Maar die Here is in sy heilige tempel – swyg voor Hom, o ganse aarde … (Háb. 2:20).
Hoewel Hábakuk verstaan dat God geen sonde ongestraf laat bly nie, verstaan hy nie waarom God “groter sondaars” gebruik om sy oordeel oor “kleiner sondaars” te voltrek nie. Die Babiloniërs was tog baie meer goddeloos as Juda. Hoe kan die Here dan toelaat dat húlle sy oordeel oor sy volk voltrek (vgl. 1:13)?
In hoofstuk twee antwoord God op hierdie klagte. Sy antwoord is so belangrik dat almal dit moet lees (v. 2). Hy is nie blind vir die sondes van die Babiloniërs nie. Hy is nie dieselfde as hulle afgode wat uit hout en klip gevorm word nie (v. 18). Hy is die lewende werklikheid. Hy is in sy heilige tempel – die aarde moet stil wees voor Hom (v. 20). Hy ken die Babiloniërs se ongeregtigheid en hoogmoed en sal ook dít nie ongestraf laat verbygaan nie. Hulle ondergang is naby (v. 6, 9, 12, 15, 19).
Hábakuk en die volk word eerder aangemoedig om uit die geloof te leef (v. 4). Dit staan in kontras met die hoogmoedige lewenswyse van die Babiloniërs. Om uit die geloof te leef, beteken om jou vertroue vir redding alleen in God te stel en nie in jou eie vermoëns of kwaliteite nie. ’n Volk wat God se optrede betwyfel omdat Hy “die goddelose” gebruik om dié te verslind wat “regverdiger as hy” is (1:13), leef juis nie uit die geloof nie. Hulle is net so opgeblase soos die Babiloniërs. Waar laasgenoemde op hulle militêre mag vertrou, vertrou eersgenoemde op hulle regverdige(r) lewenswandel.
Om uit die geloof te leef, is om te swyg voor die heerskappy van die Here. Dit is om jou vertroue te stel in sy soewereiniteit, sy vermoë om te verlos en sy regverdige oordele.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 21
Ek swyg, o Here, want U regeer! Amen.
Háb. 2:2-20
Ps. 48:1
Swyg voor Hom! … nogtans sal ek jubel in die Here … (Háb. 3:18).
Hierdie gebed van Hábakuk is ’n pragtige voorbeeld van hoe ’n gelowige behoort te reageer wanneer God se antwoord op sy smeking nie noodwendig is wat hy gehoop het dit sal wees nie. In hierdie gebed sien ons wat dit beteken om voor die Here te swyg en sy heerskappy en soewereiniteit te erken.
Hoewel God dit duidelik gemaak het dat Hy nie van plan is om onmiddellik met die onderdrukkers van sy volk af te reken nie, hou Hábakuk nie op om daarvoor te bid nie. Hy beroep hom op God se roemryke oorwinnings in die verlede waarin Hy tot sy volk se redding gekom het. In die geloof hou Hy daaraan vas dat God weer eens sy volk so te hulp sal kom. Wanneer hy egter besef dat God in beheer is, sidder hy omdat hy besef dat hy geduldig moet wag en moet vertrou dat die dag van benoudheid wel vir die onderdrukker sal aanbreek (v. 16). Onder leiding van Kores is die Babiloniese Ryk eers in 539 v.C. vernietig.
Om te swyg voor die Here beteken nie om op te hou pleit vir verlossing nie, maar om geduldig te wag vir die dag wat God daarvoor bepaal het. Dit is om in die Here te jubel ten spyte van die vyebome wat nie bot nie en wingerde wat nie hul oes gee nie. Dit is om jou vertroue in Hom te stel wat die vermoë het om vir ons te gee ver bo wat ons kan bid of dink – op sy tyd en sy manier. Uiteindelik het God in die volheid van die tyd met sy volk se grootste onderdrukker afgereken toe Christus as Messias vir ons oortredinge betaal het.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 22
O God, help my om gelowig te reageer op u moeilike antwoorde! Amen.
Hab. 3:1-19
Ges. 301