In ’n onlangs episode van “Air Crash Investigations” op televisie, word ’n vliegtuig kort voor landing deur weerlig getref. Die loodse aanvaar verkeerdelik dat die “auto-pilot” afgeskakel het. Hulle besluit om nie voort te gaan met die landing nie, maar eers te sirkel om vas te stel of daar skade is. Toe hulle wil begin klim, ontstaan daar ’n stryd tussen die loodse en die “auto-pilot”. Hulle wil op en die “auto-pilot” wil die hoogte handhaaf. Hulle wen gedeeltelik en kry die vliegtuig so 2000 voet hoër – ontspan effens, maar die “auto-pilot” neem oor en hulle beland in ’n duik. Gelukkig – wat seker as genade van Bo gesien kan word – skakel die “auto-pilot” minder as twee minute voor hulle in die see duik af en die loodse kan normaal voortgaan om veilig te land.

Die analogie met die Suid-Afrikaanse ekonomie is duidelik. As ons die markkragte sien as die “auto-pilot”, is dit duidelik dat die ANC-regering in ʼn hewige stryd met die markkragte gewikkel is in ’n poging om die ekonomie te laat groei. Somtyds wen hulle ’n bietjie deur beleggingskonferensies, maar dan neem die markkragte weer oor en die ekonomie duik verder as gevolg van die markkragte wat die ANC-regering self deur hulle ekonomiese benadering ingestel het om ons te laat duik.

’n Vriend twiet onlangs: “Dit behoort ’n vereiste te wees dat enige-een wat in die parlement mag stem oor ten minste Ekonomie 101 moet beskik.” Dalk is die hele Ekonomie 101 nie nodig nie, want ek dink dit was al in die eerste lesing in Ekonomie 101 dat die lektor verduidelik het dat as ’n produk se vraag hoër is as die aanbod, dan styg die pryse. Sodoende word die aanbod gestimuleer en die vraag ontmoedig. Wanneer die aanbod hoër is as die vraag, daal die pryse om die aanbod te ontmoedig en die vraag te stimuleer. Dit is die lesing wat die ANC-regering – of is dit nou die vyfjaarlikse ANC-konferensiegangers – skynbaar gebank het of nie verstaan dat dit ook op die arbeidsmag van toepassing is nie.

Die ANC is behep met die swak Gini-koëffisiënt wat die ongelykheid tussen arm en ryk meet, maar verstaan nie dat dit eintlik net die resultaat is van ’n onderaanbod van vermoënde, goed opgeleide bestuurders of professionele mense met ondervinding en ’n ooraanbod van swak opgeleide mense sonder ondervinding nie. Hierdie situasie dryf dus die vergoeding van bestuurders en professionele mense opwaarts en die vergoeding van die swak opgeleide werkers afwaarts.

Die oplossing om die Gini-koëffisiënt te verbeter, is dus om méér goed opgeleide mense met ondervinding in die ekonomie in te bring en minder swak opgeleide werkers sonder ondervinding in die beskikbare werksmag te hê. As ons na die ANC en sy vyfjaarlikse konferensiegangers se beleid kyk, is dit presies die teenoorgestelde.

Eerstens is daar die voorgeskrewe minimumlone. Minimumlone is seker gedeeltelik geregverdig en kan uitbuiting verhoed, maar dit is en bly ’n direkte inmenging in die markkragte. Dit skuif die salarisse van die laer besoldigde werkers kunsmatig op en gevolglik ook die ekonomiese gelykbreekpunt tussen arbeidskoste en die koste van kapitaalbeleggings in meganiserings- en outomatiseringstoerusting. Dit lei dus tot meer meganisering en minder werksgeleenthede en dus hoër werkloosheid. Dit forseer ook werkgewers om opnuut te kyk na hulle werksmag met die vraag of hulle nie met minder arbeiders kan regkom nie. In hierdie opsig is huiswerkers dalk ’n goeie voorbeeld: Ek vermoed dat baie gesinne besluit het dat hulle nie meer die luuksheid van ’n huiswerker kan bekostig nie en nou hulle eie werk doen.

In ander gevalle verhoog dit die produksiekoste van goedere wat prysverhogings noodsaak. Volgens die ekonomiese reël hier bo, beteken dit laer verkope en dus laer winsgewendheid wat personeelverminderings noodsaak. Die resultaat is dat party werkers meer geld kry, ander hulle werk verloor, pryse styg en die Gini-koëffisiënt dieselfde bly.

Tweedens is die ANC-regering se grensbeheer uiters swak met die gevolg dat letterlik duisende onwettige immigrante die land instroom. Ek vermoed die meeste hiervan is onvoldoende gekwalifiseerde mense met min of geen ondervinding nie. Die huidige debat oor xenofobie is die resultaat van dié mislukking. In plaas van beter grensbeheer en ’n beter immigrasiebeleid, beskuldig die regering net die mense wat die impak van hulle swak beleid eerstehands ervaar. Die gevolg is meer werkloosheid, onrus en geweld.

Derdens volhard die ANC met sy benadering van regstellende aksie en raskwotas in die werksplek. Dit het veral in die staatsdiens en die staatsbeheerde maatskappye gelei tot die vinnige vervanging van goed opgeleide, bevoegde, hoofsaaklik blanke mense met ondervinding, met mense wat minder of selfs geen toepaslike ondervinding het nie. Dit lei tot die ineenstorting van besigheidsprosesse en die geleidelike verval van die genoemde organisasies en die staatsdiens.

Mense wat so uit diens gestel is en sukkel om weer werk te kry, tesame met skeptisisme oor die toekoms van die land en die hoë misdaadsyfer, besluit maklik om te emigreer. Suid-Afrika het sedert 1994 seker ten minste een miljoen van sy goed opgeleide en ervare werkers verloor. Dit beteken ’n tekort aan die hoërinkomstewerkers wat weer hulle besoldiging opskuif en die Gini-koëffisiënt verswak.

As ‘n mens weet dat die kaliber (vermoë, opleiding, ondervinding en so meer) van die mense in ’n land die belangrikste, selfs die enigste faktor is wat jou land se ekonomiese vlak bepaal, dan besef jy die diepgaande skade wat die ANC aan die ekonomiese vermoë van Suid-Afrika aangerig het.

Die oplossing is nie ʼn vinnige een nie, want selfs as jy vandag die situasie omkeer, sal dit ten minste15 jaar neem voordat jy goed opgeleide mense uit die opleidingstelsel kry en as ons nog tien jaar bytel vir daardie mense om goeie praktiese ondervinding op te doen, mits daar mentors is om hulle indiensopleiding te gee, dan lyk die korttermyn ekonomiese toekoms nie goed nie. Oor baie is hulle aangestel, maar oor so min daarvan is hulle getrou.

Miskien is dit nou die tyd vir die ANC-regering, hul konferensie-afgevaardigdes en die kiesers wat vir hulle stem, om kennis te neem van wat Einstein gesê het: “Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”

 38 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial