Christus­fees

Christus­fees

Fees van die liefde

… Ek (het) julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My (Joh. 15:9).

Kersfees kan ook beskryf word as die fees van die liefde. Daardie datum op die kerk se kalender waar ons in die besonder nadink oor die woorde: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enig­ge­bore Seun gegee het … (Joh. 3:16). Soos Maria oordink ons met Kersfees opnuut die betekenis van al hierdie dinge in ons harte. Om te dink, God het mý so lief dat Hy sy Seun na die wêreld gestuur het ter wille van mý!

Wie deur hierdie liefde aangeraak en verander is, is as ’t ware deur die geloof ingeënt in Christus, die ware wingerdstok. Wie só deel van Christus is se lewe wys dit, aangesien ’n loot wat verbind is aan die wingerdstok, vrug dra. Christus beskryf die vrug as liefde. Dit bestaan uit liefde vir God wat sigbaar word wanneer ons sy gebooie bewaar (v. 10) en liefde vir ons naaste (v. 12). Wie nie hierdie liefde openbaar nie, kan nie daarop aanspraak maak dat Hy God se liefde ken of in Christus as die ware wingerdstok ingeënt is nie. Inteendeel, wie in liefdelose rebellie teen God en in voortdurende afsku van sy naaste volhard of verskonings soek om sy naaste lief te hê, sal soos die dooie lote uitgewerp en verbrand word.

Daar is nie ’n beter manier om die Christusfees te vier as om ons lief­de aan sy voete te offer nie. Daarom behoort ons onsself af te vra of ons lewens en in die besonder ons samesyn op hierdie dag waarlik ’n weerspieëling daarvan is dat ons in Christus se liefde gewortel is? Wanneer ons só feesvier, is ons besig om saam met die Gees van God se verlossingswerk te getuig (v. 27).

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 12

Here, laat deur u Gees die wondergawe van wederliefde spruit. Amen.

Joh. 15:1-27

Ges. 141:1-4

Skuldbelydenis bevestig die Trooster se teenwoordigheid … [Hy] sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh. 16:8).

Christus sluit sy laaste onderwysing aan sy dissipels af deur hulle te vertroos met die wete dat Hy hulle nie alleen sal laat nie. Sy weggaan sal vir hulle voordelig wees omdat die Trooster, die Heilige Gees, dan met hulle sal wees. Die vraag is egter: Hoe weet ek of die Trooster waarlik by my is? Deesdae is daar uiteenlopende antwoorde op hierdie vraag: Daar word beweer jy moet in tale kan spreek; jy moet iemand gesond kan bid; jy moet deur die “gevoel” van sy teenwoordigheid oorweldig en selfs op die grond neergewerp word.

Christus gee egter ’n baie meer kontroleerbare maatstaf vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees wanneer Hy die optrede van die Trooster beskryf. Eerstens oortuig Hy die wêreld van sonde. Hy bring nie bloot die aanklag nie, Hy bewerk ’n diepgewortelde besef en erkenning van ons totale verlorenheid en hulpeloosheid voor God. Tesame hiermee oortuig Hy ons van geregtigheid: Hy maak dit duidelik hoe hoog en onbereikbaar God se standaard (van ’n goeie lewe) is. Uiteindelik oortuig Hy ook die mensdom van God se oordeel oor elkeen wat sy sondes misken en nie aan God se geregtigheid voldoen nie. Al kan ek dus bv. in tale spreek, maar is nie oortuig van my eie sondigheid en verlorenheid nie, moet ek ernstige vrae vra oor die Gees se teenwoordigheid in my lewe.

Genadiglik troos die Gees ons ook. Hy ontbloot nie net ons verlo­ren­heid nie, maar getuig ook van die waarheid van God se verlossing in Christus. Hy het vir ons sondes betaal, aan God se geregtigheid voldoen en God se oordeel van ons afgewend deur sy volmaakte offer.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 13

O God, dankie vir u Gees wat vir my wys hoe nodig ek u verlossing het. Amen.

Joh. 16:1-33

Ges. 223:1, 2, 5, 6

Nederige diensknegte van die nederigste dienskneg

Nederige diensknegte van die nederigste dienskneg

As Ek dan … julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was (Joh. 13:14).

Dit was die laaste maaltyd saam met sy dissipels voordat die Here Jesus sou sterf. Intens bewus van wat vir Hom voorgelê het, is Hy steeds méér ingestel op die behoeftes van sy dissipels as sy eie. Moeg en stowwerig van die stap, kom hulle by die plek aan waar hulle die laaste avondmaal sou geniet. Daar is egter nie ’n slaaf om die vernederende taak van voetewas te verrig soos die gebruik was nie. Hy wat waardig is om as “Here en Meester” aangespreek te word (v. 13), neem die taak op Hom. Ook hierdie was ’n profetiese daad wat heengewys het na die afwassing wat Hy die volgende dag met sy bloed vir onverdiende sondaars aan die kruis op Gólgota sou bewerk. In nederigheid is Hy gebore; in nederigheid het Hy gedien.

Hierná volg die opdrag om in navolging van die nederigste Diens­kneg ook mekaar in nederigheid te dien. Ten spyte van wat hulle pas beleef het, is dit opvallend dat die ander evangelieskrywers vertel hoedat die dissipels tydens dieselfde maaltyd in hoogmoed onder mekaar gestry het oor wie aan sy linker- en regterkant sou sit. Dit onderstreep maar net weer hoe nodig hulle sy afwassing gehad het!

Wie deur die Here Jesus van sy sondes gewas is, word deur die Gees bemagtig en aangespoor tot nederige diensbaarheid. Die voetewas-opdrag is nie ’n letterlike opdrag nie, want selfs die letterlike daad van voetewassing kan in hoogmoed gedoen word. Hierdie opdrag roep ons op om ander hoër as onsself te ag; nie neer te sien op die geringes in die gemeente of die gemeenskap nie; nie van onsself meer as van ander te dink of sekere take binne die koninkryk as minderwaardig te beskou nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 10

Lei my in nederigheid, Here, sodat U my kan verhoog. Amen.

Joh. 13:1-38

Ps. 138:1, 3

Die verworpe herder verwerp nie … Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer (Sag. 11:12).

Sagaría begin deur die patetiese toestand van die volk aan die hand van die beeld van ’n herder en sy skape te beskryf. Die volk is na alle kante uitgelewer. Hulle leiers verkoop hulle soos slagskape en die kopers maak hulle dood (v. 5). Te midde van hierdie toestand gee God opdrag dat Sagaría as herder vir die verdrukte volk moet optree. Sagaría verpersoonlik die Messias-herder wat deur God in vooruitsig gestel word vir die skape van Israel wat uitwissing in die gesig staar. Die volk verwerp egter ook vir Sagaría as herder. Sy leierskap is maar 30 silwerstukke werd – ’n slaweloon. Hulle verafsku hom (v. 8).

Met die koms van die ware goeie Herder, Jesus Christus, het ook hierdie profetiese optrede van Sagaría in vervulling gegaan: Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh. 1:11). Sy skape sou uitroep: “Kruisig Hom”, omdat hulle Hom verafsku het. Uiteindelik was die loon van sy verraad (verwerping) ook 30 silwerstukke. Die groot verskil is egter dat Christus, anders as Sagaría, nie die skape aan hul lot oorgelaat het nie. Hy lê sy lewe af vir sy skape al verdien hulle dit nie (Joh. 10:11). Wie hierdie goeie Herder volg, sal gelei word na groen weivelde en waters van rus.

Hierdie gedeelte hou egter ook ’n ernstige waarskuwing in: Wie Christus se Herderskap misken, sal leiers kry en volg wat glad nie hul volgelinge se beste belange op die hart dra nie. Wanneer ’n land se mense byvoorbeeld die heerskappy van Christus verwerp, beskik God slegte leiers. Dit geld ook vir die kerk: Wanneer geloofwaardige Christenleiers se leiding verwerp word, kry selfs die kerk dikwels leiers wat die skape mislei, uitbuit en in die steek laat.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14

Here Jesus, dankie dat U my liefhet al het ek U verwerp. Amen.

Sag. 11:1-17

Ps. 23:1-3

Een vir almal en almal vir een

Een vir almal en almal vir een

… dit (is) vir ons voordelig dat een man vir die volk sterwe … (Joh. 11:50).

Aan die einde van Johannes 11 lees ons dat die Joodse leiers be­raad­slaag. Hulle is bekommerd. Die timmerman uit Násaret se aansien was vinnig besig om toe te neem. Ná die opwekking van Lasarus uit die dood, kon hulle nie eens iets sê om sy optrede te diskrediteer nie, want niemand kon die wonder wat pas voor hulle oë plaasgevind het, ontken nie.

Hulle is bekommerd oor hulle posisie, aansien en sekuriteit. Terwyl hulle besig is om te beraadslaag, maak Kájafas, die hoëpriester, ’n profetiese uitspraak sonder om dit te besef: Dit (is) vir ons voordelig dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. Hulle was meer bekommerd oor die bedreiging wat die Romeine ingehou het as wat hulle bekommerd was oor die oordeel van God. Kájafas is egter heeltemal reg. Dit is voordeliger vir een om vir almal te sterf, maar nie sodat die toorn van die Romeine vrygespring kan word nie, maar om van die toorn van God bevry te word. As een sondelose mens wat tegelyk God is, nie vir die sondes van die wêreld betaal nie, sal die wêreld vir sy eie sondes pa moet staan. Dit sal baie erger wees as om jou die toorn van die Romeine op die hals te haal!

Die Here Jesus het na die aarde gekom en as Sondelose sy lewe gegee vir sondaars wat dit nie verdien nie. Hy het God se oordeel aan die kruis op Gólgota verduur, sodat elkeen wat in Hom glo, sal lewe al het hulle ook gesterwe. Sy sending het behels: Een vir almal, sodat elkeen wat deur sy kruisdood van God se oordeel bevry is, kan reageer – almal vir Een!

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 8

Dankie, Here, dat U my oordeel gedra het! Amen.

Joh. 11:1-57

Ges. 316:1-3

My allerbeste vir die Allerhoogste En Maria het … baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf … (Joh. 12:3).

Wanneer Johannes van kosbare nardussalf praat, moet ons nie slegs daaraan dink as soortgelyk aan ’n baie duur bottel par­fuum nie. Dit was baie meer as dit. Só kosbaar was dit, dat sommige Jode dit selfs as ’n belegging vir hulle aftrede gebruik het. Maria gebruik dit egter om die voete van die Here Jesus mee te salf! Sy is bereid om haar pensioen te gebruik ter wille daarvan om Christus te verheerlik, want sy het Hom erken vir wie Hy was. Die skares sou hom die vol­gen­de dag soos ’n koning in Jerusalem ontvang, maar vir Maria was Hy selfs meer as dit.

Aan die ander kant lees ons ook van Judas Iskáriot se reaksie op Maria se optrede. Hy kritiseer haar en reken die salf kon eerder verkoop geword het sodat die geld ter wille van die armes aangewend kon word. Wanneer Johannes na Judas se optrede verwys, stel hy hom bekend as die een wat die Here Jesus sou verraai sodat sy lesers uit die staan­spoor sy optrede in twyfel moet trek. Vir hom het dit nie werklik oor Christus en sy eer gegaan nie aangesien hy nie vir Jesus as die Christus erken het nie. Die bose het sy lewe regeer en daarom verag hy Maria se eerbetoning.

In die kerk is daar dikwels twee soorte lidmate teenwoordig. Hulle vir wie dit nie werklik oor Christus en sy eer gaan nie, omdat hulle ten diepste hul eie konings is. Hulle kritiseer dikwels hul medegelowiges en die kerk se eerbetoning as “skynheilig”, “oordadig” en selfs ’n “vermorsing van geld”. Aan die ander kant is daar egter daardie lidmate vir wie dit geld: My allerbeste vir die Allerhoogste.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 9

Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel. Amen.

Joh. 12:1-50

Ps. 100:1-4

Die priesterkoning

Die priesterkoning

… Kyk, daar kom ’n Man wie se Naam is Spruit … (Sag. 6:12).

Die laaste naggesig toon sterk ooreenkomste met die eerste. Buiten vir die perde, is daar egter nou ook strydwaens teenwoordig. Hierdie vier perde verteenwoordig God se boodskappers wat die aarde deurkruis en sy heerskappy tot aan die uithoeke daarvan proklameer. Hy is immers die Here van die ganse aarde (v. 5). Die strydwaens bevestig sy militêre mag en heerskappy. Hy regeer selfs in die noordland vanwaar die magtigste heidennasies kom – dáár het sy Gees tot rus gekom (v. 8).

Die visioen word afgesluit met ’n Godspraak. Die engel roep na Sagaría. Só ’n harde uitroep gaan gewoonlik ’n baie plegtige verklaring vooraf. Hy gee opdrag dat Sagaría ’n pragtige kroon moet maak uit die silwer en die goud wat die ballinge met hul terugkeer uit ballingskap saamgebring het. Hierdie kroon moet hy neem en op die kop van Josua, die hoëpriester plaas. Josua word egter nie as koning gekroon nie. Uit die woord van die engel is dit duidelik dat hierdie daad simbolies is en vooruit wys na ’n man wat sal kom, wie se naam is Spruit (v. 12). Die volk word aangemoedig om hul oë na die toekoms op te slaan. “Spruit” was ’n Messiaanse titel (vgl. Jes. 4:2; Jer. 23:5 en 33:15) en verwys na die komende Messias. In Hom sou hierdie twee ampte, koning en hoëpiester, verenig word.

Tydens Advent roep ons weer die redes vir Christus se koms voor oë. Hy het na die aarde gekom om as Koning oor die sonde en die dood te regeer, maar ook om die ewige losprys vir ons sondes te betaal deur Homself as die volmaakte Offer op Gólgota te offer. Voorwaar, Hy is ons ewige Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek (vgl. Hebr. 6:20)!

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 9

Here Jesus, ek aanbid U as die Priesterkoning! Amen.

Sag. 6:1-15

Ges. 86:1-3

Ware aanbidding

… Spreek ’n eerlike vonnis uit … bewys liefde en barmhartigheid … (Sag. 7:9).

Om los te breek van ’n godsdienstige sisteem waarin al die aandag op inhoudlose rituele eerder as op ’n lewende verhouding met God geval het, was een van die dinge wat 500 jaar gelede aanleiding tot die Reformasie gegee het. Ons moet egter voortdurend versigtig wees dat ons nie maar net vir hierdie vorm van godsdienstigheid ’n Protestantse baadjie aantrek nie.

Die ballinge wat agtergebly het, stuur boodskappers na dié wat te­rug­gekeer het (v. 2-3). Hulle moes kom seker maak oor die vastye sodat hulle aanbidding in Babel en die aanbidding van die teruggekeerdes darem ooreenstem. Die Here wil egter weet waaroor dit regtig vir hulle in hul aanbidding gaan: Het julle werklik ter wille van My gevas? Hy herinner hulle daaraan dat ware aanbidding nie net uit heilige rituele bestaan nie, maar ook uit ’n heilige lewenswandel. Om hierdie rede moedig God hulle aan om eerlik te wees in die regspraak, liefde en barmhartigheid aan mekaar te bewys, die weduwee, wees en vreemdeling nie te verdruk of om kwaad teenoor mekaar te bedink nie.

Waar dit meer gaan oor die korrekte “vorm” van aanbidding as oor die uitleef van ’n mens se geloof, daar is ons besig met inhoudlose rituele – al is dit Protestantse rituele. As kerke van Jesus Christus moet ons onsself gedurig afvra of ons heilige rituele bevestig word deur ’n heilige lewenswandel wat in ’n toegewyde lewe geopenbaar word. Waar ons nie mekaar liefhet nie, waar ons oneerlik is of nie omgee vir die weduwee, wees en vreemdeling nie, daar is ons besig met ’n nuttelose vormgodsdiens. Christus het immers gekom om ons lewens te verander sodat ons God met ons hele wese kan liefhê en ons naaste soos onsself.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 10

Vader, help my geloof om vrug te dra! Amen.

Sag. 7:1-14

Ges. 64:1-2

Die boosheid van die bose wêreld ontbloot

Die boosheid van die bose wêreld ontbloot

Die wêreld … (haat) My, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is! (Joh. 7:7).

Soos tipiese politieke raadgewers, moedig die Here Jesus se broers Hom aan om na die Huttefees op te gaan. As Hy naam wil maak, as Hy raakgesien wil word, is strategiese openbare verskynings soos hierdie baie belangrik. Die Here Jesus weier egter om na hulle te luister, want Hy het nie gekom om politieke speletjies te speel nie, maar om die wêreld van hulle sondes te verlos.

Die Here Jesus maak dit duidelik dat die wêreld boos is en dat Hy gekom het om daarvan te getuig, m.a.w. om hierdie boosheid te ontbloot. Dit is belangrik, want om gered te word, is dit in die eerste plek nodig om te besef hoe verlore en sondig jy is. Wie sy eie boosheid ignoreer, gaan nooit dink dat hy ’n Verlosser nodig het nie (vgl. Mt. 9:12). Die Here Jesus ontbloot selfs die boosheid van sy eie broers. Wanneer Hy sê dat die wêreld hulle nie kan haat nie, impliseer Hy eint­lik daarmee dat hulle deel van hierdie bose wêreld is. Hulle boosheid lê daarin dat hulle die Here Jesus slegs vir hul eie gewin wou misbruik. Toe Hy later wel na die fees opgaan en in die sinagoge leer, was selfs die geestelike leiers se vyandigheid tasbaar.

Die evangelieboodskap ontbloot altyd die boosheid van hierdie wêreld. Daarom haat die wêreld dit en staan vyandig daarteenoor. Kinders van die Here moet ook nie verbaas wees as die wêreld hulle haat nie, want dit bevestig juis dat hulle nie meer deel van die sondige wêreld is nie (vgl. Joh. 15:18-19). Wanneer die wêreld egter gemaklik is met jou leefwyse en jou getuienis, is dit dalk tyd om jou eie geloofwaardigheid as kind van God te herevalueer.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 4

Vader, gebruik ook my lewe en getuienis om die boosheid van die wêreld te ontbloot. Amen.

Joh. 7:1-53

Ps. 56:1, 3

Leraar van geregtigheid … daarmee sal die diewe … en meinediges hiervandaan weggeruim word (Sag. 5:3).

Die naggesigte in hoofstuk 5 moet nie los van die gesigte in die vorige hoofstuk gelees word nie. Daarin sien Sagaría onder meer twee olyfbome wat dui op twee gesalfdes van die Here. In die historiese konteks dui dit op die Dawidiese prins, Serubbábel en die hoëpriester, Josua. Eersgenoemde was verantwoordelik vir die herbou van die tempel en laasgenoemde moes die offerdiens waarneem ooreenkomstig die opdrag van die Here. Dit kyk egter ook verder vooruit en laat die volk iets verstaan van die karakter van die komende Messias.

In die sesde en sewende naggesig wys die engel vir Sagaría hoedat God met die goddeloosheid onder sy volk en uiteindelik in die wêreld sal afreken. Hy is bewus van alle boosheid. Dit is opgeskryf in ’n boekrol en in die sewende gesig word die goddeloosheid voorgestel as ’n vrou. Soos boosheid ook dikwels versteek is, is sy in ’n efa versteek [dit is ’n houer (ongeveer 36 liter) waarmee graan afgemeet word]. Die boosheid word egter ontbloot en weggevoer na die land Sínear (Babel) waar sy hoort.

Wanneer die Ou-Testamentiese profete oor die koms van die Messias profeteer, sien hulle veral uit na ’n vredesryk sonder boosheid of ongeregtigheid. Die taak van die Dawidiese koning was juis om te sorg dat daar geregtigheid (d.m.v. wetgewing) in die land is, terwyl die priesters die geregtigheid moes toepas. Hierdie twee ampte waarna die olyfbome verwys, het uiteindelik in die Here Jesus tot vervulling gegaan. Hy is immers die Leraar van geregtigheid en deur sy oorwinning aan die kruis sorg Hy dat alle boosheid en onreg uit sy kinders verwyder word. As ons dus ’n volhoubare oplossing soek vir die onreg en goddeloosheid wat ons omring, is daar maar net een antwoord: Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8

Onse Vader wat in die hemel is, laat u koninkryk kom. Amen.

Sag. 5:1-11

Ps. 37:1, 5, 6, 7, 12

Soos berge rondom Jerusalem …

Soos berge rondom Jerusalem …

… Ek sal vir hom wees … ’n vurige muur rondom … (Sag. 2:5).

Die volk het pas uit ballingskap teruggekeer en is besig om die stad Je­ru­salem te herbou. Hulle is egter blootgestel aan die vyande rondom hulle. Te midde hiervan bring Sagaría egter troos. In die eerste twee gesigte maak God dit duidelik dat Hy met elke vyand van sy volk sal afreken. In hierdie derde naggesig bevestig Hy dat Hy aan sy kinders beskerming sal verleen.

Wanneer die jongman gekeer word om die mates van Jerusalem te neem, word dit duidelik dat God meer in gedagte het as die fisiese, meetbare, stad Jerusalem van ouds. Die Jerusalem wat Hy in gedagte het, is onmeetbaar en gevul met ’n menigte mense en nasies (v. 4, 11). Jerusalem is hier ’n metafoor vir God se uitverkore kinders. God beloof dat Hyself die mure van hierdie stad sal vorm om sy oogappel teen hul vyande te beskerm. Hy sal in hulle midde wees en sal sorg dat die stad gevul is met heerlikheid. Hierdie profesie kyk vooruit na die koms van Christus, die Immánuel, wat God se kinders met sy lewe beskerm. Selfs in Openbaring 21 kry ons weerklanke van hierdie profesie wanneer Johannes die nuwe Jerusalem sien neerdaal – toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is met die tabernakel van God by die mense.

Soms voel ’n mens soos ’n stad sonder mure: uitgelewer en blootgestel. Ons kan egter getroos wees dat God sy kinders omring en hulle só goed beskerm dat niemand hulle uit sy hand kan ruk of van sy liefde kan skei nie. Deur sy Gees is Hy by ons teenwoordig en gee Hy aan ons heerlikheid wat ons vir God aanvaarbaar maak, want ons is sy Jerusalem, sy woonplek, sy oogappel.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 5

Dankie, Vader, dat U rondom my is soos die berge rondom Jerusalem. Amen.

Sag. 2:1-13

Ps. 125:1-3

’n Waardige hoëpriester … Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom! (Sag. 3.8).

Een van die belangrikste take van die hoëpriester was om versoening vir die volk se sondes te doen. Hy was egter self ’n sondaar en moes homself gedurig reinig voordat hy die offerdiens kon waarneem. Aan hierdie onwaardigheid word Josua, die hoëpriester, in hierdie gedeelte herinner wanneer Satan hom voor die Engel van die Here aankla. Om sy onwaardigheid te illustreer, lees ons dat sy klere vuil was (v. 3). Soos Josua, staan elke mens ook vuil en onwaardig voor God terwyl ons deur Satan aangekla word.

In antwoord op die aanklag van Satan gee die Engel van die Here opdrag dat Josua met nuwe, skoon klere beklee sal word. God voorsien sodat Josua se onreinheid verwyder kan word en hy in die weë van die Here kan wandel (v. 7). In vers 8 word Josua en sy vriende (die priesters) “wondertekens” genoem. Josua as hoëpriester en dit wat met hom gebeur het, was simbolies van iets wat nog moes kom. Uiteindelik het God sy Kneg, die Spruit, laat kom. Hy moes Jesus (Grieks vir Josua) genoem word. As ons ewige Hoëpriester het Hy met sy lewe vir al ons onreinheid betaal sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Op een dag het Hy die sondes van God se volk verwyder sodat alle offers daarna oorbodig sou wees (v. 9).

Wie deur hierdie volmaakte Hoëpriester gereinig is, vrees nie die aanklagte en aanslae van Satan en sy bose magte nie. By Bloedrivier kon die Voortrekkers juis tot God hul toevlug neem omdat hulle vrymoedigheid gehad het op grond van hulle verlossing. Soos Josua het hulle onder die beskerming van God gestaan; deur die Heilige Gees beklee met die saligmakende geloof.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 6

Here, herinner ons gedurig deur u Gees daaraan dat ons skoongewas is. Amen.

Sag. 3:1-10

Ges. 86:1, 2, 7