TLU SA aan die kerk: Neem hande met ons
Deur Bennie van Zyl[1]
Die bestaansrede en begronding van TLU SA is duidelik vervat in sy grondwet, waarin hy sy geloof in God Drie-enig bely, soos geopenbaar in die Woord van God, die Bybel. Vanuit hierdie geloofsfondasie leef TLU SA sy roeping, in gehoorsaamheid aan die kultuuropdrag, uit – ook binne die landbougemeenskap.
As gevolg van hierdie fondasie beskou TLU SA die verhouding tussen die boer, sy geloof en die kerk waaraan hy behoort, as uiters belangrik. Hy koester en respekteer hierdie band en beskou dit as ’n kernaspek van die gemeenskappe wat hy verteenwoordig.
In die Suid-Afrikaanse konteks word dit ’n al hoe groter uitdaging vir rolspelers om juis hierdie kultuuropdrag te kan beoefen en uit te leef soos wat dit vir ons as Bybelse opdrag, as ons hoogste roeping hier op aarde, deur God gegee is.
Vir die afgelope meer as dertig jaar is Suid-Afrika gerig deur ’n ideologie van gesentraliseerde sosialisme en uiteindelik kommunisme. TLU SA spekuleer nie daaroor nie – in gesprekke met senior rolspelers wat daardie ideologie nastreef, word dit prontuit gesê. Onder die begrip “transformasie” word ’n verskeidenheid aspekte verpak soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), kaderontplooiing en onteiening sonder vergoeding. Die gevolge van die beleidsomgewing veroorsaak reeds ’n kwynende ekonomie en grootskaalse werkloosheid. Daar is inderdaad ’n aanslag op die beginsel van eiendomsreg – nie net op die kwessie van titelaktes nie, maar ook op ons kulturele en geloofsbegronding waar daar selfs in skole ’n gelykmatigheid plaasvind ten opsigte van ons geloof wat aan heidense praktyke gelykgestel word. Wat hul begronding betref, word ons jeug inderdaad deur die staat met ’n kurrikulum waar die Christelike inspraak nie sterk genoeg figureer nie, verwar en geïndoktrineer.
Christene vanuit die Reformatoriese oortuiging was vir te lank verdraagsaam teenoor verskeie aspekte wat in ons land beslag kry, en gewis nie op enige wyse aan bogenoemde begronding en Bybelse kompas gekoppel kan word nie. Dit het nou sover gegaan dat die staat homself aanmatig om die kerk in die breë te wil administreer en reguleer. Hierdie staatsinmenging wat tans ervaar word, laat die rooi ligte flikker vir die toekoms, rol en taak van die kerk.
In die lig van die breër uitdagings en die druk wat tans ook op die kerk as instelling geplaas word, is dit vir ons as Christene van besondere belang om seker te maak dat ons vanuit ons gemeenskaplike geloofsgrondslag en waardes, mekaar bly ondersteun en versterk. Dit is dus belangrik dat daar ook op organisatoriese vlak goeie skakeling tussen TLU SA en die kerk bly bestaan.
Landbou is nie tans op ’n goeie plek ten opsigte van sy strategiese belangrike taak van voedselvoorsiening nie. Verskeie sektore verkeer onder uiterste druk ten opsigte van hul winsgewendheid en volhoubaarheid. Buiten sekere klimatologiese rampe wat sekere streke intensief getref het, kan ook genoem word dat die suiker-, koring-, mielie-, vark- en veebedryf tans onder uiterste omstandighede gebuk gaan wat daardie boere se volhoubaarheid ernstig bedreig. Dit op sigself het geweldige emosionele druk tot gevolg en word daar juis so goed as moontlik deur middel van die gevestigde traumanetwerke na boere uitgereik. Die kerk kan in dié verband ’n baie belangrike rol speel. Die fondament waarop boere hierdie krisisse tegemoetgaan, het ’n groot invloed op hul hantering daarvan.
Dit wat juis met die Kerkhervorming van die 16de eeu waar die Calvinisties-Protestantse (gereformeerde) grondslag gevestig is. Hiervolgens is die vyf solas as pilare van ons geloofsbeskouing gedefinieer om juis ons grondslag te versterk, naamlik:
Sola Scriptura – die Skrif alleen
Sola Gratia – genade alleen
Sola Fide – geloof alleen
Solus Christus – Christus alleen
Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer
Dit is vir TLU SA dus van belang om die volgende aspekte met die kerk te deel:
- Die aanslag op die kerk vanuit verskeie oorde neem in felheid toe. Dit wek juis uiterste kommer wanneer die staat homself aanmatig om die kerk, waarvan Jesus Christus die Hoof is, te wil reguleer en beheer. TLU SA versoek dat die kerk oor hierdie aspek haarself baie sterker moet uitspreek. Die kerk moet leiding neem om die Skriftuurlike taak en koers van die kerk teenoor die staat en openbare sektor, soos uiteengesit in die onderskeie belydenisskrifte, te definieer. God Drie-enig was, is en sal in beheer van die wêreld in sy volheid bly – dit sluit in die owerhede wat Hý daargestel het. Die kerk se profetiese stem behoort daarom baie sterker uit te kom.
- Die krag van gebed bly steeds die belangrikste wapen en dank word uitgespreek teenoor die kerk wat hierin ’n groot rol speel. Die versoek bly steeds om in hierdie verband die krane in alle opregtheid en afhanklikheid maar goed oop te draai. TLU SA besef dat Christene elkeen as instrumente in God se hand wel ’n verskil kan maak, maar altyd met die wete dat dit God is wat uiteindelik oor alles beskik. Om hierdie rede moet ons in hierdie dae juis bid om wysheid sodat ons die regte besluite, om die regte redes, en vir die regte doel, sal neem.
- Gemeenskappe in die platteland het inderdaad ’n behoefte om te “behoort” en die kerk is in hierdie verband ’n baie belangrike skakelpunt. Die uitreik na die onderskeie rolspelers is van groot belang en daarom versoek TLU SA die kerk om die gemeenskap van die heiliges te versamel. Die kerk se rol en taak moet gesien en gehoor word.
- Die aanslag op die individu en sy identiteit neem in felheid toe. Die verankering van veral ons jeug word ernstig aangetas en daarom versoek TLU SA die kerk om juis hier ouers opnuut en deurlopend aan hul doopbelofte te herinner wat sekerlik die grootste taak op aarde kan wees wat ’n ouer moet verrig.
TLU SA wil graag ’n woord van groot dank teenoor die kerk uitspreek vir die geleentheid wat hy het om met haar hierdie enkele gedagtes te kan deel. Van TLU SA se kant wil hy ook die kerk alle seën en sterkte toebid vir die uiters belangrike taak wat sy verrig. Weens die belangrikheid van hierdie aspekte wat bepaal wie ons is waarheen ons op pad is, het TLU SA besluit om weer die Onderwys en Kultuurkomitee wat vir ’n paar jaar dormant was, te aktiveer. Indien daar enige behoefte vir skakeling na vore kom, is kerke welkom om met TLU SA te skakel.
____________
[1] Hoofbestuurder, TLU SA.