Halleluja, loof die Here!

Halleluja, loof die Here!

“Mag slegs orrelbegeleiding in die kerkverband gebruik word?” is ’n vraag wat die afgelope tyd ’n paar keer op die Kommissie vir Kerkregtelike Sake (KKS) se tafel beland het. Mense is dan verbaas om te hoor dat daar geen sinodale besluite in die AP kerkverband is wat die orrel uitsonder as enigste instrument wat vir begeleiding gebruik mag word nie. Hulle besef ook nie dat ’n besluit om begeleiding tot een instrument te beperk in die lig van Psalm 150 se lys instrumente, onskriftuurlik sou wees nie.

Baie gereformeerde gemeentes beweeg tans weg van die orrel na klein klassieke kamerorkeste, of na die klavier, omdat goed opgeleide orreliste al hoe skaarser raak. Heelwat gemeentes het geen begeleiding nie en het a capella sang. As dit gaan oor ’n begronding vir die orrel dan is die feit dat die orrel meer as een instrument verteenwoordig en uitdrukking bied aan Psalm 150 se instrumente, sonder dat die kerkraad ’n hele orkes hoef aan te skaf. Dit beteken egter ook dat ’n vol orkes heel aanvaarbaar binne die gereformeerde verstaan van die erediens sal wees.

Kerkverband gaan onder andere oor ’n binding aan die Skrif en Belydenis op alle terreine van ons kerklike lewe. Daarom is dit elke ouderlingeraad se verantwoordelikheid om die inrigting van die gemeente se kerklike lewe aan die Skrif en Belydenis te toets. Wanneer jy bewus is van enige optrede in stryd met die Skrif en Belydenis is die aangewese weg tog dié van Matthéüs 18, om met die “oortreder” te gaan praat en uiteindelik selfs ’n klag daaroor by die betrokke ouderlingeraad te lê. Ons kan beslis nie toelaat dat dwaalleer en kettery binne die kerkverband hoogty vier nie. In so ’n klag sal duidelike grond aangewys moet word waar daar teen die Skrif en Belydenis oortree word.

Daar moet gewaak word teen twee uiterstes binne die AP Kerk. Die AP Kerk het doelbewus gekies teen sinodokrasie én independentisme. Die kerke in kerkverband het met mekaar ooreengekom dat die aanwysing van (’n) sangbundel(s) vir amptelike gebruik een van die werksaamhede van die sinode is (Art. 41). Wanneer ’n gemeente dus afwyk van die Psalms en Gesange vir die AP Kerk en begin om Halleluja-liedere of ander liedere tydens die erediens te sing, maak sy haarself skuldig aan independentisme. Sou die sinode besluite neem oor watter instrument ’n gemeente vir begeleiding moet gebruik, maak die sinode homself skuldig aan sinodokrasie en ’n oorskryding van sy bevoegdhede volgens Artikel 41 van die Kerkorde.

Saam voor die troon van God

Saam voor die troon van God

Mense het snaakse idees oor godsdiens en hoe om kerk van Christus te wees. Ek wou sê dat mense daarom sukkel om Christene te verstaan, maar dit sal nie korrek wees nie, want deesdae het baie “Christene” net sulke vreemde gedagtes daaroor. Soms wil dit vir my voel asof ék die een met die vreemde idees is.

Mense verstaan nie dat ek kan verlang na die gemeenskaplike aanbidding van God nie. “O nee, ek kan die Here net so goed in my huis aanbid.” Of: “Die kerk is maar net ’n gebou.” Of: “Maar ons het mos opnames wat uitgesaai word, jy het dan self ’n hele paar daarvan hanteer.” Om deel te wees van Christus se kerk gaan egter om soveel meer as om die Here in my binnekamer te aanbid of om saam met my gesin na ’n preek te luister. Ja, ek het ’n binnekamer. Ja, ons het ’n huisaltaar. Maar dit is nie al nie!

God het my en my huisgesin deel gemaak van ’n koninklike familie. Ons is deel van sy uitgesoekte priesterdom en Hy gee aan ons ’n boodskap om te verkondig. Hy maak ons deel van ’n plaaslike kerk waar ons mekaar se broeders en susters is. Een hegte familie wat saam aan ons Vader se voete stil word. Ons is nie ’n klomp losstaande individue nie, maar is organies aan mekaar verbind as die liggaam van Christus, wat ons Hoof is. Hoe kan iemand nie verstaan dat ek al my ledemate nodig het nie?

Dalk is jy ook een van die vreemdes wat daarna uitsien om op ’n Sondag saam ander gelowiges in gemeenskaplike aanbidding voor God stil te word. Al is jou plaaslike kerk hoe groot of hoe klein, as die Here in Gees en in waarheid aanbid word, is dit deel van die grootste geheimenisse in die heelal.

Want sien, die kerk is nie maar net ’n gebou nie. Die kerk is ook nie ’n organisasie nie. Die kerk is ’n familie wat saamkom. Dit is mense wat as lewende stene ’n organisme vorm wat vir hierdie wêreld onverstaanbaar is. Ons kan nie in ’n kliniese kategorie of ekonomiese sektor geplaas word nie. In elke kultuur lyk dit anders, soos wat die verskeidenheid van kulture tot eer van God omvorm word en die ligstraal in ’n kaleidoskoop van kleure soos deur ’n loodglasvenster skyn en die duisternis verdring.

Ons leef met ’n hoop op die ewigheid. Ons is nie bang om dood te gaan nie. Ons vrees niemand anders as God nie. Die Here het inderdaad van ons vreemde mense gemaak – vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde wat smag na ons hemelse vaderland.

Sensasie is geen plaasvervanger vir waarheid nie. Ope brief aan Deon Wiggett en die Sunday Times

Sensasie is geen plaasvervanger vir waarheid nie. Ope brief aan Deon Wiggett en die Sunday Times

Op Sondag 28 Mei publiseer die Sunday Times ’n meningstuk deur Deon Wiggett met die opskrif “Voortrekker Monument: ‘Golgotha’ that became reverend’s ‘preying ground’”.[1] Met die lees van die stuk was ek van vooraf teleurgesteld oor die vlak waartoe joernalistiek in Suid-Afrika gedaal het. Sensasiebehepte joernalistiek mag dalk koerante se leserstal ’n hupstoot gee, maar dit is nie ’n plaasvervanger vir waarheid en geloofwaardigheid nie. Dit is jammer poniekoerant-sensasie-joernalistiek die integriteit van gerespekteerde nuusagentskappe en mediahuise in gedrang bring. Ek verskil ten sterkste met die inhoud van die stuk en reageer graag op enkele aspekte daarvan, aangesien dit die ware feite gruwelik verdraai. 

Uit die meningstuk is dit duidelik dat meneer Wiggett “anti” sekere dinge is: anti-Afrikaner, anti-konserwatief, anti-patriargaal en anti-kerk. Uit die lees van die meningstuk kry ’n mens die indruk dat hy na ’n uitlaatklep vir sy frustrasie gesoek het – ’n geleentheid om hierdie anti-sentimente in ’n konkoksie saam te voeg waarin lesers iets van sy teleurstelling en weersin kon proe. Dit laat egter ’n bitter nasmaak van ongeloofwaardigheid. 

Lees ’n mens die stuk deur, is dit op die oog af duidelik dat daar wyer gekrap en gelees is op soek na inligting – dit is immers wat ’n mens van ’n ondersoekende joernalis sal verwag. Wat egter jammer is, is dat hy nie belanggestel het in inligting wat die feite van die saak kon bevestig al dan nie, maar dat hy eerder na inligting gesoek het wat sy eie mening, voorveronderstellings en wanpersepsies kon ondersteun. Ons almal is bekend met strooipopargumente. In hierdie artikel is die strooipoppe selfs duideliker as die Voortrekkermonument teen die blou hemel afgeëts. Die konserwatiewe Afrikaner, sy patriargale sisteme en kerklike instellings, word uit die staanspoor as bose strooipoppe geteken wat vir alles wat fout is in die samelewing, blameer word. Sonder om te blik of te bloos, word die AP Kerk as “verregs” geklassifiseer en die Afrikaner se Voortrekkervoorouers, as diewe wat daarop uit was om die Zoeloes se “land af te neem”. 

Ek glo dat iemand soos meneer Wiggett graag wil hê dat die waarheid moet seëvier – veral in ’n saak soos hierdie en omdat hy persoonlik al deur die trauma van molestering moes gaan. Dit is net jammer dat hy self kies om selektief met die waarheid om te gaan. Hoewel hy by ds. Johan Schütte, Direkteur van Kerkadministrasie van die AP Kerk, navraag oor die saak gedoen het, besluit hy om nie ’n woord van ds. Schütte se reaksie in sy meningstuk te publiseer nie.

In stede daarvan kies hy eerder om sekere uitsprake buite konteks aan te haal en slaag hy daarin om ’n verdraaide beeld van ’n historiese geleentheid soos die slag van Bloedrivier te skets en om die Afrikaanse Protestantse Kerk as verregs en ultra-reaksionêr te tipeer. Om dit te doen, is nie ’n kuns nie. Deur byvoorbeeld Christus se woorde selektief aan te haal en in ’n sekere volgorde in te span, kan selfs iets soos verkwisting en losbandigheid uit sy mond regverdig word: En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ’n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe (Lk. 15:13). Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so (Lk. 10:37). Konteks is belangrik. ’n Korrekte aanhaling sonder die korrekte konteks, verander waarheid in sensasie en plaas ’n demper op geloofwaardigheid. 

As meneer Wiggett die moeite gedoen het om eerlik met die feite om te gaan, sou hy dalk tot sy verbasing ontdek het dat die AP Kerk nie “anti” alles is nie, maar dat ons beslis vír sekere dinge staan. 

  • Ons staan vír waarheid en geregtigheid, maar nie vir ’n verdraaide of saamgeflansde weergawe daarvan nie. Indien dit aan die lig kom dat die aantygings teen ds. Swart en sy vrou inderdaad waar is, sal die kerk nie huiwer om, ooreenkomstig die Skrif, die nodige tugstappe toe te pas nie.
  • Ons staan egter nie net vir waarheid en geregtigheid nie, maar ook vír liefde. Daarom weet ons dat wanneer die waarheid in sensasie verander word, dit die geneigdheid het om uiters liefdeloos te wees en uiteindelik op boendoegeregtigheid uitloop – al is dit net in die vorm van ’n artikel soos dié van meneer Wiggett.
  • Ons staan vír lewe en gevolglik vír menswaardige optrede teenoor alle mense. Dit sluit beide die menswaardigheid van die vermeende slagoffer as die menswaardigheid van die vermeende oortreders in. Ons besef terdeë, en is dit daarin met meneer Wiggett eens, dat ’n kind vir ewig geskend kan word wanneer hy of sy die slagoffer van volwassenes se siek en perverse begeertes is, maar ons weet net so goed dat nie eens ’n uitspraak van “onskuldig” ’n brandmerk soos “seksuele roofdier” kan verwyder nie.
  • Ons staan vír die gesonde waardering van ons geskiedenis en simbole, soos die Voortrekkermonument, wat ons aan die groot dade van God in ons volk se geskiedenis herinner. 

Waarom staan ons vir hierdie dinge? Want, anders as die gevolgtrekking waartoe meneer Wiggett kom, is daar vir ons heiliger grond as die Voortrekkermonument. Dit is om elke dag voor die aangesig van die lewende, regverdige en alwetende God te leef wat die lewende en die dode sal oordeel!

[1] https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/insight/2023-05-28-voortrekker-monument-golgotha-that-became-reverends-preying-ground/

’n Uittog uit Egipte

’n Uittog uit Egipte

In die April 2022-uitgawe van Die Boodskapper het ek die vraag gevra: Is die naaste die skool die beste skool? Die belangrikste deel van die antwoord op hierdie vraag is of ons kinders se onderrig by ’n spesifieke skool geanker gaan wees in ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing of nie. Steeds het ek nie klarigheid oor die groot besluit wat in 2023 op ons wag nie.

Ons woon in Centurion en daar is nie ’n tekort aan om die hoek opsies ten opsigte van openbare en koste-effektiewe Afrikaansmediumlaerskole is nie. Afrikaans as onderrigtaal, alhoewel baie belangrik, is egter nie die enigste vereiste waaraan ’n skool vir ons kinders moet voldoen nie. Ons wil nie terug na die kospotte van Egipte nie. Ons is op soek na ’n skool met gelowige opvoeders, wat gehalte- en Skrifgefundeerde onderrig aan ons kinders oordra. Ons is ook op soek na ’n skool wat nie na die staat se pype rondom kwessies soos taalbeleid, gedragskodes, geslag en badkamers en seksuele onderrig hoef te dans nie. Dit klink nie na baie gevra nie, maar min skole in ons direkte omgewing voldoen aan al hierdie vereistes.

Tuisonderrig nie vir almal nie

In November 2022 het die gesprek oor tuisonderrig behoorlik vlam gevat. In ’n openbare skool word daar dikwels van onderwysers verwag om ’n vasgestelde kurrikulum en inhoud in ’n vasgestelde volgorde en teen ’n vasgestelde tempo volgens ’n vasgestelde manier aan alle kinders te onderrig. Met tuisonderrig kan ouers die materiaal en kurrikulum self kies en het volle beheer oor die lewens- en wêreldbeskouing wat gedurende “onderrig” by hul kinders gevestig word.

Tuisonderrig het die afgelope paar jaar ’n toenemend gewilde onderwysopsie geword. ’n Klompie gelowige ouers met wie ek gesels het, se rede hiervoor was eenvoudig: Hulle kan nie met ’n geruste hart hul kinders by ’n skool in hul omgewing aflaai nie.

Wat as daar ’n ander opsie is?

As ons nie tuisonderrig kan doen nie en daar is nie ’n onafhanklike skool in ons omgewing waar ons ons kinders met ’n geruste hart kan aflaai nie, is die oplossing eenvoudig: Bou ’n nuwe skool!

Die meeste ouers sien net die bestaande, uitnemende, Afrikaansmediumskole en ervaar nog nie ’n krisis met betrekking tot die toekoms van onderwys nie, maar hierdie skole is aan die afneem. Soos die padda in die lou water, is ons al gewoond aan die omstandighede in ons skole, maar die water gaan nog warmer word. Slegs 1 303 van die ongeveer 25 000 skole in die land was in 2020 nog Afrikaansenkelmediumskole – 15% minder as in 2012.[1] ’n Skrale 94 hiervan is onafhanklike skole met die nodige vryheid om hul geloof, taal en kultuur uit te leef.

Onafhanklike Christelike skole staan as bakens van hoop vir onderwys in Suid-Afrika, maar met ’n groeiende Afrikanerbevolking, is daar nie naastenby genoeg van hulle nie en die platteland trek die swaarste. “Een van die grootste vraagstukke vir ons gemeenskap is of ons kan verseker dat daar uitnemende onderwys vir die volgende geslag sal wees,” sê Dirk Hermann in ’n onlangse toespraak oor die toekoms van Christelike, Afrikaansonderwys buite die staat. Ek wil byvoeg: “ … in elke Afrikaanssprekende gemeenskap.”

Solidariteit Beweging het in Julie 2019 soos volg op die jongste bevolkingsberaming deur Statistieke Suid-Afrika reageer: “Die bevolkingsgroepe se werklike getalle is aan die toeneem. Dit beteken dat die Afrikanerbevolking meer gaan word, maar dat dit ook kleiner gaan word in vergelyking met die res van Suid-Afrika se bevolking. Daar gaan dus groter druk in die openbare sfeer op die Afrikaner wees, maar terselfdertyd meer mag en geleenthede in die private sfeer indien hierdie groep verder binne bepaalde geografiese gebiede konsentreer soos wat reeds die afgelope tyd die tendens is,”[2] aldus Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsingsinstituut.

Ons voorouers het nie uitnemende Afrikaansonderwys op  ’n skinkbord ontvang nie – hulle het dit “gebou” en aan ons nagelaat. Ons het ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat die derduisende Afrikaanssprekende kinders wat in die volgende jare onderrig moet ontvang, ’n veilige plek sal hê waar hulle sonder vrees Afrikaans, Afrikaner en Christen mag wees én gehalteonderrig ontvang.

Deelnemer eerder as toeskouer

Daar waar gemeenskappe die behoefte aan ’n nuwe skool raaksien, is hulle meestal huiwerig om sonder ’n “volledige pakkie” die groot stap te neem en net te begin. Daar word normaalweg op “iemand” gewag om ’n perfekte produk op die tafel te sit wat vinnig en goedkoop, groot en goed gaan wees. Wanneer het ons net afwagtende toeskouers en kommentators geword, eerder as deelnemers en bouers?

In 1920 het ’n klein groepie kinders in iemand se huis begin skoolgaan. Sewe jaar later het daardie skool geweldig gegroei en ’n nuwe terrein benodig. In 1929 was die skool so groot, dat hulle besluit het om die seuns en dogters in aparte geboue te huisves. In 2022 is daar ongeveer 2 500 leerders in beide hierdie skole: Afrikaans Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool.

In die 1990’s is die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys in die lewe geroep nadat ouers visionêr die belangrikheid van onderwys buite die staat raakgesien het. Die eerste onafhanklike en selfstandige CVO-skole is met ’n handjievol kinders en personeel begin. Vandag is daar 28 CVO-skole regoor die land wat hul eie kurrikuluminnovering gedoen het met onderrigpraktyke wat individuele aandag moontlik maak, kinders blootstel aan die samehang tussen dissiplines, ’n holistiese benadering tot onderrig en leer beklemtoon en ook ’n groot klomp kinders teen die ideologie van die staat beskerm.[3]

Die pioniers wat geslagte vooraf begin bou het, het nie met ’n maklike stap vir stap handleiding begin nie.

Gehalteonderrig is ononderhandelbaar!

Buiten om onderrig vir die volgende geslag te verseker, moet ons ook verseker dat ons dit in ’n beter toestand oorgee as wat ons dit ontvang het. Ons kan dus nie voortgaan soos daar die afgelope 200 jaar in onderwys gehandel is nie. Ons moet woeker met die nuutste navorsing om die ideale van verpersoonlikte leer, geïntegreerde onderrig en leer, spelgebaseerde leer, en vele meer (die einste voordele van tuisonderrig) ook in “tradisionele” skole moontlik te maak. Solidariteit Skoleondersteuningsentrum werk juis aan só ’n aangepaste onderrig- en leermodel wat kinders, opvoeders, ouers en gemeenskappe deelnemers eerder as toeskouers van onderwys maak.

Neem aksie en begin bou!

Wil ons ’n groot vis hê, maar net een klein dam? Of baie damme met baie groot visse? ’n Vis in ’n klein dam, bly klein. ’n Vis in ’n groot dam, word groter (so sê my pa). Ons moet die dam van onafhanklike Afrikaanssprekende Christelike skole vergroot en dan groot hou. Dit vat net 20 kinders, 3 opvoeders, ’n gemeenskap en ’n kerksaal om ’n skool te begin!

Dit is ons elkeen se plig om nie terug te verlang na die vleispotte van Egipte nie, maar ons skoene af te stof en ons jongmense na die Beloofde Land te lei.

[1] https://skole.co.za/afr-skole-verslag/ 

[2] https://beweging.co.za/afrikaner-gemeenskap-neem-toe-werk-nou-nodig/ 

[3] Dit is insiggewend dat die AP kerke sedert stigting deurlopend verbondsouers aanbeveel om hul kinders in CVO-skole te sit – red. 

Man wees in ’n ontmande wêreld

Man wees in ’n ontmande wêreld

Die bekende Amerikaanse YouTube-sensasie verbonde aan die Daily Wire, Matt Welsh, het onlangs ’n baie interessante dokumentêr vervaardig met die titel: What is ’n woman? In ’n wêreld waarin daar weens al die genderpolitiek groot verwarring heers oor wat nou regtig “vrou” is, is dit ’n baie relevante vraag. Die oomblik as jy egter hierdie vraag vra, dan dwing dit jou ook om te vra: Wat is ’n man? Hoe sal ons in ons dag ’n ware man definieer?

Wanneer ons om ons kyk en sien hoe die wêreld besig is om mans as’t ware te “ontman”, raak dit ’n baie dringende vraag waarop ons blykbaar nie altyd die antwoord ken nie. Aan “man wees” kleef daar deesdae net soveel melaatsheid as aan wit wees. Terminologie soos “toksiese manlikheid” word gebruik om tradisionele sienings van man wees te beskryf. Natuurlik is daar sekere uitdrukkings van manlikheid wat met reg as toksies of dalk eerder “sondig” beskryf kan word, maar die probleem is dat ook sekere goeie aspekte van die tradisionele verstaan van man wees, deesdae as “toksies” beskryf word. Dit sluit homofobiese of anti-feministiese gedrag, wat oënskynlik uit ’n sekere optrede af te lei is, in. Selfs iets soos ’n sterk persoonlikheid en die natuurlike geneigdheid om leiding te neem, word onder hierdie gemene deler geplaas.

Een van die redes waarom ons hierdie skeefgetrekte idees oor manlikheid kry, is omdat ons in ’n wêreld leef waarin feministe toegelaat word om, vanuit ’n posisie van absolute weersin en vyandigheid, te bepaal wie en wat ’n man behoort te wees. Patriargale sisteme en manlike hoofskap word só gekritiseer, dat ware manlikheid deesdae ’n baie vroulike, onderdanige en swak gestalte aangeneem het.

Dit skep natuurlik spanning, want daar is ’n natuurlike aanvoeling dat dinge nie reg is nie. In Novembermaand groei mans hul snorre en baarde as deel van ’n bewusmakingsveldtog vir manlike gesondheidsprobleme. Tog sien ’n mens deesdae baie meer mans met baarde rondloop. Dit mag dalk deur baie as ’n modegier beskryf word, maar dalk is dit ’n manier om weerstand te bied teen ’n samelewing waarin mans nie meer toegelaat word om mans te wees nie. Dit is ’n uitdrukking van onderdrukte frustrasie. Dit roep uit: Ek is anders, so laat my toe om anders te wees!

Die probleem is egter dat, buiten vir baarde en snorre, baie van ons nie meer weet wat dit is om waarlik ’n man te wees nie en sodoende in die hand speel van hulle wat krities oor man wees is. Ons dink om met kakieklere en wys-jou-vleis-broekies rond te loop, van ons manne maak. Ons dink om, daar waar niemand ons kan sien of kan hoor nie, ons vrouens te verneder of te verskree asof hulle blote voorwerpe is, van ons mans maak. Ons leer ons seuns dat ware man wees beteken dat jy voor jy uit matriek is, darem al saam met ’n meisie moes slaap. Hoe meer jy kan drink, hoe harder jy partytjie kan hou en hoe hoër onder die rok in jy kan praat, hoe “manliker” is jy. Partykeer gaan ons darem so ver as om te sê: As jy ’n goeie werk het of getroud is, dan is jy ’n man.

Ongelukkig werk die vroulike geslag se optrede hierdie verwarring dikwels in die hand. Die opkoms van feminisme en die gelykheidsbeweging wat eis dat mans en vroue gelykgestel word, lei daartoe dat al hoe meer meisies deesdae nie eintlik mans soek wat sterk leiding neem of standpunt inneem nie. Hulle wil nie “oordonder” word nie, maar in der waarheid wil hulle nie “gelei” word nie. Die wêreld het Adams nodig wat bereid is om vir Eva te sê om nie van die boom in die middel van die tuin se vrugte te eet nie. Helaas! Die wêreld soek Adams wat gedwee die verbode vrugte uit Eva se hand neem omdat hy nie haar gevoelens wil seermaak nie.

As gelowiges moet ons versigtig wees dat ons nie God se reg om ons te definieer aan die wêreld afstaan nie. Wat ons samelewing nodig het, is ’n manlikheid wat die heerlikheid van God, ons Vader weerspieël. In 1 Konings 2:2-3 gee Dawid sy laaste bevele aan Salomo kort voordat hy sterf:

Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ’n man; en onderhou die ordening van die Here jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe …

“Word ’n man,” is Dawid se opdrag. Die eerste afleiding wat ons maak, is dat volwassenheid nie noodwendig dieselfde is as om ’n man te wees nie. In dié opsig is daar baie seuns wat meer man is as baie volwasse mans. Dawid sit hierdie manlikheid uiteen:

Die eerste karaktereienskap van Bybelse manlikheid, is om sterk te wees. Dit gaan nie oor fisieke krag nie, maar ’n innerlike krag. Dit het te doen met standvastigheid, om te staan vir die dinge waarin jy glo en integriteit. Dit gaan daaroor om ferm te wees oor beginselsake en om die moed te hê om onder druk op te staan en te doen wat reg is. Dit sluit ook in om sterk te staan en jou nie deur jou vleeslike begeertes te laat oorheers nie.

Ironies genoeg gaan hierdie krag met ’n sekere soort swakheid gepaard – om swak te wees voor God en deur sy krag in Christus oorweldig te word. Sy krag word immers in ons swakheid volbring. ’n Ware man is dus swak voor God, maar sterk teenoor die wêreld. ’n Ware man weet sy krag lê nie in homself of sy eie vermoëns nie. ’n Ware man weet dat sy manlikheid nie bepaal word deur sy prestasies, sy geld, sy haarstyl of sy kleredrag nie, maar deur sy verbintenis aan Jesus Christus.

Die tweede karaktereienskap wat Dawid hier noem, is gehoorsaamheid aan God se wil soos wat Hy dit in sy Woord aan ons bekendmaak. Dit gaan gepaard daarmee om te staan vir wat reg is volgens God se Woord. Daarom hanteer ware mans vroue met respek en het hul eie vrouens lief, soos Christus die gemeente liefhet. ’n Ware man neem gehoorsaam sy verantwoordelikheid op om sy kinders in die vrese van die Here groot te maak. ’n Ware man sorg nie net materieel vir sy gesin nie, maar ook geestelik. ’n Ware man is self iemand van inbors en ’n voorbeeld van Godvresendheid, omdat hy hom neerbuig voor die Koning van alle konings.

’n Man is nie ’n man net omdat hy ’n snor of ’n baard het nie, maar omdat God hom so gemaak het. ’n Man is egter eers waarlik man in die volle sin van die woord, wanneer hy in nederigheid die HERE vrees.

Om te jag of nie te jag nie?

Om te jag of nie te jag nie?

Elke jagstorie het gewoonlik drie kante: Wat nie-jagters dink in die jagveld gebeur; wat anti-jagters verkondig wat in die jagveld gebeur en wat werklik in die jagveld gebeur.

Diereregteaktiviste is veral geneig om jag uit te beeld as die “moord” op en uitwissing van onskuldige “diertjies”. Jan Publiek word dan maklik aan die neus gelei deur hierdie wanvoorstellings en ken gewoonlik nie die waarheid agter die jagstorieversinsels nie. So word alle jagters oor dieselfde kam geskeer.

In alle beroepe en op alle vlakke van die samelewing is daar mense wat oneties, wreed of onverantwoordelik optree. Wanneer iemand in ’n bepaalde beroep skuldig bevind word aan ’n misdaad, beteken dit nie dat alle mense in daardie beroep aan dieselfde oortreding skuldig is nie. Ongelukkig is dit so dat sommige jagters oneties optree, maar dit beteken nie dat alle jagters aan onetiese jag skuldig is nie.

Jag is een van die oudste vorme van voedselvoorsiening. Reeds in die begin van die Bybel lees ons hoe Isak vir Esau aansê om … uit (te gaan) in die veld en (vir hom) ’n stuk wild (te jag) … (vgl. Gén. 27:3). Kritici van die jagbedryf sal antwoord dat dit in die moderne tyd nie meer nodig is om te jag om in voedselbehoeftes te voorsien nie. Hulle argument maak egter nie voorsiening vir die behoefte aan wildsvleis as proteïenryke bron van voedsel nie. Wildsbokke kan nie soos ander slagvee (beeste, skape, varke) bymekaargemaak en slagpale toe aangery word nie. Boere hou wild dus aan om in voedselbehoeftes te voorsien en soos enige ander boerderybedryf, moet dit ekonomies volhoubaar wees.

Oor die afgelope tyd het meer landbouers (weens verskeie uitdagings in die landboubedryf) tot die wildboerderybedryf toegetree, met die gevolg dat wildgetalle in Suid-Afrika aansienlik toegeneem het. Reeds in 2019 skryf Catherine Semcer dat die sowat 12 miljoen stuks wild wat op privaat plase in Suid-Afrika aangehou word, sowat twee keer meer is as al die wild wat in al Suid-Afrika se bewaringsgebiede voorkom.[1]

Gedurende ’n jagseisoen word nie al die wild in ’n kudde gejag nie. Oor die algemeen word die aanwas gejag, terwyl ’n teelgroep behou en selfs uitgebrei word. Indien wildboere nie meer kan staatmaak op jag as ’n deel of die totaal van hul boerderybedryf nie en hulle gedwing word om dit te staak, sal nie net hulle (ekonomiese) skade lei nie, maar sal dit ook ’n besliste negatiewe impak op wildgetalle in die land hê.

Die jagbedryf het ’n direkte invloed op werksgeleenthede en toerisme. Die bydrae uit die jagbedryf tot die Suid-Afrikaanse ekonomie, word op 12 miljard rand per jaar geraam.[2] Op ’n jagplaas is daar gidse, spoorsnyers en slagters. Hierdie mense en hul gesinne is afhanklik van die jagbedryf vir hulle daaglikse brood. Taksidermie, wapenhandelaars en klerewinkels baat direk by die jagbedryf, maar daar is ook ander besighede wat sekondêr daarby baat, soos vulstasies, supermarkte, biltongstalletjies, koöperasies, veevoermaatskappye en veeartse. Buitelandse jagters wat Suid-Afrika en ander Afrika-lande besoek, gebruik dit as ’n geleentheid om ook ander besienswaardighede te besoek, met die gevolg dat die toerismebedryf in al sy sektore daarby baat.

Die skiet van jakkalse, rooikatte, ystervarke en vlakvarke het in die verlede al hewige reaksie uitgelok. Hierdie diere word gewoonlik voorgestel as die “onskuldige slagoffers” van jagters se brutaliteit. Dorps- en stadsbewoners is gewoonlik nie bewus van die skade wat hierdie diere op plase aanrig nie. Die volgende voorbeelde behoort lig op die saak te werp: (1) Wanneer ’n jakkalsteef of rooikatwyfie haar kleintjies leer jag, kan daar in een nag vyf tot agt skaaplammers doodgebyt word, sonder dat die karkasse opgevreet word. Een dagoud lam wat doodgebyt word, sou ná vier maande as slaglam vir minste R1 500 verkoop kon word. As teelooi sou sy tussen 8-10 lammers in haar leeftyd kon lewer; (2) die wreedheid waarmee ’n jakkals ’n koei begin vreet terwyl sy sukkel om te kalf, word deur diereregteaktiviste as “deel van die natuur” afgemaak. Die boer moet maar tevrede wees met die verlies aan ’n koei en ’n kalf wat saam sowat R25 000 werd is, asook toekomstige verliese weens hul vrekte; (3) ystervarke byt waterpype stukkend, wat veroorsaak dat vee sonder water gelaat word; (4) vlakvarke breek kampdrade oop, wat veroorsaak dat jakkalse toegang kry tot kampe waar jong lammers aangehou word. Hulle beskadig waterkrippe en dolwe die veld om, sodat natuurlike weiding skade ly. Genoemde diere het nie verniet die versamelnaam “probleemdiere” of “ongediertes” gekry nie. Hulle is onwelkom op plase en word geskiet as gevolg van die groot skade wat hulle aanrig.

Dit is maklik om vanuit die gemakstoel in jou huis die boere te kritiseer, omdat hulle hierdie diere skiet. Dit sou anders weer as die kritici aan die ontvangkant van die skade was. Gaan hulle ’n dief wat by hulle inbreek, hulle eiendom vernietig en hulle besittings steel ook as ’n “arme, onskuldige slagoffer” beskryf? Of gaan hulle daardie dief laat vang en vir sy dade laat boet? Ongelukkig is dit nie moontlik om jakkalse, rooikatte, vlakvarke en ystervarke te vang, in ’n inrigting te sit en te rehabiliteer nie. Hulle is ongediertes wat skade aanrig en deur die eeue heen gejag is in ’n poging om die skade wat hulle aanrig, te beperk.

Wanneer ’n kerk of enige ander organisasie ’n kompetisie reël waartydens mense aangemoedig word om probleemdiere te jag, is dit nie asof iets anders as die normale gedoen word om die probleem te hanteer nie. Die probleemdiere of ongediertes sou in elk geval gejag moes word. Deur ’n kompetisie uit te skryf, samel die kerk of organisasie fondse in, maar is dit ook ’n poging om van diere ontslae te raak wat groot skade in ’n gemeenskap aanrig – veral daardie diere wat nie natuurlike predatore in ’n beskermde omgewing soos ’n omheinde plaas het nie.

Daar is sekere misdade teen diere wat gereeld in Suid-Afrika gepleeg word, maar wat geen aandag in die media of op verskillende platforms in die sosiale media kry nie. Georganiseerde groepe in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Noord-Wes reël onwettige “jaggeleenthede”, waar tot honderd honde gebruik word om bokke en ander wild te jag en te vang. Honderde duisende rande se weddenskappe is ter sprake. Hierdie “jagters” en hul honde betree plase onwettig en dood die gestroopte wild op van die wreedste moontlike maniere. Die polisie en diereregteaktiviste trek hul skouers op en steur hulle nie aan oproepe om hulp nie. In sommige gebiede is dit so erg dat wildboere nie meer met wild kan boer nie.

Die ironie is dat kerke en organisasies gekritiseer word oor kompetisies wat amptelik gereël word, waarby die eienaars van die plase betrek word en waar aan alle wetlike voorskrifte voldoen word. Tog word daar nie ’n woord gerep oor onwettige, onetiese en wrede “jagpraktyke” van jagsindikate nie. Die wildboerdery- en jagbedryf, met sy verantwoordelike jagters, voeg waarde by tot die landsekonomie en die handhawing van gunstige wildgetalle, terwyl “hondejagters” slegs enkelinge bevoordeel, onwettige dobbel bevorder en boere van hulle plase verdryf.

’n Verantwoordelike jagter het geen begeerte om ’n bok, ’n jakkals of ’n vlakvark te mishandel of te laat ly nie. Hy wil met die beste korrel moontlik, die beste skoot moontlik aftrek, om die genadigste dood moontlik te verseker. ’n Verantwoordelike, etiese jagter skiet om twee redes: vir die pot en weens probleemdiere!

[1] https://www.perc.org/2019/07/18/the-role-of-hunting-in-conserving-african-wildlife/ 

[2] https://www.netwerk24.com/netwerk24/promosie/geborg/jagbedryf-staan-sterk-te-midde-van-uitdagings-20210826