Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Spore van die vryheidsdrang wat so kenmerkend van die Afrikanervolk dwarsdeur ons geskiedenis was, word na alle waarskynlikheid reeds so vroeg as 1795 aangetref met die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam. Hierdie opstande is voorafgegaan deur die grootskaalse korrupsie onder die Kompanjiesbewind (1652-1795) sedert die sewentigerjare van die 18de eeu.

Ná jare waarin die Kaapse burgers se belange blatant geïgnoreer is en daar selfs hardhandig teen sommige van hulle opgetree is, het die bom in 1795 gebars, alhoewel daar reeds sedert 1784 ’n nuwe gees van verset waarneembaar was. Diegene wat nie meer met die toedrag van sake genoeë geneem het nie, het na hulself as “patriotte” begin verwys. Hulle het besef dat selfs hulle pogings om die Nederlandse Regering (State-Generaal) se bemiddeling te bekom, tevergeefs was. Reeds teen 1794 was die verset nie meer net ekonomies nie, maar ook polities van aard, soos die totstandkoming van ’n Kollege van Volksrepresentante (volksverteenwoordigers), bestaande uit 11 lede onder voorsitterskap van oudlanddros Marthinus Bergh, aantoon. Hierdie liggaam moes sowel die burgers van Kaapstad as die buitedistrikte verteenwoordig, hulle belange behartig en hulle in sake van belang voorlig.

Nie net het die ekonomiese beleid van die Kompanjie armoede en ellende in die distrikte veroorsaak nie, maar voeg daaraan toe die voortdurende Xhosa-strooptogte wat op die Tweede Xhosa-oorlog van 1793 uitgeloop het en wat die Kompanjieslanddros Maynier in Graaff-Reinet en Faure in Swellendam, tot verbittering van die burgers, op onbekwame wyse gevoer en beëindig het.

Die burgers was ook ontevrede omdat Maynier Hottentotte bo hulle begunstig het, drosters teen hulle base beskerm het en geknoei het met kwitansies vir gelde wat deur die burgers inbetaal is. Dit het vroeg in 1795 tot ’n stormagtige vergadering aanleiding gegee, waartydens ’n aantal gewapende burgers Maynier gelas het om die drosdy onmiddellik te ontruim. Die volksverteenwoordigers het daarop, in wat as ’n direkte uitdaging van die Kompanjiesgesag beskou kan word, hulle eie amptenare aangestel. CD Gerotz is as voorlopige landdros aangestel, terwyl Jan Booysen in heemraadsaangeleenthede sou voorsit en Adriaan van Jaarsveld as president sou optree wanneer krygsaangeleenthede ter sprake is. Hiermee is die Kompanjiesgesag afgesweer.

 Sowat vyf maande later het Swellendam die voorbeeld van Graaff-Reinet gevolg toe ’n sestigtal gewapende burgers onder hulle selfverkose “Nasionale Kommandant”, PJ Delport, Faure en van sy meelopers verjaag het en daarna hulle eie administrasie daargestel het. ’n Nasionale Konvensie (Vergadering) is ingestel met die Nasionale Landdros, Hermanus Steyn, as president. Die Swellendamse burgers het verdere stappe gedoen om hulle nuutgewonne vryheid te bewaar. Hulle het onderneem om tot die dood toe getrou te wees en om hul vryheid “tot die laaste druppel bloed” te verdedig, omdat hulle “lank genoeg onder die juk van slawerny was”. Nie net is hierdeur oënskynlik ’n nuwe dimensie, waarin liefde vir die vryheid sterk op die voorgrond getree het, aan verset toegevoeg nie, maar hiermee het Swellendam ook die gesag van die Kompanjie finaal afgeskud.

Die afleiding kan derhalwe waarskynlik met reg gemaak word dat die Afrikaner se oorheersende vryheidsdrang sy ontstaan in Graaff-Reinet en Swellendam gehad het.

Interessant genoeg, is die woord “republiek” ook vir die eerste keer tydens die gebeure in Graaff-Reinet en Swellendam gebruik. Daaroor bestaan daar by historici ’n verskil van mening. Sommige vertolk dit as sou die Afrikaners van Graaff-Reinet daarmee bedoel het dat hulle ’n republiek wou hê. Ander weer beweer dat hulle maar net bedoel het dat hulle hul onder die gesag van die vrye Republiek van Nederland wou bevind.

Die geskiedenis van die Afrikanervolk is intussen ongelukkig ingrypend beïnvloed deur die Engelse besetting van die Kaap in 1795. Ook die nuutgewonne vryheid van Graaff-Reinet en Swellendam is hierdeur tot in sy wortels aangetas. Sowat ’n maand ná die verowering het die volksverteenwoordigers van Graaff-Reinet in ’n brief aan generaal Craig die situasie in hierdie distrik uiteengesit en versoek dat die amptenare en krygsoffisiere wat deur die volkstem daargestel is, deur die Engelse erken word. Craig het geantwoord dat Gerotz kon aanbly tot tyd en wyl Craig se aanstelling, Bresler, sy opwagting maak.

Dit was vir die burgers onaanvaarbaar en hulle het te kenne gegee dat hulle liewer sou sterf as om hulle “Vaderland” prys te gee.

Toe Bresler dan ook in Februarie 1796 in Graaff-Reinet aankom, is die Britse vlag wat gehys is, afgetrek en het almal geweier om die eed van trou af te lê. Dit het Craig in ’n baie moeilike situasie geplaas, aangesien hy dit nie kon toelaat nie. Maar die Britse posisie aan die Kaap was nog nie verseker nie en daar was sprake van ’n vyandelike vloot op pad na die Kaap. Die patriotte was daarvan bewus, maar toe dit nie gebeur nie en die Britse posisie versterk is, het van die ontevredenes hulle aan die Britse gesag onderwerp, sonder dat dit vir Craig nodig was om teen hulle op te tree. Daarmee was hulle vryheid en vaderland, soos hulle daarna verwys het, daarmee heen. Dit laat ’n mens nogal dink aan wat in 1994 gebeur het, nie waar nie? Nietemin, die vryheidsvlam in die harte van regskape Afrikaners was nie daarmee vir goed geblus nie.

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Negatiewe invloed van die Engelse (Britte) op die Suid-Afrikaanse geskiedenis

In hierdie artikel sal sodanige invloed hoofsaaklik tot voor 1877 in oënskou geneem word. Reeds in 1795, tydens die eerste Britse besetting van die Kaap, was hierdie negatiewe gesindheid al waarneembaar.

Goewerneur Lord Macartney het John Barrow by Frans Bresler, wat twee jaar tevore deur generaal Craig as landdros van Graaff-Reinet aangestel is, ge­voeg. ’n Swakker keuse kon kwalik bedink word, aan­gesien hy mettertyd as sogenaamde “kenner” van Oos­grens­aan­ge­leenthede ’n boek, Travels into the in­te­rior of Sou­thern Africa, geskryf het waarin die blan­ke Oos­grens­boere in ’n baie swak lig gestel is. Hierdie en soort­gelyke geskrifte, wat later die lig gesien het, het on­ge­twyfeld groot invloed op die Kaapse goe­wer­neurs en die Britse regering gehad, wat altyd die blaam vir enige iets negatief voor die deur van die “tak­haar­boere” gelê het.

Tydens die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806, het die sendelinge van die Londense Sendingge­noot­skap – Read, Van der Kemp en later ook dr. John Philip – ’n voortdurende stroom verslae na onder meer die Britse Minister van Kolonies gestuur, waarin die koloniste in ’n swak lig gestel en hulle karakters beswadder is. Die Xhosas en Hottentotte is daarenteen altyd van alle blaam onthef. Dit was hierdie minister wat die Kaapse goewerneurs in hulle poste aangestel het. Die goewerneurs het derhalwe reeds bevooroordeeld na die Kaap gekom. In sy boek Researches in South Africa, het Philip dan ook as kampvegter vir die Xhosas en Hottentotte opgetree. Soos in Barrow se boek, het dit gewemel van onwaarhede en oordrywings. Hierdie optrede het die verhouding tussen swart en blank verder vertroebel en het byvoorbeeld aanleiding gegee tot die Swarte Ommegang van 1812, waartydens die blankes die aangeklaagdes was en die Slagtersnekrebellie van 1815, waarin die Oosgrensboere weer aan die kortste end was.

Talle Oosgrensboere het mettertyd besluit dat hulle nie langer onder ’n regering wat so teen hulle diskrimi­neer, kon bly nie. Tussen 6 000 en 10 000 burgers het tydens die Groot Trek van 1835-1838 vir goed die Kaapkolonie verlaat. In sy Manifes van 22 Februarie 1837 beskryf Pieter Retief al die euwels waaraan die Oosgrensboere onderwerp was en dit blyk dan ook vanselfsprekend dat dit te wyte was aan die swak Engelse bestuur.

Die Engelse het ook hierdie poging van die Voortrekkers om onder die swak en onderdrukkende regeringstelsel uit te kom en vryheid te verwerf, probeer verongeluk deur in 1836 die Cape of Good Hope Punishment Act uit te vaardig waardeur die hele Suid-Afrika tot by die 25° suiderbreedte, ongeveer tot by die huidige Pienaarsrivier, onder Britse gesag sou wees. Dit was egter ’n dooie wet wat op geen manier toegepas kon word nie en die Voortrekkers het hulle ook nie daaraan gesteur nie. Daarop het die Engelse dit vir die Voortrekkers moeilik probeer maak deur verdrae met swart stamme te sluit onder wie se gesag die Voortrekkers dan kwansuis sou wees. Dit was ook nie geslaagd nie, maar het weldra wrange vrugte gedra, soos uit die geskiedenis van die Republiek Natalia sou blyk. Om hulle uit te lewer aan die barbare, is daar ook ’n verbod op die verkoop van wapens en ammunisie aan hulle, ingestel.

Die gesindheid van die Britse Minister van Kolonies (Ko­lo­niale Sekretaris) teenoor ons voorouers, blyk dui­de­lik uit die volgende mededeling enkele jare later aan kaptein Smith (die latere sir Harry Smith):

I would advise you to enter in friendly relations with those chiefs (dié met wie die blankes in die Trans-Oranje moeilikheid gehad het); tell them the British Government will help them. If they choose, the Governor of the Cape will send them an officer to reside amongst them, and aid them by his advice and directions. His first step is to induce the chiefs to establish a confederacy against the Boers.

Ná die onderwerping van die Zoeloes het die Voor­trek­kers op grond van die militêre oorwinning en die trak­taat van grondafstand, die Republiek Natalia in 1838 gestig. Maar helaas, die vreugde oor die vryheid om oor hulleself te regeer, was van korte duur. Vyf jaar later het die Engelse Natal geannekseer, nadat daar (soos gewoonlik) sogenaamd in belang van swartes (in hierdie geval die Bacas en Pondo’s) ingegryp is. Die Pondo’s het dan ook op aandrang van sendelinge be­sker­ming van die Kaapse goewerneur gevra, waaraan gehoor gegee is.

Ná die Britse anneksasie was die toestand as gevolg van die swak bestuur weldra maar weer soos dit aan die Oosgrens was. Talle Voor­trek­kers het dadelik hulle goed gevat en ge­trek, maar sommige het tot 1848 uitgehou en toe ook die gebied verlaat. Nogeens het die Engelse kom oes waar hulle nie gesaai het nie.

Sommige wat Natal verlaat het, het hulle in die latere Oranje-Vrystaat gevestig en ander in die Transvaal. Nie te lank nie of die Voortrekkers in die Trans-Oranje het moeilikheid met die Griekwas en Basoeto’s gehad en dit het tot gewapende botsings aanleiding gegee. Ook hier het die Engelse op vermetele wyse ingemeng in ’n gebied waar hulle geen seggenskap gehad het nie. Verdragstate is met die nie-blankes gesluit, wat die blankes onder hulle gesag geplaas het. Adam Kok van die Griekwas het hom op die Kaapse goewerneur beroep, wat positief reageer het en selfs troepe gestuur het. In ’n geveg by Swartkoppies het die Griekwas met dié hulp die Trekboere (nie Voortrekkers nie) verslaan. Verdere inmenging het gevolg toe ’n Britse verteenwoordiger in 1846 in Bloemfontein aangestel is en dit is gevolg deur die Britse anneksasie van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier twee jaar later. 

Vanweë probleme wat die Britte met swart stamme ondervind het, het hulle in 1852 met die sluiting van die Sandrivierkonvensie die eerste keer erken dat ’n deel van die Voortrekkers vry is. Toe sake vir hulle ver­beter, het hulle dit, met die verstrek van onwaar en skyn­redes, ongedaan gemaak met die anneksasie van Trans­vaal (ZAR) op 12 April 1877. Die Transvaalse bur­gers sou egter nie bly berus in die omstandighede nie, maar het hulle enkele jare later weer vrygeveg. Op onderduims-laakbare wyse het die Engelse probeer om die ZAR op elke denkbare wyse te ondermyn en uit­eindelik ook daarin geslaag om ’n oorlog te be­werk­stellig, waarin gruwels soos die verwoesting van die Republieke deur die verskroeide-aardebeleid en die moorde op derduisende vrouens en kinders in die kon­sen­trasiekampe, plaasgevind het.

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Dood van Jopie (Joseph Johannes) Fourie tydens die Rebellie van 1914

Volgens ’n brief wat Jopie Fourie die nag voor sy dood geskryf het, is hy op 28 Augustus 1878 (en nie soos algemeen aangedui 27 Augustus nie) op die plaas Wildebeesthoek in die Pretoria-distrik gebore. Tydens die Jameson-inval in 1895 het hy as 17-jarige burger en in opdrag van generaal Piet Cronjé, aan Jameson die boodskap geneem om oor te gee. Ná sy skoolopleiding word hy ’n amptenaar in die ZAR-staatsdiens.

Sy betrokkenheid tydens die Tweede Vryheidsoorlog word vanweë ’n gebrek aan ruimte nie bespreek nie, behalwe om te vermeld dat hy tydens ’n mislukte poging om perde van die vyand te buit, so ernstig aan sy regterbeen verwond is, dat dit hom permanent mank gelaat het en hy hom vir mediese behandeling aan die vyand oorgegee het. Ná die totstandkoming van die Unie-Verdedigingsmag, het hy in 1913 by die Aktiewe Burgermag aangesluit en is met die rang van kaptein by die 13de Berede Skutters aangestel.

Op 10 Oktober 1914 het hy die Krugerdagherdenking in die Operagebou in Pretoria bygewoon, waartydens generaal Beyers gevra is om as spreker op te tree. ’n Meerderheid Engelse Jingo’s1 het ook die verrigtinge bygewoon en dit met hulle barbaarse optrede ontwrig. Selfs toe die opening deur ds. Herman van Broekhuizen waargeneem is, het hulle luidkeels God save the King en Rule Brittania geskreeu. Jopie het hulle in Engels versoek om hulle optrede te staak, omdat die doel van die byeenkoms was om die nagedagtenis van ’n groot Afrikaner te gedenk. Dit het egter geen indruk op hulle gemaak nie en hulle het net meer rumoerig geraak, tot vandalisme oorgegaan en met vrot eiers, tamaties en so meer begin gooi. Die gevolg was dat Jopie en ’n paar ander Boerseuns onder hulle ingevlieg het. Uiteindelik moes die polisie die orde kom herstel. Buite het die skorrie-morries met hulle optrede voortgegaan, feesgangers wat die Operahuis verlaat het met allerhande voorwerpe bestook en selfs Beyers se motorbande stukkend gesny. Geen ondersoek of vervolging is daarna ingestel nie. Hierdie gebeure het ’n onuitwisbare indruk op Jopie gemaak.

 Alhoewel hy ’n vurige ondersteuner van Louis Botha was, het hy ná ’n onderhoud met hom op 24 Oktober besef dat hy dit nie met Botha se invalsplanne van Duits Suidwes-Afrika eens is nie. Hy het ook besluit om nie gehoor te gee aan Botha se versoek om vas te stel hoeveel ondersteuners van generaal Beyers daar in sy (Jopie se) distrik was nie. Hy was ten gunste van vryheid vir sy vaderland en het derhalwe besluit om hom by die burgers wat soos hy voel, te voeg. Sy broer het hom vergesel. Gevolglik het hy hom twee dae later, in uniform en sonder om uit die Weermag te bedank, by generaal Beyers aangesluit. Hy was mettertyd in tien skermutselings met regeringstroepe betrokke, waartydens hy en die burgers by hom glo deurgaans nie-aanvallend opgetree het. Tydens die laaste hewige skermutseling op 16 Desember by Nooitgedacht, noordwes van Pretoria, is hy en ’n deel van die kommando gevange geneem en na Pretoria geneem.

Hy was onverstandig om nie uit die Weermag te bedank nie en is gevolglik deur ’n veldkrygshof in Pretoria van verraad aangekla en op 19 Desember, soos sy broer, ter dood veroordeel. Sy broer se vonnis is weldra na vyf jaar hardepad verander. Toe Jopie die krygshof toegespreek het, het hy nie vir homself om genade gepleit nie, maar wel vir sy broer en sy manskappe, wat hy gesê het, onder sy invloed was. Pogings tot begenadiging is wel aangewend, maar het op niks uitgeloop nie, omdat generaal Smuts oënskynlik van Jopie ’n voorbeeld wou maak. ’n Versoekskrif wat ’n pleidooi om begenadiging bevat het, is sonder verwyl opgestel. Dit is aan ’n afvaardiging bestaande uit dominees DF Malan, HS Bosman, CA Neethling en advokaat Gey van Pittius en dr. FCA Grünberger opgedra om dit aan Smuts by sy plaas Doornkloof, net buite Irene, te gaan oorhandig. Smuts het hulle egter moedswillig ontduik deur op die plaas te gaan stap en later inderhaas na Pretoria te vertrek. Hy het dit ontken, maar ’n huishoudster van hom het jare later bevestig dat dit wel die geval was.

Dit kan egter aanvaar word dat Smuts nie gehoor sou gee nie, al het die afvaardiging hom wel gespreek. Ewe ongevoelig was dit dat Jopie eers om negeuur die aand meegedeel is dat hy die volgende oggend, Sondag 20 Desember, tereggestel sou word. Dié nag het ds. Neethling saam met hom deurgebring en het hy briewe aan sy geliefdes, vriende, regspan en aan Louis Botha geskryf. Sy geloof in die drie-enige God spreek duidelik uit hierdie briewe en hy verklaar dat God se wil geskied en verwys ook na Psalms 121 en 23. Verder vra hy dat daar nie oor hom getreur moes word nie, maar dat sy geliefdes mekaar moet vertroos, want: De boom die geplant is, en met mijn bloed benat is, zal opgroeien tot een grote boom. Aan Botha skryf hy: Gy waart mijn ideaal als Afrikaander, maar ek ben nu teleurgesteld en voeg daaraan toe dat hy hoop Botha voel lekker oor die smart wat hy sy familie aandoen. Hy het ook gevra dat die woorde Voor God en voor Vaderland op sy grafsteen aangebring moet word.

Terwyl die vuurpeloton om vyfuur die oggend aangelê het, het die 36-jarige Jopie ’n gesang gesing. Waarskynlik het Jan Smuts opdrag gegee dat hy na die teregstelling sommer inderhaas op die gevangenisterrein in ’n graf geplaas moes word. Twee nagte later is hy ewe stilletjies opgegrawe en onder ’n vals naam in die Rebeccastraatbegraafplaas begrawe. Deur die toedoen van sy vrou, Susan, is hy op 27 Oktober 1915 opgegrawe en in ’n nuwe kis herbegrawe, net om met die nodige toestemming op 20 Desember 1923 finaal in die Heldeakker te ruste gelê te word.

Die wyse waarop Jopie Fourie deur Jan Smuts en Louis Botha se ongenaakbaarheid aan sy einde gekom het, het groot bitterheid onder Afrikaners tot gevolg gehad. Dit het van Jopie Fourie ’n held én martelaar gemaak én die beeld van die Botha-bewind groot skade berokken, waarvan Botha en Smuts later die wrange vrugte sou pluk.

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Die onnatuurlike en tragiese dood van drie stoere Afrikaners tydens die Rebellie van 1914 (2)

Generaal Christiaan (CF) Beyers het tydens die Tweede Vryheidsoorlog, vanweë sy militêre bekwaamheid, van gewone burger tot assistent-kommandant-generaal gevorder. Ná die totstandkoming van die Unie-Verdedigingsmag (1912), is generaal Beyers met die rang van brigadier-generaal deur die owerheid as kommandant-generaal van die Aktiewe Burgermag aangestel en dít terwyl daar heelwat Engelse was wat geaspireer het.

Om moreel-godsdienstige redes was Beyers heel­te­mal gekant teen die Botha-regering se plan om Suid­wes-Afrika op versoek van Brittanje militêr binne te val. Hy was openlik daaroor en het reeds gedurende Augustus 1914 Louis Botha en Jan Smuts daaroor ingelig. Vol­gens die Suid-Afrikaanse Verdedigingswet was enige op­tre­de van soldate buite die landsgrense onwettig. Op grond daarvan was sy posisie as kommandant-generaal vir hom onhoudbaar, omdat hy ’n leidende rol in die inval sou speel, waartoe hy nie bereid was nie. Die situasie en sy posisie het vir die gelowige Beyers ’n sielestryd veroorsaak. Ten spyte van die onwettigheid van sodanige skending van ’n ander vreedsame land se grense én die teenkanting van die kommandant-generaal, het die regering egter uit gedienstigheid besluit om met die veldtog voort te gaan en ’n buitengewone sitting van die Unieparlement gereël, om toestemming vir hulle onwettigheid te verkry.

Toe die Parlementsbesluit op 14 September bekend word, het Beyers besluit dat hy met sy gewete wil saam­leef. Gevolglik het Beyers op 15 Sep­tem­ber uit protes uit sy amp bedank, maar ander offisiere afgeraai om sy voorbeeld te volg. So ook het hy enkele dae tevore generaals Kemp en De la Rey meegedeel dat hy nie sou rebelleer nie. Sy bedanking het egter groot beroering onder sowel die on­te­vrede burgers, as die Engelsgesinde Afri­kaners (Jingo’s) veroorsaak, soos ook blyk uit die gebeure op 10 Oktober en daarna. In sy bedankingsbrief het hy onder meer verklaar dat Smuts se argument oor Duitse barbaarsheid en wreedheid onwaar is en buitendien ook nie as regverdiging kan dien om gehoor te gee aan die Engelse se versoek nie. Hy het daarop gewys dat die Engelse self erge wreedhede tydens die Tweede Vry­heidsoorlog teen die Boerevolk gepleeg het.

Jingo’s het tot barbaarse optrede oorgegaan wat Bey­ers se veiligheid bedreig het en dit net omdat hy nie, soos Botha en Smuts, Britse belange wou dien nie. Die gebeure op 10 Oktober 1914 tydens die Krugerdagvierings word in die volgende artikel bespreek. Dit is wel te vermeld dat die toespraak wat Beyers op versoek sou lewer, sowat tien minute sou duur, maar vanweë die boewery het dit uiteindelik sowat ’n halfuur geduur. Tydens die pouse is hy onder meer die woorde “we will get you your damned traitor,” toegesnou. Daarna was Beyers se lewe bedreig. Hy kon nie eers in vrede kerk toe gaan nie of hy is beledigings toegeslinger. Hierna het hy sy plaas verlaat en na verskeie vriende gegaan, maar nêrens kon hy die boewe ontduik nie. So byvoorbeeld is by een huis in die nag die roosbome platgetrap en by ’n ander die honde doodgesteek. Ten einde laaste het hy Pretoria verlaat en na die Magaliesberg toe gegaan. Toe sowat 200 burgers, wat ook teen die regeringsplanne gekant was, hoor dat Beyers by Scheerpoort was, het hulle by hom aangesluit. Hy het hulle meegedeel dat hy weens veiligheidsredes dáár was en beklemtoon dat hy nie wil rebelleer nie, maar eerder wil poog om die regering op konstitusionele wyse van hulle planne te laat afsien. Iemand wat rebellie wil pleeg, sou beslis nie só optree nie.

Tydens die Rebellie wat gevolg het, het Botha en Smuts deurentyd slu en mis­lei­dend te werk gegaan, maar gedurig pro­beer voorgee dat hulle nie bloed wou ver­giet nie. Die gebeure het aangetoon dat hulle baie slinks was en ook gedurig op Bey­ers gespioeneer het. Op 27 Oktober sou Beyers ’n vergadering by Kommissiedrift (omgewing Rus­ten­burg), hou waartydens hy sou verduidelik waarom hy as kommandant-generaal bedank het. Die nag van 26 Oktober het Botha met ’n berede mag van duisend man per trein in Rustenburg aangekom en Beyers die volgende dag uit drie rigtings aangeval. Beyers het opdrag gegee dat die burgers by hom nie moes skiet nie en eerder moes vlug, wat hulle ook gedoen het. By geleentheid het die regeringstroepe ’n deel van die Beyerskommando vasgekeer en op hulle geskiet, waarop die vasgekeerde burgers teruggeskiet het, met die gevolg dat die eerste skote van die Rebellie by Rooiwal geval het.

Ofskoon baie dinge tydens die volgende ses weke ge­beur het, was Beyers daarna tot met sy dood op die vlug. In verskeie skermutselinge het hyself steeds volhard om nie broederbloed te vergiet nie. Intussen het Botha en Smuts met hulle sogenaamde pogings tot vrede voortgegaan en selfs oudpresident MT Steyn by hulle onderduimse planne probeer betrek. In werklikheid het hulle nie vir bloedvergieting teruggedeins nie en sou nie rus voordat al die rebelleleiers uitgeskakel is nie.

Op 8 Desember 1914 is die Beyerskommando’tjie, toe net 23 man sterk, deur regeringsmagte aan die Vry­staat­se oewer van die Vaalrivier vasgekeer. Die generaal en sy adjudant, Jan Pieterse, het die Vaalrivier wat in vloed was, probeer oorsteek, terwyl vanaf albei oewers hewig op hulle geskiet is. Albei het na ’n tyd onder die water verdwyn. Pieterse het verdrink, maar skrywer se navorsing het hom oortuig dat Beyers aan koronêre ontoereikendheid (sy hart) gesterf het. Sy rewolwer met nog al die patrone in, is aan sy lyk gekry, wat wys dat hy in sy standpunt volhard het om nie broederbloed te vergiet nie.

Op sy tipiese ongenaakbare wyse het Jan Smuts ge­weier dat Beyers se geliefdes hom in Pretoria begrawe en is hy op 10 Desember op die plaas Oersonskraal, net buite Makwassie, begrawe. So het nog ’n stoere Afrikaner, op vyf en veertigjarige ouderdom, roemloos en tragies ge­sterf. En dit omdat voormalige Boeregeneraals hulle rug op hulle volk gedraai het en Britse wêreldburgers geword het!

Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam: Eerste openbaring van die vryheidsdrang van die Afrikanervolk

Die onnatuurlike en tragiese dood van drie stoere Afrikaners tydens die Rebellie van 1914 (1)

Soos die drie persone wat in hierdie en die volgende twee artikels aan die orde gestel word, was die meeste burgers wat gerebelleer het, hartgrondig daarteen gekant dat Duits-Suidwes-Afrika in belang van Brittanje deur Unietroepe ingeval moes word. Dit is ewe opmerklik dat talle rebelle aanvanklik ondersteuners van eerste minister Louis Botha was.

Generaal Koos (JH) de la Rey

Van die Boeregeneraals wat nie die Vrede van Vereeniging in 1902 wou onderteken nie, is deur Louis Botha oorreed om dit te doen deur sy versekering dat die vryheid van die twee Boererepublieke herstel sou word wanneer die geleentheid hom voordoen. Van hierdie generaals was van mening dat dié geleentheid aangebreek het toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek. Botha en Smuts was egter van mening dat dit hulle eer en plig was om by Brittanje te staan. Vir ander, soos generaals De Wet, De la Rey, Maritz en Beyers, het dit om moreel-godsdienstige redes teen die bors gestuit om Duits-Suidwes-Afrika militêr binne te val. De la Rey was nogtans van mening dat Botha sy woord gestand sou doen en het daarom reeds planne agtermekaar gekry om die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke te herstel. Hy het die Wes-Transvaalse burgers dan ook opgeroep om op 15 Augustus gewapen na Treurfontein te kom. Vandaar sou via ander dorpe na Pretoria opgetrek word waar die Vierkleur gehys sou word en die leiding van die kommando aan Louis Botha oorhandig sou word.

De la Rey het hom egter tot sy wreedste ontnugtering deeglik met Botha misgis. Hy is op 12 Augustus met opgewonde verwagting na Pretoria, omdat Botha hom wou spreek. Na alle waarskynlikheid het hy verwag dat Botha hom sou meedeel dat hy De la Rey se poging om die vryheid van die twee voormalige Boererepublieke te herstel, sou ondersteun. Hy was dan ook van plan om Botha by hierdie geleentheid oor sy planne in te lig. Dit wil voorkom asof hy egter nie die geleentheid daartoe gehad het nie, aangesien Botha, in die teenwoordigheid van Jan Smuts, Schalk Burger en NJ de Wet, koue water op sy planne gegooi het en hom meegedeel het dat hy opgesluit sou word as hy met sy planne sou probeer voortgaan. De la Rey het egter nietemin in sy eie gemoed besluit om met sy planne voort te gaan. Om aan die Britse versoek te voldoen, het Botha ’n buitengewone sitting van die Suid-Afrikaanse parlement vir 9-14 September belê, waartydens die Suidwesveldtog goedgekeur is. Vir De la Rey was dit gou duidelik hoe die wind waai, met die gevolg dat hy, nadat hy op 12 September sy toespraak gelewer het, die parlementsitting verlaat het.

Omdat De la Rey teen die planne van Botha en Smuts gekant was, het hulle hom as ’n potensiële gevaar beskou. Hy het dan ook agtergekom dat hy deur speurders dopgehou word. Gevolglik het hy nie sy treinrit na Pretoria voortgesit nie, maar op 14 September in Johannesburg afgeklim en daar oornag. Omdat hy genl. Beyers wou spreek, het hy ’n boodskap aan hom gestuur om hom te kom haal. Beyers het sy vrou en broer se seun gestuur om dit te doen. In Pretoria aangekom, het die twee diepgelowige generaals hulle in ’n vertrek afgesonder en vir sowat ’n uur en ’n half ’n baie ernstige gesprek gevoer waartydens hulle in diepe ootmoed en afhanklikheid van die Skepper uit die Bybel gelees en daarna ’n gebed om leiding gedoen het. Selfs die gelese teks, Deuteronómium 27:17 (Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê) het hulle oortuiging dat die Suidwesveldtog verkeerd is, versterk.

Dit is feitlik seker dat De la Rey vir Beyers probeer oorreed het om by sy onafhanklikheidsplanne in te val, aangesien hy en generaal Kemp só ooreengekom het, maar dit is ewe seker dat hy nie daarin geslaag het nie, soos die verloop van die Rebellie genoegsaam bewys het. Beyers het ten einde laaste ingewillig om De la Rey na die militêre opleidingskamp te Potchefstroom te vergesel om aan die offisiere en burgers die redes vir sy bedanking as kommandant-generaal te verstrek, en De la Rey wou na alle waarskynlikheid met behulp van generaal Kemp en sy rekrute, ’n rebellie begin om die onafhanklikheid te herstel. Beyers het tevergeefs probeer om die rit tot die volgende môre uit te stel.

Voor hulle vertrek het, is aan hulle berig dat ’n polisieman op ’n motorfiets in die omtrek gewaar is. Dit het na alle waarskynlikheid die vermoede versterk dat op hulle gespioeneer word. Beyers se motorbestuurder, JA Wagner, was agter die stuurwiel en die twee generaals op die agterste sitplek. Tydens die rit het die twee plekke omgeruil, omdat die rook van De la Rey in Beyers, wat nie ’n roker was nie, se gesig gewaai het. Intussen is in Johannesburg padblokkades opgestel om die berugte Forsterbende te vang. De la Rey het Wagner by twee sulke blokkades opdrag gegee om nie stil te hou nie. Dit kan aanvaar word dat hy gedink het dit was bedoel om hom/hulle te arresteer.

By die derde padblokkade te Langlaagte, het dieselfde gebeur en het ’n polisieman toe op die kar geskiet. ’n Opslagkoeël het die motor getref en De la Rey, wat in Beyers se arms gesterf het, gedood. Daarmee het die lewe van hierdie beroemde Boeregeneraal, wat ’n maand later 67 jaar oud sou word, op 15 September 1914 op hierdie tragiese en roemlose wyse geëindig. Hy het dus die eerste slagoffer van die Rebellie geword. Die dood van hierdie alombeminde volksheld, het Afrikaners in rou gehad en hulle was oortuig dat hulle generaal vermoor is. In ’n geregtelike ondersoek het regter Gregorowski egter bevind dat sy dood aan ’n ongeluk toegeskryf moes word. Die persoon wat vir die generaal se dood verantwoordelik was, se gewete het hom oënskynlik so gepla dat hy later selfmoord gepleeg het. Met die generaal se dood het die voorgenome rebellie ongetwyfeld ’n groot terugslag beleef, want sonder dié bekwame leier en aanvoerder was die uiteindelike uitkoms daarvan te voorsien.