Van bo-af gebore
… as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3).
Wat moet ek doen om gered te word? Dit was waarskynlik die vraag waarmee Nikodémus daardie nag na die Here Jesus gekom het. Hy was immers ’n Fariseër (v. 1) vir wie die werke van die wet hand-aan-hand geloop het met redding. Wie die wet van God getrou nakom, vind guns in God se oë en word gered.
Aangesien niks in die lewe deesdae verniet is nie, benader baie mense God op dieselfde wyse. Hulle wil weet wat hulle kan doen om gered te word. Hulle wil voel hulle het ’n bydrae tot hulle redding gelewer. Omdat niks in die lewe verniet is nie, is dit tog ondenkbaar dat iets soos redding gratis kan wees. Daarom is die doen van goeie dade vir mense so belangrik. Mense met baie geld sal duisende rande aan liefdadigheidsorganisasies skenk, ander raak betrokke by maatskaplike projekte en sommige sal selfs naarstiglik Bybel lees en nie ’n kerkaksie misloop nie uit vrees dat hulle dalk nie eendag “goed genoeg” sal wees nie. Tog bly ons beste werke met sonde bevlek (vgl. Jes. 64:6).
Die Here Jesus se antwoord aan Nikodémus dien egter hierdie Fariseïstiese verstaan van redding ’n nekslag toe. Niemand kan gered word nie, tensy hy wedergebore word (letterlik: van bo-af gebore word). Die implikasie hiervan is duidelik: Redding kom nie van ons af nie; redding kom van God. Wedergeboorte is God se hartoorplanting waartydens Hý die hart van klip verwyder en aan ons ’n hart van vlees gee. Met hierdie hart glo ons in Jesus Christus se verlossingswerk en eien ons sy volmaakte werke onsself toe, sodat ons nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 16).
Bykomende Skrifgedeelte: Hag. 2
Dankie, Here, dat U my wederbaar sodat ek kan glo. Amen.
Joh. 3:1-36
Ges. 139
Bekeer julle … Keer terug na My … en Ek sal na julle terugkeer … (Sag. 1:3).
Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom (Mt. 3:2). In hierdie woorde waarmee die Here Jesus sy amptelike bediening op aarde begin, vind ons die weerklanke van Sagaría se opdrag aan die volk. Ná die volk se terugkeer uit ballingskap, waarsku hy hulle in die openingsverse van sy profesie om nie dieselfde pad as hul vaders te loop nie. Hulle voorouers was ongehoorsaam en die oordeel van God is oor hulle voltrek toe hulle in ballingskap weggevoer is.
Toe die sondeval die intieme verhouding tussen God en die mens vernietig het, het die sonde die mens op ’n koers lynreg weg van God geplaas. Daar het vyandskap gekom omdat die mens se hart vir God doodgegaan het. Daarom is die opdrag tot bekering; tot terugkeer na God, so dringend en aanhoudend in die Woord. Wie nie na God terugkeer nie, sal sy oordeel nie vryspring nie, want Hy is ’n regverdige God wat geen sonde ongestraf laat bly nie. Die opdrag tot bekering bevat ’n wonderlike belofte: Ek sal na julle terugkeer. Ten spyte van hierdie belofte, veroorsaak hierdie opdrag egter groot spanning, want wie kan uit sy eie tot God terugkeer? Wie is heilig genoeg om in teenwoordigheid van die Heiligste van die heiliges te kom?
Dalk is dit die rede waarom Jeremia vir God vra: Bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jer. 31:18). Uiteindelik sou Christus na die aarde kom juis om hierdie spanning op te los. Hy roep ons nie net op tot bekering nie, Hy was ons skoon met sy bloed en vernuwe ons sodat ons waarlik tot God kan keer. Ware bekering is onmoontlik sonder Christus en die werking van die Gees. Wie só na God keer, kan seker wees dat God na Hom sal terugkeer.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 4
O God, bekeer my, dan sal ek my bekeer. Amen.
Sag. 1:1-21
Ps. 51:1, 6, 7