Van verloёner tot verdediger!

En die saligheid is in niemand anders nie … (Hand. 4:12); [HK So. 11 V/A 29].

Petrus wat die Here Jesus drie maal verloën het (Mt. 26:75), is dieselfde Petrus wat sy Here nou verdedig. Dit is opvallend: in al vier Evangelies is hierdie verloëning opgeteken. Markus wat Petrus se vertellinge neerskryf, voeg ook by: Toe begin hy (Petrus) homself te verwens en te sweer … (Mk. 14:71). Ja, Petrus, die rotsman, verdedig sy Meester met die swaard, kap Malgus se oor af, maar verloën die Here Jesus voor ’n tenger diensmeisie in kru taal!

Verder meld Johannes (Joh. 18:26) dat ’n familielid van Malgus wat ’n ooggetuie van die swaardaanslag was ook vir Petrus herken het: En Petrus het dit weer ontken … (v. 27). Dit kon kwalik erger, iemand wat die Jesus-dissipel met sy eie oë gesien het en weer ontken hy dit! So word hy die lafhartigste dissipel van die Here Jesus. MAAR dan is dit dieselfde Petrus, vervul met die Heilige Gees (Hand. 4:8) wat sy Meester verdedig. Nou nie meer die rotsman vol van homself nie, maar vol van die Heilige Gees (ná Pinksterdag) wat Hom verdedig.

• Eers die verloëner-Petrus en dan die verdediger-Petrus;

• Eers die selfkrag-rotsman wat verloën en dan die Heilige Gees-kragman wat verdedig.

Hier voor die Joodse Raad wat verantwoordelik was vir Jesus Christus se kruisdood antwoord hy: En die saligheid is in niemand anders nie; ’n an­ker-waarheid i.v.m. Jesus Christus vir die kerk in al die eeue wat sou kom.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:10, 11

Gebed: Here Jesus, ek bely: U is die enigste Verlosser.

Amen.

Hand. 4:8-12

Ges. 19:1

Plus-geloof Christene

Want uit genade is julle gered, deur die geloof … (Efés 2: 8); [HK So. 11 V/A 30].

Marten Luther en veral Johannes Calvyn het ’n deurslaggewende rol gespeel tydens die Kerkhervorming van die 16e eeu. Hulle het die basiese beginsels en waarhede van gereformeerdheid vasgelê.

Hulle ywer het daartoe gelei dat vyf grondwaarhede van die Christelike godsdiens volgens die Bybel vasgestel is, nl.:

Slegs aan God die eer. Slegs die Bybel. Slegs Genade. Slegs Christus. Slegs Geloof.

Na aanleiding van bg. vyf grondwaarhede weet ons dat God ons slegs uit genade red deur Christus alleen. Dit geskied as Christus verkondig word en die Heilige Gees ons laat glo.

’n Mens sou sekere groeperinge die beoefenaars van ’n plus-geloof kan noem. Volgens hulle is dit nie meer genade alléén, Christus alléén en geloof alléén nie, maar dat die vroom mens nog ’n plus moet by doen. Anders gestel: Hierdie mense beoefen dan ’n “Christus-plus-redding”, met ander woorde naas jou geloof in Christus, ook die grootdoop (Wederdopers) of die Sabbatsgebod (Sabbatariёrs). Hulle voeg ’n element van moralisme of verdienste in hul godsdiens. Jou redding word deur jou mede-bepaal, want jy moet “iets” van jou kant af doen. Hulle is Christene, maar hulle is nie gereformeerd nie.

Onthou egter dat Christus Paulus red (terwyl hy Christene vervolg) son­der die Sabbatsgebod en die een misdadiger saam met Jesus Christus op Gólgota is gered sonder die grootdoop.

Daarom beklemtoon die Kategismus dat Jesus Christus die “enigste en volkome Saligmaker is en dat geen saligheid en heil êrens anders” is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Joh 1:11-13

Gebed: Here Jesus, ek erken: U is die enigste en volkome Verlosser. Amen.

Efés. 2:1-8

Ges. 69:1, 2