Die feit dat oupas en pa’s ’n bepaalde instelling ondersteun het, bring baie keer mee dat opkomende geslagte in hul voetspore volg en sekere instellings slaafs aanhang. Met ’n wêreld wat daagliks dramaties verander en bestaande waardes en beginsels deurlopend verskuif word, is die ondersteuning wat jou oupa en jou pa vir ’n instelling gegee het in vandag se tyd heel moontlik al in wese, en beslis in beginsel, ’n totaal nuwe instelling. Al wat dalk nog staande gebly het van die oorspronklike instelling, is moontlik die naam. Doelpale wat telkens geskuif word en dan met die beste motiverings geregverdig word, is aan die orde.
Ongeag op watter lewensterrein jy jouself bevind, is daar bepaalde beginsels wat blywende uitkomste gee, wat in die spesifieke geval van toepassing is. Vir ’n Christen sal die vertrekpunt altyd die Woord van God wees, waaruit waardes gehaal word wat die basis vir elke lewensterrein vorm. Dit skep die fondament waarop suiwer grondslae gelê kan word. Die probleem vandag is dat daardie fondament begin verkrummel het. Lang redenasies kan gevoer word, maar die vraag moet gevra word: Is die kernprobleem nie dat die mens Jesus Christus uit die middelpunt gehaal en homself daar geplaas het nie?
Die oomblik wanneer dit gebeur, word ons bestaansrede soos die Bybel dit uiteensit – om tot eer van God te leef, aangepas met die bedoeling om die mens gelukkig te maak. Dit is dán wanneer die proses begin waar die doelpale gedurig geskuif word. Sodra daar enige aspek ter sprake kom wat dan vir die mens nie meer “lekker” is nie, moet daar vinnig ’n motivering geskep word wat die nuwe gedagtegang kan regverdig.
Beginsels is daardie dinge waarby gestaan en geval moet word. Dit is die dinge waarvoor daar nie gekompenseer kan word nie. Sodra daar slegs 1% aan ’n beginsel toegegee word, kan ’n beginselgesprek daaroor nie meer gevoer word nie, want die beginsel is prysgegee. Die gesprek sal daarna dan net ’n “persentasie-gesprek” wees, om telkens te bepaal wat die volgende deel – of dan die persentasie is, wat prysgegee gaan word.
Dit word ook ervaar dat ’n keuse van optrede baie keer tot ’n beginsel verhef word. Wanneer die beginsel byvoorbeeld beskryf kan word as “om agter die bos bymekaar te kom”, gebeur dit baie vinnig dat daar hewig verskil word oor die beste roete om wel by die agterkant van die bos (die beginsel) uit te kom. Dit gebeur dan dat daar geargumenteer word dat dit ’n beginselsaak is om byvoorbeeld links om die bos of regs om die bos te beweeg. Daar word so hewig oor die verskil van die roete “geveg”, dat die werklike beginsel later amper nie eers meer ter sprake is nie.
Toets ons nog die instellings waarby ons betrokke is aan die beginsels wat vir ons elkeen self belangrik is, of laat ons maar toe dat ander mense vir ons hierdie beginsels bepaal – al skuif dit deurentyd? Op elke lewensterrein is dit ons verantwoordelikheid om ’n slag stil te gaan staan en te bepaal wat daardie beginsels is waarop ekself die toekoms wil en moet bou. Indien die instelling waarby ek betrokke is, begin het om doelpale met die verloop van tyd te verskuif en daar nie meer ’n suiwer begronding daarvoor is nie, het elkeen ’n groot verantwoordelikheid om die instelling tot orde te roep of te gaan inskakel by daardie instelling wat wel die beginsel nastreef.
Wat dit deesdae nog meer gekompliseerd maak, is die lewens- en wêreldbeskouing wat tans deur ’n ANC-ideologie op Suid-Afrika afgedwing word. Kulturele waardes, soos wat dit by die onderskeie volkere ontwikkel het en juis in volksverband deur die jare beslag gekry het, word doelbewus aangeval in ’n poging om dit te neutraliseer. Die aanslag op moedertaalonderrig, wat as grondslag dien om juis hierdie beginsels verstaanbaar aan die volgende geslagte oor te dra, is maar een van die groot knelpunte.
Die kurrikulum in ons skole is seker die grootste bedreiging, waar ‘n ANC-kultuur wat gebou is rondom sosialisme en kommunisme, op ’n baie subtiele wyse op ons kinders afgedwing word en ’n grondslag gelê word om ander beginsels te vestig as dít wat ons volk deur die jare uitgebou het – wat ons ’n trotse en unieke volk gemaak het. Ons kinders leer in die staatskole heel onbewustelik ander waardes as wat vanuit die ouerhuis graag uitgedra sal wil word.
In dié verband het ’n professor van Bloemfontein, gedurende ’n onderwyskongres wat ek in 1980 bygewoon het, die kurrikulum vergelyk met ’n ma wat vir haar gesin ’n gebalanseerde bord kos voorsit. Sy maak seker dat goeie voedingstowwe – al die nodige minerale en vitamiene in die regte hoeveelheid – daarin verpak is, om die liggaam gesond te laat ontwikkel. Niemand kan die voedingstowwe op die bord uitwys nie, maar dit is in die kos en elkeen kry dit onbewustelik in.
Eweneens is dit belangrik om te kyk wie die kurrikulum skryf, want die skrywer se “vitamiene” word daarbinne verpak en elke kind kry dit ook onbewustelik in.. ’n Klompie jare gelede, wanneer hy die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) toespreek, sê dr. Blade Nzimande dat “hierdie kurrikulum” saamgestel is om vir die jeug sosialisme te leer en daarom moet hulle dit gebruik.
Besef ons as Christenouers wat besig is om heel subtiel met ons kinders te gebeur? Net om hiérdie rede sou ek dink dat Christelike Volkseie Onderwys-skole eintlik uit sy nate moes bars, maar ongelukkig is daar iets wat ons ouers laat vashou aan die tradisionele instelling, ongeag die beginsels en waardes (en kurrikulum) wat deesdae daar geld. Die probleem is dat die aanslag op kinders se begronding heel subtiel is en dat dit eintlik nie eens raakgesien kan word nie, want die sogenaamde “regte vitamiene” is heel verskans daarbinne verpak en ons kinders kry dit onbewustelik vir 12 jaar getrou in. Ons moet dan nie verbaas wees wanneer allerlei snaakse en onbekende beskouinge kop uitsteek nie.
Indien die instellings waarby ons betrokke is nie meer die suiwer beginsels handhaaf nie, het elke lid aldaar ’n groot verantwoordelikheid om toe te sien dat daar nie maar net heel tevrede saam met die stroom die afgrond in beweeg word nie, maar moet daar opgestaan word vir die nodige en begronde beginsels waarop die toekoms gebou moet word.