Wanneer is ʼn kerk nie meer ʼn kerk nie?

Wanneer is ʼn kerk nie meer ʼn kerk nie?

Danksy my werk moet ek gereeld op verskeie platforms saam met mense met uiteenlopende geloofstandpunte gesprek voer. Jy kan maar net dink hoe groot is die verskeidenheid van oortuigings wanneer die staat met godsdienstige leiers wil gesprek voer oor die beplande regulering van godsdienste. Ten spyte van al die baie mense met wie ek niks in gemeen het nie, is daar altyd ʼn groep wat outomaties by mekaar aanklank vind. Uit verskillende tradisies en kulture word ons op ʼn onsigbare manier saamgebind wanneer ons buig onder die gesag van die drie-enige God en die waarheid van sy Woord.

Dit laat my net elke keer besef dat die Here nie net van verskeidenheid in die natuur hou nie, maar Hy het die verskeidenheid ook deel van sy kerk gemaak. Daar sit ek, van kop tot tone gereformeerd in belydenis en kerkregering, maar ek ervaar ʼn onsigbare geloofsband met totale vreemdelinge. ʼn Band wat hegter is as met vele persone uit die tradisionele Afrikaanse kerke wat teoreties die naaste aan my behoort te wees. Dit het my opnuut laat nadink aan hoe baie keer ons ʼn misplaaste idee van Christus se kerk het.

Dit gebeur te maklik dat Christene in praktyk (en selfs uit beginsel) mense bloot op grond van hulle kerk en kerkverband wat anders as myne glo, uitsluit van die gemeenskap van die heiliges. Natuurlik is daar grondliggende en ononderhandelbare Bybelse leerstellings. Paulus skryf in 1 Korinthiërs 15:1-3 van daardie dinge wat voorop staan soos byvoorbeeld die opstanding van Jesus Christus. Sonder geloof in die opstanding kan jy nie ʼn Christen wees nie. Daar is kernleerstellinge wat wesenlik vir die Christelike geloof is. Wanneer iemand enige van hierdie waarhede ontken, sluit hulle hulself uit die gemeenskap van die heiliges uit.

In Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus trek ons die lyn baie duidelik as die vraag is: Wat is dan vir ’n Christen nodig om te glo? Die antwoord is die 12 Artikels. Wanneer iemand hierdie waarhede glo enop die Verlosser vertrou oor wie dié waarhede gaan, dan is ons deel van dieselfde familie en ons moet mekaar as familie erken en aanvaar. Hulle mag dalk halfgebakte idees hê oor God se soewereiniteit, onseker wees oor die dae van Génesis 1, nie mooi verstaan wat die verhouding tussen genade en goeie werke is nie, snaakse ideale hê oor die eindtyd of dink dat die doop my teken van toewyding aan die Here is; maar as hulle buig voor Jesus Christus as Hoof en Verlosser, dan is hulle my familie. As die Vader hulle uitverkies het, die Seun sy bloed vir hulle gestort het en die Heilige Gees in hulle woon en werk, dan is hulle familie.

Natuurlik het elke familie sy verskille, probleme en kan selfs ʼn paar skobbejakke hê. Maar familie bly familie ongeag die probleme of skobbejakke.

Dit is ʼn groot en deurtastende toets vir ons getrouheid aan die evangelie om te erken dat ons Here sy kerk van oraloor versamel, dikwels op plekke wat vir ons baie vreemd is. Om broeders en susters in Christus te aanvaar en te erken ten spyte van al ons onderlinge verskille, is iets wat die Here Jesus nogal aan sy dissipels geleer het.

Ons lees byvoorbeeld in Markus 9:38-41 van die dissipels se ontsteltenis as hulle sien hoe iemand in Jesus se Naam duiwels uitdryf. Hulle belet hom dit met as rede “omdat hy ons nie volg nie.” Dadelik word hulle deur Jesus vermaan: “Moet hom nie belet nie.”

Die dissipels kon nie verder kyk as hul eie klein kringetjie nie. “As hierdie man nie deel is van ons groepie nie, kan hy nie aan Christus behoort nie.” Hoe hartseer!

Die oomblik wat ons die Christelike geloof net vir ons eie kerk of kerkverband of belydenisskrifte wil opeis, word ons ʼn sekte en is ons nie meer ʼn ware kerk van Christus nie.

Dit beteken nie dat ons nooit moet poog om ons broeders en susters reg te help en hulle tot ʼn ryker, meer Bybelse verstaan van die geloof moet lei nie. Nee. Dit beteken dat ons verstek posisie nie is: “Hulle moet reg gesien word” nie. Dit is eerder: “Hierdie is my familie, ons stry onder dieselfde vaandel, ons is saam onderweg na dieselfde hemelse Vaderland, ons is skoongewas deur dieselfde bloed.”

Die gemeenskap van die heiliges is ʼn kosbare en diep Bybelse en Godvererende waarheid. In sy baie bekende brief aan aartsbiskop Thomas Cranmer, skryf Johannes Calvyn (vry vertaal): “Daar is nog iets wat moet tel onder die grootste euwels van ons tyd, naamlik dat die kerke so verdeeld is, dat onderlinge gemeenskap onder ons so skaars is. Terwyl almal die onderlinge Christelike gemeenskap bely, maar weinig dit opreg beoefen … Die liggaam lê en bloei. Dit is vir my ʼn saak van so groot erns, dat as ek van enige waarde sou wees, sou ek nie omgee om tien seë oor te steek as dit nodig sou wees nie.”

Soms word ʼn familie se verskille openbaar en daar mag goeie rede daarvoor wees. Maar die meeste van die tyd bly dit binne die familie. God se kinders, deur die bloed van Christus gekoop, soek na God se wil en ons wil Hom behaag wat ons deur sy Heilige Gees aan ons Verlosser en aan mekaar verbind het. Soos elke vader is dit ook ons hemelse Vader se begeerte dat sy kinders in vrede moet saamleef. Jesus sê in Johannes 13:35: Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Vir die broeders en susters van ons Here Jesus geld ook die woorde van Psalm 133: Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon. Ja, ons het elkeen sy eie huis, huisreëls en gebruike. Tog is ons steeds deel van die gemeenskap van die heiliges. Dit is juis ons erkenning van God se verskeidenheid wat ons bring om mekaar as broeders en susters in Christus te erken.

Mag die Here ons bewaar van ʼn sektariese meerderwaardigheid, anders is ons nie meer ʼn kerk nie.

Die ANC se geveg met die “auto-pilot”

Die ANC se geveg met die “auto-pilot”

In ’n onlangs episode van “Air Crash Investigations” op televisie, word ’n vliegtuig kort voor landing deur weerlig getref. Die loodse aanvaar verkeerdelik dat die “auto-pilot” afgeskakel het. Hulle besluit om nie voort te gaan met die landing nie, maar eers te sirkel om vas te stel of daar skade is. Toe hulle wil begin klim, ontstaan daar ’n stryd tussen die loodse en die “auto-pilot”. Hulle wil op en die “auto-pilot” wil die hoogte handhaaf. Hulle wen gedeeltelik en kry die vliegtuig so 2000 voet hoër – ontspan effens, maar die “auto-pilot” neem oor en hulle beland in ’n duik. Gelukkig – wat seker as genade van Bo gesien kan word – skakel die “auto-pilot” minder as twee minute voor hulle in die see duik af en die loodse kan normaal voortgaan om veilig te land.

Die analogie met die Suid-Afrikaanse ekonomie is duidelik. As ons die markkragte sien as die “auto-pilot”, is dit duidelik dat die ANC-regering in ʼn hewige stryd met die markkragte gewikkel is in ’n poging om die ekonomie te laat groei. Somtyds wen hulle ’n bietjie deur beleggingskonferensies, maar dan neem die markkragte weer oor en die ekonomie duik verder as gevolg van die markkragte wat die ANC-regering self deur hulle ekonomiese benadering ingestel het om ons te laat duik.

’n Vriend twiet onlangs: “Dit behoort ’n vereiste te wees dat enige-een wat in die parlement mag stem oor ten minste Ekonomie 101 moet beskik.” Dalk is die hele Ekonomie 101 nie nodig nie, want ek dink dit was al in die eerste lesing in Ekonomie 101 dat die lektor verduidelik het dat as ’n produk se vraag hoër is as die aanbod, dan styg die pryse. Sodoende word die aanbod gestimuleer en die vraag ontmoedig. Wanneer die aanbod hoër is as die vraag, daal die pryse om die aanbod te ontmoedig en die vraag te stimuleer. Dit is die lesing wat die ANC-regering – of is dit nou die vyfjaarlikse ANC-konferensiegangers – skynbaar gebank het of nie verstaan dat dit ook op die arbeidsmag van toepassing is nie.

Die ANC is behep met die swak Gini-koëffisiënt wat die ongelykheid tussen arm en ryk meet, maar verstaan nie dat dit eintlik net die resultaat is van ’n onderaanbod van vermoënde, goed opgeleide bestuurders of professionele mense met ondervinding en ’n ooraanbod van swak opgeleide mense sonder ondervinding nie. Hierdie situasie dryf dus die vergoeding van bestuurders en professionele mense opwaarts en die vergoeding van die swak opgeleide werkers afwaarts.

Die oplossing om die Gini-koëffisiënt te verbeter, is dus om méér goed opgeleide mense met ondervinding in die ekonomie in te bring en minder swak opgeleide werkers sonder ondervinding in die beskikbare werksmag te hê. As ons na die ANC en sy vyfjaarlikse konferensiegangers se beleid kyk, is dit presies die teenoorgestelde.

Eerstens is daar die voorgeskrewe minimumlone. Minimumlone is seker gedeeltelik geregverdig en kan uitbuiting verhoed, maar dit is en bly ’n direkte inmenging in die markkragte. Dit skuif die salarisse van die laer besoldigde werkers kunsmatig op en gevolglik ook die ekonomiese gelykbreekpunt tussen arbeidskoste en die koste van kapitaalbeleggings in meganiserings- en outomatiseringstoerusting. Dit lei dus tot meer meganisering en minder werksgeleenthede en dus hoër werkloosheid. Dit forseer ook werkgewers om opnuut te kyk na hulle werksmag met die vraag of hulle nie met minder arbeiders kan regkom nie. In hierdie opsig is huiswerkers dalk ’n goeie voorbeeld: Ek vermoed dat baie gesinne besluit het dat hulle nie meer die luuksheid van ’n huiswerker kan bekostig nie en nou hulle eie werk doen.

In ander gevalle verhoog dit die produksiekoste van goedere wat prysverhogings noodsaak. Volgens die ekonomiese reël hier bo, beteken dit laer verkope en dus laer winsgewendheid wat personeelverminderings noodsaak. Die resultaat is dat party werkers meer geld kry, ander hulle werk verloor, pryse styg en die Gini-koëffisiënt dieselfde bly.

Tweedens is die ANC-regering se grensbeheer uiters swak met die gevolg dat letterlik duisende onwettige immigrante die land instroom. Ek vermoed die meeste hiervan is onvoldoende gekwalifiseerde mense met min of geen ondervinding nie. Die huidige debat oor xenofobie is die resultaat van dié mislukking. In plaas van beter grensbeheer en ’n beter immigrasiebeleid, beskuldig die regering net die mense wat die impak van hulle swak beleid eerstehands ervaar. Die gevolg is meer werkloosheid, onrus en geweld.

Derdens volhard die ANC met sy benadering van regstellende aksie en raskwotas in die werksplek. Dit het veral in die staatsdiens en die staatsbeheerde maatskappye gelei tot die vinnige vervanging van goed opgeleide, bevoegde, hoofsaaklik blanke mense met ondervinding, met mense wat minder of selfs geen toepaslike ondervinding het nie. Dit lei tot die ineenstorting van besigheidsprosesse en die geleidelike verval van die genoemde organisasies en die staatsdiens.

Mense wat so uit diens gestel is en sukkel om weer werk te kry, tesame met skeptisisme oor die toekoms van die land en die hoë misdaadsyfer, besluit maklik om te emigreer. Suid-Afrika het sedert 1994 seker ten minste een miljoen van sy goed opgeleide en ervare werkers verloor. Dit beteken ’n tekort aan die hoërinkomstewerkers wat weer hulle besoldiging opskuif en die Gini-koëffisiënt verswak.

As ‘n mens weet dat die kaliber (vermoë, opleiding, ondervinding en so meer) van die mense in ’n land die belangrikste, selfs die enigste faktor is wat jou land se ekonomiese vlak bepaal, dan besef jy die diepgaande skade wat die ANC aan die ekonomiese vermoë van Suid-Afrika aangerig het.

Die oplossing is nie ʼn vinnige een nie, want selfs as jy vandag die situasie omkeer, sal dit ten minste15 jaar neem voordat jy goed opgeleide mense uit die opleidingstelsel kry en as ons nog tien jaar bytel vir daardie mense om goeie praktiese ondervinding op te doen, mits daar mentors is om hulle indiensopleiding te gee, dan lyk die korttermyn ekonomiese toekoms nie goed nie. Oor baie is hulle aangestel, maar oor so min daarvan is hulle getrou.

Miskien is dit nou die tyd vir die ANC-regering, hul konferensie-afgevaardigdes en die kiesers wat vir hulle stem, om kennis te neem van wat Einstein gesê het: “Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”

’n Lewende klokkespel wat selfs ná Paasnaweek weergalm

’n Lewende klokkespel wat selfs ná Paasnaweek weergalm

Op 8 Maart 2019 is die sinodale besluite wat die NG Kerk in 2016 oor selfdegeslagverhoudings en -huwelike geneem het, deur die Hooggeregshof ter syde gestel.

Die Hooggeregshof in Pretoria is deur ʼn groep van vier lidmate genader om die besluit van 2016 onwettig en ongeldig te verklaar. In hul beantwoordende verklaring het die NG Kerk toegegee dat die besluite deur die appèlliggaam van die Algemene Taakspan Regte (ATR), rakende die aanvaarding van appèlle teen die vorige besluit van 2015, onwettig en ongeldig was. Hiermee het die NG Kerk erken dat hy sy eie huishoudelike reëls oortree het.

Tot voor hierdie uitspraak het die howe hul egter deurgaans daarvan weerhou om by kerke se leerstellige verskille betrokke te raak. So het die Konstitusionele Hof byvoorbeeld beslis dat mense die reg en ook grondwetlike beskerming geniet om geloofsoortuigings te handhaaf wat selfs “bisar, onlogies en irrasioneel” is. Wat met hierdie hofsaak ter sprake gekom het, was die vraag of die weiering om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en te aanvaar, een van hierdie geloofsoortuigings is wat grondwetlike beskerming geniet. Twee regte binne die Suid-Afrikaanse Grondwet blyk in konflik met mekaar te wees, naamlik die reg op godsdiensvryheid en die reg dat niemand op grond van jou seksuele oriëntasie teen jou mag diskrimineer nie.

Wat interessant is van die uitspraak, is dat die Hof in sy uitspraak gesteun het op die omstrede verslag van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) rakende die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se geloof, waarin daar vir die regulering van alle godsdienste deur middel van wetgewing gepleit word. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie verslag se aanbevelings deur die parlementêre portefeuljekomitee verwerp is. Hierdie verwerpte aanbeveling van die KGT-kommissie word dus nou vir die regters deel van die basis op grond waarvan hulle reken die hof wel oor die kerklike aangeleentheid mag beslis.

Tot op hede is kerke deur die hof as vrywillige organisasies beskou. Tot nou het dit beteken jy sluit vrywillig by ʼn kerk van jou keuse aan en daardeur aanvaar jy die oortuigings van die betrokke kerk en lê jy jouself by die interne prosedures en besluite neer. Die hof was nog altyd huiwerig om by enige leerstellige twiste betrokke te raak en het dit vermy om uitspraak te lewer oor die inhoud of die waarheid van geloofsoortuigings. Die hof het aanvaar dat individue wat by ʼn kerk aansluit, bereid moet wees om die regverdige beslissings binne die betrokke kerk se strukture te aanvaar. Wanneer die saak dan wel voor ʼn hof kom, is die vraag of daar enige onreg gepleeg is. Die hof is dan in daardie gevalle gevra om te bepaal of die betrokke kerk in stryd met sy eie Kerkorde en besluite opgetree het.

Teen hierdie agtergrond kom die uitspraak van 8 Maart 2019 waarin die Hooggeregshof van Pretoria besluit om wel by die inhoud van ʼn kerklike twispunt betrokke te raak, omdat:

  • die Hof oordeel dat besluite oor seksuele oriëntasie buite die raamwerk van godsdiensvryheid val, maar deur die Grondwet gereël word;
  • daar getoets moet word of die NG Kerk met sy 2016-besluite voldoen aan hulle wetlike, etiese en gemeenskapsverantwoordelikheid;
  • geen argumente deur die NG Kerk daarvoor gepleit het dat die saak op ʼn ander forum hanteer kan word nie, veral aangesien twee sinodes ná vele bespreking en debat nie tot ʼn konsensus-besluit kon kom nie.

Die belangrikste rede waarom die hof egter besluit het om wel by die substantiewe kwessie van onregverdige diskriminasie betrokke te raak, is omdat die aansoekers en ook die NG Kerk die hof daartoe versoek het! Deur gehoor te gee aan die versoek, wyk die hof af van die gebruik hier ter lande en ook internasionaal.

Hoewel die wet vir iets soos geregverdigde diskriminasie voorsiening maak, het die hof in sy uitspraak telkens daarop gewys dat die NG Kerk nêrens in hulle stukke probeer het om enige feite hieroor aan te bied nie. Hiervolgens moes die NG Kerk aantoon hoe geloofsgemeenskappe se besluite oor seksuele oriëntasie in terme van Artikel 36 van die Grondwet gesien kan word as ʼn beperking van die betrokke gelykheidsregte. Die NG Kerk het dit egter ook nie beredeneer nie.

Op grond van die feite (of die doelbewuste uitlating daarvan) aanvaar die hof dat die diskriminasie nie geregverdig kan word nie. Diskriminasie kan ook geregverdig word deur aan te toon dat die mikpunt en doel daarvan ʼn waardige en belangrike doel in die gemeenskap het. Ook hierdie punt is nie deur die NG Kerk beredeneer nie.

Vanweë die gebrek aan argumente en feite bevind die hof toe dat die 2016-besluit nie net onregverdige diskriminasie is nie, maar ook sekere lidmate se menswaardigheid aangetas het, aangesien persone in verhoudings met iemand van dieselfde geslag nie leraars in die kerk mag wees nie en ook nie toegang het tot kerklike seremonies nie.

Die hof het verder ʼn leemte in die NG Kerk se sinodebesluit gesien in die feit dat dit uiteindelik gegaan het oor die uitsluiting van persone wat nie heteroseksueel is nie uit leierskapposisies en kerklike huweliksbevestiging, terwyl hulle nie uit die kerkgemeenskap uitgesluit word nie. Die hof is van oordeel dat jy nie iemand vanuit die LGBTIQA+ -gemeenskap mag toelaat om lidmaat van die kerk te wees, maar daarna uit sekere posisies en seremonies uitsluit nie.

Waar plaas dit gelowiges en ander kerke in Suid-Afrika?

Hoewel hierdie uitspraak spesifiek op die NG Kerk gemik is, het dit ook implikasies vir ander kerke. ʼn Presedent is nou geskep is waarop daar in toekomstige hofsake geleun sal word. Dit is egter tans nog nie duidelik of die hof se uitsprake oor die grondwetlike aangeleentheid deel van amptelike uitspraak is en of dit bloot ʼn opinie binne die uitspraak is nie. Hieroor het die Alliance Defending the Autonomy of Churches in South Africa (ADACSA) uitsluitsel by die hof gevra.

Juis danksy die beginsel dat ʼn soortgelyke saak binne ʼn ander konteks nie noodwendig dieselfde beoordeel kan word nie, sal enige toekomstige sake moet fokus op al die gebreke wat in die NG Kerk se verdediging aangetoon is.

Dit is egter kommerwekkend dat die hof sy uitspraak nie net tot die prosedurele foute beperk het nie, maar ook oor die grondwetlike aspekte sekere bevindings gemaak het. Sodoende het die bedreiging van godsdiensvryheid ʼn groter werklikheid geword.

Die uitspraak behoort ook ʼn wekroep vir kerke te wees, wat getrou aan die Bybel wil bly, om erns met kerklike tug te maak en konsekwent te wees. Kerklike tug kan nie beperk word tot sekere persone en sekere oortredings nie. Jy kan nie eers tug wil toepas wanneer iemand as ampsdraer verkies word nie. Daar moet met dieselfde erns teen alle sondes opgetree word.

Vir kerke wat die oortuiging handhaaf dat die Bybel nie vrouens as ampsdraers toelaat nie, het hierdie uitspraak natuurlik ook die gevaar dat daardie standpunt op presies dieselfde gronde betwis kan word.

Hoewel daar baie vrae gevra kan word oor die redes waarom die NG Kerk nie hierdie saak beter verdedig het nie, is die water onderdeur die brug. 8 Maart 2019 gaan in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis heel moontlik ʼn datum word naas Ordonnansie 7 van 1843, die Loedolff-saak van 1862 en ander. 8 Maart 2019 gaan onthou word as die saak waarin die NG Kerk nie eers probeer het om redes aan te voer hoekom Bybelse gehoorsaamheid geregverdigde diskriminasie kan wees nie.

Die saak in die hof het dalk oor homoseksualisme gegaan, maar die stryd binne die NG Kerk bly ʼn stryd om Skrifgesag.

Volg ons instellings of beginsels?

Volg ons instellings of beginsels?

Die feit dat oupas en pa’s ’n bepaalde instelling ondersteun het, bring baie keer mee dat opkomende geslagte in hul voetspore volg en sekere instellings slaafs aanhang.  Met ’n wêreld wat daagliks dramaties verander en bestaande waardes en beginsels deurlopend verskuif word, is die ondersteuning wat jou oupa en jou pa vir ’n instelling gegee het in vandag se tyd heel moontlik al in wese, en beslis in beginsel, ’n totaal nuwe instelling. Al wat dalk nog staande gebly het van die oorspronklike instelling, is moontlik die naam. Doelpale wat telkens geskuif word en dan met die beste motiverings geregverdig word, is aan die orde.

Ongeag op watter lewensterrein jy jouself bevind, is daar bepaalde beginsels wat blywende uitkomste gee, wat in die spesifieke geval van toepassing is.  Vir ’n Christen sal die vertrekpunt altyd die Woord van God wees, waaruit waardes gehaal word wat die basis vir elke lewensterrein vorm. Dit skep die fondament waarop suiwer grondslae gelê kan word.  Die probleem vandag is dat daardie fondament begin verkrummel het. Lang redenasies kan gevoer word, maar die vraag moet gevra word: Is die kernprobleem nie dat die mens Jesus Christus uit die middelpunt gehaal en homself daar geplaas het nie?  

Die oomblik wanneer dit gebeur, word ons bestaansrede soos die Bybel dit uiteensit – om tot eer van God te leef, aangepas met die bedoeling om die mens gelukkig te maak. Dit is dán wanneer die proses begin waar die doelpale gedurig geskuif word.  Sodra daar enige aspek ter sprake kom wat dan vir die mens nie meer “lekker” is nie, moet daar vinnig ’n motivering geskep word wat die nuwe gedagtegang kan regverdig.

Beginsels is daardie dinge waarby gestaan en geval moet word. Dit is die dinge waarvoor daar nie gekompenseer kan word nie.  Sodra daar slegs 1% aan ’n beginsel toegegee word, kan ’n beginselgesprek daaroor nie meer gevoer word nie, want die beginsel is prysgegee. Die gesprek sal daarna dan net ’n “persentasie-gesprek” wees, om telkens te bepaal wat die volgende deel – of dan die persentasie is, wat prysgegee gaan word.  

Dit word ook ervaar dat ’n keuse van optrede baie keer tot ’n beginsel verhef word. Wanneer die beginsel byvoorbeeld beskryf kan word as “om agter die bos bymekaar te kom”, gebeur dit baie vinnig dat daar hewig verskil word oor die beste roete om wel by die agterkant van die bos (die beginsel) uit te kom. Dit gebeur dan dat daar geargumenteer word dat dit ’n beginselsaak is om byvoorbeeld links om die bos of regs om die bos te beweeg. Daar word so hewig oor die verskil van die roete “geveg”, dat die werklike beginsel later amper nie eers meer ter sprake is nie.

Toets ons nog die instellings waarby ons betrokke is aan die beginsels wat vir ons elkeen self belangrik is, of laat ons maar toe dat ander mense vir ons hierdie beginsels bepaal – al skuif dit deurentyd? Op elke lewensterrein is dit ons verantwoordelikheid om ’n slag stil te gaan staan en te bepaal wat daardie beginsels is waarop ekself die toekoms wil en moet bou.  Indien die instelling waarby ek betrokke is, begin het om doelpale met die verloop van tyd te verskuif en daar nie meer ’n suiwer begronding daarvoor is nie, het elkeen ’n groot verantwoordelikheid om die instelling tot orde te roep of te gaan inskakel by daardie instelling wat wel die beginsel nastreef.

Wat dit deesdae nog meer gekompliseerd maak, is die lewens- en wêreldbeskouing wat tans deur ’n ANC-ideologie op Suid-Afrika afgedwing word. Kulturele waardes, soos wat dit by die onderskeie volkere ontwikkel het en juis in volksverband deur die jare beslag gekry het, word doelbewus aangeval in ’n poging om dit te neutraliseer.  Die aanslag op moedertaalonderrig, wat as grondslag dien om juis hierdie beginsels verstaanbaar aan die volgende geslagte oor te dra, is maar een van die groot knelpunte.  

Die kurrikulum in ons skole is seker die grootste bedreiging, waar ‘n ANC-kultuur wat gebou is rondom sosialisme en kommunisme, op ’n baie subtiele wyse op ons kinders afgedwing word en ’n grondslag gelê word om ander beginsels te vestig as dít wat ons volk deur die jare uitgebou het – wat ons ’n trotse en unieke volk gemaak het.  Ons kinders leer in die staatskole heel onbewustelik ander waardes as wat vanuit die ouerhuis graag uitgedra sal wil word.

In dié verband het ’n professor van Bloemfontein, gedurende ’n onderwyskongres wat ek in 1980 bygewoon het, die kurrikulum vergelyk met ’n ma wat vir haar gesin ’n gebalanseerde bord kos voorsit. Sy maak seker dat goeie voedingstowwe – al die nodige minerale en vitamiene in die regte hoeveelheid – daarin verpak is, om die liggaam gesond te laat ontwikkel. Niemand kan die voedingstowwe op die bord uitwys nie, maar dit is in die kos en elkeen kry dit onbewustelik in.

Eweneens is dit belangrik om te kyk wie die kurrikulum skryf, want die skrywer se “vitamiene” word daarbinne verpak en elke kind kry dit ook onbewustelik in.. ’n Klompie jare gelede, wanneer hy die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) toespreek, sê dr. Blade Nzimande dat “hierdie kurrikulum” saamgestel is om vir die jeug sosialisme te leer en daarom moet hulle dit gebruik.

Besef ons as Christenouers wat besig is om heel subtiel met ons kinders te gebeur? Net om hiérdie rede sou ek dink dat Christelike Volkseie Onderwys-skole eintlik uit sy nate moes bars, maar ongelukkig is daar iets wat ons ouers laat vashou aan die tradisionele instelling, ongeag die beginsels en waardes (en kurrikulum) wat deesdae daar geld. Die probleem is dat die aanslag op kinders se begronding heel subtiel is en dat dit eintlik nie eens raakgesien kan word nie, want die sogenaamde “regte vitamiene” is heel verskans daarbinne verpak en ons kinders kry dit onbewustelik vir 12 jaar getrou in. Ons moet dan nie verbaas wees wanneer allerlei snaakse en onbekende beskouinge kop uitsteek nie.

Indien die instellings waarby ons betrokke is nie meer die suiwer beginsels handhaaf nie, het elke lid aldaar ’n groot verantwoordelikheid om toe te sien dat daar nie maar net heel tevrede saam met die stroom die afgrond in beweeg word nie, maar moet daar opgestaan word vir die nodige en begronde beginsels waarop die toekoms gebou moet word.

Geloftepreek 16 Desember 2021. Voortrekkermonument. Prof. Alwyn Swanepoel.

Geloftepreek 16 Desember 2021. Voortrekkermonument. Prof. Alwyn Swanepoel.

Hoe om deel te neem aan ’n vol viering van Geloftedag

(Boodskap by die Voortrekkermonument op 16 Desember 2021)

Skriflesing:

Hebr. 4:4, 8-10.

Gén. 12:1-4, 7.

Gén. 13:1, 3-15, 18.

Teksvers: Gén. 13:3-4

En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die Here aangeroep.

Geagte broeders en susters, dit is heerlik om soveel mense vandag hier by die Geloftedag-vieringe te sien. Maar ek wil dit waag om positief-uitlokkend te wees. Daar is eintlik geen werklike rede waarom die bywoning met so ’n treffende amfiteater nie na 50 000 en meer kan gaan nie. En my rede vir hierdie realistiese stelling: Omdat Geloftedag eintlik niks anders doen nie as om te bevestig dat jou geloof en jou kultuur en geskiedenis alles met mekaar te make het. Om die waarheid te gesê, die betekenis van Geloftedag kan, anders as wat die kritici sê, juis ’n reinigende en florerende effek op Suid-Afrika en Afrikaners in besonder hê. Maar dit kan net gebeur wanneer ons die diepte-dimensies van Geloftedag bewandel.

Want sien, jy kan met Geloftedag enersyds die punt mis en andersyds dalk die volheid daarvan mis. Jy kan die volheid mis deur net op die letterlike betekenis te fokus en by die gees en bedoeling van Geloftedag verbygaan. Jy kan egter ook die punt heeltemal mis deur ’n gees en bedoeling in Geloftedag in te lees wat nie op die letterlike betekenis van Geloftedag gegrond is nie, maar in ’n ander agenda – links of regs. Ons moet hierdie afwykings raaksien wat in die geskiedenis van Geloftedag ongelukkig ook hulle aanhangers gehad het en steeds het. Meer nog, ons het nodig om in hierdie een-en-twintigste eeu, die era van die derde Afrikaner, met nuwe opgewondenheid weer aan te sluit by die benadering van die eerste Afrikaner, soos verteenwoordig deur die Voortrekkers. Dit is ’n weg waarin jy die volheid van die Gelofte betree deur die letterlike en die simboliese betekenis van die Gelofte in Christus en aan die hand van sy Woord met mekaar in verband te bring. Weet u waarby kom ons dan, geliefdes? Ons kom by die rykdom van die Gelofte wat ook ons en ons kinders nog lank kan vernuwe en waarin ons aansluit by die beste weergawes daarvan in vorige geslagte.

Vriende, by hierdie punt in die geskiedenis kan ons die syspore nie meer bekostig nie. En die maklikste manier om daarvan vry te bly, is om die weg van die heerlike alternatief voortdurend voor oë te hou. Ons gaan dit vandag doen deur te begin met die letterlike betekenis van die Gelofte en dan gaan ons hiermee saam ook vra na die simboliese betekenis wat hierop gebou kan word wanneer ons dit in Christus en sy Woord doen.[i] Ons maak dan hier gebruik van die bekende weergawe van die Gelofte wat ook gebruik is om die gewaardeerde Geloftelied te komponeer.[ii] Daarin hoor ons dat die Voortrekkers drie voornemens teenoor God gemaak het: (1) Om hierdie dag elke jaar as ’n dankdag, soos ’n Sabbat deur te bring, (2) om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, en (3) om ons kinders tot in die opkomende geslagte op te roep om daarin te deel. Die doel van al hierdie voornemens was God se eer wat so verheffend uitloop op ’n Godverheerlikende (doksologiese) crescendo in die marslied wat onlangs daaroor gekomponeer is: “Want die eer van sy Naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Vriende, hierdie loflied op God se genade en oorwinning kan voortgesit en voller word wanneer ons saam met die letterlike, ook die geestelike en simboliese dimensies hiervan in Christus uitbou. Ons sou die betekenis van die drie voornemens met die beeld van ’n huis kon vergelyk waarin ons steeds deur die geloof kan inwoon. Maar dan moet ons dit vandag weer hoor dat die drie voornemens van die Gelofte spreek van:

  • aanbidding in die sentrum.
  • rus en fees in die fondasies.
  • ons kinders se kinders se kinders in die uitsigpunt 
  1. Geloftedag spreek van aanbidding in die sentrum

Ons lees dat hy die altaar naby Bet-el oprig, die naam wat Jakob later daaraan gegee het en wat “huis van God” beteken. Jakob noem dit so toe hy die gesig van die leer en die engele wat op en neerdaal gesien het.[iv] En toe kom die Here Jesus en bevestig dat die leer uit die hemel net in Hom ’n werklikheid geword het en dat sy liggaam die huis van God geword het wat vir ons gegee is en waarvan ons nou deel mag word.[v] Die altaar van Abraham naby Bet-el wat “huis van God” beteken, sou daarom reeds ’n heenwysing wys na die hele kosmos wat ’n huis van God sal word vanweë die offer wat Jesus Christus gebring het. Intussen het die altaar elke plek geword waar daar in die Naam van Jesus Christus tot God genader word. Daarom het ons vadere tereg raaksien dat kerke in die middel van ’n dorp of stad, ʼn belangrike en regmatige voortsetting is van die altare wat Abraham opgerig het om gemeenskap met God te beoefen.[vi]

Daarom is dit ook baie gepas dat daar in die bekendste weergawe van die Gelofte, ’n Kerk as simbool van ware aanbidding, sentraal geplaas is. Die bekende kommentator, Johannes Calvyn, wys dan ook treffend daarop dat die altaar in Abraham se tyd ’n toevlug tot en ’n stelling oor die lewende God was teenoor die bygeloof en ongeloof wat hom omring het. Dit was ’n simbool en getuienis daarvan dat Abraham nie ingesuig wou wees in die goddelose kultuur nie en dat hy nie in die bygeloof van die heidene rondom hom wou deel nie.[vii]

En, broeder en suster, een van die redes waarom ons so maklik val vir die pluralisme van ons tyd, wat eintlik maar net neerkom op politeïsme, is dat ons ons gesonde kerke versaak het. Ons moet hoor hoe die Voortrekkers deur hierdie deel van die Gelofte vir ons sê: Jy word wat jy aanbid. Maak seker dat jy verander word na die beeld van God en nie die beeld van een of ander afgod wat jou wil insuig nie. En hoe kan dit gebeur? Deur ware aanbidding en daarom ook gesonde kerke steeds saam met die Voortrekkers as sentraal belangrik in al ons nuwe planne te ag.

Ook as ons planne hoor dat konsentrasie-politiek vir Afrikaners as minderhede belangrik is en daarom werk maak om ankerdorpe en ankergebiede uit te bou. Ankerdorpe en ankergebiede kan net vestings wees as hulle waarlik geanker is – nie in getalle in die eerste plek nie, maar in die ware Anker. Die Woord van God, ons vaders, en ook die beste nadenke van ons dag bevestig dit steeds: Die manier waarop samelewings ten goede verander, gebeur op ’n bepaalde ritme: Vanuit aanbidding, ontwikkel die kultuur, ontwikkel ook die politiek. Ja, vanuit ware aanbidding ontvou die hele lewe.[viii] Ongelowiges wil dit omdraai. Hulle sê gereeld vandag dat godsdiens maar net ’n uitdrukking is van hoe jou kultuur oor sake dink, maar dit is baie gevaarlik en misleidend.[ix] Elke kultuur is gegrond op een of ander godsdiens en vanuit daardie godsdiens ontplooi die kultuur. Dit kan ’n bose kringloop beteken wanneer dit gebou word op erkende of onerkende afgode, maar dit kan ook wonderlike en egte vernuwing van die hele samelewing tot gevolg hê wanneer dit gebou word op die lewende God. Daarom moet ons hoor dat gesonde kerke en ware aanbidding nie ’n luukse is nie, maar dringend noodsaaklik in die sentrum van ons planne is. Dit bring ons natuurlik by die vraag: Hoe lyk egte aanbidding?

  1. Geloftedag spreek van rus en fees in die fondasies

Ons vadere het ook hierop reeds in beginsel ’n belangrike antwoord gegee in die Gelofte met die eerste voorneme wat genoem is: Om hierdie dag elke jaar as ’n dankdag, soos ’n sabbat deur te bring. Ook hier mis ons maklik die verfrissend-verrassende antwoord wat hulle gegee het op die vraag na hoe ware aanbidding lyk. Want broeder en suster, deur die woord sabbat te gebruik (wat rus beteken), het hulle reeds daarop geantwoord dat ware rus kenmerkend is van ware aanbidding.

Die woord sabbat is ’n tipe kodetaal wat jy net kan begryp as jy die visie van die Voortrekkers op die Bybel en die samelewing kan waardeer. Die Voortrekkers wou daardeur hulle oorwinning laat aansluit by die groot oorwinning oor die sonde en die dood. Dit was en is die feestelike en sielsrustende dag van die Here wat die sentrale hegstuk van hulle weeklikse ritme was. Om iets van hierdie kodetaal van die sabbat te waardeer, moet ons let op die klassieke hoofstuk 4 van die boek Hebreërs waaruit ons gelees het.

Die Hebreërskrywer verduidelik die sabbatsrus van God daar aan die hand van drie gebeurtenisse wat insig in God se ewige rus gee. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag.[x] Dan hoor ons verder (2) ook van die rus in die land Kanaän.[xi] En hierdie rus het weer (3) heen gewys na die groter rus van die volk van God, die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde.[xii] En dan leer die Hebreërskrywer ons dat ons nou reeds in beginsel hierdie rus kan ingaan deur die geloof in die afgehandelde verlossingswerk van Christus vir ons.[xiii]

Broeder en suster, rus – sabbatsrus – is ’n kenmerk en grondliggende saak vir die kinders van God. Dit bevestig dat ware aanbidding nie blote godsdienstigheid is nie, maar eerder gekenmerk word daardeur dat dit rus vir die siel beteken.[xiv] Wat ons dalk nie genoeg hiermee saam sê nie, is dat hierdie sabbatsrus van die begin van die Bybel af staan in die teken van afhandeling van dit wat God self gedoen het, maar hiermee saam ook in die teken van verlustiging en feestelikheid oor dit wat God gedoen het. Dit is hierby wat die Voortrekkers wou aansluit deur hulle voorneme om hul uitsonderlike oorwinningsdag soos ’n sabbat te hou. Hulle wou aansluit by ’n groter rus, by ’n groter fees, by ’n groter verlustiging.

Ons sal baie mooi moet ondersoek instel na waarom ons hierdie heerlike visie op die kerk van die Here en die dag van die Here as simbole van rus, verlustiging en feestelikheid skynbaar verloor het. Soos ’n Iranees-Amerikaanse Christen dit beskryf: “Ons het die vryheid wat uitgebeeld word deur die dag van die Here verruil vir die vryheid van die markte.”[xv] En die markte het ironies genoeg van ons slawe en rustelose en angstige mense gemaak. Waarom het dit gebeur? Vriende, dit kon net gebeur omdat daar ’n geweldige verlies in die Weste plaasgevind het. Die geleerdes praat van ’n metafisiese verlies. Dit beteken dat daar ’n geweldige verlies ingetree het in ons siening van die werklikheid as God se werklikheid.

Die Voortrekkers het met die Gelofte baie meer oor ware rus en fees en ’n werklikheidsbenadering gesê as wat ons dink. Hulle het daarmee hul geskiedenis ingebed in God se geskiedenis, met weeklikse ritmes van rus en feestelikheid in God, wat uitloop op die ewige Sabbatsrus en die ewige heerlikheid. Hulle wou Christelike gemeenskappe wees wat bevestig dat ware aanbidding jou bevry en vernuwe. Wie daarom by die Geloftedag soos ’n sabbat hou, doen goed, maar wie dit ook in verband bring met die dag van die Here as weeklikse simbool van sy bevryding en fees en gemeenskap, doen beter.

’n Vol viering van Geloftedag beteken daarom noodwendig dat ons ook sal vra hoe ons ons lewens behoort in te rig sodat ons ook telkens tot rus en tot feestelikheid voor God kan kom. Laat ons dan met nuwe ywer soek hoe om saam met ons kinders in die weeklikse ritmes van rus en feestelike aanbidding te bly. Broeder en suster, die seën hiervan kan onmoontlik uitbly en een van die eerste tekens sal wees dat ons en ons kinders minder angstig en voller van liefde is. Dit bring ons reeds by die derde saak waaraan ons vaders hulleself verbind het: Om ons kinders en die opkomende geslagte daarin te laat deel. Ons sou die derde punt so kon formuleer:

  1. Geloftedag spreek van ons kinders se kinders se kinders in die uitsigpunt

Dit moet ons weet: Om ons kinders in die oorwinning oor die Bose te laat deel, is die hoogste voorreg, maar dit vra ook bewustelike, heerlike en harde werk. Dit vra onder meer dat ons werk daarvan sal maak om die bronne te herstel waaruit Geloftedag gevoed word. Anders gestel: Dit vra dat ons die wêreldbeskouing sal herstel waarbinne die Gelofte vir jou sin maak. Anders sal ons nie veel meer kan doen as om die doppie van Geloftedag een keer per jaar af te stof nie.

Want dit is wat gebeur wanneer die verlies van jou wêreldbeskouing, jou visie op die werklikheid as God se werklikheid, nie reggetrek word nie. Jy hou miskien vir ’n tyd lank nog vas aan die doppie van die Christelike en Westerse erfenis, en vir ons hier vandag sluit dit die viering van Geloftedag in, maar sonder die inhoud en die visie op die geheel, sal dit nie kan aanhou nie. Te veel Afrikaners het die Voortrekkers se visie op God en die werklikheid, soos geopenbaar in die Bybel, verloor en gebruik nou – bewus en onbewus – ander skemas, soos die besonder gewilde hiperindividualisme van ons dag, om sin te maak van die wêreld.[xvi] Maar hierdie skemas erken nie konsekwent die ware God en sy rigtinggewende Woord in die middelpunt nie, en kan nie ware en blywende rus en fees gee nie. Sulke skemas keer dikwels alles om. Goed word sleg en sleg word goed genoem, want dit is wat gebeur waar God en sy Woord nie in die sentrum erken word nie.[xvii] Een van die duidelikste tekens hiervan is dat mense wat hiervoor swig, mettertyd ook waardering vir die Gelofte en ons volksgeskiedenis verloor. Maar die Gelofte en die lewensvisie wat daarin veronderstel word, daag ons vandag uit om die vreemde magte en vreemde wêreldbeskouing teen te staan. Dit is vreemde magte en gode wat ons kinders leer om skaam te wees vir hul geskiedenis waarin God en sy Woord sentraal gestel is. Ja, ons en ons vaders is hierin ook maar sondige en gebroke mense, maar altyd was die gesindheid van ons vadere dat ons verder behoort te reformeer aan die hand van die Woord.

Broeders en susters, om ons kinders te laat deel in God se eer, vra dat ons daadwerklik aandag sal gee aan die lewensvisie waarmee hulle gekonfronteer word, met besondere verwysing na skoolkurrikulums. Ons sal mos nooit wanvoeding van ons kinders bevorder nie. Waarom sal ons dan terugsit wanneer ons kinders wanvoeding in kurrikulums ontvang? Dit is ouers se voorreg en dit vra offers, maar dit is heerlike en geseënde werk. Dit is verbondswerk!

Een van die aangrypende evangeliese liedere oor God se seën wat onlangs in Afrikaans vertaal is, sing dit vir ons toe: “Die Here seën jou, en bewaar jou, skyn sy aangesig oor jou,” en dat dit mag wees “oor jou kinders en hul kinders en hul kinders”.[xviii] Daarvan het ons vadere reeds gespreek in hul gelofte: “En dat ons vir ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel, tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.” Maar die gevaar is dat ons kan dink dat hierdie seën in die lug hang. Vriende, hierdie seën kan net ’n werklikheid word wanneer ons moeite doen om ons kinders in te lei in die lewensvisie (wêreldbeskouing) van ons gelowige vadere. Konkrete, weeklikse aanbiddingsfeeste waar die verbond met ons en ons kinders in Christus deur sy Woord en Gees vernuwe word, ook genoem eredienste, is die logiese en ritmiese beginpunt. So staan ons met dankbaarheid op die Voortrekkers se skouers om verder te bou. Ons is deel van die Voortrekkers se kinders se kinders se kinders wat geseënd bly voortleef aan die Suidpunt van Afrika.

Dit is wat so aangrypend hartseer is van Lot, die broerskind van Abraham, waarvan ons gelees het. Sy geskiedenis het deur sy keuse om ’n ander kurrikulum te akkommodeer, tragies geword, al is dit ook so dat hy later tog in die Nuwe Testament as regverdige getipeer is.[xix] Lot sien die omgewing se mooi dele in en om Sodom en Gomorra en gaan vestig hom daar toe Abraham aan hom die geleentheid gee. Ons lees dat dit gelyk het soos die tuin van Eden. Maar die geskiedenis wys dit was ’n na-aap Eden, ’n valse Eden, ’n valse hemel op aarde, want ons lees die mense daar was sleg en groot sondaars voor die Here.[xx] Lot en sy vrou leef deur die begeerlikheid van hul oë en hulle word betower en kyk vas teen die mooie van die hier en nou, maar hulle leef nie deur geloof in God se beloftes soos dit hoort nie. Daarom neem Lot se geskiedenis, sowel as die van sy nageslag, ’n tragiese wending.[xxi] Afrikaners sal hulleself moet vra of hulle wil hê dat hulle en hulle kinders meer soos Lot of meer soos Abraham sal optree. Lot slaan sy tente tot by Sodom op, maar van Abraham lees ons dat hy bo alles in God se beloftes rus en daaraan vashou en daaruit leef. Daarom kan hy altare selfs in die droër gebiede bou in die wete dat die hele land uiteindelik aan hom belowe is.[xxii]

Abraham bly dalk in die minder aanskoulike dele, maar hy is ook minder as Lot uitgelewer aan die versoekinge, die afgode en die filosofieë van Sodom. En let nou mooi op: Nie net in die geskiedenis en die ewigheid nie, maar ook in sy eie tyd, kan Abraham vir Lot en die nasies tot seën wees. Want ons lees reeds net in die volgende hoofstuk dat Abraham se huis vir Lot en ook ander volke red wanneer hulle weggevoer word. En nog ’n bietjie later tree hy selfs in vir hulle wanneer God se oordeel oor ’n goddelose samelewing losbars.[xxiii] Abraham is reeds in sy tyd ’n seën vir die nasies rondom hom en oor tyd heen sou daardie seën onmeetbare vlakke bereik met die versoening wat die Christus, wat uit sy nageslag gebore sou word, vir alle volke sou bring – ook die volke van Suid-Afrika. Dit is daarom ook die heerlike mikpunt en volheid van Geloftedag: God se eer en van daaruit seën vir die nasies.

Daarom vriende, laat ons eerder wandel in die voetspore van die vader van die gelowiges. Dit sal nie net vir jou en jou gesin en volk seën bring nie, maar ook vir die volke rondom jou. Wanneer nuwe werk en trekgeleenthede oor jou pad kom, kyk mooi of daar plekke en gemeenskappe van ware aanbidding is waar jy gaan en waar die omgewing nie vir jou nie, maar jy saam met ander kinders van God in sy krag, die omgewing verander omdat jy by ware aanbidding bly en daardeur ook werklik ’n seën vir ander is. Laat ons nie vaskyk en betower word deur mooi gebiede en werksaanbiedings, maar in die proses meegesleur word in die stille akkommodering van Sodom wat ook in ons tyd ’n werklikheid is nie. Wanneer ons ons kinders nie voluit inlei in die Gelofte en ’n visie op die werklikheid wat daardeur gevoed word nie, stel ons onsself en ons kinders in die posisie om soos Lot te raak – al hoe meer akkommoderend met die filosofieë van Sodom, totdat tragiese gevolge begin afspeel.

Ten slotte  

Vriende, dit is hoe ons wandel in die volheid van Geloftedag: Deur dwarsdeur die jaar aandag te gee aan aanbidding in die sentrum van ons lewens, rus en fees in die fondasies, en moeite met ons kinders in die uitsigpunt. Dit is hoe Geloftedag meer as net ’n doppie vir ons bly. Dit word voller wanneer ons onsself deur die Gelofte laat lei om in te skakel op ’n groter visie van aanbidding en rus en feestelikheid waarin ons ons kinders meeneem.

Dit is ’n samelewingsorde wat nie net sing van seën nie, maar seën beleef en ’n seën vir ander is. Dit is wat Afrikaners en Suid-Afrika nodig het. Ons het mense nodig wat nie net wag tot aanstaande jaar om die bladmusiek en kampstoele weer af te stof nie, maar elke dag meewerk aan die tipe samelewingsorde wat deur ons vadere in die Gelofte veronderstel is. En dan vandag te dank, te rus, fees te vier en toe te wy aan God. En ons kinders mee te trek. En hul kinders en hul kinders se kinders. Tot ons weer ontmoet en totdat die ewige rus juigend betree word. Amen.

 

[i] Let op: Die simboliese dimensie is onvermydelik ter sprake. Die probleem met die modernisme en postmodernisme is dat die simboliese dimensie nie in Christus en gebonde aan die Woord gedoen word nie, maar in diens van sogenaamd nuwe agendas en narratiewe. Vir die werkswyse hier, wat aansluit by die kerkvaders, kyk gerus na die volgende artikel: “Die vierperdewa” by http://www.standpunte.co.za/die-vierperdewa/

[ii] Luister gerus weer na die Geloftelied by https://www.youtube.com/watch?v=II7Z2ldgaR8

[iii] Vgl. Rom. 4:11.

[iv] Gén. 28.

[v]. Vgl. Joh. 1: 52; 2:20-21.

[vi]. Vgl. in hierdie verband die pas verskene publikasie van Douglas Wilson, Gashmu Saith It: How to Build Christian Communities that Save the World. Die volgende treffende woorde word gebruik om die werk te bemark: “Hierdie boek is vol wysheid: Kry eelte. Wees lojaal. Beveg sonde. Bou mure aan die buitekant en ‘n kerk in die middel.”

[vii] Vgl. Calvyn se kommentaar op Génesis.

[viii] Vgl. in hierdie verband die bekende stelling van die publieke teoloog, wyle Richard John Neuhaus: “Culture is the root of politics, and religion is the root of culture.”

[ix] Vir ’n goeie oorsig oor hoe die modernisme en postmodernisme dit wat in die sentrum was na die rand verskuif het en omgekeerd, luister gerus na Louis Markos se toeganklike bespreking hiervan in die Great Courses-reeks – From Plato to Post-modernism: Understanding the Essence of Literature and the Role of the Author.

[x] Hebr. 4:4. Dit is duidelik dat dit daar reeds die betekenis het van afhandeling, verlustiging en feestelikheid.

[xi] Hebr. 4:8.

[xii] Hebr. 4:9.

[xiii] Hebr. 4:11; 6:19-20; 10:19-22.

[xiv] Een van die mees aangehaalde frases van die ou Kerkvader, Augustinus, het ook hiermee te make. Hy het gesê dat God ons vir Homself gemaak het en dat ons harte onrustig is totdat ons rus vind in Hom. Ons vadere het dit in hul beendere aangevoel en ons voel dit steeds aan en dit kom in ons dag steeds uit in bekende uitdrukkings soos: raak net rustig, rustig, rustig. Of: Rus in vrede. Die wonderlike is dat Christene hierdie rus kan begrond: Jesus Christus het die werk van ons verlossing afgehandel en uitgeroep dat die versoening met God volbring is (vgl. Joh. 19:30). Hoe heerlik dat ons in Jesus Christus hierdie rus mag ken.

[xv] Vgl. die boeiende onderhoud met Sohrab Ahmari oor Sondag en ons metafisika by http://dagvreemdeling.blogspot.com/2021/07/sondag-en-metafisika.html.

[xvi] Vir ’n voorbeeld van hoe dit selfs op teologies-filosofiese vlak ook onder teoloë kan gebeur, vgl. Craig A. Carter se onlangse publikasie: Interpreting Scripture with the Great Tradition: Recovering the Genius of Premodern Exegesis. Carter stel onder meer die volgende: “This book tries to restore the delicate balance between biblical exegesis, trinitarian dogma, and theological metaphysics that was upset by the heretical, one-sided, narrow-minded movement that is misnamed “the Enlightenment.” It is an attempt to recover the pro-Nicene culture of the fourth century—to inhabit the tradition of Nicene orthodoxy in a substantial way and not just by mimicking certain vocabulary in superficial ways while actually operating as if the neopagan metaphysics of the Enlightenment were true.”

[xvii] Vgl. Jes. 5:20.

[xviii] Luister en kyk gerus na Retief Burger en Riana Nel se lied, “Die Seën”, by https://www.youtube.com/watch?v=0_TdJq2YGSg

[xix] 2 Petr. 2:7.

[xx] Vgl. Gén. 13:13. Vir ’n indruk van die aard van Sodom se sonde, kyk gerus na die kommentaar van Matthew Henry op Jes. 3:9. Dit gaan oor skaamteloosheid oor en oorgawe aan sonde (vgl. Ook Rom. 1:18-32; 2 Petr. 2:12-17). In ons taal gaan dit daaroor dat sonde genormaliseer en selfs verheerlik word. Die skokkende is dat die volk van die Here in Jesaja se tyd selfs Sodom en volk van Gomorra genoem kan word. Die wonder is dat juis aan sulke mense reinheid belowe word as hulle die saak met God uitmaak en dat jy wit soos sneeu kan word deur God se versoening. Wie egter nie gehoor gee nie, moet die gevolge dra. Vgl. Jes. 1:10-20 en 1 Kor. 6:11.

[xxi] Vir die afloop hiervan, lees Gén. 19.

[xxii] Gén. 13:14-17.

[xxiii] Vgl. Gén. 14 en 18.