Fees van die liefde
… Ek (het) julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My (Joh. 15:9).
Kersfees kan ook beskryf word as die fees van die liefde. Daardie datum op die kerk se kalender waar ons in die besonder nadink oor die woorde: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het … (Joh. 3:16). Soos Maria oordink ons met Kersfees opnuut die betekenis van al hierdie dinge in ons harte. Om te dink, God het mý so lief dat Hy sy Seun na die wêreld gestuur het ter wille van mý!
Wie deur hierdie liefde aangeraak en verander is, is as ’t ware deur die geloof ingeënt in Christus, die ware wingerdstok. Wie só deel van Christus is se lewe wys dit, aangesien ’n loot wat verbind is aan die wingerdstok, vrug dra. Christus beskryf die vrug as liefde. Dit bestaan uit liefde vir God wat sigbaar word wanneer ons sy gebooie bewaar (v. 10) en liefde vir ons naaste (v. 12). Wie nie hierdie liefde openbaar nie, kan nie daarop aanspraak maak dat Hy God se liefde ken of in Christus as die ware wingerdstok ingeënt is nie. Inteendeel, wie in liefdelose rebellie teen God en in voortdurende afsku van sy naaste volhard of verskonings soek om sy naaste lief te hê, sal soos die dooie lote uitgewerp en verbrand word.
Daar is nie ’n beter manier om die Christusfees te vier as om ons liefde aan sy voete te offer nie. Daarom behoort ons onsself af te vra of ons lewens en in die besonder ons samesyn op hierdie dag waarlik ’n weerspieëling daarvan is dat ons in Christus se liefde gewortel is? Wanneer ons só feesvier, is ons besig om saam met die Gees van God se verlossingswerk te getuig (v. 27).
Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 12
Here, laat deur u Gees die wondergawe van wederliefde spruit. Amen.
Joh. 15:1-27
Ges. 141:1-4
Skuldbelydenis bevestig die Trooster se teenwoordigheid … [Hy] sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh. 16:8).
Christus sluit sy laaste onderwysing aan sy dissipels af deur hulle te vertroos met die wete dat Hy hulle nie alleen sal laat nie. Sy weggaan sal vir hulle voordelig wees omdat die Trooster, die Heilige Gees, dan met hulle sal wees. Die vraag is egter: Hoe weet ek of die Trooster waarlik by my is? Deesdae is daar uiteenlopende antwoorde op hierdie vraag: Daar word beweer jy moet in tale kan spreek; jy moet iemand gesond kan bid; jy moet deur die “gevoel” van sy teenwoordigheid oorweldig en selfs op die grond neergewerp word.
Christus gee egter ’n baie meer kontroleerbare maatstaf vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees wanneer Hy die optrede van die Trooster beskryf. Eerstens oortuig Hy die wêreld van sonde. Hy bring nie bloot die aanklag nie, Hy bewerk ’n diepgewortelde besef en erkenning van ons totale verlorenheid en hulpeloosheid voor God. Tesame hiermee oortuig Hy ons van geregtigheid: Hy maak dit duidelik hoe hoog en onbereikbaar God se standaard (van ’n goeie lewe) is. Uiteindelik oortuig Hy ook die mensdom van God se oordeel oor elkeen wat sy sondes misken en nie aan God se geregtigheid voldoen nie. Al kan ek dus bv. in tale spreek, maar is nie oortuig van my eie sondigheid en verlorenheid nie, moet ek ernstige vrae vra oor die Gees se teenwoordigheid in my lewe.
Genadiglik troos die Gees ons ook. Hy ontbloot nie net ons verlorenheid nie, maar getuig ook van die waarheid van God se verlossing in Christus. Hy het vir ons sondes betaal, aan God se geregtigheid voldoen en God se oordeel van ons afgewend deur sy volmaakte offer.
Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 13
O God, dankie vir u Gees wat vir my wys hoe nodig ek u verlossing het. Amen.
Joh. 16:1-33
Ges. 223:1, 2, 5, 6