Op die lydensweg

Op die lydensweg

… en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun … vervul word (Lk. 18:31); [HK So. 12 V/A 32].

Goeie Vrydag herinner ons aan:

• Die goeie van die Christus-vergifnis op Gólgota, maar die slegte dat die Israelitiese godsdiensleiers dit teenstaan.

• Die goeie dat die genadige Verbondsgod in Christus kruis-verlossing kom bewerk, maar die slegte dat die Israeliete o.l.v. die owerpriesters en skrifgeleerdes die verlossing verwerp.

Vir die derde keer vertel die Here Jesus sy dissipels dat Hy op die lydensweg is, op pad is na sy dood. Die profete het egter voorspel: … op die derde dag sal Hy opstaan (uit die dood).

Daarom: Christus se lydenspad na Gólgota is ’n profeties-bestemde, kerklik-veroordeelde en dood-oorwinnende weg.

Profeties-bestem: Profete in die Ou Testament maak dit bekend (bv. Jer. 1:1-5). So is Jesus Christus se dood deel van God se heilsplan (Jes. 53).

Kerklik-veroordeel: Die Ou Testamentiese kerk (het Christus as Mes­sias verwerp en sy dood geëis.

Dood-oorwinnende weg: Lukas skryf drie maal dat die twaalf … niks hiervan begryp … nie (v. 34). Dat die Here Jesus moes sterf, verwerp word en opstaan uit die dood, is verbysterende nuus, maar deur niks en niemand gekeer nie!

Vraag 31 van die Kategismus vra: “Waarom word Hy Christus, dit is Gesalfde, genoem?” en antwoord: “Omdat Hy deur God die Vader verordineer is … en ons … met die … offerande van sy liggaam verlos”.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 5:1-11

Gebed: Here Jesus, ek aanbid U as die beloofde Verlosser.

Amen.

Lk. 18:31-34

Ges. 194:1

Ouerhuis soos ’n oorlogskip

Ouerhuis soos ’n oorlogskip

… en jy moet dit jou kinders inskerp … (Deut. 6:7); [HK So. 12 V/A 32].

Op ’n luukse passasiersboot hou jy vakansie, eet lekker kos en ontspan. Maar op ’n oorlogskip is almal slaggereed, want jy is in ’n stryd teen die vyand gewikkel. Mense maak van die kerk ’n passasiersboot en die kerkraad en predikant moet almal gelukkig hou, terwyl die Bybelse beeld van die kerk (dit is jy en ek) elke dag in ’n oorlog teen die duiwel en sy trawante gewikkel is. Helaas is daar ouers (en kinders) wat die ouerhuis ook as ’n passasierboot sien en aldag vakansie wil hou.

In Deuteronómium groet Moses die verbondsvolk en beklemtoon die belangrikheid van die ouerhuis. Soos ’n oorlogskip moet hulle elke oomblik paraat wees: die pa’s en ma’s moet met die kinders oor die Here praat as hulle in die … huis sit … op pad is … gaan lê en … opstaan (v. 7). Ja, die ouerhuis is soos ’n oorlogskip wat altyd in ’n stryd gewikkel is. Huis­godsdiens mag nie net ’n terloopse bietjie Bybellees en ’n opsêgebedjie wees nie; daar moet ook inskerping plaasvind. Dit is soos met ’n swaard wat jy telkens skerp maak. Gebruik die verbondsonderrigwerkboek saam met jou kind, bekom die nuwe Kerkjaarboek met Dagstukkies en skerp jouself as gelowige verbondsouer op.

’n Professor by een van ons universiteite maak die stelling dat meer as 50% van die kinders in Suid-Afrika nie weet wie hulle biologiese pa is nie. Dit voorspel ’n samelewingskrisis in ons land. Dan het die gesinsboot eintlik nie passasiers nie; dan is daar weinig sprake van ’n stryd op die gesinsoorlogskip, en is talle gesinne eintlik op ’n sinkende skip.

Daarom roep die Kategismus “die ouers op om teen die sonde en die duiwel” te stry (Antw. 32), want die ouerhuis is ’n oorlogskip!

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 18:1-7

Gebed: Here, red ons kinders deur middel van skerp en verantwoordelike verbondsouers.

Amen.

Deut. 6:1-7

Ges. 115:1, 3

Milddadig in armoede!

… by hul diepe armoede … oorvloedig in … mildadigheid (2 Kor. 8:2); [HK So. 12 V/A 32].

Swaar beproef, tog oorvloedig in blydskap. Kry swaar, maar is blymoedig! Baie arm, tog ryk in vrygewigheid. Het min, maar gee maklik!

Dit klink te goed om waar te wees. Maar dit het regtig gebeur! Dit staan in die Bybel!

Paulus skryf oor offervaardigheid aan die Korinthiërs en hy weet hoe erg hierdie Christene deur die Jode (en Grieke) benadeel is (vgl. 1 Thes. 1:6; 2:14). Tog het hy ’n unieke waarneming by dié Christen-gelowiges gemaak en wil die Korinthiërs daartoe aanspoor. Van so ’n unieke leefwyse lees ons nie net in die Bybel nie, want ’n onbekende skrywer skryf oor die Christene in 150 n.C.:

• Hulle woon in hul eie land, maar as vreemdelinge;

• hulle deel hulle tafels, maar nie hulle beddens nie;

• hulle is arm, maar maak ander ryk.

’n Sonderlinge leefwyse, waar en werlik in Bybelse tye en in die ná-­By­bel­se tye. Wat is die geheim? Paulus antwoord: … die genade van God … van onse Here Jesus Christus … (v. 1, 9). Die woord genade het in Grieks meer as een betekenis, nl. God se redding deur Christus (8:1, 9) en die Christen se liefdesdaad of liefdeswerk (8:6, 7, 19).

Hoe lyk ons elkeen se diensbaarheid?

Die Heidelbergse Kategismus Sondag 12 Vraag en Antwoord 32 vra: “Maar waarom word jy ’n Christen genoem?” en antwoord: ”sodat ek myself as ’n lewende offer aan Hom (Christus) toewy”.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 50:14, 15

Gebed: Here, maak my selfvergetend diensbaar.

Amen.

2 Kor. 8:1-7

Ges. 316:1

Die Here is mý herder!

Die Here is mý herder!

… daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense … Christus Jesus (1 Tim. 2:5); [HK So. 11 V/A 29].

’n Dogtertjie het op haar pa se plaas die skape opgepas in die kamp waar hulle gewei het. As gelowige gesin het hulle elke aand huisgodsdiens gehou en so het sy by haar pa geleer van die Here Jesus. Hardop moes sy dan sê: Die Here is my herder (Ps. 23:1) en dan vir elke woord van die belydenissie, moes sy met die vingers van haar een hand aftel: Die – Here – is – my – herder.

’n Groot storm het oor die plaas opgesteek en donderslae het die skape so verskrik dat hulle deur die kampdraad gebreek het. Sy is toe vinnig agter die skape aan, maar het verdwaal. Die omringende bure het dadelik na die dogtertjie gaan soek, maar eers baie ure daarna haar verkluimde liggaampie gekry. Met haar een hand het sy die vierde vinger van haar ander hand omklem. Toe het die pa te midde van sy hartseer geweet: in haar laaste oomblikke het sy onthou: Die Here is mý herder.

Die apostel Paulus skryf aan Timótheüs en haal blykbaar uit ’n kon­sep-­belydenis aan. Hy stel dit duidelik: op grond van die Skrif is daar net één God (1 Tim. 2:5), al het die heidendom in Éfese baie gode. Teenoor ander godsdienste wat glo in reekse tussengangers of middelaars, verkondig die evangelie net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus. Hy word nie as Seun van God aangedui nie, maar as die mens. So word na sy optrede as Redder en Middelaar in die geskiedenis verwys. Is die Here Jesus ook jóú herder? Niks of niemand anders kan jou tot in ewigheid bewaar nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:10-12

Gebed: Here Jesus, ek bely: U is my enigste Middelaar en Verlosser!

Amen.

1 Tim. 2:1-5

Ges. 19

Eerste Christene

… en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem (Hand. 12:26); [HK So. 12 V/A 32].

Die naam Christen kom drie maal in die Nuwe Testament voor, nl. Handelinge 11:26; 26:28 en 1 Petrus 4:16. Die Christene het hulleself eerder dissipels, gelowiges of uitverkorenes genoem. Vir die Jode was die naam “Christus” of “Messias” ’n heilige naam, maar hulle het die Here Jesus nie as die Messias erken nie en sy volgelinge verag. Die opvallende is dat volgelinge van Christus die eerste keer Christene genoem word, nie in Betlehem of Násaret of in Jerusalem nie, maar in die heidenstad Antiochië.

As hoofstad van Sirië was Antiochië ’n ryk en belangrike handelstad. Wilde fuifpartye en leë plesier het algemeen voorgekom. Tog was daar ’n groepie mense in Antiochië wat anders was as die menigte plesiersoekers en die heidene wou weet:

• Wie het julle nuut laat dink oor rykdom en plesier?

• Wie het julle verbied om ons gode te aanbid?

Toe antwoord hulle: Jesus Christus! So word die volgelinge van Christus in die heidenstad, Antiochië, vir die eerste keer Christene genoem. Christenskap beteken meer as dat ek nie ’n heiden, ’n Jood of ’n Moham­me­daan is nie.

Die Kategismus verduidelik dit so: Jy is “’n lid van Christus”, jy is soos Hy gesalf, want die Heilige Gees het jou verander sodat jy in Hom glo (Rom. 8:16, 17). Soos gelowiges in die Ou Testament met olie gesalf is, so is ek gesalf tot Christen om Christus te dien.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 119:97-104

Gebed: Here Jesus, as Christen wil ek U dien!

Amen.

Hand. 12:19-26

Ges. 318:1, 3

God se liefhê, is lewe!

God se liefhê, is lewe!

… die Here (het) ’n welgevalle gehad om hulle lief te hê … (Deut. 10:15); [HK So. 12 V/A 31].

God se liefhê is lewe. In die Ou Testament word vier keer na die liefde van God verwys, maar twee en dertig keer na die liefhê van God. Die Bybel gee m.a.w. voorkeur aan die betoning van God se liefde.

Natuurlik sê die Bybel ook dat God liefde is. So vind ons ook in die Nuwe Testament die volgende: maar God bewys sy liefde daarin … (Rom. 5:8) … ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken … God is liefde … (1 Joh. 4:16).

In sy gesprek met Nikodémus vat die Here Jesus die reddingsboodskap soos volg saam: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo … die ewige lewe kan hê (Joh. 3:16). In 1 Johannes 4:8 verklaar die apostel: God is liefde, maar ver­dui­de­lik in sy Evangelie die werking van God se liefde met ’n werkwoord.

Om lief te hê kom ses en dertig keer in die Evangelie voor. Uit God, die Bron van liefde, gaan die werking van sy liefde oor in die uitloop op die groot daad van sy liefde: God gee sy enigste Seun uit liefde om sondaars te red. Daarom is God se liefhê, lewe – ewige lewe!

Ons bely elke Sondag dat ons glo in God drie-enig: God die Vader ons Skepper, God die Seun, ons Redder en in die Heilige Gees, ons Trooster. Daarom moes Jesus, die Christus, sterf, uit die dood opstaan, ten hemele vaar, die Heilige Gees as Trooster stuur en so “ons met sy Woord en Gees regeer … en bewaar” soos verduidelik in die Heidelbergse Kategismus Antwoord 30.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 3:14-18

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my liefhet met ’n volmaakte liefde!

Amen.

Deut. 10:12-15

Ges. 137:1

Die enigste weg!

… niemand kom na die Vader behalwe deur My nie (Joh. 14:6); [HK So. 11 V/A 29].

’n Toeris wou ’n middeleeuse kerkgebou besoek en vra ’n grysaard na die pad daarheen. Breedvoerig het die ou man na al die aanwysings verwys. Die toeris was later geïrriteerd en vra: “Is dit die korste pad?” “Dit is die enigste pad,” antwoord die grysaard.

Presies dit sê die Here Jesus vir sy dissipels hier in Johannes 14. Hulle is diep ontsteld oor wat hul Meester pas gedoen en voorspel het. Eers was daar die voetwassing wat hulle nie begryp het nie (Joh. 13:7). Toe verklaar die Here Jesus dat een van hulle Hom gaan verrraai en wys na Judas (Joh. 13:26). Weldra sal Hy ook weggaan (Joh. 13:33) en Petrus sal Hom drie maal verloën (Joh. 13:38).

Groot onsekerheid oor hul eie trou aan Hom en onduidelikheid oor die toekoms hang in hul gemoed. Het hulle dan nie alles verlaat en Hom gevolg nie? Wat gaan van hulle word as Hy weggaan en hulle nie kan kom waarheen Hy gaan nie? Hulle begryp nog nie ten volle dat die Here Jesus die laaste fases van die pad as enigste Verlosser betree het nie. Al wat hulle moet en kan doen, is om te glo. Glo in God (die Vader), glo ook in My … sê Hy vir hulle (Joh. 14:1). Deur sy kruisdood en opstanding gaan Hy vir hulle in die Vaderhuis, die ewige Vaderhuis, plek voorberei. En daar is net een weg wat jy moet ken na die Vaderhuis, Jesus Christus self en daarom verklaar Hy: … niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Dit is die enigste pad!

So verduidelik die Kategismus dat Jesus Christus die Saligmaker is en dat “… by niemand anders enige saligheid te vinde is nie” (Antw. 29).

Bykomende Skrifgedeelte: 2 Petr. 1:10-11

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my enigste Verlosser is! Amen.

Joh. 4:1-6

Ges. 194:1, 2

Christus die Gesalfde!

Christus die Gesalfde!

… met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag (Hand. 10:38); [HK So. 12 V/A 31].

In die Bybelse tyd is iemand wat deur die Here tot koning, profeet of priester verkies is, met olie gesalf. Die welriekende salfolie het bestaan uit olyfolie gemeng met mirre, kaneel en kalmoes (’n welriekende struik). Samuel het vir Dawid tot koning gesalf deur die salfolie oor sy kop uit te giet (1 Sam. 16:13). Die salfolie was ’n simbool van die Heilige Gees en dit het beteken God het jou uitgekies en rus jou toe vir die roeping en taak.

As Petrus die evangelie verkondig aan die heidene (nie-Jode) in Ce­sa­réa, wys hy daarop dat Jesus Christus gesalf is, m.a.w. Hy is die Gesalfde (Christus) wat deur God verkies is tot die bepaalde taak. Wanneer die Here Jesus gedoop word, kom daar ’n stem uit die hemel: Dit is my geliefde Seun … (Mt. 3:17). Dit beteken dat Hy nie ’n gewone mens is nie, maar die Seun van God wat deur God gestuur is. Sy salwing beteken verder dat Jesus die Christus

• nie net ’n gewone profeet is nie, maar die hemelse/hoogste Profeet is om God se verlossingsplan bekend te maak;

• nie net ’n gewone priester is wat offers hanteer nie, maar Hy is die enigste/hemelse Hoëpriester wat Homself op Gólgota offer;

• nie net ’n gewone koning is nie, maar ons ewige Koning wat die dood oorwin het en ons deur sy Woord en Gees regeer.

So verduidelik die Kategismus wat dit beteken dat dié Jesus wat in Betlehem gebore is en in Násaret grootgeword het die beloofde Messias is. Daarom “… word Hy Christus, dit is die Gesalde, genoem” (Antwoord 30).

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Sam. 16:11-13

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek U as die beloofde Messias mag ken.

Amen.

Hand. 10:34-43

Ges. 86:1, 2

Hartsgebonde gehoorsaamheid!

Daarom moet jy die Here jou God liefhê … en sy gebooie onderhou (Deut. 11:1); [HK So. 12 V/A 31].

Die boek Deuteronómium word meer as tagtig keer in die Nuwe Testament aangehaal. In hierdie Bybelboek neem Moses afskeid van Israel wat weldra Kanaän sal binnegaan. Hy wys daarop dat hulle met die oog op hul nuwe toekoms net sal kan koers hou as hulle die Woord, gebooie en insettinge van die Here sal onderhou. Maar dan gaan dit in die onderhouding nie net oor ’n blote uiterlike en formele pligpleging nie, maar dit gaan oor ’n liefhê-verhouding, d.w.s. ’n hartsverhouding.

Telkens verwys hy na hierdie hartsingesteldheid: Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart … hierdie woorde … moet in jou hart wees (Deut. 6:5, 6). In die Ou Testament het hart (in hierdie verband) die betekenis van die geestelike beheersentrum van die mens. Spreuke 4:23 lui: Bewaar jou hart meer as as alles … want daaruit is die oorspronge van die lewe. In die hart val al die beslissings wat die mens neem, vir of teen God. Daarom het die Here Israel deur die profete gewaarsku: … My (te) eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou … (Jes. 9:13).

In die Nuwe Testamet span die godsdienstige leiers (Fariseërs en Sadduseërs) teen die Here Jesus saam met die vraag: … wat is die groot gebod? (Mt. 22:36). Christus se antwoord is presies wat Moses gesê het soos opgeteken in Deuteronómium 6:5, d.w.s. liefhê met die hart. Daarom moes Jesus Christus, die beloofde Messias (Gesalfde, Christus) aan die kruis sterf en verlossing bewerk en ons met sy Woord en Gees regeer … en bewaar.

So verduidelik die Kategismus wat dit beteken dat Jesus “ons ewige Koning (is) wat ons met sy Woord en Gees regeer … beskut en bewaar” (Antw. 30).

Bykomende Skrifgedeelte: Mk. 12:28-34

Gebed: Dankie, Here Jesus, vir ’n hartsverbondenheid met U.

Amen.

Deut. 6:1-6; 11:1, 13

Ps. 119:1

Van verloёner tot verdediger!

Van verloёner tot verdediger!

Van verloёner tot verdediger!

En die saligheid is in niemand anders nie … (Hand. 4:12); [HK So. 11 V/A 29].

Petrus wat die Here Jesus drie maal verloën het (Mt. 26:75), is dieselfde Petrus wat sy Here nou verdedig. Dit is opvallend: in al vier Evangelies is hierdie verloëning opgeteken. Markus wat Petrus se vertellinge neerskryf, voeg ook by: Toe begin hy (Petrus) homself te verwens en te sweer … (Mk. 14:71). Ja, Petrus, die rotsman, verdedig sy Meester met die swaard, kap Malgus se oor af, maar verloën die Here Jesus voor ’n tenger diensmeisie in kru taal!

Verder meld Johannes (Joh. 18:26) dat ’n familielid van Malgus wat ’n ooggetuie van die swaardaanslag was ook vir Petrus herken het: En Petrus het dit weer ontken … (v. 27). Dit kon kwalik erger, iemand wat die Jesus-dissipel met sy eie oë gesien het en weer ontken hy dit! So word hy die lafhartigste dissipel van die Here Jesus. MAAR dan is dit dieselfde Petrus, vervul met die Heilige Gees (Hand. 4:8) wat sy Meester verdedig. Nou nie meer die rotsman vol van homself nie, maar vol van die Heilige Gees (ná Pinksterdag) wat Hom verdedig.

• Eers die verloëner-Petrus en dan die verdediger-Petrus;

• Eers die selfkrag-rotsman wat verloën en dan die Heilige Gees-kragman wat verdedig.

Hier voor die Joodse Raad wat verantwoordelik was vir Jesus Christus se kruisdood antwoord hy: En die saligheid is in niemand anders nie; ’n an­ker-waarheid i.v.m. Jesus Christus vir die kerk in al die eeue wat sou kom.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:10, 11

Gebed: Here Jesus, ek bely: U is die enigste Verlosser.

Amen.

Hand. 4:8-12

Ges. 19:1

Plus-geloof Christene

Want uit genade is julle gered, deur die geloof … (Efés 2: 8); [HK So. 11 V/A 30].

Marten Luther en veral Johannes Calvyn het ’n deurslaggewende rol gespeel tydens die Kerkhervorming van die 16e eeu. Hulle het die basiese beginsels en waarhede van gereformeerdheid vasgelê.

Hulle ywer het daartoe gelei dat vyf grondwaarhede van die Christelike godsdiens volgens die Bybel vasgestel is, nl.:

Slegs aan God die eer. Slegs die Bybel. Slegs Genade. Slegs Christus. Slegs Geloof.

Na aanleiding van bg. vyf grondwaarhede weet ons dat God ons slegs uit genade red deur Christus alleen. Dit geskied as Christus verkondig word en die Heilige Gees ons laat glo.

’n Mens sou sekere groeperinge die beoefenaars van ’n plus-geloof kan noem. Volgens hulle is dit nie meer genade alléén, Christus alléén en geloof alléén nie, maar dat die vroom mens nog ’n plus moet by doen. Anders gestel: Hierdie mense beoefen dan ’n “Christus-plus-redding”, met ander woorde naas jou geloof in Christus, ook die grootdoop (Wederdopers) of die Sabbatsgebod (Sabbatariёrs). Hulle voeg ’n element van moralisme of verdienste in hul godsdiens. Jou redding word deur jou mede-bepaal, want jy moet “iets” van jou kant af doen. Hulle is Christene, maar hulle is nie gereformeerd nie.

Onthou egter dat Christus Paulus red (terwyl hy Christene vervolg) son­der die Sabbatsgebod en die een misdadiger saam met Jesus Christus op Gólgota is gered sonder die grootdoop.

Daarom beklemtoon die Kategismus dat Jesus Christus die “enigste en volkome Saligmaker is en dat geen saligheid en heil êrens anders” is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Joh 1:11-13

Gebed: Here Jesus, ek erken: U is die enigste en volkome Verlosser. Amen.

Efés. 2:1-8

Ges. 69:1, 2