Kerkvergaderings het my geleer van ’n meerderheidsverslag en ’n minderheidsverslag wat soms nodig is. Dit help om die kommissie se bevindinge so eerlik en deursigtig as moontlik weer te gee. Die geskiedenis, ervaring en films soos Minority Report, het al dikwels geleer om minderheidsverslae nie gering te skat nie, al is dit ook net om die meerderheidsverslag te slyp. Dit is nogal insiggewend dat ’n minderheidsverslag by die inenting-debat, dikwels implisiet, maar byna nooit eksplisiet in die hoofstroommedia aan die orde gestel word nie. Ons kry wel met strooipoppe te doen, maar die staalman-argumente kom nie werklik aan die bod nie. Vergun my daarom die geleentheid om ’n geldige minderheidsverslag te probeer verteenwoordig, terwyl ek ook iets anders wil doen. Dit is om te poog om moontlikhede vir vrede te bedien in ’n debat waar die spanning skynbaar al hoe meer oplaai. Dit lyk soms of die saak gaan ontplof, maak nie saak hoeveel pogings tot bedaring daar is nie. Tog is daar wel ’n uitweg, maar dan moet ons eers die verskille duidelik voor oë kry.

Die basiese standpunt van hierdie minderheidsverslag is die volgende: Ek wil aanvoer dat ’n glyskaal van individuele risiko en oortuiging duideliker op die voorgrond behoort te wees in die neem van ’n vaksine. Op grond van die risiko-profiel behoort mense minder of sterker oorweging daaraan te skenk om die vaksine te neem. Dit beteken dat almal nie aangemoedig moet word om dieselfde weg te volg nie. Dit beteken veral dat kinders en jongmense vanweë hul heelwat kleiner risiko, nie in die inentingsveldtog betrek moet word nie.[i]

[i] Die WGO stel tans die volgende: “There are currently no efficacy or safety data for children below the age of 12 years. Until such data are available, individuals below 12 years of age should not be routinely vaccinated.” Dit is verder insiggewend en ’n pluimpie vir die Verenigde Koninkryk, dat hulle tans ook nog diegene van 12-17 uitlaat, met uitsondering van diegene met hoë risiko.

statistiek

(Met erkenning aan PANDA)

Wanneer dit só geformuleer word, is dit duidelik dat die hele begrip van kudde-immuniteit ter sprake kom en dat dit ’n sentrale punt is om te debatteer. Dit is juis belangrik terwyl ons rustiger is en selfs die Wêreld Gesondheid Organisasie (WGO) dit nog nie vir kinders onder 12 aanbeveel nie. Hulle het dit egter reeds laat sak van die vorige perk van 16 jaar oud en die tekens is daar dat dit verder kan sak. Nou is die bedoeling nie hier om die waarde van kudde-immuniteit te ontken nie, maar wel om aan te spoor om ruimer oor kudde-immuniteit te besin. Dit is belangrik omdat ons kinders die debat oor kudde-immuniteit nog warmer kan maak. ’n Mens kan ook begryp waarom dit so warm kan raak. Diegene wat heelwat geliefdes naby hulle aan die dood afgestaan het, kyk dikwels net anders na die uitdaging as diegene wat klink of hulle net in terme van data praat. Aan die ander kant kan ’n instelling soos PANDA selfs sover gaan as om tien redes aan te dui waarom kinders en jongmense nie gevaksineer behoort te word nie.[1] Daarom is dit belangrik om reeds nou mooi na te dink of kinders noodwendig hierby betrek moet word, veral wanneer die lyn tussen aanmoedig en verpligting al hoe dunner raak.

Kudde-immuniteit word nie net deur inentings bewerkstellig nie. Hierdie sprong word maklik gemaak tot op die vlak dat dit nou deur sommige as die norm aanvaar word. Die WGO het byvoorbeeld iewers rondom September 2020 hul definisie van kudde-immuniteit verander deur te begin stel dat kudde-immuniteit slegs deur massa-vaksinering kan plaasvind. Toe daar nou geen klein opskudding hieroor ontstaan het nie, het hulle in Januarie 2021 die ou definisie van kudde-immuniteit herstel deur dit te verduidelik as ’n kombinasie van natuurlike en gevaksineerde immuniteit. Die konteks van die definisie veroorsaak egter nog steeds dat die ruimer visie nie genoegsaam aan die orde kom nie.[2] Die data oor die immuniteit van hulle wat reeds die siekte gehad het, is byvoorbeeld iets wat definitief verder gedebatteer behoort te word.[3] Ook die patrone van lande wat minder gevaksineer is en wat ondersoek kan word by die webwerf van Our World in Data, moet nie uit die oog verloor word nie.[4]

Afgesien van die voorspraak vir ’n ruimer definisie, moet daar ook nugter besin word oor die gewig wat hierdie saak in die debat dra. Die wetenskapsjoernalis, Christie Aschwanden, het in die internasionale joernaal, Nature, al in Maart 2021 aan die hand van mense soos Stefan Flasche, ’n vaksine epidemioloog by die Londen School of Hygiene & Tropical Medicine, daarop gewys dat kudde-immuniteit moeilik haalbaar lyk. Aschwanden bespreek vyf redes waarom dit nie moontlik lyk nie: (1) Dit is onduidelik dat vaksines oordrag keer; (2) die uitrol van vaksines geskied oneweredig in die wêreld; (3) nuwe variante verander die kudde-immuniteit matriks; (4) immuniteit mag dalk nie lank aanhou nie, en (5) vaksines mag ou gewoontes van sosialisering aanmoedig. Aschwanden reken nie dat die toekoms daarom donker lyk nie, maar vra wel vir realisme. Aan die hand van Flasche wys sy daarop dat die vaksine ’n verstommende ontwikkeling is, maar onwaarskynlik om die verspreiding heeltemal stop te sit.[5]   

Hierdie oorwegings bevestig reeds dat dit belangrik is om grondig na te dink oor alternatiewe denkwyses oor ons uitdagings. Dit is veral belangrik omdat versmalde denke oor kudde-immuniteit, aangejaag deur die pandemie-koors, maklik die rede is vir dwang van die staat, opstande, en onnodige rusies in families.

Aschwanden skryf nie om hierdie redes nie, maar haar bydrae is belangrik, omdat sy wys op woorde en sinne wat kan help om anderkant versmalde opvattings oor kudde-immuniteit te tree. Vrylik vertaal kom dit neer op woordkeuses soos “veiliger” in plaas van “heeltemal veilig” en “tevrede om met uitdagings reeds terug te keer na ’n normale leefstyl”, “endemie” in plaas van “pandemie” (in dieselfde sin as griep-endemie), “vroegtydige en veilige behandeling” in plaas van “voorkoming van oordrag”. Ek wil hierdie alternatiewe wyses van praat om ander redes as Aschwanden ondersteun, maar dit dankbaar gebruik in die voorspraak vir ’n ruimer hantering van die begrip kudde-immuniteit.

Die argumente wat hiervoor gevoer word, ondersteun dit nie deur die mediese vakwetenskap in die eerste plek nie, maar wel aan die hand van sake waaraan ook die mediese vakwetenskap nie kan ontkom nie. Eintlik bied dit ’n gulde geleentheid om  weer die ou bespreking oor die verwantskap tussen die natuurwetenskappe en die geesteswetenskappe onder oë te kry. Die standpunt hier is dat die een nie sonder die ander kan nie en dat ons die saamspan ook gaan nodig kry as ons omvattend wil nadink en optree in die COVID-uitdaging. Die argumente wat hier gevoer word, bestaan basies uit die volgende oorwegings: (1) Die induktiewe aard van die soort wetenskaplike ondersoek wat ter sprake is; (2) die biopolitieke aard van die omgewing wat ons betree; en (3) die onderdrukkende aard van staatisme. In die volgende artikel sal daar pertinent stilgestaan word by die eerste oorweging.

 [1] Aanlyn:

[2] VERIFY: Changes to WHO’s definition of herd immunity haven’t been ‘secret’. Aanlyn: . Tog reken die WGO steeds net daarna dat dit oneties is om iemand aan ʼn virus bloot te stel. Hierdie stelling kan net verdedig word wanneer die risiko deeglik bepaal is. Vgl. die konteks by

[3] Vgl. , P1421-1423, APRIL 17, 2021. Aanlyn:

 Peter Leithart, 28 Junie 2021. From Sword to Syringe. Aanlyn: ; Vgl. Ook Horowitz: Israeli government data shows natural immunity from infection much stronger than vaccine-induced immunity. Aanlyn: .

[4] Aanlyn: https://bit.ly/3rIeLKu

[5] Christie Aschwanden, 18 Maart 2021: Five reasons why COVID immunity is probably impossible. Aanlyn: https://go.nature.com/3BMyMnD.

 76 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial