Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Bennie van Zyl[1]

Een van die groot gevare in die lewe is dat ‘n mens dinge later as vanselfsprekend aanvaar. Afhangende van sosiale omstandighede, sal dit van persoon tot persoon verskil. Vir sommige, wat elke dag drie maal per dag kos op die tafel het, kan dit later maklik as ’n gegewe aanvaar word. Diegene wat nie die voorreg van gereelde voedselbeskikbaarheid het nie, sal anders na voedsel kyk, sou dit wel beskikbaar wees.

Die samelewing waarbinne ons tans funksioneer, het ’n baie sterk fokus op menseregte begin plaas. Selfs in ons land se grondwet word daar ’n verskeidenheid van regte gevestig, vervat in ‘n handves van menseregte. Veel eerder moet ons ‘n samelewing hê wat die fokus plaas op rekenskap geanker in ons Christelike geloof, met die besef dat ons elkeen uit genade alleen deur die soenverdienste van Jesus Christus gered is. Daarom moet ons in die eerste plek ’n dankbaarheidslewe tot eer van die drie-enige God lei.

Die aanloop tot die verkiesing bring uiteenlopende verwagtinge na vore. Die omvang van politieke partye se beloftes neem sodanige afmetings aan dat van die sterkste ekonomiese lande ter wêreld nie eers oor die kapasiteit beskik om al daardie beloftes te laat realiseer nie. Suid-Afrika is oor 30 jaar met ’n bepaalde beleidsbenadering getransformeer tot waar ons vandag worstel om deur die mislukte instellings, wat oor tyd heen geskep is, ’n toekoms te bou. Beloftes dat dinge nou omgedraai gaan word, verg egter kundigheid en die proses van kaderontplooiing is in baie gevalle juis die oorsaak van die mislukte instellings. Indien dieselfde “kundigheid” wat die probleem veroorsaak het, dit nou moet oplos, kan die probleme dalk net groter word.

Daar is deur die jare bepaalde waardes gevestig wat eie is (was) aan ons volk. Net so het ander volkere ook eiesoortige waardes wat hul fondament en bestaansrede beklemtoon. Wedersydse respek en begrip vir die andersheid behoort die vertrekpunt in die onderlinge skakeling te wees. Die hartseer is dat Suid-Afrika oor die laaste aantal jare gebombardeer is met ’n stel waardes wat die verskeidenheid misken en afbreek en dan poog om dit te vervang met sterk sosialistiese en kommunistiese beskouinge. Iewers gaan mense ’n versadigingspunt bereik oor die skending van hul menswees en waardes en dan gaan rûe styfgemaak word.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid, soos dit die laaste 30 jaar ontvou het, is vir die meerderheid mense, ongeag die bevolkingsgroep wat hulle verteenwoordig, nie gunstig nie. Misdaad, werkloosheid en die gepaardgaande armoede is niks om op trots te wees nie. Die onrealistiese beleidsomgewing skep gewis nie vertroue nie en die gevolge is ’n land wat teen ’n redelik vinnige spoed degenereer.

Diegene wat in geloof die toekoms tegemoet gaan, welwetende dat ons elke dag van ons lewe ons kultuuropdrag uitleef, deins nie terug vir wat die dag van môre inhou nie. Dit is inderdaad nie iemand se keuse of die kultuuropdrag uitgeleef word of nie. Ons is elke dag besig om kultuur te skep, wat breedweg gesien kan word as die somtotaal van die mens se handelinge. Dit is wel ’n keuse oor hoe ons dit doen. Die vraag wat elkeen dus self moet beantwoord, is: Bou ek, of breek ek?

In hierdie selfgemaakte chaostyd moet ons gaan soek na daardie aspekte wat stabiliteit teweegbring. Dit verg van ons keuse en optrede:

  1. Ons moet vashou aan ons begronde waardes en nie daarvan afwyk nie. Dit bring vertroue vir die toekoms, want ons weet dat ons reeds oorwinnaars is deur Jesus Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het.
  2. Ons het elkeen ongelooflike talente ontvang wat reuseverskille kan maak indien ons dit positief aanwend. Ons moet dit nastreef met die doel om uitnemend en suksesvol te wees in alles wat ons doen.
  3. Ons ingesteldheid jeens en hantering van die werklikhede van die dag maak saak. Beklemtoon die probleme, maar soek positief en kreatief, sonder ophou, na oplossings. Negatiwiteit is ‘n haarbreedte ver van handdoek ingooi.
  4. Ons naam is ‘n kosbare aardse besitting. Wanneer dit eers “weggegooi” is, word dit bitter moeilik om dit, indien ooit, “skoon” terug te kry. Wanneer ons kies of besluit, moet ons ons integriteit behou en so ons naam beskerm.
  5. Ons is nie alleen op hierdie aarde nie. Hoe werk ons met ander mense, veral wanneer ons van hulle verskil? Die Bybelse werkswyse is welbekend aan ons. Gee ons ag op daardie onderwysings, of volg ons kortpad en skree Raka! voor die voet? Agterna kan daar dalk verskoning aangebied word, maar die skade sal bly.
  6. Ons leef in ‘n land waar werkloosheid en armoede seëvier. Daarom sal ons moet bou aan suksesvolle besighede wat hierdie euwels kan help hokslaan. ‘n Onrealistiese beleidsomgewing skep onsekerheid by beleggers en daarom behoort ekonomiese groei ‘n noodsaaklike fokus te wees. Elke beleidsbesluit moet geweeg word aan die impak daarvan op beleggersvertroue. Dit is dan wat ‘n mens sien hoe kortsigtig ’n beleid van onteiening sonder vergoeding, vervat in wetgewing, is.
  7. Ons produserende kommersiële boere, wat kos voorsien aan onder andere Suid-Afrikaners waarvan ongeveer 68% verstedelik is, is een van die grootste bates waaroor die land kan beskik. Landbou het vanjaar uiterste omstandighede ervaar wat vele boerdery-eenhede onder groot kontantvloeidruk geplaas het. Kos op die tafel is seersekerlik die grootste stabiliseerder in ons land. Neem dit weg en wie weet wat kan gebeur …
  8. Ons leef in ‘n gedestabiliseerde omgewing – die gevolg van die huidige beleidsomgewing. Dit bring mee dat oplossings nie gevind sal kan word solank daar na die regering gekyk word nie. Daar sal dus selfstandige oplossings buite die regering gevind moet word.
  9. Ons leef in ‘n land wat deur misdaad geteister word. Uiteenlopende sienings bestaan oor veiligheidstoestande in aanloop tot en ná afloop van die verkiesing. Die verkiesing se potensiaal vir probleme lyk inderdaad nie anders as wat tans reeds in die praktyk ervaar word nie. Daarom behoort alle beskikbare kapasiteit, van al die rolspelers gesamentlik, aangewend te word om gemeenskapsveiligheidsplanne op te stel. Verskeie insette van verskillende organisasies is beskikbaar en die beste voorstelle, waar van toepassing, moet benut word.

Vertroue en kennis is die fondament waarop besluite geneem behoort te word. Daarmee saam moet dit beginselgedrewe wees, want dít is wat standhou. Fokus dus op daardie begronding waarin geglo word, met die nodige respek vir ander beskouinge, sonder om die knie te buig tot ondergang van die eie waardes.

_____________

[1] Hoofbestuurder, TLU SA.

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Dr. Adi Schlebusch[1] 

Die konflik tussen die Joodse en Palestynse volke in die Midde-Ooste duur al langer as die meeste van ons se leeftyd. Die oorspronge van hierdie konflik lê baie diep in die geskiedenis, maar die hedendaagse oorlog tussen die Jode en Palestyne kan eintlik direk teruggevoer word na ʼn plan wat in 1947 deur die Verenigde Nasies (VN) aanvaar is. Daarvolgens moes daar in hierdie gebied, wat tot op daardie stadium as Palestina bekend gestaan het, twee onafhanklike volkstate gestig word. Jerusalem en omliggende gebiede sou ʼn spesiale internasionale sone word. Alhoewel daar ook aan Joodse kant ontevredenheid was, is die plan summier deur die Palestyne verwerp. Die dag nadat die VN die plan aanvaar het, het oorlog uitgebreek en die konflik het sedertdien nog nooit werklik opgehou nie. Vir lang tye het daar wel ʼn wapenstilstand gegeld, maar die laaste een is op 7 Oktober 2023 beeïndig toe die terreurorganisasie, Hamas, skielik die grens tussen Israel en Gaza oorgesteek en Israel aangeval het. Sedertdien woed daar weer ʼn volskaalse oorlog waarin bykans 30 000 mense reeds dood is.

ʼn Vraag wat natuurlik dikwels onder veral gelowige Afrikaners ontstaan, is hoe ons onsself ten opsigte van hierdie konflik, wat vir die afgelope paar maande die wêreldnuus oorheers, moet posisioneer. Wanneer ons wêreldbeskouing deur die Bybel gevorm word, is ons natuurlik geneig om onsself op ʼn besondere wyse verbonde tot die land Israel te sien. Dit is trouens die land wat die Here self aan die Ou Testamentiese volk Israel, ná die uittog uit Egipte, gegee het op grond van sy belofte aan Abraham. En dit is immers die land waar Jesus talle wonderwerke verrig en uit die dood uit opgestaan het. Dit is ook daarom dat ons amper instinktief die huidige konflik in die lig van die Skrif probeer beskou en veral die profesieë aangaande die tydperk tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Soos die apostels in Handelinge 1:6, worstel gelowiges dikwels met die rol wat die Jode as verbondsvolk in hierdie huidige bedeling speel.

Wanneer ons as gelowiges met komplekse kwessies soos hierdie worstel en na ʼn Bybelse antwoord vra, is dit belangrik om te onthou dat ons die Skrif as ʼn geheel moet beskou –  een samehangende openbaring van die onveranderlike raadsplan van God. Dit dwing ons tot die beginsel van analogia scripturae,  die standpunt dat teksverse in die Bybel verklaar moet word in die lig van die boodskap van die Bybel as geheel. Hierdie beginsel is wesenlik belangrik vir die regte verstaan van die betekenis van die Beloofde Land en ou Israel as die volk van God met betrekking tot die nuwe verbond waarin ons leef.

Die Bybel noem Israel die volk van God (vgl. Ex. 6:7; Deut. 27:9; Jer. 11:4). Dit is duidelik dat daar in hierdie verse van ʼn fisiese volk gepraat word. In Romeine 9:24-25 lees ons egter dat God nou sy volk versamel vanuit beide die Joodse en nie-Joodse volke. Verder leer Titus 2:14 dat diegene wat deur Christus verlos is, God se volk is. Hierdie geestelike volk van God word dan ook in 1 Petrus 2:9 beskyf as … ’n heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Hierdie geestelike volk van God, die Nuwe Testamentiese Israel, bestaan uit alle volke wat ooreenkomstig die groot sendingopdrag van Matthéüs 28:19 tot dissipels van Jesus Christus gemaak is. Die realiteit van ʼn geestelike Israel bestaande uit ʼn verskeidenheid volke, word dan ook uitdruklik in tekste soos Openbaring 7:9 en 11:15 bevestig. Laasgenoemde teks beklemtoon dat al die koninkryke van die wêreld die eiendom van Jesus Christus word. Wanneer die evangelie oor die hele wêreld uitgaan, word die hele wêreld in ʼn sin die “beloofde land”. In Psalm 37:12 en Matthéüs 5:5 word God se belofte van ʼn grondgebied vir verbondsgehoorsaamheid immers op die hele aarde van toepassing gemaak. Romeine 4:13 verwys dan ook in soveel woorde na die verbondsbelofte van die Beloofde Land aan Abraham as … die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees.

In die nuwe verbond is die hele wêreld die beloofde land en is God se uitverkore volk nie ʼn enkele etniese groep of volk nie, maar ʼn geestelike volk wat deur die band van geloof in Christus deur sy Gees verenig is (vgl. Rom. 9:6-13). Daarom sou geen volk op aarde, hetsy die Jode of die Palestyne of die Afrikaners of die Amerikaners, aanspraak daarop kon maak dat hulle op die een of ander unieke wyse God se uitverkore volk is nie. Wanneer ons dan die konflik tussen die Jode en Palestyne in die lig van die Skrif beskou, behels dit geensins blote vooroordeel teen ʼn Arabiese volk ten gunste van die volk waaruit Jesus gebore is nie. Nee, ons moet dit meer objektief beskou as ʼn stryd tussen twee volke wat beide geroep word om hulleself aan die heerskappy van die Koning van alle konings en volke, Jesus Christus, te onderwerp. Hamas se terreurdade behoort daarom verwerp te word nie omdat die Palestynse volk as sodanig vyande van God se volk sou wees nie, maar omdat hierdie organisasie onskuldige mense, wat na die beeld van God geskape is, vermoor. En alhoewel Hamas ʼn verwerplike terroriste-organisasie is, moet ons altyd onthou dat daar gelowige kinders van die Here onder beide die Joodse en Palestynse volk is.

Wanneer ons die konflik in Israel en Gaza in die lig van die Bybelse beginsels van geregtigheid en naasteliefde beskou, kan ons nie anders as om voorstanders van die totstandkoming en internasionale erkenning van twee soewereine volkstate te wees nie: ʼn Palestynse staat en ʼn Joodse staat. Dit sal die heel beste oplossing wees om vrede in die streek te bewerkstellig en menselewens te spaar. Laat ons daarom nie meegesleur word deur allerhande eindtydprofesieë in die lig van die tragiese gebeurtenisse aldaar nie. Laat ons eerder, wanneer dit kom by ons posisionering ten opsigte van die Joods-Palestynse konflik, onsself sonder skroom by die vredemakers skaar (vgl. Mt. 5:9).

[1] Navorser by die Department Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Lidmaat van die APK Lichtenburg.

Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

* Met hierdie artikel gee ons erkenning aan die AP Akademie, waar hierdie artikel oorspronklik verskyn het:
https://www.apa.ac.za/bela-wet-doodsklok-vir-afrikaanse-openbare-skole/

BELA-wet: Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole? 

Op 27 September skryf die uitvoerende hoof van FEDSAS[1] dr Jaco Deacon in Maroela Media[2]: “Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds ʼn lang pad vir die BELA-wetsontwerp is voordat dit ʼn wet sal wees. Daar is ook min tyd vir die parlement om dit te finaliseer voor die volgende algemene verkiesing. Politici is ook deeglik bewus van verskillende partye wat regsaksie oorweeg indien die wetsontwerp ʼn wet word.”

BELA staan vir “Basic Education Laws Amendment”. Dr Deacon verduidelik dat onder BELA die finale besluit oor ʼn openbare skool se taalmedium by die provinsiale departementshoof van onderwys berus. Groter beperking op tuisskool-opsies is ook deel van BELA. Of BELA deur verkiesingsuitslae of hofgedinge gestuit sal word, en of BELA uiteindelik die doodsklok[3] vir Afrikaanse openbare skole word, is ʼn ope vraag.

Net ʼn maand later op 27 Oktober haal BELA weer die nuus[4]:

  • “Die omstrede BELA-wetsontwerp is vandag… aanvaar in die Nasionale Vergadering”
  • “Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, … voeg by dat die ANC duidelik die wetsontwerp probeer stoomroller deur al die prosesse om dit voor die verkiesing van 2024 geïmplementeer te kry, … [en] herinner dat die wetsontwerp ook nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word, voordat dit aan die president vir ondertekening voorgelê kan word. Eers daarna sal dit geïmplementeer kan word.”
  • “Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê… as… die wet… deur die president bekragtig word, staan Solidariteit reeds reg… om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg.”

Die voortgaande betrokkenheid van soveel Afrikaners in openbare skole te midde van die groot bekommernis oor BELA, dui miskien aan dat in sommige gevalle ons die klok hoor lui, maar nie weet waar die bel hang nie.[5] Menige Afrikaanse ouers verkies steeds om hul kinders in Afrikaansmedium openbare skole te plaas waar leerplanne in veral geskiedenis en lewensoriëntering gevolg word wat nie die Afrikaner of sy Christelike geloof goedgesind is nie (selfs waar ʼn Afrikaanse Christelike etos nominaal geld). Die erfenis ( — families wat oor meerdere geslagte in dieselfde skool was), gehalte sportafrigting, akademiese uitkomste, geografiese gerief en bekostigbaarheid lyk anekdoties belangrike faktore in die besluitneming te wees, maar ʼn gebrek aan bewussyn van die aard van die leerplanne speel sekerlik ook ʼn rol. Miskien is die rugbaarheid van Afrikaanse Christelike privaatonderwys of die wenslikheid en doenbaarheid van tuisskoling steeds nie voldoende voor oë nie.

Anders gestel, die opeenvolgende keerwalle wat bestaan in die weg van ʼn oorstroming teen Afrikaanse Christelike openbare onderwys, soos Christelike waardes, gebalanseerde oog op die eie geskiedenis, en Afrikaans as die onderwysmedium, blyk van tydelike en onvaste aard te wees. Met die ineenstorting van elke keerwal, is die druk op die volgende keerwal soveel groter.

Die gevaar bestaan dat Afrikaanse openbare skole in die toekoms onder BELA gedwing sal kan word om na Engelsmedium oor te slaan, sodat die aanslag teen die Christelike geloof en die Afrikaner eerder in meer gevalle in Engels kan geskied. Ouers wat reeds soveel in die openbare skole moes aanvaar, gaan na die lang uitgerekte proses wat nog gaan volg voor implementering, moontlik maar uiteindelik Engelsmedium hoe onwillig ook verdra. Dit is ʼn proses wat tot ʼn groot mate reeds by universiteite voltrek is, alhoewel die beskikbare skat van Christelike Afrikaansmedium privaat hoër onderwysinstansies toenemend deur studente en hul ouers aangegryp word.

Die internasionale akademiese konsensus oor die noodsaak van moedertaalonderrig bly tydig vir ouers en studente om van kennis te neem, naamlik dat die onderrig van kinders mees suksesvol is wanneer dit geskied in die taal wat die kind die beste verstaan. Boonop is die verlies van ʼn taal se hoërfunksies (soos op skool en in die akademie), tot so ʼn mate nadelig vir die gangbaarheid van die taal, dat dit ʼn bose siklus bewerkstellig wat die kind se geleenthede om later in die omgewing buite sy ouerhuis te gedy ernstig kan kniehalter. Die lang lys van beroemde suksesverhale van diegene wat in Afrikaans op beide skool en universiteit onderrig ontvang het, en later in die buiteland leiers op uiteenlopende vakgebiede geword het, is steeds ter sake.

ʼn Ander uitkoms kan wees dat taalmedium die laaste strooi word wat die kameel se rug breek[6], sodat ʼn uittog na Afrikaanse Christelike privaatskole plaasvind (soos dié onder die banier van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys[7]), of dat groter pogings deur ouers aangewend word om die ideaal van tuisskoling te verwesenlik in sover dit onder BELA nog moontlik gaan wees.

In so ʼn geval  is dit belangrik dat voldoende Afrikaanse Christelike onderwysers beskikbaar is om in die onderwysbehoeftes van Afrikaners te voldoen, sou ʼn ommekeer tog plaasvind. Die Afrikaanse Protestantse Akademie (https://www.apa.ac.za/) met sy klassiek-Christelike benadering en Afrikaans as onderrig- en taalmedium in ʼn kombinasie van akademiese programme van afstandsgebaseerde BA of kontakstudie BSocSci, met ʼn afstandsgedrewe Nagraadse Onderwys-Sertifikaat (NGOS) is goed geplaas in hierdie opsig.

foto
Stadsbeiaardier Kenneth Theunissen en die beiaard in die Belfort van Gent, Vlaandere.
klokke

Die [Klok]Luiers van Launcells-Toring deur Frederick Smallfield (1887), in die Koninklike Museum Cornwallis. Foto deur die Koninklike Instelling Cornwallis.

Hierdeur werk ons mee as beiaardiers[8] en klokluiers[9] om nie net die probleemstelling nie, maar ook die oplossing rakende die godsdienstige, etiese en kulturele noodsaak van Afrikaanse Christelike privaatonderwys aan die groot klok te hang[10], en ʼn bydrae daartoe te lewer dat volksgenote beide die klok hoor lui en weet waar die bel hang: hulself wend tot Afrikaanse Christelike privaatonderwys, met of sonder BELA.

Artikel deur Josef du Toit geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-12-06. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

____________________________

[1] Nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole.

[2] https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/bela-is-die-koeel-deur-die-kerk-vir-onderwys/.

[3] Dit was voorheen die gebruik om ʼn kerkklok, die doodsklok, te lui by sterwe en begrafnis. So lees mens vandag nog wanneer iets tot ʼn einde kom dat die doodsklok daarvoor lui.

[4] https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bela-wetsontwerp-in-parlement-aanvaar/.

[5] Om die klok te hoor lui, maar nie te weet waar die bel hang nie, is om van iets te weet sonder om die besonderhede te ken.

[6] Die laaste strooi wat die kameel se rug breek, is die nuutste in ʼn reeks onaangename of ongewenste gebeurtenisse sodat ʼn krisis ontstaan wat die slagoffer knak.

[7] https://www.bcvo.co.za/.

[8] Die beiaard (kariljon/klokkespel) bestaan uit kerkklokke verbind aan ʼn klawerbord wat deur ʼn beiaardier (kariljoneur/klokkenis) met die vuis gespeel word (sowel as pedale), en kan ook ʼn outomatiese speelmeganisme hê.

[9] Anders as die beiaard, bestaan daar ook kerkklokke waarvan elke klok sy eie tou het. ʼn Stel kerkklokke word dan deur ʼn stel klokluiers gelui.

[10] Om iets aan die groot klok te hang, beteken om dit bekend te maak.

Spreek met integriteit, luister met onderskeiding

Spreek met integriteit, luister met onderskeiding

Meningsvormers kan beskryf word as mense in die samelewing wat weens hulle invloed en statuur, die vermoë het om die samelewing se mening oor sake te beïnvloed. Dit is mense wie se woorde gewig dra en wat deur gewone mense vertrou word. As ons oor meningsvormers dink, kom daar gewoonlik sekere individue se name by ons op, maar daar is ook sekere beroepe wat as meningsvormend geklassifiseer kan word. Een so ’n groep is die media, of dan joernaliste. Dit kan nie wees nie, mag ons dalk dink, want is hulle nie veronderstel om slegs die feite weer te gee nie? Dit mag dalk ons verwagting wees, maar die werklikheid is dat geen verslaggewing neutraal is nie. Die wyse waarop inligting oorgedra word, speel ’n belangrike rol in die openbare mening. Dink maar net aan al die verskillende maniere waarop daar oor Israel se oorlog teen Hamas verslag gelewer word. Die wat pro-Israel is, sal doelbewus hulle woorde só kies dat Hamas se terroristiese karakter benadruk word, terwyl die wat anti-Israel is, dalk na hulle as vryheidsvegters sal verwys.

Mediahuise maak gewoonlik groot gewag daarvan dat hulle polities of godsdienstig neutraal is. Ongelukkig is daar nie iets soos absolute neutraliteit nie, want ons leef in ’n gevalle wêreld. Partykeer is dit dus net beter as ’n mediahuis sy vooroordele en posisie uit die staanspoor duidelik maak, want dan weet ’n mens wat om te verwag en om nie teleurgesteld te wees as daar nie aan jou verwagtinge voldoen word in die wyse waarop hulle verslag lewer nie. So weet ons byvoorbeeld teen hierdie tyd dat die liberale media altyd sal probeer om die mislukkings van die ANC-regering so goed as moontlik te laat lyk, in plaas daarvan om eerlik daaroor te wees en dit by die naam te noem. Dit getuig van ’n bepaalde invalshoek en is ’n manier om die openbare mening positief te beïnvloed, maar dit is nie eerlik nie.

’n Mens is daarom ook dankbaar vir mediahuise, radiostasies en sosiale media-kanale wat nie skaam is om hulle Christelike onderbou en invalshoek te erken nie. Van hulle verwag ’n mens iets anders as van ander sogenaamde “neutrale mediahuise”, maar wat in werklikheid nie so neutraal is nie. ’n Mens verwag ’n Christelike perspektief en ’n soort geloofwaardigheid wat jy nie by ander mediahuise sal aantref nie. Jy verwag sekere woordkeuses en uitdrukkings; jy verwag ’n minder polities-korrekte aanslag en ’n meer God-verheerlikende wyse van verslagdoening. Jy verwag programinhoud en liedjiekeuses wat nie Christelike waardes en beginsels weerspreek of doelbewus afbreek nie. Dit beteken nie dat elke berig ’n Christelike boodskap bevat nie, maar wel dat verslaggewing sal getuig van ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing.

Gelowiges wat in hierdie beroepe staan, het ’n groot verantwoordelikheid op hul skouers. Dit is om geloofwaardig te wees, maar op ’n wyse wat God eer. Dit lê soms in die klein dingetjies soos in die keuse van ’n woord. Jy verwag byvoorbeeld nie om in ’n artikel van so ’n mediahuis te lees van die eerste “transgendervrou” wat aan ’n Mej. Heelal-kompetisie deelneem nie. Jy mag redeneer dat jy slegs die feite weergee, maar om bloot die feite weer te gee, is nie noodwendig die waarheid nie. God het immers die mens man en vrou geskape en ’n transgendervrou is niks anders as ’n man wat sy Godgegewe identiteit minag nie. Jy verwag nie om in nuusberigte deur so ’n mediahuis of radiostasie te lees of te hoor van “rowers” wat boere op hulle plase vermoor het nie. Net omdat hulle motief roof was, beteken nie ek hoef die wreedheid van hulle optrede te versag deur hulle karakters as moordenaars te ontken nie. Die oomblik wanneer hulle iemand vermoor het, is hulle nie net meer rowers nie, hulle is dan moordenaars. Jy verwag nie om in sulke nuusblaaie te lees dat die “rugbygode” oor die Springbokke geglimlag het sodat hulle kon wen nie, want daar is net een, ware God.

As gelowige meningsvormers behoort ons skerper te formuleer, maar as gelowige hoorders behoort ons ook fyner te luister sodat ons die subtekste kan onderskei. Laat ons dus bid vir hulle wat deur God geroep is om deur die joernalistiek die rol van ’n meningsvormer te vertolk. Op hulle skouers rus ’n groot verantwoordelikheid. Mag die Here elkeen wat in daardie posisie geplaas is, deur sy Gees begenadig sodat Paulus se woorde in Filippense 4:8 die wyse sal beïnvloed waarop hulle hul roeping uitleef: Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

In Suid-Afrika is die Afrikaanse taal ’n warm onderwerp. Dit word dikwels verpolitiseer en gebruik om die gebruikers daarvan te etiketteer en om gemeenskappe te polariseer. Om Afrikaans te wees het deesdae net so ’n muishondreuk as om blank te wees. Dit beïnvloed selfs geloofsgemeenskappe se gebruik daarvan, sodat sinodes dikwels vir ure lank debatteer oor watter taal as voertaal tydens die vergadering gebruik moet word.

In ’n onlangse artikel op Maroela Media[1], word berig oor ’n byeenkoms van die Afrikaanse Taalraad (ATR) waartydens kommer uitgespreek is oor die afskaffing en verskraling van die gebruik van Afrikaans in kerke. Verskeie voorbeelde is genoem van kerke wat ter wille van groter inklusiwiteit gekies het om eerder Engels as voertaal te gebruik. Die basiese standpunt is dat die meeste mense Engels verstaan en dat dit daarom sin maak om eerder alles in Engels te doen, sodat soveel mense as moontlik met die evangelie bereik kan word.

Tydens die ATR se bespreking, het dr. Braam Hanekom dit benadruk dat die verkondiging van die evangelie die kerk se eerste taak is en nie ’n taal nie. Carel Boshoff van die Vryheidstigting het by hom aangesluit en gesê dat dit nie ’n geloofsgemeenskap se werk is om taalaktiviste te wees nie.

Hoewel beide hierdie stellings tegnies korrek is, het dit potensiaal om verkeerd vertolk te word, aangesien dit mense tot die gevolgtrekking lei dat taal geensins vir gelowiges en die kerk belangrik hoef te wees nie. In sommige gevalle sal die standpunt selfs gehandhaaf word dat gelowiges bereid moet wees om hul taal ter wille van die evangelie prys te gee. Dit is ongelukkig die uitgangspunt van daardie kerke wat Engels as voertaal ter wille van inklusiwiteit kies. Taal word as’t ware teenoor die verkondiging van die evangelie opgestel asof dit ’n belemmering daarvoor is. Daar word geredeneer dat enige iets wat die verkondiging van die evangelie verhoed en mense uitsluit, uit die weg geruim moet word.

Die gevolge is egter dikwels ’n verarming en selfs ’n ontneming van mense se geestesgoedere. Dr. Hendrik Thys van die ATR het na voorbeelde verwys van kerke waar die meerderheid gelowiges Afrikaanssprekend was, maar daar toe gekies is om na Engels as voertaal oor te slaan ter wille daarvan om ’n klein minderheid wat nie-Afrikaans verstaan nie, in te sluit. So ’n besluit word dikwels as ’n “liefdesdaad” geprys, maar ’n mens kan nie help om te wonder of dit nie eerder liefdeloos is nie. Ter wille van ’n klein minderheid, is daar van die meerderheid verwag om hul geestesgoedere prys te gee. Die gevolg is dat baie van die lidmate nie meer kerk toe kom nie, sê Thys, omdat hulle gewoon net nie die preke in Engels verstaan nie.

Hoe moet gelowiges dan oor taal dink? Handelinge 2 help ons hiermee wanneer ons van die uitstorting van die Heilige Gees lees. Weens die Romeinse oorheersing, was Grieks op daardie tydstip die lingua franca. Bykans almal in die Romeinse ryk kon dit praat en verstaan. Dit sou dus sin gemaak het indien die kerk besluit het om Grieks as voertaal te gebruik. Dit sou die meeste mense “ingesluit” het en dit sou die effektiwiteit van verspreiding van die evangelie drasties verhoog het – so sou ons vanuit ons huidige konteks redeneer. Tog is die teendeel waar. Toe die Gees uitgestort is, het die apostels die evangelie in verskillende tale begin verkondig. Mense was verbaas, want hulle het die evangelie gehoor in die taal waarin hulle gebore is.

Hierdie gebeure bevestig ’n sekere waarheid wat die kerk nie ter wille van politiese korrektheid of inklusiwiteit durf ignoreer nie. Op ’n bonatuurlike wyse het God self die tale en diversiteit van sy kinders geheilig. Dit beteken dat Hy geestesgoedere, soos taal (en kultuur), afgesonder het sodat dit gebruik kan word om Hom daarmee te verheerlik. Dit is die voertuig waardeur die evangelie van genade aan mense gebring word op ’n wyse wat hulle harte aangryp sodat hulle in lofsange oor die groot dade van God kan uitbreek. Was God liefdeloos toe Hy elkeen op Pinkstersondag die evangelie in hulle eie taal laat hoor het? Was dit liefdeloos van Hom toe die Kretense nie die apostel verstaan het wat die evangelie in Arabies verkondig het nie? Het hulle uitgesluit gevoel?

Natuurlik behoort taal nie die kernbesigheid van die kerk te wees nie, maar as ’n geheiligde gawe behoort die kerk ook nie traak-my-nie-agtig sy skouers daaroor op te trek nie. As God ons geestesgoedere geheilig en in sy diens gestel het, wie is ons om te besluit dit is onbenullig? Aan die kerk was daar nog altyd ’n eendersheid en ’n andersheid net soos wat daar in die Drie-eenheid is – drie Persone, maar een Wese; duidelik onderskeibaar en uniek en tog een. Die twee sluit mekaar nie uit nie, maar onderstreep juis die uniekheid van die kerk van Jesus Christus waarin eendersheid (eenheid) deur die Heilige Gees bewerk word, sonder dat van gelowiges verwag word om hul andersheid (diversiteit) prys te gee.

God hou nie daarvan dat sy lof net op een deuntjie uitgetokkel word nie. In Ps. 96:7 gee Hy opdrag dat die geslagte van die volke aan die HERE eer en sterkte moet gee, terwyl Christus self die kerk beveel om dissipels van al die nasies te maak (vgl. Mt. 28:19). God se heerlikheid is soos ’n diamant wat vanuit verskillende hoeke (volke, tale, kulture) belig word, sodat die heerlikheid daarvan toeneem namate die ligstrale wat daarop val, meer word. As ons meer in lyn met die Skrif oor ons geestesgoedere en die gebruik daarvan in die kerk begin dink, sal dit nie nodig wees om bekommerd te wees oor Afrikaans (of Xhosa, of Sotho, of Zoeloe, of …) as geloofstaal nie. Die ewige God se lof sal immers tot in ewigheid vanuit verskeie monde en in verskillende tale weerklink wanneer die vrygekooptes, soos Openbaring 5:9 leer, uit elke stam en taal en volk en nasie ’n nuwe lied tot eer van die Lam sal sing.

[1] https://maroelamedia.co.za/nuus/kommer-oor-afrikaans-as-geloofstaal/

Die kerk en die markplein het mánne nodig

Die kerk en die markplein het mánne nodig

Deur ds. Diederich Kleynhans[1]

In sy artikel “Nine Attributes of a Real Man”[2] vertel Vince Miller hoe hy sonder ’n pa grootgeword het en gevolglik nie iemand gehad het om hom oor ware en gesonde manlikheid te leer nie. Sy soeke na antwoorde op sy diepste vrae het Hom na God én na die Skrif gedryf. Hier het hy sy antwoorde gekry, vervulling gevind en geleer wat seunskap beteken.

Die wêreld se vals manlikheid

Miller skryf verder dat ‘n duidelike en presiese definisie van manlikheid nie by die wêreld te vinde is nie. Selfs die vermaaklikheidswêreld faal, want sý voorbeelde van die sogenaamde regte man is manne soos die chauvinistiese rokjagter James Bond; of die onverstoorbaar-taai en emosioneel-afgetrokke Jason Bourne; of die gierige en magsugtige Gordon Gekko (Wall Street).

Meer onlangs sou ons dalk selfs die seksbehepte vrouehater en miljardêr Christian Grey (Fifty Shades of Grey) by hierdie lys name kon voeg. Telkens sal ons moet bieg dat nóg die gay Suid-Afrikaanse modeontwerper Rich Mnisi[3] met sy Pride-vroueswembroek (vertoon deur ‘n man), óf die rokgeklede Harry Styles[4] op Vogue se voorblad; nóg die transgenderbeïnvloeder Dylan Mulvaney[5] van die Bud Light-advertensieveldtog, óf enige van die ander macho Hollywood-manne die Bybelse definisie van manlikheid gestand doen!

“Manlikheid na God se hart”

Hierteenoor gee die Bybel die regte perspektief op manlikheid, meen Isaac Khalil.[6] ’n Perspektief wat deur die voorbeelde van gewone, sondige manne se verhale (bv. Dawid se verhaal) as raamwerk vir “manlikheid na God se hart” dien. Die Bybel gee vele prototipes van manlikheid, maar bevat ook talle heenwysings na manlike kenmerke waaruit ons ’n Bybelse definisie van manlikheid kan formuleer.

In die Ou Testament lees ons van ‘n getroue Noag, ‘n toegewyde Abraham en ‘n nederige Moses. Josua was opreg en Simson was sterk. Samuel was die toonbeeld van ’n profetiese leier. Salomo was wys en Daniël het besonderse insig en onderskeidingsvermoë gehad. God het hierdie manne gekies, geroep en toegerus. Hy het hulle gebruik en by hulle kan ons leer. Ja, ook by die talle manne in die Nuwe Testament: Johannes, Petrus, Paulus – lewende boustene in die tempel van God.

“Daar heers ’n skryende hunkering in die kerk na manne om weer mán te wees,” skryf Richard D Phillips in sy boek The Masculine Mandate, “omdat die kompeterende ideologieë van die kulturele tydsgees en die vals dogmas van liberale kerke die krisis (ook ‘n samelewingskrisis) ignoreer en selfs aanhits.” Hierdie verwarring aan die een kant en blatante wanvoorstellings aan die ander kant, noop die kerk om deur ’n reformatories-teologiese lens vir leidrade na die Skrif te draai (so ‘n bietjie ruggraat te wys) en dán tot die gesprek toe te tree, mét antwoorde.

Die Bybel is duidelik oor die eienskappe wat manne nie net in hul huise en families, gemeentes en (geloofs)gemeenskappe moet openbaar nie, maar ook moet aanwend op die markplein en in die publieke sfeer – eienskappe van manwees wat húlle gevorm het en waarop die volgende generasie moet voortbou.

Selfopofferende leierskap

Vanuit die staanspoor begrond die Bybel die eerste eienskap, selfopofferende leierskap, in navolging van Goddelike leierskap. Die man se mandaat vloei voort uit God se opdrag aan Adam: Heers oor … die skepping … as Mý verteenwoordiger (vgl. Gén. 1:26). In hierdie besonderse posisie, uniek geskape na God se beeld, word die man geroep en aangestel om met dapperheid, wysheid, insig en medelye te lei! Die Here Jesus gee self die voorbeeld van Bybelse leierskap ten opsigte van die huwelik (sy liefde vir sy bruid, die kerk) en wil dat Christenmanne Hom hierin navolg.

Dit is nié: wrede oorheersing of diktatoriale magsvergrype nie! Dit ís: verantwoordelike, selfopofferende, dienende liefde in gehoorsaamheid aan God. As vóór-loper moet die man aanmoedig, inspireer, lei; altyd soekend na die wil van God. By kruispaaie moet hý die een wees wat verantwoordelikheid neem en dan bereid wees om die gevolge te dra – soos ‘n toegewyde Abraham.

Dapper nederigheid

Nederigheid is beslis nie ‘n term wat die wêreld sal gebruik om manlikheid te beskryf nie. Vanuit ’n Bybelse perspektief is dit egter ‘n sleutelaspek van “manlikheid na God se hart”. Die moderne samelewing se “Amerikaanse droom” en Instagram- en TikTok-viering van die eie-ek, het daartoe gelei dat arrogansie en selfverheerliking as ’n vorm van deugsaamheid geprys word. Mag, krag en sterkte het die antagoniste van nederigheid geword.

Die status van nederigheid is gevolglik degradeer tot ’n “kruk”, of selfs ’n “kenteken van swakheid”. Bybelse manlikheid kyk en lyk egter anders as dit kom by nederigheid en dít wat nederigheid doen. Moses, dapper leier van God se volk, … was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem (Núm. 12:3). Hy is die een wat in die aangesig van die Allerhoogste, wanneer die toorn van die HERE teen die volk wil ontvlam, keer op keer tussen God en sy volk gaan staan het; die een wat stotterend die paleis van Farao ingaan en telkens eis: Laat my volk trek … Dapper, manlike nederigheid is nie gelyk aan “trap maar op my nie”, maar is vinnig om te vergewe en stadig om kwaad te word, én bowenal, bereid en gereed om te dien!

Wyse selfbeheersing

Wanneer manne in nederigheid opstaan en vóór stap (agter Jesus aan, waar dit ook al mag wees), moet hul gedagtes, woorde en dade in lyn met God se wil wees. In toegewydheid en met dissipline, eerlik en opreg, moet eers “na binne” gekyk word. Daarna volg die wandel en handel na buite in sý kerk, sý koninkryk. Hy beloof om in ons daaglikse en mees basiese behoeftes te voorsien en ons moet tevrede daarmee saamleef. Dit beteken natuurlik nie dat ons nie met ’n gesonde mate van ambisie en entoesiasme kan streef na groei en verbetering nie.

In ons mees intieme verhoudings ontdek ons dikwels die waarde en vreugde van selfbeheersing die meeste – wanneer ons ander (baie gereeld selfs ons eie kinders en eggenote) se belange en behoeftes bo ons eie stel en beleef hoe hulle floreer in geleenthede waaruit ons, deur selfbeheersing, teruggetree het. Dan weet ons: Ek verloor niks deur aan ander ’n tikkie sonskyn te gun nie.

Versorgende beskerming

Die voorreg om te beskerm en te versorg, veral ten opsigte van die veiligheid en welstand van ander, is by uitstek ‘n eienskap van Bybelse manlikheid. Die wêreld gee hier ook ‘n vals betekenis aan die konsep van versorging, want tradisioneel is ons gekondisioneer om aan die term “versorging” die beeld van ’n moeder te heg, terwyl die Vader vir Homself hierdie voorreg toe-eien: … hoe dikwels wou Eksoos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak… (Mt. 23:37). En: Soos ’n arend …  sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra (Deut. 32:11).

Versorging en beskerming strek egter veel verder as die liggaamlike! Dit sluit die psigiese, emosionele en geestelike welstand en ontwikkeling van ons naaste in. As mans móét ons natuurlik ons vrouens liefhê en versorg, bewaar en beskerm – soos Christus sy kerk liefhet. Maar hierdie versorgende beskerming kring ook uit na die res van die skepping waaroor ons rentmeesters is.

Hoe ver strek hierdie verantwoordelikheid? Ons plig is om ’n veilige omgewing te skep waarbinne selfs die mees weerlose mens kan ontwikkel om sy/haar Skepper te leer ken, te dien, te eer. In hierdie verband kan ons nie help om te vra nie: Waar is manne se stemme van protes wanneer aborsiesyfers die hoogte in skiet? Waarom swyg hulle?

Allesomvattende voorsiening

Laastens is voorsiening een van die besonderse deugde van Bybelse manlikheid, wat ook deur die sekulêre tydsgees onder ‘n wanvoorstelling gebring is. Hierdie eienskap word deur die wêreld gereduseer tot finansiële kapasiteit en geldelike vermoëns. Bybelse voorsiening impliseer natuurlik ook materiële middele en potensiaal, maar is geensins daartoe beperk nie!

Allesomvattende voorsiening is meer as net die beursie vir gesin, vriend, geliefde en naaste. Dit is die stem wat ondersteun op die sportveld; die inspirerende woord voor ’n groot eksamenvraestel; die gebedstem knielend langs ’n kind voor slapenstyd; die boodskap wat hoor of ’n vriend nog veilig is. Dit is die man wat die anker in die stormwaters van sy vrou se depressie is; die man met die oop hand wat die werklose buurman om die braaivleisvuur op ‘n skaapribbetjie trakteer.

En hierdie manne gee, omdat hulle weet hoeveel hulle ontvang het; hulle doen, omdat hulle weet hoeveel hulle in die skuld is; hulle dien, omdat hulle die Dienskneg aan die kruis kén, liefhet en wil verheerlik. Hy, die tweede Adam; die vlekkelose, sondelose, Beeld van God, in perfekte gehoorsaamheid; as waaragtige God én ware mens – Hóm wil Bybelse manne naleef!

[1] Leraar van die NG Kerk Secunda-Goedehoop.

[2] https://www.desiringgod.org/articles/nine-attributes-of-a-real-man

[3] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[4] https://www.vogue.com/article/harry-styles-cover-december-2020

[5] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[6] https://lifehopeandtruth.com/life/blog/biblical-masculinity-becoming-a-man-after-gods-own-heart/