… die Here (het) ’n welgevalle gehad om hulle lief te hê … (Deut. 10:15); [HK So. 12 V/A 31].

God se liefhê is lewe. In die Ou Testament word vier keer na die liefde van God verwys, maar twee en dertig keer na die liefhê van God. Die Bybel gee m.a.w. voorkeur aan die betoning van God se liefde.

Natuurlik sê die Bybel ook dat God liefde is. So vind ons ook in die Nuwe Testament die volgende: maar God bewys sy liefde daarin … (Rom. 5:8) … ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken … God is liefde … (1 Joh. 4:16).

In sy gesprek met Nikodémus vat die Here Jesus die reddingsboodskap soos volg saam: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo … die ewige lewe kan hê (Joh. 3:16). In 1 Johannes 4:8 verklaar die apostel: God is liefde, maar ver­dui­de­lik in sy Evangelie die werking van God se liefde met ’n werkwoord.

Om lief te hê kom ses en dertig keer in die Evangelie voor. Uit God, die Bron van liefde, gaan die werking van sy liefde oor in die uitloop op die groot daad van sy liefde: God gee sy enigste Seun uit liefde om sondaars te red. Daarom is God se liefhê, lewe – ewige lewe!

Ons bely elke Sondag dat ons glo in God drie-enig: God die Vader ons Skepper, God die Seun, ons Redder en in die Heilige Gees, ons Trooster. Daarom moes Jesus, die Christus, sterf, uit die dood opstaan, ten hemele vaar, die Heilige Gees as Trooster stuur en so “ons met sy Woord en Gees regeer … en bewaar” soos verduidelik in die Heidelbergse Kategismus Antwoord 30.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 3:14-18

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my liefhet met ’n volmaakte liefde!

Amen.

Deut. 10:12-15

Ges. 137:1

Die enigste weg!

… niemand kom na die Vader behalwe deur My nie (Joh. 14:6); [HK So. 11 V/A 29].

’n Toeris wou ’n middeleeuse kerkgebou besoek en vra ’n grysaard na die pad daarheen. Breedvoerig het die ou man na al die aanwysings verwys. Die toeris was later geïrriteerd en vra: “Is dit die korste pad?” “Dit is die enigste pad,” antwoord die grysaard.

Presies dit sê die Here Jesus vir sy dissipels hier in Johannes 14. Hulle is diep ontsteld oor wat hul Meester pas gedoen en voorspel het. Eers was daar die voetwassing wat hulle nie begryp het nie (Joh. 13:7). Toe verklaar die Here Jesus dat een van hulle Hom gaan verrraai en wys na Judas (Joh. 13:26). Weldra sal Hy ook weggaan (Joh. 13:33) en Petrus sal Hom drie maal verloën (Joh. 13:38).

Groot onsekerheid oor hul eie trou aan Hom en onduidelikheid oor die toekoms hang in hul gemoed. Het hulle dan nie alles verlaat en Hom gevolg nie? Wat gaan van hulle word as Hy weggaan en hulle nie kan kom waarheen Hy gaan nie? Hulle begryp nog nie ten volle dat die Here Jesus die laaste fases van die pad as enigste Verlosser betree het nie. Al wat hulle moet en kan doen, is om te glo. Glo in God (die Vader), glo ook in My … sê Hy vir hulle (Joh. 14:1). Deur sy kruisdood en opstanding gaan Hy vir hulle in die Vaderhuis, die ewige Vaderhuis, plek voorberei. En daar is net een weg wat jy moet ken na die Vaderhuis, Jesus Christus self en daarom verklaar Hy: … niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Dit is die enigste pad!

So verduidelik die Kategismus dat Jesus Christus die Saligmaker is en dat “… by niemand anders enige saligheid te vinde is nie” (Antw. 29).

Bykomende Skrifgedeelte: 2 Petr. 1:10-11

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my enigste Verlosser is! Amen.

Joh. 4:1-6

Ges. 194:1, 2

 32 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial