Waar is jou huis?

Waar is jou huis?

Waarheen gaan jy wanneer jy “huis toe” gaan? Waar en wanneer is jy regtig tuis?

Ek het onlangs hierdie vrae met my kinders bespreek. Van hulle is besig om deur Homeros se epiese gedig “Die Odussee” te lees. Boek 9 van die gedig bevat die volgende aanhaling: “… want daar is niks kosbaarder vir ʼn mens as sy eie land en sy ouers nie, en al het hy ook ʼn uitstaande huis in ʼn vreemde land, as dit ver van sy pa en ma is, is hy nie daaroor besorg nie.”

Odusseus se verhaal is ‘n swerftog met vele afdraaipaaie om tuis te kom. Om ʼn tuiste te hê en werklik tuis te wees, roer iets diep binne ’n mens. Ek dink aan die ou slagspreuk: Wat is ʼn huis sonder ʼn moeder?

As ek aan huis dink, is daar sekere beelde uit my kinderdae wat opgeroep word: koolstoof en kaggelvuur, rus en vrede, vars brood en tuisgemaakte botter, moerkoffie op die koolstoof langs die pot krummelpap, heuningkoeke in ʼn skottel op die eetkamertafel, kerse en paraffienlampe …

Odusseus is ʼn dapper held met slim planne – hy het immers die idee van die Trojaanse perd uitgedink. Maar nou is hy al tien jaar van die huis af weg en hy wil huis toe, terug na sy vrou en sy seun toe. Die probleem is egter dat hy nie net ʼn vreemdeling in vreemde lande is nie; hy het ook ʼn vreemdeling vir sy familie geword, en hulle vir hom. Die huis waarna hy so verlang het, is nie meer dieselfde nie.

Terwyl ons gesin oor hierdie dinge gesels, kom die nuus van Trump se vlugtelingstatus vir Afrikaners op. Skielik begin almal vir hom ope briewe skryf: sommige vol lof en waardering, ander weer veroordelend en verontwaardig.

Ek wonder hoeveel mense het ‘n bietjie in die Bybel gaan soek na wat daar staan van “vreemdelinge” en “bannelinge”?

God se volk het geweet wat dit is om vreemdeling te wees. Vir Israel was die trek na Egipte ’n uitkoms uit hongersnood, en God het ʼn vierhonderdjaarplan daarmee gehad! Soos Josef in Génesis 50:20 sê: Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ʼn groot volk in die lewe te hou. Ondanks die latere slawerny, was Egipte ‘n geseënde bewaring. Vele emigrante kan getuig van die Here se seën in ’n vreemde land.

Om uit eie keuse emigrant te word, is egter iets anders as om vlugteling te wees. Emigrante kan enige tyd ʼn vliegtuigkaartjie koop en kom kuier; vlugtelinge nie. Deel van die voorwaardes van vlugtelingstatus is meestal dat hulle nooit weer na hul eie land kan terugkeer nie. Ek dink nie mense wat opgewonde oor “vlugtelingstatus” is, hou daarmee rekening dat dit nie emigrasie is nie.

Om vlugteling te wees, het eerder parallelle met die latere ballingskap, wat iets heel anders was. Dít was God se oordeel oor ʼn ongehoorsame volk. Maar ook as ballinge in Assirië en Babilonië, het hulle geweet hoe om huis toe te verlang. Verbanning en smagting na ʼn eie tuiste is een van die temas van die profeteboeke. Dit sal ons baat om ‘n bietjie te besin oor wat dit vir ons leer van ons menslike natuur, en ook die karakter en doel van God.

Deel van God se genadige werk in ons, is om ʼn liefde vir ‘n eie plek en familie te kweek. Tog kan dit ook deel van sy oordeel wees om jou van jou plek en familie te verwyder. Ek wonder hoeveel mense het daaraan gedink dat Trump se “vlugtelingstatus” ʼn soort teken van God se oordeel kan wees? Dit behoort ons nie eerstens opgewonde te maak nie, maar eerder selfondersoek te laat doen.

As Ramaphosa môre sou verklaar dat hy Trump gelyk gee en dat Afrikaners uit die land gesit word en as vlugtelinge na die VSA moet gaan, kom die onreg en oordeel daadwerklik ter sprake as iets heeltemal anders as vrywillige emigrasie.

Die eeu sedert die Tweede Wêreldoorlog kan met rede die “eeu van vlugtelinge” genoem word. Vlugtelingskampe en noodleniging vir sodaniges het alledaags geword. Tog is dit ook ʼn algemene en antieke menslike ervaring. Dit gaan dikwels met vreeslike fisiese ontwrigting en selfs lyding gepaard, terwyl elke geval ook uniek is. Wat almal egter met mekaar in gemeen het, is die besonderse angstigheid om jou vaderland vir die onbekende vreemde te moet verlaat. Om nie meer in jou eie vaderland te kan woon nie, is seker een van die grootste onregte wat iemand aangedoen kan word. Meestal is dit ten minste ʼn onreg teenoor oupas en oumas en kleinkinders, wat mekaar later nie meer ken nie.

In die Bybel word daar ʼn duidelike lyn tussen taal, volk en grond aangetoon. Vir ʼn vlugteling word hierdie band uitmekaargeskeur.

Dalk is dit tyd om ernstig te besin oor die soort huis waarheen jy jou kinders wil laat verlang. Hoe lyk die tuiste wat jy vir hulle wil skep? Hou jy rekening met die Bybelse band tussen taal, volk en grond? Of is jy soos Odusseus op die een dwaalweg na die ander, terwyl jy ‘n al groter vreemdeling word vir hulle wat eintlik vir jou die belangrikste in die lewe is?

Geloftedag: Herlewing vra goeie grond en diep wortels

Geloftedag: Herlewing vra goeie grond en diep wortels

In sy weldeurdagte artikel “Geloftedag: ’n Geestelike herlewing onder Afrikaners?” bespreek dr. Danie Langner Afrikaners se hernude belangstelling in Geloftedag. Hy probeer die vraag beantwoord of die toename in die bywoning van Geloftefeeste op geestelike herlewing dui of nie. Hoewel hy nie ’n besliste oordeel vel nie, is hy versigtig optimisties. Hy sien veral tekens van herlewing in die feit dat Afrikaners wat voorheen die dag bloot as ’n vakansie- en ontspanningsdag deurgebring het, nou doelbewus kies om Geloftedag by te woon, en dat feeste al meer op die geestelike aard van die dag fokus.

’n Mens kan nie help om saam met dr. Langner opgewonde te raak oor wat besig is om te gebeur nie, maar jy het ook begrip vir sy huiwering om die vraag na geestelike herlewing, met ’n onomwonde “ja” te beantwoord. Die rede vir hierdie huiwering is omdat ware herlewing nie bloot aan die bywoningsyfers tydens Geloftefeeste gemeet kan word nie. Dit kan een van die tekens van geestelike herlewing wees, maar ware herlewing behels uiteindelik baie meer. Die vraag is dus: Hoe lyk dit prakties?

Herlewing erken die werklikheid van ’n dieper stryd

Kenmerkend van die Slag van Bloedrivier was die Voortrekkers se bewustheid van die dieper stryd. Vir hulle was dit nie net ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe nie, maar tussen lig en duisternis. Hulle het hierdie werklikheid erken en die stryd in God se hand geplaas omdat hulle vanuit hul diepgewortelde geloof in God Drie-enig geleef het, en daarom besef het dat oorwinning net moontlik is as Hy die stryd voer.

In Suid-Afrika is ons baie bewus van die feit dát daar ’n stryd woed, maar dit is ’n vraag of ons die werklike aard en omvang daarvan besef. Ons maak soms die fout om te dink die stryd is teen die ANC-regering, of teen BELA, of teen plaasmoordenaars, of teen onteiening sonder vergoeding, of teen die herskryf van ons geskiedenis. Dit is egter bloot die sigbare kant van hierdie stryd. Agter dit alles skuil die Bose. Dit hurk by die deur en soek na ’n geleentheid om ons te oorweldig. Dit is ’n stryd wat ten diepste gemik is op ons identiteit as Christen-Afrikaners, omdat dit ten doel het om ons van alles wat vir ons kosbaar is, te vervreem. Ons moet versigtig wees om te dink dat dit slegs ’n stryd om die behoud van ons volkskap is. Ten diepste is dit ’n stryd wat woed teen dit wat nog altyd die siel van ons volkskap uitgemaak het – ons Christelike geloof.

Hoe meer ons die werklikheid van hierdie stryd erken, hoe meer opreg en omvattend sal herlewing wees. Dit is ’n stryd wat nie by Bloedrivier begin het nie en wat ook nie daar geëindig het nie. Dit is ’n stryd waarin elke mens betrokke is, want dit woed binne-in jou – of jou voorouers nou by Bloedrivier was of nie. Dit is ’n stryd wat sal voortwoed tot met die wederkoms, maar waarvan die finale uitslag reeds op Gólgota bepaal is.

Herlewing is veel meer as groter geestelikheid

Wie onlangs Geloftefeeste bygewoon het, kan getuig dat daar groot klem op die gewydheid van die dag geplaas word. Dit is egter belangrik om te vra wat die fokuspunt van daardie gewydheid is. Is dit die God van Bloedrivier en van Gólgota? Is dit die God wat ons voorouers vanuit hul diepgewortelde, gereformeerde geloofsoortuiging as die soewereine God aanbid het? Getuig ons deurbring van die dag dat ons dié God aanbid wat nie net ’n mens se omstandighede verander nie, maar ook jou hart?

Om vlae te swaai, kakieklere aan te trek, die ramshorings te blaas, die vierde vers van Die Stem of die Onse Vader met bewoënheid te sing, spreek van geestelikheid, maar is nog nie noodwendig herlewing nie. Die Israeliete het ook met groot “geestelikheid” en met gewyde erns die goue kalf aanbid. Herlewing sluit nie hierdie geestelike handelinge uit nie, maar dit is nie daartoe beperk nie. Herlewing is veel meer as net groter geestelikheid. Herlewing vra dat dit wat dood was, weer lewend word. Dit vra gehoorsaamheid.

Herlewing onderhandel nie, dit gehoorsaam

Nog ’n kenmerk van geestelikheid is dat dit godsdiens bloot as ’n middel tot ’n doel sien. Ons “geestelikheid” raak ’n onderhandelingsmiddel waarmee ons God probeer oortuig om weer “aan ons kant” te wees. Ons woon Geloftedag by, want as ons nie ons geloftes betaal nie, sal God ons nie seën nie. Wanneer dít die ingesteldheid is waarmee ons Geloftedag vier, plaas ons onsself, ons volk en ons ideale op die troon. Ons soek die veiligheid van God, maar ons sien nie noodwendig kans vir die heiligheid van God nie.

“As Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee …” was nie transaksioneel nie, maar ’n daad van geloofsoorgawe. Daar was immers niks om mee te onderhandel nie, want as God nie vir hulle gestry het nie en hulle het verloor, was daar geen Voortrekker oor wat die rug op Hom kon keer omdat Hy nie sy kant van die ooreenkoms gehou het nie. Met hierdie gelofte het die Voortrekkers by Bloedrivier bely: Niks gebeur sonder sy albeskikking nie. Hulle het gekniel voor Hom aan wie alle mag behoort en wat sy kinders ter wille van sy Seun liefhet.

Ware herlewing begin deur die knie in gehoorsaamheid voor die lewende God te buig. Dit gebeur nie sonder ’n hartsverandering nie. Eségiël 36:26-27 verduidelik wat gebeur wanneer God mense se harte deur sy Gees verander: [Die Gees] sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. Dit is die getuienis van nuwe lewe, of dan her-lewing.

Die 1838-Gelofte het nie uit die lug geval nie. Dit is nie soos ’n towerstaffie aangegryp as laaste wanhopige poging om die onafwendbare te vermy nie. Dit was die gevolg van ’n lewende verhouding met die lewende God. Die Gelofte spreek van ’n diepe verhouding tussen verlostes en hul God – ’n verhouding wat prakties uitgeleef is. Die Voortrekkers het nie eers van 9 Desember 1838 af besluit om meer “geestelik” te wees, omdat hulle iets moes doen om God te oortuig om hulle te help nie. Hulle was Geesvervuld en daarom was hulle nie net afhanklik van God nie, maar ook gehoorsaam aan Hom. Hulle daaglikse lewens was ’n lewende getuienis daarvan dat God oor hulle regeer. Hulle etiese norme en morele waardes is deur Hom bepaal, hulle het hul kinders in die vrese van die Here grootgemaak, hul verhoudings met ander volke was geskoei op die liefdesgebod – om aan ’n ander te doen soos jy aan jouself gedoen wil hê, die Dag van Here was vir hulle heilig. Hulle het nie aanspraak gemaak op volmaaktheid nie, maar hulle wou die knie voor niemand anders buig nie.

Wanneer ons dus begin soek na tekens van geestelike herlewing, dan is dít waarna ons moet soek: gehoorsaamheid. Dit help nie ons buig net op Geloftedag voor God, maar die res van die tyd leef ons soos ons wil nie. Herlewing sal sigbaar word wanneer egskeidingsyfers begin daal en die bed onbesmet is. Dit sal sigbaar word wanneer ons ons kinders weer in die vrese van die Here grootmaak, want hoe anders sal hulle met ons kan deel in die erkenning van Geloftedag as hulle nie die God van Geloftedag ken nie? Dit sal eg wees as ons harder vir ’n Christelike opvoeding as vir sekulêre onderrig in Afrikaans baklei. Herlewing sal helder skyn as die duisende wat Geloftedag bywoon, ook Sondae die huis van die Here (wat ons beloof het om te bou) vol sit.

Herlewing vra goeie grond en diep wortels

Dit help nie ons waai die vlae, maar die vaandel van ons Christenskap is gestryk nie. Dit help nie ons bou die Volkshuis, maar hy is fondamentloos omdat dit nie ook ’n Godshuis is nie. Ware herlewing is nie net geestelike herlewing nie, maar Geesvervulde herlewing. Dit vra goeie grond sodat die saad wat gesaai word, nie vinnig opkom en blom, maar net so vinnig verlep en verdor nie. Dit vra egter ook diep wortels wat verbind is aan die Fontein van lewende water. Vanuit hierdie grond sal daar ’n huis tot eer van God verrys, ’n oes wat veel vrug sal dra – sodat die roem en die eer van die oorwinning aan Hom gegee sal word!

Geloftedag: ‘n Geestelike herlewing onder Afrikaners?

Geloftedag: ‘n Geestelike herlewing onder Afrikaners?

Dr. Danie Langner[1]

Deur die geskiedenis heen het Afrikaners in krisistye keer op keer teruggegryp na die kern van hul identiteit, gewortel in hul geloof en hul diepe afhanklikheid van God. Veral rondom die herdenking van Geloftedag op 16 Desember, het daar ’n vernuwing van hul geestelike bewussyn plaasgevind. Wat beteken hierdie herlewing regtig? Is dit net ’n terugkeer na tradisie en geskiedenis, of dui dit op ’n dieper geestelike ontwaking? Hierdie vraag, aan die hand van onlangse Geloftedagvieringe, is onlosmaaklik verweef met die geskiedenis van die Afrikaner en hul verhouding met hul geloof.

Die agtergrond van Geloftedag

Om die betekenis van Geloftedag vir Afrikaners te verstaan, moet ons terugkeer na die oorspronklike gebeure wat aanleiding tot hierdie dag gegee het. In 1838, ná maande van verlies, trauma, spanning en stryd, het die Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius, ’n gelofte afgelê om die dag wat die Here hulle die oorwinning oor die magtige Zoeloeleër mag gee, vir altyd aan Hom te wy.. Die gebeure van Bloedrivier is meer as net ’n oorwinning op die slagveld – dit het ’n geestelike pilaar geword waarop die Afrikanergemeenskap in tye van nood sou steun.

Die Gelofte was nie net ’n vinnige gebed vir uitkoms nie, maar ’n diep, ernstige belofte van afhanklikheid en nederigheid. Die Voortrekkers het besef dat hulle, ten spyte van hul voorbereiding en militêre vaardighede, slegs kon oorleef indien God self tussenbeide sou tree. Hierdie afhanklikheid is die kern van die Geloftedaggebeure en het vir dekades ’n geestelike en kulturele kompas vir Afrikaners gebly.

Verval en herlewing: ‘n Geestelike verskuiwing

Namate die politieke landskap in Suid-Afrika verander het, het ook die verhouding tussen die Afrikanervolk en Geloftedag gewissel. Soos berig is, het die laaste amptelike Geloftedag in 1994 met ’n mate van hartseer geëindig. Slegs ’n handjievol mense het by die Voortrekkermonument opgedaag, terwyl die meerderheid verkies het om ander vermaak na te jaag. Vir baie het dit voorgekom asof die dag sy betekenis verloor het en dat Afrikaners se geestelike identiteit vinnig aan’t verval was.

Tog, binne hierdie konteks van verval, het die saad van herlewing begin groei. Soos later opgeteken, het die afgelope jare ’n merkbare hernude belangstelling in Geloftedag en sy geestelike betekenis onder Afrikaners gewys. In 2023, byvoorbeeld, het meer as 32 000 mense die Geloftedagdiens by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon. Geloftedagfeeste regoor die land en selfs in die buiteland het opgeskiet. Wat vroeër as ‘n vergete dag beskou is, het in ’n nuwe era van betekenis begin blom.

Wat dryf hierdie groei?

Wat veroorsaak dan hierdie groei? Is dit bloot ’n teruggryp na nostalgie, na kulturele tradisie, of is daar iets meer aan die gang? As ons kyk na die aard van die dienste wat by Geloftedag gehou word, sien ons ‘n besliste fokus op die geestelike betekenis van die dag. Dit gaan nie bloot oor die herdenking van ’n historiese oorwinning nie, maar eerder oor ’n terugkeer na ’n fondament van geloof en afhanklikheid van God. Liedere soos “Die Stem” se vierde vers en “Onse Vader” resoneer deur die skare en versterk die gedagte dat dit nie bloot om nasionale trots gaan nie, maar om ’n geestelike verbintenis.

Die kern van Geloftedag is nie die volk self nie, maar die Here. Hierdie opmerking is belangrik, want dit keer die fokus weg van die fisiese monumente en historiese gebeure, na ’n geestelike herbesinning oor wat Geloftedag regtig beteken. Dit is ‘n oproep tot ‘n volk om nie net terug te kyk na die verlede nie, maar om in hul huidige omstandighede weer te bely dat hulle volkome afhanklik van God is.

Die simboliek van Bloedrivier: ‘n Lewende herinnering

Die herlewing van Geloftedag moet in die lig van die oorspronklike gebeure van Bloedrivier gesien word. Daardie dag in 1838, onder aaklige weersomstandighede en teen ’n oorweldigende mag, het die omsingelde Voortrekkers besef dat redding nie in hul hande lê nie. Dit was nie net ’n fisiese stryd nie; dit was ’n geestelike een. Juis in hierdie oomblik van totale afhanklikheid van God het hulle uitkoms gevind.

Vandag, te midde van ekonomiese swaarkry, politieke onsekerheid, en sosiale uitdagings, staan baie Afrikaners in ‘n soortgelyke posisie. Die wêreld rondom hulle lyk onstuimig en hulle wonder of daar nog ’n plek vir hul erfenis en kultuur in Suid-Afrika is. Tog, soos hul voorvaders in 1838, kyk Afrikaners op in geloof en vind hul krag in die Here van die Gelofte.

Herlewing of tradisie?

Die vraag wat dan voor die deur van elke Afrikaner staan, is of hierdie groei in Geloftedag bloot ’n kulturele herontdekking is, of is dit inderdaad ’n teken van geestelike herlewing? Indien dit slegs gaan oor die herlewing van ’n kulturele tradisie, sonder die diepte van geestelike betekenis, dan is dit moontlik om in dieselfde strikke te trap as vroeër. Dit kan ’n leë dop word, ’n kulturele ritueel wat sy geestelike waarde verloor.

As hierdie hernude deelname aan Geloftedagdienste ’n uitdrukking is van ’n volk wat weer in hul gebrokenheid opkyk en sê: “Here, ons is afhanklik van U,” dan is dit waarlik ’n teken van geestelike herlewing. Die afgelope paar jare toon besliste tekens dat daar wel ’n geestelike ontwaking plaasvind. Mense wat op 16 Desember hul motors gewas, of by die swembad ontspan het, kom nou in groot getalle byeen om saam te bely dat die Here steeds hul enigste bron van krag en redding is.

Die toekoms van Geloftedag

Wanneer ons na die huidige toename in Geloftedagvieringe kyk, is dit duidelik dat die dag steeds diep in die Afrikaner se hart ingeplant is. Daar is ’n beweging wat al hoe meer mense aanmoedig om weer die geestelike kern van hul geskiedenis te omarm. Dit is nie meer net ’n herdenking van ’n oorwinning nie; dit is ’n geleentheid om opnuut voor God te buig en te erken dat, soos in die dae van Bloedrivier, die volk steeds in totale afhanklikheid van Hom leef.

As hierdie beweging aanhou groei en as Afrikaners werklik terugkeer na die kern van hul geloof, kan dit die aanloop wees tot ’n dieper geestelike herlewing – een wat nie net by Geloftedag eindig nie, maar wat in die daaglikse lewens van mense voortleef. Soos die Voortrekkers in 1838, staan Afrikaners vandag weer by ’n kruispad. Dit is ’n tyd van groot uitdagings, maar ook van groot moontlikhede.

Geloftedag, in sy mees suiwer vorm, is nie net ‘n dag van herinnering nie, maar ‘n dag van hoop. Dit is ’n herinnering aan wat moontlik is wanneer ’n volk hul toekoms in God se hande plaas. En dit is hierdie hoop wat, as dit reg geleef word, werklik tot ’n geestelike herlewing onder Afrikaners kan lei. “Hier staan ons,” sê die Gelofte, en met daardie woorde kom ’n oproep tot volharding – nie net in kulturele trots nie, maar in die nederigheid en afhanklikheid waarmee die Voortrekkers voorgeleef het.

Die toekoms van Geloftedag, en daarmee saam die toekoms van Afrikaners se geestelike lewe, sal bepaal word deur hoe hierdie dag voortaan gevier word. As dit gevier word met ’n fokus op die Here, met ’n belydenis van afhanklikheid en ’n erkenning van sy hand in hul geskiedenis, dan sal dit nie net ‘n dag van herdenking bly nie, maar ’n spilpunt van herlewing wat ’n nuwe seisoen van geloof en hoop inlui. 

[1] Besturende direkteur: FAK

Krugerdag 2024: Kan jonger en ouer Afrikaners vandag nog deel van ’n heldevolk wees?

Krugerdag 2024: Kan jonger en ouer Afrikaners vandag nog deel van ’n heldevolk wees?

Prof. Alwyn Swanepoel[1]

 Lees: Númeri 14:24; Josua 14:5-15; 15:13-14

Teks: Númeri 14:24; Josua 14:10-12

 Kaleb was ’n held omdat daar in hom, so lees ons, ’n ander gees was – ’n ander gees as vrees teenoor intimidasie, as ongeloof teenoor elke nuwe uitdaging. In die lig van die hele Bybel weet ons dat dit die Gees van Christus is wat reeds in Kaleb vaardig was. Kaleb was as 40-jarige verspieder reeds die verteenwoordiger van die stam van Juda, wat die belofte ontvang het dat die Messias uit hulle gebore sou word (Gén. 49:8-12; Núm.13:6). Juda, as draer van die groot belofte, het ook die opdrag ontvang om voor te loop om die beloofde land Kanaän te verower (Rigt. 1:1-2). As Juda dan moes voorloop in die gees en krag van die Messias, besef ons dat ons in Kaleb te make het met ’n man wat voorloop in Juda in die gees van oorwinning en uitredding, teen vrees en vol van geloof (Núm. 13:30).

Ons het steeds sulke helde met ’n ander Gees, die Heilige Gees in hulle, nodig. Ons het hulle ook onder Afrikaners nodig en veral op Heldedag is daar wonderlike toepassings hieroor. In 1994 was daar ongelukkig Afrikaners wat saam met die afskaffing van Heldedag, ook uit die bus van die Afrikaners geklim en eintlik net hul eie privaat suksesse begin najaag het. Die vraag is of dit kenmerkend van ware helde is. Vanaf 1952-1994 was Afrikaners se amptelik erkende Heldedag op 10 Oktober daarop gemik om die beginsels en norme van Afrikaners te herbevestig en vas te lê. Dit was ook in terme van ons gelese gedeelte geskoei op ’n ander gees as meesleuring deur vrees of die meerderheid. Vanuit Josua 14 fokus ons daarom vandag op die vraag: Wat beteken dit in 2024 as jonger en ouer Afrikaners deel van ’n heldevolk wil bly?

Neem jou getroue plek in as deel van die verbond tussen die geslagte

Die uitsonderlike van Kaleb is dat hy selfs op 85-jarige ouderdom steeds bou aan sy hede met die oog op die toekoms. God het hom uitsonderlik geseën met oorlewing in die woestyn, maar ook met besondere gesondheid en krag in die ouderdom (v. 10-11). Kom ons dink onsself ‘n bietjie in: Hier staan ’n unieke lewende monument van God se genade – ’n man van 85 wat kans sien om reuse fisies aan te durf. Hy is ten minste 20 jaar ouer as die nuwe geslag Israeliete, aangesien net hy en Josua (van die vorige geslag) nie uitgesterf het nie. Maar op 85 is hy so sterk soos toe hy 40 was. Waarom? Omdat hy as ’n minderheid van twee uit twaalf verspieders volgehou het soos een wat die onsienlike sien selfs toe die vergadering in massahisterie hulle wou stenig omdat hulle reuse wou aandurf. Maar God verskyn en oordeel die verspieders en vergadering, en laat Kaleb meer as oorleef in die woestyn waar al sy tydgenote sterf (Núm. 14:10, 24). Die HERE God seën hom met frisse krag tot in die ouderdom. Soos een kommentator dit ongeveer stel: Unieke getrouheid word soms geseën met unieke gawes. Die ander gees in Kaleb lei dus tot lewe in volheid, maar let op wat hy met sy seëninge maak. Hy wil sy stoere krag steeds gebruik om presies dit te doen wat hy 45 jaar vantevore bereid was om te doen. Hy wil presies daardie vesting, Hebron, inneem wat die volk destyds met sy reuse en versterking so geïntimideer het (vgl. Núm. 13:22). Soos die woorde van ons teksgedeelte lui:

Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg (Jos. 14:12).

Kaleb leer ons dat, jonger of ouer, dit steeds moontlik is om heldhaftig te wees met presies dieselfde visie: Om die reuse wat teen God se koninkryk vuisbal, met geloofsmoed aan te durf. En Kaleb bevestig ook wat dit beteken as jy uitsonderlik geseën word. Dit gebeur nie om dit bloot vir onsself te hou nie. Nee, meerdere seën lei tot meerdere diens in sy koninkryk. Die gevolg hiervan is dat ander ook deur ons werksaamhede geseën word. Dit is ’n ander gees as dit wat George Orwell waargeneem het by te veel mense met kortsigtige visie oor hul eie tyd: “Elke generasie verbeel hulself dat hulle meer intelligent is as die een voor hulle en wyser as die een wat ná hulle sal kom.” Maar waar ’n ander gees as hierdie bysiende visie werksaam is, sien ons dat iets anders moontlik is. Dan sien ons in dat ons seën beleef deur hulle wat ons voorgegaan het, maar ook tot seën mag wees vir hulle wat ons opvolg. Die Ierse staatsman in die Britse parlement, Edmund Burke, het hierdie ander gees treffend verwoord: “Elke samelewing is ’n verbond tussen dié wat lewe, dié wat reeds dood is, en dié wat nog gebore moet word.”

Wanneer ons vir ’n oomblik ’n tree teruggee, kan ons hierdie lyn in Kaleb se posisie tussen die geslagte ook raaksien as ons let op die ryke geskiedenis van die stad wat hy inneem: Hebron. Dit was ’n besondere plek vol van simboliese betekenis in God se openbaring, lank reeds voor Kaleb se heldhaftige stryd daarvoor, maar ook daarna. Hebron se naam en die gebeure daar staan daarom vir ware aanbidding, gemeenskap, verbond, vriendskap, koninklike erfenis.

Reeds Abraham woon naby Hebron, wat “vriend” of “gemeenskap” kan beteken. Hy bou daar ’n altaar nadat Lot en sy mense hul paaie van hom skei, maar Abraham is die een wat vriend van God genoem word (Gén. 13:18; Jak. 2:23). Tot vandag toe het dit ook in die Palestyne se Arabiese benaming vir die stad betekenisse in hierdie rigting. Hierdie betekenisse is vandag in Israel so ironies aangesien Hebron steeds ’n belangrike baken in Israel is, maar ook ’n besondere mikrogestalte van die hele Israel-Palestina-konflik. En tog, Abraham, Gods vriend, rig sy altaar aan die lewende God juis daar op wanneer Lot kies vir die skone gebied rondom Sodom en Gomorra. Lot en sy mense sien dat dit naby Sodom en Gomorra baie soos die tuin van die HERE lyk (Gén. 13:10). Maar dit is ’n valse Paradys. Abraham daarenteen, verkies die droër dele waaroor God beloftes gemaak het (Gén. 13:14-18). En tog: Hebron moes sekerlik ook ’n formidabele plek gewees het as reuse besluit het om dit hul basis te maak.

Die aartsvaders bring groot gedeeltes van hul lewens in of naby Hebron deur en die aartsvaders en hul vrouens word ook begrawe by Magpéla, die enigste aanvanklike stukkie besitting van Abraham in Kanaän – getuienis oor wat kom, daar vlak by Hebron (Gén.23:19; 49:29-32). Dit is ’n vraag of die verspieders dalk na die grafte gaan kyk het en toe hulle die reuse daar gesien het. Ook hierdie grafte was reeds simbool van God se beloftes van seën en ’n roeping om ’n seën vir die nasies te wees. Maar dan moet jy die lyne in die geslagte kan trek en kan raaksien dat daar kontinuïteit met jou gelowige voorgeslagte is. Gelowige helde kan dit doen, want hulle eer die verbond en die beloftes van God in Christus en deel daarom die verbond ook met mekaar, ook in die geslagte. Maar hulle wat net in die hier en nou, sonder God se verbond in ’n warrelwindromanse met die tydsgees leef, kan nie die verbindingslyne in die land van hiperindividualisme sien nie. Kaleb in Hebron val dus nie uit die lug nie. Dit lê in lyn met Abraham wat reeds by Hebron ’n altaar gebou het.

En omdat Kaleb sy plek inneem, is daar ook vanuit Hebron verdere seën vir die nageslagte. Dit het later een van die toevlugstede in Israel geword vir mense wat vryspraak benodig wat op geregtigheid gegrond is (vgl. Jos. 20:7). Dit was ook ’n priesterstad vir die Leviete wat geen erfdeel in Israel gehad het nie omdat God self hul erfdeel was (Jos. 21:13). Dit was later ook die stad waar Dawid as koning gebly het vir die eerste sewe en ’n half jaar van sy koningskap en vanwaar hy as koning oor die hele Israel gesalf is (2 Sam. 5:3-5). Dus: stad van toevlug, aanbidding en koninklike erfenis wat getuig van groter dinge wat op pad is.

Daarom moet ons ook raaksien dat die ander gees in Kaleb wat reuse verslaan, in verband staan met Dawid wat Góliat aandurf nadat hy gesalf is en die Gees van die HERE oor hom kom (1 Sam. 16:13; 17). Beide is ook deel van die stam van Juda, daardie stam wat die toon moes aangee en die belofte van die groot Gesalfde, die Christus, dra. Ja, die ander gees in hulle wys heen na die Messias wat sou kom en die Gees nie met mate gehad het nie, maar die draak, Satan, en die dood moes verslaan. Soos niemand anders nie het Hy gelowig enduit volgehou en nie aan sy eie belang gedink nie, maar aan ons. Só kan die ander Gees wat in Kaleb was, wat in Dawid vaardig was ná sy salwing, ook in ons wees deur ons verbondenheid aan die groot Gesalfde. Op jonger en ouer ouderdom vertoon Kaleb hierdie ander gees en kan daarom ’n leier en held wees: Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing ( 2 Tim. 1:7). Ja, Kaleb is selfs strydbereid op 85 en dit is deel van die rede waarom hy die stam van Juda wel kon lei deur voorbeeld (vgl. Rigt. 1:1-15). Wat is die geheim?

Glo die oop geheim van die verbond en volhard daarin saam met ander geslagte

Die geheim van Kaleb se lewe is ’n oop geheim, die geheim van die verbond. Die vraag is daarom eintlik net of ons geslag dit steeds wil hoor en vandag ook weer wil toe-eien. Twee reekse woorde wat hier herhaal word, beklemtoon die oop geheim van die verbond. Telkens hoor ons: (1) “Soos die HERE gespreek het” (v. 6, 10, 12). En telkens hoor ons (2) dat Kaleb volgehou het om die HERE te volg toe die uitdagings kom (v. 8-9, 14).

Dit is belangrik om raak te sien dat die saak dus nie by Kaleb begin nie, maar by God en sy Woord en sy beloftes – “soos die HERE gespreek het”. Reeds op 40 sien en hoor Kaleb in die eerste plek nie die reuse en versterkte stede nie, maar vir God. Hy het eerstehands beleef wat God se beloftes beteken toe hulle as slawe uit Egipte bevry is, deur die Rooisee getrek en die verbond by Sinai gesluit het. Kan ’n mens dan nog daarna jou hand aan die ploeg slaan en begin agtertoe kyk as die reuse opdaag? God het mos reeds opgetree en beloftes gemaak, ook vir ons! Maar dan moet ons die kuur teen vrees, en vaskyk teen uitdagings, proefondervindelik leer ken – dat God en jy altyd ’n meerderheid is en sterker is as reuse in enige formaat, enige gestalte. Wat is daar vandag wat jou op persoonlike vlak, maar ook gelowige Afrikaners saam wil intimideer? Daarom is dit so belangrik om gereeld uit die reinigende en belofteryke Woord voeding te ontvang sodat ons die ander Gees as die tydsgees kan hoor en sterk kan staan en oorwin.

Hiermee saam lees ons ook telkens dat Kaleb “volgehou” het, midde die uitdagings, in die krag van die ander Gees, om die oog op God se beloftes te hou en nie op sy uitdagings nie. Daar is iets in vasbyt en volharding tot ons in sy Naam oorwin waarby ons nie verby kan kom nie. Kaleb het genoeg hindernisse gehad wat sy glo-is-sien-benadering uitgedaag het. Daar was reeds in sy jonger dae die realiteit van reuse en versterkte stede, van ’n minderheidsverslag van 17%, van die volk se massahisterie van ongeloof, van 40 jaar ekstra in die woestyn weens sy volk se ontrouheid, van reuse wat steeds die omgewing rondom Hebron beset wanneer hy al 85 is!

Maar Kaleb hou vol, ook wanneer dit so maklik is om toe te gee aan sien-is-glo-benaderings. Leiers, helde, kinders van die verbond, het nie ’n ander keuse nie en dit vra volharding, ook wanneer dit voel of alles skreeu teen dit wat jy glo. Hou ons nog vol in die stryd, of het ons iewers langs die pad moeg geraak om standvastig en oorwinnend in die werk van die Here te wees? Jy reken dalk dat jou ouderdom jou verlof gee om die stryd nie meer soos voorheen te stry nie. Maak die saak met Hom uit en onthou: Indien jou kragte, anders as Kaleb, gedaan is, kan jy nog altyd gebedskryger wees. Onthou ook: Dit is net die Here se genade dat jy nog hier is en nie soos ander van jou tydgenote al gesterf het nie. Die ander Gees van Kaleb is steeds werksaam in elkeen wat in Christus, ons Middelaar en Held, ingelyf is. En as daar besondere seëninge en gawes in jou lewe is, is daar soveel om vir die koninkryk te doen midde die onweerswolke wat saampak. Jy is gebore vir hierdie tyd om jou merk vir Hom te maak. Onthou: Reuse staan juis vir dit wat vir jou menslikerwys onmoontlik lyk om te oorwin. Dit is steeds moontlik om saam met Abraham en Kaleb en Dawid ’n ander gees te vertoon, en te werk vir ’n beter toekoms wat uitloop op die hemelstad.

Let ook op die gesindheid van hierdie ander gees waarin ons tot die stryd toetree. By Kaleb is dit nie een van hoogmoed of arrogansie oor sy voortreflike krag en gesondheid en verlede nie. Hy beroep hom vir oorwinning op God en sy beloftes. Luister na sy woorde wat getuig van nederige strydvaardigheid: “Miskien sal die HERE met my wees sodat ek hulle kan verdrywe soos die HERE gespreek het” (v. 12). Die noem-dit-en-eis-dit-groepe (“name it and claim it”) sal dalk sy woorde wil kritiseer en sê dat hy ook maar nog gebreke in sy geloof gehad het. Dit is egter nie die geval nie. Kaleb bedoel met sy nederige woorde dat God altyd soewerein is en ons Hom nooit aan ons wille en grille kan bind nie. Maar hy bedoel daarmee ook dat hy tog moed en goeie grond het, “soos die HERE gespreek het,” om met verwagting tot die stryd toe te tree in die Naam van God. Sy woorde spreek daarom eintlik kritiek uit teen beide die voortvarendes en die twyfelagtiges. Dit roep ons wel toe om vol van geloof waagmoedig tot ons roeping toe te tree.

Tree toe tot die unieke roeping vandag as deel van die getroue geslagte

Wanneer ons toetree tot ons roeping, is ons by die konkrete werklikheid waarvan goeie verhale uiteindelik vir die nageslagte gemaak kan word. Kaleb tree dan ook konkreet toe tot Hebron en verdryf die reuse, ’n uitdaging wat al sedert sy 40’s met hom is (Jos.15:14). Hoeveel jare moes hy nie besin het oor die uitdaging wat hulle destyds nie wou aanvaar nie. Ons kan ons voorstel dat hy moontlik pro-aktief in die woestynjare die volgende geslag reeds begin strydvaardig maak het oor wat nog moes gebeur. Is dit nie wat steeds in ons skole en spesifiek op Heldedag behoort te gebeur nie?

Ons lees vroeër in Josua dat Hebron alreeds ingeneem is (Jos. 10:36-37; 11:21). Dit mag wees dat hierdie deel hier terugskouend vertel word, maar dit klink eerder of dit weer uit hul hande geval het, soos dit nou maar gaan met sondaars en ’n gebroke werklikheid. Of dit kan ook wees dat die bergland as sodanig rondom Hebron nog deur die reuse beset was en nie genoegsaam opgeruim is nie. Die feit is: Kaleb lei op 85 deur sy voorbeeld en gee homself vír die saak van besetting en verowering van die, let wel, moeilikste gebied in die Beloofde Land. Dit het aanvanklik Israel se afvalligheid veroorsaak en dit was steeds ’n kernvesting wat beset moes word. Hierdie feite lei ons om ’n paar konkrete toepassings te maak spesifiek vir Afrikaner-helde wat vandag getrou in God se verbond leef: 

  1. Elke tydvak het unieke uitdagings en dit is belangrik om raak te sien wat ander geslagte se taak was. Dit help om beter begrip te hê van waarmee hulle moes worstel om ons te bring waar ons is. Dit help ons ook om beter insig te hê in wat ons geslag se taak is. Mnr. Flip Buys wys in ’n publikasie daarop dat die taak van een geslag die Groot Trek was, ’n ander die Anglo-Boereoorlog, ’n ander die modernisering van Afrikaans, ’n ander die Koue Oorlog en Grensoorlog. Ons geslag se taak, reken Buys, is om ’n antwoord te vind op meerderheidsoorheersing deur federale oplossings van onder af.[2] Ja, jy het jou eie uitdagings wat jy ook moet kan verwoord, maar dit is belangrik dat Afrikaners in ons tyd, ook die jongmense, kan verwoord wat hierdie geslag se spesifieke uitdagings is. 
  1. Dit is ook belangrik, leer ons by Kaleb, om insig te hê in sleutelvestings wat ’n volgende geslag eenvoudig moet inneem ten einde ’n belangrike deurbraak te maak. Ook hier is ’n opmerking van Buys in sy genoemde publikasie baie belangrik. Hy wys daarop dat elke volk ’n bestaansvraagstuk het en wanneer dit nie gesnap word nie, sal sekere dinge nooit werklik verander nie. Dit gaan dus oor ’n sleutelvesting, ’n tipe Hebron, wat ingeneem moet word. Buys kon op grond van bestaansvraagstukke wat hy in verskillende volke bestudeer het, die sterk moontlikheid van die Oekraïense oorlog in sy publikasie in 2019 voorspel reeds lank voordat dit aangebreek het. Daarom kan ons luister as hy daarop wys dat die Afrikaner se groot bestaansvraagstuk die yl verspreiding oor die land heen is. Gekonsentreerde kulturele kantons, ankergebiede en -dorpe is daarom dringend noodsaaklik en gebeur ook reeds om die eie in beskerming te neem. Die implikasies hiervan moet egter nog dieper by ons insink. 
  1. Ankergebiede en -dorpe kan egter net sin maak as dit gebonde is aan die ware Anker. Daarom is die verbond grondliggend in ankergebiede en -dorpe. Ons het nodig dat die verbond in die sentrum geanker sal wees in ware aanbidding soos by Abraham se altaar. Dit mag weer lei tot uitdrywing van reuse (soos by Kaleb) en heerskappy (soos by Dawid). Hierin is sleutelterreine soos gesin, onderwys, plaaslike regering, ekonomie, media, en kuns en ontspanning baie belangrik sodat ware gemeenskap wat begrond is in Hom, in al sy geledinge kan gedy. Raymond Simmons beskryf dit onlangs as “die realisering van God se koninkryk deur die lokale Christendom”.[3] Maar dan beteken dit dat daar na God se eer op alle terreine gesoek word. 
  1. Wikus Buys bring in sy baie onlangse publikasie, Erfstad, ’n definitiewe verdere fokus. Hy doen ’n ernstige pleidooi vir die Afrikaner wat sy eie eerste volledige Afrikaner-stad in Orania moet opbou, indien moontlik tot die soort vlak van Singapoer. Maar die verbondsmatige benadering moet dan konsekwent vanuit die aanbidding, deur die kultuur, na die volle politieke orde toe deurgetrek word. Dit veronderstel ’n gepaardgaande eedswering van openbare ampte asook werksetiek wat dit komplementeer en waarmee Orania reeds lankal uniek besig is. Dit is tyd vir die Vierde Afrikaner, aldus dr. Buys, om vanuit die verbond ’n bewustelike keuse vir ’n konsekwente alternatiewe orde te maak. Dit beteken ’n stad en ’n republiek op ’n berg in die weste van die land wat van daar ’n seën vir die nasies is. Die bedoeling is dat mense, in hierdie opsig, soos die Israeli’s sal maak en al bly hulle nie daar nie, ordentlik sal belê in hierdie baken, al is hulle dan ook soos die Oraniërs dit stel, “uitwoners”. 
  1. Deur die geloof kan ons diensbaar en vrugbaar wees in God se koninkryk, op jonger en ouer ouderdom. Dit is die werklikheid en taal van die verbond met God. Ja, dit is moontlik om ook deur die Here gebruik te word in die ouderdom. Veral as sekere lewenskragte soos Kaleb s’n nie gekwyn het nie. Dalk is u verstand nog helder om besigheidsplanne te prakseer. Dalk is u tegniese vaardigheid op een of ander gebied nog vlymskerp om nuwe ontwikkelinge tot eer van God te dien en verder te voer. Dalk is u tydlose insigte van waarde omdat u die modedenke kan uitken vir hul swakheid en op ’n beter weg kan wys. Hoe ook al, as u nog gesond is, wat gaan u daarmee maak vir sy koninkryk? Daar kan heerlike gevolge voortspruit uit ouer mense wat hul lewenskragte en beursies op die spel plaas vir die koninkryk om tot eer van God te lewe, en tot seën te wees vir die opkomende geslagte. En ja, onterwing van hulle wat die verbond verlaat het, kan en moet gebeur. Stort dit eerder in fondse wat Kaleb-inisiatiewe wil borg. 
  1. In die unieke geskiedenis van die Afrikaner kan getroue Afrikaners ook ernstig dog berustend vra of God dalk, net dalk, in sommige gevalle moontlik langer gesondheid en krag aan sommige mag gee om die goeie stryd te stry. Kan ons dalk van God bid dat hy tien jaar langer krag gee aan die getroues as aan die ontroues – om diensbaar te wees en die volgende geslag te inspireer? Om heen te gaan en met Christus te wees is altyd verreweg die beste (Fil. 1:21-24), maar is dit miskien nodiger om langer hier diensbaar te wees om die jonger geslag se ontwil? Ons kan hieroor bid, die Skriftuurlike voorskrifte vir ’n langer lewe navolg (Ps. 103:1-5, Spr. 3; Ef. 6:1-3) en dit dan gelate aan die Here van ons ewige tuiste oorgee. 
  1. Ons het Afrikaners nodig wat nie net heldedade van die verlede vier nie, maar wat ook nou heldhaftig vír hul tyd is. Daarom moet ons nou ook op nuwe wyses heldhaftigheid en die deugde wat dit begrond, in Christus (1) bestudeer en dan (2) soek na maniere om dit uit te leef. Ons kan ons eie heldeverhale ook herontdek wanneer ons dit nie bloot oorvertel nie, maar dit vergelyk met heldeverhale in die geskiedenis van ander volke en met die helde van die Bybel, soos hier. Die Britse Christen-joernalis, GK Chesterton, vertel dat hy die Boere se stryd teen die Britte in sy geestesoog kon verbind aan die oorwinning van minderhede by Marathon en Thermopylae tydens die Grieks-Persiese oorloë. Dit sou natuurlik ook verbind kon word aan minderheidsvoorbeelde uit die Woord, soos Kaleb en Dawid teen die reuse. Heldedag kan ’n kulminasiepunt van bestudering van sulke verhale word. 
  1. Die bestudering van helde en hul deugde oor die wêreld heen met verwysing na ons eie, kan ons verbeelding aangryp – en dit is goed. Maar ons behoort dan ook met liggaam, siel en gees fiks te wees en gereed vir die stryd. Ons sal daarom ook betrokke moet raak by fisiese en geestelike dissiplines wat die liggaam, siel en gees in lyn bring met dít wat van helde gevra word. Dit gebeur nie in ons slaap nie. Abraham het 318 geoefende manne in sy minderheidspan gehad (Gen. 14:14). Sekere deugde behoort ook geoefen te word as deel van ons godsaligheid (vgl. 1 Tim. 4:7). Jaarlikse fisiese en geestelike inweeg tydens Heldedag is van die goeie projekte wat hieroor kan ontstaan. 

Al hierdie dinge behoort ons daartoe te dring om ’n groterwordende belangstelling in Heldedag aan te moedig. Ja, ons moet almal ernstig daaraan dink om ons feesviering van die dag te rehabiliteer as ’n jaarlikse verwysingspunt waar ons voorraadopname hou oor ons liggaamlike, geestelike en deugdelike toestand asook ons historiese bewussyn oor die helde van die Bybel, ons eie Afrikaner-helde, en helde in die wêreld waarmee ons identifiseer. Broeder en suster, God se verbond met ons is vol beloftes in Christus. Laat ons daarin leef en in die krag van sy Gees volhou, aanhou, en vasbyt midde ons uitdagings – en die reuse bly aandurf. Laat ons met die ander Gees van Kaleb, die Gees van Christus, tot die stryd toetree. Die pad na grootse deurbrake en inspirerende verhale en geskiedenis loop altyd deur die reuse. Kaleb bevestig aan ons dat dit goed en heerlik is, ook in die ouderdom, om dit in geloof te waag met die lewende God.

[1] Dekaan Akademiese Programme en dosent in Dogmatologie aan die AP Akademie. Hierdie boodskap is gelewer op 10 Oktober 2024 as deel van die Krugerdag-viering in Pretoria.

[2] Die pad na selfbestuur, (2019).

[3] The Confessional County: Realizing the Kingdom through local Christendom.

Hoe soek ons ‘n toekoms?

Hoe soek ons ‘n toekoms?

Suid-Afrika se huidige omstandighede is ongetwyfeld baie onseker ná die onlangse verkiesing. Ongeveer 66% kiesers het vir ‘n ideologie gestem wat welvaart as ‘n reg beskou. Die oorblywende kiesers het partye ondersteun wat erken dat welvaart deur harde werk geskep moet word in ‘n omgewing waar sekere ekonomiese beginsels geld.

Dit is wêreldwyd bekend dat welvaart geskep word in omgewings waar privaat besitreg en ‘n markgerigte ekonomie die grondslag van die ekonomiese stelsel vorm. Die gesentraliseerde sosialistiese stelsel met ‘n bietjie kommunistiese invloed wat ons die afgelope 30 jaar ervaar het, het tot die vinnige agteruitgang van bestaande instellings en infrastruktuur gelei.

Die opkoms van nasionalisme in Europa is duidelik besig om toe te neem. Die waarde om te behoort en deel te wees van mense wat jou lewens- en wêreldbeskouing deel, kan gesien word as die sterkste benadering om harmonie en vrede vir almal te skep. Dit is ‘n verskynsel wat wêreldwyd weer opkom.

Die ontwikkeling van Suid-Afrika tot waar dit vandag staan, is die gevolg van uiteenlopende kulture wat onder normale omstandighede onversoenbaar sou wees, maar gedwing is om binne een landsgrens ‘n oplossing vir die toekoms te probeer vind. Suid-Afrika het ‘n verskeidenheid volkere binne ons landsgrense, elk met ‘n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing. Hierdie kulturele verskille het oor eeue heen die onderskeidende kenmerke van elke volk beklemtoon en uitgebou.

Kulturele verskille beteken nie dat een kultuur beter as ‘n ander is nie, maar eerder dat hulle verskillend is en dat elke volk respek vir die ander se sienings moet hê. Elke individu behoort oortuig te wees dat hul eie kultuurgroepering vir hulle die beste is, want dit is hul eie. Hierdie kultuurontplooiing is nie iets wat net gaan verdwyn nie en elke volk het sy eie gebruike, tradisies en gewoontes wat hulle van ander onderskei. Die manier waarop elke individu deur sy ouers grootgemaak word, lê die grondslag vir sy of haar identifikasie met hul eie mense. Oor die afgelope jare het bewindhebbers deurlopend probeer om hierdie kulturele grense tot niet te maak. Die onlangse verkiesing het egter gewys dat kulturele verbintenisse steeds sterk is.

Die opvoeding en onderrig van die jeug is van kardinale belang om die toekoms inhoud te gee. Die kurrikulum van die onderrigstelsel bevat die ideologiese vitamiene wat die skrywers nastreef en wat die jeug in daardie bepaalde ideologiese rigting sal rig. Is dít wat ons jeug vandag leer, die grondslag wat ons vir ons volk se toekoms wil hê? Wanneer daar gesê word dat die kurrikulum uitgewerk is om vir die jeug sosialisme te leer, moet Christen-Afrikanerouers ernstig kennis neem en ernstig besin oor die doopbelofte wat afgelê is en hoe ons dit in die praktyk laat vergestalt.

Die Afrikaner het sy ontstaan te danke aan die samevoeging van hoofsaaklik Nederlanders, Franse en Duitsers, wat elkeen ‘n vaste geloofsbasis met hulle saamgebring het. Die Calvinistiese, Protestantse en gereformeerde beskouing van hul geloof, om God Drie-enig op daardie wyse te dien, was die grondslag met die ontstaan van die Afrikanervolk. Die waarheid van die Woord van God was deurentyd die fondament wat bepaal het wat reg en verkeerd is. Sedert die ontstaan was die vryheidsdrang ingebed in die dryfkrag om ‘n eie unieke volk te wees. Indien ‘n volk nie die drang het om eiesoortig ‘n volk in eie reg te wees nie, kan hulle nie daarop aanspraak maak om ‘n volk te wees nie.

Het ons as Afrikanervolk by die punt gekom dat ons die vraag wat dr. DF Malan in 1949 by die inwyding van die Voortrekkermonument gevra het, naamlik: “Afrikaner – Quo Vadis, waar gaan jy heen?” vandag anders wil antwoord as waarmee ons grootgeword het? Ons antwoord was nog altyd: “Staan dan stil en draai terug:  terug na u volk;  terug na u volk se hoogste ideale;  terug na die pand wat aan u toevertrou is om te bewaar;  terug na die volksaltaar waarop u u offers moet lê, en as dit van u vereis word, ook uself as offerhande;  terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe;  terug na u Christelike wandel;  terug na u Christelike geloof;  terug na u kerk; terug na u God!”

Die Afrikanervolk het in sy ontwikkeling ‘n driehoek tussen huisgesin, skool en kerk gehad waar die sement van inbinding by al drie plekke die fondament in die opvoedingsproses was, naamlik die begrip “Christelik-Nasionaal”. Die verhouding tot ons Skepper het die rigting en grondslag bepaal vir die waardes wat rondom die begrip “nasionaal” gevestig is.

Die vraag kan tereg gevra word: Wat is die sement wat die Afrikaner vandag bind? Waar ons opgegroei het deur Jesus Christus in die middelpunt te plaas en ‘n lewe van dankbaarheid tot eer van God te lei, het ons grootliks vandag die mens in die middelpunt geplaas en maak ons keuses wat die mens moet tevrede stel.

Suid-Afrika, soos dit tans funksioneer, is ‘n werklikheid met ‘n ineengestrengelde ekonomie wat ‘n sterk sosialistiese onderbou vanuit die beleidsomgewing ervaar. Dit beteken egter nie dat hierdie huidige model vir altyd ons toekoms hoef te wees nie. Entrepreneurs wat volgens Westerse kriteria welvaart skep deur verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar, en dan as werkgewers gaan werk en geleenthede skep vir werknemers om ‘n bestaan te maak, is hoe die ekonomie funksioneer.

Waar laat al hierdie werklikhede ons elkeen? Ons moet: 

  1. Die Quo Vadis-vraag beantwoord en die keuse maak oor hoe ons die toekoms sien. Indien die stroom van humanisme en die “laat gaan” van die waardes waarmee ons grootgeword het die keuse is, wees eerlik daaroor en leef met die gevolge saam.
  2. Bou aan hoë ideale vir die toekoms, indien dit die keuse is, sodat ons nageslag ook in die tye wat kom met trots na óns geslag as bouers, en nie as brekers nie, kan verwys.
  3. Uitnemend wees in ons beroepe, studies en aktiwiteite deur ons talente wat in genade ontvang is, optimaal te benut. Streef daarna om die beste te wees.
  4. Trots wees op ons kultuur en ons wonderskone taal en dit suiwer gebruik waar ons daagliks in ons omgang met mekaar as kultuurdraers aan ’n nalatenskap werk.
  5. Ons kultuuropdrag uitleef soos ons dit vanuit die Woord van God ontvang en kies om daagliks volgens God se verordeninge te bou.
  6. Hoogmoed vermy en nederig en dankbaar wees vir al die seëninge wat ons daagliks ontvang.
  7. Elke dag ons bydrae tot die uitbouing van ons volk se ideale evalueer en selfgesentreerdheid en afbrekendheid teenoor ander volksgenote vermy.
  8. Trots wees op die volkshelde wat ons tot hier gebring het en ook op elke stukkie van ons trotse geskiedenis. Die mooi daarvan moet ons in ons eie optrede rig.
  9. Nuwe geslagte die wonder van ekonomiese stabiliteit gun deur realistiese ekonomiese groei na te streef. Dit gaan ’n gesonde beleidsomgewing verg wat vertroue inboesem, misdaad hokslaan en ’n regering wat die nodige omgewing skep waarbinne suksesvolle besighede kan funksioneer.
  10. Bowenal onthou dat ons rentmeesters is en dat ons moet vashou aan die waarheid van die Woord as ons enigste rigsnoer. 

Ons moet bid en werk met oortuiging om ons kant te bring en sodoende as instrumente in sy hande die toekoms rig. Met ’n positiewe ingesteldheid en daadkrag kan ons ons kultuuropdrag uitleef en ons toekoms verseker.

God is die Albeskikker van volke en nasies se lotgevalle – ook die Afrikanervolk s’n. Ons moet bid asof werk nie help nie, en werk asof bid nie help nie. Dit is wat ons toekoms vorm!

Om in Rome te wees sonder om ’n Romein te word

Om in Rome te wees sonder om ’n Romein te word

Aan die begin van die jaar maak Shaun Christie, senior student aan die Noordwes-Universiteit, opslae toe hy geskors is omdat hy kapsie gemaak het teen die LGBTQIA+-inhoud van ’n oriënteringsessie vir eerstejaarstudente. Hy betoog dat Christenstudente nie ’n veilige ruimte het om oor Christenskap te praat nie, terwyl gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word. Dit is maar net een voorbeeld van Christenstudente se toenemende isolasie en marginalisering op universiteitskampusse.

Die gemene deler van die tradisioneel Afrikaanse universiteite in Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom is dat hulle almal rondom teologiese skole ontstaan het. ’n Christelike onderbou met ’n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing was die “moederfondasie” van hierdie instellings. Vandag word teologiese fakulteite by hierdie instellings herbenoem om ruimte te maak vir ander godsdienstige oortuigings as eweknieë vir die Christelike godsdiens. Die tersiêre wêreld het verander. Jerusalem lyk nou soos Rome. Die tempel is vernietig en in die plek daarvan verrys, soos prof. Gerrit Smit dit later in hierdie uitgawe noem, ’n “multiversiteit” van afgodstempels waaruit verskillende (en dikwels teenstrydige) waarhede met sogenaamde akademiese integriteit verdedig en verkondig word. Die sekularisering van die samelewing word juis vanuit hierdie instellings gevoed.

Dit is hoe die hedendaagse tersiêre omgewing daar uitsien. Op ontnugterende wyse verstaan toegewyde Christenjongmense nou Christus se bedoeling met: … daarom haat die wêreld julle (vgl. Joh. 15:18-19). In eenvoudige Afrikaans sal ons sommer sê: Dit is leeuwêreld daarbuite. Die vraag is: Hoe bly ons staande in so ’n wêreld? Hoe bly jy in Rome sonder om ’n Romein te word?

Soek ’n Christelike alternatief

Op die vooraand van die ingebruikneming van die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys se hoofgebou, maak prof. JD du Toit (Totius) die volgende belangrike uitspraak: “Werklik, as dié inrigting [die PUK] sou moes opgehef word, wat moet ons dan begin? Net maar wéér een oprig – dit is al wat ons sou kon doen!”[1] Dit blyk profetiese woorde te wees, want ons betree inderdaad ’n tyd waarin dit vir ons nodig is om, soos Israel van ouds, die mure van Jerusalem te herbou en weer van vooraf die tempel op te rig.

Wanneer Jerusalem Rome begin word, moet alternatiewe geskep word wat stewig op die moederfondasies gevestig is. Dit verg visie en daadkrag, dit verg manne wat verder as die horison kan sien. Dit verg die vêrsiendheid van gelowige voorgangers. Om die rede is daar reeds in 1988 met eie teologiese opleiding by die destydse Teologiese Skool van die AP Kerk begin. Al moes hierdie instelling dikwels soos Noag die spot van mense verduur, was hulle inderdaad besig om ’n ark te bou. Vandag staan hierdie instelling bekend as die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Toe ander instellings die spoor begin byster raak, het die APA op die ou spore gebly met die doel om vanuit daardie spore, nuwe weë in ’n veranderde en vyandige wêreld te baan. Die fondasie van hierdie instelling is stewig gegrond in die klassieke Christelike tradisie.

In 2004 maak die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) sy deure oop met die doel om onderwysers aan die hand van ’n Christelik-gefundeerde kurrikulum en volgens ’n Christelik-Reformatoriese grondslag op te lei. In 2011 begin die Solidariteitbeweging met Akademia, ’n klassieke Christelike, Afrikaanse en onafhanklike hoëronderwysinstelling. Hoewel nie so volledig in die klassiek-Reformatoriese tradisie nie, identifiseer hierdie instelling homself wel as breedweg Christelik en Westers.

Al bevind ons ons tans in Rome, hoef ons nie aan die keiser uitgelewer te wees nie. Ons skep alternatiewe. Dit is nodig om hierdie alternatiewe uit te bou en te versterk as ons wil verseker dat ons kinders en kleinkinders nie oor ’n geslag of twee volbloed-Romeine is nie. ’n Romeinse afgodstempel hoef nie hul enigste keuse te wees nie.

Hoe lyk die fondasies?

Die fondasies van hierdie Christelike instellings moet valkoog bekyk word alvorens ons ons daarin begewe. Om “Christelik” deel van ’n instelling se benaming of identiteit te maak, is soms ’n handige bemarkingsfoefie. Vra maar vir ouers wat hul kinders in “Christelike” openbare skole sit en uiteindelik met ’n skok ontdek dat ’n sporadiese gebed of twee tydens ’n saalopening waarskynlik die somtotaal van die skool se Christenskap is!

Dit is soms makliker as jy weet die instelling is sekulêr, want dan is die vyand oop en bloot. Dit is egter baie moeiliker as jy met wolf in skaapsklere te doen het. Daarom moet die fondasies van Christelike instellings deeglik ondersoek en aan die Skrif getoets word. ’n Christelike instelling is nie veronderstel om kompromieë met Rome te sluit nie. Christenstudente moet daardie instellings uitsoek wat soos die gelowiges van ouds, bereid was om ten bloede en selfs tot die dood toe teen ‘n bloeddorstige Romeinse owerheid weerstand te bied. Soek daardie instelling wie se Christenskap diepgewortel is en wie se didaktiek deur ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing gekenmerk word. Soek vir meer as net ’n sousie – soek vir ’n volledige, fynproewersmaaltyd!

Sekulêre universiteit my enigste opsie

Soms is ‘n sekulêre, nie-Christelike instelling ongelukkig die enigste opsie. Dit hoef egter nie ’n doodsvonnis te wees nie, want dan weet jy sommer uit die staanspoor waarmee jy te doen het: ’n Vreemde en vyandige omgewing waarin jou standpunte nie noodwendig lugtyd gegun word nie. Jy gaan uitgedaag en bevraagteken word, maar ook hiervoor behoort ons gereed te wees. Ons word immers opgeroep om tydig en ontydig die Woord te verkondig (vgl. 2 Tim. 4:2) en van die hoop wat binne ons is, rekenskap te gee (vgl. 1 Petr. 3:15). Dit beteken egter wel dat jy op jou hoede moet wees vir die brullende leeu wat rondloop en soek wie hy kan verslind (vgl. 1 Petr. 5:8). Wat kan jy doen om nie leeukos te word nie? Michael Kruger gee die volgende raad:[2]

Oppas vir naïewe en oordrewe selfvertroue

Hierdie ingesteldheid kom gewoonlik voor onder studente wat in Christelike huise en ’n stabiele kerklike omgewing grootgeword het. Hulle is so vol selfvertroue dat wolf in skaapsklere hulle ontglip. Hulle dink hulle kan enige uitdaging en versoeking hanteer. Moenie naïef wees nie. Die wêreld daar buite is geestelik uitdagend.

Ouers, dink mooi hoe julle jul kinders vir studentetyd op ’n sekulêre universiteitskampus voorberei. Bemagtig hulle om ten minste die basiese vrae te kan beantwoord en oor die kernkonsepte van hulle geloof rekenskap te kan gee.

Wees versigtig vir onbeteuelde agterdog

Dit is die keersy van bogenoemde waarskuwing. Baie Christenstudente betree ’n sekulêre kampus met ’n tipe paranoia en selfs ’n slagofferkompleks – dat almal daarop uit is om hulle by te kom en te ondermyn. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. So ’n benadering kan baie teenproduktief wees, want dit maak dat Christene altyd op die verdediging is, dat hulle oorsensitief is en nie graag na ander standpunte wil luister nie. So ’n ingesteldheid gaan die universiteitslewe baie moeilik maak en jou boonop van waardevolle geleenthede ontneem om jouself toe te rus en op te skerp ten opsigte van sekulêre standpunte.

Moenie alleen in die donker rondloop nie

Wanneer jou geloof nog in sy kinderskoene is, moet jy versigtig wees om alleen in die donker rond te loop. Bly in ’n groep en bly in die lig. Hoe doen jy dit? Kry ’n goeie kerk waar jou geloofsgrondslag versterk en uitgebou kan word, waar jy jou vrae kan vra en toegerus kan word. Omring jouself met Christenvriende sodat moeilike omstandighede nie jou getuienis laat wankel omdat jy onseker is nie, maar jy deur die skare getuies rondom jou versterk kan word.

’n Pleidooi

Ons jongmense is inderdaad uitgelewer, maar genadiglik laat God sy kinders nie uit sy hand ruk nie: Deur die vestiging van privaat Christelike instellings bou ons en bied ons weerstand. Die gevaar is egter groot dat elkeen van hierdie instellings maar net weer septer oor eie ryk wil swaai. Die tyd waarin ons leef, laat ons nie hierdie luuksheid toe nie. Ons het ’n unieke geleentheid om die oorwinning in Christus te leef sodat ’n beter alternatief gevestig kan word as wat die sekulêre staat bied – een waar Christus Koning is. Ons het die geleentheid om hande te vat en mekaar te versterk, sonder om afgunstig te kompeteer vir die guns van die keiser. Die vyand is daar buite en ons lê in dieselfde loopgraaf. Laat ons vestings binne-in Rome bou,  bastions wat ons en ons kinders in staat stel om nie Romeine te word nie al bly ons in Rome.

 _____________________ 

[1] JD du Toit, Totius Versamelde Werke Deel 4 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1977), 109.

[2] https://ps.edu/3-dangers-to-avoid-as-a-christian-at-a-secular-university/