… dit (is) vir ons voordelig dat een man vir die volk sterwe … (Joh. 11:50).
Aan die einde van Johannes 11 lees ons dat die Joodse leiers beraadslaag. Hulle is bekommerd. Die timmerman uit Násaret se aansien was vinnig besig om toe te neem. Ná die opwekking van Lasarus uit die dood, kon hulle nie eens iets sê om sy optrede te diskrediteer nie, want niemand kon die wonder wat pas voor hulle oë plaasgevind het, ontken nie.
Hulle is bekommerd oor hulle posisie, aansien en sekuriteit. Terwyl hulle besig is om te beraadslaag, maak Kájafas, die hoëpriester, ’n profetiese uitspraak sonder om dit te besef: Dit (is) vir ons voordelig dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. Hulle was meer bekommerd oor die bedreiging wat die Romeine ingehou het as wat hulle bekommerd was oor die oordeel van God. Kájafas is egter heeltemal reg. Dit is voordeliger vir een om vir almal te sterf, maar nie sodat die toorn van die Romeine vrygespring kan word nie, maar om van die toorn van God bevry te word. As een sondelose mens wat tegelyk God is, nie vir die sondes van die wêreld betaal nie, sal die wêreld vir sy eie sondes pa moet staan. Dit sal baie erger wees as om jou die toorn van die Romeine op die hals te haal!
Die Here Jesus het na die aarde gekom en as Sondelose sy lewe gegee vir sondaars wat dit nie verdien nie. Hy het God se oordeel aan die kruis op Gólgota verduur, sodat elkeen wat in Hom glo, sal lewe al het hulle ook gesterwe. Sy sending het behels: Een vir almal, sodat elkeen wat deur sy kruisdood van God se oordeel bevry is, kan reageer – almal vir Een!
Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 8
Dankie, Here, dat U my oordeel gedra het! Amen.
Joh. 11:1-57
Ges. 316:1-3
My allerbeste vir die Allerhoogste En Maria het … baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf … (Joh. 12:3).
Wanneer Johannes van kosbare nardussalf praat, moet ons nie slegs daaraan dink as soortgelyk aan ’n baie duur bottel parfuum nie. Dit was baie meer as dit. Só kosbaar was dit, dat sommige Jode dit selfs as ’n belegging vir hulle aftrede gebruik het. Maria gebruik dit egter om die voete van die Here Jesus mee te salf! Sy is bereid om haar pensioen te gebruik ter wille daarvan om Christus te verheerlik, want sy het Hom erken vir wie Hy was. Die skares sou hom die volgende dag soos ’n koning in Jerusalem ontvang, maar vir Maria was Hy selfs meer as dit.
Aan die ander kant lees ons ook van Judas Iskáriot se reaksie op Maria se optrede. Hy kritiseer haar en reken die salf kon eerder verkoop geword het sodat die geld ter wille van die armes aangewend kon word. Wanneer Johannes na Judas se optrede verwys, stel hy hom bekend as die een wat die Here Jesus sou verraai sodat sy lesers uit die staanspoor sy optrede in twyfel moet trek. Vir hom het dit nie werklik oor Christus en sy eer gegaan nie aangesien hy nie vir Jesus as die Christus erken het nie. Die bose het sy lewe regeer en daarom verag hy Maria se eerbetoning.
In die kerk is daar dikwels twee soorte lidmate teenwoordig. Hulle vir wie dit nie werklik oor Christus en sy eer gaan nie, omdat hulle ten diepste hul eie konings is. Hulle kritiseer dikwels hul medegelowiges en die kerk se eerbetoning as “skynheilig”, “oordadig” en selfs ’n “vermorsing van geld”. Aan die ander kant is daar egter daardie lidmate vir wie dit geld: My allerbeste vir die Allerhoogste.
Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 9
Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel. Amen.
Joh. 12:1-50
Ps. 100:1-4