Hoe praat die Woord van God oor God en hoe word Hy aangespreek? Veral die metafore behoort nagegaan te word, aangesien hulle wat God as vroulik wil aanspreek, beweer dat dit tog reeds in die Bybel voorkom of ten minste geïmpliseer word.

Wat die Woord leer oor metafore vir God

Wanneer ons die kwessie oor metafore en vergelykings vir God in die Bybel nagaan, is daar baie literatuur wat hiermee help, ongelukkig in regte én verkeerde rigtings. Hier sal inleidend  gewys word op prof. PJ de Bruyn se gewaardeerde werk, Die Tien Gebooie.[1] Dit is insiggewend dat prof. De Bruyn die bespreking van die metafore van God onder die tweede gebod laat val wat spesifiek oor eiewillige godsdiens handel. Die spesifieke gedeelte oor metafore vir God word voorafgegaan deur die mens se denkbeelde van God en daaropvolgend word die kwessie van eiewillige godsdiens hanteer.

De Bruyn wys daarop dat hoewel God uitdruklik bepaalde fisiese beelde van Hom verbied, Hy homself tog in taal en woordbeelde openbaar. Hy wys selfs daarop dat dit ons nie verbaas dat die Woord van God deur “metaforiese veelsydigheid” gekenmerk word nie: “God is immers in alle opsigte so onuitspreeklik groot en verhewe dat daar nie anders as met simbole en vergelykings oor Hom gepraat kan word nie. Dit is egter geen probleem nie, as daar maar net altyd onthou word dat God nie identies met die simboolanalogie is nie en dat sy wese so uniek is dat dit uitstyg bo alle metafore …” Inderdaad. God is Gees en in metafore gaan dit oor God wat Homself aan ons menswees akkommodeer, sodat ons Hom tog reg kan ken en aanroep.

De Bruyn onderskei insiggewend genoeg tussen menslike metafore (manlik sowel as vroulik), dierlike metafore, en stoflike metafore: “Wat die manlike metafore betref, kom behalwe die beeld van die vader (vgl. Deut. 32:6; Jes. 64:8; Mt. 6:9, 32) ook die beeld van die herder (vgl. Ps. 23; Eség. 43; Joh. 10:1; 1 Petr. 2:25; 5:4) en die beeld van die koning (vgl. Rigt. 8:23; 1 Sam. 8:7; Ps. 44:5, ens.) dikwels in die Skrif voor. Wat die vroulike metafore betref, word daar dikwels in die Skrif na God verwys met die beeld van die moeder (vgl. Deut. 32:18; Jes. 42:14; 49:14-15; 66:13). In die Nuwe Testament word Hy in Lukas 15 nie net vergelyk met die herder wat sy skaap soek en die vader wat twee seuns het nie, maar ook met die vrou wat die muntstuk soek (vgl. Mt. 23:37). In die Bybel word verder beelde uit die dierelewe (leeu, beer, arend, ens.) en ook uit die stoflike wêreld (son, fontein, bergvesting, ens.) gebruik en op God toegepas. ’n Bepaalde aspek van Christus se optrede, naamlik sy wederkoms, word selfs vergelyk met die van ’n dief (Mt. 24:43; 1 Thes. 5:2; 1 Petr. 3:10).”

De Bruyn se gevolgtrekking is dat “nie ’n enkele metafoor in die Skrif ten doel [het] om alleen die volheid van God se deugde en die geheel van sy optrede te verduidelik nie. Die verskillende metafore sluit mekaar gevolglik nie uit nie, maar vul mekaar aan sodat God Homself terselfdertyd met behulp van al die metafore aan die mens openbaar. … God is dus terselfdertyd vir die mens soos ’n vader, ’n moeder, ’n koning, ’n herder, ’n arend, die son, ’n fontein, ’n bergvesting, ensovoorts.”

In die lig van die huidige debat is daar egter ’n paar sake wat by De Bruyn se behandeling bygevoeg moet word en indien hy vandag sy gewaardeerde publikasie sou bywerk, sal hy dit waarskynlik ook doen. Daar sal eerstens ook gevra moet word oor die onderskeid tussen metafore (bv. God is my rots) en vergelyking (God is soos ’n rots). Die rede is dat die vroulike beelde feitlik nooit metafore is nie, maar eerder vergelykings. Tweedens sal daar ook gevra moet word na die frekwensie van bepaalde beelde en die rol van sentrale metafore. Derdens moet ons ook spesifiek nagaan hoe God openbaar het dat ons Hom sal aanspreek. Dit is veral belangrik dat ons daarop sal let dat, hoewel God dikwels deur verskeie metafore en vergelykings in die Bybel beskryf word, insluitende die beeld van moederskap (meer dikwels as vergelyking en nie as metafoor nie), Hy nooit as Moeder aangeroep of so genoem word nie. Dit behoort ons tog definitief te laat nadink, aangesien God selfs “my bergvesting” genoem kan word (vgl. Ps. 91:2; 2 Sam. 22:2). Soos die Skrifopenbaring ontvou, waar God eintlik in die Ou Testament nog net sporadies Vader genoem word (ongeveer 20 keer), vermeerder (ongeveer 250 keer), verdiep en verinnig hierdie vader-beeld in die Nuwe Testament tot selfs by die punt dat ons hoor dat die Heilige Gees ons “Abba Vader” laat roep (vgl. Gal. 4:6). Dit is duidelik daar hier ’n grens is wat nie oorgesteek word na “Moeder God” nie.

Wat is ons reaksie?

Wanneer die Here Jesus ons die Onse Vader leer bid (vgl. Mt. 6) en selfs kan verklaar dat Hy die Naam van die Vader aan sy dissipels bekendgemaak het (vgl. Joh. 17:1, 26) en self ook God as “Abba Vader, en “Vader” voor en aan die kruis aanroep (vgl. Mk. 14:36; Lk. 24:34), is daar eintlik net een vraag wat oorbly: Wat is ons reaksie op die Bybel as Woord van God? Tradisioneel bely ons dat die gesag van die Skrif direk en volstrek is. As die Bybel dus nie ’n bepaalde grens in die aanspreek en aanroep van God na vroulike aanspreekvorme oorsteek nie, dan behoort ons onsself daardeur te laat lei, soos dit ook in die klassieke teologie gedoen is. As mense van ons dag dan vra waarom daar soveel emosie is wanneer daar nou ook na God as “haar” verwys word, en watter vrees daaragter skuil, dan is die eenvoudige antwoord: Die openbaring van God en die grense van die Skrif sit daaragter. Selfs die opstellers van die algemene en besondere belydenisskrifte is sensitief vir hierdie grense. Ons sou dit ook kon noem gesonde tradisie, of soos die teoloog Jaroslav Pelikan dit genoem het, die lewende geloof van die dooies.  

Waar dit in ons dag nie meer aanvaar word nie, is die enigste opstandige dog vervelige alternatief om te probeer om die beelde van die Skrif op een of ander wyse te relativeer. ’n Kenmerkende skuif is om te beweer dat die konteks (wat deur mans oorheers is) waarin die Bybelse teks ontstaan het, vir ons tyd aangepas moet word. Hiervolgens is die beelde van die Bybel dan net woorde oor God in ’n bepaalde tyd en kenmerkend van ’n patriargale kultuur. Aangesien ons hedendaagse leefwêreld en kultuur anders is, behoort ons op dieselfde manier vir ons eie tyd nuwe name te kan bywerk wat by ons tyd pas. Die probleem hiermee is egter dat so ’n verklaarder tipiese moderne vooroordele openbaar. Die gesag van die Skrif teenoor die gesag van die eie tyd, die geheel van die Skrif asook Skriftrajekte, Skrifpatrone en kerkworstelinge van die verlede, word byvoorbeeld nie in ag neem nie. So word eintlik dan begin om presies dit te doen wat die tweede gebod verbied: Om God na eie goeddunke aan die hand van eiewillige kultuur-gekondisioneerde oortuigings te aanbid. Uiteindelik kom dit op niks anders as afgodery neer nie.

’n Basiese uitgangspunt in eiewillige godsdiens is dat godsdiens eintlik maar grootliks ’n funksie van kultuur is, maar die teenoorgestelde is eerder waar: Kultuur is die funksie van godsdiens. Die probleem ontstaan daarom juis wanneer kulture een of ander afgod of afgode in die sentrum reflekteer en die kerk van Christus daarin wil insuig. Daarom sal ons later ook aandag moet gee aan die afgode van die tydgees wat hier moontlik ’n invloed uitoefen.

Die gevolge van ons keuse

Diegene wat bly vashou aan die gesag van die Skrif, vind vinnig twee gevolge wat dit vir hulle duidelik maak waarom dit belangrik is om ons aan die grense van die Bybel te hou wanneer ons na God verwys en Hom aanroep. Eerstens moet ons daarop let dat selfs ’n liberale godsdienshistorikus soos Elaine Pagels daarop kan wys dat die opsigtelike afwesigheid van sentrale vroulike simboliek oor God in Judaïsme en die Christendom opmerklik is, selfs te midde van omringende kulture soos Egipte, Babilonië, Griekeland, Rome en Afrika. Sy vind die teendeel juis in die Gnostici wat in reaksie gekom het teen Christene se algemene denkbeelde.[2] Pagels wil daarom eerder na die Gnostiese tradisie wat deur die kerk afgewys is, gaan kyk. Dit is presies die geval in dit wat die sogenaamde Nuwe Hervorming onlangs in ons land openlik begin doen het. Om die Gnostiese beklemtonings nou net in ligter vorm voort te sit, is nie die oplossing nie. Die feit is dat daar ’n grens is wat nie oorgesteek word in die Bybel self wanneer direk na God verwys word of wanneer Hy aangeroep is nie en dat dit juis teenoor heidengodsdienste gestaan het wat sentrale vroulike simboliek vir God betref.

Bybelse beelde en metafore is dikwels van mekaar afhanklik of bou op mekaar. As God nou ook as moeder benoem en aangeroep word, wat doen ons met die sentrale beeld van bruidegom en bruid in die Skrif wat hierby aansluit? Let weer eens daarop: Dit gaan nie daaroor dat God se wese ook met die van ’n moeder vergelyk word om ons beter insig te gee in wie Hy is nie, maar dat na God as “haar” verwys word asof dit nie saak maak nie. Toegegee, die verskeidenheid van beelde oor God bevestig juis dat ons nie klein oor die lewende God moet dink nie. Daaraan kan ons werk. Daar is egter iets soos sentrale beelde waardeur God bekendmaak hoe ons Hom moet aanroep. Dink maar weer aan die Onse Vader en aan 2 Korinthiërs 6:18: “… en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” Juis daarom is dit so belangrik om raak te sien dat die Bybel, in onderskeid van die heidengodsdienste, juis nie sekere grense oorsteek nie. Dit behoort ons weer diep te laat nadink oor wat die klassieke belydenis oor die Woord van God vandag nog vir ons inhou: dat dit gesagvol, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is. In ’n volgende aflewering sal ons nagaan hoe bepaalde kwessies en verwante kwessies in die kerkgeskiedenis verder help om lig op die saak te werp.

______________  

[1] De Bruyn, P.J. 2013. Die Tien Gebooie. Potchefstroom: PTP.

 [2] Pagels, E.H. 1976. What Became of God the Mother? Conflicting Images of God in Early Christianity, in Signs, Vol. 2, No. 2 Gepubliseer deur The University of Chicago Press. p. 293-303. Vgl. ook verdere inligting oor Pagels en haar werk by https://truthxchange.com/2003/10/04-beyond-belief-a-pagan-read-of-early-church-history/

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial