Hoe om deel te neem aan ’n vol viering van Geloftedag
(Boodskap by die Voortrekkermonument op 16 Desember 2021)
Skriflesing:
Hebr. 4:4, 8-10.
Gén. 12:1-4, 7.
Gén. 13:1, 3-15, 18.
Teksvers: Gén. 13:3-4
En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die Here aangeroep.
Geagte broeders en susters, dit is heerlik om soveel mense vandag hier by die Geloftedag-vieringe te sien. Maar ek wil dit waag om positief-uitlokkend te wees. Daar is eintlik geen werklike rede waarom die bywoning met so ’n treffende amfiteater nie na 50 000 en meer kan gaan nie. En my rede vir hierdie realistiese stelling: Omdat Geloftedag eintlik niks anders doen nie as om te bevestig dat jou geloof en jou kultuur en geskiedenis alles met mekaar te make het. Om die waarheid te gesê, die betekenis van Geloftedag kan, anders as wat die kritici sê, juis ’n reinigende en florerende effek op Suid-Afrika en Afrikaners in besonder hê. Maar dit kan net gebeur wanneer ons die diepte-dimensies van Geloftedag bewandel.
Want sien, jy kan met Geloftedag enersyds die punt mis en andersyds dalk die volheid daarvan mis. Jy kan die volheid mis deur net op die letterlike betekenis te fokus en by die gees en bedoeling van Geloftedag verbygaan. Jy kan egter ook die punt heeltemal mis deur ’n gees en bedoeling in Geloftedag in te lees wat nie op die letterlike betekenis van Geloftedag gegrond is nie, maar in ’n ander agenda – links of regs. Ons moet hierdie afwykings raaksien wat in die geskiedenis van Geloftedag ongelukkig ook hulle aanhangers gehad het en steeds het. Meer nog, ons het nodig om in hierdie een-en-twintigste eeu, die era van die derde Afrikaner, met nuwe opgewondenheid weer aan te sluit by die benadering van die eerste Afrikaner, soos verteenwoordig deur die Voortrekkers. Dit is ’n weg waarin jy die volheid van die Gelofte betree deur die letterlike en die simboliese betekenis van die Gelofte in Christus en aan die hand van sy Woord met mekaar in verband te bring. Weet u waarby kom ons dan, geliefdes? Ons kom by die rykdom van die Gelofte wat ook ons en ons kinders nog lank kan vernuwe en waarin ons aansluit by die beste weergawes daarvan in vorige geslagte.
Vriende, by hierdie punt in die geskiedenis kan ons die syspore nie meer bekostig nie. En die maklikste manier om daarvan vry te bly, is om die weg van die heerlike alternatief voortdurend voor oë te hou. Ons gaan dit vandag doen deur te begin met die letterlike betekenis van die Gelofte en dan gaan ons hiermee saam ook vra na die simboliese betekenis wat hierop gebou kan word wanneer ons dit in Christus en sy Woord doen.[i] Ons maak dan hier gebruik van die bekende weergawe van die Gelofte wat ook gebruik is om die gewaardeerde Geloftelied te komponeer.[ii] Daarin hoor ons dat die Voortrekkers drie voornemens teenoor God gemaak het: (1) Om hierdie dag elke jaar as ’n dankdag, soos ’n Sabbat deur te bring, (2) om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, en (3) om ons kinders tot in die opkomende geslagte op te roep om daarin te deel. Die doel van al hierdie voornemens was God se eer wat so verheffend uitloop op ’n Godverheerlikende (doksologiese) crescendo in die marslied wat onlangs daaroor gekomponeer is: “Want die eer van sy Naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Vriende, hierdie loflied op God se genade en oorwinning kan voortgesit en voller word wanneer ons saam met die letterlike, ook die geestelike en simboliese dimensies hiervan in Christus uitbou. Ons sou die betekenis van die drie voornemens met die beeld van ’n huis kon vergelyk waarin ons steeds deur die geloof kan inwoon. Maar dan moet ons dit vandag weer hoor dat die drie voornemens van die Gelofte spreek van:
- aanbidding in die sentrum.
- rus en fees in die fondasies.
- ons kinders se kinders se kinders in die uitsigpunt
- Geloftedag spreek van aanbidding in die sentrum
Ons lees dat hy die altaar naby Bet-el oprig, die naam wat Jakob later daaraan gegee het en wat “huis van God” beteken. Jakob noem dit so toe hy die gesig van die leer en die engele wat op en neerdaal gesien het.[iv] En toe kom die Here Jesus en bevestig dat die leer uit die hemel net in Hom ’n werklikheid geword het en dat sy liggaam die huis van God geword het wat vir ons gegee is en waarvan ons nou deel mag word.[v] Die altaar van Abraham naby Bet-el wat “huis van God” beteken, sou daarom reeds ’n heenwysing wys na die hele kosmos wat ’n huis van God sal word vanweë die offer wat Jesus Christus gebring het. Intussen het die altaar elke plek geword waar daar in die Naam van Jesus Christus tot God genader word. Daarom het ons vadere tereg raaksien dat kerke in die middel van ’n dorp of stad, ʼn belangrike en regmatige voortsetting is van die altare wat Abraham opgerig het om gemeenskap met God te beoefen.[vi]
Daarom is dit ook baie gepas dat daar in die bekendste weergawe van die Gelofte, ’n Kerk as simbool van ware aanbidding, sentraal geplaas is. Die bekende kommentator, Johannes Calvyn, wys dan ook treffend daarop dat die altaar in Abraham se tyd ’n toevlug tot en ’n stelling oor die lewende God was teenoor die bygeloof en ongeloof wat hom omring het. Dit was ’n simbool en getuienis daarvan dat Abraham nie ingesuig wou wees in die goddelose kultuur nie en dat hy nie in die bygeloof van die heidene rondom hom wou deel nie.[vii]
En, broeder en suster, een van die redes waarom ons so maklik val vir die pluralisme van ons tyd, wat eintlik maar net neerkom op politeïsme, is dat ons ons gesonde kerke versaak het. Ons moet hoor hoe die Voortrekkers deur hierdie deel van die Gelofte vir ons sê: Jy word wat jy aanbid. Maak seker dat jy verander word na die beeld van God en nie die beeld van een of ander afgod wat jou wil insuig nie. En hoe kan dit gebeur? Deur ware aanbidding en daarom ook gesonde kerke steeds saam met die Voortrekkers as sentraal belangrik in al ons nuwe planne te ag.
Ook as ons planne hoor dat konsentrasie-politiek vir Afrikaners as minderhede belangrik is en daarom werk maak om ankerdorpe en ankergebiede uit te bou. Ankerdorpe en ankergebiede kan net vestings wees as hulle waarlik geanker is – nie in getalle in die eerste plek nie, maar in die ware Anker. Die Woord van God, ons vaders, en ook die beste nadenke van ons dag bevestig dit steeds: Die manier waarop samelewings ten goede verander, gebeur op ’n bepaalde ritme: Vanuit aanbidding, ontwikkel die kultuur, ontwikkel ook die politiek. Ja, vanuit ware aanbidding ontvou die hele lewe.[viii] Ongelowiges wil dit omdraai. Hulle sê gereeld vandag dat godsdiens maar net ’n uitdrukking is van hoe jou kultuur oor sake dink, maar dit is baie gevaarlik en misleidend.[ix] Elke kultuur is gegrond op een of ander godsdiens en vanuit daardie godsdiens ontplooi die kultuur. Dit kan ’n bose kringloop beteken wanneer dit gebou word op erkende of onerkende afgode, maar dit kan ook wonderlike en egte vernuwing van die hele samelewing tot gevolg hê wanneer dit gebou word op die lewende God. Daarom moet ons hoor dat gesonde kerke en ware aanbidding nie ’n luukse is nie, maar dringend noodsaaklik in die sentrum van ons planne is. Dit bring ons natuurlik by die vraag: Hoe lyk egte aanbidding?
- Geloftedag spreek van rus en fees in die fondasies
Ons vadere het ook hierop reeds in beginsel ’n belangrike antwoord gegee in die Gelofte met die eerste voorneme wat genoem is: Om hierdie dag elke jaar as ’n dankdag, soos ’n sabbat deur te bring. Ook hier mis ons maklik die verfrissend-verrassende antwoord wat hulle gegee het op die vraag na hoe ware aanbidding lyk. Want broeder en suster, deur die woord sabbat te gebruik (wat rus beteken), het hulle reeds daarop geantwoord dat ware rus kenmerkend is van ware aanbidding.
Die woord sabbat is ’n tipe kodetaal wat jy net kan begryp as jy die visie van die Voortrekkers op die Bybel en die samelewing kan waardeer. Die Voortrekkers wou daardeur hulle oorwinning laat aansluit by die groot oorwinning oor die sonde en die dood. Dit was en is die feestelike en sielsrustende dag van die Here wat die sentrale hegstuk van hulle weeklikse ritme was. Om iets van hierdie kodetaal van die sabbat te waardeer, moet ons let op die klassieke hoofstuk 4 van die boek Hebreërs waaruit ons gelees het.
Die Hebreërskrywer verduidelik die sabbatsrus van God daar aan die hand van drie gebeurtenisse wat insig in God se ewige rus gee. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag.[x] Dan hoor ons verder (2) ook van die rus in die land Kanaän.[xi] En hierdie rus het weer (3) heen gewys na die groter rus van die volk van God, die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde.[xii] En dan leer die Hebreërskrywer ons dat ons nou reeds in beginsel hierdie rus kan ingaan deur die geloof in die afgehandelde verlossingswerk van Christus vir ons.[xiii]
Broeder en suster, rus – sabbatsrus – is ’n kenmerk en grondliggende saak vir die kinders van God. Dit bevestig dat ware aanbidding nie blote godsdienstigheid is nie, maar eerder gekenmerk word daardeur dat dit rus vir die siel beteken.[xiv] Wat ons dalk nie genoeg hiermee saam sê nie, is dat hierdie sabbatsrus van die begin van die Bybel af staan in die teken van afhandeling van dit wat God self gedoen het, maar hiermee saam ook in die teken van verlustiging en feestelikheid oor dit wat God gedoen het. Dit is hierby wat die Voortrekkers wou aansluit deur hulle voorneme om hul uitsonderlike oorwinningsdag soos ’n sabbat te hou. Hulle wou aansluit by ’n groter rus, by ’n groter fees, by ’n groter verlustiging.
Ons sal baie mooi moet ondersoek instel na waarom ons hierdie heerlike visie op die kerk van die Here en die dag van die Here as simbole van rus, verlustiging en feestelikheid skynbaar verloor het. Soos ’n Iranees-Amerikaanse Christen dit beskryf: “Ons het die vryheid wat uitgebeeld word deur die dag van die Here verruil vir die vryheid van die markte.”[xv] En die markte het ironies genoeg van ons slawe en rustelose en angstige mense gemaak. Waarom het dit gebeur? Vriende, dit kon net gebeur omdat daar ’n geweldige verlies in die Weste plaasgevind het. Die geleerdes praat van ’n metafisiese verlies. Dit beteken dat daar ’n geweldige verlies ingetree het in ons siening van die werklikheid as God se werklikheid.
Die Voortrekkers het met die Gelofte baie meer oor ware rus en fees en ’n werklikheidsbenadering gesê as wat ons dink. Hulle het daarmee hul geskiedenis ingebed in God se geskiedenis, met weeklikse ritmes van rus en feestelikheid in God, wat uitloop op die ewige Sabbatsrus en die ewige heerlikheid. Hulle wou Christelike gemeenskappe wees wat bevestig dat ware aanbidding jou bevry en vernuwe. Wie daarom by die Geloftedag soos ’n sabbat hou, doen goed, maar wie dit ook in verband bring met die dag van die Here as weeklikse simbool van sy bevryding en fees en gemeenskap, doen beter.
’n Vol viering van Geloftedag beteken daarom noodwendig dat ons ook sal vra hoe ons ons lewens behoort in te rig sodat ons ook telkens tot rus en tot feestelikheid voor God kan kom. Laat ons dan met nuwe ywer soek hoe om saam met ons kinders in die weeklikse ritmes van rus en feestelike aanbidding te bly. Broeder en suster, die seën hiervan kan onmoontlik uitbly en een van die eerste tekens sal wees dat ons en ons kinders minder angstig en voller van liefde is. Dit bring ons reeds by die derde saak waaraan ons vaders hulleself verbind het: Om ons kinders en die opkomende geslagte daarin te laat deel. Ons sou die derde punt so kon formuleer:
- Geloftedag spreek van ons kinders se kinders se kinders in die uitsigpunt
Dit moet ons weet: Om ons kinders in die oorwinning oor die Bose te laat deel, is die hoogste voorreg, maar dit vra ook bewustelike, heerlike en harde werk. Dit vra onder meer dat ons werk daarvan sal maak om die bronne te herstel waaruit Geloftedag gevoed word. Anders gestel: Dit vra dat ons die wêreldbeskouing sal herstel waarbinne die Gelofte vir jou sin maak. Anders sal ons nie veel meer kan doen as om die doppie van Geloftedag een keer per jaar af te stof nie.
Want dit is wat gebeur wanneer die verlies van jou wêreldbeskouing, jou visie op die werklikheid as God se werklikheid, nie reggetrek word nie. Jy hou miskien vir ’n tyd lank nog vas aan die doppie van die Christelike en Westerse erfenis, en vir ons hier vandag sluit dit die viering van Geloftedag in, maar sonder die inhoud en die visie op die geheel, sal dit nie kan aanhou nie. Te veel Afrikaners het die Voortrekkers se visie op God en die werklikheid, soos geopenbaar in die Bybel, verloor en gebruik nou – bewus en onbewus – ander skemas, soos die besonder gewilde hiperindividualisme van ons dag, om sin te maak van die wêreld.[xvi] Maar hierdie skemas erken nie konsekwent die ware God en sy rigtinggewende Woord in die middelpunt nie, en kan nie ware en blywende rus en fees gee nie. Sulke skemas keer dikwels alles om. Goed word sleg en sleg word goed genoem, want dit is wat gebeur waar God en sy Woord nie in die sentrum erken word nie.[xvii] Een van die duidelikste tekens hiervan is dat mense wat hiervoor swig, mettertyd ook waardering vir die Gelofte en ons volksgeskiedenis verloor. Maar die Gelofte en die lewensvisie wat daarin veronderstel word, daag ons vandag uit om die vreemde magte en vreemde wêreldbeskouing teen te staan. Dit is vreemde magte en gode wat ons kinders leer om skaam te wees vir hul geskiedenis waarin God en sy Woord sentraal gestel is. Ja, ons en ons vaders is hierin ook maar sondige en gebroke mense, maar altyd was die gesindheid van ons vadere dat ons verder behoort te reformeer aan die hand van die Woord.
Broeders en susters, om ons kinders te laat deel in God se eer, vra dat ons daadwerklik aandag sal gee aan die lewensvisie waarmee hulle gekonfronteer word, met besondere verwysing na skoolkurrikulums. Ons sal mos nooit wanvoeding van ons kinders bevorder nie. Waarom sal ons dan terugsit wanneer ons kinders wanvoeding in kurrikulums ontvang? Dit is ouers se voorreg en dit vra offers, maar dit is heerlike en geseënde werk. Dit is verbondswerk!
Een van die aangrypende evangeliese liedere oor God se seën wat onlangs in Afrikaans vertaal is, sing dit vir ons toe: “Die Here seën jou, en bewaar jou, skyn sy aangesig oor jou,” en dat dit mag wees “oor jou kinders en hul kinders en hul kinders”.[xviii] Daarvan het ons vadere reeds gespreek in hul gelofte: “En dat ons vir ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel, tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.” Maar die gevaar is dat ons kan dink dat hierdie seën in die lug hang. Vriende, hierdie seën kan net ’n werklikheid word wanneer ons moeite doen om ons kinders in te lei in die lewensvisie (wêreldbeskouing) van ons gelowige vadere. Konkrete, weeklikse aanbiddingsfeeste waar die verbond met ons en ons kinders in Christus deur sy Woord en Gees vernuwe word, ook genoem eredienste, is die logiese en ritmiese beginpunt. So staan ons met dankbaarheid op die Voortrekkers se skouers om verder te bou. Ons is deel van die Voortrekkers se kinders se kinders se kinders wat geseënd bly voortleef aan die Suidpunt van Afrika.
Dit is wat so aangrypend hartseer is van Lot, die broerskind van Abraham, waarvan ons gelees het. Sy geskiedenis het deur sy keuse om ’n ander kurrikulum te akkommodeer, tragies geword, al is dit ook so dat hy later tog in die Nuwe Testament as regverdige getipeer is.[xix] Lot sien die omgewing se mooi dele in en om Sodom en Gomorra en gaan vestig hom daar toe Abraham aan hom die geleentheid gee. Ons lees dat dit gelyk het soos die tuin van Eden. Maar die geskiedenis wys dit was ’n na-aap Eden, ’n valse Eden, ’n valse hemel op aarde, want ons lees die mense daar was sleg en groot sondaars voor die Here.[xx] Lot en sy vrou leef deur die begeerlikheid van hul oë en hulle word betower en kyk vas teen die mooie van die hier en nou, maar hulle leef nie deur geloof in God se beloftes soos dit hoort nie. Daarom neem Lot se geskiedenis, sowel as die van sy nageslag, ’n tragiese wending.[xxi] Afrikaners sal hulleself moet vra of hulle wil hê dat hulle en hulle kinders meer soos Lot of meer soos Abraham sal optree. Lot slaan sy tente tot by Sodom op, maar van Abraham lees ons dat hy bo alles in God se beloftes rus en daaraan vashou en daaruit leef. Daarom kan hy altare selfs in die droër gebiede bou in die wete dat die hele land uiteindelik aan hom belowe is.[xxii]
Abraham bly dalk in die minder aanskoulike dele, maar hy is ook minder as Lot uitgelewer aan die versoekinge, die afgode en die filosofieë van Sodom. En let nou mooi op: Nie net in die geskiedenis en die ewigheid nie, maar ook in sy eie tyd, kan Abraham vir Lot en die nasies tot seën wees. Want ons lees reeds net in die volgende hoofstuk dat Abraham se huis vir Lot en ook ander volke red wanneer hulle weggevoer word. En nog ’n bietjie later tree hy selfs in vir hulle wanneer God se oordeel oor ’n goddelose samelewing losbars.[xxiii] Abraham is reeds in sy tyd ’n seën vir die nasies rondom hom en oor tyd heen sou daardie seën onmeetbare vlakke bereik met die versoening wat die Christus, wat uit sy nageslag gebore sou word, vir alle volke sou bring – ook die volke van Suid-Afrika. Dit is daarom ook die heerlike mikpunt en volheid van Geloftedag: God se eer en van daaruit seën vir die nasies.
Daarom vriende, laat ons eerder wandel in die voetspore van die vader van die gelowiges. Dit sal nie net vir jou en jou gesin en volk seën bring nie, maar ook vir die volke rondom jou. Wanneer nuwe werk en trekgeleenthede oor jou pad kom, kyk mooi of daar plekke en gemeenskappe van ware aanbidding is waar jy gaan en waar die omgewing nie vir jou nie, maar jy saam met ander kinders van God in sy krag, die omgewing verander omdat jy by ware aanbidding bly en daardeur ook werklik ’n seën vir ander is. Laat ons nie vaskyk en betower word deur mooi gebiede en werksaanbiedings, maar in die proses meegesleur word in die stille akkommodering van Sodom wat ook in ons tyd ’n werklikheid is nie. Wanneer ons ons kinders nie voluit inlei in die Gelofte en ’n visie op die werklikheid wat daardeur gevoed word nie, stel ons onsself en ons kinders in die posisie om soos Lot te raak – al hoe meer akkommoderend met die filosofieë van Sodom, totdat tragiese gevolge begin afspeel.
Ten slotte
Vriende, dit is hoe ons wandel in die volheid van Geloftedag: Deur dwarsdeur die jaar aandag te gee aan aanbidding in die sentrum van ons lewens, rus en fees in die fondasies, en moeite met ons kinders in die uitsigpunt. Dit is hoe Geloftedag meer as net ’n doppie vir ons bly. Dit word voller wanneer ons onsself deur die Gelofte laat lei om in te skakel op ’n groter visie van aanbidding en rus en feestelikheid waarin ons ons kinders meeneem.
Dit is ’n samelewingsorde wat nie net sing van seën nie, maar seën beleef en ’n seën vir ander is. Dit is wat Afrikaners en Suid-Afrika nodig het. Ons het mense nodig wat nie net wag tot aanstaande jaar om die bladmusiek en kampstoele weer af te stof nie, maar elke dag meewerk aan die tipe samelewingsorde wat deur ons vadere in die Gelofte veronderstel is. En dan vandag te dank, te rus, fees te vier en toe te wy aan God. En ons kinders mee te trek. En hul kinders en hul kinders se kinders. Tot ons weer ontmoet en totdat die ewige rus juigend betree word. Amen.
[i] Let op: Die simboliese dimensie is onvermydelik ter sprake. Die probleem met die modernisme en postmodernisme is dat die simboliese dimensie nie in Christus en gebonde aan die Woord gedoen word nie, maar in diens van sogenaamd nuwe agendas en narratiewe. Vir die werkswyse hier, wat aansluit by die kerkvaders, kyk gerus na die volgende artikel: “Die vierperdewa” by http://www.standpunte.co.za/die-vierperdewa/
[ii] Luister gerus weer na die Geloftelied by https://www.youtube.com/watch?v=II7Z2ldgaR8
[iii] Vgl. Rom. 4:11.
[iv] Gén. 28.
[v]. Vgl. Joh. 1: 52; 2:20-21.
[vi]. Vgl. in hierdie verband die pas verskene publikasie van Douglas Wilson, Gashmu Saith It: How to Build Christian Communities that Save the World. Die volgende treffende woorde word gebruik om die werk te bemark: “Hierdie boek is vol wysheid: Kry eelte. Wees lojaal. Beveg sonde. Bou mure aan die buitekant en ‘n kerk in die middel.”
[vii] Vgl. Calvyn se kommentaar op Génesis.
[viii] Vgl. in hierdie verband die bekende stelling van die publieke teoloog, wyle Richard John Neuhaus: “Culture is the root of politics, and religion is the root of culture.”
[ix] Vir ’n goeie oorsig oor hoe die modernisme en postmodernisme dit wat in die sentrum was na die rand verskuif het en omgekeerd, luister gerus na Louis Markos se toeganklike bespreking hiervan in die Great Courses-reeks – From Plato to Post-modernism: Understanding the Essence of Literature and the Role of the Author.
[x] Hebr. 4:4. Dit is duidelik dat dit daar reeds die betekenis het van afhandeling, verlustiging en feestelikheid.
[xi] Hebr. 4:8.
[xii] Hebr. 4:9.
[xiii] Hebr. 4:11; 6:19-20; 10:19-22.
[xiv] Een van die mees aangehaalde frases van die ou Kerkvader, Augustinus, het ook hiermee te make. Hy het gesê dat God ons vir Homself gemaak het en dat ons harte onrustig is totdat ons rus vind in Hom. Ons vadere het dit in hul beendere aangevoel en ons voel dit steeds aan en dit kom in ons dag steeds uit in bekende uitdrukkings soos: raak net rustig, rustig, rustig. Of: Rus in vrede. Die wonderlike is dat Christene hierdie rus kan begrond: Jesus Christus het die werk van ons verlossing afgehandel en uitgeroep dat die versoening met God volbring is (vgl. Joh. 19:30). Hoe heerlik dat ons in Jesus Christus hierdie rus mag ken.
[xv] Vgl. die boeiende onderhoud met Sohrab Ahmari oor Sondag en ons metafisika by http://dagvreemdeling.blogspot.com/2021/07/sondag-en-metafisika.html.
[xvi] Vir ’n voorbeeld van hoe dit selfs op teologies-filosofiese vlak ook onder teoloë kan gebeur, vgl. Craig A. Carter se onlangse publikasie: Interpreting Scripture with the Great Tradition: Recovering the Genius of Premodern Exegesis. Carter stel onder meer die volgende: “This book tries to restore the delicate balance between biblical exegesis, trinitarian dogma, and theological metaphysics that was upset by the heretical, one-sided, narrow-minded movement that is misnamed “the Enlightenment.” It is an attempt to recover the pro-Nicene culture of the fourth century—to inhabit the tradition of Nicene orthodoxy in a substantial way and not just by mimicking certain vocabulary in superficial ways while actually operating as if the neopagan metaphysics of the Enlightenment were true.”
[xvii] Vgl. Jes. 5:20.
[xviii] Luister en kyk gerus na Retief Burger en Riana Nel se lied, “Die Seën”, by https://www.youtube.com/watch?v=0_TdJq2YGSg
[xix] 2 Petr. 2:7.
[xx] Vgl. Gén. 13:13. Vir ’n indruk van die aard van Sodom se sonde, kyk gerus na die kommentaar van Matthew Henry op Jes. 3:9. Dit gaan oor skaamteloosheid oor en oorgawe aan sonde (vgl. Ook Rom. 1:18-32; 2 Petr. 2:12-17). In ons taal gaan dit daaroor dat sonde genormaliseer en selfs verheerlik word. Die skokkende is dat die volk van die Here in Jesaja se tyd selfs Sodom en volk van Gomorra genoem kan word. Die wonder is dat juis aan sulke mense reinheid belowe word as hulle die saak met God uitmaak en dat jy wit soos sneeu kan word deur God se versoening. Wie egter nie gehoor gee nie, moet die gevolge dra. Vgl. Jes. 1:10-20 en 1 Kor. 6:11.
[xxi] Vir die afloop hiervan, lees Gén. 19.
[xxii] Gén. 13:14-17.
[xxiii] Vgl. Gén. 14 en 18.