In die vorige rondte is daar begin om in te gaan op die induktiewe aard van die mediese wetenskap wat ter sake is in die oorweging van massa-vaksinering. In hierdie aflewering besin ons verder oor neutraliteit en analogieë waarvan die induktiewe wetenskap gebruik maak.

Wetenskapsbeoefening gebeur nie so neutraal en puur as wat sommige dit wil voorhou nie. Die feit is dat daar ook in die wetenskapsbeoefening belange op die spel is – van die multi-biljoen firmas, van die wetenskaplike individu, van groepsdenke en denkskole, konsensus onder die elite, kompetisie (mimetiese wedywering), ensovoorts. Daarom behoort dit ons nie te verbaas om ook in die mediese wetenskap van meerderheid en minderheidsverslae te hoor nie. En die een saak waarvan net die tyd ons in sekere debatte sal leer, is, wel, tyd.

Dit is in hierdie verband belangrik om aandag te gee aan ’n joernaal soos Unherd wat groepsdenke oor beide tradisionalisme en modernisme wil teenwerk. Matthew Crawford, skrywer en navorser by die Instituut vir Gevorderde Studies in Kultuur by die Universiteit van Virginia (VSA), maak in Unherd die stelling dat wetenskap as sulks verpolitiseerd geraak het. Die insiggewende van sy stelling is dat hy nie soos die linkse media, bloot die sogenaamde ivermektien-konserwatiewes hiervan verdink nie. Volgens Crawford lê die probleem veel dieper. Hy sien raak dat die wetenskap deur mense beoefen word wat deur allerhande politieke en sielkundige faktore beïnvloed word. Hy toon aan dat daar baie aannames en vooroordele is, ook in die wetenskap. Crawford reken daarom dat die opvoeding van die publiek dikwels eerder berus op ’n tipe naakte geloof in ’n soort wetenskap wat hy “scientism” noem tesame met goeie sprekers en media (demagogie). Heelwat mense op straat begryp dalk nie die gesofistikeerde taal van Crawford nie, maar het tog wel ’n aanvoeling het vir dit waarop hy afstuur. Dit is dat die wetenskap nie so onaantasbaar en neutraal en los van belange is as wat sommige wil voorgee nie.[1]

Dit is net eerlik en wys om te erken dat ook wetenskaplikes in bepaalde denkskole is, voorveronderstellings en kondisionerings het, en dat nie almal uit een mond praat nie. Voeg nog verder hierby dat daar belangrike werk gedoen word deur ’n gerekende instelling soos Cochrane om die toetsing van wetenskaplike data meer geloofwaardig te maak. Die rede is dat dit erken word dat daar al vertouensprobleme weens navorsingsbedrog ontstaan het. Richard Smith, tot en met 2004 redakteur by die internasionaal gerekende, 180-jaar oue Britse mediese handelsjoernaal, The BMJ, kan dit selfs uitlokkend stel: “Dit mag dalk tyd wees om weg te beweeg van die veronderstelling dat navorsing eerlik gedoen en gerapporteer is, na die veronderstelling dat dit onbetroubaar is totdat daar bepaalde bewyse is wat die teendeel aantoon.” [2]

Let wel: Smith sê dit nie met betrekking tot COVID-navorsing nie, maar oor mediese wetenskapsnavorsing in die algemeen. Sy stelling kan wel gebruik word om dit ook in hierdie besinning van toepassing te maak. Mense kan eenvoudig nie verkwalik word as hulle deegliker kruisverhoor en deursigtigheid in die navorsing oor vaksines verlang nie. Hierdie situasie bring eintlik net aan die lig dat daar ook strukturele probleme in mediese wetenskapsnavorsing is wat die wantroue aanhelp en dit sal net oor tyd heen verbeter kan word deur erkende instellings soos Cochrane.

Natuurlik is die uitsprake hieroor makliker wanneer daar geen bedreiging is nie. Binne ’n situasie waar mense sterwend is, is daar druk om vinniger besluite te neem. Die voorlopige resultate oor die vaksines klink ook relatief gunstig, en die basiese teorie wat in al die vaksines gebruik word, maak sin. Dit is dat die proteïn-produserende masjinerie in die liggaam se selle op verskillende wyses gestimuleer word om ’n stekel-proteïn te vervaardig. Hierdie proteïn is identies aan die virus se oppervlakte en so word die liggaam se alarmsisteem hiervoor vroegtydig aangeskakel om teenliggame te ontwikkel. [3] Dit neem egter nie weg nie dat dit steeds wys is om nie te midde van die pandemie te maak asof alle vrae oor die langtermyn gevolge uit die lug gegryp is nie. Dit bly verantwoordelik en wys om hierdie vrae hul hardnekkige werk te laat doen.

Diegene wat sterk hierop staan moet egter ook antwoord waarom ons met betrekking tot ander sake soos mikrogolfoonde en selfone nie ook so versigtig te werk gegaan het nie. Die feit is egter dat mense nie hieroor in dwangbuise geplaas is nie, en dit behoort ook nou so te bly. Sou daar gevolge wees, kan hulle self verantwoordelikheid vir hul keuses dra. Daarom is dit aan te beveel om mense elkeen afsonderlik op hul risiko-profiel te wys, ook die risiko van onsekerheid oor die langtermyn, en dit dan aan elkeen oor te laat om aan die hand daarvan hul besluite te neem. Die teenantwoord van ’n versmalde siening van kudde-immuniteit, oefen egter vetoreg op hierdie siening uit. Almal moet hiervolgens tot vaksinering aangemoedig word, ook kinders Die groot rede is dat ons ook die groep groter as die enkeling in ag moet neem. Ons het ook mos reeds die voorbeeld gehad van inentings teen siektes soos Pokke en Polio.

Dit is natuurlik ook een van die kenmerke van induktiewe wetenskap; dat ’n bepaalde analogie gekies word om sin te maak van die voorlopige data. Aangesien die toetsdata altyd beperk is en nie elke omstandigheid kan verreken nie, moet ’n sekere verantwoordbare analogie noodwendig in induktiewe wetenskap gekies word waarvolgens die algemene gevolgtrekkings dan gemaak word. Dit is waarom hierdie argument ook so kragtig is vir baie mense wat die meerderheidsverslag aanvaar. Dit is vir hulle die spreekwoordelike “no-brainer.” Hulle redeneer: “In die verlede het mense wat inenting teengestaan het, baie sleg daarvan afgekom en dit gaan weer gebeur. Geloof en wetenskap staan nie teenoor mekaar nie en ons moet dankbaar wees vir God se voorsienigheid in hierdie tyd.”

Die probleem hiermee is die veronderstelling, wat nog nie genoegsaam deur die toets van tyd bewys kon word nie, dat die analogie van Pokke en Polio definitief hier geldig is en dat ons bloot appels met appels vergelyk. ’n Eerste oranje lig is egter dat kinders groot risiko gehad het met Pokke en Polio, maar dit is nie op dieselfde vlak met COVID-19 nie. So terloops, die WGO het het reeds in Mei 2020 daarop gewys dat ongeveer 80 miljoen kinders in ryk en arm lande onder risiko geplaas is omdat die normale inentings van Masels en Polio nie toegedien kon word as gevolg van COVID-19 nie.[4] Om egter terug te keer na die analogie: Dit lyk wel voorlopig redelik om die voorbeelde van vorige inentings nie uit die oog te verloor nie, maar gesonde verstand behoort ons ook hier te laat besef dat die tyd kan leer dat ons appels met aartappels vergelyk het. Dit kan wys dat die aanname oor die analogie wat ons ingespan het, verkeerd was. Gestel byvoorbeeld ons moet later erken dat Polio gebreksiektes gekeer het, maar dat die haastige een-en-twintigste eeuse medici gebreksiektes en immuunsiektes aangehelp het. Of kom ons sluit by Rachell Coleman in die vorige aflewering aan en wys op fertiliteitsprobleme wat tipies van kortsigtige mediese wetenskap is. Iemand soos Marc Girardot, ’n kenner van wetenskapsmetodiek en biotegnologie, wys byvoorbeeld op data wat aantoon dat dele van die bioverspreiding van lipiede nanodeeltjies wat die mRNA dra, daarop dui dat die eierstokke en die beenmurg van die grootste konsentrasie hiervan verkry. Die vraag kan dan gevra word wat die langtermyn implikasies daarvan is en enigeen wat besorg is oor hulle en hul dogters se nageslag, behoort dit mos in ag te neem.[5]

Die bedoeling hiermee is nie om ongegronde vreesinboeseming te bewerkstellig nie. Gaan gerus die voetnote na. Dit is eerder om aan te toon hoe kragtig die analogie wat gekies word, in induktiewe wetenskap funksioneer. Dit verklaar ook waarom mense hieroor so drasties kan verskil. Dit spoor ook aan om ’n ordentlike verduideliking oor mRNA-tegnologie te gee wat kan aantoon dat die tegnologie werklik skadeloos is op die langtermyn en wat bereid is vir kruisondervraging deur eweknieë. Dit sal baie help om mense gerus te stel. Indien dit nie oortuigend gebeur nie, het ons ten minste ’n paar jaar nodig vanaf die begin van toediening voordat ons beter grond het om veral die jonger geslag wat minder risiko het, hieraan te onderwerp. ’n Groep besorgde kenners in die genoemde 180 jaar oue Britse mediese handelsjoernaal, The BMJ, het juis daarom ook ’n versoek tot die FDA gerig om die volle instemming tot die COVID-vaksines te verlangsaam. Die boodskap is eenvoudig: Verstadig die proses en kry die wetenskap reg – daar is geen wettige rede om gou te maak om ’n lisensie vir ’n koronavirus-entstof te gee nie. Ons glo dat die bestaande getuienisbasis — sowel voor as ná goedkeuring — op hierdie stadium eenvoudig nie volwasse genoeg is om voldoende te beoordeel of dat kliniese voordele swaarder weeg as die risiko’s in alle populasies nie.[6]

Maar laat ons vreesinboeseming nie net aan die een kant probeer uitken nie. Ons behoort ook groter duidelikheid te hê oor hoe vreesinboeseming aan die ander kant help om biopolitiek in te faseer en minderhede gevaarlik te laat voorkom. In die volgende aflewering sal daar by die moontlikheid en werklikheid van biopolitiek stilgestaan word.

[1] Matthew B Crawford. 3 Mei 2021. How science has been corrupted. Aanlyn:

[2] “It may be time to move from assuming that research has been honestly conducted and reported to assuming it to be untrustworthy until there is some evidence to the contrary. Aanlyn

[3] Vgl. In die verband die artikel van Derek Lowe oor die potensiaal en probleme van mRNA: What mRNA is Good For, And What It Maybe Isn’t:

[4] Aanlyn:

[5] Marc Girardot:

[6] 8 Junie 2021. Why we petitioned the FDA to refrain from fully approving any covid-19 vaccine this year. Aanlyn:

 74 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial