As Ek dan … julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was (Joh. 13:14).

Dit was die laaste maaltyd saam met sy dissipels voordat die Here Jesus sou sterf. Intens bewus van wat vir Hom voorgelê het, is Hy steeds méér ingestel op die behoeftes van sy dissipels as sy eie. Moeg en stowwerig van die stap, kom hulle by die plek aan waar hulle die laaste avondmaal sou geniet. Daar is egter nie ’n slaaf om die vernederende taak van voetewas te verrig soos die gebruik was nie. Hy wat waardig is om as “Here en Meester” aangespreek te word (v. 13), neem die taak op Hom. Ook hierdie was ’n profetiese daad wat heengewys het na die afwassing wat Hy die volgende dag met sy bloed vir onverdiende sondaars aan die kruis op Gólgota sou bewerk. In nederigheid is Hy gebore; in nederigheid het Hy gedien.

Hierná volg die opdrag om in navolging van die nederigste Diens­kneg ook mekaar in nederigheid te dien. Ten spyte van wat hulle pas beleef het, is dit opvallend dat die ander evangelieskrywers vertel hoedat die dissipels tydens dieselfde maaltyd in hoogmoed onder mekaar gestry het oor wie aan sy linker- en regterkant sou sit. Dit onderstreep maar net weer hoe nodig hulle sy afwassing gehad het!

Wie deur die Here Jesus van sy sondes gewas is, word deur die Gees bemagtig en aangespoor tot nederige diensbaarheid. Die voetewas-opdrag is nie ’n letterlike opdrag nie, want selfs die letterlike daad van voetewassing kan in hoogmoed gedoen word. Hierdie opdrag roep ons op om ander hoër as onsself te ag; nie neer te sien op die geringes in die gemeente of die gemeenskap nie; nie van onsself meer as van ander te dink of sekere take binne die koninkryk as minderwaardig te beskou nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 10

Lei my in nederigheid, Here, sodat U my kan verhoog. Amen.

Joh. 13:1-38

Ps. 138:1, 3

Die verworpe herder verwerp nie … Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer (Sag. 11:12).

Sagaría begin deur die patetiese toestand van die volk aan die hand van die beeld van ’n herder en sy skape te beskryf. Die volk is na alle kante uitgelewer. Hulle leiers verkoop hulle soos slagskape en die kopers maak hulle dood (v. 5). Te midde van hierdie toestand gee God opdrag dat Sagaría as herder vir die verdrukte volk moet optree. Sagaría verpersoonlik die Messias-herder wat deur God in vooruitsig gestel word vir die skape van Israel wat uitwissing in die gesig staar. Die volk verwerp egter ook vir Sagaría as herder. Sy leierskap is maar 30 silwerstukke werd – ’n slaweloon. Hulle verafsku hom (v. 8).

Met die koms van die ware goeie Herder, Jesus Christus, het ook hierdie profetiese optrede van Sagaría in vervulling gegaan: Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh. 1:11). Sy skape sou uitroep: “Kruisig Hom”, omdat hulle Hom verafsku het. Uiteindelik was die loon van sy verraad (verwerping) ook 30 silwerstukke. Die groot verskil is egter dat Christus, anders as Sagaría, nie die skape aan hul lot oorgelaat het nie. Hy lê sy lewe af vir sy skape al verdien hulle dit nie (Joh. 10:11). Wie hierdie goeie Herder volg, sal gelei word na groen weivelde en waters van rus.

Hierdie gedeelte hou egter ook ’n ernstige waarskuwing in: Wie Christus se Herderskap misken, sal leiers kry en volg wat glad nie hul volgelinge se beste belange op die hart dra nie. Wanneer ’n land se mense byvoorbeeld die heerskappy van Christus verwerp, beskik God slegte leiers. Dit geld ook vir die kerk: Wanneer geloofwaardige Christenleiers se leiding verwerp word, kry selfs die kerk dikwels leiers wat die skape mislei, uitbuit en in die steek laat.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14

Here Jesus, dankie dat U my liefhet al het ek U verwerp. Amen.

Sag. 11:1-17

Ps. 23:1-3