Mense het snaakse idees oor godsdiens en hoe om kerk van Christus te wees. Ek wou sê dat mense daarom sukkel om Christene te verstaan, maar dit sal nie korrek wees nie, want deesdae het baie “Christene” net sulke vreemde gedagtes daaroor. Soms wil dit vir my voel asof ék die een met die vreemde idees is.

Mense verstaan nie dat ek kan verlang na die gemeenskaplike aanbidding van God nie. “O nee, ek kan die Here net so goed in my huis aanbid.” Of: “Die kerk is maar net ’n gebou.” Of: “Maar ons het mos opnames wat uitgesaai word, jy het dan self ’n hele paar daarvan hanteer.” Om deel te wees van Christus se kerk gaan egter om soveel meer as om die Here in my binnekamer te aanbid of om saam met my gesin na ’n preek te luister. Ja, ek het ’n binnekamer. Ja, ons het ’n huisaltaar. Maar dit is nie al nie!

God het my en my huisgesin deel gemaak van ’n koninklike familie. Ons is deel van sy uitgesoekte priesterdom en Hy gee aan ons ’n boodskap om te verkondig. Hy maak ons deel van ’n plaaslike kerk waar ons mekaar se broeders en susters is. Een hegte familie wat saam aan ons Vader se voete stil word. Ons is nie ’n klomp losstaande individue nie, maar is organies aan mekaar verbind as die liggaam van Christus, wat ons Hoof is. Hoe kan iemand nie verstaan dat ek al my ledemate nodig het nie?

Dalk is jy ook een van die vreemdes wat daarna uitsien om op ’n Sondag saam ander gelowiges in gemeenskaplike aanbidding voor God stil te word. Al is jou plaaslike kerk hoe groot of hoe klein, as die Here in Gees en in waarheid aanbid word, is dit deel van die grootste geheimenisse in die heelal.

Want sien, die kerk is nie maar net ’n gebou nie. Die kerk is ook nie ’n organisasie nie. Die kerk is ’n familie wat saamkom. Dit is mense wat as lewende stene ’n organisme vorm wat vir hierdie wêreld onverstaanbaar is. Ons kan nie in ’n kliniese kategorie of ekonomiese sektor geplaas word nie. In elke kultuur lyk dit anders, soos wat die verskeidenheid van kulture tot eer van God omvorm word en die ligstraal in ’n kaleidoskoop van kleure soos deur ’n loodglasvenster skyn en die duisternis verdring.

Ons leef met ’n hoop op die ewigheid. Ons is nie bang om dood te gaan nie. Ons vrees niemand anders as God nie. Die Here het inderdaad van ons vreemde mense gemaak – vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde wat smag na ons hemelse vaderland.