… wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (Jona 2:9).
Jona het ’n opdrag van die Here ontvang om sy boodskap aan Ninevé te gaan verkondig. Hy besluit egter daarteen en vlug per skip na Tarsis om van die aangesig van die Here weg te kom. Sy straf omdat hy gevlug het, was dat hy in stormsee oorboord gegooi is en die Here ’n groot vis beskik het wat hom ingesluk het.
In hierdie hoofstuk vind ons die aangrypende gebed van Jona waarin hy smeek om redding. Hy besef sy ellende en sy gebed word in werklikheid ’n danklied vir verlossing wat reeds bewerk is. Jona onderneem om te gaan doen waarvoor hy geroep is: … wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here (v. 9). Daarom sal Jona die eer aan God bring wat Hom toekom, want die redding is by Hom alleen!
Redding is by Jesus Christus alleen te vinde. Trouens, Hy het die verlossing reeds bewerk! Al is ek tot die dood toe vasgedraai in my ongehooraamheid en die gevolge daarvan, is daar vir my vergiffenis en verlossing by Hom. Al is ons ontrou, Hy bly getrou om ons ons oortredinge te vergewe as ons dit voor Hom bely en laat staan.
In terugkeer na Jesus Christus lê ons redding. Maar dan moet die belofte van Jona in ons lewens ’n werklikheid word: “Wat ek beloof het, sal ek betaal”. Indien dit die gesindheid van ons hart is, kom die opdrag weereens na ons toe: Gaan verkondig die evangelie. Dan word die taak vir ons ’n vreugde, want Jesus Christus is die Redder van die wêreld.
Kom ons gaan leef ons beloftes aan God uit en vervul ons roeping.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 7
Here, vergeef my my ontrouheid en gee my krag om nie te vlug nie. Amen.
Jona 2:1-10
Ges. 79:1, 2
Genade in God se hande
God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg. Toe het God berou gehad oor die onheil …
en Hy het dit nie gedoen nie (Jona 3:10).
God het ons eerste liefgehad en sy Seun gestuur as ’n versoening vir ons sondes. As ons maar twee dinge net wil besef: God stuur Christus tot redding vir elkeen wat glo, ongeag volk, taal of kultuur. God se wil is dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom en dat niemand verlore sal gaan nie.
Soos vir Jona, roep God elkeen van ons tot diens. As ons dan die implikasies van die opdrag besef, word die uitvoering hiervan dikwels net ’n pligsbesef. Dan dink ons dikwels: Laat ek tog maar gaan en klaarkry; so-en-so sal tog nooit die hemel sien nie en om aan hom die Woord te bring, is net tydmors.
Dit was ook Jona se gesindheid: Die uitverkore volk is tog Israel, nie die Nineviete nie! As hy dan sien dat God genade aan ’n heidenvolk betoon, word hy kwaad en kom in opstand teen God se wil: ek het geweet dat U ’n genadige … God is (v. 2).
By God is geen aanneming van die persoon nie. Ons weet ook nie wie Hy in sy ewige raadsplan uitverkies het as sy kinders nie. Vir Petrus stuur die Here na die Romein Cornelius en sy familie. Dink maar aan die Here Jesus en die Samaritaanse vrou en Paulus op die Areópagus onder die Grieke.
God se liefde in Christus reik uit na elkeen in die wêreld. Ons mag nie die verkondiging net vir onsself hou nie. Julle sal My getuies wees … tot aan die eindes van die aarde (Hand. 1:8).
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 8
Maak my gewillig om altyd en oral ’n getuie vir U te wees, Here Jesus. Amen.
Jona 3:1-10
Ges. 128:1-5