Soos die drie persone wat in hierdie en die volgende twee artikels aan die orde gestel word, was die meeste burgers wat gerebelleer het, hartgrondig daarteen gekant dat Duits-Suidwes-Afrika in belang van Brittanje deur Unietroepe ingeval moes word. Dit is ewe opmerklik dat talle rebelle aanvanklik ondersteuners van eerste minister Louis Botha was.

Generaal Koos (JH) de la Rey

Van die Boeregeneraals wat nie die Vrede van Vereeniging in 1902 wou onderteken nie, is deur Louis Botha oorreed om dit te doen deur sy versekering dat die vryheid van die twee Boererepublieke herstel sou word wanneer die geleentheid hom voordoen. Van hierdie generaals was van mening dat dié geleentheid aangebreek het toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek. Botha en Smuts was egter van mening dat dit hulle eer en plig was om by Brittanje te staan. Vir ander, soos generaals De Wet, De la Rey, Maritz en Beyers, het dit om moreel-godsdienstige redes teen die bors gestuit om Duits-Suidwes-Afrika militêr binne te val. De la Rey was nogtans van mening dat Botha sy woord gestand sou doen en het daarom reeds planne agtermekaar gekry om die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke te herstel. Hy het die Wes-Transvaalse burgers dan ook opgeroep om op 15 Augustus gewapen na Treurfontein te kom. Vandaar sou via ander dorpe na Pretoria opgetrek word waar die Vierkleur gehys sou word en die leiding van die kommando aan Louis Botha oorhandig sou word.

De la Rey het hom egter tot sy wreedste ontnugtering deeglik met Botha misgis. Hy is op 12 Augustus met opgewonde verwagting na Pretoria, omdat Botha hom wou spreek. Na alle waarskynlikheid het hy verwag dat Botha hom sou meedeel dat hy De la Rey se poging om die vryheid van die twee voormalige Boererepublieke te herstel, sou ondersteun. Hy was dan ook van plan om Botha by hierdie geleentheid oor sy planne in te lig. Dit wil voorkom asof hy egter nie die geleentheid daartoe gehad het nie, aangesien Botha, in die teenwoordigheid van Jan Smuts, Schalk Burger en NJ de Wet, koue water op sy planne gegooi het en hom meegedeel het dat hy opgesluit sou word as hy met sy planne sou probeer voortgaan. De la Rey het egter nietemin in sy eie gemoed besluit om met sy planne voort te gaan. Om aan die Britse versoek te voldoen, het Botha ’n buitengewone sitting van die Suid-Afrikaanse parlement vir 9-14 September belê, waartydens die Suidwesveldtog goedgekeur is. Vir De la Rey was dit gou duidelik hoe die wind waai, met die gevolg dat hy, nadat hy op 12 September sy toespraak gelewer het, die parlementsitting verlaat het.

Omdat De la Rey teen die planne van Botha en Smuts gekant was, het hulle hom as ’n potensiële gevaar beskou. Hy het dan ook agtergekom dat hy deur speurders dopgehou word. Gevolglik het hy nie sy treinrit na Pretoria voortgesit nie, maar op 14 September in Johannesburg afgeklim en daar oornag. Omdat hy genl. Beyers wou spreek, het hy ’n boodskap aan hom gestuur om hom te kom haal. Beyers het sy vrou en broer se seun gestuur om dit te doen. In Pretoria aangekom, het die twee diepgelowige generaals hulle in ’n vertrek afgesonder en vir sowat ’n uur en ’n half ’n baie ernstige gesprek gevoer waartydens hulle in diepe ootmoed en afhanklikheid van die Skepper uit die Bybel gelees en daarna ’n gebed om leiding gedoen het. Selfs die gelese teks, Deuteronómium 27:17 (Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê) het hulle oortuiging dat die Suidwesveldtog verkeerd is, versterk.

Dit is feitlik seker dat De la Rey vir Beyers probeer oorreed het om by sy onafhanklikheidsplanne in te val, aangesien hy en generaal Kemp só ooreengekom het, maar dit is ewe seker dat hy nie daarin geslaag het nie, soos die verloop van die Rebellie genoegsaam bewys het. Beyers het ten einde laaste ingewillig om De la Rey na die militêre opleidingskamp te Potchefstroom te vergesel om aan die offisiere en burgers die redes vir sy bedanking as kommandant-generaal te verstrek, en De la Rey wou na alle waarskynlikheid met behulp van generaal Kemp en sy rekrute, ’n rebellie begin om die onafhanklikheid te herstel. Beyers het tevergeefs probeer om die rit tot die volgende môre uit te stel.

Voor hulle vertrek het, is aan hulle berig dat ’n polisieman op ’n motorfiets in die omtrek gewaar is. Dit het na alle waarskynlikheid die vermoede versterk dat op hulle gespioeneer word. Beyers se motorbestuurder, JA Wagner, was agter die stuurwiel en die twee generaals op die agterste sitplek. Tydens die rit het die twee plekke omgeruil, omdat die rook van De la Rey in Beyers, wat nie ’n roker was nie, se gesig gewaai het. Intussen is in Johannesburg padblokkades opgestel om die berugte Forsterbende te vang. De la Rey het Wagner by twee sulke blokkades opdrag gegee om nie stil te hou nie. Dit kan aanvaar word dat hy gedink het dit was bedoel om hom/hulle te arresteer.

By die derde padblokkade te Langlaagte, het dieselfde gebeur en het ’n polisieman toe op die kar geskiet. ’n Opslagkoeël het die motor getref en De la Rey, wat in Beyers se arms gesterf het, gedood. Daarmee het die lewe van hierdie beroemde Boeregeneraal, wat ’n maand later 67 jaar oud sou word, op 15 September 1914 op hierdie tragiese en roemlose wyse geëindig. Hy het dus die eerste slagoffer van die Rebellie geword. Die dood van hierdie alombeminde volksheld, het Afrikaners in rou gehad en hulle was oortuig dat hulle generaal vermoor is. In ’n geregtelike ondersoek het regter Gregorowski egter bevind dat sy dood aan ’n ongeluk toegeskryf moes word. Die persoon wat vir die generaal se dood verantwoordelik was, se gewete het hom oënskynlik so gepla dat hy later selfmoord gepleeg het. Met die generaal se dood het die voorgenome rebellie ongetwyfeld ’n groot terugslag beleef, want sonder dié bekwame leier en aanvoerder was die uiteindelike uitkoms daarvan te voorsien.