Die mense wat daarop wys dat ons kort-voor-lank ’n volgende en ’n volgende vaksine of aanjaagmiddel (“booster”) sal moet vat, se stelling is nie uit die lug gegryp nie. Die hele konsep van inenting-paspoorte word ook al hoe meer genoem. Daar word reeds daarvan gepraat dat bepaalde plekke nie besoek sal kan word sonder hierdie bewys nie. Kyk maar net wat reeds in Frankryk aan die gang is. Moet ook nie die opstande daaroor mis nie. Daar is wel die moontlikheid dat ons anderkant die pandemie/endemie sal lag oor al hierdie dinge, maar dit lyk of ons in is vir ’n langer termyn. Afgesien van Frankryk, is daar ook diegene wat ons reeds lankal hierin voorgegaan het. Leidraad: C kom voor F.
Die teoloog, dr. Peter Leithart, wys onlangs daarop dat die vaksine-druk die biopolitieke draai van die moderne politiek verteenwoordig.[1] Verwysend na die hoofstuk van Roberto Esposito in ’n publikasie met die titel, Biopolitics, stel hy dat politieke outoriteit eens beteken het dat die mag daargestel was om dood te maak. Onder die heerskappy van biopolitiek sorg die heersers egter ook vir die lewe en bestuur dit. Lank, lank gelede het die heerser ’n swaard gehad; nou ’n spuitnaald, sê Leithart aan die hand van Esposito. Hy gaan van hier af voort om daarop te wys dat biopolitiek ’n transformasie van die politieke bewussyn inhou. Vanaf die 16de eeu het mediese kategorieë en metafore politieke teorie al hoe meer geïnfiltreer. Dit is hierdie politieke verbeelding, sê Leithart, wat die publieke diskoers dwarsdeur 2020 gevorm het. Daar het ’n fusie van medisyne en politiek in die dieptes van die biopolitieke bewussyn plaasgevind. Gesondheidsorg word so oorgeplaas op die politiek. Dit word nou die regering se werksbeskrywing om ons gesond te hou.
Dit beteken noodwendig dat regerings sosiale kontrole moet uitoefen, die bevolking onder opsig en tug moet hou en databasisse voortdurend moet byhou. Gereelde opgradering en dokumentering daarvan is nie uitgesluit nie. Leithart wys dan daarop hoe China reeds vir dekades so opereer. In terme van mediese metafore bepaal China al lankal reeds wat “gesond” vir die samelewing is – hoeveel kinders elke familie mag hê en hoe afwykende minderhede behandel moet word wanneer hulle “siek” denke of “sosiale infeksie” veroorsaak.
Leithart se punt is dat vaksinering en immunisering nog altyd belangrike sake vir biopolitieke heersers was. So ontstaan die saam-wen (simbiotiese) verwantskap tussen higiëne en sosiale beheer. In China, sê Leithart, was grootskaalse immunisering een van die vroegste en belangrikste programme wat die grondslag gelê het vir ekstensiewe staatskontrole. Gedwonge vaksinering het die mag van die staat help bou. Volgens Leithart is die manie vir vaksines nie bloot wetenskapsgedrewe nie en gaan dit nie bloot oor gesondheid nie.
As dit oor gesondheid gegaan het, sê Leithart, sou natuurlike immuniteit volle erkenning ontvang het. Dit gaan egter ook oor politieke redes en oor beheer. Hy wys selfs daarop dat hierdie tipe politiek ’n godsdienstige (religieus-liturgiese) lading het. Vaksinering word ’n tipe sakrament, ’n reinigende doop en ’n eucharistiese embleem van aan wie jy behoort. Want in hierdie benadering word die regverdiges geregverdig deur hulle “jab”. En jy kan nie die reines en die onreines meng nie. Jy kan nie ongeregistreerde mense hê wat rondloop tydens die pandemie nie. Hierdie mensdom mag nie onveilig voel deur die “fundamentaliste” nie, is die implikasie.
Leithart is nie anti-vaksine nie. Hy wys egter op die langtermyngevolge vir ’n hele samelewing. Daarom is dit ook in terme van biopolitieke oorwegings belangrik om die gedwonge aard van vaksinering so ver as moontlik teen te staan. Hierin is die geweldige klem op ’n versmalde siening van kudde-immuniteit ’n sleutelkwessie. Want as mense net een gang sien, en dit is die drukgang van dreigende dood en ’n beperkte opvatting van kudde-immuniteit, lyk die oplossing ooglopend, terwyl daar eintlik beter uitgange moontlik was.
Bo en behalwe die biopolitiek, is hier ook sprake van bio-etiek. Behoort die staat so messiaans op te tree en minderhede so te hanteer? Aansluitend hierby: Kan die minderhede kwalik geneem word as hulle bio-etiek ook in hulle keuses van toepassing wil maak? Die rede is dat die mRNA-tegnologie met betrekking tot vaksines wel nuut is, maar dat die ander variant soos Johnson & Johnson ook vrae ontlok. Die rede is dat Johnson & Johnson van meer tradisionele metodiek gebruik maak, maar dat dit gebaseer is op sellyne wat van geaborteerde babas afkomstig is.[2] Let wel, die nuwe vaksine maak nie van geaborteerde babas gebruik nie, maar die sellyne, soos met die vaksine vir Duitse masels (Rubella), is gebaseer op inligting uit aborsies wat lank gelede plaasgevind het. Etici wys egter daarop dat iets wat ontdek is, nie ontken hoef te word net omdat dit aanvanklik uit verdagte omstandighede afkomstig is nie.[3] En tog raai heelwat Christen-etici mense aan om druk te plaas op maatskappye om alternatiewe wyses aan te moedig waarop die entstowwe ontwikkel kan word. Wanneer daar ’n keuse is, behoort Christene die alternatief te kies, maar waar dit nie beskikbaar is nie, kan hulle dit volgens heelwat etici neem en behoort hulle saam te werk met groepe wat hieroor druk uitoefen.
In hierdie opsig is die mRNA-tegnologie daarom te verkies, al moet dit erken word dat ook hierdie vaksine in die toetsfases van die genoemde sellyne gebruik gemaak het. Die tegnologie daarvan is ook nuut en die genoemde risiko oor langtermyn steeds groot. Verder is dit ook so dat ons ook met ’n positiewe gesindheid die ontwikkeling van mRNA-tegnologie fyn moet dophou terwyl ons wel versigtig soos slange en opreg soos duiwe is. Die rede is dat daar diegene is wat beweer dat heelwat siektes soos kanker, hartkwale en neurologiese siektes in die toekoms dalk hierdeur gehelp sou kon word. Natuurlik sal daar ook diegene wees wat deur hierdie tegnologie sal probeer om die spreekwoordelike super-ras te kweek. Bio-etiek sal dus in die toekoms al hoe belangriker word soos wat bio-tegnologie toeneem. Die verband tussen etiek en politiek is daarom ook hier eintlik baie direk van aard en die verband tussen vaksines en biopolitiek illustreer dit tot op makro-vlak. Daarom behoort ons baie versigtig te wees om ’n versmalde idee van kudde-immuniteit wat net op massa-vaksinering fokus, vrye teuels te gee. Dit bewerk net angs en histerie wat biopolitiek aanjaag. Om die waarheid te sê, dit werk in op die onderdrukkende aard van die ideologie van verstaatliking. Daaroor meer in die volgende aflewering.
[1] Peter Leithart, 28 Junie 2021. From Sword to Syringe. Aanlyn:
[2] Vgl. Aanlyn:
[3] Vgl. Doug Wilson se artikel, oor die uitdaging van onetiese vaksines by . Kyk ook na die omvattende behandeling van die Rooms Katoliek Kerk hieroor by
72 Besoeke vanaf 30 Maart 2022, 2 Besoeke vandag