag.

Uiteindelik was ons veilig by die huis, Vrydag, 15 Mei. ’n Volle twee maande nadat ons hier weg is. Die Here was vir ons goed en het ons baie bederf.

Ds. Johan Theron (Bothaville).