Bennie van Zyl[1]

Een van die groot gevare in die lewe is dat ‘n mens dinge later as vanselfsprekend aanvaar. Afhangende van sosiale omstandighede, sal dit van persoon tot persoon verskil. Vir sommige, wat elke dag drie maal per dag kos op die tafel het, kan dit later maklik as ’n gegewe aanvaar word. Diegene wat nie die voorreg van gereelde voedselbeskikbaarheid het nie, sal anders na voedsel kyk, sou dit wel beskikbaar wees.

Die samelewing waarbinne ons tans funksioneer, het ’n baie sterk fokus op menseregte begin plaas. Selfs in ons land se grondwet word daar ’n verskeidenheid van regte gevestig, vervat in ‘n handves van menseregte. Veel eerder moet ons ‘n samelewing hê wat die fokus plaas op rekenskap geanker in ons Christelike geloof, met die besef dat ons elkeen uit genade alleen deur die soenverdienste van Jesus Christus gered is. Daarom moet ons in die eerste plek ’n dankbaarheidslewe tot eer van die drie-enige God lei.

Die aanloop tot die verkiesing bring uiteenlopende verwagtinge na vore. Die omvang van politieke partye se beloftes neem sodanige afmetings aan dat van die sterkste ekonomiese lande ter wêreld nie eers oor die kapasiteit beskik om al daardie beloftes te laat realiseer nie. Suid-Afrika is oor 30 jaar met ’n bepaalde beleidsbenadering getransformeer tot waar ons vandag worstel om deur die mislukte instellings, wat oor tyd heen geskep is, ’n toekoms te bou. Beloftes dat dinge nou omgedraai gaan word, verg egter kundigheid en die proses van kaderontplooiing is in baie gevalle juis die oorsaak van die mislukte instellings. Indien dieselfde “kundigheid” wat die probleem veroorsaak het, dit nou moet oplos, kan die probleme dalk net groter word.

Daar is deur die jare bepaalde waardes gevestig wat eie is (was) aan ons volk. Net so het ander volkere ook eiesoortige waardes wat hul fondament en bestaansrede beklemtoon. Wedersydse respek en begrip vir die andersheid behoort die vertrekpunt in die onderlinge skakeling te wees. Die hartseer is dat Suid-Afrika oor die laaste aantal jare gebombardeer is met ’n stel waardes wat die verskeidenheid misken en afbreek en dan poog om dit te vervang met sterk sosialistiese en kommunistiese beskouinge. Iewers gaan mense ’n versadigingspunt bereik oor die skending van hul menswees en waardes en dan gaan rûe styfgemaak word.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid, soos dit die laaste 30 jaar ontvou het, is vir die meerderheid mense, ongeag die bevolkingsgroep wat hulle verteenwoordig, nie gunstig nie. Misdaad, werkloosheid en die gepaardgaande armoede is niks om op trots te wees nie. Die onrealistiese beleidsomgewing skep gewis nie vertroue nie en die gevolge is ’n land wat teen ’n redelik vinnige spoed degenereer.

Diegene wat in geloof die toekoms tegemoet gaan, welwetende dat ons elke dag van ons lewe ons kultuuropdrag uitleef, deins nie terug vir wat die dag van môre inhou nie. Dit is inderdaad nie iemand se keuse of die kultuuropdrag uitgeleef word of nie. Ons is elke dag besig om kultuur te skep, wat breedweg gesien kan word as die somtotaal van die mens se handelinge. Dit is wel ’n keuse oor hoe ons dit doen. Die vraag wat elkeen dus self moet beantwoord, is: Bou ek, of breek ek?

In hierdie selfgemaakte chaostyd moet ons gaan soek na daardie aspekte wat stabiliteit teweegbring. Dit verg van ons keuse en optrede:

  1. Ons moet vashou aan ons begronde waardes en nie daarvan afwyk nie. Dit bring vertroue vir die toekoms, want ons weet dat ons reeds oorwinnaars is deur Jesus Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het.
  2. Ons het elkeen ongelooflike talente ontvang wat reuseverskille kan maak indien ons dit positief aanwend. Ons moet dit nastreef met die doel om uitnemend en suksesvol te wees in alles wat ons doen.
  3. Ons ingesteldheid jeens en hantering van die werklikhede van die dag maak saak. Beklemtoon die probleme, maar soek positief en kreatief, sonder ophou, na oplossings. Negatiwiteit is ‘n haarbreedte ver van handdoek ingooi.
  4. Ons naam is ‘n kosbare aardse besitting. Wanneer dit eers “weggegooi” is, word dit bitter moeilik om dit, indien ooit, “skoon” terug te kry. Wanneer ons kies of besluit, moet ons ons integriteit behou en so ons naam beskerm.
  5. Ons is nie alleen op hierdie aarde nie. Hoe werk ons met ander mense, veral wanneer ons van hulle verskil? Die Bybelse werkswyse is welbekend aan ons. Gee ons ag op daardie onderwysings, of volg ons kortpad en skree Raka! voor die voet? Agterna kan daar dalk verskoning aangebied word, maar die skade sal bly.
  6. Ons leef in ‘n land waar werkloosheid en armoede seëvier. Daarom sal ons moet bou aan suksesvolle besighede wat hierdie euwels kan help hokslaan. ‘n Onrealistiese beleidsomgewing skep onsekerheid by beleggers en daarom behoort ekonomiese groei ‘n noodsaaklike fokus te wees. Elke beleidsbesluit moet geweeg word aan die impak daarvan op beleggersvertroue. Dit is dan wat ‘n mens sien hoe kortsigtig ’n beleid van onteiening sonder vergoeding, vervat in wetgewing, is.
  7. Ons produserende kommersiële boere, wat kos voorsien aan onder andere Suid-Afrikaners waarvan ongeveer 68% verstedelik is, is een van die grootste bates waaroor die land kan beskik. Landbou het vanjaar uiterste omstandighede ervaar wat vele boerdery-eenhede onder groot kontantvloeidruk geplaas het. Kos op die tafel is seersekerlik die grootste stabiliseerder in ons land. Neem dit weg en wie weet wat kan gebeur …
  8. Ons leef in ‘n gedestabiliseerde omgewing – die gevolg van die huidige beleidsomgewing. Dit bring mee dat oplossings nie gevind sal kan word solank daar na die regering gekyk word nie. Daar sal dus selfstandige oplossings buite die regering gevind moet word.
  9. Ons leef in ‘n land wat deur misdaad geteister word. Uiteenlopende sienings bestaan oor veiligheidstoestande in aanloop tot en ná afloop van die verkiesing. Die verkiesing se potensiaal vir probleme lyk inderdaad nie anders as wat tans reeds in die praktyk ervaar word nie. Daarom behoort alle beskikbare kapasiteit, van al die rolspelers gesamentlik, aangewend te word om gemeenskapsveiligheidsplanne op te stel. Verskeie insette van verskillende organisasies is beskikbaar en die beste voorstelle, waar van toepassing, moet benut word.

Vertroue en kennis is die fondament waarop besluite geneem behoort te word. Daarmee saam moet dit beginselgedrewe wees, want dít is wat standhou. Fokus dus op daardie begronding waarin geglo word, met die nodige respek vir ander beskouinge, sonder om die knie te buig tot ondergang van die eie waardes.

_____________

[1] Hoofbestuurder, TLU SA.

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial