Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom (Mig. 4:1).

Die Here … sal nie vir altyd twis en vir ewig die toorn behou nie (Ps. 103:8, 9). Nadat ons in die vorige hoofstukke gelees het van God se oordeel, begin hierdie hoofstuk met: maar en sing van ’n nuwe era: die dae van die Messias wat kom. As gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid en ongeloof het die evangelie na die heidene gegaan. In Christus is ’n nuwe geloofsvolk gebore: sy kerk waarvan Hy die Hoof is, wat sal vasstaan en sal uitstaan bo die volke rondom – gebou op die rots van die geloof; ’n volk wat sy seën in oorvloed sal geniet.

Hy sit as Koning en Regter oor die volke, en daar is vrede onder sy heerskappy. Uit die volk oor wie sy oordeel gekom het, het Hy ’n oorblyfsel bymekaar gemaak – uit die wat verstrooid is, wie kreupel is en die wat Hy deur sy oordeel kwaad aangedoen het. Hulle het ’n magtige nasie geword en volke stroom na hulle toe. Die Here Jesus waak oor hulle soos die herder oor sy kudde. Hy red uit die ballingskap, uit die slawehuis van sonde. Sy kudde sal uitroep: … ons sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altyd … (v. 5). Die Here Jesus leer in Johannes 5:24: … wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie …

En die ander volke? Hulle bly onder die toorn van God.

Aan watter volk behoort u?

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 13

Maak ook my hart vir U tot troon, Here. Amen.

Miga 4:1-14

Ges. 296:1, 2

Jy moet hom Jesus noem … uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees … (Mig. 5:1).

Die vorige hoofstuk het op ’n negatiewe noot geëindig: Vyande is besig om ’n wal teen Israel te gooi; hulle slaan die koning van Israel met ’n stok op die kakebeen. Die volk van God kry swaar onder die vyand.

Maar daar kom ’n Heerser wat vanuit die ewigheid tot in die verste ewigheid met ’n ystersepter sal regeer. Op God se tyd sal hierdie Koning gebore word om die mens wat onder die wet is, los te koop.

Hy kom in nederigheid om te dien; waarlik God om die toorn van God op die sonde te dra, maar ook waarlik mens om die straf van die sondaar te dra. Hy sal die Herder van sy volk wees; Hy sal sy geloofsvolk, uitverkore, geheilig, wat sy seën sal geniet en in vrede sal leef, bymekaarmaak en saggies lei.

Hy heers as Oorwinnaar oor die groot vyand van God en mens. Die raadsplan van God vir die verlossing van die mens het Hy volbring. Hy sal eendag Satan en sy engele toesluit in die put wat brand met vuur en swael.

Hy maak alles nuut: Pyn, moeite, swaarkry en verdriet sal daar nie meer wees nie, ook nie nag en vervloeking nie, want God sal by hulle woon as hulle God en hulle sal in sy lig leef tot in ewigheid. Hy sal sit as Regter oor die lewende en die dode.

Christus se soendood was ’n hoë prys. Dit het Hom sy lewe gekos omdat Hy die mens liefhet met ’n onmeetbare liefde. Hy is die Heerser, die Messias wat gekom het.

Is Hy Koning oor jou lewe? Hy het gesterf sodat jy kan lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 14

Here Jesus, dankie dat U my Koning is. Amen.

Miga 5:1-14

Ges. 133:1-3