Op Sondag 28 Mei publiseer die Sunday Times ’n meningstuk deur Deon Wiggett met die opskrif “Voortrekker Monument: ‘Golgotha’ that became reverend’s ‘preying ground’”.[1] Met die lees van die stuk was ek van vooraf teleurgesteld oor die vlak waartoe joernalistiek in Suid-Afrika gedaal het. Sensasiebehepte joernalistiek mag dalk koerante se leserstal ’n hupstoot gee, maar dit is nie ’n plaasvervanger vir waarheid en geloofwaardigheid nie. Dit is jammer poniekoerant-sensasie-joernalistiek die integriteit van gerespekteerde nuusagentskappe en mediahuise in gedrang bring. Ek verskil ten sterkste met die inhoud van die stuk en reageer graag op enkele aspekte daarvan, aangesien dit die ware feite gruwelik verdraai. 

Uit die meningstuk is dit duidelik dat meneer Wiggett “anti” sekere dinge is: anti-Afrikaner, anti-konserwatief, anti-patriargaal en anti-kerk. Uit die lees van die meningstuk kry ’n mens die indruk dat hy na ’n uitlaatklep vir sy frustrasie gesoek het – ’n geleentheid om hierdie anti-sentimente in ’n konkoksie saam te voeg waarin lesers iets van sy teleurstelling en weersin kon proe. Dit laat egter ’n bitter nasmaak van ongeloofwaardigheid. 

Lees ’n mens die stuk deur, is dit op die oog af duidelik dat daar wyer gekrap en gelees is op soek na inligting – dit is immers wat ’n mens van ’n ondersoekende joernalis sal verwag. Wat egter jammer is, is dat hy nie belanggestel het in inligting wat die feite van die saak kon bevestig al dan nie, maar dat hy eerder na inligting gesoek het wat sy eie mening, voorveronderstellings en wanpersepsies kon ondersteun. Ons almal is bekend met strooipopargumente. In hierdie artikel is die strooipoppe selfs duideliker as die Voortrekkermonument teen die blou hemel afgeëts. Die konserwatiewe Afrikaner, sy patriargale sisteme en kerklike instellings, word uit die staanspoor as bose strooipoppe geteken wat vir alles wat fout is in die samelewing, blameer word. Sonder om te blik of te bloos, word die AP Kerk as “verregs” geklassifiseer en die Afrikaner se Voortrekkervoorouers, as diewe wat daarop uit was om die Zoeloes se “land af te neem”. 

Ek glo dat iemand soos meneer Wiggett graag wil hê dat die waarheid moet seëvier – veral in ’n saak soos hierdie en omdat hy persoonlik al deur die trauma van molestering moes gaan. Dit is net jammer dat hy self kies om selektief met die waarheid om te gaan. Hoewel hy by ds. Johan Schütte, Direkteur van Kerkadministrasie van die AP Kerk, navraag oor die saak gedoen het, besluit hy om nie ’n woord van ds. Schütte se reaksie in sy meningstuk te publiseer nie.

In stede daarvan kies hy eerder om sekere uitsprake buite konteks aan te haal en slaag hy daarin om ’n verdraaide beeld van ’n historiese geleentheid soos die slag van Bloedrivier te skets en om die Afrikaanse Protestantse Kerk as verregs en ultra-reaksionêr te tipeer. Om dit te doen, is nie ’n kuns nie. Deur byvoorbeeld Christus se woorde selektief aan te haal en in ’n sekere volgorde in te span, kan selfs iets soos verkwisting en losbandigheid uit sy mond regverdig word: En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe (Lk. 15:13). Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so (Lk. 10:37). Konteks is belangrik. ’n Korrekte aanhaling sonder die korrekte konteks, verander waarheid in sensasie en plaas ’n demper op geloofwaardigheid. 

As meneer Wiggett die moeite gedoen het om eerlik met die feite om te gaan, sou hy dalk tot sy verbasing ontdek het dat die AP Kerk nie “anti” alles is nie, maar dat ons beslis vír sekere dinge staan. 

  • Ons staan vír waarheid en geregtigheid, maar nie vir ’n verdraaide of saamgeflansde weergawe daarvan nie. Indien dit aan die lig kom dat die aantygings teen ds. Swart en sy vrou inderdaad waar is, sal die kerk nie huiwer om, ooreenkomstig die Skrif, die nodige tugstappe toe te pas nie.
  • Ons staan egter nie net vir waarheid en geregtigheid nie, maar ook vír liefde. Daarom weet ons dat wanneer die waarheid in sensasie verander word, dit die geneigdheid het om uiters liefdeloos te wees en uiteindelik op boendoegeregtigheid uitloop – al is dit net in die vorm van ’n artikel soos dié van meneer Wiggett.
  • Ons staan vír lewe en gevolglik vír menswaardige optrede teenoor alle mense. Dit sluit beide die menswaardigheid van die vermeende slagoffer as die menswaardigheid van die vermeende oortreders in. Ons besef terdeë, en is dit daarin met meneer Wiggett eens, dat ’n kind vir ewig geskend kan word wanneer hy of sy die slagoffer van volwassenes se siek en perverse begeertes is, maar ons weet net so goed dat nie eens ’n uitspraak van “onskuldig” ’n brandmerk soos “seksuele roofdier” kan verwyder nie.
  • Ons staan vír die gesonde waardering van ons geskiedenis en simbole, soos die Voortrekkermonument, wat ons aan die groot dade van God in ons volk se geskiedenis herinner. 

Waarom staan ons vir hierdie dinge? Want, anders as die gevolgtrekking waartoe meneer Wiggett kom, is daar vir ons heiliger grond as die Voortrekkermonument. Dit is om elke dag voor die aangesig van die lewende, regverdige en alwetende God te leef wat die lewende en die dode sal oordeel!

[1] https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/insight/2023-05-28-voortrekker-monument-golgotha-that-became-reverends-preying-ground/