Die Joods-Palestynse konflik, die beloofde land, en die volk van God

Dr. Adi Schlebusch[1] 

Die konflik tussen die Joodse en Palestynse volke in die Midde-Ooste duur al langer as die meeste van ons se leeftyd. Die oorspronge van hierdie konflik lê baie diep in die geskiedenis, maar die hedendaagse oorlog tussen die Jode en Palestyne kan eintlik direk teruggevoer word na ʼn plan wat in 1947 deur die Verenigde Nasies (VN) aanvaar is. Daarvolgens moes daar in hierdie gebied, wat tot op daardie stadium as Palestina bekend gestaan het, twee onafhanklike volkstate gestig word. Jerusalem en omliggende gebiede sou ʼn spesiale internasionale sone word. Alhoewel daar ook aan Joodse kant ontevredenheid was, is die plan summier deur die Palestyne verwerp. Die dag nadat die VN die plan aanvaar het, het oorlog uitgebreek en die konflik het sedertdien nog nooit werklik opgehou nie. Vir lang tye het daar wel ʼn wapenstilstand gegeld, maar die laaste een is op 7 Oktober 2023 beeïndig toe die terreurorganisasie, Hamas, skielik die grens tussen Israel en Gaza oorgesteek en Israel aangeval het. Sedertdien woed daar weer ʼn volskaalse oorlog waarin bykans 30 000 mense reeds dood is.

ʼn Vraag wat natuurlik dikwels onder veral gelowige Afrikaners ontstaan, is hoe ons onsself ten opsigte van hierdie konflik, wat vir die afgelope paar maande die wêreldnuus oorheers, moet posisioneer. Wanneer ons wêreldbeskouing deur die Bybel gevorm word, is ons natuurlik geneig om onsself op ʼn besondere wyse verbonde tot die land Israel te sien. Dit is trouens die land wat die Here self aan die Ou Testamentiese volk Israel, ná die uittog uit Egipte, gegee het op grond van sy belofte aan Abraham. En dit is immers die land waar Jesus talle wonderwerke verrig en uit die dood uit opgestaan het. Dit is ook daarom dat ons amper instinktief die huidige konflik in die lig van die Skrif probeer beskou en veral die profesieë aangaande die tydperk tussen Christus se hemelvaart en sy wederkoms. Soos die apostels in Handelinge 1:6, worstel gelowiges dikwels met die rol wat die Jode as verbondsvolk in hierdie huidige bedeling speel.

Wanneer ons as gelowiges met komplekse kwessies soos hierdie worstel en na ʼn Bybelse antwoord vra, is dit belangrik om te onthou dat ons die Skrif as ʼn geheel moet beskou –  een samehangende openbaring van die onveranderlike raadsplan van God. Dit dwing ons tot die beginsel van analogia scripturae,  die standpunt dat teksverse in die Bybel verklaar moet word in die lig van die boodskap van die Bybel as geheel. Hierdie beginsel is wesenlik belangrik vir die regte verstaan van die betekenis van die Beloofde Land en ou Israel as die volk van God met betrekking tot die nuwe verbond waarin ons leef.

Die Bybel noem Israel die volk van God (vgl. Ex. 6:7; Deut. 27:9; Jer. 11:4). Dit is duidelik dat daar in hierdie verse van ʼn fisiese volk gepraat word. In Romeine 9:24-25 lees ons egter dat God nou sy volk versamel vanuit beide die Joodse en nie-Joodse volke. Verder leer Titus 2:14 dat diegene wat deur Christus verlos is, God se volk is. Hierdie geestelike volk van God word dan ook in 1 Petrus 2:9 beskyf as … ’n heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Hierdie geestelike volk van God, die Nuwe Testamentiese Israel, bestaan uit alle volke wat ooreenkomstig die groot sendingopdrag van Matthéüs 28:19 tot dissipels van Jesus Christus gemaak is. Die realiteit van ʼn geestelike Israel bestaande uit ʼn verskeidenheid volke, word dan ook uitdruklik in tekste soos Openbaring 7:9 en 11:15 bevestig. Laasgenoemde teks beklemtoon dat al die koninkryke van die wêreld die eiendom van Jesus Christus word. Wanneer die evangelie oor die hele wêreld uitgaan, word die hele wêreld in ʼn sin die “beloofde land”. In Psalm 37:12 en Matthéüs 5:5 word God se belofte van ʼn grondgebied vir verbondsgehoorsaamheid immers op die hele aarde van toepassing gemaak. Romeine 4:13 verwys dan ook in soveel woorde na die verbondsbelofte van die Beloofde Land aan Abraham as … die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees.

In die nuwe verbond is die hele wêreld die beloofde land en is God se uitverkore volk nie ʼn enkele etniese groep of volk nie, maar ʼn geestelike volk wat deur die band van geloof in Christus deur sy Gees verenig is (vgl. Rom. 9:6-13). Daarom sou geen volk op aarde, hetsy die Jode of die Palestyne of die Afrikaners of die Amerikaners, aanspraak daarop kon maak dat hulle op die een of ander unieke wyse God se uitverkore volk is nie. Wanneer ons dan die konflik tussen die Jode en Palestyne in die lig van die Skrif beskou, behels dit geensins blote vooroordeel teen ʼn Arabiese volk ten gunste van die volk waaruit Jesus gebore is nie. Nee, ons moet dit meer objektief beskou as ʼn stryd tussen twee volke wat beide geroep word om hulleself aan die heerskappy van die Koning van alle konings en volke, Jesus Christus, te onderwerp. Hamas se terreurdade behoort daarom verwerp te word nie omdat die Palestynse volk as sodanig vyande van God se volk sou wees nie, maar omdat hierdie organisasie onskuldige mense, wat na die beeld van God geskape is, vermoor. En alhoewel Hamas ʼn verwerplike terroriste-organisasie is, moet ons altyd onthou dat daar gelowige kinders van die Here onder beide die Joodse en Palestynse volk is.

Wanneer ons die konflik in Israel en Gaza in die lig van die Bybelse beginsels van geregtigheid en naasteliefde beskou, kan ons nie anders as om voorstanders van die totstandkoming en internasionale erkenning van twee soewereine volkstate te wees nie: ʼn Palestynse staat en ʼn Joodse staat. Dit sal die heel beste oplossing wees om vrede in die streek te bewerkstellig en menselewens te spaar. Laat ons daarom nie meegesleur word deur allerhande eindtydprofesieë in die lig van die tragiese gebeurtenisse aldaar nie. Laat ons eerder, wanneer dit kom by ons posisionering ten opsigte van die Joods-Palestynse konflik, onsself sonder skroom by die vredemakers skaar (vgl. Mt. 5:9).

[1] Navorser by die Department Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Lidmaat van die APK Lichtenburg.

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial