Ds. Johan Theron deel hulle COVID-19-ervaringe

Ds. Johan Theron deel hulle COVID-19-ervaringe

Die Covid-19-virus is nie die ergste nie, maar wel die vrees waarmee dit die mens beetgepak het. Dit het ons lewe heel interessant gemaak. 

My en Meisie se lewens was vir twee maande intens geraak. Soos elke jaar die afgelope vyf jaar, het ons verlede jaar betyds ons vlugkaartjies by SAL gekoop; die goedkoopste en ’n direkte vlug na Perth, Australië. Ons het toé al die tyd spanningsvol afgewag, want SAL was in die weegskaal. Die nuwe jaar breek aan en die lugdiens hou nog – 16 Maart kom al nader. Met die nuwe jaar saam kom daar ook ’n nuwe virus wat baie gou die hele wêreld op hol het, veral toe die media Italië se gevalle met vreesaanjaendheid die wêreld instuur.

Met ’n gewik en ’n geweeg is ons 16 Maart 2020 op die lughawe. Om van ons kant te kanselleer sou meebring dat ons al die geld verloor. Rondom ons is dit mense met maskers en handskoene en botteltjies met ontsmettingsmiddels. Op daardie stadium het ons nog geen telefoniese kennisgewing gekry dat die vlug afgestel is nie. So stoom ons voort tussen gemaskerde mense en kontrolepunte deur totdat ons uiteindelik op ons sitplekke sit (nadat die vlug twee ure laat was).

Nege ure later land ons op Perth lughawe. Ons het dit gemaak. Nie sonder ’n verrassing nie. In Afrikaans word ons twee toe deur die vlieënier in Australië verwelkom (ons skoonseun was op daardie stadium in die beheertoring). Daar tref ons dieselfde voorsorgmaatreëls aan, maar met minder vreesagtigheid. Die vereiste is dat ons vir twee weke by die kinders in huis-isolasie is sonder dat dit hul bewegings inperk. Ná die twee weke kon ons vry in die openbaar beweeg.

Ons sou 14 April weer terugvlieg, maar intussen het daar baie gebeur. Suid Afrika het in grendelstatus gegaan; alle vlugte is gekanselleer en SAL is windaf. Daarmee saam ook ons retoerkaartjies. Alle verbinding met die reisagentskap en die lugdiens was verbreek. Die enigste wat ons kon doen, was om die ambassade te kontak en ons name as gestrandes op te gee. Die kinders wou nie hê ons moes terugkom nie; die berigte vanuit Suid-Afrika rakende die repatriasievlugte en kwarantyntyd was nie bemoedigend nie. Intussen het die tyd aangestap sonder enige nuus van iewers en vier weke word toe ses weke.

Skielik een oggend kry ons die tyding dat daar op 30 April ’n vlug Suid-Afrika toe is vir vasgekeerdes in Australië. Wil ons of wil ons nie? Ons het twee dae om te besluit; die geld moet inbetaal wees die vorige dag vóór vyfuur die middag. Ten spyte van ons retoerkaartjies moet ons toe nog R17,000 inbetaal. Ons wag. Die kinders sê, nee en ons twee is in groot twyfel. Vyf minute voor die tyd betaal ons in.

Dit was ’n terugvlug van groot onsekerheid oor wat om te verwag. Waar en hoe gaan die kwarantynplek wees? Dit leef in al die passasiers se gemoedere. Ons kom om tienuur Donderdagaand in Johannesburg aan. Ons word aangesê om in die vliegtuig te bly totdat ons koors geneem en ons hande gereinig is. Dit word warm en bedompig en die tyd stap aan. Die leviete word ons voorgelees en ons wag. Ons sal uitgaan en na die paspoortkontrolepunt geneem word terwyl ons bagasie vir ons buite, langs die vliegtuig, op die teerblad, neergesit sal word. Onder goeie bewaking word ons op ons tog begelei. Uiteindelik was ons voor die uitgang na buite, aan die agterkant van die lughawe. Ons word in groepe van nege deurgelaat na ’n plaat van minibus-taxi’s wat gereed staan; sewentien van hulle. Uitgelaat, moes ons die bagasie kry en na ons taxi neem. Vir die eerste keer in my lewe ry ek in ’n “taxi” met die vraag in my gemoed of dit gereinig is. Dit was iets om te aanskou. Sewentien of meer taxi’s wat met polisiebegeleiding met flitsende ligte deur die strate van Johannesburg ry. Waarheen? bly ons wonder.

Eers verdwaal die touleiers. Die heel pad volg ek die naamborde en kom agter ons is later op die westelike ompad in die rigting van Soweto. Gelukkig word daar by Sandton afgedraai na Fourways. Nog later sien ek die naambord van die Indaba hotel. Wat ’n massiewe terrein! In die nag lyk dit nog erger met so n klomp voertuie. Toe was dit reeds halftwee die oggend. Weer wag ons. Die passasiers word taxi vir taxi ingeboek en ons was van die laastes. Later besef hulle dit gaan tot ligdag duur en ons word na ons kamers geneem om die volgende oggend alle papierwerk af te handel. Halfdrie was ons in ons kamer. Heel verlig besef ons dit is ’n gerieflike kamer met privaat badkamer en stortgeriewe. Ook ’n ketel met koffie en tee; – so welkom daardie tyd van die oggend ná baie lang ure.

Ek slaap tot laat die oggend in die bed met sagte matras en heerlike beddegoed, net soos dit in ’n ordentlike hotel kan wees. Wat ’n dankbare gevoel binne my ná ’n spanningsvolle tyd.

Darem nie té laat nie. Net voor agt is daar ’n klop aan die deur, tyd vir koors meet. Maskers aan, asseblief. Tien minute later weer ’n klop aan die deur. Ontbyt word in polistireenbakkies in ’n plastiese sak toegebind, voor die deur neergesit en die afleweraars is reeds weg toe ons dit kry. Nie te sleg nie. Wors, eiers, bone, koeldrank, ensovoorts Middagete was burgers, aartappels, vrugtesappe, ensovoorts. Aandete was vleis, groente, terte as nagereg en baie vrugte soos appels en pere. Die eerste Saterdagaand het ons selfs braaivleis gekry – heerlike skaaptjops en ’n biefstuk. Elke agtermiddag is ons koors weer gemeet.

Ek was later moeg gelees – die geskiedenis van die profete en konings van Israel. Ná ’n week was ek deurgeëet. Gelukkig het ons ná ’n paar dae begin rondbeweeg op die terrein; natuurlik met wagte wat ons gekeer het as ons te ver weg beweeg het. Ons het baie vriende gemaak. Van so ver as Durban, Port Elizabeth en Kaapstad. Almal met kinders in Australië. Sommige het so naby as  ’n paar kilometer van die hotel af gebly. Vir hulle was dit baie swaar.

Ná ses dae is ons getoets vir die virus. Dit was aardig. Met ’n lang ding word daar agter in jou keel gekrap en baie van ons was baie na aan naar word. Tot vandag toe het ons nog nie die uitslae gekry nie. Die laboratoriums was tien dae agter. Op die veertiende dag kon ons huis toe gaan; magtigingsvorms in die hand. Skielik het ek die gevoel gekry dat dit nie veilig was om die strate aan te pak nie. Padblokkades met onverdraagsame beamptes was nie aanloklik nie.

Ons motor was by my broer in Randfontein. Vir hom is gesê hy moet by die landdroskantoor ’n permit gaan kry om ons te kom haal, ten spyte van ons magtiging wat geldig was. Daar gekom was die een wat moes teken, in n vergadering. Dit was eers elfuur toe hy by ons opdaag.

Uiteindelik was ons veilig by die huis, Vrydag, 15 Mei. ’n Volle twee maande nadat ons hier weg is. Die Here was vir ons goed en het ons baie bederf.

Ds. Johan Theron (Bothaville).

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial