Die onlangse gebeure in Stellenbosch met die legitimasie van studente waar na God Drie-enig verwys is as die Een wat “haar verbond bevestig, … of Hom, hoe jy dit ook al sien”, is tans sterk onder bespreking. Die vraag oor die implikasies van verwysings na God as vroulik, het weer opgevlam. By alle verleentheid, bied dit ook ’n besondere geleentheid om na te gaan waarom soveel mense deesdae telkens in dieselfde soort slaggate beland. Eintlik is hierdie saak ook nie so nuut nie en wie werklik hieroor wil naslaan, sal goed doen om uit verskillende tradisies verteenwoordiging van getroue antwoorde te vind in ’n publikasie van 1992 met die naam, Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism.[1] Die goeie nuus is dat die Bybel en teologie steeds in ons geslag vernuwend met mense kan werk. Maar dan moet ons leer om nie ons Bybel en tradisie vir ’n pot lensiesop te verruil nie. Wie werklik aangesit het by die feesmaal van klassieke teologie, wil dit ook nie doen nie. Daarom is dit belangrik dat ons bepaalde bakens goed in die oog sal kry.

Heerlike teologie

My pa het ons altyd vertel van ’n oom wat vir hulle geleer het: “Om mens te wees, is lekker, maar dan moet jy ’n lekker mens wees.” Oorgedra na geloofsvrae kan ons stel: Om teologie te beoefen is heerlik, maar dan moet jy leer om ’n heerlike beoefenaar van die teologie te wees. Dit is ook nie so moeilik nie. Ons hoef eenvoudig soos kinders te wees wat luister en gehoorsaam wat hul Vader, let wel, in en deur Christus en sy kerk duidelik gemaak het. Daar is ’n sin waarin elke gelowige ’n mini-teoloog is, want teologie gaan daaroor om God en sy Woord te ken en met jou lewe in verband te bring. Al wat betitelde teoloë doen is om dit op amptelike vlak te doen, maar dikwels gaan nie-amptelike teoloë die amptelike teoloë voor in egte teologie. Om maar een voorbeeld te noem: Die ou krom tannie wie se oë blink en wat vir die dominee met lewende geloofsoë in haar beproewing sê: “Dit gaan goed, dominee, want die Here leef en Satan beef”, is dalk ’n beter teoloog as die dominee wat al referate oor die soewereiniteit van God uitgewerk het.

Bewus van hierdie werklikheid, wil ek tog waag om my mede mini-teoloë te wys op ’n aantal bakens wat help om die saak oor verwysings na God as vroulik te hanteer. En laat my toe om my gelowige leser se goeie gesindheid te verseker: Ons behoort inderdaad ’n hekel te hê aan teoloë wat uit die hoogte vir gelowige mense wil vertel hoe eenvoudig hulle is om nie die kompleksiteit van teologiese sake beter te begryp nie. Het ek my leser dan nou met vleitaal probeer sagmaak vir my saak? Nee, stellig nie. Soos die profeet Sarel van Roepersfontein by geleentheid gesê het: “Ek wil net bevestig dat drie vingers ook terugwys na diegene wat uit die hoogte praat van hermeneutiese onderrokke wat uithang by gelowiges wat net maar hulle Bybels getrou wil lees.”

Metode en aptytwekkers

Wanneer ons die saak oor verwysings na God as vroulik moet hanteer, is daar ten minste drie sake wat aandag moet kry. (1) Ons sal deur die Skrif moet nagaan hoe daar oor God gepraat word en spesifiek hoe Hy aangeroep word. Ons sal hiermee ook opnuut moet vra wat die gesag van die Skrif beteken en hoe ons dit in breë trekke behoort te hanteer. (2) ons sal voorts moet nagaan hoe die saak of verwante sake in die geskiedenis van die kerk hanteer is. Die vraag wat natuurlik hiermee saam hanteer moet word, is hoe ons met die geskiedenis van die kerk se worstelinge en interpretasie omgaan. Daarna (3) sal ons moet vra hoe ons vandag op die skouers van hulle wat ons voorgegaan het, getroue kinders van God kan wees wat in ons eie tyd waardig die roeping wandel waarmee ons geroep is. Hiermee saam sal die gees van die tyd en die tipiese winde wat vandag waai, in ag geneem moet word. Dit sal ons by ’n gevolgtrekking bring.

Dit kan wel belangrik wees om hier reeds inleidende aptytwekkers te gee en nie soos pure postmoderniste die antwoord oneindig uit te stel nie. Hier kan daarom reeds opgemerk word dat dit een ding is om heel geregverdig vroulike eienskappe ook met God in verband te bring deur vergelykings, aangesien beide man en vrou na die beeld van God geskape is. Dit is egter ’n ander saak, en dit is waar die weë skei, om na God as vroulik te verwys en veral om Hom, let wel, so aan te spreek. Dit is eintlik ook reeds ’n verlore stryd vir die wat dit wil teengaan, aangesien dit net te diep by die deursnee Christen ingegraveer is wat tereg geleer het om die Onse Vader te bid. Al wat eintlik oorbly vir diegene wat daarvan hou om te hoes teen die donderslae van die Woordopenbaring, is om met een of ander vorm van suspisie te werk: Is dit werklik so dat God dit sê, of het ons in die Bybel maar net te doen met woorde oor Hom in ’n patriargale kultuur? Kortom, is die Bybel Woord van God of net woorde oor God in ’n ander tyd wat ons vir ons tyd moet “herinterpreteer”?

Die hermeneutiek van suspisie hou van laasgenoemde antwoord, maar dit is eintlik nie iets nuuts nie. Die slang in die paradys het reeds suspisie oor God se Woord begin saai en die afgelope eeu het ons meer as genoeg van twyfelkunde in teologiese en filosofiese departemente gehad. Die gevolg is dat te veel mense uit die volk, soos in die tyd van Elia, maar net een antwoord kan gee toe hy hulle vra waarom hulle op twee gedagtes hink (vgl. 1 Kon. 18:21). Die volk het stilgebly, want inderdaad het hulle nie meer geweet nie. Daar is egter wel wonderlike maniere om tot helderheid te kom. Die bekende skrywer en Christelike apologeet, C.S. Lewis, het by geleentheid deur een van sy karakters in ’n verhaal daarop gewys dat daar skynbaar ’n dosyn sienings oor enigiets is. Dit is, totdat jy die antwoord ken; dan is daar nooit meer as een nie.[2] Klink dit arrogant? Nie as jy al in praktyk dit self beleef het nie. Kyk maar vir ’n begin net na ’n episode uit die mediese Sherlock Holmes-reeks, House, as enigiemand nog twyfel, of gaan soek sommer net weer net ’n goeie speurverhaal om te lees.

Suspisieus oor suspisie

Daarom moet ons eenvoudig suspisieus wees teenoor die kampioene van suspisie. As hulle daarin uitmunt om te vra wat die storie agter die storie is, ook van die Vadernaam, en twyfel-twyfel alles op losse skroewe stel behalwe hul eie twyfel, wel dan sal ons die gunsie terugkaats. Ons sal suspisieus wees oor hul suspisie en ook vra wat die storie agter hul storie is. Ons sal die geneesheer met sy of haar eie medisyne hanteer – ons sal die dekonstruksioniste dekonstrueer. En ons sal verder moet gaan en suspisie eerder met dankbaarheid vérvang. Waarom? Omdat ons die openbaring van God, in natuur en Skriftuur, werklik as verdiepende misterie óntvang. Dit het skynbaar mode geword om openbaring en misterie teenoor mekaar op te stel. Maar wat gebeur wanneer ons vind dat die openbaring van God nie die misterie wegneem nie, maar tegelykertyd lig bring asook die misterie verder verdiep? Die antwoord: Dan het jy ’n leeftyd van avontuur en ontdekking in verdiepende misterie wat voorlê. Dit geld ook met betrekking tot openbaring van die Vadernaam. Dit is maar een saak wat die herontdekking van die openbaring van God in die natuur en die Skriftuur vir ons inhou. Dit het werklik die potensiaal om ons geslag te vernuwe in die geheimenis van eeueoue woorde wat oopbreek om ons op wonderlike avonture te neem waar die openbaring van God net verdere verwondering bring. Daarvoor het ons klassieke teologie nodig en nie korrelasie-teologie wat met byderwets-gekleurde brille dink dat dit alreeds die gehalte van die bril waarborg nie. Hierop sal daar in volgende aflewerings verder ingegaan word met die werkswyse wat hierbo uiteengesit is.

 

[1] Kimel, A. 1992. Speaking the Christian God: The Holy Trinity and the Challenge of Feminism. Grand Rapids: Eerdmans.

[2] C.S. Lewis, That Hideous Strength.