Volgens ’n brief wat Jopie Fourie die nag voor sy dood geskryf het, is hy op 28 Augustus 1878 (en nie soos algemeen aangedui 27 Augustus nie) op die plaas Wildebeesthoek in die Pretoria-distrik gebore. Tydens die Jameson-inval in 1895 het hy as 17-jarige burger en in opdrag van generaal Piet Cronjé, aan Jameson die boodskap geneem om oor te gee. Ná sy skoolopleiding word hy ’n amptenaar in die ZAR-staatsdiens.
Sy betrokkenheid tydens die Tweede Vryheidsoorlog word vanweë ’n gebrek aan ruimte nie bespreek nie, behalwe om te vermeld dat hy tydens ’n mislukte poging om perde van die vyand te buit, so ernstig aan sy regterbeen verwond is, dat dit hom permanent mank gelaat het en hy hom vir mediese behandeling aan die vyand oorgegee het. Ná die totstandkoming van die Unie-Verdedigingsmag, het hy in 1913 by die Aktiewe Burgermag aangesluit en is met die rang van kaptein by die 13de Berede Skutters aangestel.
Op 10 Oktober 1914 het hy die Krugerdagherdenking in die Operagebou in Pretoria bygewoon, waartydens generaal Beyers gevra is om as spreker op te tree. ’n Meerderheid Engelse Jingo’s1 het ook die verrigtinge bygewoon en dit met hulle barbaarse optrede ontwrig. Selfs toe die opening deur ds. Herman van Broekhuizen waargeneem is, het hulle luidkeels God save the King en Rule Brittania geskreeu. Jopie het hulle in Engels versoek om hulle optrede te staak, omdat die doel van die byeenkoms was om die nagedagtenis van ’n groot Afrikaner te gedenk. Dit het egter geen indruk op hulle gemaak nie en hulle het net meer rumoerig geraak, tot vandalisme oorgegaan en met vrot eiers, tamaties en so meer begin gooi. Die gevolg was dat Jopie en ’n paar ander Boerseuns onder hulle ingevlieg het. Uiteindelik moes die polisie die orde kom herstel. Buite het die skorrie-morries met hulle optrede voortgegaan, feesgangers wat die Operahuis verlaat het met allerhande voorwerpe bestook en selfs Beyers se motorbande stukkend gesny. Geen ondersoek of vervolging is daarna ingestel nie. Hierdie gebeure het ’n onuitwisbare indruk op Jopie gemaak.
Alhoewel hy ’n vurige ondersteuner van Louis Botha was, het hy ná ’n onderhoud met hom op 24 Oktober besef dat hy dit nie met Botha se invalsplanne van Duits Suidwes-Afrika eens is nie. Hy het ook besluit om nie gehoor te gee aan Botha se versoek om vas te stel hoeveel ondersteuners van generaal Beyers daar in sy (Jopie se) distrik was nie. Hy was ten gunste van vryheid vir sy vaderland en het derhalwe besluit om hom by die burgers wat soos hy voel, te voeg. Sy broer het hom vergesel. Gevolglik het hy hom twee dae later, in uniform en sonder om uit die Weermag te bedank, by generaal Beyers aangesluit. Hy was mettertyd in tien skermutselings met regeringstroepe betrokke, waartydens hy en die burgers by hom glo deurgaans nie-aanvallend opgetree het. Tydens die laaste hewige skermutseling op 16 Desember by Nooitgedacht, noordwes van Pretoria, is hy en ’n deel van die kommando gevange geneem en na Pretoria geneem.
Hy was onverstandig om nie uit die Weermag te bedank nie en is gevolglik deur ’n veldkrygshof in Pretoria van verraad aangekla en op 19 Desember, soos sy broer, ter dood veroordeel. Sy broer se vonnis is weldra na vyf jaar hardepad verander. Toe Jopie die krygshof toegespreek het, het hy nie vir homself om genade gepleit nie, maar wel vir sy broer en sy manskappe, wat hy gesê het, onder sy invloed was. Pogings tot begenadiging is wel aangewend, maar het op niks uitgeloop nie, omdat generaal Smuts oënskynlik van Jopie ’n voorbeeld wou maak. ’n Versoekskrif wat ’n pleidooi om begenadiging bevat het, is sonder verwyl opgestel. Dit is aan ’n afvaardiging bestaande uit dominees DF Malan, HS Bosman, CA Neethling en advokaat Gey van Pittius en dr. FCA Grünberger opgedra om dit aan Smuts by sy plaas Doornkloof, net buite Irene, te gaan oorhandig. Smuts het hulle egter moedswillig ontduik deur op die plaas te gaan stap en later inderhaas na Pretoria te vertrek. Hy het dit ontken, maar ’n huishoudster van hom het jare later bevestig dat dit wel die geval was.
Dit kan egter aanvaar word dat Smuts nie gehoor sou gee nie, al het die afvaardiging hom wel gespreek. Ewe ongevoelig was dit dat Jopie eers om negeuur die aand meegedeel is dat hy die volgende oggend, Sondag 20 Desember, tereggestel sou word. Dié nag het ds. Neethling saam met hom deurgebring en het hy briewe aan sy geliefdes, vriende, regspan en aan Louis Botha geskryf. Sy geloof in die drie-enige God spreek duidelik uit hierdie briewe en hy verklaar dat God se wil geskied en verwys ook na Psalms 121 en 23. Verder vra hy dat daar nie oor hom getreur moes word nie, maar dat sy geliefdes mekaar moet vertroos, want: De boom die geplant is, en met mijn bloed benat is, zal opgroeien tot een grote boom. Aan Botha skryf hy: Gy waart mijn ideaal als Afrikaander, maar ek ben nu teleurgesteld en voeg daaraan toe dat hy hoop Botha voel lekker oor die smart wat hy sy familie aandoen. Hy het ook gevra dat die woorde Voor God en voor Vaderland op sy grafsteen aangebring moet word.
Terwyl die vuurpeloton om vyfuur die oggend aangelê het, het die 36-jarige Jopie ’n gesang gesing. Waarskynlik het Jan Smuts opdrag gegee dat hy na die teregstelling sommer inderhaas op die gevangenisterrein in ’n graf geplaas moes word. Twee nagte later is hy ewe stilletjies opgegrawe en onder ’n vals naam in die Rebeccastraatbegraafplaas begrawe. Deur die toedoen van sy vrou, Susan, is hy op 27 Oktober 1915 opgegrawe en in ’n nuwe kis herbegrawe, net om met die nodige toestemming op 20 Desember 1923 finaal in die Heldeakker te ruste gelê te word.
Die wyse waarop Jopie Fourie deur Jan Smuts en Louis Botha se ongenaakbaarheid aan sy einde gekom het, het groot bitterheid onder Afrikaners tot gevolg gehad. Dit het van Jopie Fourie ’n held én martelaar gemaak én die beeld van die Botha-bewind groot skade berokken, waarvan Botha en Smuts later die wrange vrugte sou pluk.