Wanneer ons vandag as kinders van die lewende God die unieke uitdagings van ons tyd tegemoet tree, is ’n bepaalde onderskeid belangrik: Daar is vandag twee groot maniere waarop mense hulle geloofsvrae beantwoord en teologie beoefen. Ons doen dit óf in kontinuïteit óf in diskontinuïteit met die kerk van die eeue. Eintlik is dit die twee bepalende kategorieë waarin teologiese opleidingsentrums vandag in ons land ingedeel kan word. Dit is jammer om te sê dat te veel hoofstroom teologiese opleidingsentrums die pad van diskontinuïteit gekies het. Dit word op ‘n Gnostiese wyse maklik verbloem met woorde soos “oorstyging van die verlede” (transcending the past), maar in wese kom dit neer op diskontinuïteit.

Diskontinuïteit met die tradisie

Daar is nou al ’n paar dekades lank sogenaamde teoloë in ons land wat skynbaar op die skouers van die kerkgeskiedenis wil aftrap om heeltemal nuwe dinge te sê wat nog nooit gesê of gedoen is nie. Dit hang saam met die genoemde hermeneutiek van suspisie wat sedert die twintigste eeu sterk vaardig is. Alles moet bevraagteken word, behalwe natuurlik die ondervraer self, of so lyk dit dikwels in die praktyk. In die onlangse verlede is dit uitnemend geïllustreer deur die beweging van die sogenaamde kanselleer-kultuur. Dit lyk beslis of sekere kerkleiers vandag hulle eie weergawe van kanselleer-kultuur het. Dit hang ook saam met ’n bepaalde verstaan van wat reformasie nou eintlik beteken.

Hierdie visie op reformasie hang saam met ’n misleidende lyn in die kerkgeskiedenis. Dit is dat die sogenaamde “nuwe” wat Christus bring, so totaal nuut is dat dit in die verlede onvoorstelbaar was. Om die kerklike beslissings en uitsprake van die verlede eintlik in wese te kanselleer en met iets heeltemal nuut te vervang, verteenwoordig klaarblyklik vandag hierdie “onvoorstelbare” werking van die Gees. Dit is baie duidelik dat so ’n benadering ’n opvatting van diskontinuïteit met die verlede vertoon. ’n Belangrike voorbeeld wat in hierdie gesprek oor verwysings na God as vroulik hanteer moet word, is die invloed van die Feminisme.

Die geskiedenis van die moderne Feminisme-beweging word in vier golwe ingedeel en derhalwe sal daar hieroor genuanseerd gepraat moet word. Hoewel daar simpatie kan wees met die aanvanklike golwe se geregverdigde protes teen die uitbuit van vroue, vertoon die latere golwe duidelik dat hier baie meer op die spel is. Die kultuur-teoloog, Richard John Neuhauss, wys daarom daarop dat ons veral moet onderskei tussen vroulike opstand teen onreg (liberale feminisme) en Feminisme as beheersende idee (gender feminisme).[1] Tog wys hy ook daarop dat eersgenoemde ruimte kan maak vir laasgenoemde. Laasgenoemde is die opsigtelike gevaarlike ideologie en vertoon ook verskillende gestaltes.[2] Ons behoort daarom duidelik te maak presies wat ons bedoel en wat ons nie bedoel nie wanneer ons Feminisme wil afwys.

Hier gaan dit om die beheersende idee en die feit dat die Feminisme ook die grond voorberei het vir die feit dat selfs die begrippe Vader, Seun en Heilige Gees nou as seksisties beskou word. Aangesien God mos Gees is, is daar volgens hierdie opinie nou ruimte dat hierdie ou opvattings “gereformeer” moet word as deel van die werk van die Gees wat totaal nuwe dinge doen. In hierdie gees van diskontinuïteit word daar dan ook graag gebruik gemaak van die gelykstelling (egalitarisme) en die relativering (postmodernisme) van ons tyd. Dit bied uitstekende grond vir die sogenaamde “nuwe dinge” wat die heilige tydsgees, en hier met name die Feminisme, tot stand moet bring. Die ironie is egter dat die modernisme juis gedefinieer kan word as dat dit die gees van die tyd beskou as die gees van God. Uiteindelik is dit een van die hartseer werklikhede dat ons tydvak nie regtig as postmodern getipeer kan word nie, maar eerder net as laaste stuiptrekkings van die modernisme wat selfvernietigend begin word het.

Dit is duidelik dat ’n volbloed feministiese benadering maklik in die teologie vandag ’n baie kritiese funksie teenoor die verlede sal inneem, tot op die vlak van die benaming van Vader, Seun en Heilige Gees. Gesonde kritiek is natuurlik ’n goeie ding, maar deel van gesonde kritiek is om ook op jouself en jou eie tyd krities te wees. Kritiek gebeur altyd aan die hand van een of ander bewuste of onbewuste standaard en bewuste en onbewuste aannames. Dit is egter wat ’n mens so besorg laat, aangesien dit toenemend blyk dat die New Age Beweging (NAB) die toon in standaarde aangee. Prof. Paul de Bruyn wat reeds voorheen genoem is, wys daarop dat die feminisme beskou kan word as een van die belangrikste en invloedrykste fasette van die New Age Beweging: “Dit word selfs die hart van die bewussynsrevolusie in die Westerse wêreld genoem.”

Hiervolgens is ons nou uit die vis-tydperk van die Christendom waar die manlike oorheersend was. In die waterdraer-tydperk tree die vrou nou volgens hierdie siening na vore en moet ons dit as die vroulike tydperk beskou. Teenoor die Christendom wat volgens die NAB ’n manlike godsdiens is wat sentreer rondom God die Vader en God die Seun, verkies die NAB ’n godsdiens waar “God die Moeder” en “God die Dogter” in die sentrum staan en waar alles “vroulik”, “sag” en “liefdevol” moet wees.[3] So word dit duidelik watter vaarwater bewus en onbewus betree word  wanneer daar diskontinuïteit met die Christen-verlede is.

Die klassieke teologie daarenteen, ag die kontinuïteit met die verlede hoog. Eintlik is dit bloot ’n besondere toepassing van die vyfde gebod. Daarom sal die klassieke teologie ook lank bly leef, aangesien hierdie teologie insien dat die nuwe orde lankal reeds ingelei is met die hemelvaart toe Christus aan die regterhand van die Vader gaan sit het om te heers te midde van die vyande. Kontinuïteit met die tradisie beteken daarom gewoon dat erken word dat Christus se heerskappy nie onttroon gaan word nie en dat die Gees reeds lankal kragtig werksaam is. Met dankbaarheid kan voortgebou word op dit waarmee God besig is.

Kontinuïteit met die tradisie

Kontinuïteit beteken nie dat alles van die verlede bloot klakkeloos herhaal word nie. Dit beteken wel dat daar simpatiek-krities en dankbaar op die verlede voortgebou word, met inagneming van die permanente dinge wat ons vaders en moeders moontlik beter as ons ingesien het. Daar is by moderne mense die neiging tot chronologiese snobisme, soos wat CS Lewis dit by geleentheid uitgedruk het. Dit word nog altyd in die klassieke teologie afgewys. In sy voorwoord tot ’n heruitgawe van Athanasius se klassieke werk oor die vleeswording van Christus, stel Lewis dit soos volg:

“Dit [die nuwe teologiese boeke] moet getoets word aan die groot volume Christelike denke deur die eeue heen, en al die verskuilde implikasies daarvan (wat dikwels nie deur die outeur self vermoed word nie) moet aan die lig gebring word … Die enigste veilige weg is om ’n standaard van duidelike, sentrale Christenskap te hê … wat die kontroverse van die oomblik in hul regte perspektief plaas. So ’n standaard kan slegs van ou boeke verkry word. Dit is ‘n goeie reël om, nadat jy ’n nuwe boek gelees het, jouself nooit ’n ander nuwe een toe te laat voordat jy ’n ou boek tussenin gelees het nie.”[4]

Hierdie benadering van kontinuïteit het tot gevolg dat verteenwoordigers van die klassieke teologie daarom eerder deeglik sal nagaan watter sake en verwante sake in die verlede moontlike lig kan werp op die winde van Feminisme en dit is ook in die vorige aflewerings gedoen. Dit is duidelik dat daar in die meeste weergawes van Feminisme duidelik sprake is van ’n definitiewe diskontinuïteit met die tradisie. Dit lei noodwendig daartoe om ook te vra hoe die Feminisme in verband met die tydsgees staan. Daar sal natuurlik ook nagegaan moet word watter onderliggende vakuum en leemtes by die kerk moontlik kon bydra dat dit uitgegroei het tot die gestaltes waarin dit vandag voorkom, en wat die geloofsantwoord hierop is. Hier word gebruik gemaak van die publikasies van twee vroue wat presies dit probeer doen, en dit in kontinuïteit met die tradisie opneem teen die Feminisme vir ’n beter alternatief. Daarna sal ter afsluiting ook gewys word op ’n alternatief op die Feminisme wat voortspruit uit die feit dat ons God as Vader aanbid en die kerk haar Bruidegom ken.

In haar nadenke oor die onderwerp, het ’n opvoeder in die klassieke skool tradisie, Rebekah Merkle, ’n publikasie in 2016 die lig laat sien met die titel: Eve in Exile and the Restoration of Femininity. Hierin wys sy daarop dat daar in die sogenaamde goeie orde van die 1950’s reeds probleme in konserwatiewe huise was. Die insiggewende en inspirerende in die benadering van Merkle is dat sy nie bloot ’n ontvlugting na die 1950’s voorstaan nie. Sy propageer daarom ook nie die oplossing van die sogenaamde status quo ante nie. Dit beteken dat ons bloot die vorige bekende status quo moet opsoek. Sy identifiseer eerder die vroeëre wortels van die Feminisme tot vroeg in die 1800’s van die moderne era en let dan op die uitgroei daarvan.

Merkle is nie geneë met blote konserwatiewe waardes nie. Sy stel dat vroue in die 1950’s reeds verveeld met konserwatiewe waardes was en al toe reeds nie uit die volheid van die Skrifte geleef het nie. Sy toon egter ook aan hoe die Feminisme die probleme net vererger het en wys veral op die aborsie-probleem wat daardeur gestimuleer is. Sy lê ook die gay-agenda en transgender-agenda voor die deur van die Feminisme wat die grond daarvoor voorberei het. Sy sluit haar werk egter positief af deur riglyne daar te stel waarmee vroue vandag vol lewens kan leef. Dit gaan nie oor ontvlugting na die sogenaamde goue verlede nie, maar eerder om deur egte reformasie dinamies te herontdek wat die implikasies is vir konsepte uit die Bybel soos mede-beheersing van die aarde, vrugbaarheid in elke onderneming, helper in nood, en verheerliker van projekte. Merkle maak ’n mens daarvan bewus en opgewonde daaroor dat daar eintlik ook baie ander kwessies is wat met hierdie werkswyse aangepak kan word.   

Joyce Little, reeds in 1995 die skrywer van The Church and the Culture War, se gedagtes sluit op interessante wyse reeds hierby aan. Little wys onder meer op die mag, outoriteit en politiek van taal. Die implikasie is dat heersende strome soos die taalwending en die Feminisme ook in politieke en magsterme beskou moet word. Die bekende George Orwell van Animal Farm en 1984, het al gewys op die krag wat herdefiniëring speel en om vandag te begin praat van ons “Moeder God” het definitiewe gevolge, ook in die uitoefening van mag oor ons Godsbeeld. Little fokus veral op die Feminisme as gestalte van relativisme, subjektivisme en individualisme wat so tiperend van ons dag is.

Sy gaan ook spesifiek in op die heerlike waarheid van God as Vader. Op geheiligde  wyse laat Little ’n mens besef wat gebeur met  nadenke wanneer dit gebonde bly aan die Skrif en gesonde tradisie. Little wys daarop dat die beeld van Vader suggereer dat Hy van buite af tot sy wêreld toetree. Juis daarom is die beeld van Moeder nie sentraal nie, aangesien die moeder gedurende swangerskap biologies verenig is met die kind, terwyl vaders fisies van buite af toetree tot die vader-kind verhouding. Ja, die Bybel kan ook praat van God wat sy kinders voortgebring het, maar dit is duidelik dat die frekwensie hiervan baie minder is as die Vaderbeeld en dat manlike beelde sentraal gestel word in die aanroeping. Little is van mening dat dit belangrik is vir die heiligheid, gesag en onderskeid tussen die Skepper en sy skepsels, terwyl daar ook nie afbreek gedoen word aan die Vader-kind verhouding nie.

Wanneer daar saam met hierdie gedagtes van Little ook die sentrale beeld van bruidegom en bruid in oënskou geneem word, versterk dit ’n bepaalde Godsbeeld. Soos meer as een teoloog in hierdie verband al opgemerk het: Met betrekking tot God is alle gelowiges vroulik in die sin dat hulle deel is van die bruid van Christus. Wat wel uit die Skrif en tradisie duidelik is, is dat God gelowiges se Vader en hulle eggenoot is, eerder as ons moeder of ons eggenote. Hier het ons met definitiewe Godsbeelde tot op die vlak van aanroeping te make wat uit die Skrif verdedig kan word en wat teenoor baie heidengodsdienste staan. Dit staan definitief teenoor godsbeelde wat uit die heidendom of die Gnostisisme na vore tree. Gaan besoek gerus ’n webwerf soos www.truthxchange.com om onder die indruk te kom van watter verskil hierdie Godsbeeld maak. Dit bied die teenvoeter in ’n wêreld wat verheidens en allerhande New Age-geluide maak en daarom dikwels voorspraak maak vir die ou dwaling van die panteïsme waar God en wêreld nie meer van mekaar onderskei kan word nie. In sulke New Age kringe word daarom ook graag voorspraak daarvoor gemaak om God as moeder te begin aanspreek.

Ten slotte

Dit is insiggewend om raak te sien dat daar in ons tyd ’n toename is van mense wat hulle geslagtelikheid as “vloeibaar” beskrywe. In so ’n geestesklimaat sal daar  graag daarmee saamgegaan word om God ook so te beskrywe. Dit bevestig die feit dat dit belangrik is om by die grense van die Skrif te bly. As ons nie staan vir enigiets nie, val ons vir alles en dit is duidelik dat dit eerder die heilige tydsgees is wat sulke stellings oor “vloeibaarheid” begelei. Die konnotasie van vloeibaarheid met die postmodernisme is net te opmerklik en daarom is dit belangrik dat die teologie baie bewus sal wees van die tydsgees waarin die teologie haar, let wel, getuienis lewer.

Die konsekwensies hiervan behoort ons terug te laat staan om diep na te dink oor wat die klassieke belydenis van die Woord van God vandag nog vir ons beteken: dat dit gesagvol, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is. Wanneer ons met nuwe veer in ons tred daaraan gehoor gee, word ons nie aan bande gelê nie, maar eerder saam met die kerk van die eeue in staat gestel om effektief teen die dwaalleringe standpunt in te neem. Ons word deel van die rivier wat definitiewe grense en walle het wat ons kanaliseer om die lewende waters deur droë laagtes te laat vloei.

Ons kan op hierdie weg dieper begin nadink waarom die Vadernaam en die beeld van bruidegom en bruid so belangrik is. Kosbare nadenke deur die eeue heen kan byvoorbeeld hieroor gevind word in menige kommentare op die Apostoliese geloofsbelydenis oor die feit dat ons glo in God die Vader en aan die kerk as moeder. Daar is ook aangrypende kommentare wat die bewoording van die Onse Vader en die kerk as moeder in die Skrif en in die belydenisskrifte ontleed. Hier kan ons vir ’n begin slegs wys op die ontvouende openbaring van God wat die sentrale Vader- en Bruidegombeelde bevestig. Hierdie beelde vermeerder, verinnig en verdiep wanneer ons verneem van die band tussen die Vader en die Seun en die Gees en die kerk as bruid wat daarin opgeneem word. Wanneer ons oor die misterie nadink en besef dat verloste mense bestem is tot asembenewende heerlikheid om God as hul Vader en Christus as hul Bruidegom te ken, sou ons net verwonderd kon staan en nederig daaruit leef. Dit is eintlik ons belangrikste roeping.

Die ongelukkige realiteit van sommige se negatiewe ervaring met slegte vaders en eggenote, moet ons egter nie lei tot die wegdoen daarvan of vervanging deur ’n sentrale moeder of blote ouerbeeld van God nie. Die beeld van Vader en Bruidegom in ons Godsbeeld bly sentraal en onvermydelik. Dit hang ook saam met ’n diepe protes teen die nuwe heidendom. Ja, dit hang ook saam met die visie op ’n tweede reformerende Christendom. Daar is eintlik net een uitweg uit hierdie neiging om na God as vroulik te begin verwys en dit is bekering. Vir sommige is dit so moeilik, juis omdat hulle hele menswees so diep belê is in die gees van die tyd.

Die Vader-honger van ons dag gaan nie weggaan nie. Ons kan dit bloot goed of sleg probeer opvul. Die troos vir die wat slegte ervarings met vaders gehad het, is dat dit niks afbreek doen aan die liefde van hul Hemelvader nie en dat hulle aangemoedig word om eerder hul vader- en bruidegombeeld aan die hand van die Godsbeeld te herstel, eerder as andersom. Hierin kan gesonde kerke wat opgewonde is oor die Bybel as Woord van God, in woord en daad ’n kragtige rol speel. Laat ons daarom nie bloot stry oor die verwysing na God as vroulik nie, maar laat ons leef uit die werklikheid dat die Seun die Naam van die Vader aan ons geopenbaar het (vgl. Joh. 17:1, 26).

[1] Vgl. sy artikel;, “Feminism and Feminism” by https://www.firstthings.com/article/1992/06/feminism-and-feminism

[2] Neuhauss gee erkenning aan die onderskeiding van Marxistiese, radikale en soisale Feminisme, maar wys dan daarop dat die groepe oorvleuel en as beheersende idee in baie opsigte ooreenstem. Kyk sy artikel genaamd ‘The Feminist revelation’ by https://www.firstthings.com/article/1991/12/the-feminist-revelation.

[3] De Bruyn, P.J. 2013. Die Tien Gebooie. Potchefstroom: PTP, bl. 53.

[4] Vgl. sy versamelling geskrifte in God in the Dock.