… daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense … Christus Jesus (1 Tim. 2:5); [HK So. 11 V/A 29].
’n Dogtertjie het op haar pa se plaas die skape opgepas in die kamp waar hulle gewei het. As gelowige gesin het hulle elke aand huisgodsdiens gehou en so het sy by haar pa geleer van die Here Jesus. Hardop moes sy dan sê: Die Here is my herder (Ps. 23:1) en dan vir elke woord van die belydenissie, moes sy met die vingers van haar een hand aftel: Die – Here – is – my – herder.
’n Groot storm het oor die plaas opgesteek en donderslae het die skape so verskrik dat hulle deur die kampdraad gebreek het. Sy is toe vinnig agter die skape aan, maar het verdwaal. Die omringende bure het dadelik na die dogtertjie gaan soek, maar eers baie ure daarna haar verkluimde liggaampie gekry. Met haar een hand het sy die vierde vinger van haar ander hand omklem. Toe het die pa te midde van sy hartseer geweet: in haar laaste oomblikke het sy onthou: Die Here is mý herder.
Die apostel Paulus skryf aan Timótheüs en haal blykbaar uit ’n konsep-belydenis aan. Hy stel dit duidelik: op grond van die Skrif is daar net één God (1 Tim. 2:5), al het die heidendom in Éfese baie gode. Teenoor ander godsdienste wat glo in reekse tussengangers of middelaars, verkondig die evangelie net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus. Hy word nie as Seun van God aangedui nie, maar as die mens. So word na sy optrede as Redder en Middelaar in die geskiedenis verwys. Is die Here Jesus ook jóú herder? Niks of niemand anders kan jou tot in ewigheid bewaar nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:10-12
Gebed: Here Jesus, ek bely: U is my enigste Middelaar en Verlosser!
Amen.
1 Tim. 2:1-5
Ges. 19
Eerste Christene
… en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem (Hand. 12:26); [HK So. 12 V/A 32].
Die naam Christen kom drie maal in die Nuwe Testament voor, nl. Handelinge 11:26; 26:28 en 1 Petrus 4:16. Die Christene het hulleself eerder dissipels, gelowiges of uitverkorenes genoem. Vir die Jode was die naam “Christus” of “Messias” ’n heilige naam, maar hulle het die Here Jesus nie as die Messias erken nie en sy volgelinge verag. Die opvallende is dat volgelinge van Christus die eerste keer Christene genoem word, nie in Betlehem of Násaret of in Jerusalem nie, maar in die heidenstad Antiochië.
As hoofstad van Sirië was Antiochië ’n ryk en belangrike handelstad. Wilde fuifpartye en leë plesier het algemeen voorgekom. Tog was daar ’n groepie mense in Antiochië wat anders was as die menigte plesiersoekers en die heidene wou weet:
• Wie het julle nuut laat dink oor rykdom en plesier?
• Wie het julle verbied om ons gode te aanbid?
Toe antwoord hulle: Jesus Christus! So word die volgelinge van Christus in die heidenstad, Antiochië, vir die eerste keer Christene genoem. Christenskap beteken meer as dat ek nie ’n heiden, ’n Jood of ’n Mohammedaan is nie.
Die Kategismus verduidelik dit so: Jy is “’n lid van Christus”, jy is soos Hy gesalf, want die Heilige Gees het jou verander sodat jy in Hom glo (Rom. 8:16, 17). Soos gelowiges in die Ou Testament met olie gesalf is, so is ek gesalf tot Christen om Christus te dien.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 119:97-104
Gebed: Here Jesus, as Christen wil ek U dien!
Amen.
Hand. 12:19-26
Ges. 318:1, 3