Die Here maak bymekaar

Die Here maak bymekaar

Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom (Mig. 4:1).

Die Here … sal nie vir altyd twis en vir ewig die toorn behou nie (Ps. 103:8, 9). Nadat ons in die vorige hoofstukke gelees het van God se oordeel, begin hierdie hoofstuk met: maar en sing van ’n nuwe era: die dae van die Messias wat kom. As gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid en ongeloof het die evangelie na die heidene gegaan. In Christus is ’n nuwe geloofsvolk gebore: sy kerk waarvan Hy die Hoof is, wat sal vasstaan en sal uitstaan bo die volke rondom – gebou op die rots van die geloof; ’n volk wat sy seën in oorvloed sal geniet.

Hy sit as Koning en Regter oor die volke, en daar is vrede onder sy heerskappy. Uit die volk oor wie sy oordeel gekom het, het Hy ’n oorblyfsel bymekaar gemaak – uit die wat verstrooid is, wie kreupel is en die wat Hy deur sy oordeel kwaad aangedoen het. Hulle het ’n magtige nasie geword en volke stroom na hulle toe. Die Here Jesus waak oor hulle soos die herder oor sy kudde. Hy red uit die ballingskap, uit die slawehuis van sonde. Sy kudde sal uitroep: … ons sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altyd … (v. 5). Die Here Jesus leer in Johannes 5:24: … wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie …

En die ander volke? Hulle bly onder die toorn van God.

Aan watter volk behoort u?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 13

Maak ook my hart vir U tot troon, Here. Amen.

Miga 4:1-14

Ges. 296:1, 2

Jy moet hom Jesus noem … uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees … (Mig. 5:1).

Die vorige hoofstuk het op ’n negatiewe noot geëindig: Vyande is besig om ’n wal teen Israel te gooi; hulle slaan die koning van Israel met ’n stok op die kakebeen. Die volk van God kry swaar onder die vyand.

Maar daar kom ’n Heerser wat vanuit die ewigheid tot in die verste ewigheid met ’n ystersepter sal regeer. Op God se tyd sal hierdie Koning gebore word om die mens wat onder die wet is, los te koop.

Hy kom in nederigheid om te dien; waarlik God om die toorn van God op die sonde te dra, maar ook waarlik mens om die straf van die sondaar te dra. Hy sal die Herder van sy volk wees; Hy sal sy geloofsvolk, uitverkore, geheilig, wat sy seën sal geniet en in vrede sal leef, bymekaarmaak en saggies lei.

Hy heers as Oorwinnaar oor die groot vyand van God en mens. Die raadsplan van God vir die verlossing van die mens het Hy volbring. Hy sal eendag Satan en sy engele toesluit in die put wat brand met vuur en swael.

Hy maak alles nuut: Pyn, moeite, swaarkry en verdriet sal daar nie meer wees nie, ook nie nag en vervloeking nie, want God sal by hulle woon as hulle God en hulle sal in sy lig leef tot in ewigheid. Hy sal sit as Regter oor die lewende en die dode.

Christus se soendood was ’n hoë prys. Dit het Hom sy lewe gekos omdat Hy die mens liefhet met ’n onmeetbare liefde. Hy is die Heerser, die Messias wat gekom het.

Is Hy Koning oor jou lewe? Hy het gesterf sodat jy kan lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 14

Here Jesus, dankie dat U my Koning is. Amen.

Miga 5:1-14

Ges. 133:1-3

Oordeel en genade

Oordeel en genade

Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die Here dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie? (Mig. 2:7).

In die vorige hoofstuk was die boodskap van Miga teen Juda en Samaría; nou word dit ’n waarskuwing aan diegene met mag wat planne van onreg bedink; wat die Here se boodskap wil stilmaak, valse profete, rowers, diewe – vir hulle is daar geen plek onder die kinders van die Here nie. As gevolg van hulle sonde gaan Hy ’n onherstelbare verwoesting onder sy volk aanrig.

Die Here is die God van oordeel oor die ongehoorsames: hulle plek is in die poel wat brand met vuur en swael (Openb. 21:8). Maar Hy is ook die God van genade: Daar sal ’n klein oorblyfsel van gehoorsames wees. Vir hulle stuur Hy die Herder van Betlehem om hulle bymekaar te maak soos skape in ’n kraal; soos ’n kudde in die weiveld onder die altydwakende oog van die groot Herder. Hy sal die skaar van gelowi­ges dra en veilig lei; en dit sal wees: een kudde, een Herder; altyd in die spore van geregtigheid na die ewige Jerusalem. Daar sal hulle aansit by die feesmaal van die Lam, vir ewig in sy teenwoordigheid.

Christus roep vir Hom ’n geloofsvolk bymekaar. Op iemand wat bely dat hy ’n Christusgelowige is, rus daar ’n dure verpligting. Ons kan nie sê dat ons deel van die Godsvolk is, maar dan wil ons lewe soos die wêreld vra nie. Ons is briewe van Christus wat aan die wêreld van sy genade vertel. Sy gesindheid moet in elke gelowige heers.

Hy roep ons tot berou. Lewe dan soos kinders van die lig.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 11

Leer my om in gehoorsaamheid te lewe soos dit ’n kind van U betaam, Here. Amen.

Miga 2:1-13

Ges. 74:1, 4

Nag oor die huis van God

Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes oor die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie? (Mig. 3:1).

Weet julle dan nie wat reg is nie, vra Miga vir die leiers van die volk. In die antieke tyd was die regerende en regsprekende gesag in die tempel gevestig. Nou kom die oordeel van God oor die leiers van die volk wat tog moet weet wat reg en wat verkeerd is: Dan sal hulle die Here aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg … (v. 4).

Hulle weet, maar doen dit nie. Daarom sal die Here die regeerders nie antwoord nie en sal die son oor die profete onder gaan: Want die tyd is daar dat die oordeel van God moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is … (1 Petr. 4:17). God straf sy volk omdat hulle weet om reg te lewe, maar hulle hart is ver van Hom af.

Kan ons vinger wys? Is ons onbesproke? Of word daar met reg vingers na die kerk gewys wanneer leiers in die kerk vandag verwys na Christus as nie die Seun van God nie, of dat alle godsdienste na dieselfde hemel lei, of dat alle gode maar net afbeeldinge is van die een ware God? Ons weet mos dit is nie waar nie.

Nog nader: Is my lewe ’n preek oor die Here Jesus se genade? Hebreërs 10:26 leer: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.

Hierdie gedeelte roep elke Christusgelowige tot ernstige self­on­der­soek.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 12

Here, laat my lewe tot u eer, oral en altyd ’n gestuurde. Amen.

Miga 3:1-12

Ges. 101:1

God se skool van die lewe

God se skool van die lewe

Toe beskik die Here GOD ’n wonderboom … (Jona 4:6).

God se gedagtes is nie ons gedagtes nie en ons weë is nie sy weë nie (vgl. Jes. 55:8). Hoe maklik wil ons vir God voorskryf wat om te doen. Alles is mooi en goed solank dit ons pas, maar, as dit ons nie pas nie …

Jona en ons toon talle ooreenkomste. Jona wil eintlik hê dat God die Nineviete moet vernietig. As God se wil dan is om hulle genadig te wees, word Jona kwaad en wens om te sterwe. Ook as God uit vrye wil die wonderboom gee, is daar eers blydskap, maar as God dit laat verdor deur ’n gloeiende oostewind, word Jona opstandig as dinge nie gaan soos hy dit wil hê nie.

Die mens moet in God se leerskool leer dat Hy God is; dat Hy besluit volgens sy raadsplan en dit staan vas; dat sy besluit in die ewigheid geneem is; niemand kan Hom voorskryf nie en dat sy besluite die hele skepping omvat.

Romeine 9:20 leer dat die maaksel nie vir die Maker kan voorskryf wat om te doen nie. Toe Job met God geworstel het oor wat met hom gebeur, leer hy God se les: Ek weet dat U alles kan doen … dinge (is) te wonderbaar vir my … Daarom herroep ek en het berou … (Job 42:2, 3, 6).

Ons leer hieruit: In stil wees en vertroue bestaan julle krag (Jes. 30:15).

Die onverbreekbare wil van God hou ook ’n groot troos en sekerheid in: In Jesus Christus is ek uitverkies as sy kind. Niemand kan dit verander en my van sy liefde skei nie. God se wil op Gólgota bring redding vir elke gelowige.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 9

Here, leer my dat ek u grootheid en almag kan raaksien in alles wat met my gebeur. Amen.

Jona 4:1-11

Ges. 31:1-3

Wanneer God se geduld opraak

o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis (Mig. 1:2).

God se dag van oordeel is op pad! Die Regter staan voor die deur! Miga waarsku, maar die volk wil nie luister nie: Want die inwo­ners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die Here  (v. 12).

Die dag van beslissing het aangebreek: Die Here roep sy volk op tot ’n hofsaak oor hulle sonde. Hy is Aanklaer en Regter. Die hele wêreld moet hoor: Die Here gaan uit sy woonplek uit, die Almagtige betree die hoogtes van die aarde en niks kan voor Hom standhou nie. Berge smelt soos ys voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom, laagtes skeur oop; verskriklik is die oordeel, vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God! Hy gaan die ongehoorsame wêreld straf.

Ons hoor ook dikwels hierdie waarskuwing. Sondag vir Sondag word ons gewaarsku: Die dag van die wederkoms is naby, maak jou saak met Here reg. Telkens as ons die Woord oopmaak, hoor ons hier­die vermaning. Maar ons dink soos die volke aan wie Miga hierdie boodskap gebring het: Dit is nog ver, God sal ons nie straf nie, ons is dan sy geloftevolk, nasate van die Reformasie.

God se Woord is duidelik: Daar kom ’n dag wanneer die poorte van die hemel gesluit gaan word; wanneer God eers sy oordeel gaan afhandel (Openb. 15:8). Dan is dit te laat vir bid en om tot bekering te kom vir die wat nie wou hoor nie!

Maar nou is nog genadetyd: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Joh. 1:9).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 10

O God, wees my sondaar genadig. Red my deur u groot genade. Amen.

Miga 1:1-16

Ps. 130:1, 2

Jona erken sy fout

Jona erken sy fout

… wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (Jona 2:9).

Jona het ’n opdrag van die Here ontvang om sy boodskap aan Ninevé te gaan verkondig. Hy besluit egter daarteen en vlug per skip na Tarsis om van die aangesig van die Here weg te kom. Sy straf omdat hy gevlug het, was dat hy in stormsee oorboord gegooi is en die Here ’n groot vis beskik het wat hom ingesluk het.

In hierdie hoofstuk vind ons die aangrypende gebed van Jona waarin hy smeek om redding. Hy besef sy ellende en sy gebed word in werklikheid ’n danklied vir verlossing wat reeds bewerk is. Jona onderneem om te gaan doen waarvoor hy geroep is: … wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (v. 9). Daarom sal Jona die eer aan God bring wat Hom toekom, want die redding is by Hom alleen!

Redding is by Jesus Christus alleen te vinde. Trouens, Hy het die verlossing reeds bewerk! Al is ek tot die dood toe vasgedraai in my ongehooraamheid en die gevolge daarvan, is daar vir my vergiffenis en verlossing by Hom. Al is ons ontrou, Hy bly getrou om ons ons oortredinge te vergewe as ons dit voor Hom bely en laat staan.

In terugkeer na Jesus Christus lê ons redding. Maar dan moet die belofte van Jona in ons lewens ’n werklikheid word: “Wat ek beloof het, sal ek betaal”. Indien dit die gesindheid van ons hart is, kom die opdrag weereens na ons toe: Gaan verkondig die evangelie. Dan word die taak vir ons ’n vreugde, want Jesus Christus is die Redder van die wêreld.

Kom ons gaan leef ons beloftes aan God uit en vervul ons roeping.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 7

Here, vergeef my my ontrouheid en gee my krag om nie te vlug nie. Amen.

Jona 2:1-10

Ges. 79:1, 2

Genade in God se hande

God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg. Toe het God berou gehad oor die onheil …
en Hy het dit nie gedoen nie (Jona 3:10).

God het ons eerste liefgehad en sy Seun gestuur as ’n versoening vir ons sondes. As ons maar twee dinge net wil besef: God stuur Christus tot redding vir elkeen wat glo, ongeag volk, taal of kultuur. God se wil is dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom en dat niemand verlore sal gaan nie.

Soos vir Jona, roep God elkeen van ons tot diens. As ons dan die implikasies van die opdrag besef, word die uitvoering hiervan dikwels net ’n pligsbesef. Dan dink ons dikwels: Laat ek tog maar gaan en klaarkry; so-en-so sal tog nooit die hemel sien nie en om aan hom die Woord te bring, is net tydmors.

Dit was ook Jona se gesindheid: Die uitverkore volk is tog Israel, nie die Nineviete nie! As hy dan sien dat God genade aan ’n heidenvolk betoon, word hy kwaad en kom in opstand teen God se wil: ek het geweet dat U ’n genadige … God is (v. 2).

By God is geen aanneming van die persoon nie. Ons weet ook nie wie Hy in sy ewige raadsplan uitverkies het as sy kinders nie. Vir Petrus stuur die Here na die Romein Cornelius en sy familie. Dink maar aan die Here Jesus en die Samaritaanse vrou en Paulus op die Areópagus onder die Grieke.

God se liefde in Christus reik uit na elkeen in die wêreld. Ons mag nie die verkondiging net vir onsself hou nie. Julle sal My getuies wees … tot aan die eindes van die aarde (Hand. 1:8).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 8

Maak my gewillig om altyd en oral ’n getuie vir U te wees, Here Jesus. Amen.

Jona 3:1-10

Ges. 128:1-5

Christusgelowiges neem nie wraak nie

Christusgelowiges neem nie wraak nie

Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom (Obad. 1:15).

Ons voel dikwels om ons te wreek op iemand wat ons iets aangedoen het. Israel het ook so gevoel. Edom (nasate van Esau) het met die Babiloniërs saamgespan tydens die ballingskap in 586 v.C. Hulle het die Israelietiese vlugtelinge voorgelê en vermoor of aan die Babiloniërs oorgelewer. So iets was ongehoord vanweë die noue band tussen die twee volke (Deut. 23:7). Nou tree die Here self vir sy volk in: “Die dag van die Here is naby”.

Hierdie boek wil ons leer dat God goeies en slegtes beheer. ’n Kind van God mag nooit self wraak neem nie: En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie … (v. 12). Telkemale lees ons in die Skrif dat die Here self sal vergeld. God se opdrag aan u en my is om te vergewe soos ons wil hê dat Hy ons sal vergewe en eerder vir hulle wat ek vergewe, te bid. Vir die wêreld is vergiffenis die einde van die pad van genesing, maar vir die gelowige begin die pad by vergiffenis!

God is liefdevol maar Hy is ook regverdig: Hy het sy volk lief, maar Hy straf alle sonde van almal. Hy het die sonde van sy volk gestraf en hulle na Babilon laat wegvoer; só straf Hy ook die sonde van heidenvolke soos Edom. Daarom mag ons nooit agter ons Christenskap skuil en dink dat ons opsetlike sondes ongestraf sal bly nie.

In Jesus Christus is daar genade vir elkeen wat in Hom glo en sy sonde bely en laat staan. Hy het die hemelse Kanaän gaan berei vir elkeen wat aan Hom behoort.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 5

Here, vergewe my soos ek my skuldenaars vergewe. Amen.

Obad. 1:1-21

Ges. 25:5

Veg of vlug?

Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé … (Jona 1:2).

Uit genade gebruik die Here mense in sy diens: Hy roep Moses, Jeremia, Johannes die Doper en vele ander. Hy roep ook vir Jona. Hy roep ook vir u en my om in sy diens te staan. Ons lees van al die verskonings wat aangebied is – Jona klim selfs op ’n skip na die ander einde van die wêreld om van die aangesig van die Here af weg te kom – asof dit sou help!

Watter verskonings het ons wanneer ons gestuur word? Soos Moses: “Ek kan nie praat nie” of soos Jeremia: “Ek is te jonk”. Sê jy: “Ek is skaam vir mense”? Die Here Jesus sê: Gaan dan … (Mt. 28:19) en: Kyk Ek stuur julle … (Lk. 10:3). In 1 Petrus 2:9 lees ons: … julle is ’n uitverkore geslag … om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Ons het die wonderlikste geskenk uit God se hand ontvang: ’n Verlosser wat vir ons lief is, wat bereid was om vir ons aan ’n kruis te sterf om vir ons die lewe terug te gee, ’n opgestane Here Jesus wat oor sy kerk regeer en wat weer sal kom om ons na Hom te neem – en ons monde is geseël!

Saam met die opdrag: Ek stuur jou!, kom ook die bemoediging: Ek is met jou! en: die Heilige Gees sal julle in daardie uur leer wat om te sê – daarmee val al ons verskonings weg!

Voor Jesus Christus se hemelvaart kom die laaste opdrag: … julle sal My getuies wees … tot aan die uiterste van die aarde (Hand. 1:8).

Of gaan ons vlug?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 6

Here, maak my bereid en gereed om in u diens te staan. Amen.

Jona: 1:1-17

Ges. 318:1-3