In die April 2022-uitgawe van Die Boodskapper het ek die vraag gevra: Is die naaste die skool die beste skool? Die belangrikste deel van die antwoord op hierdie vraag is of ons kinders se onderrig by ’n spesifieke skool geanker gaan wees in ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing of nie. Steeds het ek nie klarigheid oor die groot besluit wat in 2023 op ons wag nie.
Ons woon in Centurion en daar is nie ’n tekort aan om die hoek opsies ten opsigte van openbare en koste-effektiewe Afrikaansmediumlaerskole is nie. Afrikaans as onderrigtaal, alhoewel baie belangrik, is egter nie die enigste vereiste waaraan ’n skool vir ons kinders moet voldoen nie. Ons wil nie terug na die kospotte van Egipte nie. Ons is op soek na ’n skool met gelowige opvoeders, wat gehalte- en Skrifgefundeerde onderrig aan ons kinders oordra. Ons is ook op soek na ’n skool wat nie na die staat se pype rondom kwessies soos taalbeleid, gedragskodes, geslag en badkamers en seksuele onderrig hoef te dans nie. Dit klink nie na baie gevra nie, maar min skole in ons direkte omgewing voldoen aan al hierdie vereistes.
Tuisonderrig nie vir almal nie
In November 2022 het die gesprek oor tuisonderrig behoorlik vlam gevat. In ’n openbare skool word daar dikwels van onderwysers verwag om ’n vasgestelde kurrikulum en inhoud in ’n vasgestelde volgorde en teen ’n vasgestelde tempo volgens ’n vasgestelde manier aan alle kinders te onderrig. Met tuisonderrig kan ouers die materiaal en kurrikulum self kies en het volle beheer oor die lewens- en wêreldbeskouing wat gedurende “onderrig” by hul kinders gevestig word.
Tuisonderrig het die afgelope paar jaar ’n toenemend gewilde onderwysopsie geword. ’n Klompie gelowige ouers met wie ek gesels het, se rede hiervoor was eenvoudig: Hulle kan nie met ’n geruste hart hul kinders by ’n skool in hul omgewing aflaai nie.
Wat as daar ’n ander opsie is?
As ons nie tuisonderrig kan doen nie en daar is nie ’n onafhanklike skool in ons omgewing waar ons ons kinders met ’n geruste hart kan aflaai nie, is die oplossing eenvoudig: Bou ’n nuwe skool!
Die meeste ouers sien net die bestaande, uitnemende, Afrikaansmediumskole en ervaar nog nie ’n krisis met betrekking tot die toekoms van onderwys nie, maar hierdie skole is aan die afneem. Soos die padda in die lou water, is ons al gewoond aan die omstandighede in ons skole, maar die water gaan nog warmer word. Slegs 1 303 van die ongeveer 25 000 skole in die land was in 2020 nog Afrikaansenkelmediumskole – 15% minder as in 2012.[1] ’n Skrale 94 hiervan is onafhanklike skole met die nodige vryheid om hul geloof, taal en kultuur uit te leef.
Onafhanklike Christelike skole staan as bakens van hoop vir onderwys in Suid-Afrika, maar met ’n groeiende Afrikanerbevolking, is daar nie naastenby genoeg van hulle nie en die platteland trek die swaarste. “Een van die grootste vraagstukke vir ons gemeenskap is of ons kan verseker dat daar uitnemende onderwys vir die volgende geslag sal wees,” sê Dirk Hermann in ’n onlangse toespraak oor die toekoms van Christelike, Afrikaansonderwys buite die staat. Ek wil byvoeg: “ … in elke Afrikaanssprekende gemeenskap.”
Solidariteit Beweging het in Julie 2019 soos volg op die jongste bevolkingsberaming deur Statistieke Suid-Afrika reageer: “Die bevolkingsgroepe se werklike getalle is aan die toeneem. Dit beteken dat die Afrikanerbevolking meer gaan word, maar dat dit ook kleiner gaan word in vergelyking met die res van Suid-Afrika se bevolking. Daar gaan dus groter druk in die openbare sfeer op die Afrikaner wees, maar terselfdertyd meer mag en geleenthede in die private sfeer indien hierdie groep verder binne bepaalde geografiese gebiede konsentreer soos wat reeds die afgelope tyd die tendens is,”[2] aldus Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsingsinstituut.
Ons voorouers het nie uitnemende Afrikaansonderwys op ’n skinkbord ontvang nie – hulle het dit “gebou” en aan ons nagelaat. Ons het ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat die derduisende Afrikaanssprekende kinders wat in die volgende jare onderrig moet ontvang, ’n veilige plek sal hê waar hulle sonder vrees Afrikaans, Afrikaner en Christen mag wees én gehalteonderrig ontvang.
Deelnemer eerder as toeskouer
Daar waar gemeenskappe die behoefte aan ’n nuwe skool raaksien, is hulle meestal huiwerig om sonder ’n “volledige pakkie” die groot stap te neem en net te begin. Daar word normaalweg op “iemand” gewag om ’n perfekte produk op die tafel te sit wat vinnig en goedkoop, groot en goed gaan wees. Wanneer het ons net afwagtende toeskouers en kommentators geword, eerder as deelnemers en bouers?
In 1920 het ’n klein groepie kinders in iemand se huis begin skoolgaan. Sewe jaar later het daardie skool geweldig gegroei en ’n nuwe terrein benodig. In 1929 was die skool so groot, dat hulle besluit het om die seuns en dogters in aparte geboue te huisves. In 2022 is daar ongeveer 2 500 leerders in beide hierdie skole: Afrikaans Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool.
In die 1990’s is die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys in die lewe geroep nadat ouers visionêr die belangrikheid van onderwys buite die staat raakgesien het. Die eerste onafhanklike en selfstandige CVO-skole is met ’n handjievol kinders en personeel begin. Vandag is daar 28 CVO-skole regoor die land wat hul eie kurrikuluminnovering gedoen het met onderrigpraktyke wat individuele aandag moontlik maak, kinders blootstel aan die samehang tussen dissiplines, ’n holistiese benadering tot onderrig en leer beklemtoon en ook ’n groot klomp kinders teen die ideologie van die staat beskerm.[3]
Die pioniers wat geslagte vooraf begin bou het, het nie met ’n maklike stap vir stap handleiding begin nie.
Gehalteonderrig is ononderhandelbaar!
Buiten om onderrig vir die volgende geslag te verseker, moet ons ook verseker dat ons dit in ’n beter toestand oorgee as wat ons dit ontvang het. Ons kan dus nie voortgaan soos daar die afgelope 200 jaar in onderwys gehandel is nie. Ons moet woeker met die nuutste navorsing om die ideale van verpersoonlikte leer, geïntegreerde onderrig en leer, spelgebaseerde leer, en vele meer (die einste voordele van tuisonderrig) ook in “tradisionele” skole moontlik te maak. Solidariteit Skoleondersteuningsentrum werk juis aan só ’n aangepaste onderrig- en leermodel wat kinders, opvoeders, ouers en gemeenskappe deelnemers eerder as toeskouers van onderwys maak.
Neem aksie en begin bou!
Wil ons ’n groot vis hê, maar net een klein dam? Of baie damme met baie groot visse? ’n Vis in ’n klein dam, bly klein. ’n Vis in ’n groot dam, word groter (so sê my pa). Ons moet die dam van onafhanklike Afrikaanssprekende Christelike skole vergroot en dan groot hou. Dit vat net 20 kinders, 3 opvoeders, ’n gemeenskap en ’n kerksaal om ’n skool te begin!
Dit is ons elkeen se plig om nie terug te verlang na die vleispotte van Egipte nie, maar ons skoene af te stof en ons jongmense na die Beloofde Land te lei.
[1] https://skole.co.za/afr-skole-verslag/
[2] https://beweging.co.za/afrikaner-gemeenskap-neem-toe-werk-nou-nodig/
[3] Dit is insiggewend dat die AP kerke sedert stigting deurlopend verbondsouers aanbeveel om hul kinders in CVO-skole te sit – red.