BLM: ʼn Nuwe godsdiens vir ʼn nuwe wêreld

BLM: ʼn Nuwe godsdiens vir ʼn nuwe wêreld

Dalk is jy ook al teen hierdie tyd net so keelvol soos ek om van Black Lives Matter (BLM) te hoor. Met elke plaasaanval en -moord word die weersin ook net groter. Hoe kan net sekere lewens saak maak? Hoe kan ʼn advertensie vir shampoe meer reaksie ontlok as gesinne wat uitgewis word?

Politieke korrektes het baie vinnig begin om BLM hul eie slagspreuk te maak en by openbare byeenkomste die knie as simboliese en rituele vereenselwiging daarmee te buig. Hierdie artikel wil egter nie op die BLM-beweging reageer omdat dit ʼn rasgefokusde, sosialistiese beweging is nie, maar juis omdat dit ʼn godsdienstige beweging is wat vanuit hulle aanbidding die kultuur en politiek van die hele wêreld wil verander. Danksy die media se beriggewing oor die opstande en aggressie waarmee dit gepaard gaan, is baie mense bewus van ʼn aantal kulturele en politieke droombeelde van die beweging.  Tog weet bitter min blykbaar van die godsdienstige basis wat as die vertrekpunt daarvan dien. Die feit is dat BLM oor baie meer as ʼn slagspreuk gaan. Dit is ʼn radikale kultus wat verskeie omstrede geloofstandpunte huldig; standpunte wat glad nie deur Christene ondersteun kan word nie.

ʼn Nuwe godsdiens

Onkunde oor hierdie standpunte behoort eintlik nie te bestaan nie, aangesien die drie vrouens wat BLM in 2013 begin het (Opal Tometi[1], Patrisse Cullors en Alicia Garza) almal al in die openbaar verklaar het dat dit nie net oor hardhandige polisieoptrede gaan nie. Dit was veral Cullors se onderhoud met dr. Melina Abdullah wat die sluier oor die geestelike sy van die beweging gelig het.[2]

Voor elke byeenkoms is daar ʼn ritueel waar die vermoorde “slagoffers” in wie se naam hulle byeenkom, se gees opgeroep word. Cullors het gesê: “… it is literally almost resurrecting a spirit so they can work through us to get the work that we need to get done.” Sy reken dat daar sodoende ʼn politieke en ook geestelike verbintenis tussen die betogers en die “slagoffer” se gees bewerkstellig word. Dit is ʼn gebruik wat vanuit die Afrikagodsdienste se aanroeping van die voorvadergeeste spruit. Die oorledenes se geeste word nou opgeroep om vir hulself geregtigheid te bewerk.

Dr. Abdullah is die organiseerder van BLM in Los Angeles en het self al tydens so ’n seremonie die leiding geneem.[3] Hulle het blomme in ʼn sirkel gepak om daarmee ʼn “heilige spasie” te skep en die deelnemers het na die allerheiligste middel van die sirkel verwys as die “kerk”. Binne die sirkel was slagspreuke met veelkleurige kryte geskryf. Roubeklaers betree die sirkel dan as ʼn heiligdom. Hulle word stil in bepeinsing. Hulle kniel. Hulle huil. Hulle is stille roubeklaers. Die plek waarop ʼn swart persoon deur die polisie gedood is, word as ʼn altaar beskou, ʼn heilige plek waar daar oor die dood gerou kan word. As deel van die ritueel hou almal hande vas en word slagoffers se name oor-en-oor herhaal, terwyl ʼn vloeistof as drankoffer op die grond uitgegooi word in navolging van die Ifa-geloof uit Wes-Afrika. Dr. Abdullah verduidelik dat hierdie ritueel ʼn vorm van aanbidding is.

Vanuit die BLM het ʼn netwerk van organisasies ontstaan wat toe die Movement for Black Lives (M4BL) gevorm het om ʼn verenigde front vir hulle eise te skep. Die groeiende lys eise kan op hulle webblad gelees word.[4] Hul stry nie slegs vir rassekwessies nie, maar die beweging sien hulself as die verpersoonliking van ʼn geesgedrewe sosiale geregtigheid. Hulle het ʼn verering van “vryheidsvegters” soortgelyk aan die verering van heiliges. ʼn Leraar wat dit ondersteun, stel dit ook gelyk met die Roomse verering van heiliges.[5] Die beweging is ʼn kookpot waarin talle bestanddele met mekaar vermeng word: geestelike praktyke en gebruike van Afrikagodsdienste, voorvaderaanbidding, danse, mantras, oproep van geeste, alternatiewe genesingspraktyke soos akupunktuur, reiki, terapeutiese massering en toordokters se tradisionele genesing.

Cullors is van mening dat tradisionele geloof mense onderdruk en pleit vir ʼn spiritualiteit wat die radikale vermoë het om mense se menswees te genees. Daarom noem prof. Hebah Farrag van die Universiteit van California BLM tereg ʼn “ander en nuwe geloof.”

Danksy die optrede van Marxiste soos die EFF en BLF dink ons baie keer dat hulle net daarop fokus om dit wat bestaan, af te breek. Daar word heeltemal te min gevra na dit wat hulle in die plek van die heersende orde tot stand wil bring. BLM se geskoolde Marxiste help ons hiermee deur die beleid wat hulle geformuleer en op hulle webblad gepubliseer het.

ʼn Nuwe kultuur en politieke bestel

Vanuit hul spiritualistiese wortels wil hulle die kultuur en politiek van die hele wêreld wil verander. Die ganse bestaande orde word beskou as ʼn stelsel van onderdrukking, veral die Westerse kultuur en daarom moet bestaande gemeenskappe, gesinne, geslagtelikheid, gevangenisse en godsdienstige praktyke met nuwe alternatiewe vervang word.

In die aftakeling van die bestaande orde is dit nie vreemd dat die gesin as bousteen daarvan in BLM se visier is nie. Hulle oogmerk is om die Westerse voorskrif van ʼn gesonde familiestruktuur te ontwrig en dit met uitgebreide ondersteuningstrukture waar die gemeenskap die kind opvoed, te vervang. Openbare skole moet van leersentrums na welsynsdienspunte verander word waar multikulturele programme en gratis aborsies vir minderjariges aangebied word, terwyl alternatiewe seksuele keuses beskerming sal geniet. LGBTQ en feministiese leiers tree baie sterk op die voorgrond binne die beweging. Hul beywer hulle vir die wettiging van prostitusie en is ook ten gunste van die wettige besit van en handel in dwelms.

Die voorgestelde wysigings toon baie duidelik aan uit watter omstandighede daar hieroor gedink is. Ons sal egter moet vra of dit enige verbetering aan daardie omstandighede gaan bring. Die feit is dat kinders uit vaderlose huise meer geneig is tot verslawing, armoede, misdaad en tronkstraf as diegene wat binne ʼn tradisionele gesin opgevoed word. Liefdevolle gesinne is die basis vir ʼn gesonde gemeenskap. BLM probeer egter gemeenskappe bou deur met gesinne weg te doen. In hulle verwerping van die Bybelse rol van die vaderfiguur, verswak hulle die gemeenskap net nog verder. Dit is so ironies dat ʼn beweging wat so teen sistemiese probleme uitvaar, die opvoeding van kinders deel van die staat se verantwoordelikheid wil maak.

Hulle wil verder ʼn sosialistiese kultuur van welvaartsverdeling skep waar amper alles gratis moet wees: gesondheid, skole, kos, eiendom, geslagsveranderings, ensovoorts. Verder moet daar duidelike belastingvoordele vir gekleurdes ingestel word, terwyl ryk blankes meer sal moet opdok.

BLM beywer hulle nie slegs vir die dekriminalisering van prostitusie en die dwelmbedryf nie, maar eis ook terugwerkende skadevergoeding aan en die vrylating van almal wat daarvoor in hegtenis geneem is. Dit vorm deel van die nuwe kultuur van welvaartverdeling wat geskep moet word en het selfs internasionale oogmerke. Hulle dring byvoorbeeld aan op skadevergoeding aan enige land, nasie of gemeenskap wat deur Amerikaanse oorloë benadeel is.

Hul politieke doelwitte is om ʼn wêreldwye bevrydingsbeweging te wees wat ʼn einde aan die vervlegte stelsels van blanke oorheersing, imperialisme, kapitalisme en patriargie bring. Daarom smee hulle bande met “bevrydingsbewegings” regoor die wêreld.

ʼn Gelowige reaksie

Hierdie is glad nie ʼn omvattende uiteensetting van alles wat die BLM-beweging wil bereik nie, maar dit gee tog ʼn eerlike weergawe van waarna hulle streef. Die BLM-utopia is ʼn plek wat heeltemal die teenoorgestelde is van God se koninkryk wat besig is om te kom. Wanneer ons daarop reageer, moet dit altyd met die evangelie van Jesus Christus wees. Die grootste probleem waarmee die mensdom worstel, is nie ʼn vervlegting van blanke oorheersing, imperialisme, kapitalisme en patriargie nie, maar die feit dat die in-sonde-gevalle-mens teen God in opstand gekom het. BLM is maar net ʼn nuwe uitdrukking daarvan. Die oplossing vir die probleem is glad nie daarin om jou knie te buig as teken dat jy darem nie ʼn rassis is nie. Dit is om jou toevlug tot Jesus Christus te neem wanneer die Heilige Gees jou van jou sonde oortuig het. Dit is om jou sonde voor God te bely en gehoorsame toewyding aan die Here te leef, terwyl die Heilige Gees jou daagliks heiliger maak.

Teenoor die droomwêreld van die BLM-utopia staan die werklikheid van samelewings wat gekersten en tot eer van God ingerig word soos wat die mense, gesinne en geslagte die ware God aanbid, vanuit geloof leef en ʼn Christelike kultuur bou.

 

[1] https://bit.ly/2DI9GgD  

[2] https://bit.ly/3h9HJMd  

[3] https://bit.ly/3h6mLhm

[4] https://bit.ly/2ZfpoY7  

[5] https://bit.ly/3ip0rkg

Ek hóórt hier!

Ek hóórt hier!

“Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”, so word dit in die aanhef tot die Grondwet gestel. My ervaring is egter dat ek ʼn tweederangse burger van hierdie land is, bloot op grond van my afkoms en die veronderstelde historiese optrede van my voorouers. Ek word beskou as iemand wat ʼn geskiedenis van onregverdige bevoordeling gehad het en daarom moet ek nou aan die ontvangkant van “geregverdigde” benadeling wees. Die gevolg is dat my vriende en familie hul vaderland verlaat het om iewers anders burgers te gaan word. Daar is so baie van hulle dat as ek ʼn paar dae by elkeen gaan kuier, ek langer in die buiteland gaan wees as wat enige visum toelaat. Ek verkwalik hulle ook nie. Ek verstaan hulle redes, omdat daar ook al in die middel van die nag ʼn pistool teen my kop gedruk is. Ek lees hulle verhale, hulle redes waarmee hulle besluite regverdig word en dit resoneer met my. En tog, in ʼn stryd tussen my hart en my verstand, het ek besluit om te bly.

Op een of ander manier het die Afrika-grond en my bloed met mekaar gemeng en hier is ek tuis. Ja, mens kan seker oral aanpas en inpas, maar om tuis te wees gaan oor iets anders. Sien, my probleem is nie met die plek nie. Dit is nie met daardie deeltjie op die wêreldkaart aan die onderste punt van Afrika wat Suid-Afrika genoem word nie. My probleem is met hoe ander wil hê hierdie deeltjie moet lyk. Dit is juis my lojaliteit aan hierdie deeltjie van die aarde, wat die Here aan my as rentmeester toevertrou het, wat maak dat ek opstandig word oor wat ander besig is om daarmee te doen. Die redes waarom hierdie stukkie van die aarde vir my kosbaar is, oortref my vermoë om my lojaliteit te beskryf of te verduidelik. Dit gaan oor gedeelde stories, hoop en liefde. Dit gaan oor gebruike en gewoontes, emosionele oomblikke, gedeelde seer en vreugde. Dit gaan oor God se voorsienigheid gedurende eeue van stryd. Wonderbaarlike uitkoms en onbeskryflike genade. Om uit die as te kon opstaan, was kenmerkend van my voorouers en dit bruis ook in my are.

Daar is sekere plekke en gebeure wat vir my met spesiale betekenis gelaai is. Natuurlik nie vir ander nie, daarom dat hulle dit wil afbreek en vernietig. Die feit is dat ek hier op hierdie deeltjie van die aarde tuis is al word daar baie hard probeer om my ontuis te laat voel. Om tuis te wees, is om te wees waar dinge bekend is. Daar waar ons geken en herken word. Dit is vir my kosbaar en onvervangbaar. Hier is rykdom en potensiaal vir almal wat hier woon en bereid is om te werk, maar dit word bedreig deur ʼn valse idee van wat hierdie deeltjie van die aarde is.

Die Nuwe Suid-Afrika is in ons keelgate afgedruk, maar in werklikheid is dit die Valse Suid-Afrika. Die mislukte oorblyfsel van kolonialisering. Dit wat aan ons voorgehou word as die hoogtepunt van ons historiese ontwikkeling, beteken eintlik dat jou tuiste onteien word. Dié Valse Suid-Afrika met sy eensydige oordrywing en skeeftrekking van vroeëre deugde, is blind vir sy eie sonde en tekortkominge. Dié Valse Suid-Afrika eien homself die alleenreg toe-eien om ʼn karikatuur van die verlede op ʼn eensydige manier en met selfvoldaanheid te propageer.

In dié Valse Suid-Afrika word daar ʼn skuldgevoel by die tweederangse burgers geskep sodat hulle maar daarmee gelief neem om eerder weeskinders sonder ʼn tuiste te wees, as om trots op hulle geskiedenis te wees. Dié Valse Suid-Afrika roem daarop om ʼn gemeenskap te wees wat verenig is ten spyte van ons verskeidenheid, maar in werklikheid is daar geen gemeenskap, geen eenheid en geen verskeidenheid nie. Met multi-kulturele is daar toe al die tyd ʼn mono-kulturele toekoms bedoel. In plaas van verskeidenheid word daar eerder gestreef na eenvormigheid – en ek pas nie in die vorm nie! Die Valse Suid-Afrika is ʼn groter bedreiging vir ons toekoms as enige virus of tuimelende ekonomie.

Die voorstanders van die Valse Suid-Afrika is betower deur die bygeloof van onvermydelike vooruitgang. Hul sien hulself as die hoogtepunt van evolusionêre ontwikkeling. Hulle veronderstel dat die geskiedenis aan hulle kant is. Hul het hulself reeds as die uiteindelike oorwinnaars gekroon. Hierdie valse geloof maak hulle arrogant en veragtelik. Hulle toon geen begrip vir die gebreke in die volklose en kultuurlose “gemeenskap” wat hulle wil bou nie.

Verder ignoreer hulle die ware bronne van mede-menslikheid wat hulle, net soos ek, roem om te waardeer. Hulle ignoreer en weerspreek selfs die Christelike wortels wat daarvoor nodig is. Maar hulle is tog so versigtig om nie die Moslems te ontstel nie en om ag te slaan op ISIS se dreigemente, so asof ISIS hulle sekulêre en mono-kulturele oortuigings goedsmoeds sal aanvaar.

Die Valse Suid-Afrika is bedwelm deur onkunde en bygeloof wat aangeblaas is deur ʼn selfbevredigende utopiese droom wat glad nie met die geskape werklikheid rekening hou nie. Uiteindelik is die Valse Suid-Afrika ʼn tirannieke droomwêreld wat daarvan hou om met die woorde “vryheid en verdraagsaamheid” te speel, nadat hulle van enige betekenis gestroop is.

Hierdie Valse Suid-Afrika is in ʼn doodloopstraat. Tans is die grootste bedreiging vir ons toekoms nie die onbevoegde ANC, die Chinese of die Moslems nie. Ons word bedreig deur die versmorende greep waarmee die Valse Suid-Afrika ons verbeelding en toekomsdrome aan bande lê. Ons is die getuies van een van die grootste volksmoorde in die geskiedenis waar daar tans gepoog word om al die volke hier aan die Suidpunt van Afrika te vernietig. Ons volke en elkeen se kultuur word vervang met ʼn illusie van wat Suid-Afrika is en moet wees.

Word wakker. Hou op om die knie te buig en staan vir ʼn slag op teen hierdie bedreiging van ons toekoms. Dit is tyd om die Ware Suid-Afrika te verdedig, te ondersteun en te bevorder. ʼn Suid-Afrika wat behoort aan almal wat werklik hier hoort. Ja, anders as wat die aanhef tot die Grondwet sê. Ek woon nie net hier nie. Ek hoort hier!

’n Goue kalf in reënboogkleure?

’n Goue kalf in reënboogkleure?

Vir jare al gebeur daar iets onder ons neuse, sonder dat baie mense dit regtig bewustelik besef het. Ek het groot geword in die jare wat die NG Kerk die hoofstroom van Suid-Afrikaanse kerkwees en godsdiens verteenwoordig het. Deesdae is daar egter ʼn nuwe godsdiens wat as klein stroompie begin het, maar uiteindelik die hoofstroom geword het wat soos ʼn vloedgolf oor alles en almal spoel. Sommige word deur die stroom meegesleur, ander kies om op sy golwe te ry. Een ding is vir seker en dit is dat hierdie stroom sy merk op die landskap sal laat. Mense gaan nog vir jare die letsels bestudeer om te ontleed wat het regtig fout gegaan. Hoekom het mense in hierdie nuwe godsdiens ingekoop? Waarom is dit wat oor eeue opgebou is, sommer net prysgegee? Kinders gaan vir hulle ouers vra: Maar Pa, wat het jy gedoen om dit te keer? Hoe kon jy dit nie sien nie? Hoekom het jy nie meer vrae gevra nie?

Dalk is dit een van ons hedendaagse probleme, ons vra te min vrae oor dit wat rondom ons besig is om te gebeur. Deels seker omdat jy as regse geëtiketteer word indien jy vrae sou hê. Sou dit gebeur dat ʼn swart persoon dieselfde vrae stel, word hy weer ʼn “coconut” of verraaier genoem. Eerder as om vrae te stel, voer die meeste mense maar net ʼn oorlewingstryd en verdring mekaar so om by die drinkwater uit te kom, dat niemand besef die bron daarvan is vergiftig nie. Staan egter nou net so paar treë terug en kyk mooi na die groter prentjie van wat besig is om te gebeur. Dalk sien jy die godsdiens van die Nuwe Suid-Afrika se rook-skaduwee wat oor al die puinhope hang.

Hierdie godsdiens het ʼn hele rits heilige dae wat jou deurlopend herinner aan die “verlossing” wat vir jou gebring is. Gedurende herfs is dit Menseregtedag, Vryheidsdag en Werkersdag. In die winter is dit Jeugdag en Vrouedag. In die lente is dit Erfenisdag. In die somer is dit Versoeningsdag. Hierdie godsdiens het selfs sy eie martelare waarvan sommige selfs heiliges geword het. Strate word na hulle vernoem. Monumente en gedenktekens word vir hulle opgerig sodat pelgrims daarheen kan reis om dit aan te raak en ʼn foto langs dit te neem. Daar is seremonies en sakramentele voetwassingsrituele. Die heilige teks van die Vryheidsmanifes en die belydenisskrif van die Nasionaal Demokratiese Revolusie word getrou nagevolg, terwyl predikers die boodskap daaruit van elke platform af uitbasuin.

Daar was ʼn soeke na waarheid en versoening gewees, waar mense kon bieg en hul skuld bely. Dit is egter nie ʼn eenmalige belydenis nie, jy moet dit voortdurend herhaal en telkens vir jou verlede om verskoning vra. Jy moet skaam wees oor jou vorige lewe van veronderstelde bevoorregting en moet die werklikheid van lewenslange boetedoening aanvaar. Ten spyte hiervan word ʼn kleurvolle toekoms as eskatologiese hoop in die gees van Ubuntu aangebied waar jy gereinig sal staan wanneer daar met die onregte van die verlede en die erfsonde van etnisiteit afgereken sal wees.

Dit is ʼn wedloop waar jy sonder inspanning saam met die ander deelnemers gelyk by die wenpaal sal aankom en ware gelykheid sal ervaar. Vir diegene wat struikel en langs die pad seerkry, is daar barmhartigheidsdienste met sosiale toelae, kospakkies en t-hemde.

Diegene wat hulle nie tot hierdie nuwe godsdiens bekeer nie, moet in vrees lewe vir ʼn dag van afrekening en oordeel. Intussen moet hulle baie dankbaar wees dat hierdie oordeelsdag telkens uitgestel word, want dit gee aan hul geleentheid om hul rassisme, etnisiteit en bevoorregting volmaak te oorwin. Om dit reg te kry, word selfkastyding aanbeveel, sodat jy al bloeiend op elkeen van die Uniegebou se trappe moet besef dat al die probleme in die land deur Jan van Riebeeck se koms veroorsaak is. Die kastyding sal jou help om ʼn permanente skuldgevoel te ontwikkel, wat jou dan daartoe sal bring om jou wit bevoorregting te bely in ʼn poging om die las wat op jou druk ligter en sagter te maak.

Om teen hierdie nuwe godsdiens te praat is godslasterlik. Jy kan selfs in die howe vervolg word vir jou meerderwaardige witheid om almal daaraan te herinner dat ons nog nie in die beloofde land aangekom het nie. Dit sal elke keer gebeur as iemand nie saam in die koor van die hoofstroom media, sosiale media, skolestelsel, alle sport en vermaaklikheid sing nie. Oral moet die mantras van die nuwe normaal klakkeloos saam met die politieke partye nagepraat word. Doen dit nie en jou foto word saam met Vicki Momberg en Adolf Hitler oral opgeplak.

Baie Christene se gehoor word gestreel deur hierdie nuwe godsdiens wat ʼn paar gesange se melodie behou het, maar ʼn heeltemal nuwe inhoud aan die woorde gegee het met die doel om jou hart en verstand met slawerny te bekoor. Nuwe waardes moet aangeleer word. Is jy teen aborsie, dan is jy ʼn chauvinistiese sekspes wat teen vroueregte is. Handhaaf jy die huwelik as ʼn Goddelike instelling tussen een man en een vrou, dan is jy ʼn fascisitiese onderdrukker. Christene moet besef húlle is deesdae die skynheiliges, die godloënaars en ketters – die hedendaagse skuldiges wat op brandstapels behoort te sterf.

As Christen staan ek reglynig teenoor hierdie nuwe godsdiens en sy afgedwonge politieke korrektheid, wat eintlik ʼn gedwonge verkeerdheid is. Juis omdat ek ʼn Christen is, is ek teen magvergrype en die uitbuiting van enige mens. Ook die van hierdie nuwe godsdiens, want daar is geen ander Verlosser as Jesus Christus nie. Enige ander “oplossings” is maar net nuwe vyeblare waaragter ou probleme verdoesel word en dit gaan geen blywende verbetering in hierdie land bring nie. Christelike waardes wat van Christus losgemaak word, verloor hul eintlike waarde. Daar is inderdaad niks verkeerd met regverdige hantering van almal nie. Reg en geregtigheid moet nagestreef word. Skuldbelydenis en vergifnis moet deel wees van ons leefwyse. Die uitbuiting van armes en weerloses moet veroordeel word. Magsvergrype is nie blote oor-entoesiasme van die polisie se kant nie. Daar skort baie met die polisiediens, soos dit blyk uit die opkoms van die privaat sekuriteitsbedryf.

Ons moet vra hoekom die moord op ʼn swart man in Amerika en sy begrafnis die hoofnuus in Suid-Afrika is, terwyl daar geen haan kraai oor al die plaasaanvalle en –moorde hier plaaslik nie? Al is die hoofstroom hoe onwillig om dit te erken, ons grootste stryd is nie etnisiteit nie, maar die natuurlike boosheid van alle mense. As jy wil praat van ware gelykheid onder mense, hier het jy dit. Dit ontbreek álmal aan die heerlikheid van God.

Die ooreenkoms met die goue kalf-episode uit Israel se geskiedenis, is treffend. Die nuwe godsdiens is inderwaarheid ʼn valse godsdiens verpak in Christelike kleure terwyl die godsdienstige leiers daarna wys en soos Aäron uitroep: “Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipte laat optrek het” (Ex. 32:4). Dit is juis die ou bedeling se Christenskap wat totaal onaanvaarbaar is. Die stryd is toe al die tyd nie teen onreg en diskriminasie nie. Dit is in werklikheid ʼn stryd teen God wat dit gedurf waag het om die mensdom in verskillende volke te laat ontwikkel. Wat by Babel teen God verloor is, moet nou teruggewen word, want sien, hierdie nuwe godsdiens is nie ʼn Suid-Afrikaanse uitvindsel nie, dit is ʼn wêreldgodsdiens met ʼn Suid-Afrikaanse aksent.

Mag ons genade ontvang om, soos Daniël en sy vriende in Babilonië, steeds getrou die Here alleen te aanbid en net voor Hom die knie buig.

Simfonie of kakofonie – Deel II

Cello's

Om die huidige omstandighede as ʼn histeriese paniekaanval te beskryf, suggereer dat daar ʼn oormatige reaksie op die feite is, iets wat moontlik selfvernietigend kan wees. Hierdie meningstuk wys op die feite wat tans tot ons beskikking is, sonder om die werklikheid te reduseer. Dit blyk dat die groot geraas veroorsaak word deur kortsigtige selfbewaring, tropdiere wat nie vir hulself dink nie en irrasionele vrees. Daarteenoor het ons eerder selfopofferende reaksie nodig, waar naasteliefde jou twee keer laat dink, terwyl jy op logiese wyse met die bewese feite omgaan.

Die werklikheid op grondvlak

Dit is gevaarlik om oor “feite” te praat, want soos wat navorsers se kennis van die virus daagliks toeneem, is daar elke dag ʼn nuwe stel feite wat verreken moet word. ’n Mens kan dus slegs besluite neem op grond van die feite wat op daardie oomblik tot jou beskikking is. Dit vra egter ook ʼn bereidheid om ons reaksie telkens te heroorweeg op grond van die nuwe inligting.

Nuwe inligting soos die gemiddelde ouderdom van persone wat gesterf het en ook hoeveel van hulle reeds aan ander kwale gely het, moet in ag geneem word. Aanvanklike modelle oor die verspreiding en impak van die virus moes intussen aangepas word. Viroloë pas daagliks hul eie modelle aan. Dit wys dat ons rekenaarmodelle en oorhaastige veralgemenings, wat gelei het tot talle regerings se inperkende besluite, gegrond was op onvoldoende inligting en ontoereikende data.

Soos wat werklike syfers beskikbaar raak en nie blote modelle nie, kan ons hierdie virus met vorige pandemies vergelyk. Daarom is ons dankbaar dat dit lyk asof die virus minder aansteeklik is as masels en waterpokkies en dat dit nie die sterftesyfer van iets soos Ebola het nie. Al weet ons dat veral bejaardes en diegene met bestaande mediese toestande deur die virus geraak word, moet ons daarteen waak om nie nou bejaardes en siekes tot blote kolletjies op ’n grafiek te reduseer nie. Elkeen wat sterf, is ʼn werklike verlies vir ʼn hartseer familie.

Een van die stemme wat pleit vir redelikheid en werklike wetenskaplike navorsing, is die hoof van statistiek en virologie by Stanford Universiteit, John Ioannidis. Hy wys daarop dat die populêre statistiek wat deur die media gerapporteer word op grond van “amptelike” syfers deur die owerhede, vanuit ʼn wetenskaplike oog nutteloos is, aangesien dit nie ʼn weerspieëling van die werklikheid is nie. Die rede hiervoor is omdat slegs diegene met erge simptome getoets word, omdat daar beperkte vermoëns is om mense te toets.

Die feit is dat daar nog nie genoeg inligting is om met sekerheid te kan sê hoe erg Covid-19 se sterftesyfer werklik is nie. Daarom dat regerings op modelle staatgemaak het wat met verloop van tyd ernstige gebreke vertoon het.

Wat egter bekommerenswaardig is, is die feit dat die Suid-Afrikaanse regering onwillig is om die data wat hulle vir hul modelle en besluite gebruik, met die publiek te deel. “It is covered under a non-disclosure agreement with the department of health”, aldus Sinenhlanhla Jimoh (NIOS woordvoerder).

’n Mens sou verwag dat president Ramaphosa tydens sy aankondiging van die verdere twee weke van inperking die inligting met die land sou deel. Veral omdat hy beweer het dat die gemiddelde daaglikse styging van infeksies gedurende die twee weke voor die inperkings 42% was, terwyl dit na die inperking slegs met 4% ’n dag gestyg het.

Het iemand ooit sy syfers gekontroleer? Die feite is dat die persentasiegroei die twee weke voor die inperking 32% was. Kom ons aanvaar dat dit ’n tikfout in sy toespraak was en dat hy nie, nes oor plaasmoorde, blatant vir almal gelieg het nie. Tog behoort hierdie skerp afname ons ernstige vrae oor die toetse en statistiek te laat vra. Het ons hier rede om die president te loof vir sy “uitnemende leierskap” of is die aanspraak op die aanvanklike sukses van die inperkings op skewe statistiek gegrond?

In werklikheid het ons ʼn groot probleem met te min toetse wat gedoen word. Die gemiddelde toetse vir die eerste 42 dae was maar 2155 per dag. Op 18 Maart berig News24 dat die rede hiervoor is omdat Suid-Afrika nie genoeg toetsstelle het nie. Die grafieke bevestig dit. Tot op 27 Maart styg Suid-Afrika se grafiek in pas met die res van die wêreld, maar daarna val ons van 243 nuwe gevalle per dag na net 17. Was die inperking so vinnig suksesvol? Nee, die getal toetse per dag het afgeneem van oor die 8000 na net oor die 3000 tot op ʼn laagtepunt op 6 April toe net meer as ʼn 1000 toetse gedoen is.

Sedertdien word al meer mense per dag getoets. Op 17 April het ons eers weer meer as 7000 toetse gedoen waarvan 251 positief was. Dit vergelyk met die 243 van vroeër. Sommige van die 7000 is egter meer as een keer getoets. Jy kan dus nie die persentasie van positiewe gevalle bereken op grond van die aantal toetse nie. Wat jy daarvoor nodig het, is dat meer nuwe mense per dag getoets moet word.

Neem ons in ag dat meer as 80% van hierdie toetse deur middelklas-mense met mediese fondse by privaat laboratoriums gedoen is, word dit duidelik dat dit nie as ʼn verteenwoordigende steekproef sal kwalifiseer nie en daarom kan daar ook nie ingrypende besluite aangaande die staat van inperking op grond van hierdie syfers geneem word nie.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes beweer dat hulle modelle die toestande in plakkerskampe en hoëdigtheidsgebiede in ag neem. Hul weier egter weereens om hierdie modelle en data aan die publiek beskikbaar te stel. Indien dit later blyk dat die ekonomie tot ʼn val gekom het vanweë oorskatte syfers en ʼn histeriese paniekaanval, gaan al die werkloses na ʼn sondebok begin soek. Die regering met sy geheimhouding het die klimaat vir ʼn revolusie bewerkstellig.

Is die reaksie gevaarliker as die virus?

Lewer die staat van inperking werklik beter uitkomste? Die Suid-Afrikaanse regering koester sy noue band met kommunistiese China en volg hulle nie net na met die beperkte bekendmaking van inligting nie, maar ook in die toepassing van dieselfde outoritêre inperkingsmaatreëls. Dit terwyl daar geen sekerheid is dat dit beter uitkomste lewer as byvoorbeeld die van Swede wat nie ʼn staat van inperking aangekondig het nie.

Met die meeste Suid-Afrikaners wat hulself as Christene identifiseer, behoort dinge soos isolasie, kwarantyn en inperkings nie te lei tot gewetensbesware omdat dit in stryd met Bybelse beginsels is nie. Dit is eerder opmerklik hoe daar in ʼn sekulêre samelewing gegryp word na Bybelse oplossings vir die probleem. Kwarantyn en afsondering as oplossings dateer vanuit baie eeue voor ons moderne kennis van mikrobiologie en virologie (vergelyk Levítikus 13-15). Daar is egter geen manier waarop die grootskaalse kwarantyn van ʼn hele bevolking, wat sonder enige simptome is, vanuit die Bybel geregverdig kan word nie.

Sosialiste en Marxiste het deur die geskiedenis bewys dat hulle nie ʼn geleentheid laat verbygaan om die vuur aan te blaas en ʼn krisis uit te buit nie. Daarom dat die ANC die talle “noodregulasies” gebruik om sy ideologie van transformatisme te bevorder. Net so is daar ook diegene soos die voormalige Britse Eerste Minister, Gordon Brown, wat streef na ʼn “tydelike” wêreldregering om die krisis die hoof te bied.

Die argument word ook gevoer dat jy nie menselewens en die ekonomie teen mekaar kan afspeel nie. Dit word egter al hoe duideliker dat die lewensverlies as gevolg van werkloosheid en armoede, danksy die toegepaste inperkings, groter gaan wees as wat die virus tot gevolg sou hê.

Dit wil dus lyk asof die opskorting van alle normale aktiwiteite ʼn onnodige oorreaksie op grond van verkeerde aannames was, sonder om die gevolge van die reaksie te verreken.  

Die gevaar van reduksie

Die gevaar van reduksie is deel van die probleem agter die owerheid se reaksie. Hulle het op die virus gereageer as iets wat gemeet moet word aan die aantal mense wat daaraan kan sterf. Hierdie redusering van die mens se welsyn skep egter ʼn groter gesondheids- en welsynramp.

Mense is meer as biochemiese organismes. Ons lewens bestaan uit deelname aan talle aktiwiteite wat alles saam ons gesondheid en welsyn beïnvloed. Die aangeblaasde paniek dryf meer mense tot selfmoord.

Die skade aan hulle gesondheid deur werksverlies, angs, vrees, sosiale afsondering, verlies aan spaargeld, gebrekkige mediese dienste en ontwrigte gemeenskappe kan uiters vernietigend wees. Kwesbare bejaardes wat reeds in ouetehuise van die buitewêreld geïsoleer is, word beroof van broodnodige sosiale kontak, ontspanning en stokperdjies omdat hulle nie uit hul kamers mag kom nie. Ten spyte van die vrees dat ons mediese infrastruktuur nie die krisis kan hanteer nie, kan hierdie werklike gevolge nie ontduik word nie.

In hierdie tyd wat die swaard van die dood ywerig in die lug geswaai word, het gelowiges die geleentheid om waagmoedige en getroue getuies te wees van die lewe, hoop en vryheid wat net die evangelie van Jesus Christus bring. Ons het die roeping om mense te wys op die Woord van God deur stemme van waarheid, redelikheid en kalmte te wees. “Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7).

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial