Genade geen vrypas vir sonde

Genade geen vrypas vir sonde

… wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel … (Mig. 6:8).

Ek is vrygemaak, daarom hoef ek nie die wet van God na te kom nie. Hoe dikwels hoor ons nie stellings soos hierdie nie? Die Heidel­berg­se Kategismus Vraag en Antwoord 64 worstel met dieselfde vraag: Maak dié leer dat ons uit genade en nie op grond van ons werke nie, gered word, nie van gelowiges sorgelose mense wat nie omgee hoe hulle leef nie? Dit is juis oor hierdie soort sorgeloosheid dat God met sy volk ’n regsgeding hou (v. 2).

Ten spyte daarvan dat God sy volk uit die slawehuis van Egipte losgekoop en by verskeie geleenthede uit die hand van hul vyande gered het (v. 4-5), was daar groot afvalligheid onder die volk. Hulle lewens het nie getuig van ’n lewende verhouding (verbondsgehoorsaamheid) met God nie. Die volk het verdrae met heidense volke gesluit, die ry­kes en vernames het die armes uitgebuit en sleg behandel, daar was on­eer­likheid, leuens en onreg (v. 10-16). God waarsku sy volk dat so ’n lewenswandel vir hulle katastrofiese gevolge sal inhou. Hy herinner hulle daaraan dat die Assiriese bedreiging voor die deur lê.

God beklemtoon dit dat genade geen vrypas vir sonde is nie. Om bevry te wees uit slawerny, beteken nie bandeloosheid nie. Dit behoort juis die motivering te bied tot dankbare gehoorsaamheid. Wanneer Jesus Christus jou bevry uit die houvas van die sonde en die dood, verander die Gees jou sodat daar by jou ’n opregte begeerte is om reg te doen, liefde te betrag en ootmoedig met God te wandel. Johannes sê immers: Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar (1 Joh. 2:3).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 15

Here, laat my hoe langer hoe meer u beeld gelyk word! Amen.

Mig. 6:1-16

Ges. 141

God praat deur sy Woord … Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister (Lk. 16:29).

“Die Here het vir my gesê”, is ’n uitdrukking wat deesdae jou hare laat regop staan. “Waar het jy sy stem gehoor?”, wil ’n mens by­na onwillekeurig vra. Soveel mense maak deesdae daarop aanspraak dat hulle die stem van die Here gehoor het deur drome, visioene, ge­beur­tenisse, afgestorwenes se verskyning of selfs ’n direkte influistering. Hoewel God in die Bybelse tyd, toe die kanon nog nie voltooi was nie, dikwels en op verskillende maniere gespreek het, is dit ’n vraag of Hy dit steeds só doen.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus smeek die ryk man by Abraham om tog vir Lasarus terug te stuur na sy familie en hulle te waarsku oor die oordeel wat op ongelowiges wag. Hy is oortuig daarvan dat hulle tot bekering sal kom as iemand uit die dood hulle waarsku. Abraham stel dit egter duidelik dat niks of niemand meer oortui­gings­krag het as die Woord van God self nie. “Moses en die Profete” was ’n vaste uitdrukking waarmee na die Ou Testament verwys is. Wat Abra­ham dus sê, is dat hulle die Ou Testament het en as hulle dit nie glo nie, sal nie eens iemand uit die dood hulle anders kan oortuig nie.

Hebreërs 1:1 stel dit duidelik dat God nie meer op allerhande ander maniere met ons praat nie. Hy praat met ons deur sy Woord wat getuig van Jesus Christus en sy verlossingswerk. Hierdie Woord is lewend en kragtig sodat dit in staat is om selfs die hardste hart te vermurwe en die sterkste wil te buig. Anders as ander aansprake van Goddelike openbaring, is die Bybel die enigste bron waarin God se Woord on­teen­seglik geverifieer kan word.

Bykomende Skrifgedeelte: Mig. 7

Here, maak u Woord ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad! Amen.

Lk. 16:1-31

Ps. 119:1, 39

Die Here maak bymekaar

Die Here maak bymekaar

Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom (Mig. 4:1).

Die Here … sal nie vir altyd twis en vir ewig die toorn behou nie (Ps. 103:8, 9). Nadat ons in die vorige hoofstukke gelees het van God se oordeel, begin hierdie hoofstuk met: maar en sing van ’n nuwe era: die dae van die Messias wat kom. As gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid en ongeloof het die evangelie na die heidene gegaan. In Christus is ’n nuwe geloofsvolk gebore: sy kerk waarvan Hy die Hoof is, wat sal vasstaan en sal uitstaan bo die volke rondom – gebou op die rots van die geloof; ’n volk wat sy seën in oorvloed sal geniet.

Hy sit as Koning en Regter oor die volke, en daar is vrede onder sy heerskappy. Uit die volk oor wie sy oordeel gekom het, het Hy ’n oorblyfsel bymekaar gemaak – uit die wat verstrooid is, wie kreupel is en die wat Hy deur sy oordeel kwaad aangedoen het. Hulle het ’n magtige nasie geword en volke stroom na hulle toe. Die Here Jesus waak oor hulle soos die herder oor sy kudde. Hy red uit die ballingskap, uit die slawehuis van sonde. Sy kudde sal uitroep: … ons sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altyd … (v. 5). Die Here Jesus leer in Johannes 5:24: … wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie …

En die ander volke? Hulle bly onder die toorn van God.

Aan watter volk behoort u?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 13

Maak ook my hart vir U tot troon, Here. Amen.

Miga 4:1-14

Ges. 296:1, 2

Jy moet hom Jesus noem … uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees … (Mig. 5:1).

Die vorige hoofstuk het op ’n negatiewe noot geëindig: Vyande is besig om ’n wal teen Israel te gooi; hulle slaan die koning van Israel met ’n stok op die kakebeen. Die volk van God kry swaar onder die vyand.

Maar daar kom ’n Heerser wat vanuit die ewigheid tot in die verste ewigheid met ’n ystersepter sal regeer. Op God se tyd sal hierdie Koning gebore word om die mens wat onder die wet is, los te koop.

Hy kom in nederigheid om te dien; waarlik God om die toorn van God op die sonde te dra, maar ook waarlik mens om die straf van die sondaar te dra. Hy sal die Herder van sy volk wees; Hy sal sy geloofsvolk, uitverkore, geheilig, wat sy seën sal geniet en in vrede sal leef, bymekaarmaak en saggies lei.

Hy heers as Oorwinnaar oor die groot vyand van God en mens. Die raadsplan van God vir die verlossing van die mens het Hy volbring. Hy sal eendag Satan en sy engele toesluit in die put wat brand met vuur en swael.

Hy maak alles nuut: Pyn, moeite, swaarkry en verdriet sal daar nie meer wees nie, ook nie nag en vervloeking nie, want God sal by hulle woon as hulle God en hulle sal in sy lig leef tot in ewigheid. Hy sal sit as Regter oor die lewende en die dode.

Christus se soendood was ’n hoë prys. Dit het Hom sy lewe gekos omdat Hy die mens liefhet met ’n onmeetbare liefde. Hy is die Heerser, die Messias wat gekom het.

Is Hy Koning oor jou lewe? Hy het gesterf sodat jy kan lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 14

Here Jesus, dankie dat U my Koning is. Amen.

Miga 5:1-14

Ges. 133:1-3

God se skool van die lewe

God se skool van die lewe

Toe beskik die Here GOD ’n wonderboom … (Jona 4:6).

God se gedagtes is nie ons gedagtes nie en ons weë is nie sy weë nie (vgl. Jes. 55:8). Hoe maklik wil ons vir God voorskryf wat om te doen. Alles is mooi en goed solank dit ons pas, maar, as dit ons nie pas nie …

Jona en ons toon talle ooreenkomste. Jona wil eintlik hê dat God die Nineviete moet vernietig. As God se wil dan is om hulle genadig te wees, word Jona kwaad en wens om te sterwe. Ook as God uit vrye wil die wonderboom gee, is daar eers blydskap, maar as God dit laat verdor deur ’n gloeiende oostewind, word Jona opstandig as dinge nie gaan soos hy dit wil hê nie.

Die mens moet in God se leerskool leer dat Hy God is; dat Hy besluit volgens sy raadsplan en dit staan vas; dat sy besluit in die ewigheid geneem is; niemand kan Hom voorskryf nie en dat sy besluite die hele skepping omvat.

Romeine 9:20 leer dat die maaksel nie vir die Maker kan voorskryf wat om te doen nie. Toe Job met God geworstel het oor wat met hom gebeur, leer hy God se les: Ek weet dat U alles kan doen … dinge (is) te wonderbaar vir my … Daarom herroep ek en het berou … (Job 42:2, 3, 6).

Ons leer hieruit: In stil wees en vertroue bestaan julle krag (Jes. 30:15).

Die onverbreekbare wil van God hou ook ’n groot troos en sekerheid in: In Jesus Christus is ek uitverkies as sy kind. Niemand kan dit verander en my van sy liefde skei nie. God se wil op Gólgota bring redding vir elke gelowige.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 9

Here, leer my dat ek u grootheid en almag kan raaksien in alles wat met my gebeur. Amen.

Jona 4:1-11

Ges. 31:1-3

Wanneer God se geduld opraak

o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis (Mig. 1:2).

God se dag van oordeel is op pad! Die Regter staan voor die deur! Miga waarsku, maar die volk wil nie luister nie: Want die inwo­ners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die Here  (v. 12).

Die dag van beslissing het aangebreek: Die Here roep sy volk op tot ’n hofsaak oor hulle sonde. Hy is Aanklaer en Regter. Die hele wêreld moet hoor: Die Here gaan uit sy woonplek uit, die Almagtige betree die hoogtes van die aarde en niks kan voor Hom standhou nie. Berge smelt soos ys voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom, laagtes skeur oop; verskriklik is die oordeel, vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God! Hy gaan die ongehoorsame wêreld straf.

Ons hoor ook dikwels hierdie waarskuwing. Sondag vir Sondag word ons gewaarsku: Die dag van die wederkoms is naby, maak jou saak met Here reg. Telkens as ons die Woord oopmaak, hoor ons hier­die vermaning. Maar ons dink soos die volke aan wie Miga hierdie boodskap gebring het: Dit is nog ver, God sal ons nie straf nie, ons is dan sy geloftevolk, nasate van die Reformasie.

God se Woord is duidelik: Daar kom ’n dag wanneer die poorte van die hemel gesluit gaan word; wanneer God eers sy oordeel gaan afhandel (Openb. 15:8). Dan is dit te laat vir bid en om tot bekering te kom vir die wat nie wou hoor nie!

Maar nou is nog genadetyd: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Joh. 1:9).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 10

O God, wees my sondaar genadig. Red my deur u groot genade. Amen.

Miga 1:1-16

Ps. 130:1, 2

Jona erken sy fout

Jona erken sy fout

… wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (Jona 2:9).

Jona het ’n opdrag van die Here ontvang om sy boodskap aan Ninevé te gaan verkondig. Hy besluit egter daarteen en vlug per skip na Tarsis om van die aangesig van die Here weg te kom. Sy straf omdat hy gevlug het, was dat hy in stormsee oorboord gegooi is en die Here ’n groot vis beskik het wat hom ingesluk het.

In hierdie hoofstuk vind ons die aangrypende gebed van Jona waarin hy smeek om redding. Hy besef sy ellende en sy gebed word in werklikheid ’n danklied vir verlossing wat reeds bewerk is. Jona onderneem om te gaan doen waarvoor hy geroep is: … wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (v. 9). Daarom sal Jona die eer aan God bring wat Hom toekom, want die redding is by Hom alleen!

Redding is by Jesus Christus alleen te vinde. Trouens, Hy het die verlossing reeds bewerk! Al is ek tot die dood toe vasgedraai in my ongehooraamheid en die gevolge daarvan, is daar vir my vergiffenis en verlossing by Hom. Al is ons ontrou, Hy bly getrou om ons ons oortredinge te vergewe as ons dit voor Hom bely en laat staan.

In terugkeer na Jesus Christus lê ons redding. Maar dan moet die belofte van Jona in ons lewens ’n werklikheid word: “Wat ek beloof het, sal ek betaal”. Indien dit die gesindheid van ons hart is, kom die opdrag weereens na ons toe: Gaan verkondig die evangelie. Dan word die taak vir ons ’n vreugde, want Jesus Christus is die Redder van die wêreld.

Kom ons gaan leef ons beloftes aan God uit en vervul ons roeping.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 7

Here, vergeef my my ontrouheid en gee my krag om nie te vlug nie. Amen.

Jona 2:1-10

Ges. 79:1, 2

Genade in God se hande

God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg. Toe het God berou gehad oor die onheil …
en Hy het dit nie gedoen nie (Jona 3:10).

God het ons eerste liefgehad en sy Seun gestuur as ’n versoening vir ons sondes. As ons maar twee dinge net wil besef: God stuur Christus tot redding vir elkeen wat glo, ongeag volk, taal of kultuur. God se wil is dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom en dat niemand verlore sal gaan nie.

Soos vir Jona, roep God elkeen van ons tot diens. As ons dan die implikasies van die opdrag besef, word die uitvoering hiervan dikwels net ’n pligsbesef. Dan dink ons dikwels: Laat ek tog maar gaan en klaarkry; so-en-so sal tog nooit die hemel sien nie en om aan hom die Woord te bring, is net tydmors.

Dit was ook Jona se gesindheid: Die uitverkore volk is tog Israel, nie die Nineviete nie! As hy dan sien dat God genade aan ’n heidenvolk betoon, word hy kwaad en kom in opstand teen God se wil: ek het geweet dat U ’n genadige … God is (v. 2).

By God is geen aanneming van die persoon nie. Ons weet ook nie wie Hy in sy ewige raadsplan uitverkies het as sy kinders nie. Vir Petrus stuur die Here na die Romein Cornelius en sy familie. Dink maar aan die Here Jesus en die Samaritaanse vrou en Paulus op die Areópagus onder die Grieke.

God se liefde in Christus reik uit na elkeen in die wêreld. Ons mag nie die verkondiging net vir onsself hou nie. Julle sal My getuies wees … tot aan die eindes van die aarde (Hand. 1:8).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 8

Maak my gewillig om altyd en oral ’n getuie vir U te wees, Here Jesus. Amen.

Jona 3:1-10

Ges. 128:1-5

Christusgelowiges neem nie wraak nie

Christusgelowiges neem nie wraak nie

Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom (Obad. 1:15).

Ons voel dikwels om ons te wreek op iemand wat ons iets aangedoen het. Israel het ook so gevoel. Edom (nasate van Esau) het met die Babiloniërs saamgespan tydens die ballingskap in 586 v.C. Hulle het die Israelietiese vlugtelinge voorgelê en vermoor of aan die Babiloniërs oorgelewer. So iets was ongehoord vanweë die noue band tussen die twee volke (Deut. 23:7). Nou tree die Here self vir sy volk in: “Die dag van die Here is naby”.

Hierdie boek wil ons leer dat God goeies en slegtes beheer. ’n Kind van God mag nooit self wraak neem nie: En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie … (v. 12). Telkemale lees ons in die Skrif dat die Here self sal vergeld. God se opdrag aan u en my is om te vergewe soos ons wil hê dat Hy ons sal vergewe en eerder vir hulle wat ek vergewe, te bid. Vir die wêreld is vergiffenis die einde van die pad van genesing, maar vir die gelowige begin die pad by vergiffenis!

God is liefdevol maar Hy is ook regverdig: Hy het sy volk lief, maar Hy straf alle sonde van almal. Hy het die sonde van sy volk gestraf en hulle na Babilon laat wegvoer; só straf Hy ook die sonde van heidenvolke soos Edom. Daarom mag ons nooit agter ons Christenskap skuil en dink dat ons opsetlike sondes ongestraf sal bly nie.

In Jesus Christus is daar genade vir elkeen wat in Hom glo en sy sonde bely en laat staan. Hy het die hemelse Kanaän gaan berei vir elkeen wat aan Hom behoort.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 5

Here, vergewe my soos ek my skuldenaars vergewe. Amen.

Obad. 1:1-21

Ges. 25:5

Veg of vlug?

Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé … (Jona 1:2).

Uit genade gebruik die Here mense in sy diens: Hy roep Moses, Jeremia, Johannes die Doper en vele ander. Hy roep ook vir Jona. Hy roep ook vir u en my om in sy diens te staan. Ons lees van al die verskonings wat aangebied is – Jona klim selfs op ’n skip na die ander einde van die wêreld om van die aangesig van die Here af weg te kom – asof dit sou help!

Watter verskonings het ons wanneer ons gestuur word? Soos Moses: “Ek kan nie praat nie” of soos Jeremia: “Ek is te jonk”. Sê jy: “Ek is skaam vir mense”? Die Here Jesus sê: Gaan dan … (Mt. 28:19) en: Kyk Ek stuur julle … (Lk. 10:3). In 1 Petrus 2:9 lees ons: … julle is ’n uitverkore geslag … om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Ons het die wonderlikste geskenk uit God se hand ontvang: ’n Verlosser wat vir ons lief is, wat bereid was om vir ons aan ’n kruis te sterf om vir ons die lewe terug te gee, ’n opgestane Here Jesus wat oor sy kerk regeer en wat weer sal kom om ons na Hom te neem – en ons monde is geseël!

Saam met die opdrag: Ek stuur jou!, kom ook die bemoediging: Ek is met jou! en: die Heilige Gees sal julle in daardie uur leer wat om te sê – daarmee val al ons verskonings weg!

Voor Jesus Christus se hemelvaart kom die laaste opdrag: … julle sal My getuies wees … tot aan die uiterste van die aarde (Hand. 1:8).

Of gaan ons vlug?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 6

Here, maak my bereid en gereed om in u diens te staan. Amen.

Jona: 1:1-17

Ges. 318:1-3

Die klippe sal uitroep

Die klippe sal uitroep

… en die Here het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel (Amos 7:15).

Hoe ernstig is ons met God se Woord – veral t.o.v. ons roeping om om die boodskap van redding aan ander te bring?

Ons het dikwels soveel verskonings. Amos kon net soveel versko­nings uitdink: Hy is nie ’n profeet nie; hy is ’n eenvoudige boer; ’n kwe­ker van wildevye. Maar nee, hy antwoord: Die Here het my agter die kleinvee weggeneem en aan my gesê: Gaan heen, profeteer … Gaan bring my boodskap al wil hulle dit nie hoor nie: … jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word … (v. 17). Hier sien ons tekens van ’n kerk wat net mag preek wat die staat voorskryf: die tempel is ’n koninklike heiligdom en ’n tempel van die ryk. Amos word aangesê om na Juda terug te gaan en daar sy brood te gaan verdien. Hy is nie meer welkom nie.

Kan ons die wêreld meer gehoorsaam wees en swyg oor die groot da­de van God in die Skrif en in die wêreld? Ons wat die grootste ge­skenk van alle eeue uit God se hand van genade ontvang het: ver­­los­­­sing deur die bloed van ons Here Jesus Christus, versoening tussen Skepper en skepsel; toegang tot die Vadertroon; vrede met God?

Is ons gereed en bereid om saam met Maartin Luther vir die wêreld te sê: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!”?

Die Here Jesus roep elke gelowige: Gaan verkondig die boodskap van verlossing aan die hele wêreld. Wanneer ons met verskonings wil kom, leer Hy: die Heilige Gees sal julle leer wat om te sê. Die belofte soos aan Jeremia kom ook tot ons: Ek sal met jou wees.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 3

Maak my ’n gewillige boodskapper, altyd en oral, tot die eer van u Naam, Here. Amen.

Amos 7:10-17

Ges. 273:1, 4

In die sif of op die grond?

… Ek gee bevel en sal die huis van Israel … skud soos in ’n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie (Amos 9:9).

Niks kan die gelowige skei van die liefde van God in Christus nie. Maar ook sal niks en niemand aan sy verskriklike oordeel ontkom nie.

Die Here staan in sy heilige plek: in die tempel, by die altaar. Daar waar God sy volk ontmoet, waar versoening gedoen word, word nou die toneel van vernietiging. Nie meer ’n God van liefde nie, maar ’n verskriklike vyand! Sy oordeel begin by sy kerk.

Hierdie gedeelte wil ons daaraan herinner dat God liefde is, maar Hy is ook regverdig. Israel wil nie luister nie. Die enige en almagtige God gaan die ongehoorsames straf en niemand gaan ontkom nie. Wanneer God die sif skud, sal niemand kan vlug of wegkruip nie. Daar kom ’n dag wanneer die poorte van die hemel gesluit gaan word totdat God se toorn oor die sonde volvoer is (Openb. 15:8).

Maar elkeen wat sy sonde bely en laat staan sal genade vind. Ook die herstel kom uit God se hand: Uit genade skenk Hy die nuwe, volmaakte Jerusalem.

Dit het Hy kom doen in Jesus Christus: Vir dié wat moeg en ellendig is het Hy rus kom bied; Hy het vir gelowiges plek kom berei in die nuwe Jerusalem; trane het Hy kom afdroog; siekte, moeite en verdriet sal daar nie meer wees nie; ook die dood is iets van die verlede. Daar sal net vreugde wees: vir altyd in die teenwoordigheid van God! Dit is elke gelowige se heerlike vooruitsig!

Die Here Jesus nooi elke vermoeide: Kom na My toe! Ek sal julle rus gee. Ken u daardie rus?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 3

Here, maak my nuut en uit genade deel van u volk. Amen.

Amos 9:1-15

Ges. 62:1, 4