Toe beskik die Here GOD ’n wonderboom … (Jona 4:6).

God se gedagtes is nie ons gedagtes nie en ons weë is nie sy weë nie (vgl. Jes. 55:8). Hoe maklik wil ons vir God voorskryf wat om te doen. Alles is mooi en goed solank dit ons pas, maar, as dit ons nie pas nie …

Jona en ons toon talle ooreenkomste. Jona wil eintlik hê dat God die Nineviete moet vernietig. As God se wil dan is om hulle genadig te wees, word Jona kwaad en wens om te sterwe. Ook as God uit vrye wil die wonderboom gee, is daar eers blydskap, maar as God dit laat verdor deur ’n gloeiende oostewind, word Jona opstandig as dinge nie gaan soos hy dit wil hê nie.

Die mens moet in God se leerskool leer dat Hy God is; dat Hy besluit volgens sy raadsplan en dit staan vas; dat sy besluit in die ewigheid geneem is; niemand kan Hom voorskryf nie en dat sy besluite die hele skepping omvat.

Romeine 9:20 leer dat die maaksel nie vir die Maker kan voorskryf wat om te doen nie. Toe Job met God geworstel het oor wat met hom gebeur, leer hy God se les: Ek weet dat U alles kan doen … dinge (is) te wonderbaar vir my … Daarom herroep ek en het berou … (Job 42:2, 3, 6).

Ons leer hieruit: In stil wees en vertroue bestaan julle krag (Jes. 30:15).

Die onverbreekbare wil van God hou ook ’n groot troos en sekerheid in: In Jesus Christus is ek uitverkies as sy kind. Niemand kan dit verander en my van sy liefde skei nie. God se wil op Gólgota bring redding vir elke gelowige.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 9

Here, leer my dat ek u grootheid en almag kan raaksien in alles wat met my gebeur. Amen.

Jona 4:1-11

Ges. 31:1-3

Wanneer God se geduld opraak

o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis (Mig. 1:2).

God se dag van oordeel is op pad! Die Regter staan voor die deur! Miga waarsku, maar die volk wil nie luister nie: Want die inwo­ners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die Here  (v. 12).

Die dag van beslissing het aangebreek: Die Here roep sy volk op tot ’n hofsaak oor hulle sonde. Hy is Aanklaer en Regter. Die hele wêreld moet hoor: Die Here gaan uit sy woonplek uit, die Almagtige betree die hoogtes van die aarde en niks kan voor Hom standhou nie. Berge smelt soos ys voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom, laagtes skeur oop; verskriklik is die oordeel, vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God! Hy gaan die ongehoorsame wêreld straf.

Ons hoor ook dikwels hierdie waarskuwing. Sondag vir Sondag word ons gewaarsku: Die dag van die wederkoms is naby, maak jou saak met Here reg. Telkens as ons die Woord oopmaak, hoor ons hier­die vermaning. Maar ons dink soos die volke aan wie Miga hierdie boodskap gebring het: Dit is nog ver, God sal ons nie straf nie, ons is dan sy geloftevolk, nasate van die Reformasie.

God se Woord is duidelik: Daar kom ’n dag wanneer die poorte van die hemel gesluit gaan word; wanneer God eers sy oordeel gaan afhandel (Openb. 15:8). Dan is dit te laat vir bid en om tot bekering te kom vir die wat nie wou hoor nie!

Maar nou is nog genadetyd: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Joh. 1:9).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 10

O God, wees my sondaar genadig. Red my deur u groot genade. Amen.

Miga 1:1-16

Ps. 130:1, 2