Hoe soek ons ‘n toekoms?

Hoe soek ons ‘n toekoms?

Suid-Afrika se huidige omstandighede is ongetwyfeld baie onseker ná die onlangse verkiesing. Ongeveer 66% kiesers het vir ‘n ideologie gestem wat welvaart as ‘n reg beskou. Die oorblywende kiesers het partye ondersteun wat erken dat welvaart deur harde werk geskep moet word in ‘n omgewing waar sekere ekonomiese beginsels geld.

Dit is wêreldwyd bekend dat welvaart geskep word in omgewings waar privaat besitreg en ‘n markgerigte ekonomie die grondslag van die ekonomiese stelsel vorm. Die gesentraliseerde sosialistiese stelsel met ‘n bietjie kommunistiese invloed wat ons die afgelope 30 jaar ervaar het, het tot die vinnige agteruitgang van bestaande instellings en infrastruktuur gelei.

Die opkoms van nasionalisme in Europa is duidelik besig om toe te neem. Die waarde om te behoort en deel te wees van mense wat jou lewens- en wêreldbeskouing deel, kan gesien word as die sterkste benadering om harmonie en vrede vir almal te skep. Dit is ‘n verskynsel wat wêreldwyd weer opkom.

Die ontwikkeling van Suid-Afrika tot waar dit vandag staan, is die gevolg van uiteenlopende kulture wat onder normale omstandighede onversoenbaar sou wees, maar gedwing is om binne een landsgrens ‘n oplossing vir die toekoms te probeer vind. Suid-Afrika het ‘n verskeidenheid volkere binne ons landsgrense, elk met ‘n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing. Hierdie kulturele verskille het oor eeue heen die onderskeidende kenmerke van elke volk beklemtoon en uitgebou.

Kulturele verskille beteken nie dat een kultuur beter as ‘n ander is nie, maar eerder dat hulle verskillend is en dat elke volk respek vir die ander se sienings moet hê. Elke individu behoort oortuig te wees dat hul eie kultuurgroepering vir hulle die beste is, want dit is hul eie. Hierdie kultuurontplooiing is nie iets wat net gaan verdwyn nie en elke volk het sy eie gebruike, tradisies en gewoontes wat hulle van ander onderskei. Die manier waarop elke individu deur sy ouers grootgemaak word, lê die grondslag vir sy of haar identifikasie met hul eie mense. Oor die afgelope jare het bewindhebbers deurlopend probeer om hierdie kulturele grense tot niet te maak. Die onlangse verkiesing het egter gewys dat kulturele verbintenisse steeds sterk is.

Die opvoeding en onderrig van die jeug is van kardinale belang om die toekoms inhoud te gee. Die kurrikulum van die onderrigstelsel bevat die ideologiese vitamiene wat die skrywers nastreef en wat die jeug in daardie bepaalde ideologiese rigting sal rig. Is dít wat ons jeug vandag leer, die grondslag wat ons vir ons volk se toekoms wil hê? Wanneer daar gesê word dat die kurrikulum uitgewerk is om vir die jeug sosialisme te leer, moet Christen-Afrikanerouers ernstig kennis neem en ernstig besin oor die doopbelofte wat afgelê is en hoe ons dit in die praktyk laat vergestalt.

Die Afrikaner het sy ontstaan te danke aan die samevoeging van hoofsaaklik Nederlanders, Franse en Duitsers, wat elkeen ‘n vaste geloofsbasis met hulle saamgebring het. Die Calvinistiese, Protestantse en gereformeerde beskouing van hul geloof, om God Drie-enig op daardie wyse te dien, was die grondslag met die ontstaan van die Afrikanervolk. Die waarheid van die Woord van God was deurentyd die fondament wat bepaal het wat reg en verkeerd is. Sedert die ontstaan was die vryheidsdrang ingebed in die dryfkrag om ‘n eie unieke volk te wees. Indien ‘n volk nie die drang het om eiesoortig ‘n volk in eie reg te wees nie, kan hulle nie daarop aanspraak maak om ‘n volk te wees nie.

Het ons as Afrikanervolk by die punt gekom dat ons die vraag wat dr. DF Malan in 1949 by die inwyding van die Voortrekkermonument gevra het, naamlik: “Afrikaner – Quo Vadis, waar gaan jy heen?” vandag anders wil antwoord as waarmee ons grootgeword het? Ons antwoord was nog altyd: “Staan dan stil en draai terug:  terug na u volk;  terug na u volk se hoogste ideale;  terug na die pand wat aan u toevertrou is om te bewaar;  terug na die volksaltaar waarop u u offers moet lê, en as dit van u vereis word, ook uself as offerhande;  terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe;  terug na u Christelike wandel;  terug na u Christelike geloof;  terug na u kerk; terug na u God!”

Die Afrikanervolk het in sy ontwikkeling ‘n driehoek tussen huisgesin, skool en kerk gehad waar die sement van inbinding by al drie plekke die fondament in die opvoedingsproses was, naamlik die begrip “Christelik-Nasionaal”. Die verhouding tot ons Skepper het die rigting en grondslag bepaal vir die waardes wat rondom die begrip “nasionaal” gevestig is.

Die vraag kan tereg gevra word: Wat is die sement wat die Afrikaner vandag bind? Waar ons opgegroei het deur Jesus Christus in die middelpunt te plaas en ‘n lewe van dankbaarheid tot eer van God te lei, het ons grootliks vandag die mens in die middelpunt geplaas en maak ons keuses wat die mens moet tevrede stel.

Suid-Afrika, soos dit tans funksioneer, is ‘n werklikheid met ‘n ineengestrengelde ekonomie wat ‘n sterk sosialistiese onderbou vanuit die beleidsomgewing ervaar. Dit beteken egter nie dat hierdie huidige model vir altyd ons toekoms hoef te wees nie. Entrepreneurs wat volgens Westerse kriteria welvaart skep deur verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar, en dan as werkgewers gaan werk en geleenthede skep vir werknemers om ‘n bestaan te maak, is hoe die ekonomie funksioneer.

Waar laat al hierdie werklikhede ons elkeen? Ons moet: 

  1. Die Quo Vadis-vraag beantwoord en die keuse maak oor hoe ons die toekoms sien. Indien die stroom van humanisme en die “laat gaan” van die waardes waarmee ons grootgeword het die keuse is, wees eerlik daaroor en leef met die gevolge saam.
  2. Bou aan hoë ideale vir die toekoms, indien dit die keuse is, sodat ons nageslag ook in die tye wat kom met trots na óns geslag as bouers, en nie as brekers nie, kan verwys.
  3. Uitnemend wees in ons beroepe, studies en aktiwiteite deur ons talente wat in genade ontvang is, optimaal te benut. Streef daarna om die beste te wees.
  4. Trots wees op ons kultuur en ons wonderskone taal en dit suiwer gebruik waar ons daagliks in ons omgang met mekaar as kultuurdraers aan ’n nalatenskap werk.
  5. Ons kultuuropdrag uitleef soos ons dit vanuit die Woord van God ontvang en kies om daagliks volgens God se verordeninge te bou.
  6. Hoogmoed vermy en nederig en dankbaar wees vir al die seëninge wat ons daagliks ontvang.
  7. Elke dag ons bydrae tot die uitbouing van ons volk se ideale evalueer en selfgesentreerdheid en afbrekendheid teenoor ander volksgenote vermy.
  8. Trots wees op die volkshelde wat ons tot hier gebring het en ook op elke stukkie van ons trotse geskiedenis. Die mooi daarvan moet ons in ons eie optrede rig.
  9. Nuwe geslagte die wonder van ekonomiese stabiliteit gun deur realistiese ekonomiese groei na te streef. Dit gaan ’n gesonde beleidsomgewing verg wat vertroue inboesem, misdaad hokslaan en ’n regering wat die nodige omgewing skep waarbinne suksesvolle besighede kan funksioneer.
  10. Bowenal onthou dat ons rentmeesters is en dat ons moet vashou aan die waarheid van die Woord as ons enigste rigsnoer. 

Ons moet bid en werk met oortuiging om ons kant te bring en sodoende as instrumente in sy hande die toekoms rig. Met ’n positiewe ingesteldheid en daadkrag kan ons ons kultuuropdrag uitleef en ons toekoms verseker.

God is die Albeskikker van volke en nasies se lotgevalle – ook die Afrikanervolk s’n. Ons moet bid asof werk nie help nie, en werk asof bid nie help nie. Dit is wat ons toekoms vorm!

Om in Rome te wees sonder om ’n Romein te word

Om in Rome te wees sonder om ’n Romein te word

Aan die begin van die jaar maak Shaun Christie, senior student aan die Noordwes-Universiteit, opslae toe hy geskors is omdat hy kapsie gemaak het teen die LGBTQIA+-inhoud van ’n oriënteringsessie vir eerstejaarstudente. Hy betoog dat Christenstudente nie ’n veilige ruimte het om oor Christenskap te praat nie, terwyl gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word. Dit is maar net een voorbeeld van Christenstudente se toenemende isolasie en marginalisering op universiteitskampusse.

Die gemene deler van die tradisioneel Afrikaanse universiteite in Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom is dat hulle almal rondom teologiese skole ontstaan het. ’n Christelike onderbou met ’n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing was die “moederfondasie” van hierdie instellings. Vandag word teologiese fakulteite by hierdie instellings herbenoem om ruimte te maak vir ander godsdienstige oortuigings as eweknieë vir die Christelike godsdiens. Die tersiêre wêreld het verander. Jerusalem lyk nou soos Rome. Die tempel is vernietig en in die plek daarvan verrys, soos prof. Gerrit Smit dit later in hierdie uitgawe noem, ’n “multiversiteit” van afgodstempels waaruit verskillende (en dikwels teenstrydige) waarhede met sogenaamde akademiese integriteit verdedig en verkondig word. Die sekularisering van die samelewing word juis vanuit hierdie instellings gevoed.

Dit is hoe die hedendaagse tersiêre omgewing daar uitsien. Op ontnugterende wyse verstaan toegewyde Christenjongmense nou Christus se bedoeling met: … daarom haat die wêreld julle (vgl. Joh. 15:18-19). In eenvoudige Afrikaans sal ons sommer sê: Dit is leeuwêreld daarbuite. Die vraag is: Hoe bly ons staande in so ’n wêreld? Hoe bly jy in Rome sonder om ’n Romein te word?

Soek ’n Christelike alternatief

Op die vooraand van die ingebruikneming van die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys se hoofgebou, maak prof. JD du Toit (Totius) die volgende belangrike uitspraak: “Werklik, as dié inrigting [die PUK] sou moes opgehef word, wat moet ons dan begin? Net maar wéér een oprig – dit is al wat ons sou kon doen!”[1] Dit blyk profetiese woorde te wees, want ons betree inderdaad ’n tyd waarin dit vir ons nodig is om, soos Israel van ouds, die mure van Jerusalem te herbou en weer van vooraf die tempel op te rig.

Wanneer Jerusalem Rome begin word, moet alternatiewe geskep word wat stewig op die moederfondasies gevestig is. Dit verg visie en daadkrag, dit verg manne wat verder as die horison kan sien. Dit verg die vêrsiendheid van gelowige voorgangers. Om die rede is daar reeds in 1988 met eie teologiese opleiding by die destydse Teologiese Skool van die AP Kerk begin. Al moes hierdie instelling dikwels soos Noag die spot van mense verduur, was hulle inderdaad besig om ’n ark te bou. Vandag staan hierdie instelling bekend as die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Toe ander instellings die spoor begin byster raak, het die APA op die ou spore gebly met die doel om vanuit daardie spore, nuwe weë in ’n veranderde en vyandige wêreld te baan. Die fondasie van hierdie instelling is stewig gegrond in die klassieke Christelike tradisie.

In 2004 maak die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) sy deure oop met die doel om onderwysers aan die hand van ’n Christelik-gefundeerde kurrikulum en volgens ’n Christelik-Reformatoriese grondslag op te lei. In 2011 begin die Solidariteitbeweging met Akademia, ’n klassieke Christelike, Afrikaanse en onafhanklike hoëronderwysinstelling. Hoewel nie so volledig in die klassiek-Reformatoriese tradisie nie, identifiseer hierdie instelling homself wel as breedweg Christelik en Westers.

Al bevind ons ons tans in Rome, hoef ons nie aan die keiser uitgelewer te wees nie. Ons skep alternatiewe. Dit is nodig om hierdie alternatiewe uit te bou en te versterk as ons wil verseker dat ons kinders en kleinkinders nie oor ’n geslag of twee volbloed-Romeine is nie. ’n Romeinse afgodstempel hoef nie hul enigste keuse te wees nie.

Hoe lyk die fondasies?

Die fondasies van hierdie Christelike instellings moet valkoog bekyk word alvorens ons ons daarin begewe. Om “Christelik” deel van ’n instelling se benaming of identiteit te maak, is soms ’n handige bemarkingsfoefie. Vra maar vir ouers wat hul kinders in “Christelike” openbare skole sit en uiteindelik met ’n skok ontdek dat ’n sporadiese gebed of twee tydens ’n saalopening waarskynlik die somtotaal van die skool se Christenskap is!

Dit is soms makliker as jy weet die instelling is sekulêr, want dan is die vyand oop en bloot. Dit is egter baie moeiliker as jy met wolf in skaapsklere te doen het. Daarom moet die fondasies van Christelike instellings deeglik ondersoek en aan die Skrif getoets word. ’n Christelike instelling is nie veronderstel om kompromieë met Rome te sluit nie. Christenstudente moet daardie instellings uitsoek wat soos die gelowiges van ouds, bereid was om ten bloede en selfs tot die dood toe teen ‘n bloeddorstige Romeinse owerheid weerstand te bied. Soek daardie instelling wie se Christenskap diepgewortel is en wie se didaktiek deur ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing gekenmerk word. Soek vir meer as net ’n sousie – soek vir ’n volledige, fynproewersmaaltyd!

Sekulêre universiteit my enigste opsie

Soms is ‘n sekulêre, nie-Christelike instelling ongelukkig die enigste opsie. Dit hoef egter nie ’n doodsvonnis te wees nie, want dan weet jy sommer uit die staanspoor waarmee jy te doen het: ’n Vreemde en vyandige omgewing waarin jou standpunte nie noodwendig lugtyd gegun word nie. Jy gaan uitgedaag en bevraagteken word, maar ook hiervoor behoort ons gereed te wees. Ons word immers opgeroep om tydig en ontydig die Woord te verkondig (vgl. 2 Tim. 4:2) en van die hoop wat binne ons is, rekenskap te gee (vgl. 1 Petr. 3:15). Dit beteken egter wel dat jy op jou hoede moet wees vir die brullende leeu wat rondloop en soek wie hy kan verslind (vgl. 1 Petr. 5:8). Wat kan jy doen om nie leeukos te word nie? Michael Kruger gee die volgende raad:[2]

Oppas vir naïewe en oordrewe selfvertroue

Hierdie ingesteldheid kom gewoonlik voor onder studente wat in Christelike huise en ’n stabiele kerklike omgewing grootgeword het. Hulle is so vol selfvertroue dat wolf in skaapsklere hulle ontglip. Hulle dink hulle kan enige uitdaging en versoeking hanteer. Moenie naïef wees nie. Die wêreld daar buite is geestelik uitdagend.

Ouers, dink mooi hoe julle jul kinders vir studentetyd op ’n sekulêre universiteitskampus voorberei. Bemagtig hulle om ten minste die basiese vrae te kan beantwoord en oor die kernkonsepte van hulle geloof rekenskap te kan gee.

Wees versigtig vir onbeteuelde agterdog

Dit is die keersy van bogenoemde waarskuwing. Baie Christenstudente betree ’n sekulêre kampus met ’n tipe paranoia en selfs ’n slagofferkompleks – dat almal daarop uit is om hulle by te kom en te ondermyn. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. So ’n benadering kan baie teenproduktief wees, want dit maak dat Christene altyd op die verdediging is, dat hulle oorsensitief is en nie graag na ander standpunte wil luister nie. So ’n ingesteldheid gaan die universiteitslewe baie moeilik maak en jou boonop van waardevolle geleenthede ontneem om jouself toe te rus en op te skerp ten opsigte van sekulêre standpunte.

Moenie alleen in die donker rondloop nie

Wanneer jou geloof nog in sy kinderskoene is, moet jy versigtig wees om alleen in die donker rond te loop. Bly in ’n groep en bly in die lig. Hoe doen jy dit? Kry ’n goeie kerk waar jou geloofsgrondslag versterk en uitgebou kan word, waar jy jou vrae kan vra en toegerus kan word. Omring jouself met Christenvriende sodat moeilike omstandighede nie jou getuienis laat wankel omdat jy onseker is nie, maar jy deur die skare getuies rondom jou versterk kan word.

’n Pleidooi

Ons jongmense is inderdaad uitgelewer, maar genadiglik laat God sy kinders nie uit sy hand ruk nie: Deur die vestiging van privaat Christelike instellings bou ons en bied ons weerstand. Die gevaar is egter groot dat elkeen van hierdie instellings maar net weer septer oor eie ryk wil swaai. Die tyd waarin ons leef, laat ons nie hierdie luuksheid toe nie. Ons het ’n unieke geleentheid om die oorwinning in Christus te leef sodat ’n beter alternatief gevestig kan word as wat die sekulêre staat bied – een waar Christus Koning is. Ons het die geleentheid om hande te vat en mekaar te versterk, sonder om afgunstig te kompeteer vir die guns van die keiser. Die vyand is daar buite en ons lê in dieselfde loopgraaf. Laat ons vestings binne-in Rome bou,  bastions wat ons en ons kinders in staat stel om nie Romeine te word nie al bly ons in Rome.

 _____________________ 

[1] JD du Toit, Totius Versamelde Werke Deel 4 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1977), 109.

[2] https://ps.edu/3-dangers-to-avoid-as-a-christian-at-a-secular-university/

Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Bennie van Zyl[1]

Een van die groot gevare in die lewe is dat ‘n mens dinge later as vanselfsprekend aanvaar. Afhangende van sosiale omstandighede, sal dit van persoon tot persoon verskil. Vir sommige, wat elke dag drie maal per dag kos op die tafel het, kan dit later maklik as ’n gegewe aanvaar word. Diegene wat nie die voorreg van gereelde voedselbeskikbaarheid het nie, sal anders na voedsel kyk, sou dit wel beskikbaar wees.

Die samelewing waarbinne ons tans funksioneer, het ’n baie sterk fokus op menseregte begin plaas. Selfs in ons land se grondwet word daar ’n verskeidenheid van regte gevestig, vervat in ‘n handves van menseregte. Veel eerder moet ons ‘n samelewing hê wat die fokus plaas op rekenskap geanker in ons Christelike geloof, met die besef dat ons elkeen uit genade alleen deur die soenverdienste van Jesus Christus gered is. Daarom moet ons in die eerste plek ’n dankbaarheidslewe tot eer van die drie-enige God lei.

Die aanloop tot die verkiesing bring uiteenlopende verwagtinge na vore. Die omvang van politieke partye se beloftes neem sodanige afmetings aan dat van die sterkste ekonomiese lande ter wêreld nie eers oor die kapasiteit beskik om al daardie beloftes te laat realiseer nie. Suid-Afrika is oor 30 jaar met ’n bepaalde beleidsbenadering getransformeer tot waar ons vandag worstel om deur die mislukte instellings, wat oor tyd heen geskep is, ’n toekoms te bou. Beloftes dat dinge nou omgedraai gaan word, verg egter kundigheid en die proses van kaderontplooiing is in baie gevalle juis die oorsaak van die mislukte instellings. Indien dieselfde “kundigheid” wat die probleem veroorsaak het, dit nou moet oplos, kan die probleme dalk net groter word.

Daar is deur die jare bepaalde waardes gevestig wat eie is (was) aan ons volk. Net so het ander volkere ook eiesoortige waardes wat hul fondament en bestaansrede beklemtoon. Wedersydse respek en begrip vir die andersheid behoort die vertrekpunt in die onderlinge skakeling te wees. Die hartseer is dat Suid-Afrika oor die laaste aantal jare gebombardeer is met ’n stel waardes wat die verskeidenheid misken en afbreek en dan poog om dit te vervang met sterk sosialistiese en kommunistiese beskouinge. Iewers gaan mense ’n versadigingspunt bereik oor die skending van hul menswees en waardes en dan gaan rûe styfgemaak word.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid, soos dit die laaste 30 jaar ontvou het, is vir die meerderheid mense, ongeag die bevolkingsgroep wat hulle verteenwoordig, nie gunstig nie. Misdaad, werkloosheid en die gepaardgaande armoede is niks om op trots te wees nie. Die onrealistiese beleidsomgewing skep gewis nie vertroue nie en die gevolge is ’n land wat teen ’n redelik vinnige spoed degenereer.

Diegene wat in geloof die toekoms tegemoet gaan, welwetende dat ons elke dag van ons lewe ons kultuuropdrag uitleef, deins nie terug vir wat die dag van môre inhou nie. Dit is inderdaad nie iemand se keuse of die kultuuropdrag uitgeleef word of nie. Ons is elke dag besig om kultuur te skep, wat breedweg gesien kan word as die somtotaal van die mens se handelinge. Dit is wel ’n keuse oor hoe ons dit doen. Die vraag wat elkeen dus self moet beantwoord, is: Bou ek, of breek ek?

In hierdie selfgemaakte chaostyd moet ons gaan soek na daardie aspekte wat stabiliteit teweegbring. Dit verg van ons keuse en optrede:

  1. Ons moet vashou aan ons begronde waardes en nie daarvan afwyk nie. Dit bring vertroue vir die toekoms, want ons weet dat ons reeds oorwinnaars is deur Jesus Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het.
  2. Ons het elkeen ongelooflike talente ontvang wat reuseverskille kan maak indien ons dit positief aanwend. Ons moet dit nastreef met die doel om uitnemend en suksesvol te wees in alles wat ons doen.
  3. Ons ingesteldheid jeens en hantering van die werklikhede van die dag maak saak. Beklemtoon die probleme, maar soek positief en kreatief, sonder ophou, na oplossings. Negatiwiteit is ‘n haarbreedte ver van handdoek ingooi.
  4. Ons naam is ‘n kosbare aardse besitting. Wanneer dit eers “weggegooi” is, word dit bitter moeilik om dit, indien ooit, “skoon” terug te kry. Wanneer ons kies of besluit, moet ons ons integriteit behou en so ons naam beskerm.
  5. Ons is nie alleen op hierdie aarde nie. Hoe werk ons met ander mense, veral wanneer ons van hulle verskil? Die Bybelse werkswyse is welbekend aan ons. Gee ons ag op daardie onderwysings, of volg ons kortpad en skree Raka! voor die voet? Agterna kan daar dalk verskoning aangebied word, maar die skade sal bly.
  6. Ons leef in ‘n land waar werkloosheid en armoede seëvier. Daarom sal ons moet bou aan suksesvolle besighede wat hierdie euwels kan help hokslaan. ‘n Onrealistiese beleidsomgewing skep onsekerheid by beleggers en daarom behoort ekonomiese groei ‘n noodsaaklike fokus te wees. Elke beleidsbesluit moet geweeg word aan die impak daarvan op beleggersvertroue. Dit is dan wat ‘n mens sien hoe kortsigtig ’n beleid van onteiening sonder vergoeding, vervat in wetgewing, is.
  7. Ons produserende kommersiële boere, wat kos voorsien aan onder andere Suid-Afrikaners waarvan ongeveer 68% verstedelik is, is een van die grootste bates waaroor die land kan beskik. Landbou het vanjaar uiterste omstandighede ervaar wat vele boerdery-eenhede onder groot kontantvloeidruk geplaas het. Kos op die tafel is seersekerlik die grootste stabiliseerder in ons land. Neem dit weg en wie weet wat kan gebeur …
  8. Ons leef in ‘n gedestabiliseerde omgewing – die gevolg van die huidige beleidsomgewing. Dit bring mee dat oplossings nie gevind sal kan word solank daar na die regering gekyk word nie. Daar sal dus selfstandige oplossings buite die regering gevind moet word.
  9. Ons leef in ‘n land wat deur misdaad geteister word. Uiteenlopende sienings bestaan oor veiligheidstoestande in aanloop tot en ná afloop van die verkiesing. Die verkiesing se potensiaal vir probleme lyk inderdaad nie anders as wat tans reeds in die praktyk ervaar word nie. Daarom behoort alle beskikbare kapasiteit, van al die rolspelers gesamentlik, aangewend te word om gemeenskapsveiligheidsplanne op te stel. Verskeie insette van verskillende organisasies is beskikbaar en die beste voorstelle, waar van toepassing, moet benut word.

Vertroue en kennis is die fondament waarop besluite geneem behoort te word. Daarmee saam moet dit beginselgedrewe wees, want dít is wat standhou. Fokus dus op daardie begronding waarin geglo word, met die nodige respek vir ander beskouinge, sonder om die knie te buig tot ondergang van die eie waardes.

_____________

[1] Hoofbestuurder, TLU SA.

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Dr. Adi Schlebusch[1] 

Die konflik tussen die Joodse en Palestynse volke in die Midde-Ooste duur al langer as die meeste van ons se leeftyd. Die oorspronge van hierdie konflik lê baie diep in die geskiedenis, maar die hedendaagse oorlog tussen die Jode en Palestyne kan eintlik direk teruggevoer word na ʼn plan wat in 1947 deur die Verenigde Nasies (VN) aanvaar is. Daarvolgens moes daar in hierdie gebied, wat tot op daardie stadium as Palestina bekend gestaan het, twee onafhanklike volkstate gestig word. Jerusalem en omliggende gebiede sou ʼn spesiale internasionale sone word. Alhoewel daar ook aan Joodse kant ontevredenheid was, is die plan summier deur die Palestyne verwerp. Die dag nadat die VN die plan aanvaar het, het oorlog uitgebreek en die konflik het sedertdien nog nooit werklik opgehou nie. Vir lang tye het daar wel ʼn wapenstilstand gegeld, maar die laaste een is op 7 Oktober 2023 beeïndig toe die terreurorganisasie, Hamas, skielik die grens tussen Israel en Gaza oorgesteek en Israel aangeval het. Sedertdien woed daar weer ʼn volskaalse oorlog waarin bykans 30 000 mense reeds dood is.

ʼn Vraag wat natuurlik dikwels onder veral gelowige Afrikaners ontstaan, is hoe ons onsself ten opsigte van hierdie konflik, wat vir die afgelope paar maande die wêreldnuus oorheers, moet posisioneer. Wanneer ons wêreldbeskouing deur die Bybel gevorm word, is ons natuurlik geneig om onsself op ʼn besondere wyse verbonde tot die land Israel te sien. Dit is trouens die land wat die Here self aan die Ou Testamentiese volk Israel, ná die uittog uit Egipte, gegee het op grond van sy belofte aan Abraham. En dit is immers die land waar Jesus talle wonderwerke verrig en uit die dood uit opgestaan het. Dit is ook daarom dat ons amper instinktief die huidige konflik in die lig van die Skrif probeer beskou en veral die profesieë aangaande die tydperk tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Soos die apostels in Handelinge 1:6, worstel gelowiges dikwels met die rol wat die Jode as verbondsvolk in hierdie huidige bedeling speel.

Wanneer ons as gelowiges met komplekse kwessies soos hierdie worstel en na ʼn Bybelse antwoord vra, is dit belangrik om te onthou dat ons die Skrif as ʼn geheel moet beskou –  een samehangende openbaring van die onveranderlike raadsplan van God. Dit dwing ons tot die beginsel van analogia scripturae,  die standpunt dat teksverse in die Bybel verklaar moet word in die lig van die boodskap van die Bybel as geheel. Hierdie beginsel is wesenlik belangrik vir die regte verstaan van die betekenis van die Beloofde Land en ou Israel as die volk van God met betrekking tot die nuwe verbond waarin ons leef.

Die Bybel noem Israel die volk van God (vgl. Ex. 6:7; Deut. 27:9; Jer. 11:4). Dit is duidelik dat daar in hierdie verse van ʼn fisiese volk gepraat word. In Romeine 9:24-25 lees ons egter dat God nou sy volk versamel vanuit beide die Joodse en nie-Joodse volke. Verder leer Titus 2:14 dat diegene wat deur Christus verlos is, God se volk is. Hierdie geestelike volk van God word dan ook in 1 Petrus 2:9 beskyf as … ’n heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Hierdie geestelike volk van God, die Nuwe Testamentiese Israel, bestaan uit alle volke wat ooreenkomstig die groot sendingopdrag van Matthéüs 28:19 tot dissipels van Jesus Christus gemaak is. Die realiteit van ʼn geestelike Israel bestaande uit ʼn verskeidenheid volke, word dan ook uitdruklik in tekste soos Openbaring 7:9 en 11:15 bevestig. Laasgenoemde teks beklemtoon dat al die koninkryke van die wêreld die eiendom van Jesus Christus word. Wanneer die evangelie oor die hele wêreld uitgaan, word die hele wêreld in ʼn sin die “beloofde land”. In Psalm 37:12 en Matthéüs 5:5 word God se belofte van ʼn grondgebied vir verbondsgehoorsaamheid immers op die hele aarde van toepassing gemaak. Romeine 4:13 verwys dan ook in soveel woorde na die verbondsbelofte van die Beloofde Land aan Abraham as … die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees.

In die nuwe verbond is die hele wêreld die beloofde land en is God se uitverkore volk nie ʼn enkele etniese groep of volk nie, maar ʼn geestelike volk wat deur die band van geloof in Christus deur sy Gees verenig is (vgl. Rom. 9:6-13). Daarom sou geen volk op aarde, hetsy die Jode of die Palestyne of die Afrikaners of die Amerikaners, aanspraak daarop kon maak dat hulle op die een of ander unieke wyse God se uitverkore volk is nie. Wanneer ons dan die konflik tussen die Jode en Palestyne in die lig van die Skrif beskou, behels dit geensins blote vooroordeel teen ʼn Arabiese volk ten gunste van die volk waaruit Jesus gebore is nie. Nee, ons moet dit meer objektief beskou as ʼn stryd tussen twee volke wat beide geroep word om hulleself aan die heerskappy van die Koning van alle konings en volke, Jesus Christus, te onderwerp. Hamas se terreurdade behoort daarom verwerp te word nie omdat die Palestynse volk as sodanig vyande van God se volk sou wees nie, maar omdat hierdie organisasie onskuldige mense, wat na die beeld van God geskape is, vermoor. En alhoewel Hamas ʼn verwerplike terroriste-organisasie is, moet ons altyd onthou dat daar gelowige kinders van die Here onder beide die Joodse en Palestynse volk is.

Wanneer ons die konflik in Israel en Gaza in die lig van die Bybelse beginsels van geregtigheid en naasteliefde beskou, kan ons nie anders as om voorstanders van die totstandkoming en internasionale erkenning van twee soewereine volkstate te wees nie: ʼn Palestynse staat en ʼn Joodse staat. Dit sal die heel beste oplossing wees om vrede in die streek te bewerkstellig en menselewens te spaar. Laat ons daarom nie meegesleur word deur allerhande eindtydprofesieë in die lig van die tragiese gebeurtenisse aldaar nie. Laat ons eerder, wanneer dit kom by ons posisionering ten opsigte van die Joods-Palestynse konflik, onsself sonder skroom by die vredemakers skaar (vgl. Mt. 5:9).

[1] Navorser by die Department Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Lidmaat van die APK Lichtenburg.

Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole?

* Met hierdie artikel gee ons erkenning aan die AP Akademie, waar hierdie artikel oorspronklik verskyn het:
https://www.apa.ac.za/bela-wet-doodsklok-vir-afrikaanse-openbare-skole/

BELA-wet: Doodsklok vir Afrikaanse openbare skole? 

Op 27 September skryf die uitvoerende hoof van FEDSAS[1] dr Jaco Deacon in Maroela Media[2]: “Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds ʼn lang pad vir die BELA-wetsontwerp is voordat dit ʼn wet sal wees. Daar is ook min tyd vir die parlement om dit te finaliseer voor die volgende algemene verkiesing. Politici is ook deeglik bewus van verskillende partye wat regsaksie oorweeg indien die wetsontwerp ʼn wet word.”

BELA staan vir “Basic Education Laws Amendment”. Dr Deacon verduidelik dat onder BELA die finale besluit oor ʼn openbare skool se taalmedium by die provinsiale departementshoof van onderwys berus. Groter beperking op tuisskool-opsies is ook deel van BELA. Of BELA deur verkiesingsuitslae of hofgedinge gestuit sal word, en of BELA uiteindelik die doodsklok[3] vir Afrikaanse openbare skole word, is ʼn ope vraag.

Net ʼn maand later op 27 Oktober haal BELA weer die nuus[4]:

  • “Die omstrede BELA-wetsontwerp is vandag… aanvaar in die Nasionale Vergadering”
  • “Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, … voeg by dat die ANC duidelik die wetsontwerp probeer stoomroller deur al die prosesse om dit voor die verkiesing van 2024 geïmplementeer te kry, … [en] herinner dat die wetsontwerp ook nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word, voordat dit aan die president vir ondertekening voorgelê kan word. Eers daarna sal dit geïmplementeer kan word.”
  • “Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê… as… die wet… deur die president bekragtig word, staan Solidariteit reeds reg… om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg.”

Die voortgaande betrokkenheid van soveel Afrikaners in openbare skole te midde van die groot bekommernis oor BELA, dui miskien aan dat in sommige gevalle ons die klok hoor lui, maar nie weet waar die bel hang nie.[5] Menige Afrikaanse ouers verkies steeds om hul kinders in Afrikaansmedium openbare skole te plaas waar leerplanne in veral geskiedenis en lewensoriëntering gevolg word wat nie die Afrikaner of sy Christelike geloof goedgesind is nie (selfs waar ʼn Afrikaanse Christelike etos nominaal geld). Die erfenis ( — families wat oor meerdere geslagte in dieselfde skool was), gehalte sportafrigting, akademiese uitkomste, geografiese gerief en bekostigbaarheid lyk anekdoties belangrike faktore in die besluitneming te wees, maar ʼn gebrek aan bewussyn van die aard van die leerplanne speel sekerlik ook ʼn rol. Miskien is die rugbaarheid van Afrikaanse Christelike privaatonderwys of die wenslikheid en doenbaarheid van tuisskoling steeds nie voldoende voor oë nie.

Anders gestel, die opeenvolgende keerwalle wat bestaan in die weg van ʼn oorstroming teen Afrikaanse Christelike openbare onderwys, soos Christelike waardes, gebalanseerde oog op die eie geskiedenis, en Afrikaans as die onderwysmedium, blyk van tydelike en onvaste aard te wees. Met die ineenstorting van elke keerwal, is die druk op die volgende keerwal soveel groter.

Die gevaar bestaan dat Afrikaanse openbare skole in die toekoms onder BELA gedwing sal kan word om na Engelsmedium oor te slaan, sodat die aanslag teen die Christelike geloof en die Afrikaner eerder in meer gevalle in Engels kan geskied. Ouers wat reeds soveel in die openbare skole moes aanvaar, gaan na die lang uitgerekte proses wat nog gaan volg voor implementering, moontlik maar uiteindelik Engelsmedium hoe onwillig ook verdra. Dit is ʼn proses wat tot ʼn groot mate reeds by universiteite voltrek is, alhoewel die beskikbare skat van Christelike Afrikaansmedium privaat hoër onderwysinstansies toenemend deur studente en hul ouers aangegryp word.

Die internasionale akademiese konsensus oor die noodsaak van moedertaalonderrig bly tydig vir ouers en studente om van kennis te neem, naamlik dat die onderrig van kinders mees suksesvol is wanneer dit geskied in die taal wat die kind die beste verstaan. Boonop is die verlies van ʼn taal se hoërfunksies (soos op skool en in die akademie), tot so ʼn mate nadelig vir die gangbaarheid van die taal, dat dit ʼn bose siklus bewerkstellig wat die kind se geleenthede om later in die omgewing buite sy ouerhuis te gedy ernstig kan kniehalter. Die lang lys van beroemde suksesverhale van diegene wat in Afrikaans op beide skool en universiteit onderrig ontvang het, en later in die buiteland leiers op uiteenlopende vakgebiede geword het, is steeds ter sake.

ʼn Ander uitkoms kan wees dat taalmedium die laaste strooi word wat die kameel se rug breek[6], sodat ʼn uittog na Afrikaanse Christelike privaatskole plaasvind (soos dié onder die banier van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys[7]), of dat groter pogings deur ouers aangewend word om die ideaal van tuisskoling te verwesenlik in sover dit onder BELA nog moontlik gaan wees.

In so ʼn geval  is dit belangrik dat voldoende Afrikaanse Christelike onderwysers beskikbaar is om in die onderwysbehoeftes van Afrikaners te voldoen, sou ʼn ommekeer tog plaasvind. Die Afrikaanse Protestantse Akademie (https://www.apa.ac.za/) met sy klassiek-Christelike benadering en Afrikaans as onderrig- en taalmedium in ʼn kombinasie van akademiese programme van afstandsgebaseerde BA of kontakstudie BSocSci, met ʼn afstandsgedrewe Nagraadse Onderwys-Sertifikaat (NGOS) is goed geplaas in hierdie opsig.

foto
Stadsbeiaardier Kenneth Theunissen en die beiaard in die Belfort van Gent, Vlaandere.
klokke

Die [Klok]Luiers van Launcells-Toring deur Frederick Smallfield (1887), in die Koninklike Museum Cornwallis. Foto deur die Koninklike Instelling Cornwallis.

Hierdeur werk ons mee as beiaardiers[8] en klokluiers[9] om nie net die probleemstelling nie, maar ook die oplossing rakende die godsdienstige, etiese en kulturele noodsaak van Afrikaanse Christelike privaatonderwys aan die groot klok te hang[10], en ʼn bydrae daartoe te lewer dat volksgenote beide die klok hoor lui en weet waar die bel hang: hulself wend tot Afrikaanse Christelike privaatonderwys, met of sonder BELA.

Artikel deur Josef du Toit geskryf en op die blog van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA-blog) geplaas op 2023-12-06. Skrywers se menings op die APA-blog is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van die Afrikaanse Protestantse Akademie nie.

____________________________

[1] Nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole.

[2] https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/bela-is-die-koeel-deur-die-kerk-vir-onderwys/.

[3] Dit was voorheen die gebruik om ʼn kerkklok, die doodsklok, te lui by sterwe en begrafnis. So lees mens vandag nog wanneer iets tot ʼn einde kom dat die doodsklok daarvoor lui.

[4] https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bela-wetsontwerp-in-parlement-aanvaar/.

[5] Om die klok te hoor lui, maar nie te weet waar die bel hang nie, is om van iets te weet sonder om die besonderhede te ken.

[6] Die laaste strooi wat die kameel se rug breek, is die nuutste in ʼn reeks onaangename of ongewenste gebeurtenisse sodat ʼn krisis ontstaan wat die slagoffer knak.

[7] https://www.bcvo.co.za/.

[8] Die beiaard (kariljon/klokkespel) bestaan uit kerkklokke verbind aan ʼn klawerbord wat deur ʼn beiaardier (kariljoneur/klokkenis) met die vuis gespeel word (sowel as pedale), en kan ook ʼn outomatiese speelmeganisme hê.

[9] Anders as die beiaard, bestaan daar ook kerkklokke waarvan elke klok sy eie tou het. ʼn Stel kerkklokke word dan deur ʼn stel klokluiers gelui.

[10] Om iets aan die groot klok te hang, beteken om dit bekend te maak.

Spreek met integriteit, luister met onderskeiding

Spreek met integriteit, luister met onderskeiding

Meningsvormers kan beskryf word as mense in die samelewing wat weens hulle invloed en statuur, die vermoë het om die samelewing se mening oor sake te beïnvloed. Dit is mense wie se woorde gewig dra en wat deur gewone mense vertrou word. As ons oor meningsvormers dink, kom daar gewoonlik sekere individue se name by ons op, maar daar is ook sekere beroepe wat as meningsvormend geklassifiseer kan word. Een so ’n groep is die media, of dan joernaliste. Dit kan nie wees nie, mag ons dalk dink, want is hulle nie veronderstel om slegs die feite weer te gee nie? Dit mag dalk ons verwagting wees, maar die werklikheid is dat geen verslaggewing neutraal is nie. Die wyse waarop inligting oorgedra word, speel ’n belangrike rol in die openbare mening. Dink maar net aan al die verskillende maniere waarop daar oor Israel se oorlog teen Hamas verslag gelewer word. Die wat pro-Israel is, sal doelbewus hulle woorde só kies dat Hamas se terroristiese karakter benadruk word, terwyl die wat anti-Israel is, dalk na hulle as vryheidsvegters sal verwys.

Mediahuise maak gewoonlik groot gewag daarvan dat hulle polities of godsdienstig neutraal is. Ongelukkig is daar nie iets soos absolute neutraliteit nie, want ons leef in ’n gevalle wêreld. Partykeer is dit dus net beter as ’n mediahuis sy vooroordele en posisie uit die staanspoor duidelik maak, want dan weet ’n mens wat om te verwag en om nie teleurgesteld te wees as daar nie aan jou verwagtinge voldoen word in die wyse waarop hulle verslag lewer nie. So weet ons byvoorbeeld teen hierdie tyd dat die liberale media altyd sal probeer om die mislukkings van die ANC-regering so goed as moontlik te laat lyk, in plaas daarvan om eerlik daaroor te wees en dit by die naam te noem. Dit getuig van ’n bepaalde invalshoek en is ’n manier om die openbare mening positief te beïnvloed, maar dit is nie eerlik nie.

’n Mens is daarom ook dankbaar vir mediahuise, radiostasies en sosiale media-kanale wat nie skaam is om hulle Christelike onderbou en invalshoek te erken nie. Van hulle verwag ’n mens iets anders as van ander sogenaamde “neutrale mediahuise”, maar wat in werklikheid nie so neutraal is nie. ’n Mens verwag ’n Christelike perspektief en ’n soort geloofwaardigheid wat jy nie by ander mediahuise sal aantref nie. Jy verwag sekere woordkeuses en uitdrukkings; jy verwag ’n minder polities-korrekte aanslag en ’n meer God-verheerlikende wyse van verslagdoening. Jy verwag programinhoud en liedjiekeuses wat nie Christelike waardes en beginsels weerspreek of doelbewus afbreek nie. Dit beteken nie dat elke berig ’n Christelike boodskap bevat nie, maar wel dat verslaggewing sal getuig van ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing.

Gelowiges wat in hierdie beroepe staan, het ’n groot verantwoordelikheid op hul skouers. Dit is om geloofwaardig te wees, maar op ’n wyse wat God eer. Dit lê soms in die klein dingetjies soos in die keuse van ’n woord. Jy verwag byvoorbeeld nie om in ’n artikel van so ’n mediahuis te lees van die eerste “transgendervrou” wat aan ’n Mej. Heelal-kompetisie deelneem nie. Jy mag redeneer dat jy slegs die feite weergee, maar om bloot die feite weer te gee, is nie noodwendig die waarheid nie. God het immers die mens man en vrou geskape en ’n transgendervrou is niks anders as ’n man wat sy Godgegewe identiteit minag nie. Jy verwag nie om in nuusberigte deur so ’n mediahuis of radiostasie te lees of te hoor van “rowers” wat boere op hulle plase vermoor het nie. Net omdat hulle motief roof was, beteken nie ek hoef die wreedheid van hulle optrede te versag deur hulle karakters as moordenaars te ontken nie. Die oomblik wanneer hulle iemand vermoor het, is hulle nie net meer rowers nie, hulle is dan moordenaars. Jy verwag nie om in sulke nuusblaaie te lees dat die “rugbygode” oor die Springbokke geglimlag het sodat hulle kon wen nie, want daar is net een, ware God.

As gelowige meningsvormers behoort ons skerper te formuleer, maar as gelowige hoorders behoort ons ook fyner te luister sodat ons die subtekste kan onderskei. Laat ons dus bid vir hulle wat deur God geroep is om deur die joernalistiek die rol van ’n meningsvormer te vertolk. Op hulle skouers rus ’n groot verantwoordelikheid. Mag die Here elkeen wat in daardie posisie geplaas is, deur sy Gees begenadig sodat Paulus se woorde in Filippense 4:8 die wyse sal beïnvloed waarop hulle hul roeping uitleef: Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.