Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom (Obad. 1:15).
Ons voel dikwels om ons te wreek op iemand wat ons iets aangedoen het. Israel het ook so gevoel. Edom (nasate van Esau) het met die Babiloniërs saamgespan tydens die ballingskap in 586 v.C. Hulle het die Israelietiese vlugtelinge voorgelê en vermoor of aan die Babiloniërs oorgelewer. So iets was ongehoord vanweë die noue band tussen die twee volke (Deut. 23:7). Nou tree die Here self vir sy volk in: “Die dag van die Here is naby”.
Hierdie boek wil ons leer dat God goeies en slegtes beheer. ’n Kind van God mag nooit self wraak neem nie: En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie … (v. 12). Telkemale lees ons in die Skrif dat die Here self sal vergeld. God se opdrag aan u en my is om te vergewe soos ons wil hê dat Hy ons sal vergewe en eerder vir hulle wat ek vergewe, te bid. Vir die wêreld is vergiffenis die einde van die pad van genesing, maar vir die gelowige begin die pad by vergiffenis!
God is liefdevol maar Hy is ook regverdig: Hy het sy volk lief, maar Hy straf alle sonde van almal. Hy het die sonde van sy volk gestraf en hulle na Babilon laat wegvoer; só straf Hy ook die sonde van heidenvolke soos Edom. Daarom mag ons nooit agter ons Christenskap skuil en dink dat ons opsetlike sondes ongestraf sal bly nie.
In Jesus Christus is daar genade vir elkeen wat in Hom glo en sy sonde bely en laat staan. Hy het die hemelse Kanaän gaan berei vir elkeen wat aan Hom behoort.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 5
Here, vergewe my soos ek my skuldenaars vergewe. Amen.
Obad. 1:1-21
Ges. 25:5
Veg of vlug?
Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé … (Jona 1:2).
Uit genade gebruik die Here mense in sy diens: Hy roep Moses, Jeremia, Johannes die Doper en vele ander. Hy roep ook vir Jona. Hy roep ook vir u en my om in sy diens te staan. Ons lees van al die verskonings wat aangebied is – Jona klim selfs op ’n skip na die ander einde van die wêreld om van die aangesig van die Here af weg te kom – asof dit sou help!
Watter verskonings het ons wanneer ons gestuur word? Soos Moses: “Ek kan nie praat nie” of soos Jeremia: “Ek is te jonk”. Sê jy: “Ek is skaam vir mense”? Die Here Jesus sê: Gaan dan … (Mt. 28:19) en: Kyk Ek stuur julle … (Lk. 10:3). In 1 Petrus 2:9 lees ons: … julle is ’n uitverkore geslag … om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.
Ons het die wonderlikste geskenk uit God se hand ontvang: ’n Verlosser wat vir ons lief is, wat bereid was om vir ons aan ’n kruis te sterf om vir ons die lewe terug te gee, ’n opgestane Here Jesus wat oor sy kerk regeer en wat weer sal kom om ons na Hom te neem – en ons monde is geseël!
Saam met die opdrag: Ek stuur jou!, kom ook die bemoediging: Ek is met jou! en: die Heilige Gees sal julle in daardie uur leer wat om te sê – daarmee val al ons verskonings weg!
Voor Jesus Christus se hemelvaart kom die laaste opdrag: … julle sal My getuies wees … tot aan die uiterste van die aarde (Hand. 1:8).
Of gaan ons vlug?
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 6
Here, maak my bereid en gereed om in u diens te staan. Amen.
Jona: 1:1-17
Ges. 318:1-3