Hoe soek ons ‘n toekoms?

Hoe soek ons ‘n toekoms?

Suid-Afrika se huidige omstandighede is ongetwyfeld baie onseker ná die onlangse verkiesing. Ongeveer 66% kiesers het vir ‘n ideologie gestem wat welvaart as ‘n reg beskou. Die oorblywende kiesers het partye ondersteun wat erken dat welvaart deur harde werk geskep moet word in ‘n omgewing waar sekere ekonomiese beginsels geld.

Dit is wêreldwyd bekend dat welvaart geskep word in omgewings waar privaat besitreg en ‘n markgerigte ekonomie die grondslag van die ekonomiese stelsel vorm. Die gesentraliseerde sosialistiese stelsel met ‘n bietjie kommunistiese invloed wat ons die afgelope 30 jaar ervaar het, het tot die vinnige agteruitgang van bestaande instellings en infrastruktuur gelei.

Die opkoms van nasionalisme in Europa is duidelik besig om toe te neem. Die waarde om te behoort en deel te wees van mense wat jou lewens- en wêreldbeskouing deel, kan gesien word as die sterkste benadering om harmonie en vrede vir almal te skep. Dit is ‘n verskynsel wat wêreldwyd weer opkom.

Die ontwikkeling van Suid-Afrika tot waar dit vandag staan, is die gevolg van uiteenlopende kulture wat onder normale omstandighede onversoenbaar sou wees, maar gedwing is om binne een landsgrens ‘n oplossing vir die toekoms te probeer vind. Suid-Afrika het ‘n verskeidenheid volkere binne ons landsgrense, elk met ‘n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing. Hierdie kulturele verskille het oor eeue heen die onderskeidende kenmerke van elke volk beklemtoon en uitgebou.

Kulturele verskille beteken nie dat een kultuur beter as ‘n ander is nie, maar eerder dat hulle verskillend is en dat elke volk respek vir die ander se sienings moet hê. Elke individu behoort oortuig te wees dat hul eie kultuurgroepering vir hulle die beste is, want dit is hul eie. Hierdie kultuurontplooiing is nie iets wat net gaan verdwyn nie en elke volk het sy eie gebruike, tradisies en gewoontes wat hulle van ander onderskei. Die manier waarop elke individu deur sy ouers grootgemaak word, lê die grondslag vir sy of haar identifikasie met hul eie mense. Oor die afgelope jare het bewindhebbers deurlopend probeer om hierdie kulturele grense tot niet te maak. Die onlangse verkiesing het egter gewys dat kulturele verbintenisse steeds sterk is.

Die opvoeding en onderrig van die jeug is van kardinale belang om die toekoms inhoud te gee. Die kurrikulum van die onderrigstelsel bevat die ideologiese vitamiene wat die skrywers nastreef en wat die jeug in daardie bepaalde ideologiese rigting sal rig. Is dít wat ons jeug vandag leer, die grondslag wat ons vir ons volk se toekoms wil hê? Wanneer daar gesê word dat die kurrikulum uitgewerk is om vir die jeug sosialisme te leer, moet Christen-Afrikanerouers ernstig kennis neem en ernstig besin oor die doopbelofte wat afgelê is en hoe ons dit in die praktyk laat vergestalt.

Die Afrikaner het sy ontstaan te danke aan die samevoeging van hoofsaaklik Nederlanders, Franse en Duitsers, wat elkeen ‘n vaste geloofsbasis met hulle saamgebring het. Die Calvinistiese, Protestantse en gereformeerde beskouing van hul geloof, om God Drie-enig op daardie wyse te dien, was die grondslag met die ontstaan van die Afrikanervolk. Die waarheid van die Woord van God was deurentyd die fondament wat bepaal het wat reg en verkeerd is. Sedert die ontstaan was die vryheidsdrang ingebed in die dryfkrag om ‘n eie unieke volk te wees. Indien ‘n volk nie die drang het om eiesoortig ‘n volk in eie reg te wees nie, kan hulle nie daarop aanspraak maak om ‘n volk te wees nie.

Het ons as Afrikanervolk by die punt gekom dat ons die vraag wat dr. DF Malan in 1949 by die inwyding van die Voortrekkermonument gevra het, naamlik: “Afrikaner – Quo Vadis, waar gaan jy heen?” vandag anders wil antwoord as waarmee ons grootgeword het? Ons antwoord was nog altyd: “Staan dan stil en draai terug:  terug na u volk;  terug na u volk se hoogste ideale;  terug na die pand wat aan u toevertrou is om te bewaar;  terug na die volksaltaar waarop u u offers moet lê, en as dit van u vereis word, ook uself as offerhande;  terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe;  terug na u Christelike wandel;  terug na u Christelike geloof;  terug na u kerk; terug na u God!”

Die Afrikanervolk het in sy ontwikkeling ‘n driehoek tussen huisgesin, skool en kerk gehad waar die sement van inbinding by al drie plekke die fondament in die opvoedingsproses was, naamlik die begrip “Christelik-Nasionaal”. Die verhouding tot ons Skepper het die rigting en grondslag bepaal vir die waardes wat rondom die begrip “nasionaal” gevestig is.

Die vraag kan tereg gevra word: Wat is die sement wat die Afrikaner vandag bind? Waar ons opgegroei het deur Jesus Christus in die middelpunt te plaas en ‘n lewe van dankbaarheid tot eer van God te lei, het ons grootliks vandag die mens in die middelpunt geplaas en maak ons keuses wat die mens moet tevrede stel.

Suid-Afrika, soos dit tans funksioneer, is ‘n werklikheid met ‘n ineengestrengelde ekonomie wat ‘n sterk sosialistiese onderbou vanuit die beleidsomgewing ervaar. Dit beteken egter nie dat hierdie huidige model vir altyd ons toekoms hoef te wees nie. Entrepreneurs wat volgens Westerse kriteria welvaart skep deur verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar, en dan as werkgewers gaan werk en geleenthede skep vir werknemers om ‘n bestaan te maak, is hoe die ekonomie funksioneer.

Waar laat al hierdie werklikhede ons elkeen? Ons moet: 

  1. Die Quo Vadis-vraag beantwoord en die keuse maak oor hoe ons die toekoms sien. Indien die stroom van humanisme en die “laat gaan” van die waardes waarmee ons grootgeword het die keuse is, wees eerlik daaroor en leef met die gevolge saam.
  2. Bou aan hoë ideale vir die toekoms, indien dit die keuse is, sodat ons nageslag ook in die tye wat kom met trots na óns geslag as bouers, en nie as brekers nie, kan verwys.
  3. Uitnemend wees in ons beroepe, studies en aktiwiteite deur ons talente wat in genade ontvang is, optimaal te benut. Streef daarna om die beste te wees.
  4. Trots wees op ons kultuur en ons wonderskone taal en dit suiwer gebruik waar ons daagliks in ons omgang met mekaar as kultuurdraers aan ’n nalatenskap werk.
  5. Ons kultuuropdrag uitleef soos ons dit vanuit die Woord van God ontvang en kies om daagliks volgens God se verordeninge te bou.
  6. Hoogmoed vermy en nederig en dankbaar wees vir al die seëninge wat ons daagliks ontvang.
  7. Elke dag ons bydrae tot die uitbouing van ons volk se ideale evalueer en selfgesentreerdheid en afbrekendheid teenoor ander volksgenote vermy.
  8. Trots wees op die volkshelde wat ons tot hier gebring het en ook op elke stukkie van ons trotse geskiedenis. Die mooi daarvan moet ons in ons eie optrede rig.
  9. Nuwe geslagte die wonder van ekonomiese stabiliteit gun deur realistiese ekonomiese groei na te streef. Dit gaan ’n gesonde beleidsomgewing verg wat vertroue inboesem, misdaad hokslaan en ’n regering wat die nodige omgewing skep waarbinne suksesvolle besighede kan funksioneer.
  10. Bowenal onthou dat ons rentmeesters is en dat ons moet vashou aan die waarheid van die Woord as ons enigste rigsnoer. 

Ons moet bid en werk met oortuiging om ons kant te bring en sodoende as instrumente in sy hande die toekoms rig. Met ’n positiewe ingesteldheid en daadkrag kan ons ons kultuuropdrag uitleef en ons toekoms verseker.

God is die Albeskikker van volke en nasies se lotgevalle – ook die Afrikanervolk s’n. Ons moet bid asof werk nie help nie, en werk asof bid nie help nie. Dit is wat ons toekoms vorm!

Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Stabiliteit in die huidige tydsgewrig

Bennie van Zyl[1]

Een van die groot gevare in die lewe is dat ‘n mens dinge later as vanselfsprekend aanvaar. Afhangende van sosiale omstandighede, sal dit van persoon tot persoon verskil. Vir sommige, wat elke dag drie maal per dag kos op die tafel het, kan dit later maklik as ’n gegewe aanvaar word. Diegene wat nie die voorreg van gereelde voedselbeskikbaarheid het nie, sal anders na voedsel kyk, sou dit wel beskikbaar wees.

Die samelewing waarbinne ons tans funksioneer, het ’n baie sterk fokus op menseregte begin plaas. Selfs in ons land se grondwet word daar ’n verskeidenheid van regte gevestig, vervat in ‘n handves van menseregte. Veel eerder moet ons ‘n samelewing hê wat die fokus plaas op rekenskap geanker in ons Christelike geloof, met die besef dat ons elkeen uit genade alleen deur die soenverdienste van Jesus Christus gered is. Daarom moet ons in die eerste plek ’n dankbaarheidslewe tot eer van die drie-enige God lei.

Die aanloop tot die verkiesing bring uiteenlopende verwagtinge na vore. Die omvang van politieke partye se beloftes neem sodanige afmetings aan dat van die sterkste ekonomiese lande ter wêreld nie eers oor die kapasiteit beskik om al daardie beloftes te laat realiseer nie. Suid-Afrika is oor 30 jaar met ’n bepaalde beleidsbenadering getransformeer tot waar ons vandag worstel om deur die mislukte instellings, wat oor tyd heen geskep is, ’n toekoms te bou. Beloftes dat dinge nou omgedraai gaan word, verg egter kundigheid en die proses van kaderontplooiing is in baie gevalle juis die oorsaak van die mislukte instellings. Indien dieselfde “kundigheid” wat die probleem veroorsaak het, dit nou moet oplos, kan die probleme dalk net groter word.

Daar is deur die jare bepaalde waardes gevestig wat eie is (was) aan ons volk. Net so het ander volkere ook eiesoortige waardes wat hul fondament en bestaansrede beklemtoon. Wedersydse respek en begrip vir die andersheid behoort die vertrekpunt in die onderlinge skakeling te wees. Die hartseer is dat Suid-Afrika oor die laaste aantal jare gebombardeer is met ’n stel waardes wat die verskeidenheid misken en afbreek en dan poog om dit te vervang met sterk sosialistiese en kommunistiese beskouinge. Iewers gaan mense ’n versadigingspunt bereik oor die skending van hul menswees en waardes en dan gaan rûe styfgemaak word.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid, soos dit die laaste 30 jaar ontvou het, is vir die meerderheid mense, ongeag die bevolkingsgroep wat hulle verteenwoordig, nie gunstig nie. Misdaad, werkloosheid en die gepaardgaande armoede is niks om op trots te wees nie. Die onrealistiese beleidsomgewing skep gewis nie vertroue nie en die gevolge is ’n land wat teen ’n redelik vinnige spoed degenereer.

Diegene wat in geloof die toekoms tegemoet gaan, welwetende dat ons elke dag van ons lewe ons kultuuropdrag uitleef, deins nie terug vir wat die dag van môre inhou nie. Dit is inderdaad nie iemand se keuse of die kultuuropdrag uitgeleef word of nie. Ons is elke dag besig om kultuur te skep, wat breedweg gesien kan word as die somtotaal van die mens se handelinge. Dit is wel ’n keuse oor hoe ons dit doen. Die vraag wat elkeen dus self moet beantwoord, is: Bou ek, of breek ek?

In hierdie selfgemaakte chaostyd moet ons gaan soek na daardie aspekte wat stabiliteit teweegbring. Dit verg van ons keuse en optrede:

  1. Ons moet vashou aan ons begronde waardes en nie daarvan afwyk nie. Dit bring vertroue vir die toekoms, want ons weet dat ons reeds oorwinnaars is deur Jesus Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het.
  2. Ons het elkeen ongelooflike talente ontvang wat reuseverskille kan maak indien ons dit positief aanwend. Ons moet dit nastreef met die doel om uitnemend en suksesvol te wees in alles wat ons doen.
  3. Ons ingesteldheid jeens en hantering van die werklikhede van die dag maak saak. Beklemtoon die probleme, maar soek positief en kreatief, sonder ophou, na oplossings. Negatiwiteit is ‘n haarbreedte ver van handdoek ingooi.
  4. Ons naam is ‘n kosbare aardse besitting. Wanneer dit eers “weggegooi” is, word dit bitter moeilik om dit, indien ooit, “skoon” terug te kry. Wanneer ons kies of besluit, moet ons ons integriteit behou en so ons naam beskerm.
  5. Ons is nie alleen op hierdie aarde nie. Hoe werk ons met ander mense, veral wanneer ons van hulle verskil? Die Bybelse werkswyse is welbekend aan ons. Gee ons ag op daardie onderwysings, of volg ons kortpad en skree Raka! voor die voet? Agterna kan daar dalk verskoning aangebied word, maar die skade sal bly.
  6. Ons leef in ‘n land waar werkloosheid en armoede seëvier. Daarom sal ons moet bou aan suksesvolle besighede wat hierdie euwels kan help hokslaan. ‘n Onrealistiese beleidsomgewing skep onsekerheid by beleggers en daarom behoort ekonomiese groei ‘n noodsaaklike fokus te wees. Elke beleidsbesluit moet geweeg word aan die impak daarvan op beleggersvertroue. Dit is dan wat ‘n mens sien hoe kortsigtig ’n beleid van onteiening sonder vergoeding, vervat in wetgewing, is.
  7. Ons produserende kommersiële boere, wat kos voorsien aan onder andere Suid-Afrikaners waarvan ongeveer 68% verstedelik is, is een van die grootste bates waaroor die land kan beskik. Landbou het vanjaar uiterste omstandighede ervaar wat vele boerdery-eenhede onder groot kontantvloeidruk geplaas het. Kos op die tafel is seersekerlik die grootste stabiliseerder in ons land. Neem dit weg en wie weet wat kan gebeur …
  8. Ons leef in ‘n gedestabiliseerde omgewing – die gevolg van die huidige beleidsomgewing. Dit bring mee dat oplossings nie gevind sal kan word solank daar na die regering gekyk word nie. Daar sal dus selfstandige oplossings buite die regering gevind moet word.
  9. Ons leef in ‘n land wat deur misdaad geteister word. Uiteenlopende sienings bestaan oor veiligheidstoestande in aanloop tot en ná afloop van die verkiesing. Die verkiesing se potensiaal vir probleme lyk inderdaad nie anders as wat tans reeds in die praktyk ervaar word nie. Daarom behoort alle beskikbare kapasiteit, van al die rolspelers gesamentlik, aangewend te word om gemeenskapsveiligheidsplanne op te stel. Verskeie insette van verskillende organisasies is beskikbaar en die beste voorstelle, waar van toepassing, moet benut word.

Vertroue en kennis is die fondament waarop besluite geneem behoort te word. Daarmee saam moet dit beginselgedrewe wees, want dít is wat standhou. Fokus dus op daardie begronding waarin geglo word, met die nodige respek vir ander beskouinge, sonder om die knie te buig tot ondergang van die eie waardes.

_____________

[1] Hoofbestuurder, TLU SA.

Volg ons instellings of beginsels?

Volg ons instellings of beginsels?

Die feit dat oupas en pa’s ’n bepaalde instelling ondersteun het, bring baie keer mee dat opkomende geslagte in hul voetspore volg en sekere instellings slaafs aanhang.  Met ’n wêreld wat daagliks dramaties verander en bestaande waardes en beginsels deurlopend verskuif word, is die ondersteuning wat jou oupa en jou pa vir ’n instelling gegee het in vandag se tyd heel moontlik al in wese, en beslis in beginsel, ’n totaal nuwe instelling. Al wat dalk nog staande gebly het van die oorspronklike instelling, is moontlik die naam. Doelpale wat telkens geskuif word en dan met die beste motiverings geregverdig word, is aan die orde.

Ongeag op watter lewensterrein jy jouself bevind, is daar bepaalde beginsels wat blywende uitkomste gee, wat in die spesifieke geval van toepassing is.  Vir ’n Christen sal die vertrekpunt altyd die Woord van God wees, waaruit waardes gehaal word wat die basis vir elke lewensterrein vorm. Dit skep die fondament waarop suiwer grondslae gelê kan word.  Die probleem vandag is dat daardie fondament begin verkrummel het. Lang redenasies kan gevoer word, maar die vraag moet gevra word: Is die kernprobleem nie dat die mens Jesus Christus uit die middelpunt gehaal en homself daar geplaas het nie?  

Die oomblik wanneer dit gebeur, word ons bestaansrede soos die Bybel dit uiteensit – om tot eer van God te leef, aangepas met die bedoeling om die mens gelukkig te maak. Dit is dán wanneer die proses begin waar die doelpale gedurig geskuif word.  Sodra daar enige aspek ter sprake kom wat dan vir die mens nie meer “lekker” is nie, moet daar vinnig ’n motivering geskep word wat die nuwe gedagtegang kan regverdig.

Beginsels is daardie dinge waarby gestaan en geval moet word. Dit is die dinge waarvoor daar nie gekompenseer kan word nie.  Sodra daar slegs 1% aan ’n beginsel toegegee word, kan ’n beginselgesprek daaroor nie meer gevoer word nie, want die beginsel is prysgegee. Die gesprek sal daarna dan net ’n “persentasie-gesprek” wees, om telkens te bepaal wat die volgende deel – of dan die persentasie is, wat prysgegee gaan word.  

Dit word ook ervaar dat ’n keuse van optrede baie keer tot ’n beginsel verhef word. Wanneer die beginsel byvoorbeeld beskryf kan word as “om agter die bos bymekaar te kom”, gebeur dit baie vinnig dat daar hewig verskil word oor die beste roete om wel by die agterkant van die bos (die beginsel) uit te kom. Dit gebeur dan dat daar geargumenteer word dat dit ’n beginselsaak is om byvoorbeeld links om die bos of regs om die bos te beweeg. Daar word so hewig oor die verskil van die roete “geveg”, dat die werklike beginsel later amper nie eers meer ter sprake is nie.

Toets ons nog die instellings waarby ons betrokke is aan die beginsels wat vir ons elkeen self belangrik is, of laat ons maar toe dat ander mense vir ons hierdie beginsels bepaal – al skuif dit deurentyd? Op elke lewensterrein is dit ons verantwoordelikheid om ’n slag stil te gaan staan en te bepaal wat daardie beginsels is waarop ekself die toekoms wil en moet bou.  Indien die instelling waarby ek betrokke is, begin het om doelpale met die verloop van tyd te verskuif en daar nie meer ’n suiwer begronding daarvoor is nie, het elkeen ’n groot verantwoordelikheid om die instelling tot orde te roep of te gaan inskakel by daardie instelling wat wel die beginsel nastreef.

Wat dit deesdae nog meer gekompliseerd maak, is die lewens- en wêreldbeskouing wat tans deur ’n ANC-ideologie op Suid-Afrika afgedwing word. Kulturele waardes, soos wat dit by die onderskeie volkere ontwikkel het en juis in volksverband deur die jare beslag gekry het, word doelbewus aangeval in ’n poging om dit te neutraliseer.  Die aanslag op moedertaalonderrig, wat as grondslag dien om juis hierdie beginsels verstaanbaar aan die volgende geslagte oor te dra, is maar een van die groot knelpunte.  

Die kurrikulum in ons skole is seker die grootste bedreiging, waar ‘n ANC-kultuur wat gebou is rondom sosialisme en kommunisme, op ’n baie subtiele wyse op ons kinders afgedwing word en ’n grondslag gelê word om ander beginsels te vestig as dít wat ons volk deur die jare uitgebou het – wat ons ’n trotse en unieke volk gemaak het.  Ons kinders leer in die staatskole heel onbewustelik ander waardes as wat vanuit die ouerhuis graag uitgedra sal wil word.

In dié verband het ’n professor van Bloemfontein, gedurende ’n onderwyskongres wat ek in 1980 bygewoon het, die kurrikulum vergelyk met ’n ma wat vir haar gesin ’n gebalanseerde bord kos voorsit. Sy maak seker dat goeie voedingstowwe – al die nodige minerale en vitamiene in die regte hoeveelheid – daarin verpak is, om die liggaam gesond te laat ontwikkel. Niemand kan die voedingstowwe op die bord uitwys nie, maar dit is in die kos en elkeen kry dit onbewustelik in.

Eweneens is dit belangrik om te kyk wie die kurrikulum skryf, want die skrywer se “vitamiene” word daarbinne verpak en elke kind kry dit ook onbewustelik in.. ’n Klompie jare gelede, wanneer hy die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) toespreek, sê dr. Blade Nzimande dat “hierdie kurrikulum” saamgestel is om vir die jeug sosialisme te leer en daarom moet hulle dit gebruik.

Besef ons as Christenouers wat besig is om heel subtiel met ons kinders te gebeur? Net om hiérdie rede sou ek dink dat Christelike Volkseie Onderwys-skole eintlik uit sy nate moes bars, maar ongelukkig is daar iets wat ons ouers laat vashou aan die tradisionele instelling, ongeag die beginsels en waardes (en kurrikulum) wat deesdae daar geld. Die probleem is dat die aanslag op kinders se begronding heel subtiel is en dat dit eintlik nie eens raakgesien kan word nie, want die sogenaamde “regte vitamiene” is heel verskans daarbinne verpak en ons kinders kry dit onbewustelik vir 12 jaar getrou in. Ons moet dan nie verbaas wees wanneer allerlei snaakse en onbekende beskouinge kop uitsteek nie.

Indien die instellings waarby ons betrokke is nie meer die suiwer beginsels handhaaf nie, het elke lid aldaar ’n groot verantwoordelikheid om toe te sien dat daar nie maar net heel tevrede saam met die stroom die afgrond in beweeg word nie, maar moet daar opgestaan word vir die nodige en begronde beginsels waarop die toekoms gebou moet word.